‘N KOMIESE OPERA

HvD in borrelbad

Middag uit Melkbos

Sommer voor die vertrek van die vakansieskip die MSC Opera na Walvisbaai was in ons Melkbosgroep van 30-stuks ‘n konsternasie: Marten en Fimmie Grond se koffers is skoonveld. Die bussie moet al die pad met die Gronds deur die verkeer vleg terug huis toe om die raaisel op te klaar.

Bedink die verleentheid toe die twee “vermiste” koffers nog op dieselfde plek op die sitkamervloer staan waar hulle dit twee uur vantevore neergesit het. Dis die uwe se skuld, het Marten, ‘n ervare toerleier met al die papiere, later kans gesien om te verwyt. Ek het dan toegelaat dat die bussie te vroeg by my ry, en hulle toe oorhoops gevang. Mea culpa.

Bedink ook die eindelose spottery. Tot op die laaste dag wou iemand nog weet: “Marten, is jy seker jou koffers het nie in die kajuit agtergebly nie?” Al antwoord was so ‘n skewe, skamerige glimlaggie.

In twee konsternasies was die Van D’s die dramatis personae. Op die eerste dag klim ek in ‘n borrelbadjie op dek 11 (die Toscadek) saam met drie verbaasde knape, wat die ou gryse (amper sê ek met afgryse) op en af kyk.

“How old are you,” verneem een. “Seventy two,” antwoord ek eerlik. Sy oë versluier.

“How old are you?” “Seven.” “You have a long way to go.”

Nou het hy sy asem herwin. “You are older than my dad!”

“How old is your dad?” “Forty”.

“My children are forty.” “Your children are forty!!!”

Daarna is die ou oom geduldig touwysgemaak. “Hierdie kraantjie moet jy so draai, sien”. “Trap versigtig”. “Lekker né?”

Marten en Fimmie Grond

Konsternasie nommer twee is niks om oor te glimlag nie. Die enigste reaksie is ‘n klompie woorde wat in ordentlike geselskap bra selektief aangewend word. Ons raak naamlik op Walvisbaai besteel. Terwyl ons die flaminke op die strandmeer dophou, kry twee insittendes van ‘n wit Golfie raaiselagtig toegang tot ons Budget-Toyota.

Ons sien dadelik die bak staan oop. Op die agterste sitplek ontbreek Tokkie se handsak en my kamersak. Kredietkaarte moet gekanselleer word; by die polisie moet ek toustaan vir ‘n saaknommer … en die Opera wil vaar na die volgende bestemming: Luderitz.

Walvisbaai, o Walvisbaai! Iewers op daardie Namibiese dorp loop iemand met die Van D’s se ID-boeke, rybewyse, kredietkaarte, mediese fonds-kaart, AA-kaart, Clicks-kaart, P’nP-kaart, R3 000 kontant, lang lens, verkyker, donkerbril en Vodacom-stokkie in hul sakke. Op Melkbos moet ons skarrel met reddingsaksies aan vele fronte. Praat van flaminke met geplukte stertvere – ken ons nie daardie gevoel nie!

Of van ons groep by die volgende episodes betrokke was, twyfel ek darem, maar die “cruise director”, Derrick (‘n Suid-Afrikaner wat flink Afrikaans kan praat), vertel van sy eie konsternasie, veroorsaak deur war-vrae soos die volgende:

* Slaap die bemanning ook op die boot? (Nee, daar is ‘n pendeldiens per duikboot!)

* Wek die skip sy eie elektrisiteit op? (Nee, daar is kabels van die land af!)

* Word seewater in die toilette gebruik? (Weet nie. Proe jy, en kom lig my in, asseblief!)

* Is dit seewater in die swembaddens? Dan op die bevestigende antwoord: “O, dis hoekom dit so rof is!

