`N BELHAR-SCENARIO

More uit Melkbos

EEN somber scenario vir Belhar, veral ook weer ná die lees van die insiggewende “Belhar Geweeg” (Piet Theron et al, Kraal-uitgewers, 2012), is in my oë dat die hobbelrige paadjie van daardie verdelende VGK-dokument soos volg kan voortkronkel:

1. Die Belhardrywers draai die skroef uit die hoogste kerklike gestoeltes in die NGK al hoe stywer. Morele manipulasie van gemeentelede en intimidasie van andersdenkende predikante neem toe op grond van die tese (a) dat aanvaarding van Belhar as belydenisskrif die “regte ding” is om te doen (steeds sonder om daardie aanspraak teologies te motiveer); (b) dat dit is wat “Jesus wil hê” en (c) dat dit die “enigste weg is wat die Heilige Gees vir ons aandui” (terwyl die vraag onbeantwoord in die lug bly hang of die Gees dan nie ook die derduisende lidmate lei wat nie kans sien vir Belhar as belydenisskrif nie – waaronder, betekenisvol, selfs die Christian Reformed Church of North America, een van die drie grotes in die eertydse Gereformeerde Ekumeniese Raad).

2. Van ‘n oop debat tot op die voorgeskrewe gemeentevlak kom min tereg en by meerdere kerkvergaderings word die Kerkorde suutjies diep weggebêre. Onder aanvoering van ‘n begeesterde leierskorps moker die NGK Belhar op vindingryke maniere deur sodat dit die skyn van ‘n kerkordelike proses en omvattende steun verkry. Toejuiging klink op uit die geledere van die VGKSA, politici en die media oor die NGK wat op lange laas “apartheid die rug toegekeer het”.

3. Die NGK in huidige gedaante word met enkele pennestrepe uitgewis. ‘n Nuwe “Verenigde Kerk” kom tussen die pro-Belharfaksie van die NGK en die VGKSA tot stand – die ideaal van ‘n “nuwe kerverband” onder ‘n nuwe naam en met ‘n uitgebreide belydenisgrondslag wat Belhar insluit, raak verwesenlik.

4. Die waarheid begin stadigaan – maar, helaas, te laat – deurdring dat die stoomroller-taktiek ‘n dure prys verg. Ongelukkigheid by van lidmate wat Belhar op beginselgronde verwerp, bring krake in selfs die hegste gemeentes. Verbrokkeling kry momentum soos die besef posvat dat die Gereformeerde karakter van die kerk daarmee heen is en die hek vir allerhande vreemde teologieë wawyd oopgeraak het.

5. Strukturele veranderings raak al hoe sigbaarder in die “nuwe kerk”. Vreemdhede sluip in die liturgie en karakter van die erediens en in die medium van Woordverkondiging in. In die “nuwe kerk” word Afrikaans maar een van die tale waarin gepreek word, soos in sovele VGKSA-gemeentes (die letterlike spreek in vreemde tale!). Bates soos pastorieë en kerkgeboue word herverdeel. Gewysigde salaris- en pensioenpatrone word van sinodale vlak afgedwing.

6. Geldelike nood in die Kerk word steeds nypender en dwingender. Samesmelting van gemeentes ter wille van oorlewing lei tot die aflegging van dominees en die sluiting van kerkdeure, veral op die platteland. Die beskikbare vel (in opsigte ‘n krimpende vel!) moet noodwendig in al hoe dunner en dunner riempies gesny word terwyl die VGKSA voortgaan om ‘n ambisieuse konferensiesentrum in Kempton Park te bou. ’n Enorme skuldlas stapel vir die “nuwe kerk” op.

7. Die NGKA (“swart” kerk) en die RCA (“Indiërkerk”), reeds lank in die koue terwyl die leierskorpse van die NGK en die VGKA in geslote afsondering hul toenaderings gestalte begin gee het, word volledig uit die intieme nuwe binnekring gesluit. Alle sprake van ‘n omvattende “hereniging” van al die spruite van die ou NG Kerk (die sogenaamde “dogterkerke”) vlieg by die venster uit.

