ALMAL WAT HONGER HET …

Middag uit Melkbos

Sy kaalvoetspore lê wyd in die Kalaharisand. Sy diep spore in die politiek lê in die wandelgange in die Parlement en in die SA ambassade in Mmabatho. Sy skrywerspore het hy verdien met ‘n dosynstuks boeke oor veral sy hartland, die Kalahari. Dit sluit ook twee versebundels in – onder meer een met die sprekende titel “Goud, wierook en mirre – Verse van die geloof”.

Dié man van geloof is die wellewende Vrystater dr. Willem D. Kotzé. Hy trap nou – dalk op hierdie juiste oomblik – nuwe spore op die Seepuntse promenade; nie as Namibiese boerseun, LV, ambassadeur of skrywer nie, maar in die nuwe gedaante as die Mnr. Bybel van daardie kosmopolitiese buurt aan die Atlantiese Oseaan.

Dok Willie, soos ek hom uit die jare 60 in Bloemfontein noem, plaas 10 Bybels per keer in ‘n drasak en stap op ‘n mooiweersdag om 15:00 uit sy woonstel in Kusweg. Sonder uitsondering is hy binne ‘n uur terug. Die drasak is leeg. Sy missie vir die dag is voltooi.

Tien nuwe Bybeleienaars blaai verwonderd deur die kleinood wat hulle uit die hand van die vriendelike vreemdeling ontvang het.

Die saadjie is gesaai by die laaste groot Mighty Men-Konferensie van Angus Buchan. Dok Willie, ‘n flinke 80-plusser, en sy twee seuns was onder die skare van 400 000 mense. Hy het geesvervuld na Kaapstad teruggekeer met ‘n missie: Om Bybels vir mense met ‘n honger na die Woord present te gee.

Sy aanvanklike doel was om een Bybel per dag aan iemand te oorhandig. Hy vra geen donasies nie. “Ek dank die Here dat Hy hierdie taak aan my toevertrou het, en ek maak staat net op sy ondersteuning,” getuig hy.

Christian Media Publishing bestel vir hom die New International Version (NIV) direk uit Amerika en die verspreiders On the Dot lewer dit by sy woonstel af. Altesaam 360 Bybels op ‘n keer. So maklik soos dit, sê hy met ‘n knipoog en ‘n glimlag.

Voordat Seepunt se Mnr. Bybel met sy drasak uit die woonstel stap, vra hy dat die Heilige Gees hom moet lei na slegs mense wat ‘n Bybel móét kry om dit as ‘n dissipel van die Here te kan gebruik. “Weet jy watter verwagting skep dit by my?!”

Wanneer hy uitstap, bid sy vrou, Alice, ook vir welslae.

Hy stap van hul woonstel nooit verder as die plus-minus 400 meter na die roomyskiosk by die swembad nie, en keer sonder uitsondering binne ‘n uur terug. Die meeste kere deel hy al 10 Bybels op daardie korte afstand en binne daardie korte tydsduur uit.

Natuurlik wissel hy met elke ontvanger ‘n paar woorde voordat hy die Bybel oorhandig. Sy belewenis beskryf hy soos volg: “Hierdie uitstappie verskaf aan my ‘n geweldige gevoel van vervulling, en wanneer ek terugkeer, deel ek met Alice die hoogtepunte wat ek ervaar het.”

‘n Absolute honger vir Bybels bestaan daar buite, vertel hy. Meesal by swart- en bruinmense. Gewoonlik het die blankes reeds Bybels. Hy het al aan minstens 20 mense wat gesê het hulle is Moslems, Bybels gegee, en ook aan drie Boeddhiste.

Sy naam en telefoonnommer is voor in die Bybel en hy ontvang oproepe van waardering en ondersteuning van so ver as Johannesburg, Port Elizabeth en Hermanus. Mense doen moeite om met ‘n taxi Seepunt toe te kom om ‘n Bybel by hom te kom afhaal.

‘n Swartvrou het ‘n keer met ‘n kombi van Philadelphia tot op die stasie gekom. Van daar af is sy met ‘n ander kombi Seepunt toe. Agter ‘n Bybel aan!

