GEHEIM VAN TON EN F.W.

GROOT DAG: Die Pers Beurs toe. Salie de Swardt, Ton en die uwe 18 jaar gelede.

Middag uit Melkbos

Vyftien jaar gelede, met sy uittrede as uitvoerende voorsitter (hy het toe nie-uitvoerende voorsitter geword en Koos Bekker besturende direkteur), is oor Ton Vosloo ‘n video gemaak waarin dese en gene oor sy leierskap uitsprake lewer. In my bydrae het Confucius aangehaal: moenie in een leier alle eienskappe soek nie. My kommentaar was: Confucius het Ton Vosloo nie geken nie.

My bewondering was eg. Hierdie briljante oud-joernalis, wat sy lewe lank in wese joernalis gebly het, ‘n deurdringer sonder weerga tot die kern van die saak, het waarlik op elke denkbare terrein sy kant gebring om die Pers monumentaal uit te bou.

Sprekende as oud-redakteur, kon ek die grootbaas net lof toeswaai vir sy onwankelbare respek vir en sorgsame beskerming van die ruimte wat ‘n redakteur nodig het om na eie lig oordele te vel.

As ‘n latere lid van sy bestuurspan, kon ek net verwondering oordra oor hoe hy, soos min ander, veranderinge geantisipeer het en gewoeker het om daarvoor voor te berei, onder meer deur die uitbouing van diversiteit en die klem op kwaliteit op elke terrein.

Op die vraag of geen kritiek dan teen dié man in te bring is nie, het ek vir my antwoord my teksvers geneem uit Jakobus 3 wat uitwei oor die beheersing van die tong. Ton het soms dalk net vrymoedig gedagtes met ander gedeel, het ek opgemerk. Ná ‘n rustelose nag het ek apologeties gaan mooi vra of ons dit nie maar kan laat uitbly nie. Dit het genadiglik uitgebly. Maar toe val my stukkie van Confucius ook van die redigeertafel!

In daardie tyd was daar ‘n inisiatief waarvan min weet. ‘n Groep Nasionale politici onder leiding van Johan (Kleppies) Heyns het Ton probeer werf as opvolger vir F.W. de Klerk aan die stuur van die NNP. Hulle het my as tussenganger gebruik, en verskeie klandestiene middagetes het by die Kaapse Seiljagklub plaasgevind. Ton was wys en wou nie byt nie.

Die laaste vyftien jaar was ek ver van die vuur. Ek kan my nie uitlaat oor Ton se rol in nuwe Pers-aksente wat vir hierdie ouderwetse waarnemer soms vreemd opval nie. Dit het wel nie ongemerk verbygegaan nie dat die voorsitter se nasionale statuur net duiselingwekkend bly groei het en dat die akkolades op hom bly neergiet het.

Daardie merkwaardige ander Pers-kolos, Piet Cillié – die man met ‘n raak storie vir elke geleentheid – het in 1984 met die afskeid van Lang David die Pers se kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik:

“Wanneer die pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan na ‘n verpletterende sege by die stembus: “I think we did rather well.”

Oor Ton Vosloo sal my seker by die viering van hierdie bakenverjaardag op 29 September 2012 die toegewinkie gegun word om in daardie eufemistiese idioom ten slotte te deklameer: “I think he did rather well!”

(Ton vier op 29 September sy 75ste verjaardag. Hierdie huldeblyk is wesenlik gegrond op ‘n vorige een in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is.) – (hvd)

TON RED ‘N HOND

Orin Scott se vrolike prentjie van ‘n nagtelike petalje in Northcliff

More uit Melkbos

Ton Vosloo is een van daardie mense wie se naam jy maar op ‘n koerantplakkaat kan sit. Noem selfs net die naam “Ton” en almal sal dadelik weet van wie jy praat (soos Mandela en ook, in vorige tye, Naas!).

Wat miskien nie so wyd bekend is oor Ton Vosloo nie, is dat hy op Saterdag 29 September sy 75ste verjaardag vier. “Ton al 75?” hoor ek in my verbeelding mense vra. Maar natuurlik hoef ‘n mens nie op 75 jou vonk te verloor het nie!

In elk geval ek weet dat vir die bakenverjaardag van my jarelange vriend, kollega en baas uit allerlei oorde verrassings beplan word. Ek sal nie geheimpies verklap nie. My eie hulde is vervat in die eerste hoofstuk van my blogboek “Lewensgroot en Groter”” onder die opskrif “Onverskrokke verspieder”.

