MAN VAN woord EN WOORD

IMG_0002

Middag uit Melkbos

As jy ‘n rype 82 is. staan jy op ‘n plek in die bos waar die Byl geneig is om te kap. Hoekom het Dok Willie hegte vriendekring dan so uitermate verslae, eintlik verpletterd, op die nuus van sy dood gereageer? Dit was onverwags ja, omdat hy na die uiterlike fiks en gesond was.

Die kernrede, glo ek, is egter die intensiteit van die pyngedagte wat almal by die doodstyding te binne geskiet het: Hoe arm gaan ons lewens vorentoe sonder die immergroen Dok Willie nie wees nie?

Dok Willie, soos ek hom 50 jaar lank bly noem het, was inderdaad vir almal in die Prediker se woorde ‘n man uit ‘n duisend. Hy was met ‘n monumentale rykdom aan talente geseën. Sy uitnemende gawes van hart en hoof, soos hulle sê, het hom by elkeen van ons in ‘n spesiale eie vakkie geplaas – ‘n ereplekkie wat net vir die hoogs uitsonderlike gereserveer is.

Aan ‘n poging tot ‘n volledige opgawe van al sy voortreflike eienskappe gaan ek my nie waag nie. Ek wil hom graag primêr huldig as man van die woord (met ‘n kleinletter) en die Woord (hoofletter).

In een kon hy skryf, met ‘n meevoerende terugreik na die hartland van sy kleintyd, die duineveld van die Kalahari. Hy kon dig oor sy diepe geloof. Hy kon helder sy ferme standpunte oor wat reg en verkeerd is in kerk en samelewing in die hoogste forums formuleer en debatteer.

Na die Woord (met ‘n hoofletter) het hy sy lewe gerig. Dok Willie het, soos min ander, elke dag voluit vir die Here geleef, ‘n gretige en offervaardige dienskneg. Ons almal dra kennis van sy toewyding aan sy prysenswaardige inisiatief om op die Seepuntse Promenade Bybels in die hande van mense met ‘n honger vir die Woord te plaas. Hierdie uitlewing van die geesvervuldheid waarmee hy van die laaste groot Mighty Men-konferensie van Angus Buchan teruggekeer het, het aan hom, soos hy dit self gestel het, ‘n “geweldige gevoel van vervulling” verskaf.

In sy omgang met alle mense was Dok Willie altyd ‘n pilaar van Christelike waardes. Deur sy vrugbare Vrystaatse era, in die wandelgange van die parlement, as diplomaat in Mmabatho, en uiteindelik gelukkig afgetree in Seepunt, het hierde trotse, verankerde Afrikaner met sy onwankelbare verbintenis tot vaste beginsels, met sy onkreukbaarheid, koersvastheid, insig, betroubaarheid, visie en idealisme die ongekwalifiseerde respek van vriend en vyand geniet.

Dok Willie was ook ‘n stylvolle, afgeronde, verfynde en wellewende mens, ‘n geslypte gasheer en ‘n diep vriend. Dit was ‘n gesogte voorreg om ‘n gas aan sy keurige tafels of een van sy geselsmaats te wees.

Dit is waarskynlik as skrywer van ‘n dosynsstuks kosbare boeke dat sy nalatenskap die verste sal reik. Toe hy begin skryf, kon hy nie ophou nie. Van sy vriende het selfs al ietwat tred verloor met sy gedrewenheid om pen op papier te sit. Elkeen het op sy boekrak persoonlike gunstelinge. My eie geliefkoosde “W.D.Kotzé” is “Voetspore in die Kalahari” (2004), wat sy uitgewer, Protea, bestempel het as ‘n “boeiende kultuurhistoriese dokument” oor “‘n ongerepte wêreld en ‘n harde maar avontuurlike leefwyse wat min beskore is.”