Al was sy oorspronklike missie om een Bybel per dag af te gee, is die honger eenvoudig te groot. Ten einde die Bybels so gou as moontlik by die wagtende kinders van die Here te kry, gee hy sommer 10 Bybels per dag af; ses dae per week, as die weer dit toelaat.

Die 360 Bybels wat vir 2013 bedoel was, het almal al nuwe waarderende eienaars. En dit is nou maar eers die einde van Mei. Aan die begin van Desember verwag hy die volgende besending van 360. Tot op datum het hy in die laaste vier jaar 1 450 Bybels uitgedeel.

“Weet jy hoe heerlik dit is om vir iemand op die promenade te kan vra: ‘May I offer you a Bible as a gift for Christmas?’, sê hy stralend ten slotte – hierdie man wat op so prysenswaardige wyse waarlik God se Woord “soos kos wat hulle kan eet” (Jeremia 15:16) aan mense present gee.

(hvd)

STOUTE NEEFS EN NIGGIES

Middag uit Melkbos

Skielik kry ek suspisie oor die motiewe van die ou wat sy Dina so naarstiglik soek.

En daardie kompatertjie wat so doelgerig op die spoor van sy Nonnatjie (nonnatjie?) bly? Wat suggereer daardie “ligte verleiding” waarvan ons verneem? Watter onheile broei nie uit nie as die kompater en sy Nonnatjie (nonnatjie?) dan later tot “laat in die nag” eindeloos so bly “draai”, “swaai” …. en “gly”?

Dan’s daar Boetie en die “perskeblom”, so “rosig fyn van kleur”. Dui “pluk haar in haar fleur” nie dalk in hierdie konteks op die een of ander vorm van seksuele molestering nie?

Om van Oom Kallie nie te praat nie. Hy met sy dop en sy “handsambok”. Drank en gepaardgaande geweld teen vroue …. Dit gaan eenvoudig van erg tot erger.

Hierdie nadenke oor die lirieke van Afrikaanse liedjies waarop ons neefs en niggies van kindsbeen af tiekiedraai, het alles begin by ‘n kommentaartjie van “Perdebytjie” op ‘n vorige blog oor allerlei musiek-misgissings. Aanhaakpunt was die opgewekte “Gimme hope, Joanna” met sy politieke boodskap.

”Perdebytjie” het hardop gewonder of “Vanaand gaan die volkies koring sny” ‘n onskuldige liedjie oor ‘n doodgewone boerdery-aktiwiteit is. Immer nuuskierig, wou die uwe dadelik weet: “Huh?”

Die antwoord is in hierdie kolomme vir almal te lees. Blaai net terug. Waarop dit neerkom, is dat die onskuldige woorde ‘n seksuele konnotasie kan verberg. “Koring sny suggereer hulle gaan bietjie onder die komberse woel,” beweer sy.

Oor ”my geliefde hang aan die bos”, stel “Perdebytjie” voor dat die uwe dit vir homself uitklaar. Wonder of sy besef ek is 72. Nietemin, haar suggestie lei my toe na Facebook waarop ek by my vriende wil weet:

“Vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny … Skurf of nie skurf nie? Iemand (nogal met die naam Perdebytjie!) beweer op my litnet.blog koring sny, is iets wat jy tussen die lakens doen. En hang aan die bos? Sy raai my aan om my eie verbeelding te gebruik. Kommentaar, ook uit FAK-kringe?”

Carel Weeber, seun van ‘n oorlede matriekmaat van dieselfde naam, opper onmiddellik ook die kinderliedjie “Siembamba”, waaroor ook maar ‘n slang in die gras is – maar darem nie (so ver ek weet) iets onhebbeliker as dat dit oor ‘n regte mamba handel waarvan die kop vermorsel moet word nie.

Kollega en vriend Ollie Olwagen laat weet: “Dan is daar ook nog Sannie met die “skeurtjie in haar rokkie” wat moes trou nadat sy water by die dam gaan haal het. Of die nooientjie wat “in die moerbeiboom” geklim het om die smekende komponis te terg terwyl hy onder haar rokkie inloer.

