BRUID SE SINTUIG NO. 7

Uit Melkbos

VAN ‘n sesde sintuig hoor ‘n mens dikwels. Ek is seker van die bestaan van ‘n sewende. Dit kom eksklusief by moderne bruide voor. Ek praat van hul verstommende vermoë om huwelikbestemmings uit te snuffel wat perfek by hul persoonlikhede en drome vir hul Groot Dag pas.

Die uwe is 46 jaar gelede in die NG kerk Bultfontein getroud. Agterna was in die kerksaal ‘n ietsie te ete en te drinke en ‘n paar toesprakies. Studentemaats het die bruidegom onseremonieel geborsel. Met ons kinders 30, 35 jaar later was dit al ietwat van ‘n ander storie. Pa was nog hulpvaardig besig om ‘n trouplek te help soek, groot genoeg vir al sy vriende, toe het seun en skoondogter al ‘n intieme gasteplasie vasgeknoop. Dogter en skoonseun is weer na ‘n wynplaas 70 km van die ouerhuis.

Sedertdien het troues nog meer eksoties geraak, soos ons gereeld in Huisgenoot se uitvoerige huweliksdekkings sien. Glansmense hak die knoop deur op die strand, tussen wilde diere in ‘n reservaat, tussen wynvate, op bergspitse, onder die geritsel van blare in populierbosse en nog wat. Saterdag is die Van D’s diep die Weskus in agter so ‘n huwelik aan.

Google was nie van veel nut met die uitwerk van die beste roete nie. Elke keer as hierdie ou hoopvol die trouplek se naam intik, word net ‘n klomp nuttelose Australiese besonderhede uitgegooi. Maar met dese en gene se hulp en advies is ons op die R27 af, deur Vredenburg, verby St. Helenabaai, Bittaniabaai se kant toe. Ek sien toe sommer ook hoe lyk Lampiesbaai en Shelly Point.

Die huwelik vind plaas met die dreunende Atlantiese Oseaan as agtergrond, langs ‘n skilderagtige strandjie met tamaaie rotse. Die stralende bruidspaar sweef af strand toe tussen ‘n erewag deur van bruilofsgaste wat met kinderlike plesier die lug met seepborreltjies vul. Almal (buiten dié met heupe, rûe en knieë) is naderhand saam op die strand. Als in als ‘n “borrelende” okkasie.

Die bruid wat haar droomplek met sorg uitgesoek en alles haarfyn uitgewerk het, is die skone Helen Jansen van Rensburg (kyk die foto!), dogter van ons vriende Philip en Nancé Jansen van Rensburg van Sunset Beach, Blouberg (en mede-Sabieparkers). Helen is getroud met Nicholas Muirhead. Sy is ‘n raakvat-meisie. Met ‘n bruid se sintuig nommer sewe het sy ook raakgevat met haar keuse van trouplek – ondanks Google se onkunde. Die bruid en hierdie afgesonderde strandjie lyk of hulle vir mekaar bedoel is.

Sy kon sweer Helen het akkuraat bepaal hoe laat dit hoogwater sou wees, het Tokkie later opgemerk. Met die laaste troufoto op die rotse het die woelige branders al gevaarlik naby die stralende egpaar gebreek. Helen het sweerlik ook akkuraat vasgestel hoe laat die wondermooie sonsondergang sou aanbreek, meen ek. Hoe anders kon die die natuur so volmaak saamspeel om die program soos ‘n moderne feëverhaal te laat ontvou?

Geluk, Helen en Nicholas, van die bejaarde Oom Hennie en Tannie Tokkie (nie so bejaard nie!) van Melkbos. Onthou, voorkoms kan bedrieglik wees. Onder die spierwitte haredos is hierdie skynbare ou suurpruim se hart darem nog jonk genoeg om sulke onortodokse plesiere saam te geniet. En TvD? Nog uitgeknip vir ‘n kaalvoet-bruidjie iewers op ‘n stukkie wit sand, meen ek. Ek sien my vrou so in my verbeelding. (hvd)

‘N LEEU SE KOS

More uit Melkbos

Vir my vriende in die noorde: Die lekker spotprent in vanoggend se Burger oor ‘n leeutjie wat sy lippe aflek vir die Spur-spyskaart!

(hvd)

‘N MAN VIR O-DAG



FOTO EEN: ‘n Glasie op ons eerste ponie. Die span agter die poging: HvD, Herman le Roux, assistent-redakteur, Nols Nieman, hoofsubredakteur, en Chris Karsten (ja die skrywer), nuusredakteur.

Middag uit Melkbos

Niks wat jou so energiek in ou foto’s laat indolwe as die heengaan van mense met wie jy ‘n paar sakke sout saam opgeëet het nie. So ‘n mens is vanoggend oorlede: Nols Nieman, wat as hoofsubredakteur een van my regterhande by Die Volksblad (nou Volksblad) in die jare 80 was.