Ons neem vandag afskeid, getroos in die dankbare wete dat ons seer gewaardeerde vriend lank-lank sal voortleef – nie net in die boekelyste van uitgewerye en die katalogusse van biblioteke nie, nie net in die parlementêre Hansards en in koerante se vergeelde argiewe nie. Eweneens in die harte van ‘n enorme skare mense, bekendes en wildvreemdes, wie se bestaan hy pertinent aangeraak en op wie se lewenspad hy onberekenaar waarde toegevoeg het.

Naskrif: Ek het in 1963 as groentjieverslaggewer by die kantoor van die flinke jong private sekretaris van die Vrystaatse Administrateur, Oom San du Plessis, ingestap. Min het ek geweet dat ek 50 jaar later ‘n huldeblyk by sy gedenkdiens in Kaapstad sou lewer.

FLINK VERBY 80

Middag uit Melkbos

Uitskietname in onder meer die Afrikaanse letterkunde, koerant- en radiowese kom voor op ‘n lysie van Volksblad-mense wat al flink-flink by die 80-kerf verby is.

Dot Serfontein, Wiets Beukes, Kobus Hamman, Jan van Zyl, Esmé Mittner, Bienkie Wessels en At van Wyk is o.a. in die geledere van die 80-plussers wat met sy gewone entoesiame en ná BAIE telefoonoproepe deur my kollega en vriend Herman le Roux opgespoor en geboekstaaf is.

Herman, gedugte statistikus, argivaris, feitejagter en plakboekmaker, is deur die uwe aangepor om die taak te onderneem nadat Gert Terblanche, oud-ambassadeur en –Volksraadslid, die eerste was wat 90 geword het. Ná hom volg ‘n goeie klompie 80-jariges.

Herman se “navorsing”” is nog nie voltooi nie, maar hy meen die finale lysie sal nie veel verskil van die volgende een wat hy in die wintervakansie onder die Bosveldsterre by Ingwenya Lodge naby Krokodilbrug in my hand gestop het nie:

Dot Serfontein (88), Kobus Sonnekus (86), Wiets Beukes (85), Berna Maree (85), Kobus Hamman (85), Jan van Zyl (84), Esme Mittner (84), Ben van Rensburg (82), Paul Zietsman (81), Lukas Meyer (81), Bienkie Wessels (81), At van Wyk (81) en André (Slang) du Plessis (81).

Ander oud-Volksbladders wat vat-vat aan 80 is Joe Venter, Mathilda (Lourens) de Kock,, Bettie van Wyk, A,P. (Andreas) du Plessis en die nimlike Lappies Labuschagne.

Hierdie 72-jarige haal sy hoed af vir die eerbiedwaardige seniors. En vir Herman. As jy op sy knoppie druk, kry jy resultate. Altyd. Ek weet Herman haat die woord “legendaries” omdat dit veral in die sportjoernalistiek só misbruik word. Wel, sy optekening van sulke wetenswaardighede is niks minder as legendaries nie. (hvd)

VIR OULAAS UIT SABIEPARK

Mooi goed by Tarlehoet - winter 2013

Mooi goed by Tarlehoet - winter 2013

More uit Sabiepark

Ten slotte, na nog ‘n onvergeetlike wintervakansie by Tarlehoet in 2013, net vir oulaas van Sabiepark af enkele spesiale dankies:

Aan al die olifante en buffels wat so gereeld na die piekniekplek opgeruk het – dankie vir indrukwekkende taferele en genoeg foto’s vir verskeie albums;

Aan betroubare, bedaarde sebras wat, soos altyd, staatmakers was wat gereeld die watergat kom opsoek het, dag en nag. Sebras het nie net kom wei en drink nie, maar ook kom koelte soek op Tarlehoet se stoep en hulle nie moeiteloos laat verjaag nie!