Die hoofstuk is, op sy beurt, wesenlik gegrond op my huldeblyk in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is. Ek plaas dit vervolgens graag op my blog, in twee opeenvolgende aflewerings:

ONVERSKROKKE VERSPIEDER

AMPER 35 jaar gelede het ek die eerste keer ‘n ietsie oor Ton Vosloo geskryf. Dit was vir “Beeld” se huisblad, ná ‘n nagtelike eskapade met die bure se brak.

Een nanag in Mei 1978 word ons jong redakteur – nou al lank voorsitter van Naspers en op die drumpel van 75 – gewek deur ‘n gedoef-doef wat knaend aanhou. Dit tref hom dat die geluide kom uit die rigting van sy Northcliff-bure se swembad – nogal agterdogwekkend in ‘n Transvaalse winternag.

Ton wikkel hom in sy kamerjas, spring oor die heining en kom af op die arme brak – al gedaan gespook om uit die greep van die Kreepy-Krauley se seekat-arms te kom. Onse held spring dadelik in die yskoue water in en red die dankbare hond.

Dié anekdote word nie opgerakel as kapstok vir ‘n ontleding van Ton se affiniteit of gebrek daaraan vir die ordinêrste variasie van die spesie canis, die gewone werfhond, nie (al sou ‘n mens dié persbaas se lewenslange vrugbare verhouding met die spesie nuushond dalk vindingryk met daardie heldedaad kon verbind!)

Nee. Ek glo daardie insidentjie is relevant omdat dit lig werp op eienskappe van die man wat deurslaggewend in sy latere verrysenis was. Ons leer Vosloo ken as die onverskrokke verspieder wat hom nie deur heinings sal laat stuit om te weet presies wat in sy wêreld aangaan nie, en as die energieke doener wat berekend sy doel najaag, kom wat wil.

Hierdie vreesloosheid het hy ook in sy kantoor in die lelike ou “Beeld”-gebou in Doornfontein geopenbaar. Hy het vinnig soveel energie, dinamiek en broodnodige dissiplines in daardie sukkelende nuwe dagblad van die Pers gepomp dat dié weldra op koers kon kom. Ton Vosloo het daarmee as’ t ware nog ‘n potensiële verdrinking in die Noorde gestuit!

Ek sal nie daarop roem dat ek die eerste of een van die eerstes was wat die besielende redakteur van “Beeld” as uitstekende opvolg-materiaal vir Lang David de Villiers geïdentifiseer het nie. By ‘n laataandbraai langs die Zambezirivier op ‘n weermaguitstappie in 1982 (gedenkwaardig gemaak deur Twakkies Laubscher van “Beeld” se nagtelike stormlopie rivier toe om sy Skotse watertjie met Zambezi-watertjies te verdun) het ek egter kollegas nogal met dié insig verras.

Kort daarna, op 1 Maart 1983, is Theunissen Vosloo as adjunk aangestel. Hy het nie weer teruggekyk nie.

* Vervolg in ‘n volgende blog in hierdie ruimte.

MAG MAAR DROOM …

More uit Melkbos

Toe ek in 199 my eerste Honda CR-V uitgetrek het, het hy nogal oë laat rek. Op ‘n eerste uitstappie Clanwilliam se kant toe het ons by ‘n oase langs die pad ingery vir ‘n koppie boeretroos. Die gesprek by die tafel langsaan het my laat bors uitstoot. Waarvoor sou daardie H op die rooster staan, wou ons bure by mekaar weet. Die era van die ligte sportnutsvoertuig was toe nog in sy kinderskoene.

Daardie Honda is nou my “bosbus” of “bosbussie”. Onvermydelik het ‘n paar slegte krappe al strepe in die silwer ingekeep. Maar ondanks sy 180 000 kilometer bly hy die betroubaarheid vanself. En as die vriendelike Patson hom in Sabiepark met kenmerkende deeglikheid gespuit en gepoets het, vertoon hy steeds die astrantheid en die adel wat my aanvanklik op hom verlief gemaak het. Hy was in ontwerp sy tyd vooruit.