8. Die NHK en GKSA staan, weens uiteenlopende belydenis-grondslae en bedenkinge oor die teologiese integriteit van Belhar, vinnig opsy van die Verenigde Kerk. Drome van ‘n sterker eenheidsbeweging en uiteindelike byeenbring onder een dak van basies eendersdenkende Gereformeerd-gesindes wat dieselfde taal, geskiedenis en kultuur deel – trouens, die hele begrip van Afrikaanse susterkerke – raak iets van die verlede.

9. Die eindresultaat in praktyk is al hoe minder van die “eenheid” wat nagestreef is. Toenemende kerklike verbrokkeling en verstrooiing bring klowe tusssen broer en broer. Van onderlinge ongemaklikheid tot bitterheid in eie geledere groei.

10. Kerkloosheid, kerklosheid of, ten beste, die opspring van allerlei paddastoelkerkies en/of die ontstaan van intieme selgemeentes neem hand oor hand toe. Suid-Afrika versink in die algemeen al hoe dieper in die maalstroom van sekularisering.

(Naskrif: Al is dit natuurlik absolute wensdenkery: kon die gewetens van elkeen wat oor Belhar ‘n besluit moet neem, hulle tog maar dwing om genoemde Belharboek aandagtig te lees! Dit geld in die besonder leraars met die verantwoordelikheid om hul kuddes die regte pastorale leiding te gee. Vir eers sou ‘n vollediger en korrekter ingeligtheid by ‘n breër korps kerkmense so tot stand kom. Ten tweede, dalk beter begrip vir die strydvrae in die gemoed van ‘n groot gros lidmate. Ten derde – des te meer wensdenkery? – hopelik selfs nadenke by sleutelmense by wie nadenke nie onvanpas sou wees nie.)
(hvd)

AGTER DIE MIKROFOON

Spanmaats – SAUK-manne Neville Krige en Daan Eksteen en Volksbladman Hennie van Deventer met hul Parlementere pette op.

Middag uit Melkbos

’n Ererol met name van voortreflike uitsaaiers op die Afrikaanse radio flits voor my geestesoog verby as ek op sy 75 ste verjaardag vir RSG en sy mense ‘n tarentaalveer in die hoed steek.

Ek is drie jaar en ‘n stukkie jonger as die Afrikaanse radiodiens, maar het as klein pikkie al met kortgolf kennis gemaak. Die piep-piep-piep-piep van flitsberigte, die sportkommentaar – ook boks en rofstoei! – later wonderlike musiekprogramme soos U Eie Keuse, nuus en nuuskommentaar, radiodrama’s (ai, Soetmelksvlei!), joernaalprogramme, boekerubrieke en wat nog het deur die jare my lewe geweldig verryk.

Die bydrae tot die Afrikaanse kultuur is ‘n blywende monument vir radio. Die rol in die vorming van individue is miskien moeiliker definieerbaar, maar sekerlik in honderde duisende gevalle – meer! – van ewe onskatbare waarde.

My vroegste helder radio-herinneringe is van die 1948-verkiesing waar die NP die VP-regering uitgeknikker het. Saam met Oupa Visser het ek in ons voorhuisie in die gehuurde skakelhuis in Kimberley die uitslae opgeslurp. Met elke NP-sege het Oupa se kierie tik-tik-tik ‘n riel op die houtvloer gedans. In my kindergemoed het ek besef: iets groot is aan die gang.

Sportkommentators was van die eerste radiomense wat vir my huishoudelike name geword het: Paul Bothma, Awie Labuschagne, Johan de Bruyn (hoop ek onthou reg), Dana Niehaus, Morkel van Tonder en andere het my voor die radio vasgenael laat sit met hul opwindende uitsendings. Later het die era van die onvergeetlike Gerhard Viviers gekom.