Aan die oulike nagapies op wie se koms jy saans weer jou horlosie kon stel – stiptelik van 18:00 af, en wat, soos altyd, eerste prys by al die gaste sou inpalm vir die bekoring van hul skemerspronge in die bome voor die stoep;

Aan al die geveerdes wat met hul uiteenlopende verskeidenheid van fluite, koere, krasse, kraaie, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke elke dag die bos laat lewe het;

Aan die bloukuifloeries vir hul briljante kleureflitse al om die watergat, en veral die laaste weke ook die gekroonde neushorings vir hul ekskuries al om die huis – dan in die maroela en die haak-en-steek aan die voorkant van die huis, dan in die knoppiesdoring agter;

Aan die kleurryke maar skugter narina trogon (bosloerie) wat ons die voorreg gehad om net ‘n tweede keer in ‘n boom by die piekniekplek raak te loop;

Aan die visarend vir sy kenmerkende, melankoliese kenwysie van die bos (kenwysie van Afrika?) telkens van die rivier se kant af (maar wat het dan van die langasem-naguiltjie geword?);

Aan die hiënas vir die opwinding om die vuur telkens as hulle kom spore trap in die sagte sand en vir die skel herinnering van sy teenwoordigheid;

Aan die seekoei vir sy diep tromboonklanke dwarsdeur die nag, en die leeu vir sy majesteitlike brul wat die bos ‘n paar keer laat bewe het;

Aan die njala-ooitjie wat ewe tuis in ons voëlbad kom drink het – die plat klipbadjie wat ook klein (en nie so klein) sebratjies soos ‘n magneet lok. Die njala was die eerste na my wete in Sabiepark;

Aan die twee duikertjies wat ná ‘n lang droogte na Oupatjie Witnek se verdwyning weer begin naderstaan het by hul ou gunsteling-drinkplek.

Aan die elegante kameelperd wat so mooi kom poseer het op ons motorpad een Sondagmiddag;

Aan die vlakvarkies wat ook weer by Tarlehoet hul opwagting begin maak het nadat luiperds die vorige spannetjie feitlik uitgewis het;

Aan die gebande muishondjies wat altyd plesier gee as hulle so erg op hul hoede om die huis rondskarrel;

Aan die welluidende paddakoor by die rivier dadelik na die eerste goeie reens;

Aan die bobbejane vir hul goeie gedrag – jou werklik nege weke lank nie ons lewens by 154 kom versuur nie.

Aan die bos-Honda wat nou 190 000 op die klok het, maar steeds betroubaar en geduldig koers hou op die verre stofpaadjies van die Van D’s se vakansies.

Prediker vermaan ons om nie net aan die ontsagwekkende dinge van enorme betekenis waarde te heg nie, maar ook die klein vreuegdetjies wat die Here jou skenk te troetel. Hoeveel skenk hy nie hierdie onverdienstelike mensekind wat hier skryf nie?

(Ns. Glo gistermiddag 10 leeus by die piekniekplek geparadeer. Wel … ‘n mens kan ook nie alles sien nie.)

BUFFELS BY DIE SABIE

Middag uit Sabiepark

Darem nie net olifante by die pieknieklek gesien hierdie vakansie nie. Minstens ses troppe buffels het kom water drink in die Sabie. Hierdie foto’s is van die laaste besoek. My raaiskoot was 200, party Sabieparkers het gewonder of dit nie nader aan 300 is nie. Die foto’s laat nie reg geskied nie. Hulle was te versprei vir een indrukwekkende massatoneel – veral met ‘n langlens.

(hvd)

PIENK KLEINDING MET ‘N LOMP SLURPIE

More uit (‘n sopnat) Sabiepark

Om ‘n pasgebore olifantkalfie wankelend die eerste keer orent te sien kom, het Vrouedag 2013 onuitwisbaar in die Van D’s se kollektiewe Sabiepark-geheue van 15 jaar ingegrif.

Die werklik geboorte het ons nie gesien nie. Die “vroedvroue” soos Riette (Conradie) in haar magistrale “Aardwolf tot Ystervark” die hulpvaardige ander koeie noem, het om die mamma kringetjie gemaak soos rugbyspelers destyds om ‘n spanmaat wat sy broek verloor het.