Sedertdien het fabrikate en vorms van hierdie gewilde klas voertuie op ons paaie hand oor hand toegeneem. Die Koreane het tot die mark toegetree. Kontinentale menere het hulle tot die Suid-Afrikaanse toneel kom toevoeg. Uit Amerika kom ‘n hele verskeidenheid. Maar my nuwe silwer Honda (ook nie meer so “nuut”nie, want hy’s ‘n 2007-model) staan sy man in enige geselskap. Hy word met respek bejeën en veral die uitsonderlike neus verleen aan hom steeds ‘n treffende elegansie.

My buurman wat hom moes ry ter wille van die battery toe ek laas twee maande in die bos was, het ongelukkig in nat teer beland. Die besmeerde Honda was ‘n hartverskeuirende gesig. Maar na ‘n daglange was- en poetssessie moes julle hom sien. Jy kon sweer ek ry pas met ‘n splinternuwe ryding by ‘n toonkamer uit.

Interessant genoeg, is ek een van ‘n halfdosyn of meer Persmense van my generasie wat ‘n Honda CR-V ry. Of dit ons is wat so oulik is of die Honda, is iets waaroor ek my nie sal uitlaat nie. Dalk vul ons mekaar aan!

Maar nou’s ‘n splinternuwe ontwerp uit die Hondastal op pad – die eerste in ses jaar. Ek het gaan loer op buitelandse webblaaie. Hierbo is ‘n voorskou uit die Filippyne. My oorwoë kommentaar is dat mooi nog nooit lelik was nie. ‘n Mens mag mos maar droom….
(hvD)

RACHELTJIE NIEMAND

Naand uit Melkbos

Racheltjie de Beer was in werklikheid dus racheltjie niemand. Dit is die lakonieke kommentaar van my oud-kollega Ollie Olwagen op die helaas onontwykbare gevolgtrekking: dat hierdie jong volksheldinnetjie nie ‘n mens van vlees en bloed was nie, wel ‘n stukkie inspirerende Afrikanermitologie.

‘n Leërskare mense – onder wie die uwe self, ‘n Melkbosse vriendin, Gerrie Coetzee, en Ollie – moet dit eenvoudig maar teen wil en dank aanvaar nadat dieper in die Racheltjie de Beer-sage gedelf is. Nêrens kon ‘n geloofwaardige spoor na die 12-jarige heldinnetjie of haar beweerde gesin deur historici en/of genealoë gevind word nie, ondanks die tienduisende woorde wat oor geslagte heen oor haar dapper daad geskryf is.

Ollie, argitek en skepper van die gewilde “Mieliestronk”-leermateriaal vir kinders, gaan nou ‘n voetnoot in dier voege by die Racheltjie de Beer-storie op die mieliestronk-webwerf sit, deel hy ontnugterd mee.

Ollie se ontnugtering sal wyd gedeel word. Mense wil graag glo Racheltjie het werklik geleef. Hulle wil glo sy het werklik in ‘n sneeustorm haar kleertjies uitgetrek om as lewende skild vir haar boetie in ‘n uitgeholde miershoop te dien. Die tweetjies sou op soek na ‘n verlore kalfie verdwaal geraak het.

Vraagtekens word egter oor die verhaal geplaas deur geloofwaardiges soos die genealoë wat die De Beers se geskiedenis opgeteken het, Diwwie de Beer en Jaleen de Beer. In hul navorsing vir die boek “Die De Beer-familie: drie eeue in Suid-Afrika” het hulle doopregisters, sterftekennisgewings en ander dokumente vergeefs na Racheltjie en/of haar ouers gefynkam.

Geskiedskrywers van die 19de eeu, soos Gustav Preller, verwys ook nooit na Racheltjie se heldedaad nie, ondanks die talle verwysings na ‘n ander kinderheld, Dirkie Uys. Geen melding van die verhaal kom eweneens voor in die Afrikaanse Kinderensiklopedie wat in die 1950’s verskyn het nie.

Tien jaar gelede al was in “Die Burger” ‘n berig met die opskrif: “Racheltjie de Beer: ware heldin of versinsel?” Stephanie Nieuwoudt bring in daardie diepteberig verskeie probleme aan die orde: name en datums wat nie klop nie, ens. Haar berig is deur Leo Kritzinger opgespoor en onder my aandag gebring.