Ek het die kreatiewe Nols uit Port Elizabeth laat terughaal omdat ek uit alle oorde gehoor het hoe ‘n voorslag hy was. Die Volksblad het juis daardie tyd behoefte gehad aan ‘n kookwater-hoofsub (die man in die voorste linie wat die koerant aanmekaarsit). Ons had die beeld van “die vaal Boertjie” wat ek as nuwe redakteur vasbeslote was om af te skud.

Saam het ek en Nols in ‘n goue dekade heelparty goue dae gedeel: o.m. die eerste Volksblad in volkleur in 1983, die eerste Saterdagponie in 1985 en die grote, die eerste oggend-Volksblad op Maandag 4 Maart 1991…

FOTO 2: O-dag! HvD, Nols Nieman en Philip van Rensburg, nuusredakteur.

Laasgenoemde was ná ‘n aanloop van maande se beplanning en weke van reklame waarby Nols ook sterk betrokke was. Nadat sowat 40 000 lisensieplakkers, 5 000 sonpette, T-hemde, nuwe voertuig- en kafeeplakkers, 23 000 reklameplakkate, 83 radio-reklameflitse, berig op berig, foto op foto, banier op banier en advertensie op avertensie die voordele van ‘n oggendkoerant aan lesers uitgespel het, het D-dag – eintlik O-dag – aangebreek; uit die staanspoor ‘n uiters geslaagde sprong in die duister.

Aan die Van Deventer-Nieman-kombinasie dink ek ook in ander opsigte met welbehae. Ons het skouer aan skouer gewerk in vele groot en gedenkwaardige nuusgebeure wat spesiale hantering op die voorblad geverg het. Daardie era het o.m. opgelewer die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Vrystaatse vloedramp van 1988, die Westdene-busramp, die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

Al hierdie stories het hulle tot sterk aanbieding geleen. Die meeste van daardie voorblaaie het deur die meesterhand van Nols Nieman gegaan Hulle was treffers. Ek was tevrede dat Die Volksblad die beeldjie van “vaal Boertjie” vir goed afgeskud het.

Laat my erkentlik wees: Die vervanging van die rolpers met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë in 1983 was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor. Daarvoor durf ‘n redakteur nie eer opeis nie (hy het darem deeglik gekerm!). Maar die aanstelling van Nols het ook ‘n vername rol gespeel. Dit was my troefkaart.

Aanbieding het onder Nols vinnig ingrypend verander. Met enkele uitsonderings kon ons koerant gou op tipografiese gebied met die grotes saamgesels. Hy kon nuus hard slaan. Daarom dat ek hom vanoggend op Facebook beskryf het as DIE hoofsub van sy era. Geen kwessie daaroor nie.

Ek skryf verder: “Sy treffer-ontwerpe was passievol, sterk visueel en verbeeldingryk. Geen koerant was vir hom maar net nog ‘n uitgawe of sommer ‘n roetine-joppie nie. Elkeen was ‘n nuwe uitdaging wat hy met kenmerkende Nols-deeglikheid aangedurf het.

“Aansteeklik was sy entoesiasme en sy kinderlike opgewondenheid oor ‘n kloppie op die skouer – waarvan hy baie gekry het, geeneen onverdiend nie.

“Nols se lojaliteit was vir my persoonlik waardevol en ons (te ongereelde) kontak oor die laaste 20 jaar nadat ek uit Bloemfontein weg is, altyd verfrissend.

Nols was nog nie eens sestig nie, as ek reg onthou. Die Byl is die laaste ruk helaas erg bedrywig in ons bos. En daardie bos is vandag sommer heelwat kaler nadat hierdie boom in Bloemfontein gevel is.

(Naskrif: Philip van Rensburg wat nuusredakteur was met die oorskakeling na die oggendgleuf (foto 2), en sy vrou, Nance, se dogter Helen trou Saterdag op Brittaniabaai. Terwyl ek treur oor Nols, deel ek hierdie naweek ook in Philip – oud-kollega en al geruime tyd boonop Sabieparkmaat – se vreugde.)

(hvd)

‘N MA SE LIEFDE?

Aitsa! Painter en die uwe uitgevat in hul Harvard-baadjies – Melkbos, 1997

Middag uit Melkbos

Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Jy kry joernaliste en prokureurs van die alleredelste inbors. Ek was dan self ‘n joernalis!

Laat my egter maar erken: Jy kry wel siniese koerantmense – soos skelm prokureurs. Vra my na een wat in my oë as sinies kwalifiseer, duik die naam John Painter heel eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal. Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie.