“Ons volksliedjies is almal vreeslik pornografies … of is dit nou pornofonies?” meen Ollie.

Ten einde laaste kom Carel met die loeloe van ‘n skildery hierbo vorendag: Sannie op pad water toe sans rokkie met ‘n skeurtjie, sans, trouens, enige beduidenis van ‘n rokkie of enige ander bedekking. ‘n Ruk gelede was daar opspraak toe die jong kunstenaar Lizelle Kruger se stoute Sannie so poedelkaal op die voorblad van die tydskrif “Pomp” was. Dit is daarna op ‘n veiling vir R47 000 aangebied. Carel se inligting is dat die prys wel gehaal is. Kaal betaal!

Miskien moet ek egter die onderwerp liewer net hier los en my aan stigteliker sake toewy. Want hoe spreek die Hollanders nou weer: “Hoe dieper ik poog te delfte hoe meer verderf ik ontmoet”!
(hvd)

SPRONGE VAN TIEN JAAR

Terugflits 2 – tot 1962

More uit Melkbos

Die Afrikaanse begrippe “met rasse skrede” of “hand oor hand” vat dit nie vir my heeltemal raak nie. Die Engelse “by leaps and bounds” is meer in die kol as ek die filosofiese gang van my gedagtes vandag in woorde wil gestalte probeer gee.

’n Broodnodige ordening van ‘n deurmekaar studeerkamerkas (die Engelse “spring clean”) het die spulletjie aan die gang gesit. In die kas was allerlei rommel, maar ook ‘n fotoboek van die Van Riebeeckfees van 1952 en ‘n Tukkie-jaarblad (Trek was die naam) van 1962. Presies ‘n dekade het van die een tot die ander verloop.

By die Van Riebeecfees was ek teenwoordig as 11-jarige (korrek) seuntjie in standard vyf aan die Hoërskool (korrek) Port Natal in Durban – die verste en langste wat ek nog van die huis af weg was. Ons skoolgroep het per trein gereis en het by die Kenilworth-perderesiesbaan tuisgegaan. Ons het indrukwekkende optogte en tablo’s gesien, en ook hoe Daphne Hasenjager die Nederlandse Olimpiese kampioen Fanny Blankers-Koen in die 100 tree kafdraf.

Terugflits 1 – tot 1952

Tien jaar later, in 1962, was ek in my laaste jaar op Tukkies. In die jaarblad met onder andere die bekende Nic de Jager in die redaksie figureer ek onder meer as skraal finalejaarstudent wat, hoed op die kop en met ‘n skreeulelike streeptrui, jaarblaaie in ontvangs neem van die redakteur, Sampie Golden, latere Hervormde dominee, LV en ambassadeur. Ek figureer voorts as huisvoorsitter van Kollegetehuis saam met o.a. Pierre le Roux, latere koöperasie-grootbaas en steeds ‘n goeie vriend saam met wie ek weer in Julie in die ongerepte Balule in die Kruger-wildtuin gaan kuier. Ook Piet Theron, jarelange Volksblad-kollega wat onlangs in die nuus was as redakteur van die boek “Belhar geweeg”. Een van ons HK, Hennie Smit, hoenderboer van Potchefstroom, is reeds oorlede.

Die ontdekking van hierdie twee publikasies noop my om in dekade-terme na my lewe te kyk. Die spronge raak enorm en beklemtoon des te meer die vinnige verloop van die lewe. Meen te sê, tien jaar voor 1952, in 1942, was ek ‘n pokkeltjie op my pa, Seun van Deventer, se skoot langs ons plaashuis by Babanango in Noord-Natal. Pa Seun is halfpad deur daardie dekade, in 1946, skielik oorlede.

Tien jaar na 1962, in 1972, was ek nuusredakteur van Die Volksblad, vyf jaar getroud met Tokkie, en pa van Johan (1). Adres was Kmdt. Senekalstraat 33,Bloemfontein – ons eerste eie huis. ’n Dodge SE kom staan in my motorhuis.

