GEGROET UIT TARLEHOET (2)

More uit Sabiepark

By al die bestaande bosgeluide het deesdae ook die gedurige gewoer van ‘n helikopter gekom. Daarmee word stropersroetes gepatrolleer en op renosterjagters neergeswiep.

Vrydag hoor ons op Tarlehoet se stoep die dringende geloei van sirens. Klink of stropers deur die Krugerhek probeer wegjaag het, meen Tokkie. Of dalk was daar ‘n gewapende roof by die Protea-hotel Krugerhek.

Die raaisel oor die kakofonie word eers 24 uur later opgeklaar. Op navraag word ons by die Krugerhek meegedeel: “O daardie? Dit was ‘n begeleiding vir die een of ander grootbaas.”

Moet ‘n baie GROOT grootbaas gewees het om vir sulke luidende simbale te kwalifiseer!

******************************************

Van kakofonie gepraat. TvD meen Tarlehoet is soos ‘n klein O.R. Tambo omdat die Boeing so stiptelik smiddae oorkom. Die eerste jenewertjie word klokslag geskink.

Gelukkig is die enigste ontlasting wat by ons gestrooi word, die sebras se mis. Die is altyd baie welkom. Uitstekende bemesting vir die impala-lelies, aartappelbos en klein appelblaartjie agter die huis wat my vrou aan die groei probeer troetel.

*****************************************

‘n Ys-like raaisel is die gedrag van ons nuwe Zero-yskas. Die is op 31 Desember 2013 afgelewer en het toe 14 dae fluks gearbei. Drie dae na ons aankoms flikker die vlammetjie ‘n doodsflikker. Die ys smelt. Dit gebeur twee, drie keer.

Hulp word uit Witrivier ontbied. Ook die kenners krap kop. Telkens kondig hulle aan: ”Nou’s hy reg.” Dan is sy gô weer uit.

Uiteindelik is die Zero agter op ‘n bakkie Witrvier toe. Die rapport kom: “Hy ys vir ‘n vale.”

“Nou wat het julle gedoen?”

“Niks”.

Die yskas is terug op sy plek. Selle plek, selle gaslyn. Dreun ‘n bietjie buitengewoon hard, maar doen sy ding. Van Zero tot hero. Maar die geheim van die flou vlammetjie bly onopgeklaar …..

*********************************************

Die skets hierbo van die eienaar van Wildevy 154 is deur die Sabiepark-hekwag Abbey. Dis hy wat op die swartbord by die hek sulke mooi luiperds en bobbejane (mooi bobbejaan!) teken om besoekers teen gevare in die bos te waarsku. Sal later wys hoe lyk die talentvolle jong Abbey en sy swartbord.

Tjeers vir eers. Mag die Blou Bulle darem die Kings klop! (hvd)

OMSINGEL DEUR OLIFANTE

Middag uit Sabiepark

RSG se Spektrum het ons pas herinner dat 24 Junie die herdenking is van die Wêreldbekerglorie van 1995. Die volgende stonde kry 24 Junie vir die Van Deventers ‘n geheel ander betekenis: Die Dag van die Olifante.

Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1998-CR-V) van Balule af via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivierwas gery het. Kort-kort kry ons olifante. By die skerperige boog tussen Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.

Eensklaps is ‘n bewegende swart muur feitlik op ons. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die teerpad op die weerlose Honda afgemarsjeer. Alle groottes en ouderdomme. Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Jy sien net skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.

So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!

Ek trap haastig rem en swaai die neus effens veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto”. My vrou het ‘n punt beet. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam, besef jy.

Magteloos sit ons, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger. Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore. Vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby.

In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Baba steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot stilstand. Daarna maak baba, soos Tokkie dit stel, doek net voor die snoet van die kar.

Die jong bul vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Mik eers my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink. Op daardie oomblik stap ma en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.

Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Van hulle het dalk foto’s geneem, hoop ek. As een hier lees, en ‘n foto of foto’s het, kan ons besigheid praat. Hierdie verligte man sal gewillig sy pensioengeldjies skud vir getuienis van die naelskraapse ontsnapping op 24 Junie 2013. Sal dit graag met gepaste kommentare rondwys.
(hvd)

GEGROET UIT TARLEHOET!

More uit Sabiepark

Ex Africa semper aliquid novi. Nie net die vasteland Afrika nie, maar ook kleiner brokkies daarvan lewer altyd iets nuut op. Oor Sabiepark se eerstes het ek al heelwat uitgewei, in hierdie kolomme en ook twee bosboeke oor hierdie hartsplek van my.