* Hoe kom ek uit my kajuit uit? Dan op die klaarblyklike antwoord: “Maar hier is net twee deure – een na die badkamer en die ander een met ‘n ‘Do not disturb’-kaartjie op.

Hopelik darem net ‘n bietjie grapjastery met die landrotte? Of is sekere passasiers se IK’s werklik in omgekeerde verhouding tot hul aansienlike lyfmassas? (hvd)

ALMAL SE BEN

Middag uit Melkbos

Almal het Ben Smith as Ben geken. Sy seuns, Brent en Bryan, het hom Ben genoem. Sy skoondogter, Michelle, het hom Ben genoem. Sy geliefde kleinkinders, Teegan en Kyle, het hom Ben genoem. Die huishulp, Maggie, het hom Ben genoem. Letterlik almal het hom Ben genoem.

Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy was een van die gelukkige mense wat geensins gewyfel het nie: As hy weer sou kon kies, wou hy geen ander loopbaan hê nie.

Vrydagmiddag word Ben se roudiens in die St. Stithianskapel in Sandton (Kyle se skool) gehou. Hy wat sy lewe lank ‘n hartlyer was – rumatiekkoors gehad op skool, Boys’ High in Kimberley – is dood toe sy longe op 76 finaal ingegee het. Kleindogter Teegan, ‘n kampioen- redenaar, voer die woord. Ek glo sy sal haar oupa Ben in haar huldiging ook net Ben noem, soos altyd.

Of ek teenwoordig sal kan wees, is in hierdie stadium nog onseker. ‘n Bose klomp verwikkelinge speel op die besluit in. As dinge uitwerk, sal ek graag wou. Ben was nie net my neef nie, maar ná my pa, Seun, se dood in 1946 toe ek 5 was, meer ‘n soort ouboet. Ons het as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg op Kimberley se mynhope. Van toe af het ons paaie oor 67 jaar min of meer saamgeloop.

Op een van my en Tokkie se laaste besoeke aan Ben en Hannetjie in Kelland, Randburg, het Ben opgemerk dat ek en hy nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, hoewel ons sterk menings oor verskeie sake teenoor mekaar uitgespreek het. Ek vermoed ons het liewer soms diplomaties geswyg as om mekaar uit te lok!

Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil. Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.

Later het almal besadiger geraak. Ben het nie net in Sasbokringe groot respek verwerf nie, maar ook as mens in ‘n wye vriendekring. Almal het hom geëer as Ben die staatmaker; man met ‘n hart van goud en hande wat vir niks verkeerd staan nie, lewensbly, gasvry, mededeelsaam en opreg begaan oor sy naastes – ook intens betrokke by sy kinders en kleinkinders.

Ek en Tokkie was lief vir Ben. Ons is diep dankbaar oor alles wat Ben en Hannetjie – ‘n tuinmaker soos min wie se stukkie Eden in Kelland al op TV en in hoeveel tydskrifte was – oor die jare vir ons gedoen het. Het selfs hul huis ‘n maand lank vir ons (plus twee kleinerige kinders) oopgegooi toe ons in 1974 as vreemdelinge aan die Rand aangekom het. In hul harte was ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

Aan die einde van een kuiertjie het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Maar by daardie huis het jy verskeie dinge in oorvloed gekry. Teen die mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. (In Ben se kas was selfs ‘n oorvloed aan onderbroeke: 45 in drie netjiese rye. Dit was letterlik “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!)

Hy en Hannetjie het in Januarie 2011 vir oulaas ‘n week lank by ons gekuier. Toe ek hulle op die lughawe gaan aflaai, was ons nog nie uitgesels nie. Die foto is op ons stoep geneem – met sonsondergang. By Ben is my Tokkie en sy Hannetjie.

Ben het, tot my lewenslange dankbaarheid, op daardie besoek raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.

Ben het geglo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap later jare grootliks moes terugstaan vir die rekenaar, wat hy tot op die einde entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut het.

