MOOISTE STILLE NAG

More uit Melkbos

Die tradisionele Stille Nag bly as geliefde Kerslied in mense se harte bo al die ander uitttroon.

Wat sou die heel mooiste opname wees van dié innige lied oor die Kersverhaal? Onmoontlike vraag. Ek sou egter geneig wees om in Duitsland te begin soek. Die Duitse Stille Nacht het net ‘n bekoring wat in ander tale moeilik geëwenaar sal word.

Op my en Tokkie se private Kerskompilasie (hierbo afgebeeld) het ons ‘n opname deur die Bielefelder Kinderchor gekies. Die manjifieke Stille Nacht van Placido Domingo, Diana Ross en José Carreras by ‘n Weense Kerskonsert in die jare 90 het ook sterk aan die deur geklop.

Kinderkore het egter ‘n spesiale, engelagtige kwaliteit – dit was die deurslaggewende oorweging. Suid-Afrikaanse kinderkore soos Tygerberg, Bloemfontein, Pretoria en ander laat Stille Nag ook buitengewoon soet opklink. Natuurlik hou ons ook geweldig baie van die opnames van verskeie volwasse kore – te talryk om op te noem.

Instrumentale opnames waarna ek weer en weer kan luister, sluit in een deur die SAUK-orkes (‘n ateljee-opname in 1973 o.l.v. die legendariese Edgar Cree) en een op die klavier deur Phil Coulter.

‘n Treffende eksotiese opname is deur Ivan Rebroff van Stille Nacht in Russies. Die Steppe bewe!

In Engels is die Silent Night van die Amerikaner met die forse stem Carl Smith – een van ‘n uitsoekgroep Amerikaners met onvergeetlike mansstemme – ‘n gunsteling. ‘n Verskeidenheid kunstenaars sing Silent Night elegant en met grasie, o.a. Julie Andrews, Les Paul en Mary Ford en … ja werklik … Susan Boyle. Klink of die dame se hart in haar sang is.

In Afrikaans kan ons eie Mimi Coertse maar vrymoedig nader staan met haar gevoelvolle Stille Nag. Ongelukkig sorg ons moedertaal ook, vir my oor, vir een van die on-mooier vertolkings. Die Drie van die Bestes, Danie Niehaus, Kevin Leo en Mathys Roets, voer amper hul hele ander repertoire bevredigender uit as hul stokkerige Stille Nag.

Jammer oor die kritiese openhartigheid. Kom ons vergeet maar daarvan, sluit die oë en dink aan ‘n Stille Nag waarvoor u besonder lief is. Luister in u gedagtes met oorgawe.

Ontvang dan saam met u eie keuse van Stille Nag my en Tokkie se innige Kerswense – in die hoop dat die wonder van Kersfees met die aangrypende boodskap van vrede op aarde die wêreld opnuut sal aangryp.

Tot siens vir eers. More vertrek ons op die eerste skof van die somervakansie van 2012. (hvd)

TWEEDE IN DIE 880

More uit Melkbos

Jy kry atlete en ATLETE. Ek was een van eersgenoemde. Kort loopbaan. Relatief onskouspelagtig. My swaer Fanie van Wyk was een van laasgenoemde. Victor Ludorum. SA kampioen.

Wel, ek het darem in matriek ‘n Wes-Transvaalfrokkie verwerf – W33 was ek. Op die foto’s bo pronk ek daarmee vir my kamermaat, Wiekie Moolman, se kamera agter die Jack Pauwkoshuis by Volkies op Potchefstroom.

Daaraan is ‘n storietjie verbonde waarvan ek pas, 55 jaar later, die laaste hoofstuk kon skryf. Daarmee het afsluiting as ‘t ware vir my gekom.

Die katalisator was Sabiepark. Maar wag, ek loop die storie vooruit ….

Kom ons begin by Volkies se kleuresport in 1957. HvD is in matriek maar onder 16, omdat hy op 3 Januarie 16 was. Hy wen die 150 tree … en verrassend ook die gewigstoot in sy heel eerste poging met die ysterbal. Hy kom tweede in die 100 tree, 220 en 880. Die wenner in elke geval is Fido Barnard, volgende jaar se hoofseun.