Op Vrydagaand 14 Junie, ons eerste aand hier, is ‘n gawe addendum tot Buurman van die Wildtuin en Duisend Dae van die Sabie gevoeg.

Eers was die eerste nagapies net ná skemer kordaat in die pendoring voor die stoep. Gewoonlik is hulle ná ‘n lang afwesigheid taamlik sku. Kom eers heelwat later, dan ook onseker en ietwat onrustig. Soms laat wag hulle ons ‘n aand of twee.

Kort daarna hoor ons ‘n snork by die watergatjie. ‘n Klein sebatroppie staan nader vir ‘n sluk of ses van die pas ingetapte vars verfrissing. Twee kleintjies drink seker die eerste keer in hul ewe uit Tarlehoet se dam. Dit het nog nie tevore sommer die eerste aand al gebeur nie.

Skaars ‘n halfuur later gly die eerste bosnagaap teen die maroela se stam af. Toe ‘n tweede. Nommer een spring op die swembad se rand en les sy dors uit die dammetjie vuil reënwater wat in die swembdseil gevorm het. Nog ‘n eerste.

By die hek is ons ‘n waarskuwing in die hand gestop teen die bobbejane wat die park op die oomblik op horings neem. Natuurlik is bobbejane nie ‘n nuwe bedreiging vir Sabieparkers nie. Maar ‘n skriftelike waarskuwing by die hek – dié het ek in 15 jaar nog nie voorheen gekry nie.

Les bes, het ek na die lang rit van OR Tambo af (vyf uur se ry) met ‘n taamlike stram heup by Tarlehoet afgeklim. By my eerste vuurtjie van die winter van 2013 het ek my tjoppie leunend op my kierie met die handvatsel van vlakvarkhoring op die skole gegooi.

Ook die eerste keer, helaas.

Ek het boontoe getuur, half in die verwagting dat die helder sterrehemel ook die een of ander nuwe voet moet voorsit. Dit was egter presies soos ek dit onthou – so naby dat jy, soos Pieter Pieterse gesê het, voel jy kan jou hand uitsteek en vir jou ‘n paar pluk.

NASKRIF: Sabiepark is sonnig, sielsalig maar so met sukkelseine. soos altyd. Geduld, geduld, liewe vriende, met die seldsame swye aan die front (of geniet dit natuurlik!)

TARENTAAL VAN ‘N ANDER KLEUR

Middag uit Melkbos

Ek weet van ‘n Tarentaalkraal by Greyton, ‘n Villa Tarentaal by Tulbagh en ‘n selfsorgplek Tarentaal by Struisbaai. Goeie vriende, Ben en Rina van Rensburg, woon in Tarentaalstraat 1, Onder-Papegaaiberg, Stellenbosch.

Ek en Tokkie is nie oormore na een van bogenoemde op pad nie. Kulula vat ons vroegoggend Johannesburg toe en die ou Honda wag daar vir die laaste skof via Nelspruit en Hazyview na Sabiepark … en Tarlehoet by Wildevy 154.

As dit ‘n vervelige stukkie nikswerd-inligting is, is ek jammer, maar in die lig van navrae oor my vorige twee blogs – wat is die naam nou weer, Tarentaal; wat beteken Tarlehoet, nou weer? – moet ek tog maar oor die naam van ons bosplek weer die ou (bos-)paadjie bewandel.

Kom ons begin by Sabiepark se naamgee-kultuur. Die foto hierby van ‘n verskeidenheid naamborde beduie hoe die wind daar waai. Toe ons Tarlehoet einde 1997 koop, was sy naam Ukuthula (Vrede van Binne). Ons het gemeen ‘n Van Deventer-stempel op ons nuwe kuierplek vereis ook ‘n nuwe naam.

Sonder veel kopkrap het ons Tarlehoet gekies – moontlik ietwat raaiselagtig vir oningewydes, toegegee, maar ‘n naam uit die Van Deventer-geskiedenis. Dit kom via die naam van ons huis van langer as ‘n dekade op die hoek van Van Schoor – en Kmdt. Senekalstrate in Bloemfontein, wat dit weer gekry het van ‘n Boesmantjie in een van Elizabeth Vermeulen se verhale oor die Noordweste.

Die Noordweste was die eerste eienaar, wyle Bontie Bonthuys, se kontrei en Elizabeth Vermeulen was sy gunsteling-skrywer.