Ek slyp nie byltjies nie. Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77. Hy het al vir my op Melkbos kom kuier en ‘n pad deur my rooiwyn gedrink. Hy het my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet.

Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) – het pas in Portland, Oregon, aan die Amerikaanse weskus, sy memoires te boek gestel. Die titel het my nogal laat glimlag – dis tipies van die man. Dis ook kos vir diegene wat graag die s-woord t.o.v. koerantmense inpan. Die titel is: If your mother says she loves you, check it out!

Ek dink ek weet wat hy bedoel: dat ‘n koerantman wat sy sout werd is, nie sommer alles vir soetkoek moet opeet nie. Maak dubbel, dubbel seker jy word nie om die bos gelei nie! Maar om juis moederliefde in hierdie konteks by te sleep, laat hom bepaald klink soos iemand wat vir sentiment en soetsappigheid geen tyd het nie. In daardie opsig is dit nogal onthullend en nie onjuis nie.

Ek het al voorheen John Painter in ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar vermeld. Wil vandag weer by die ou maaifoedie ‘n draai maak, en weet dat hy uit sy keel sou lag as hy sy maat van Melkbos se herinneringe sou kon lees en verstaan.

Painter is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken.Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel. Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het.

Hy het hard probeer om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Oregon moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!

In November het die eerste sneeu geval. Komende van Oregon was dit vir hom omtrent so vreemd as vir die Suid-Afrikaner. Vir my was dit ‘n vreemde nuwe wonderwêreld. Maar hy was altyd vies was as dit begin sneeu. Hy kon daardie “white shit”, soos hy dit disrespekvol genoem het, nie op sy kop verdra nie!

Ek en Tokkie is een aand saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die Bostonse akwarium vir ‘n onthaal. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na die opelug-robbepoel benede te ry. Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.

Hoe dit gekom het, kan ek nie meer onthou nie, maar hy het ons daardie aand vertel van ‘n belangrike lewensles wat hy by sy pa geleer het. Painter senior het vir Painter junior vermaan: Ek kan jou nie dwing om te doen wat ek vir jou sê nie. Ek kan jou egter baie spyt maak dat jy nie geluister het nie.

Twintig jaar later het hy hy my aan sy pa se woorde herinner toe juis tydens sy en Susan se besoek aan die Kaap die storm om Naspers-betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie losbars. Painter het my aangemoedig om vir die 127 jongeliede wat WVK toe is om hulle van apartheid los te maak, sy vader se vermaning te herhaal: Dat ek hulle spyt kan maak as hulle nie wil luister nie. Vir my verduidelikings oor hoe politiek sensitief die saak is, had hy min begrip. “Bullshit,” het hy my verweer afgemaak.

Hy het my ook die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” op die dissidente toe te slaan.

“Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie. Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.”

Snaaks, hoe meer ek van John onthou, des te minder verras sy boek se titel my!
(hvd)

MEEGEVOEL VAN MESHACK

Meshack, Johan en Novo, Johan se staffie, in die oprit van Van Schooorstraat, Bloemfontein.

Middag uit Melkbos

Seker die laaste boodskap van meegevoel met Ouma Marietjie van Wyk se dood het vanoggend per SMS opgedaag. Dit kom van Meshack, ons tuinman in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, tot ons verhuising Kaap toe aan die begin van die 90’s.

Meshack was geen gewone tuinman nie – eerder ‘n vriend wat in die tuin gewerk het. Hy is, by al sy ander kwaliteite van menswees, met ‘n vrolike humorsin geseën, nogal nie ‘n algemene kenmerk van tuinmanne nie. Ouma sou byvoorbeeld met haar loopraam in die motorpad af kruie. Meshack spuit dan met die tuinslang ‘n paar water-esse voor haar voete. “Wat maak jy nou?” “Ek bring net ‘n bietjie Ouma se spoed,” kom die antwoord blitsvinnig.

Hy was lief om mense byname te gee. Vir Ouma het hy Winnie Mandela genoem. Sy het protesteer vir ‘n vale.

Vanoggend laat weet hy: “Tokkie ek is baie hartseer oor ouma … Julle moet sterk wees. Ek verlang Johan en Marisa.” Laasgenoemde is ons kinders met wie Meshack ‘n hartlike verhouding gehad het.

Wat dalk sal opval, is sy gemoedelike aanspreekvorm: sommer net Tokkie. Sy was altyd “ou Tokkie”. Kenmerkend van hul onderlinge kommunikasie was dat hulle mekaar geroep het met ‘n uitgerekte: “Joe-hoe.” Amper 14 jaar gelede het ons Meshack gaan soek by die Sentrale Universiteit van Tegnologie waar hy later gaan werk het. Ons is na die Loubsersaal verwys, wat dolleeg was. Toe roep Tokkie: “Joe-hoeee!” Iewers van agter die verhoog kom die antwoord: “Joe-hoeee!”