Destydse gebruik was dat die eerste twee in elke nommer deurgaan na die interhoër teen o.m. Gimmies, Klerksdorp Hoër en so aan. Gewoonlik ook Ventersdorp, maar weens die polio-epidemie op ons buurdorp was die skool in 1957 afwesig.

Elke atleet mag net aan vier nommers deelneem. Fido se koker is te vol, en hy los die 880 vir my ern Charles Austin wat by Volkies derde gekom het. In die pylvak met die lint vlakvoor my hoor ek doef-doef-doef. Dis Charles, latere speurder, wat my inhaal en net-net klop. Ook in die gewigstoot kom ek tweede – afstand 39 voet 10,5 duim (foto). Die interbond op Krugersdorp wink dus in twee nommers. My hemp hou skaars die bultende bors binne.

Ventersdorp hou intussen sy skoolbyeenkoms. Ene Ten Cate wen die 880 vir seuns onder 16 in ‘n beter tyd as myne. Toe die span gefinaliseer word, is Ten Cate in vir die 880 en ek uit. My beste nommer – ek kon huil!

In die gewigstoot vertoon ek op Krugersdorp bra floutjies – wat nie onverwags is nie. Ek stoot net ná ‘n bul van ‘n seun met die vreemde van Essakov. Hy het later ‘n SA spiesgooikampioen geword. Kon, wat my betref, ook ‘n SA gewigstootkampioen geword het.

Oor hoe Ten Cate van Ventersdorp en my mede-Volkie-Charles Austin in die 880 gevaar het, het ek geen benul nie. Elke keer as ek Charles se naam in die koerant sien by die een of ander groot saak wat hy ondersoek, het ek egter aan daardie 880 gedink.

Die Ten Cates was ‘n bekende familie op Ventersdorp, het ek geweet. Presies wie die Ten Cate was wat ten koste van my vir die 880 gekies is, het ek tot gister nie geweet nie.

Toe lees ek op Facebook ‘n inskrywing van ene Elsabe ten Cate uit Sabiepark. Twee en twee maak vier. Ek soek daai ander Ten Cate, laat weet ek vir haar, kan jy help?

Sy kon inderdaad. Hy was haar oom: Andries Petrus (Dries) ten Cate, jonger broer van haar pa, Sjoerd, wat twee jaar tevore, in 1956 in matriek was.

Elsabe-hulle vertrek huis toe net voor die Van Deventers se aankoms in Sabiepark. Ons Wes-Transvalers sou kon saamkuier.

Ongelukkig sal ek Dries nooit kan daag vir ‘n beslissende 80 meter in Sabiepark se piekniekplek nie (880 op my jare, vergeet dit!). My Nemesis uit Ventersdorp is twee jaar gelede aan kanker oorlede.
(hvd)

LewensLANK EN LANGER

More uit Melkbos

Lewenslank, noem Henri van Biljon van Melkbos daardie paar slanke bene op die foto hierbo.

Die foto is 50 jaar gelede deur ‘n Durbanse strandfotograaf geneem. Die paartjie was op hul wittebroodsvakansie. Hulle is op 15 Desember 1962 getroud – gister presies 50 jaar gelede.

Dis ‘n huwelik wat al net so lank duur soos wat daardie twee lewenslange (of langer) bene is.

Dis juis op ‘n viering van die egpaar se goue bruilof gistermiddag dat hierdie foto uitgedolwe is, by al die gaste in hul mooi huis op Melkbos die ronde gedoen het, deeglik bestudeer is en allerlei bewonderende kommentare en vrae uitgelok het. Kommentare soos dié van Henri hierbo en vrae soos of sy ‘n hoogspringer was.

Wel, sy was, hoor. Vir Maties aan die Dalrymple deelgeneem. Afrigter: die Springbok-atleet Len Holdstock.

Gee julle ‘n raaiskoot wie die paartjie is. Hul vriende sal dalk veral vir Mercia Kroese van Living Sea herken. Eggenoot Jutie het, as ek die uitdrukking verskoon sal word, ongetwyfeld meer myle opgesit. Bankbestuurders kry dit soms maar hotagter!

