‘N DAG IN DIE BOS

M

Gekroonde neushoring by Tarlehoet se stoep en olifante by ons piekniekplek.

Gekroonde neushoring by Tarlehoet se stoep en olifante by ons piekniekplek.

Middag uit Sabiepark

Word die wild minder? Om Wildtuinvure is dit altyd ‘n gewilde onderwerp, veral ná ‘n frustrerende dag met lang ente wat bloedmin oplewer. Verskeie stillerige dae in die Kruger laat die uwe dalk deesdae sterker saampraat as voorheen.

In Sabiepark hoef ons nie oor die hoeveelheid wild te raai nie. Ons weet dit is heelwat minder weens ‘n uitdunningsprogram weens ekologiese redes. Die veld moet kans kry om te herstel. Vlakvarkies swig ook toenemend voor die “predasiedruk”, soos ‘n vorige parkhoof luiperd-aktiwiteite genoem het.

Wanneer die ervaring van “minder wild” jou begin vang, kan ‘n inventaris dalk perspektief bring. Soos gister.

Ons is die oggend kerk toe. Op pad kry ons vyf kameelperde (op ‘n bondel), drie hiënas saam in ‘n leegtetjie langs die pad, ‘n plaat rooibokkies glansend in die oggendson en ‘n hand vol bosbokkies.

Na kerk was daar sebras, koedoes, vlakvarke en nog ‘n boskbokkie.

Toe is ons Sabiepark se piekniekplek toe. George en Dorette Louw van die Kaap, hul seun Mark en sy Skotse vrou, Samantha, het kom kuier. Ook laasgenoemde twee se oulike meisiekinders van vyf en vier onderskeidelik. Tokkie maak vir ons frikkadelbroodjies.

Ons het net aangeland toe ‘n trop rooibokkies oorkant die rivier skielik laat spaander. Later het ons verneem ‘n luiperd het enetjie Vrydagmiddag presies daar platgetrek. Dalk was dit weer hy tussen die riete?

Toe kom die olifante: een, twee, drie drie groepe, elk tussen vyf en twaalf in getal. Ook ‘n babatjie of twee. Hulle drink, waad deur die Sabierivier Sabiepark se kant toe en poseer omtrent vir die opgewonde besoekers.

Vier kameelperde slenter nader. Twee buffels roer in die lang gras. Bosbokkies wei in die koelte.

In ‘n koraalblom wat rooi begin blom, geniet drie soorte suikerbekkies hul gate uit: die kortbek, witpens en rooikeel.

Ons gaan eet vrugteslaai by ons huis, Tarlehoet. Vier gekroonde neushorings (nie te verwar met die gewone, volopper geelbekke en rooibekke nie) kom sit rustig in die haak-en-steek en die maroelaboom teenaan die stoep.

Die aand kom die nagapies in ‘n stroom, tot drie tegelyk in die pendoringboom by die swembadjie.

Geen leeu nie, geen luiperd nie, geen renoster nie, ek weet. Maar darem twee van die Vyf Grotes. ‘n Lekker verskeidenheid in enige taal. Olifant-verkeer soos min. Genoeg spesiale oomblikke om vir ‘n genoeglike dag in die bos te sorg.

Toe ek die inventaris begin maak, besef ek opnuut hoe ‘n voorreg dit is om die natuur so te kan geniet. ‘n Mens moenie te lekkerbekkig raak nie. (hvd)

EEN MAANLIG-AAND …

More uit Sabiepark

Vandag is ek met die maan gepla. Volmaan. Die verrukking van ‘n volmaan in die bos het ons pas weer beleef – die tweede hierdie vakansie.

Kan nie volmondiger met Mahatma Gandhi saamstem nie wat die volgende diep woorde op skrif gestel het: “When I admire the wonder of a sunset or the beauty of the moon, my soul expands in worship of the Creator.”

Psalm 8:3 en 4 kry dan sommer weer vir ‘n mens nuwe betekenis: “ As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?…”

Sielsaangrypend ja. Maar dan is volmaan vir my ook … wel … ‘n soort persoonlike raaiselmaan.
Terwyl die ronde maan Woensdagaand aan die oosterkim al hoe hoër kruip en die skouspel van helder lig en donker boomstamme hom aangrypend mooi ontvou, het daardie ou-ou raaisel my opnuut radeloos gelaat.