Tarlehoet (‘n Tarentaal van ‘n ander kleur!) het mettertyd diep in die Van D-kultuur nesgeskrop. Dit is o.m. ook die naam van my private uitgewerytjie, wat verskeie boeke op sy kerfstok het. Vir ons beteken dit sommer kortweg: ‘n Plek waar ons lank en gelukkig gewoon het.

As ek nou ‘n ander naam vir die plek sou moes oorweeg, sou ek die oorspronklike Ukuthula tog in die hoed sit. By Tarlehoet ervaar ons heerlike vrede van binne. Op my laaste skof streef ek na nog groter vrede; wil konflik vermy waar ek kan. .

Baie bepaald ook in daardie hoed sal wees Kumbaya of Kumbayah, ‘n Kreoolse spirituele lied wat die Goeie Vader nooi: “Come by here, my Lord” – “Kom hierlangs”. Ons het dit op ‘n CD, soos uitgevoer deur Placido Domingo en Vriende. Hemelse musiek.

Soos ek voorheen hier geskryf het, sou ek graag by my kampvuurtjie wil sit en neurie: Kumbaya, my Lord, Kumbaya. “Here, U is hier, ek voel dit. Kom asseblief, altyd weer.” Ek sou ook met die naam vir my vriende.wil nooi: Kom hierlangs. Kom in. Kom geniet ‘n wyntjie! Trouens, ek sou my plek wel ook Kelkiewynkannoem – soos vriende se vakansiehuis op Kleinmond.

Vraag is, sou ek nie maar elke keer ook moes verduidelik wat Ukuthula of Kumbaya beteken nie? Of moes bontstaan om te verduidelik dat ek nie die naam Kelkiewyn by Salie en Lisa de Swardt gegaps het nie?

(Naskrif: Gegroet, bloglesers. Vrydagaand is ek hopelik by ‘n vuurtjie by Tarlehoet. Dalk sal ek van daar af blog, dalk nie. Tyd sal leer.)

hvd

BOS-KOK-KEDOOR


Wat prut in daai potjie?

More uit Melkbos

‘n Kokke-door wat met kos kan toor, is ek hoegenaamd nie. By die huis wag ek nie my hand aan ‘n koppie tee nie. Tokkie doen dit eenvoudig beter. Dankie tog.

Maar dom of lui, aan die onwaarskynlikste mens doen Tarlehoet soms snaakse goed. In Sabiepark raak selfs die uwe by geleentheid speel-speel eksperimenteel.

Vir die vakansie (nou net vier slapies weg) het ek vooraf so in my stilligheid ‘n paar bos-geregte uitgedink wat ek graag vir my liewe vrou en gaste sal wil opdis. Sy verdien ‘n bietjie bederf!

Moet tog net nie dat laasgenoemde agterkom nie, asseblief. Dalk skrik dit hulle af!

Hier is my spyskaart – probeer dit gerus as jy in ‘n avontuurlike bui is. Ek is nie een van daardie wat my kers onder die blaker hou en my resepte in ‘n kluis wegsteek nie. Ek lieg ook nie oor bestanddele om resep-bedelaars op ‘n dwaalspoor te bring nie.

Sop van die dag:

Waterskilpad in sy dop
met paddavoete vir die skop.

Die Bosveld-omelet:

Roer-reiereier
in galsterige seekoeivet!

Potjies van die dag:

Fyn gemaalde bobbejaan
gemarineer en sterk gegeur
met koedoekoei se lewertraan.

Vlakvark-otjie-potjie
met suur wilde uintjies
uit natuurlike rotstuintjies.

Vir tussen die gange:

‘n Skaar halfgaar mambaslange
vars gevang in mamparralange.


Die “spesjil mieks grill”:

Die teelsak van ‘n buffelbul
gevul met repies krokodil!

Vir nagereg, moenie vra:

Geniet tot hul jou weg moet dra:
HvD se son-gegiste maroe-la
met loperige bokmelk-vla.

Se-la. (hvd)

MET VRIENDE OM VUURTJIES

Saamkuier in September 2007: vyf Volksblad-hoofredaksielede van die 80′s. Van links is Sarel Venter, HvD, Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.

More uit Melkbos

Here , as ek regtig

vir enigiets, maar

enigiets, mag bid –

Here, kan ek maar

vir ewig by my

kampvuurtjie bly sit?

‘n Vuurtjie is ‘n sielsgenoot vir elke seisoen. Om langbeen by ‘n vuurtjie te sit en kuier (veral as dit ‘n stamboekvuur van hardekool kan wees), maak daardie kuier sommer baie spesiaal. ‘n Vuur is mos ‘n plek waar vriendskappe veredel.