Die onderste, meer resente foto bewys dat my opmerking geen mala fides jeens Jutie bevat nie.

Maar kierie ofte nie, gister was Jutie weer die flinke bruidegom. Toe Mendelssohn se Troumars uit die CD-speler opklink, het hy sy bruid kordaat nadergetrek en by haar ingehaak – soos hulle destyds ná die huwelikseremonie op die kerktrappies die eerste keer as mnr. en mev. Kroese verskyn het.

Goue bruilofte produseer nostalgie soos min ander dinge. Dit produseer ook enorme dankbaarheid vir ‘n lang pad wat, met die onvermydelike hikkies hier en daar, tog voorspoedig en gelukkig verloop het. Soos in die geval van Jutie en Mercia.

Saam by die intieme viering was onder andere hul kinders, Marcel (eggenote: Annamarie) en Sarina, (eggenoot: Pablo, ‘n Argentyn) en tweeling-kleinkinders, die oulike tienerdogters van Marcel en Annamarie, Nicola en Anette. Marcel-hulle het spesiaal uit die Seychelles gekom.

Marcel en “kleinsus” Sarina het in netjiese toesprakies – net genoeg humor, net genoeg sentiment – mooi oor hul ouers en hul gelukkige ouerhuis gepraat. Marcel het ‘n heildronk ingestel. Anette het, namens die tweeling, haar oupa en ouma die lof toegeswaai dat niemand skaapstertjies soos hulle kan gaarmaak nie.

Snaaks hoe gesprekke aan tafel by sulke geleenthede op die gaste se eie paaie terugdwaal. Jy dink terug aan hoe warm dit op jou troudag was, aan jou wittebroodshotel (wat intussen ‘n derderangse losieshuis geword het), aan die foto’s van jou wittebroodsdae, ens. (Die “ens” behels natuurlik ook aspekte wat ‘n ordentlike mens uit beskroomdheid liefs nie uitlap nie.)

Mercia onthou toe dat hulle ‘n kamera moes leen – die eie beursie was maar dun. Aan die einde van die wittebrood val die geleende kamera toe van ‘n pont in die rivier. Weg is al hul foto’s – buiten daardie een deur die strandfotograaf. Dat dit behoue gebly het, is stof tot dankbaarheid – en rede vir nuwe respek vir Jutie dat hy ‘n nooi van daardie stoffasie kon inpalm. (hvd)

MET MIDDERNAG ….

More uit Melkbos

Seker hoofsaaklik maar net op die platteland dat die tradisie van die middernagdiens op Oujaarsdag plek-plek voortleef. Met die beierende kerkklokke wat die nuwe jaar vol verwagting aankondig. Meeste gemeentes trek mos deesdae teen sewe-uur saam: gerieflik vir mense wat wil gaan “paartie” hou.

Sou die gebruik iewers nog bestaan dat die name van elke sterfgeval in die jaar by ‘n middernagdiens somber van die kansel genoem word? Dan kom die hartseer naastes in hul banke orent in bewoë oomblikke van tedere herinnering. Ek dink daaraan toe ons gister op Melkbos uit die kerk stap ná die gedenkdiens vir Anneline Jacobs wie se mooi begrafnisbrief (ontwerp deur die kunstige Hildegard Martin) hierbo afgebeeld word.

In ons ou gemeenskappie sou daardie lys vanjaar lank raak. Die Bybelse woord oor “70 jaar en as jy baie sterk is 80” voel ons terdeë aan ons lyf. As ek effens verder terugdink – Tokkie berispe my daaroor – dwing ek om op my vingers die sterftes sedert my 70ste verjaardag-ontbyt twee jaar gelede te tel. Anneline is die vyfde vrou wat daar was, wat nou langboompies toe is. Van die mans is “net” twee heen. Maar sewe vriende in twee jaar – dis ‘n klomp.

Weer Tokkie aan die woord: “Onthou dit was jou 70ste, nie jou 40ste nie!” Geen kommentaar.