Hoe neem jy daardie maan-jifieke toneel af dat jy die volle glorie en betowering deur jou kameralens vasvang?

Ek en Tokkie het seker al 30 volmane in die bos beleef – ten minste ook ‘n halfdosyn uitsonderlike “blue moons” wanneer dit twee keer in een maand volmaan is. Winter of somer, kombineer die gedugte Bosveldbome en die helder maan om skilderagtige patrone in die lug of op die grond te trek.

Elke keer gryp ek in die een of ander stadium na die Canon. Dan probeer ek hierdie lens, dan die ander een. Elke keer is ek diep teleurgesteld met die resultate. Op sommige foto’s is net die ronde bal – skouspelagtig genoeg maar ‘n halwe prentjie. Op die ander is die bome te helder deur die kamera se flits verlig en die maan, die hoofkarakter, ‘n klein nietigheidjie doer ver.

Wil ‘n kenner nie vir hierdie leek mooi en in eenvoudige, bevatlike taal verduidelik hoe maak ‘n mens nie? Of is maanskyn in die bos een van daardie onbereikbaarhede wat die mens en sy toerusting nooit op doek, film of die skerm sal kan weergee soos dit sy hart aanpreek nie?

Oor Woensdagaand se se volmaan nog twee opmerkings:

Een is dat dit op die Van Deventers ‘n impak had soos nog nooit tevore nie. Tokkie is doodernstig slapenstyd by die agterdeur uit om die “stoeplig te gaan afsit”. Ek was insgelyks uitgevang. Was die maan voorheen ewe helder deur daardie skuifdeur? Was die ruite hierdie keer dalk skoner. Het die jare wat aanstap, in ons waarneming ‘n dimensie gebring wat voorheen ontbreek het?

Ten tweede: Is dit nie wonderlik nie hoe die maan stelselmatig tot so ‘n hoogtepunt van nagtelike
ligglans opbou en dan meteens weer in sy dop terugkruip – so asof hy vir die sterrehemel wil sê: “Ek het my beurt gehad, vat jy nou weer oor!”

Gisteraand, twee aande ná volmaan, was die sterre vir my meer, nader, skitterender as wat ek kan onthou. Bo ons koppe was ‘n naghemel wat jou wil nooi om jou arms uit te strek: Om vir jou ‘n ster te pluk, maar ook in aanbidding oor sulke grootsheid wat jy. nietige mens, bevoorreg is om te bewonder en geniet.

Hoekom meer bruide nie volmaanaande in die bos kies vir hul droomtroues nie, weet ek nie. So kan hulle mos die skittering van liefde in hul oë en die skittering van die diamante(e) in die verloofring aan hul ringvingers volmaak afrond in ‘n romantiek wat woorde so min kan beskryf as wat HvD se vinger op die Canon se sluiter dit afgeneem kan kry. (hvd)

BOS-KUNSTENAARS

More uit Sabiepark

Allerlei boskunstenaars waag graag die hand aan natuurtonele en die dierelewe – soos nou ook weer Abbey Ndlovu (27), hekwag van Sabiepark, hier by sy kunstige waarskuwing teen luiperds en bobbejane op ‘n swartbord by die hek.

Abbey is van verlede November hekwag. Hy het geen formele opleiding as kunstenaar nie. Hy teken wel van laerskooldae af. Altyd daarmee die beste in sy klas gewees.

Hy doen opdragwerke teen R350,00. Vir my het hy darem gratis en verniet ‘n skop-en-skouers geskets. Sy geskenk hang nou geraam teen ons slaapkamermuur in Tarlehoet tussen al die familiefoto’s, spotprentjies en wat nog wat identiteit aan daardie vertrek verleen.

So het elke vertrek van Tarlehoet sy eie identiteit. In die woonkamer oorheers diere, in die gastekamer voëls: foto’s wat deur die jare in Sabiepark en die Wildtuin geneem is, en kunswerke (hoofsaaklik darem afdrukke) van Zakkie Eloff, Maré Bruwer van Melkbos, John Coetzer van Oudtshoorn en Elize Genis van Windhoek.

Nuwe aanwinste in die woonkamer is vier geraamde glas-kunswerke van ‘n luiperd, renoster, rooibok en sebra (elk met ‘n groot spoor in die glas daarby) deur daardie knap Melkbosse glasblaser Petro Swart.

Abbey se kuns is in goeie geselskap!