Spring nog tien jaar tot in 1982. Toe sit ek in die redakteurstoel by Die Volksblad, hoegenaamd nie meer so skraal soos eers nie, en is Marisa, die jongste, al in Graad Twee. Ons woon in Van Schoorstraat, Bloemfontein, met wit waaierstertduiwe in die blomryke voortuin. Ons matriekklas van 1957 vier voorwaar al ‘n kwarteeu van die skoolbanke af by ‘n reünie op Potchefstroom.

“Fast forward” (jammer vir al die Engels vandag) tot 1992. Ek stap as groentjie-bestuurshoof van koerante by my kantoor op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht in, en O’Kulissstraat 11, Welgemoed, met die mooi uitsig op die berge, word die nuwe VanD-adres.

Halfpad deur die dekade tree ek af, en teen 2002 is ek al ‘n ervare lid van die kieriekommando, soos Pierre le Roux ons noem. Wandel op die strand op Melkbos, kuier lekker saam met my Probusmaats en hou l-a-a-n-g vakansies in ons eie boshuisie in salige Sabiepark aan die soom van die Sabierivier, digby die Krugerhek.

Toe 2012. Ditto. Heelwat meer ervare as lid van die kieriekommando, heelwat minder aktief as wandelaar op die strand, maar steeds ewe entoesiasties oor my vriende, oor Sabiepark en die Wildtuin. My sewentiende boek, Spore in die bos, verskyn as e-boek. Hennie en Tokkie is nou al Oupa Hennie en Ouma Tokkie, en hoe lief is ons nie vir ons kleinkinders en die nuwe status nie.

Maar bloedmin dekades het verloop van die pokkeltjie op Pa Seun se skoot van 1942 tot die Oupa met kleinseuns op die skoot in 2012.

”Tempus fugit”, lui die Latynse speuk. Die tyd vlieg. Of: “Tempus is fugitting like mad”, soos die Engelse omroeper Eric Eagan op ‘n kol kwytgeraak het. Met rasse skrede. “By leaps and bounds.”

(hvd)

WILDE MEISIE, DIE JOANNA!

Middag uit Melkbos

Studente het uitbundig op die ”beat” van dié treffer gesokkie; gehore by Johan Stemmet se TV-program “Noot vir Noot” klap vrolik hande op die maat van die lekker wysie; baie tydgenote glo vas – soos die uwe tot gister – die lirieke handel oor ‘n vryer wat by ‘n nooi, Joanna, pleit: Gee ‘n man tog hoop!

Tot my ewige verleentheid as senior koerantman in die 80′s het ek waaragtig nie geweet “Gimme hope, Joanna” (“Give me hope, Joanna”) was ‘n struggle-lied, vol pikante kruisverwysings en kodes na apartheid en na simbole van daardie era nie. Joanna self is g’n meisie-meisie nie maar Johannesburg (as simbool van wit oorheersing).Soweto, opstande en druk op die Regering kom in die lirieke voor.

As jy mooi luister, hoor jy Eddy Grant (later ook Doctor Victor en die Rasta Rebels) sing met onderbeklemtoonde bitterheid van die “system they call apartheid.” In die video maak ook die gewraakte dompas en net-blankes-bordjies hul buiging. Die SAUK het die lied in die 80′s verbied, omdat dit as aktivisties geag is, soos die lied “Another brick from the wall”.

Diegene wat geweet het, moet ons agterosse tog maar vergewe. As gebaar van skuldbelydenis oor my growwe naïwiteit en onkunde laat ek nie gras onder my voete groei om my nuutgevonde kennis hier te deel nie.