Maar laat ek nie te somber raak so aan die vooraand van die Oujaar nie. Vir ‘n balanserende glimlag hier weer ‘n Oujaarstorie wat ek o.m. in “Praat-praat in Tamatiestraat” vertel – van ou Murphy se bydrae tot ‘n nagmaalsdiens in ‘n Kaapse NG gemeente enkele jare gelede.

Murphy van Murphy se Wet, natuurlik. ‘n Wet wat al baie lank die ou mensdom beteister. Rondom 1870 het die volgende versie in ’n Amerikaanse koerant in die deelstaat Ohio verskyn: I never had a slice of bread/ particularly large and wide/ that did not fall upon the floor/ and always on the buttered side.

As ’n sny brood val, val dit altyd op die gesmeerde kant –skitterend. In daardie gemeente het die brood nie op die gesmeerde kant geval nie. Brood, watter brood? Die broodlose nagmaaltafel was as ‘t ware gedek vir ’n beduidende dilemma.

Die moedswillige Murphy het uit die staanspoor geknor. Die koster was met verlof. Die leraar moes instaan. Dié vergeet die kerk se sleutels by die huis, en die pastoriemoeder kom lewer dit met skreeuende bande af.

Krisis nommer twee is dat die orrelis ook weens onvoorsiene omstandighede afwesig is. Die herder cum koster moet moue oprol. Hy sing toe ’n solo, want die musiek en woorde het nie op die skerm verskyn nie.

Krisis nommer drie is veral uitdagend. Toe die nagmaaltafel se net sorgvuldig opgevou word, kom die ontdekking: o jittetjie, waar is die brood? Die beteuterde leraar het amper gepleit: “Kan ons maar so sonder brood voortgaan?” “Nee,” skud nege nagmaalgangers heftig die kop; nie sonder brood nie.

“Cometh the hour cometh the man.” ’n Ouderling vloog weg na die Engen-vulstasie om die nodige te gaan koop, terwyl die gemeente sing en die Here prys. Murphy reis saam . By die vulstasie word die gesant die ge¬tuie van ’n diefstal. Dit verg tyd en oorredingsvermoë om hom weens van die misdaadtoneel los te skeur.

Hy daag swetend by die kerk op met ’n plastieksak in die hand. Die waardige geleentheid kan volgens die formulier voortgaan. Maar wat kom uit die konsistorie? Nie brokkies nagmaalbrood nie; net een bord met hompe “chelsea buns”. Die gemeente moes maar dié taai brood moedig inwurg terwyl hulle in wroegende stilte verlang na ’n ekstra slukkie wyn….
(hvd)

ONTDEK HIERDIE JUWEEL!

Die bestemming in die Waterfront. Ouma en die kleinseuns by die One and Only-hotel

More uit Melkbos

Kaapstad se “watertaxi” is steeds die Moederstad se blinkste onontdekte juweel.

Drie keer is die Van Deventers nou al op die kanaal op en af tussen die Konferensiesentrum en die Waterfront. Twee keer was dit net ons op die hele boot. Die derde keer was ons enigste geselskap ‘n jongerige Europese egpaar, wat aaneen bly foto’s neem het. Hulle het sommer op die boot gebly vir die terugreis.

Vir R30 vir volwassenes (dan kan jy na hartelus heen en weer vaar) bied die watertaxi vir die toeris pragtige uitsigte op die weelderige troshuise van die rykes langs die kanaal – met selfs ‘n luukse-seiljag of drie – op die berg en op Kaapstad se stadsprofiel. Die bestemming in die Waterfront is Sol Kerzner se sesster-hotel, die One and Only.

Die tweeling Jacob en Thomas geniet hulle gate uit op die kanaalboot

Daardie kennismaking met superweelde maak amper al die uitstappie die moeite werd. Jy is dan ook sommer by die akwarium en die “Grootwiel”, wat ‘n volgende vreugdevolle ervaring bied – veral as jy opgewonde kinders of kleinkinders by jou het. Om daardie indrukwekkende staalstruktuur te bestyg en hoog bokant die hawe te swaai – die bergvistas is veral asemrowend – is duurder. Ek glo egter: Dis geld goed bestee.