Met Gerhard het ek ‘n uitvoerige onderhoud gevoer vir my rubriek Onder Vier Oë by Beeld in die laat jare 70. Hy was ‘n legende, hierdie man wat, ironies, aan keelkanker sonder ‘n woord oor sy lippe sou sterf. Ook die onblusbare Cobus Robinson – hy wat Madeleine van Biljon, Koningin van die Lag, se uitbundige lag vir luisteraars ontsluit het – het in Onder Vier Oë sy beurt gekry.

Maar jy was dan ‘n koerantman en hulle radiomanne, hoor ek iemand vraend opmerk. Was hulle dan nie opposisie nie? In sekere opsigte was die radio en koerante natuurlik in stryd – veral op die gebied van nuus en advertensies. Maar hulle was ook media-bondgenote vir Afrikaans. En dat die radio fyn mense op sy personeel gehad het, kan niemand betwyfel nié.

Almal wat ek leer ken het, was Mensekwaliteit met ‘n hoofletter M. Ek is skrikkerig dat ek nou gaan name uitlos, maar ek dink aan mense soos Nic Swanepoel en Daniel Hugo met wie ek oor boeke gesels het, Retief Uys (ook sportkommentator en in ‘n stadium aanbieder van U Eie Keuse) wat in Bloemfontein ‘n goeie vriend geword het, Fanus Rautenbach (rakker wat hy was), joernaliste soos Daan Eksteen en Neville Krige, albei Londense verteenwoordigers en politieke beriggewers van die SAUK, en sovele ander. (Ook Mornay Pretorius, Carel Leonhardt en Christo Olivier het ek in Bloemfontein leer ken en waardeer. Mornay was hoofsaaklik Engelse omroeper, Carel was toe al ‘n bestuurder en Christo is van ‘n latere generasie – saai nou nog uit!)

Met sekeres het ek stelle afgetrap soos met Chris Louw in ‘n berugte Monitor-onderhoud oor die WVK. Laat ek nie op ‘n feesdag ou koeie hier uit die sloot grawe nie.

Ek, Daan en Neville was in ‘n stadium spanmaats in die Parlementere krieketspan, wat aangevoer is deur Ossie Newton-Thompson,LV vir Pinelands, wat later in ‘n vliegongeluk omgekom het. Van ons spanmaats was sir De Villiers Graaff en die latere minister John Wiley. Groot tye daar onder die akkerbome van Fernwoord beleef, en een middag – as aanvangskolwer (ek het vir die skool op nommer 10 ingestap) – iets soos 30 n.u.n. aangeteken. Was selfs genoem in die uitslaekolom van die Late Argus.

Dit net terloops. Deur Daan en Neville het ek ander radiomanne leer ken, soos Stoffel Prinsloo en Johan Stemmet, Daan se bure in ‘n halfmaan-huisies hoog op in Seepunt. Van Johan Stemmet het Daan altyd gese: “As ek so ‘n stem-het, het ek ook ‘n omroeper geword.”

Mooi stemme. Dit het al die uitsaaiers natuurlik gemeen gehad. Die fluweelkwaliteit van die ikoniese stem van Daniel Kirstein – seker aanbieder numero uno in my tyd – sal nie maklik geëwenaar word nie.

Die stemme van nuusmense wat uit die Parlement en uit Londen gereelde stembydraes gelewer het, was dalk net so bekend of bekender as dié van die gewildste omroepers. Neville had so ‘n lekker brei. Sy lakonieke styl kon ‘n mens laat vermoed hy loop altyd met ‘n glimlag, wat nie ver van die waarheid was nie. Sy glimlag het sy glans verloor toe John Vorster hom as woordvoerder werf maar kort daarna as Eerste Minister bedank. Neville is aan ‘n vroeë hartaanval dood in die kantore van Joe Slovo by wie hy mettertyd beland het.

Toe Edwill van Aarde vanoggend op Vat Vyf noem van sy reuse-versameling van André Rieu-DVD’s en CD’s kon ek een van my rak haal wat ‘n geskenk van Edwill was. Ons het mekaar aan die Rand leer ken, en het nou nog periodieke kontak met sms’e oor mekaar se welstand, ens. Hy het laat weet oor vanoggend. Ek het lekker na hom geluister en besef hoe ‘n groot oomblik dit vir hom moet wees om weer agter die mikrofoon te wees. Edwill is nie ‘n gesonde man nie en verduur feitlik permanente pyn.