Dit is ook nie die enigste populêre liedjie wat hiedie ou heel verkeerd verstaan het as verwysende na ‘n meisie nie. ‘n Ander een is Neil Diamond se lekker “Cracklin Rosie” My indruk was hy sing van ‘n los meisie soos die oorlogstydse “Lili Marlene”. Redelik onlangs het ek ontdek die onderwerp is ‘n Kanadese huiswyn (tuis gegis) met ‘n vonkel (crackle). Rosie beteken maar net daardie doppie (‘n witsblitserige rosè) wat sekere Kanadese Indiane graag drink as die manne, wat in daardie stam die meerderheid is, die aand sonder vroulike geselskap saamkuier.

Misluister na lirieke het al tot vele misgissings gelei. Een storie wat oor die wêreld die status van stedelike legende verwerf het, is van die kind wat “Gladly my cross I’d bear” in ‘n gospel-lied gehoor het as “Gladly, my cross-eyed bear”. Toe noem sy haar skeel teddiebeer Gladly.

Cecile Cilliers het in ‘n rubriek vertel sy het die strofe “Satan baas te raak” in ‘n Hallelujalied lank gesing as “Stambastera”.

Soms word lirieke se woorde doelbewus verwring, soos in daardie liedjie wat ons graag op skool gesing het: “Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus het nie ‘n vel”. Op Bultfontein het Tokkie-hulle die Jood se neus, die Jood se pens gemaak. Dat die woorde hul oorsprong in die Joodse besnydenis van die Ou Testament het, het sy eers ná ons huwelik te wete gekom. Moet nou nie vrae vra nie.

Op Tukkies het ons gesing van ‘n meisie wat die water instap: “She stepped into the water and she got her ankles wet”. Al hoër op het sy gewaad – “but she ain’t got her … fluit … wet yet”.

Later het ek gehoor dit is die “Battle Hymn of the Republic” – “Glory, glory, Hallelujah” – se wysie. Nou sing ons gemeente dit met oorgawe Sondae as die “Oorwinngslied”. Kan nie anders as om ‘n bietjie skuldig te voel oor ons studentikose ligsinnigheid nie.

Nie ligsinnig nie, net naïef soos HvD oor Joanna, was die SAUK-luisteraar wat die versoek aangevra het: ” ‘n Sterfgeval in die hemel”. Omroeper Danie Erasmus wat onlangs oorlede is, het my daarvan vertel. Die lied ter sprake was “A star falls from heaven”.

“Julle moet jul ore oopmaak, vreksels,” soos Johan van Wyk altyd in “Stop van Myne” vermaan het.

(hvd)

PARRASLAGTERS, POEIER EN POENSKOPPE

More uit Melkbos

By die ingang was ‘n kenteken soos ‘n gedraaide reuse-suigstokkie van rooi, blou en wit. Binne het die reuk van naskeermiddels en Dettol gehang. Die enorme stoele was van dik blink chroom of ornaat uit hout gekerf. Die bultende sitplekke was van egte leer. Van hulle kon draai, swaai en kantel soos ‘n hiper-moderne tandartsgevaarte.

Teen die mure was spieëls en Bryclreem-advertensies. Op ‘n verskeidenheid rakkies was ronde bottels gerangskik; gevul met ‘n melkerige wit vloeistof waarin ‘n verskeidenheid kamme, skêre en parraslagters pryk. Rondom was kwassies, poeier en ander parefarnalia.

In ‘n ry het kordate barbiere flink met hul skêre geknip-knip of met elektriese skeermesse zoei-zoei-zoei die hare laat waai. In party stoele was manne met die skeerseep wit om hul kiewe. Net ‘n paar vinnige hale van so ‘n parraslagter en die wange was blinkglad onder die elektriese lig.

“Finweek” van 23 Mei vertel van die “manneding” van daardie dae: om jou hare (of baard) by ‘n regte, egte mansbarbier te laat knip. Elke aand op 7de Laan op SABC 2 sien ons nog vlietend so ‘n plek, die Scala. Op Melkbos is ook nog so ‘n ouderwetse een. Maar hulle word relieke.

Deesdae is ‘n hareplek mos sommer ‘n deurmekaarbesigheid met in jou buurstoel dalk ‘n vrou met ‘n kop soos krismis-koekstruif. Maar ek weet nie eintlik veel van die nuwe harekultuur nie. Tokkie is my persoonlike barbier van dag een van ons huwelik af. Sy is ‘n veteraan van 46 jaar.