Toe ons gewaar, lê die pienk wesentjie op die sandbank in die Sabierivier, iewat oos van die piekniekplek en net buite bereik van ons kameras. Drie olifante staan met hul rug Wildtuin se kant toe en nog twee skerm die kleintjie af van Sabiepark se kant. Eersgenoemde drie stoot-stoot liggies aan die nuwe aankomeling met swaaiende slurpe. Laasgenoemde twee kyk anderpad.

Die kleintjie beur en beur maar kry nie opgestaan nie. Die koddige lomp slurpie werskaf in die lug. Die situasie wil-wil reddeloos lyk. Toe verskyn ‘n ridder op ‘n wit perd in die vorm van ‘n opgeskote olifantjie van seker ‘n jaar of wat. Boeties en sussies word soms saamgeneem vir ‘n olifantgeboorte, lees ek ook in “Aardwolf”.

Boetie of sussie – hoe sal ‘n mens nou weet by ‘n klein olifantjie, terwyl jy die verskil skaars by grotes kan agterkom? – gaan lê op die sy styf teenaan die woelende baba, streel dié gerusstellend met die slurp en begin stadig, amper in vertraagde aksie, demonstreer hoe ‘n olifantjie sy/haar eerste opstaan moet opstaan.

Die kop word opgelig, die voorste bene solied op die aarde geplant en die agterlyf daarna na bo gebeur. Weer streel die slurp asof die boodskap oorgedra word: Maak jy jou presies net so.

Die ou kleintjie het mooi gekonsentreer op hierdie Olifante-trap-der-jeugd. Koppie op, voorbene solied neergesit, agterlyfie boontoe. Skote Petoors! Olifantjie staan sy/haar eerste staan terwyl die res van die span slurpswaaiend hul goedkeuring betoon.

Die rivier vloei rustig voort Mosambiek toe. Nog ‘n natuurwonder het gekom en gegaan.

Ons bespreek nog later op die voorstoep die wonderlikheid van wat ons daar by die piekniekplek aanskou het, toe peetkind Jaco van Wyk uitroep: ‘n Njala-tjie of iets.

Nee njala kan dit nie wees nie, antwoord ek – geen njalas in Sabiepark nie. Maar op die oomblik sien ek die gestreepte bruin lyfie tussen die takke agter ons watergat. Onmiskenbaar ‘n njala-ooitjie!

Ek sluip met die kamera om die huis en klik-klik-klik: een halwe njala-ooitjie na die ander. Toe stap sy uit die skaduwee na die voëlbad wat gelukkig vol water is. Beter kon sy skaars vir die daaropvolgende fotosessie poseer.

Daardie foto’s is nog op my rekenaar. Sal dit later hier opsit. Wys instussen nog resente olfant- aktiwiteit by die piekniekplek. Maar die besoek van ‘n njala-ooitjie – nog ‘n onuitwisbare herinnering van Vrouedag 2013. En nog is dit het einde niet.

Kort daarna pak die wolke donker saam, begin die weer al hoe harder rammel en stort die eerste druppels op die swembadseiltjie neer. Gou is dit net een reëngordyn –n tipiese somerse Laeveld-donderstorm.

Gisteraand dreun ‘n kikvorskoor langs die Sabie en vanoggend wys my reënmeter 16mm. Absoluut oorstelpend. Die drolpeer en sambokpeul kan enige oomblik hul lentegewade aantrek – dalk nog voordat ons Vrydag ry. Hoop net die klein olifantjie het die “vuurdoop” goed deurstaan.

(hvd)

OLIFANTE ONBEPERK

More uit Sabiepark

‘n Effense lugtigheid sal my seker verskoon word toe ek vir oulaas die Honda se neus op die S3-rivierpad inswaai vir ‘n Hazyview-besoek. Die vorige twee dae was by Sabiepark se piekniekplek skouspelagtige olifant-tonele: ‘n teeltrop van 40 – waaronder ‘n menigte kleintjies – was in, langs en oor die Sabie, dan hierdie kant, dan daardie kant. Die vorige aand is olifant-teenwoordigheid in niemandsland aan die duskant van die rivier tot laat luidkeels verkondig.