Oor een ding wil ek darem met Edwill en Derrich Gardner (Saterdag-aanbieder) in gerig tree. Mense, die seekoei is nie een van die Vyf Grotes nie. Julle het skoon van die renoster vergeet!
(hvd)

ONS EIE `VENESië’

Middag uit Melkbos

Venesië, natuurlik, maar ook Amsterdam, Parys, New York, Boston, New Orleans, San Antonio, Hong Kong, Kobe, Odessa … dis ‘n lang, onvolledige lys. Nou kan ons Kaapstad byvoeg.

Plekke wat jy nie werklik volledig beleef het as jy nie met hul veerbote, gondels, stoombote, motorbote en wat nog hul waterweë verken het nie.
Wel, Kaapstad het natuurlik al lank sy hawevaarte en anderlike uitstappies al langs die kus langs of Robbeneiland toe. Ook Houtbaai, heerlike romantiese skemervaarte met glasies yskoue vonkelwyn in die hand en annerlike plesiere. Wat praat die man dan?

Waarvan die man (ekke) hier praat, is die hawestad se nuwe kanaalboot. Ons eie. Wonder hoeveel Kapenaars het al op hul eie boot op hul eie kanaal na hul eie V & A Waterfront gevaar, een van die moete op oorsese toere. Ek en Tokkie het … en beveel dit van harte by almal aan.

Die kanaal strek van Kiks tot by sonkoning Sol se One and Only-hotel. Dit vleg deur die die weelderige woonplekke van rykes en beroemdes verby, en bied op Sol se indrukwekkende ses-ster-hotel (en die spa oorkant op ‘n mensgeboude eiland) ongetwyfeld die mees panoramiese uitsig wat jy kan begeer

Jy kan loer en jaloers wees na hartelus – selfs deur die hotel stap en afgunstig waarneem hoe die stinkrykes die laatoggend met hul roosterbrood en roereier (plus niertjies, worsies, sampioene en wat nog) behaaglik rek. Seker ook kaviaar – of is dit nie brekfiskos nie?

Tafelberg, Leeukop, Seinheuwel doem die een na die ander langs jou op terwyl die boot stil en stadig deur die vars seewater wieg (vars omdat ‘n ingewikkelde pompstelsel gedurig water in- en uitpomp). Op die TE KORT roete is treffende brûe, tuine en fonteine. Mooi moderne geboue sorg vir ‘n stadsprofiel wat jou kameravinger laat jeuk.

Die kanaalboot en die rooibus is bloedfamilie en die buskaartjie sluit ‘n vaart in. Jy kan ook vir R30 (volwassene) en R10 (kind) heen-en-weer vaar – by die Waterfront ‘n teetjie of iets sterker gaan geniet terwyl jy die nimmer-stil verskeidenheid mense van verskeie herkomste, tale en kleredrag bespied. Of die skitterende Akwarium gaan opsoek.

Geen gesukkel met parkering en spitsverkeer nie! Die oorheersende gevoel is een van rustigheid as en daardie stukkie Kaap hom voor jou ontvou.

Die beelde bring die ou troetelnaam “Tavern of the Seas” na jou terug – uit die dae toe skepe van oraloor by die Moederstad aangedoen het om vars voorrade aan boord te neem. Al is jou enigste “vars voorraad” nou ook net ‘n krul roomys in ‘n horinkie!
(hvd)

LAF, GEK, SOMMER SKOON VERSPOT!

More uit Melkbos

Verspot, deel die woordeboek ons mee, is snaaks, gek, laf, belaglik. Een voorbeeld wat genoem word is “verspotte meisietjies”. Ietwat chauvinisties dalk? Nietemin, oor verspot wees, is ek aan die dink gesit deur die kakkerlak-fees in die vrolike Florida, Amerikaanse deelstaat aan die suidpunt van die VSA, wat o.m. Disneyworld en ‘n reeks ander pretplekke huisves.