Nou is dit tyd vir tot siens, ou neef! ‘n Belangrike skakel met die verlede is uitgeruk. Maar jou einde het gekom soos jy dit gewens het: in jou slaap. Die lyding was genadiglik nie te lank uitgerek nie. Daaroor is ons dankbaar. Rus in vrede.

Naskrif: Oor name: Skoondogter Michelle kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword. Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd gehad het.
(hvd)

MESSELAARS EN MEDIA

More uit Melkbos

Die sluise van kritiek is weer teen koerante oop oor hul hantering van die Oscar Pistorius-sage. Sulke aanslae is niks nuut nie. In my tyd het ons ewe kwaai deurgeloop oor ons hantering van die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd. Ons sou dan “sensasie” daarvan maak.

Sensasie MAAK! Sonder dat ons ‘n vinger sou verroer, was dit klaar ‘n reuse-sensasie. Die grootste storie van my hele koerantloopbaan. Die Oscar Pistorius is ook geweldig. “Gigantic” noem ‘n Amerikaanse vriend dit. Dan voeg hy by: “I imagine it will continue full speed into the foreseeable future.”

Die ganse wêreld word meegesleur deur hierdie ontvouende Griekse tragedie. Miljoene woorde in die pers en oor die elektroniese media word elke dag oor die aardbol opgeslurp. As lewenslange joernalis het ek min twyfel dat dit die grootste moordstorie van die nuwe millennium is. Loshande. Dan kom uit talle oorde maar weer die ou-ou verwyt: “Nou oordryf die koerante darem te erg!”

’n Goeie vriend pak my gister, eergister oor die die “verskriklike” media. My antwoord: as jy ‘n koerant wil kwalik neem omdat hy nuus publiseer, moet jy ‘n messelaar kwalik neem omdat hy stene op mekaar sit. Of ‘n atleet omdat hy hardloop. Hy bly ‘n rukkie stil. Toe: “Dis seker waar.”

Gister was in Die Burger ‘n brief van ene Susan van Zyl van hier iewers in die Kaap oor koerante wat dan goedsmoeds onwaarhede sou publiseer sonder om hul inligting by “onafhanklike” bronne te kontroleer. My antwoord verskyn vanoggend in Die Burger. Hier is dit volledig:

Twee mense woon ‘n leeftyd onder een dak. Dieselfde stel feite sien hulle meermale nie deur dieselfde bril nie. Huishoudelike verskille oor vertolkings kan heftig raak. Drie ooggetuies sien ‘n motorongeluk by ‘n kruising gebeur. Die resultaat: drie weergawes wat op kernpunte wyd uiteenloop.

Inge Lotz is op 16 Maart 2005 vermoor. Ná sewe jaar (amper agt – HvD) al heers nog ‘n warboel van vrae, teorieë, bewerings en weersprekings. Oor bloedmin van die saak bestaan absolute sekerheid. Vra maar vir “Piet Byl” wat intensief daarin grawe.

Susan van Zyl se versugting oor koerante en die waarheid (DB, 18 Februarie) is verstaanbaar en in beginsel natuurlik reg. Ongelukkig leef ons nie in ‘n ideale wêreld nie. Alle is helaas nie in wit en swart glashelder gedefiniëer nie. En grys kom in 50 of meer skakerings, word beweer.

Ons media vaar goed, meen ek, om in die opspraakwekkende Oscar Pistorius-sage hul lesers en kykers oor kritieke elemente ingelig te hou. Hulle doen hul plig teenoor die gemeenskap. Ten minste is ‘n bose spul uit die lug gegrypte bespiegelinge op die sosiale media en elders al deeglik die nek ingeslaan.

Wat sou Susan van Zyl se advies aan die media wees in ‘n geval soos Inge Lotz (en Oscar Pretorius)? Moet hulle in alle tale bly swyg, selfs sewe jaar bly swyg, omdat soveel aspekte nie by enige “onafhanklike bron of twee” bo ALLE twyfel bevestig kan word nie? Hoe kom ons dan ooit by die volle waarheid uit?