‘n GROOT uitstappie, meen Christopher

Dalk is die boot ander tye voller, maar hierdie ou, gewoond aan lewenslank begrotings dophou, vrees wat kan gebeur as die somme nie wil uitwerk nie. Sonder sy kanaalvaarte gaan Kaapstad ‘n armer stad wees. Moenie dat dit gebeur nie, mense!

‘n Derde element van ‘n lank afgewagte uitstappie saam met die kleinkinders Jacob (8), Thomas (8) en Christopher (3) Claassens was ‘n halfuur-hawevaart op die Lady J. Vaarte om te kus en te keur word gebied. Ons het nie huiswerk gedoen nie; sommer die eerste die beste gevat. Daarmee sou ons dalk beter kon gevaar het.

Maar glo my, vir ‘n lekker oggend is die programmetjie wat ek en Tokkie uitgewerk het, eersteklas verby – sesster, soos Sol se hotel. Die kinders wat ‘n “klein uitstappie” beloof is, was uit hul vel. “Dis ‘n GROOT uitstappie,” het Christopher sy boeties agterna gesê.

Amper vergeet ek dat die eerste skof van die reis deur Tokkie en die seuns per MyCitibus van Table View af aangedurf is. Dit was deel van die avontuur. Oupa is met die Honda agterna (om logistiese redes). Het die bus net-net geklop tot by die Burgersentrum. Tokkie beveel ook die busrit sterk aan vir mense wat Kaapstad beter wil leer ken – en dit sluit Kapenaars in wat geneig is om vir sulke aardse plesiertjies neus op trek. (hvd)

MOOI, MOOIER, MOOISTE

More uit Melkbos

Oor begrippe soos mooi, lelik, lekker, sleg, goed, oulik, vervelig – en in die nuwe idioom bepaald ook oor zef en “kommin” – kan ‘n mens nie stry nie. Jou oordele, insigte en smaak is ‘n persoonlike, emosionele en dikwels instinktiewe saak.

Takserings kan geweldig uiteenloop. Hierdie ou kan byvoorbeeld hoegenaamd nie verstaan dat mense van sushi hou, dink Die Antwoord is oulik of glo Madonna is mooi nie. Derduisende stem met hul voete (en hul beursies) teen my – dis hul goeie reg, solank hulle my net uitlos.

’n Keer het ek by die Greykollege in Bloemfontein’n toesprakie moes hou. My stelling dat ‘n koerant nie “objektief” kan wees nie, het nogal ‘n ligte beroering veroorsaak. Maar my eie koerant het dan die Cheetahs op die rugbyveld ondersteun en plakkate versprei met die woorde: Die Volksblad skree Vrystaat! Of: Stem vroeg, stem reg, stem Nasionaal! Die Burger weer sal sterwe as hy iets met ‘n Bloubul-etiket moet goedpraat en wou in ‘n stadium van Van Zyl Slabbert niks weet nie.

So kan ek aangaan. Oor die onderwerp van subjektiwiteit kan’n mens eindeloos voortborduur. Ek wil nie, in elk geval nie vandag nie. Die lang aanloop beteken net ek erken dat ek intens subjektief is. Ek was dit toe ek vrou, huis, motor, vriende, elke boek, elke das en elke paar sokkies gekies het. Ek is dit as ek ‘n mening lug as of iets vir my mooi, mooier of dalk die mooiste is.

Wel, hier kom dit: die tafels by ons onlangse Probusdinee op Melkbos was vir my mooi. Mooier as elke ander tafel wat ek kan onthou, hetsy by uithang-bruilofte, spesiale verjaardae, spogdinees, vername okkasies, Nataniël se TV-demonstrasies en wat nog.

Ek wil waag om vir Rina Theron van Atlantic Beach die kompliment te gee dat ek nog nooit by ‘n saal ingestap het wat my asem so weggeslaan het en by ‘n tafel aangesit het wat so ‘n visuele impak op my gemaak het nie.

Rina, wat ek al privaat vir jou gesê het, herhaal ek in hierdie blogruimte met vrymoedigheid: Dit was die mooiste tafel waarby hierdie ou nog aangesit het. Jou harde werk was nie vergeefs nie. Dankie, Frans Ellis, vir die foto’s wat reg laat geskied aan Rina se kunswerk.
(hvd)