’n Ou het mos by die okkasie sterwend ineengestort nadat hy kakkerlakke en wurms by die handevol ingeprop het in die een of ander orvreetkompetisie. Eerste prys: ‘n luislang (om wat mee te maak?) Erik Holm, wat van goggas veel meer weet as die gewone sterfling, vertel vir ons insekte is goeie kos, beter as rooivleis. Met alle respek, al was die eerste prys twee luislange sou ek daardie voedingswaarde liefs ontbeer solank my liggaam dit daarsonder kan uithou.

Om ‘n vark van ‘n mens te maak met kos en drank, is natuurlik ‘n swakheidjie van Homo Sapiens. Het al gehoor van kompetisies vir wie die meeste hamburgers in ‘n halfuur kan wegsit, of die meeste pizzas of die meeste bier. Dan gaan dit woes. Dit sluk en hik en sluk en hik. Was in my Tukkiedae maar sulke wedstryde. Vir die meeste-bier-in-’n-uur-wedstryd had ek ‘n parate span. Ons het elke Vrydagaand by Ta Bella (die Hotel Belvedere) ernstig gaan oefen. Ons naam was die Boozeklub, Kollege se Boozeklub, en as ernstig gedrink moes word, kon jy maar op lede van die entoesiastiese klub se nommer druk!

Trouens, ons het ‘n keer – in die afwesigheid van ‘n paar kratte bier – nogal ruim weggelê aan metielalkohol (etiel?) wat ‘n ondernemende klublid in die chemie-laboratorium geskaai het. Darem met Coke verdun. Daardie verspottigheid het in sulke lafhede gekulmineer soos dat die uwe met sy nuwe “suedes” onder die stort gaan staan het, en dat ‘n vriend – eerbiedwaardige pilaar van sy gemeenskap – kaalbas tussen die swartpak- en aandrokbrigade by die Aula se openingsaand rondgehôl het met die kreet (wat, agterna gesien, nogal sin maak): “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

Ai, gaudeamus igitur …. Studente kan verspotter wees as “verspotte meisietjies”. Welaangename oomblikke duik in my herinneringe op soos die aand, juis ná ‘n snoekeruitstappie na Tant Bella, dat ons in Kerkstraat resies gehardloop het, en die keer toe Kollege se HK by ‘n HK-aflos in ons japonne opgedaag het. Toe ons die afstroop, dra ons elkeen ‘n XXX-”bloomer”. Dit het darem heelwat meer verbloem as ‘n nuwerwetse “G-string”, vermoed ek (hoe sal die ou man nou weet!), maar nogtans ‘n baie private soort kledingstuk.

Vele van die stories het ek al in oomblikke van die gryse behoefte aan skuldbelydenis oorvertel. Ons kom trek maar hier ‘n streep.

Of by die kakkerlak-affêre foto’s geneem is, weet ek nie. Glo met die nuwe tegnologie en so sou die verrigtinge seker minstens ‘n paar grieselrige selfoonfoto’s opgelewer het. Maar die insident (meer aksident as insident in die lig van een deelnemer se onsalige oorlye) het my tog na my foto-albums gedwing. Watter sou die verspotste foto van myself wees wat in daardie duisende blaaie agter deurskynende sellofaan vir ‘n waarskynlik onbelangstellende nageslag bewaar word? Moeilike keuse. ‘n Kandidaat is die ene hierbo; bedek met lakenlinne, lourierkransie op die kop en yslike “goue” houer vol rooiwyn. Langs my is Tokkie (heel fraai in haar lakengewaad, meen ek), en ander persmense eenderster gestewel en gespoor (ontstewel en ontspoor?).

Kom ons draai die geskiedenis terug tot 1 Junie 1970. Suid-Afrika se eerste Holiday Inn word by Hluhluwe geopen. Koerant- en tydskrifmense van oor die land word per lendelam Dakota aangekarwei vir ‘n sogenaamde Bacchusfees, kompleet met feesgewade en al smullende op die naat van ons rûe aan druiwetrosse en ander versnaperinge terwyl ons met ons “goue” drinkbekers die een glasie na die ander saam met Caesar klink. (Caesar se van was Lewis; voornaam het my ontgaan.)