Hy is die derde Sabiepark-kunstenaar uit eie bodem met wie ons paaie gekruis het. Die ander twee was die talentvolle Frederick Nel wat op sy 16de verjaardagparty treurig oorlede is aan komplikasies weens ‘n beenproblem verwant aan marmersiekte, en Lordick Sibuyi wat, interessant genoeg, ook ‘n hekwag was. Hy is by Sabiepark weg nadat hy een aand in die kampong in ‘n rusie ‘n vuurwapen uitgepluk het. Was werklik jammer daaroor. Sy liefde vir die natuur was aansteeklik, soos sy wittand-glimlag.

In ‘n soort negosiekis bêre ek al baie jare ‘n 2001-almanak van die mond-en voetskilders. By ‘n mondskildery deur T. Webster is ‘n anonieme aanhaling wat my telkens tref: “ In elke vorm van die natuur is ‘n klank. Luister net met jou hart.”

Dit is klaarblyklik wat mense soos Abbey doen, ook al die ander kunstenaars wat jy van tyd tot tyd vol inspirasie en in diepe konsentrasie met hul doeke en esels in die bos sien sit.

Hulle hoor nie net die klanke nie, maar word daardeur so aan die hart gegryp dat hulle dit met kreatiwiteit en vernuf op papier moet uitstort. Tot vreugde van ons wat nie met daardie talent geseën is nie. Dankie, julle!

(hvd)

BAAS VAN DIE PLAAS

Middag uit Sabiepark

Op Woensdag 10 Julie kry ons ‘n oproep van die piekniekplek: Die groot luiperd is hier. Toe ons daar kom, is die ou al weer tussen die riete in. Maar ons sien hom op die kameraskerms van gelukkiger eienaars: Fors staan hy daar langs die groot wit rots langs die Sabierivier – die baas van die plaas.

Nie sonder rede nie noem Sabieparkers die ou grote deesdae The Boss. Herkenbaar aan sy nekband om sy dik nek, stap hy waar hy wil. Pragtige foto’s verskyn op die Sabieparkgroep se blad op Facebook van “The Boss” wat in Jakkalsbessielaan op jag is. Op een foto sit hy enkele dae gelede by die straatnaam Rooibos. Dit is by Lukas en Martie van der Merwe se huis. Hulle vermoed hy was onder die dek terwyl die kleinkinders bo gespeel het.

Ek noem 10 Julie spesifiek omdat dit Marcus Malan, seun van my jongste broer, Cules Malan, se verjaardag is. Verlede jaar was hy 30. Die spesiale verjaardag is in Sabiepark gevier. Sal dit nie vergeet nie. Dis in die geheue ingekerf weens die luiperds langs die Sabie.

10 Julie 2012, 10 Julie 2013. Sulke datum-speletjies amuseer hierdie waarnemer vir wat dit werd is, indien enigiets.

More ry ons Balule toe vir drie dae saam met ‘n span Kollegemanne. Kan net lekker wees. Die eerste maand van die wintervakansie van 2013 – ons 40-en-iets-ste besoek aan Sabiepark – loop ten einde. Te vinnig, soos altyd. Nog vinniger, soos ‘n mens ouer word.

Sedert die vorige bulletin het onder meer die eerste duiker in ‘n jaar of langer by die voëlbadjie opgeduik vir ‘n paar slukkies water. Ongelukkig was my kamera in die motor. Ons wag al lank op ‘n opvolger vir die legendariese Witnek met sy grys lyf en, later, net een horinkie.

By die piekniekplek was twee keer groot troppe buffels. Een trop het die Sabie oorgesteek. Tony Park, Australiese spanningsromanskrywer, het die oortog afgeneem. Dis ook op die Sabieparkblad.

Op voëlgebied het ‘n gebande sperwer (glo die volopste!) op ‘n sandbank in die Sabie ons aanvanklik laat kopkrap. Tokkie het hom van die brug af gewaar – in ‘n vreemde sitposisie.

By die huis het vyf gekroonde neushorings in die knoppiesdoring by die agterdeur kom verwyl. Geruisloos opgedaag en geruisloos vertrek.

Glo nie die Kollegemanne se kuietjie sal so geruisloos verloop nie.
(hvd)

BOSVELD-‘SEDERS’ UITGEKAP

Middag uit Sabiepark

Soos die tyd aanstap, word onvermydelik elke jaar nuwe name op Sabieparklyste doodgevee en op grafstene onder die langboompies ingekerf. By die jaarvergadering die eerste Saterdag in Julie elke jaar word ‘n oomblik van stilte vir die afgestorwenes gehandhaaf.