Ek het nie vergeet hoe ek in Junie my op die Onder Sabie-teerpad in ‘n trop aanmarsjerende olifante vasgery het nie. Dit was keel-toetrek-oomblikke. Op die smaller, stiller, beboster S3 kon-gondpad so iets baie erger wees.

Moes immers al voorheen daar ver ente agteruit ry of die versneller wegtrap dat die gruis spat, maar dan was dit telkens darem net een ou bul se moedswilligheid.

Op pad terug kry ons die groot trop toe wel. Gelukkig egter geen bedreigende situasie nie. Die meeste is op ‘n fluks drafstap voor ons verby oor die pad rivier toe. In die tru-spieëltjie kon ek sien ook agter ons is ‘n paar oor die pad.

In ons boshuis Tarlehoet is vele herinneringe aan olifant-ervarings. Teen die mure hang minstens vier groot prenterame met foto’s. In die boekrak is, buiten my Mayafudiboeke, ook ‘n bundeltjie oor ons eerste dekade in Sabiepark, wat in 2007 ten einde geloop het. Die titel is “Olifante Onbeperk”.

“Olifante Onbeperk” inderdaad.

Nooit, nooit in al die jare is ‘n vakansie dermate deur olifante oorheers soos hierdie nege weke in die winter van 2013 nie. In “Solly se boekie” by die ingang van die piekniekplek – Solly is die opsigter daar – was in hierdie tyd 15 inskrywings van 10 olifante of meer. Lyk soos die telkaart van ‘n stewige kolfbeurt: 40, 40, 30, 20 ….
En nie almal teken hul waarnemings getrou aan nie.

Onder die olifant-toeskouers was Frank en Wendy, twee Australiërs wat in Sabiepark gekuier het – tog nie “Australianers nie, asseblief! – en ‘n Britse vrou wat net die vorige nag uit Londen ingevlieg het. Daardie selfde middag word haar droom toe bewaarheid om olifante in lewende lywe te sien.

Frank en Wendy gaan nog wyd reis in Suid-Afrika, onder meer ook na die Addo-olifantpark. Ek kon hulle been trek dat hulle besmoontlik in Addo minder olifante gaan sien as in Sabiepark. Hoop darem nie so nie, maar ‘n trop van 40 sien ‘n mens nie elke dag nie … nêrens nie.
Nie net die olifant-verkeer hierdie vakansie was uitsonderlik druk nie. Minstens ses buffeltroppe van 100 of meer het kom water drink. Gistermiddag het sowat 200 (party Sabieparkers meen 300) lank in en langs die Sabierivier gekuier. Indrukwekkend.

Twee renosters het, aldus “Solly se boek”, kom water drink. Die Van D’s het dit nie gesien nie.

Die ou groot luiperd, die “Baas”, is verskeie kere gesien; een keer toe hy ‘n impala plat trek. Ook vir hom het ons telkens misgeloop. Een keer net-net maar wel tog. Ons soek nog ‘n luiperd in die volgende paar dae, anders gaan ons huis toe sonder die Vyf Grotes op ons kerfstok! Die kleinkinders sal dit kwalik glo.

Oor die “Baas” is die nuus dat hy in die Wildtuin verdoof is toe hy ‘n wyfie se prooi probeer vaslê. Sy nekband is verwyder omdat die sender nie meer sy doel gedien het nie. Diegene wat gevrees het dat die band ongemaklik styf begin raak het, kan dus weer asem haal.

En leeus? Elders ‘n paar raakgeloop ja, maar weet nie van enige besoeke hierdie vakansie aan die piekniekplek nie, hoewel leeus twee aande taamlik naby gebrul het as ek my nie misgis het nie.
(hvd)