Kameras het die hele aand geflits. Op een foto verskyn die gelakende Van D’s saam met die Hennie Cronje’s (Hennie was redakteur van Sarie) Piet van Niekerks (Piet was nuusredakteur van Die Burger), Kobus Louws (Kobus was skepper van bekende TV-reekse soos Slampampersirkus) en Koos van der Merwes (Koos was ‘n bekende vryskut-joernalis). Saam met ons op die foto hierbo, vurk in die hand, is die weduwee Louw.

O ja, my pakkie Rembrandt van Rijn (30′s) was veilig bo in my onderbroek gesteek, soos die atletiese meisiekinders op die tennisbaan deesdae ewe openhartig met die ekstra balle doen. Hulle het nie ‘n skaam haar in hul broeke nie, lyk dit.
(hvd)

VERSIE VIR HYGNET

More uit Melkbos

By my ander blogplekkie, litnet.blogs.co.za/hvandeventer, trek ons die naweek ónder ‘n nuwe sambreel in.

Alles lyk nog bitter vreemd daarlangs. Die ouman sal maar voel-voel sy weg moet vind.

Oral stamp ek met die mees basiese goeters my kop teen ‘n hindernis. Ek voel skoon ontredderd.

Nietemin, skuus vir die wals. Laat ek daardie nuwe baan met ‘n hygversie open. Sit dit ook hier op sommer vir die pret. Het my vanoggend voor die skeerspieël te binne geskiet.

DANSERESSIE

O Monica, japonika,
wonder of jy weet:
hoe jy sans japonika
die swyne laat sweet
as jy saans, mooi Monica,
jou perelsnoere afmeet.

Groetnis
HvD (daai ou met die gryskop)

KLEIN IRRITASIES

Middag uit Melkbos

Jou vabond, wag,
ek sal jou kry,
Van jou sal net ‘n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plagery
Kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel,
eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…
Hoe sedig sit hy, O, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
Nóu gaan die vabond sterwe…Pardoef!
Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, sowaar, ek sweer –
My naam is van der Merwe!

As jy, soos ons, graag die somer ook Laeveld toe mik, maak jy jou klaar vir die bos op sy groenste, plate klein huppelende rooibokkies …… en die gezoem van muskiete. Kom skemer, word die spuitmiddels uitgehaal en die sitronellafakkels aangesteek: ‘n heel bekoorlike gesig, maar, helaas, met minder vreedsame idees in jou kop as wat die oningeligte van die flikkerende vlammetjies kan aflei.

In daardie omstandighede vereenselwig jy jou met oorgawe met A.D. Keet se ou gediggie, Muskietejag. hierbo.

Hierdie keer vat ons saam met die stewige voorraad sitronella-olie en ander muskiet-afweermiddels ook ‘n splinternuwe digbundel saam. Dis Daniel Hugo se Hanekraai.

In hom is ‘n versie wat ek sekerlik by heelparty vuurtjies vir die kampvuur-gardes gaan voorlees – ook oor muskiete. Onder meer. Die titel is Afrika, my Afrika.

Geniet dit so tussen die somerse ge-zoem deur:

1.
Vergeet van sprinkane en droogte
haelstorms en meteoriete
dit is die klein irritasies
wat my radeloos maak:
vlieë, vlooie, muskiete

2.
Die muskiet prospekteer met sy boor-
stellasie op die vlakte van my vel:
hy soek die minerale in my are

3.
Die vervlakste, ratse vlooi is ‘n spring-
haas op die karooveld van my kooi

4.
Die vlieg is ‘n voorste sensasiesoeker:
in hierdie droë land is hy eerste by – geboei
deur trane wat loop, bloed wat vloei.

Die vlakte van my vel, die minerale in my are. Mooi, Daniel, mooi, man.

(Met vergunning van die digter.)
(hvd)