My kernvraag is: Wat wil die mense hê: Wil hulle liewer oningelig, met oogklappe aan, lewe, salig ongesteurd deur wat rondom hulle gebeur, of wil hulle weet wat om hulle aangaan, al is die boodskappers dan nie altyd volmaak nie?
(hvd)

AHOOI, WALVISBAAI!

More uit Melkbos

Oormore, Donderdag 21 Februarie, bestyg ‘n dertigstuks Melkbossers en vriende die goeie skip Opera van die MSC-redery vir ‘n vyfdaevaart na Walvisbaai en Luderitz. Ons koffertjies word met vakansieklere geplak, ons paspoorte uit die laai gediep en ons bankrekenings met trepidasie beloer. Aan boord betaal ons (vir ons wyn en dinge) in dollars.

In die groep is:

Studentemaat Pierre le Roux (en Esther) van Mosselbaai. Ek en Pierre ken mekaar as Tukkies sedert 1959. In 1962 was die uwe huisvoorsitter en Pierre adjudant. Ons vriendskap van oor die 50 jaar is vir albei steeds net ‘n vreugde (hoop ek).

Kollega en woonstelmaat Ben van Rensburg (en Rina) van Stellenboch. Ek en Ben was in 1964 saam by Die Volksblad en saam in La Gratitude, Unielaan, teen Naval Hill. Toe ek en Tokkie verloof raak op 15 Maart 1965 het Ben foto’s geneem. My vrou lyk daarop nes Jackie Kennedy (net mooier).

Probusmaats (sosiale klub vir afgetredenes op Melkbos en Blouberg):

Flip Nel (en Linda), spitsvondige dokter-politikus wat ek al uit my Vrystaatdae goed ken. Ek het vir Colin se Kallers krieket gespeel (Bloemfontein); hy vir Bill se Bulle (Welkom). Die Kallers was beslis die beste span, al het ons soms verloor.

Thys Slabber (en Marieta), wellewende Swartlandboer, wat graag boeke present gee. My kosbare M.M. (Thys) Walters-versamelinkie kom van Thys. Hulle is familie. Ons Thys se vetplantjietuin op Melkbos (koekemakrankas, ens) is ‘n lus vir die oog.

Lukas Theron (en Rina), wat in Bloemfontein’n motorbaas was en ‘n Golfie geborg het as eerste prys in Die Volksblad se Matrieknooiwedstryd. Raakvat Rina reël die dingetjies vir ons. As Rina reël, loop dinge reg. (Vriende van Lukas en Rina, Ansie en Thinus, vaar saam – sien uit om julle te ontmoet.)

Koos Myburgh (en Ralda), joviale wynman van die agter-Paarl. Wens ek kon van sy voortreflike Perdeberg-wyne (Soft Smooth Red en Chenin Blanc) inpak. Ongelukkig ‘n doodsonde om jou eie drank op die skip te bring.

Marten Grond (en Fimmie), oud-Frieslander en –burgemeester van Midrand. Ry die wêreld vol met sy ryhuis. Lees van die Gronds se Kroasië-avontuur in Desember se Wegsleep. Voëlkyker en boommkenner. Was ‘n toergids en ken die land soos sy palm.

Frans Ellis (en Lourette), eiendomsghoeroe van Melkbos. Hierdie egpaar woel met hul gastehuis en verhurings. Pas op, hulle verhuur in Desember jou huis onder jou sitvlak uit. Lief vir al wat ‘n konsert is. Weet waar om hulle op die Opera te gaan soek.

Jacko Maree (en Jeanette Bartlett), oud-politikus, “taalbul” van die Universiteit Stellenbosch en kenner van die WVK. Op 75 het hy vir hom ‘n Honda Gold Wing aangeskaf en ‘n soloreis van oor die 4 000 km aangedurf. Jacko die jintelman, noem die meisies hom – nie sonder goeie rede nie.