Vanjaar se in-memoriam-lysie was kort. Dit bevat net vier name. Die verlies was egter gewigtig. Al vier op die lys het onuitwisbare voetspore op Sabiepark se bodem gelaat. Met hul dood is ‘n hoofstuk in die geskiedenis afgesluit.

Vier Bosveld-“seders” is uit ons bos gekap.

Sabiepark was die droom van die sakeman Werner Ackerman van ‘n wegvlugplek ver van die stad se gewoel en rumoer. Toe die moontlikheid van Sabiepark ontstaan, het hy ‘n gedugte kernspan om hom versamel om die droom te verwesenlik: Jan de Necker, Albert Wessels, Daantjie du Preez en ‘n Klerksdorpse landmeter Phil Jooste wat by die konsortium betrek is om die beplanning van Sabiepark te doen.

Stigters Ackerman en Wessels is voorheen oorlede. In die afgelope boekjaar van Sabiepark het De Necker, Du Preez en Jooste ook na beter oorde verhuis. Al vyf lstigters wat in die Sabiepark-fotoalbum op bladsy 64 so fors in hul kakie-bosdrag vir die kamera poseer, is nou nie meer met ons nie.

Toe Sabiepark in 1979 tot stand kom, was die uitdagings enorm. Lastige owerhede, stropers en wilde diere was van die veeleisende faktore. Gesoute sakeman Daantjie du Preez, is as eerste voorsitter aangewys. Hy het verbeeldingryk leiding gegee – met wysheid, entoesiasme en toewyding.

Jan de Necker was uit die staanspoor ’n sleutelfiguur. Hierdie top-Afrikanernyweraar en -entrepreneur was stigter of medestigter van o.m. Toyota SA (saam met Albert Wessels), die klerereus Veka, die Randse Aksepbank, die Wêreldwye Natuurlewefonds en, natuurlik, Sabiepark wat hy lank met oorgawe en lojaliteit gedien het.

Hy was ‘n geesdriftige, besorgde en deelnemende eienaar tot onlangs. Baie Sabieparkers onthou hierdie Bosveldboom van ‘n man en sy lewe van diens baie deeglik. Ek het voorheen oor hom ‘n huldigingsblog geskryf. Dit verskyn ook in die jongste Sabiepark-nuusbrief.

Ek wil nie op dieselfde spore stap nie, maar by die jaarvergadering het ek mede-eienaars gevra: Kom ons salueer Jan de Necker vir laas – ook sy bydrae oor drie dekades tot die Sabiepark wat ons vandag kan waardeer en geniet.

Phil Jooste is die man wat Sabiepark aangelê het: elke versteekte pypsteelerf en draaitjie in sy kronkelpaadjies. Hy het ook gesorg vir ‘n sterk Klerksdorpse band wat tot vandag voortduur. My eie buurmense, die Van Heerdens van 155, is Klerksdorpers.

Ons het Saterdag ook gehuldig Eckson Mathebula, hoofindoena, wat Sabiepark getrou, lojaal en met onderskeiding gedien het, soos sy oom, hoofman Shibiti wat in 1989 deur ‘n buffel doodgegaffel is. Buffels was toe nog aanvaarde deel van die Sabiepark-landskap.

Hierdie waardige, aristokratiese en diep godvresende mens het in Sabiepark baanbrekerswerk vir die plaaslike gemeenskap gedoen, en verdiend eienaars se hoogste respek en waardering geniet. Ook met sy dood is onder ‘n stukkie geskiedenis ‘n finale streep getrek.

Ons eer hul nagedagtenis. (hvd)

GEBED VIR SABIEPARK

More uit Sabiepark

Sabieparkers is ‘n taamlik diverse gemeenskap. Diversiteit kom voor in taal, kultuur en herkoms. Generasieverskille is teenwoordig. Party eienaars is in die 80. Ander is skaars 30. Standpunte oor en aspirasies en ideale vir Sabiepark bots soms lynreg.

Tog word ons, as ons hier is, gebind deur een oorkoepelende nasionalisme – liefde vir die bos. Ons is almal natuurmense. Ons is innig verknog aan Sabiepark.

