DIE DOOD VAN `N TRADISIE

More uit Melkbos

Bedaar, bedaar, vermaan my vriende, maar begrafnisse beroer nou een maal hierdie blogskrywer se gemoed – al is dit ook net die begrafnis van ‘n tradisie wat deur mense geskep is.

So ‘n tradisie wat pas sag heengegaan het, is Media24 se ‘n jaarlikse ete vir vorige Naspers-amptenare, wat in later jare ingevolge die nuwe strukture aan die Heerengracht nolens volens hul Naspers-status vir Media24-status verruil het. (Ekself word nou links en regs aangedui as oud-hoof van Media24 se koerante wat ek nie is nie, omdat Media24 in my jare nog nie bestaan het nie.)

Die laaste jare het ons vorige Naspersers in ons honderde hier teen die einde van November vir ‘n groot middagete opgeruk: gryse oud-kollegas, party bra sukkelend met kieries in elke hand, wie se paaie deesdae nêrens anders kruis nie. Dit was ‘n dag van oor en weer groet en uitvra veel meer as ‘n dag van die gemeste kalf, hoewel laasgenoemde nooit afgeskeep is nie.

Enkele dae gelede het ‘n taamlik abrupte briefie oor die lot van daardie ete gekom. Uit die pen van Esmare Weideman, uitvoerende hoof van Media24. Die maatskappy moet sy “gordel stywer trek”. Die broodnodige besnoeiings by gedrukte media beteken ook die valbyl vir onse ete.

Is dit ironies nie, het ek verbaasde kollegas hoor brom, dat me. Weideman se briefie juis die dag op ons skerms beland toe Naspers kan aankondig sy gekonsolideerde omset het oor die afgelope ses maande met 22% tot R23 miljard gestyg.

Of: Is Koos Bekker, Naspers-baas met sy miljarde, nie pas gekroon as een van Afrika se 40 rykstes nie? Kan hy nie sommer ‘n dankie-etetjie vir in vele opsigte die grondleggers van sy reuse-sakeryk uit sy bultende gatsak borg nie?

Maar nee, dis mos nie hoe sake deesdae daarlangs werk nie. Immers: terwyl Naspers en sy leierskorps al hoe ryker en ryker word, word sy stiefkindjie Media24 (die gedrukte media) al hoe armer.

Drukmedia regoor die wêreld verkeer onder geweldige druk, lamenteer me Weideman. Swak plaaslike ekonomie maak omstandighede veel moeiliker as wat verwag is. Advertensie-inkomste is swakker as verwag en ons sirkulasies is onder druk.

”Wanneer inkomste bedreig word, doen ’n verantwoordelike maatskappy twee dinge: besnoei koste en probeer nuwe inkomstebronne kry. Ons fokus sterk op albei om te verseker dat Media24 die voorste mediamaatskappy in Afrika bly.” So word ons meegedeel.

”Ek (Esmare Weideman) is seker dit is vir u net so teleurstellend soos vir ons. Dankie vir u bydrae tot die groep deur al u diensjare. Ons hoop ons sal u steeds trots laat voel op Media24 en op Naspers, en dat u sal verstaan hoekom ons hierdie moeilike besluit moes neem.”

Die uwe het daarop vir haar ‘n rugstige briefie geskryf: Dankie vir haar boodskap.Dit is goed dat die onsekerheid uit die weg geruim is. Maar elke tradisie wat sneuwel, is natuurlik ‘n hartseersaak.

Wat hierdie besluit des te meer hartseer maak, is dat een van die bloedmin skakels tussen hul ou maatskappy en ’n vorige korps lojale werkers daardeur onverbiddelik en finaal deurgehak word. Met die einde van die tradisie is ook die enigste oorblywende skakel tussen ‘n groot groep Persmense vir altyd verlore.

Media24 neem natuurlik sy eie besluite na die lig wat hy het. Ek. en ek glo ook ander kollegas van ‘n vorige era, respekteer sy goeie reg in die opsig volledig … al sal die rasionaal vir die besluit in die groter konteks van Naspers se geldsake waarskynlik vir baie van ons ietwat onbegryplik wees.

Dankie, nietemin, vir die geleentheid wat ons voorheen gehad het om saam met soveel oud-kollegas aan te sit, en die bande onderling sowel as met ons maatskappy te versterk. In my eie geval was dit vir ‘n lang skof van 15 jaar ná my aftrede.