Wat ‘n vooreg om deur die jare in Sabiepark saam met soveel vriende om ‘n vuurtjie te kon sit. Ook vir die wintervakansie wat Vrydag begin, stapel die inskrywings in die dagboek vinnig op: familie, vriende – onder wie verskeie studentemaats van die 60′s – oud-kollegas by Die Volksblad, mede-Sabieparkers en andere wat by Tarlehoet kom vertoef of sommer net ‘n vleisie op die kole kom gooi onder sterre wat in die woorde van wyle Pieter Pieterse “elke nag nader aan die aarde lyk as wat jy kan onthou”

Een van die Bosveldvure wat in die Van Deventer-annale uitstaan, was op 11 Augustus 2001 vir ‘n Melkbosspan van 24 wat in ‘n konvooi uit die Kaap opgeruk het Wildtuin toe. Daardie braai het ingesluit tamaaie vure by die voor- en agterlapas, ysterpotte vol pap en “sheba” (‘n tradisionele tamatiesmoor met baie uie) – natuurlik ook die tradisionele tjops en wors vir Afrika.

‘n Reünie in September 2007 van die Volksblad-hoofredaksie van die jare 80 was eweneens ‘n bos-okkasie om oor huis toe te skryf. Paul Marais en Cora van Hartenbos, Herman le Roux en Rina van Randburg, Piet Theron en Petro van Bloemfontein, en Sarel Venter en Liesbeth van Bloemfontein kon ‘n naweek die kollegiale band in die bos kom afstof. Die “onthou-jy-nog’s” kon net nie opdroog nie.

In ons gasteboek met ‘n indrukwekkende maanhaar op die harde-buiteblad is reeds meer as 150 inskrywings. Dat soveel oud-kollegas, Tukkiemaats van 50 jaar gelede en matriekmaats van 1957 aan die Hoër Volkskool, Potchefstroom, al saam om Sabieparkvure gekuier het, ag ek as ‘n buitengewone voorreg – dis wonderlik as vriendskappe só hou. Oud-kollegas en studentemaats staan van daardie garde getalsgewys bo-aan die besoekerslys met 12 elk. Matriekmaats staan op tien.

Van die vriende kom weer en weer, soos Herman en Rina, wat ook in Maart 2008 hier was om tien goue jare te gedenk – hul tiende besoek en Tokkie se verjaardag. Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met dieselfde blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies soos ‘n dekade gelede – buiten, natuurlik, vir die toename in grys hare en allerlei ander tekens aan die onderskeie lywe. In Julie sal ons nie die swembadjie aan die suidekant van die huis aandurf nie, maar dan kuier ons weer saam – hul twaalfde of dertiende besoek.

Manie Steyn, studentemaat van 50 jaar, kom ook weer. Op ‘n vorige besoek, in Julie 2010, was die tjops en wors vir die afskeidsbraai op die soliede ystermeneer wat tien jaar gelede sy geskenk aan Tarlehoet was. Die oggend toe Manie ry, swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse tot siens!

Manie en ander studentemaats, Cas en Nella Jacobs, Pierre en Esther le Roux, Piet en Moraig Henning en Benito en Lina Niemann gaan middel Julie vir drie dae saam Balule toe. Die Jacobse en Le Roux’s doen ook eers Sabiepark aan. Hulle is gewaardeerde Sabiepark-veterane.

In die dae toe Dawie Strydom van Outeniekwastrand nog “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik uit sy mondfluitjie kon laat opklink, het sulke uurtjies om ons vuurtjies ewigheidsdimensie gekry.

In daardie gewyde oomblikke het die gedagtes gedwaal na Sabiepark-vuurgenote wie se name intussen op grafstene uitgekerf is: Ouma Marietjie van Wyk, Ben Smith, Alf Ries, Magriet Jonker, Frik Dreyer, Sannie Steyn, Piet en Verity Möhr, Evert Smith, Sina Roux, Anthonie en Cilia Roux, Wynand en Daleen Mouton, Barnie en Swanie Human, Frikkie Jordaan, Fickie en André Visagie, Piet en Esta Gouws, die jong Frederick Nel …

Dawie en Annatjie het Sabiepark 27 jaar lank besoek. Hierdie vakansie sal die Strydoms se plek die tweede jaar na mekaar leeg wees. My ou vriend se gesondheid het geknak. Helaas.

Dat ek saam met geeneen van hierdie mense ooit weer langs ‘n Sabieparkse vuurtjie sal sit nie, is ’n vreemde, amper onwerklike wete. Maar so knaag die tande van die tyd … (hvd)