Rip Riphagen (en Corine), nocht een Nederlander; drankhandelaar, koskenner en ewe lief vir die Bosveld as die uwe. Fynproewers, hierdie twee. Hoop maar die sjefs van die Opera is oorgehaal om hul beste voete voor te sit.

Kobus Victor (en Cecile), my kubervriend wat ook in lewende lywe vriend geword het. Oud-leraar en –uitgewer van Christelike lektuur. Sterkte. Kobus, met die verantwoordelikheid om ons lot vyf dae op die spoor te hou.

Mede-Melkbossers:

Du Toit Hamman (en Annette), ook ryhuismense. Staatmakers vir Probusvriend Hennie Jonker wat op die oomblik weer in die hospitaal is. Ervare bootresigers wat al oral se waters beproef het. Hulle ken al die slaggate.

Annette Dippenaar en Josephine Loubscher, grasweduwee en weduwee – voorslagvroue by kospotte, naaimasjiene en wat nog. Sal maar by hul kajuit gaan hulp soek met praktiese probleempies (af knope en dies meer) as Tokkie nie beskikbaar sou wees nie. Maar hoekom sal sy nie wees nie? Ons is saam in kajuit 8195 op die La Traviatadek.

La Traviata? Brindisi (die drinklied uit La T) klink skielik na ‘n goeie temalied.

Naskrif: Hoor ‘n voëltjie fluit Elindi van Rensburg is op die boot. Die mooie meisiekind was ‘n buurdogter in Bloemfontein. Slim ook … swot nagraads op Stellenboch. – al Ph. D of so. Oom Hennie sal ‘n ogie hou, indien moontlik.
(hvd)

APIE MY SKAPIE

Apie uit die nes

Middag uit Melkbos

As dit waar is dat klein goedjies mense met min grysstof amuseer, is die wisseling van boodskappe hieronder op Facebook en per SMS seker verdoemend vir die betrokkenes. As dit aan die ander kant waar is dat deernis vir alle diere (en diertjies) ‘n goeie inbors openbaar, deel ek dit met vreugde mee.

Die storie vertel homself, en word afgeskop met ‘n mededeling van Caroline Pols-Dykstra van Nederland (op die oomblik met vakansie by hul huis in Gwarrieboslaan, Sabiepark) Saterdagmiddag om 16:03 oor ‘n teenspoedjie daar :

”Weer ‘n nagapie uit die nes geval. Hoop hy gaan oorleef! Ma het hom nog nie kom haal nie. ”

Daarna verloop die kommunikasie soos volg:

16:12 – Hennie van Deventer: Hou hom maar warm onder ‘n kombersie op ‘n sagte kussing. Ma sal hom kom haal sodra dit donker is.

416:38 – Caroline Pols-Dijkstra: Het vir hom suikerwater gegee, sal hom nou gaan toemaak en duimvashou.

16: 44 – Hennie Van Deventer: Enetjie – omtrent ewe groot – het by ons nie die val oorleef nie. Ma het nie betyds gekom nie. Die ander is almal deur mamma opgepik en verwyder.

16: 44- Caroline Pols-Dijkstra: Ma het gekyk, en verder geslaap. Sal jou op hoogte hou.

16:46 – Mariza van Deventer (skkoondogter van George): Ek onthou in 1998 tydens ons 1ste Sabieparkvakansie het enetjie ook uit die dak geval. Ek en ma Tokkie het 19:00 die aand gejaag vir hulp. Ons het gedink dis ‘n krisis! Nou weet ons…wag maar en kyk!

18:29:- Caroline Pols-Dijkstra: Op advies van Hennie Van Deventer het ek hom toegemaak onder n lappie. Ek het seker gemaak Ma weet waar hy is deur piesangs voor die apie neer te sit. Piesangs en nagapie is weg.