”Hierdie nuwe verwikkeling – ek gebruik die woord doelbewus – sal die dankbaarheid by afgetredenes oor die behoud van die Nasmed-band des te groter maak.” Minstens een verbintenis leef darem voort, al is dit dalk op geleende tyd.

Na drie dae het ek nog geen boe of ba van die Heerengracht se leidsliede gehoor nie. Seker te besig om nog planne te bedink om “koste te besnoei”. Maar nee, ek het my voorgeneem om nie lelik te raak nie.

Naskrif: In die 70′s het Perskor groot vermaak aan ons Beeldmense verskaf deur vir Kersbonusse hoendertjies vir die personeel aan te bied. ”Hoendertjies, het jy gehoor!” Aan hoe dawerend ons daaroor gelag het, dink ek sedert me. Weideman se brief eenstryk.
(hvd)

SKYN EN WERKLIKHEID

More uit Melkbos

Vir die ongelowige Thomasse wat my verdink dat my wolkefoto van Tafelberg eintlik maar die regte Tafelberg is – net bedek met ‘n wolkekombers.

Hier is die wolke-berg en die ware Jakob, albei van my stoep geneem. Op die wolkefoto le Robbeneiland reg voor die kamera … soek hom op die foto van die berg- berg. Die hoeke verskil heeltemal.

Kan nie die wolkefoto neem uit die ander hoek nie en andersom. Reine waarheid.

Die donker gestapelde wolke,

Berg deur die winde gebou ,

Hoe sou ek hul heimnis vertolke

en saggies dit fluister vir jou ?

(Met apologie aan Toon van den Heever)

TAFELBERG MERK 2

More uit Melkbos

Twee Tafelberge langs mekaar: die en van rots en grond, die ander van wolke. Hier is die wolk-ene, net regs van die Ware Jakob. Die foto van hierdie merkwaardige wolkeformasie is gisteraand net voor sonsondergang van ons stoep op Melkbos geneem.

Toe ek daardie wolk-berg raaksien, het ek dadelik die kamera gegryp en op Facebook gaan vra: wat beduie dit? Sou dit die een of ander spieëlbeeld wees?

Thomas Mollett – wat in sulke natuurverskynsels en dinge belang stel – meen dit is presies wat dit was: ‘n vlietende stukkie “sinsbedrog” deur die natuur. Dat die wolke juis ‘n Tafelberg sou teken, beskou hy as ‘n een uit ‘n miljoenkans.

Nogal na aan uniek!

Spieëlbeeld? Nee, meen hy. As dit was, sou die Leeukop links gewees het en Duiwelspiek regs. Die berg sou ook nie so in sy volle lengte geprojekteer kon gewees het nie.

Ongelooflik, het twee Facebookers, Sunette de Beer en Valerie Müller, spontaan gereageer. Stem saam met julle twee meisies!

Hierbo is die foto weer, nou in sy volle lengte. Maak dit des te meer “ongelooflik”.
(hvd)

MNR. INTEGRITEIT

Middag uit Melkbos

Die doedelsakke, tromme en Hooglanders wat in geruite rokkies trippelswaai, het ontbreek. In meer as een opsig het die gedenkdiens vir kollega Kootjie Geldenhuys (84) vanoggend in die NGK Welgelegen, Parow, tog wel aan ‘n Skotse “gathering of the clans” herinner.

Vir eers was verskeie Geldenhuys-“clans” verteenwoordig, die eie familiestam tot in die vierde geslag, die Naspers-stam, die bure-en-vriendestam uit Port Elizabeth, Bloemfontein en Onrus (sy vakansieplek), die Welgemoedstam (vorige gemeente), die Welgelegenstam (huidige gemeente), die La Provencestam (woonplek) – noem maar op.

Uit die Naspers-“stam” het vir hierdie “gathering of clans” rondom die afsterwe van ‘n geliefde kollega verskeie vertakkings opgedaag: topbestuur, middelbestuur, syfermense, redaksionele kollegas, advertensiemense …. Minstens 25 wat in ‘n stadium in Kootjie se tyd by lessenare in die Nasperssentrum aan die Heerengracht gesit het, kon ek onder die 400-plus begrafnisgangers op my vingers aftel.

“Die grootste begrafnis wat ek nog bygewoon het,” het Ton Vosloo agterna opgemerk. Seker ook die verteenwoordigendste van alle dissplines in die ou Pers, soos ons generasie hom nog geken het, wil ek waag om by te voeg. ‘n Treffende huldeblyk in sig self.