Voor haar het my studente- en later woonstelmaat Piet Theron gesorg dat Van Deventer se ramkat-kuif spoggerig vertoon en die nekhare nie oor die boordjie hang nie. Ek dink Piet het in die laat jare 50 ‘n halfkroon (25c) vir ‘n sny verdien. Piet Theron en Brylcreem – onoortreflike kombinasie. Hy is op sy oudag ‘n uithaler-boomsnoeier. Dit is geen verrassing nie.

Op Volkies het ene Hennie de Bruin, ‘n standerd agter my, sy sakgeld op skoolmaats se koppe verdien. Ek het hom my een keer in ‘n avontuurlike bui poenskop laat sny. My meisie het die Saterdagaand sigbaar gegril vir die onvleiende kontoere van die ontblote Van D-skedel.

Maar “Finweek” draai die horlosie vir my verder terug as selfs my dae op Volkies. Dit vat my na my pre-tienerjare, die jare 40 in Kimberley. Ma Baby sleep die onwillige Hennie al remmende na die haarkapper naby die stasie. Die man sit ‘n plank oor die leunings van sy stoel om my kop beter by te kom, en bind ‘n wit lap so groot soos ‘n halwe laken styf om my nek.

Vir ‘n sjieling en ‘n sikspens (15c) word jou boskasie gesnoei: borselkop of “short back en sides”. Die bruin hare val in slierte op die wit lap en van die lap weer op die grond waar ‘n gretige vakleerling met ‘n besem soos ‘n valk op elke nuwe vlagie toesak.

As die barbier klaar is, staan hy, klaarblyklik ingenome met sy handewerk, ‘n treetjie tru. Jy word ‘n vergulde spieëltjie in die hand gestop, jou nek gepoeier en ‘n suigstokkie aangebied – in voorkoms feitlik identies aan die paal by sy deur. Volgens party bronne is die suigstokkie-tradisie die oorsprong van die paal voor die winkel. Maar dit kan andersom ook wees.

Haarkappers was meesal besig. Soms moes jy geruime tyd jou beurt afwag. In die tydskrifte was gelukkig advertensies van al die begeerlike nuwe motormodelle van daardie tyd: Studebakers, Pontiacs, Oldsmobiles, Mercurys en Packards.

Uiteindelik was alles die moeite werd – ook die wag en die pynlike bloedblertsies hier en daar teen jou vel. Van jou klasmaats, arme goed, se hare is tuis gesny. Almal se ma’s was nie Tokkies nie. Party se koppe was bra happerig – in sulke trappies sodat dit gelyk het of mamma ‘n kommetjie daarop omgekeer en dan al om die rand gesny het. Dalk nog met ‘n stomp skêr. Eina.

Naskrif:
Net een keer was ek met Tokkie opstêrs oor my hare. Was al ná my aftrede hier op Melkbos. Ek wou die grys kroon korter, korter, korter hê. Sy het vasgeskop. Ek is vort na ‘n salon van ‘n vrou wat glo haar storie ken. Die spulletjie kos my R60 of meer. Toe ek met my ge-jelde, regop kuifie by die huis kom, het mev. Van D. vrolik gegiggel. Dit was die einde van daardie persoonlike UDI.
(hvd)

INK IN DIE ARE VIR ALTYD

More uit Melkbos

Die rolpers is in Bloemfontein in een gekonsolideerde koerantegebou. Die redaksie kan daardie magtige masjien hoor dreun as hy spoed optel. Die trillinge laat die ink in ‘n koerantman (of –vrou) se are bruis.

Vername besoekers is in my tyd dikwels getrakteer met ‘n besoek aan die rolpers – die ongetwyfelde hoogtepunt van hul kennismaking met die binnekamers van ‘n koerant. As die gevlegte papier so vinnig koerantbladsye word en ‘n oondvars uitgawe so klaar gevou uitgespoeg raak, is uitroepe van verwondering dikwels gehoor.