‘n Mens wens as jy Sabieparkers toespreek, soos Saterdag my voorreg was toe ek gevra is om die 30ste jaarvergadering te open, dat jy dit in een, inklusiewe, verenigende taal van die bos kon doen. Dat jy almal gelyk met dieselfde boodskap in dieselfde woorde kon bereik. So ‘n taal bestaan ongelukkig nie.

Die naasbeste is om verteenwoordigend te probeer wees. ‘n Sabieparkgewoonte is (of was) dat by spesiale okkasies die Skriflesing in drie tale gedoen word. In ons Sabiepark-foto-album verskyn ‘n foto van Rinza Venter (Engelse Bybel), Gerrie van Niekerk (Afrikaanse Bybel) en Eckson Mathebula (Tsonga-Bybel), ‘n vorige era se bestuursgeslag, wat die die Kersverhaal in die drie tale by ‘n Kersbyeenkoms van die personeel voorlees.

In dieselfde gees het ek toe maar ‘n stukkie uit die Engelse Bybel (King James Version) gelees. Daarna enkele verse uit ‘n Afrikaanse gediggie, Mymeringe oor Job 39, wat jare gelede in Sabiepark in kerslig geskryf is. Daarna het ek, helaas, net vyf woordjies in Tsonga gesê. Ten slotte het ek ‘n kort gebed gedoen in Afrikaans, my moedertaal en die enigste taal waarin ek my tot die Here kan wend.

Uit die KJV het ek ‘n paar verse uit daardie klein juweel in alle tale, Psalm 23 , gelees: The LORD is my shepherd; I shall not want. 2 He maketh me to lie down in green pastures: he leadeth me beside the still waters. 3 He restoreth my soul: he leadeth me in the paths of righteousness for his name’s sake … 5 Thou preparest a table before me in the presence of mine enemies: thou anointest my head with oil; my cup runneth over. 6 Surely goodness and mercy shall follow me all the days of my life: and I will dwell in the house of the LORD for ever.

Mymeringe oor Job 39 is deur Die digter is Fanus Venter, oud-skoolhoof van Piet Retief op die stoep van Leeuplesier (240) in Apiesdoringlaan geskryf. Sy gasheer, Humpty du Toit, het die oorspronklike sorgvuldig bewaar. Ek het net vier van die ses versies gelees. Dit dra die kernboodskap van mens en natuur se afhanklikheid van God se Vaderhand oor.

Wie jag die prooi vir die jong leeuin/En wie bring saans haar ete in/Wie maak snags die jong leeus stil/As hulle hard om voedsel brul?

Wie gee vir die kraai sy kos/As hy sy kinders honger los/Sorg vir die steenbokkie se kind/Tot hy sy eie rigting vind?

Wie weet dat die buffel vry wil wees/En nie jou dienskneg soos die bees? Hy’s nie bereid om jou te dien/Omdat hy net die vryheid sien.

Ek sal soos Job ook ophou twis/In die besef hoe klein ek is/Ook in hierdie ruwe land/Leef mens en dier net uit U hand.

Mikhongelo a yi hi hlanganiseni. (Kom ons verenig in gebed).

Toe het ek gebid: Hemelse Vader, ons noep U aan as gewer van alle goeie dinge; ook as skepper van die ganse aarde in sy grote verskeidenheid, en as skepper van die natuurprag rondom ons.

Of ons hier in die groot tent langs die Sabierivier vergader is of by ons kampvuurtjies sit, is ons elke dag intens van u teenwoordigheid bewus. Ons hoor u stem in die gedruis van die rivier oor die klippe op pad na Mosambiek, in die geroep van die visarend in die lug, die geproes van die bokkies in die veld.

Dankie Vader, vir al hierdie genadegawes…. en veel meer. Ons verenig vandag in gebed om U te vra: Hou steeds U hand van ontferming en genade oor elkeen – oor ons land, ons leiers, ook ‘n ikoniese oud-leier wat afgetakel en baie siek in die hospitaal is; oor ons geliefde Sabiepark en hulle wat primêr die verantwoordelikheid op hul skouers dra om hierdie kosbare erfenis vir die nageslag te bewaar.

Lei ons, Here, langs groen weivelde na stille waters, gebied oor ons steeds U goedheid en guns, giet steeds U genade soos kosbare olie oor ons uit uit ‘n bodemlose fles.

Amen.
(hvd)