Ook uit ander take van Kootjie se vol lewe was substrata teenwoordig: van die vorige omgewings waar hy hy opeenvolgende koerantbestuurder van Oosterlig en Die Volksblad was, tot sy eie bestuurspan by Die Burger waar hy tot hoofbestuurder gevorder het, en dan ‘n halfdosyn of meer van die destydse 18de verdieping – die bestuurshart van die ou Pers. Verskeie reeds 70-plussers, sommige al ook oor 75.

‘n Verdere Skotse element kom uit die intieme gesinskring. Marietjie, oudste dogter, en haar gesin woon in Skotland “Ons sal nooit vir Oupa of die Skotse keppies vergeet nie,” het kleinkind Colin in sy huldeblykie gesê, met verwysing na die geruite pette uit daardie geweste wat sy oupa graag op sy kop gesit het. Hy sweer die nederige Kootjie was ietwat spoggerig met so ‘n pet op, het ds. Kobus van der Westhuizen, self ‘n La Provencer, van die kansel geskerts.

En ja, La Provence was ook in meer as een vertakking in die kerk teenwoordig – die opvallendste Kootjie se mede-rolbalspelers in hul wit gewade. Die rolbalgogga het Kootjie in die herfs van sy lewe behoorlik gebyt, nadat hy in sy Onrusdae as entoesiastiese visterman bekend was. Hy was ook Wildtuinman – die Vyf Grotes het nie sonder rede op die eerste blad van die program van die gedenkdiens gepryk nie. En natuurlik familieman .. miskien tog wel familieman by uitstek. Een van die laaste groot familiesaamtrekke was inderdaad in die Krugerpark – twee liefdes ineengevleg.

Marianna, ‘n kleinkind uit die Adri-tak, verklap in haar huldeblyk juis die dierbare oupa se opregte opgewondenheid voor elke so ‘n geleentheid. “Soveel so dat Oupa nie kon slaap die vorige aand nie en dat Ouma dan ‘n kalmeerpilletjie onder die tong moet gee as die opwinding te veel raak.”

Alta, Kootjie se vrou vir 60 jaar, beklemtoon in haar huldeblyk sy onberispelike voorbeeld en lewenswandel, asook toewyding aan Christus. Ander eienskappe wat deur die kinders en kleinkinders uitgelig word, sluit in sy oorvloedige en opregte liefde, vreugde en ondersteuning, die inspirasie wat van hom uitgegaan het, sy goedhartigheid en vrygewigheid.

Dr. Michiel Strauss se teksvers uit Kolossense 3 het treffend hierby aangesluit: “Julle is die uitverkore volk van God wat hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.” Dit was Kootjie alles.

Hy was as kollega ook minsaam, regverdig, voorbeeldig en standvastig, soos ek Donderdag aan Die Burger gesê het. “Sy reg was sy reg en sy verkeerd was sy verkeerd.”

Gooi al hierdie dinge bymekaar, skommel deeglik en daar het jy die resep vir die wye eerbied wat in soveel sfere vir hierdie man van die hoogste kaliber bestaan het. Hy was “‘n baie ordentlke mens met integriteit,” soos Ton Vosloo in dieselfde Burgerberig aangehaal is.

Kootjie, ons salueer jou – ons Mnr. Integriteit.

(hvd)

OUERIG EN MOERIG-RIG

More uit Melkbos

Twee “ouerige dames” se gesprek in ’n koffiehuis laat die jonger man aan die tafel langsaan sy ore spits. Een vertel gedoriewaar vir haar metgesel van iets oor Barack Obama wat sy – van alle plekke! – op Facebook gelees het.

Verbeel jou! Dit interesseer die jonger man so dat hy op Facebook daaroor skryf … en by hierdie “ouerige man” lok sy stomme verbasing toe dadelik ’n refleks-respons uit.

Wat beteken “ouerig”, vra ek hom in kommentaar by sy inskrywing. Geen antwoord. Ek kon natuurlik ook gevra om watter aardse rede hy Facebook as die eksklusiewe domein van “jongeriges” beskou. Of hoe hy weet dat daardie twee gespreksgenote “dames” is (nie dalk net vroue nie). Kom ons los daardie aspekte maar eenkant.