Dit was ‘n bly weersiens daar in die Loubsersaal. Selfs ek – deur Meshack om klaarblyklike redes destyds Mike Schutte gedoop – was half aangedanerig.

Goeie ou Meshack. Oor hom en al sy dinge het ek in my blog van 21 Augustus 2011 uitvoerig vertel. Maar ek het gedink die SMS-ie van vanoggend is vermeldenswaardig. Gee ‘n mens hoop as ‘n verhouding tussen ‘n werkgewer en ‘n tuinman 20 jaar so gesond behoue bly.

Naskrif: Een van die oproepe wat ná Ouma se dood ontvang is, was van Helena Sullivan van Pretoria. Sy was sowat ‘n halfeeu gelede in Ouma se Sondagskoolklassie op Bultfontein. Ook nogal merkwaardig, reken ek.
(hvd)

UITEINDELIK MYNE!

Middag uit Melkbos

Een van die foto’s wat bo die koppenent van Ouma se sterfbed gehang het, is van my vrou in haar fleurige jeug. Dis ‘n foto met ‘n geskiedenis.

Tokkie was ‘n eerstejaartjie aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege toe sy haar hare by Maison Costa (Francis) laat “doen”, ‘n swart moulose nommertjie aangetrek en na die ateljee van die latere burgemeesterspaar Oom Christo en Tannie Freda Groenewald van Christo’s in Maitlandstraat afgesit het vir ‘n fotosessie.

Dit was haar eerste jaar uit die huis uit en die foto was bedoel as ‘n verjaardaggeskenk aan haar verlangende moeder op haar 50ste verjaardag op 7 April. Amper 50 jaar het dit bokant Ouma se bed gehang: eers in Hertzogstraat en toe in Louisehof, Bultfontein; daarna in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, toe in daardie volgorde in O’Kulisstraat, Welgemoed, Penguin Place, Melkbosstrand, .SeaPark, Melkbos, en Groeneweidetehuis, Darling.

Al die jare het ek daardie foto van my vrou begeer. Al is die haarstyl ietwat ouderwets, is daardie skitter-glimlaggie tydloos. Oom Christo en Tannie Freda was boonop kunstenaars met die verfkwas. Hul inkleurwerk is so realisties dat jy in die versoeking kom om jou hand uit te steek en aan die beeltnis van die bloedjong meisie te vat.

Van daardie foto het ek in 1964 ‘n klein weergawetjie gekry nadat my en Tokkie se paaie een aand op ‘n partytjie romanties gekruis het. Wat van die foto’tjie geword het, kan ek tot haar wrewel nie verklaar nie. My wrewel is weer omdat ek nou moet hoor sulke foto’tjies is nogal wyd uitgedeel – as’t ware soos visitekaartjies (haar woord). Sy het die proefblad vir daardie doel sorgvuldig met n skêr opgeknip.

Enkele dae gelede, ná Ouma se dood op amper 99, het die foto my eiendom geword. Dit is hier in my studeerkamer voor my. Dit is ‘n plek waar ek baie tyd deurbring en lank onbelemmerd vir my mooi vrou kan sit en kyk, opnuut dankbaar verwonderd dat ek al die ander kandidate se hande in die as kon slaan. Miskien was dit omdat ek op ‘n rype 25 ouer was, en dalk meer wêreldwys, as die jong boertjies wat skoolkyse was, en die ambisieuse aspirant-onderwysers in hul tweede- en derde jaar wat as nuwe vryers Viljoen-tehuis se stoep vol spore getrap het.

Ek skat ek had ook Ouma gou aan my kant met my entoesiasme vir haar heerlike frikkadelle en boerpampoen (wat ek aanvanklik as salige soetpatats aangesien het). Dit is steun wat deurslaggewend moet gewees het het in ‘n gemeenskappie wat die vreemde koerantmanvryer se attensies aan “hul” dogter met heelwat agterdog bejeën het, het ek later agtergekom.

Maar die foto: dit is nog in die oorspronklike sier-raampie van destyds – ene met twee ogies en ‘n stuk draad agter sodat dit van die prentelys in Hertzogstraat se huis kon hang. Tokkie beweer sy het die opsie van ‘n staanraam verwerp omdat daar nie eintlik staanplek vir ‘n foto in hul huisie was nie. Stem nie saam nie. Wat van op haar klavier?

Nietemin, gehang het dit gehang, en omdat ek ‘n man is met respekte vir die geskiedenis en so moet dit in daardie hangraampie bly … al moet ek dan ‘n baksteen agter staanmaak om my spesiale foto van my spesiale vrou op ‘n spesiale strategiese plek ‘n nuwe tuiste te gee.
(hvd)