20:01 – Caroline Pols-Dykstra per SMS: Ma het baba kom haal.

20:02 – Hennie van Deventer per SMS: Verligting allerweë.

20:09 – Caroline-Pols Dykstra per SMS: Ja, het piesangs langs hom gelê. Gedink dit sal Ma lok. Lekker reëntjie hier nou.

Die gordyn sak. (hvd)

KUMBAYA, KUMBAYA

Tokkie by Ukuthula – 1997.

More uit Melkbos

Nuwe vriende in Sabiepark wil hul huis van Nonnetjiesbos (baie uile in sy dakbalke) herdoop tot Peet-rus. Die naam van die nuwe eienaar en die vooruitsig op salig agteroor sit, word daarin gekombineer.

Maar dat Peet tot dusver hoegenaamd rus gekry het, betwyfel ek sterk. Hulle woel. Hulle woel, daardie twee Bloemfonteiners. Noem die plek liewer Immer Timmer, het ek by hulle aanbeveel. Dis ‘n naam wat ek dekades gelede op Buffelsbaai gesien het – ‘n plek met oulike, oorspronklike name. Het ook gehou van Moeg Geploeg.

Om eerlik te wees, sal ek egter nie ‘n vakansiehuis Immer Timmer kan noem nie. Ook nie Moeg Geploeg nie. In die Van Deventerhuis doen Tokkie die timmerwerk. Sy timmer immer. Al ploeg in my lewe was Volkskas se ou logo.

Sal my plek wel Kelkiewyn kan noem – soos vriende van Kleinmond. Genotvol om met ‘n kelkie wyn in die hand die kelkiewyne dop te hou wat met hul lang puntige sterte in die gras skarrel.

Toe ek moes naam kies vir my vakansieplek in Sabiepark het ek Tarlehoet gekies – ietwat raaiselagtig, toegegee, maar ‘n naam uit die Van Deventer-geskiedenis. Dit kom eintlik via die naam van ons huis van langer as ‘n dekade op die hoek van Van Schoor – en Kmdt. Senekalstrate in Bloemfontein, wat dit weer gekry het van ‘n Boesmantjie in een van Elizabeth Vermeulen se verhale oor die Noordweste.

Dis ‘n lang storie. Vir ons beteken dit sommer kortweg: ‘n Plek waar ons lank en gelukkig gewoon het. Ons het die mooi Sjangaanse naam Ukuthula (Vrede van Binne) afgehaal om Tarlehoet op te sit. As ek weer ‘n naam vir ‘n plek sou moes oorweeg, sou ek Ukuthula in die hoed sit.

Baie bepaald in daardie hoed sal wees Kumbaya of Kumbayah, ‘n Kreoolse spirituele lied* wat die Goeie Vader nooi: “Come by here, my Lord” – “Kom hierlangs”. Ons het dit op ‘n CD, soos uitgevoer deur Placido Domingo en Vriende. Hemelse musiek.

Sou graag as ek by my kampvuurtjie sit, wil sit en neurie: Kumbaya, my Lord, Kumbaya. “Here, U is hier, ek voel dit. Kom asseblief, altyd weer.”

Ek sou ook met die naam vir my vriende.wil nooi: Kom hierlangs. Kom in. Kom geniet ‘n kelkie wyn!

Op Buffelsbaai is (was) ‘n huis met ‘n naam wat presies die teenpool is: Hou Verby! Kon dit nooit verstaan nie. Is daardie mense dan kluisenaars? Nee, duisend maal nee vir sulke afsydigheid. Liewer Kumbaya vir my – op geestelike vlak bepaald, maar ook wat lekker geselskap betref.

* Ek weet ek vat hier kortpad en dat oor die regte oorsprong nogal omstredenheid heers. Dat die naam Kumbaya uit die een of ander Kreoolse dialek kom, staan egter, wat my betref, vas. (hvd)