Oneksakte beskrywings soos “ouerig” gee my egter ‘n pyn. Wat is “ouerig” inderdaad as van ‘n kind in ‘n kleuterskool tot ‘n grysaard in ‘n eenheid vir verswakte bejaardes “ouerig” kan wees – elkeen se graad van “ouerig”-heid natuurlik bepaal deur sy of haar portuur en deur die oë van die waarnemer.

Omdat daardie Facebook-gebruiker nie sy ouderdom bygevoeg het by sy inskrywing nie, weet lesers nie of sy “ouerige dames” 40 is of 50 of 60 of 70 nie. Is die feit dat hulle oor Facebook gesels dus niks vreemd nie, bietjie vreemd of uitermate vreemd?

Vir dieselfde prys: wat is ‘n “goeierige” rugbyspeler? Een wat vir sy klub se eerste span uitdraf of die vierde span? En ‘n “vinnigrige” vleuel? Is dit ‘n Bryan Habana, of is hy plein vinnig, kort en klaar?

Sulke woorde wat op “rig”” eindig, het seker ‘n naam. Moet die een of ander taalverskynsel wees, nogal meer eie aan ons eie taal, Afrikaans, as byvoorbeeld aan Engels, meen ek. In elk geval, ek dink nie ons taal sal armer wees daarsonder nie.

Ewe seer kan ons gerus maar ophou om mekaar sulke etiketjies om die nek te hang, soos veral die jonger garde graag doen. Toe ek nog net-net oor die 40 was, het ek ‘n keer amper van my lessenaarstoel geval toe ‘n verslaggewer van Die Volksblad waag dat ‘n 50-jarige ‘n “bejaarde” is wat iets oorgekom het. Dit was ekstreem. Maar die meeste koerante val maar rond met die gebruik (of misbruik) van woorde soos middeljarig, bejaard, oud, ens.

In dieselfde asem: wanneer word jy ‘n “oom” of ‘n “tannie”? Tokkie is al deur ‘n jong ouerpaar in ‘n hospitaalsaal “tannie” genoem voordat sy 30 was en rêrig ‘n mini kon dra sodat dit ‘n eer vir die mini is.

Hierdie “ouerige” ou raak stadigaan “moerig-rig”!
(hvd)

GAAN VLIEG … MET STYL!

More uit Melkbos

Agter die lessenaar van daardie platjie-minister Hendrik Schoeman van ‘n vorige generasie anderster soort politici as vandag was ‘n spreuk met die strekking dat ‘n diplomaat iemand is wat jou warm plek toe kan stuur sodat jy uitsien na die reis.

Die diplomasie en die politiek is in hierdie opsig nie bedmaats nie. Politici praat tradisioneel padlangser. Die politieke retoriek is dikwels robuust, soos in die vorige blog opgemerk.

Ook in die robuuster politieke retoriek kan egter onderskei word tussen beledigings met styl en sonder styl. In eersgenoemde kom ’n elegansie van taalgebruik na vore wat in die moderne tyd met sy voorliefde vir sterk vierletter-woorde skaars voorkom.

Hier is enkele voorbeelde uit ‘n skat van ouwêreldse beledigings:

“He had delusions of adequacy.” – Walter Kerr .

“He has all the virtues I dislike and none of the vices I admire.” – Winston Churchill.

“A modest little person, with much to be modest about.” – Winston Churchill.

“I have never killed a man, but I have read many obituaries with great pleasure.”- Clarence Darrow.

“hat man couldn’t negotiate his way out of a toilet” – Onbekende (oor Arthur Scargill, linkse vakbondleier).

“I feel so miserable without you; it’s almost like having you here.”- Stephen Bishop.

“He can compress the most words into the smallest idea of any man I know.” – Abraham Lincoln.

Van woorde gepraat, hier ‘n paar voorbeelde van elegante beledigings uit die omgewing van die lettere:

”He has never been known to use a word that might send a reader to the dictionary.” – William Faulkner (oor Ernest Hemingway).

“Poor Faulkner. Does he really think big emotions come from big words?” – Ernest Hemingway (oor William Faulkner).

“Thank you for sending me a copy of your book; I’ll waste no time reading it.” – Moses Hadas.

“I didn’t attend the funeral, but I sent a nice letter saying I approved of it.” – Mark Twain.

“He has no enemies, but is intensely disliked by his friends.” – Oscar Wilde.

Wag, netnou hou julle op lees voordat ek ophou skryf! (hvd)