Vir die meeste was die omvang van alles ‘n verstommende ontdekking.

Vir ‘n redakteur is dit ‘n voorreg om sy koerant by die rolpers te gaan haal. Jy vou hom net daar en dan oop en jou oë gly oor die bladsye. Jou reaksie is meesal een van vervulling. Soms voel jy om moord te pleeg as jou oog op ‘n fout val, of as met ‘n groot storie misgevat is.

Hoe groter die nuus, des te meer die sensasie (en ek gebuik die oorwerkte, misbruikte woord doelbewus hier in ‘n breër sin as sommige lesers wat dit so met stywe lippe kan uitsis ). In my albums is hope foto’s wat daar langs die rolpers geneem is met HvD, koerant in die hand. Talle scoops lewe voort agter die sellofaanbladsye .

Ook loopbaanbakens: die eerste Volksblad in kleur, die eerste Volksblad as oggendkoerant, die eerste Saterdagponie …

Volksblad (nie meer Die Volksblad nie) se redakteur het nou nog die vooreg van die rolpers byderhand. Min ander redakteurs het. Sommige koerantfabrieke is ver-ver van die redaksies en die bestuur in nywerheidsgebiede versteek. Daardie redaksies mis baie.

My intense genot aan ‘n publikasie warm van die pers is lankal verby. In 1992 is ek al Kaap toe – afgesonder in ‘n kantoor op die 18de verdieping, darem met ‘n mooi uitsig op Tafelberg.

Onlangs het ek ná lang wik en weeg die redakteurskap van ons beskeie kerkblaadjie. Visnet, op my skouers geneem – ek weet hoe ‘n irritasie puntenerige professionele koerantmense vir leraars, kerkrade en medewerkers kan word.

Mag ek nou maar, ná die tweede uitgawe, verklap dat die bloed steeds tintel as “my koerant” by Melkbos se Postnet van sy drukpersie kom? Kan nie ophou van voor tot agter blaai nie (net 12 bladsye A5).

Die nuwe uitgawe word Sondag by die kerk se deure uitgedeel en kom a.s. week op die gemeente se webblad. Sy voorblad (en agterblad) is geheel gewy aan volkleur- dekking van ‘n ambisieuse blommefees in die Pase.

”Kerk blom in Pase,” berig Visnet op die voorblad – met boonop blommefeesberigte op bladsye 4, 5, 6 en 12 – en die nuus dat nog ‘n groter blommefees in 2014 op pad is.

Glo my: Elke storie in Visnet bied ‘n element van dieselfde satisfaksie wat ‘n goeie storie in die dagblad gebied het – oor die kerkklokke wat weer beier 30 jaar nadat bureklagtes dit stil laat word het; oor die avonture van lidmate; oor die netjiese nissies wat nog teen ‘n winskoop op te raap is, die kopie van ‘n leeftyd as’t ware.

Een van die emeritusleraars wat in ons wyke kom nesskop het, ds. Jan Venter, was die eerste kapelaan wat verlof gekry het om saam met die troepe valskerm te spring. Hy vertel by sy 80ste verjaardag van Kasspirs en kerkwees.

Die hoofouderling, Danie Malan, is self iemand met ‘n onblusbare avontuurgees. Hy het al ‘n statiese lynvalskermsprong van 3 000 m gedoen. Hy is lief vir “white water rafting” op die Zambezi. Die hoogste wat hy ge-abseil het, is 40 meter.

Die gemeente se baas-rangskikker, Elna Smit, verklap hoe sy kleintyd tot aller-ontsteltenis nie die versoeking kon weerstaan nie om ‘n koningsprotea te gaps.

Mev. Skoon Melkbos, Blanché de Kock (met goeie rede so genoem), onderneem op Visnet se versoek ‘n inspieksietog deur die dorp en op sy uitgestrekte strande.

Dis alles in Visnet, en heelwat meer. Kry hom, lees hom – so wil ek die gemeente aanpor. Om ‘n redakteur te wees – dis mos Lewe.
(hvd)