Tussen 1800 en 1900 is, volgens dié twee navorsers, net 12 De Beer-kinders met die naam Rachel gebore. Die meeste is in die laat 19de eeu gebore: te laat om te klop met die gebeure van 1843, toe Rachel 12 sou gewees het. Die navorsers kon nie ‘n Rachel vind wat in 1831 gebore of gedoop is nie. Ook nie ‘n datum wat sou klop met die ouderdom waarop sy glo dood is nie.

Die twee De Beers het wel in hul navorsing afgekom op inligting oor ‘n gesin van 1903 wat merkwaardige ooreenkomste met die ander De Beers toon. “Maar voldoende bewys bestaan nie om onvoorwaardelik te sê dit ís die regte gesin nie.”

Prof. Albert Grundlingh, destydse hoof van die departement geskiedenis op Stellenbosch, het aan “Die Burger” gesê geskiedenis-mites ontstaan dikwels om bepaalde politieke of kulturele gebeure en wanneer daar ‘n opwelling van nasionalisme is. “Die verhaal van Rachel was veral in die 1930’s gewild om en by die Eeufeesviering van die Groot Trek, toe dit nodig was om die volk rondom dié gebeure saam te snoer. Haar verhaal bevestig gesinsideale en dit beklemtoon die beskermingsdrang van die volk.”

Dr. Jan Visagie, ‘n historikus en genealoog van Stellenbosch, het gemeen die twee De Beers se beredenering rakende Rachel was “oortuigend en hul navorsing deeglik gedoen”. Dat die gesin van 1903 wel ooreenkomste toon met ander gegewens oor die verhaal van Racheltjie de Beer, maak dit onmoontlik om die verhaal as ‘n mite af te maak. “Maar dit is steeds grotendeels gegrond op mondelingse oorlewering.”

Jammer, mense, maar ek kon mos nie hieroor swyg nie, of moes ek liewer? Buitendien, as iemand aan Racheltjie wil bly glo, wat staan in die pad?
(hvd)

RACHELTJIE – FEIT OF FIKSIE?

More uit Melkbos

Racheltjie de Beer – feit of fiksie?

My geslag het grootgeword onder die indruk dat Racheltjie ‘n kinderheldin van vlees en bloed was, ‘n egte, regte boeremeisietjie van die Oos-Vrystaat wat haar kaal liggaampie as skild voor ’n miershoopopening geplaas het om te keer dat haar sesjarige boetie verkluim. Die twee het, soos ek die verhaal ken, in die distrik Van Reenen in die Oos-Vrystaat na ’n geliefde kalfie gaan soek toe ‘n sneeustorm hulle oorval.

Maar het ‘n Racheltjie wel bestaan of is dit net ‘n mooi fabel? ‘n Ontstelde dame van Melkbos – een van my generasie – wou dit gisteraand by my weet nadat ‘n argivaris teenoor haar beweer het geen dokumente bestaan wat die geboorte of dood van daardie heldinnetjie bevestig nie.

Moet erken dat my vriendin my ietwat onkant gevang het. Racheltjie ‘n fabel? Toe ek gaan “google”, sien ek dit is presies wat Wikipedia die storie noem: ‘n fabel. Racheltjie self beskou hulle as “probably fictitious”.

Nou-ja. Wikipedia is nie altyd die allerantwoord nie. Maar in Protea-boekwinkels is ‘n nuwe boek oor Racheltjie op die rak uit die pen van die Engelsman Brett Michael Innes wat in sy kinderdae deur die dapperheid van die Voortrekkermeisie aangegryp is. Die boek word bemark as fiksie. Protea se bekendstelling lui: “Geïnspireer deur die verhaal wat van geslag tot geslag oorvertel word, is hierdie die storie van swaarkry, opoffering en onbaatsugtige liefde wat in Suid-Afrika gedurende die laat 1800s, afspeel…”

Die “verhaal wat van geslag tot geslag oorvertel word” ? Nou-ja, Protea is nie sommer ‘n hierjy-uitgewer nie ‘n Mens kan maar van sy uitsprake kennis neem.

Intussen maak Innes ‘n rolprent oor sy boek. Hy het die draaiboek geskryf en doen self die regie. “Daar is ongelukkig nie baie inligting oor haar beskikbaar nie. Ek het ’n afspraak met navorsers by die Voortrekker-monument om verder oor haar op te lees. Dit is vir my belangrik om kykers met ’n duidelike beeld te laat van die lewe van die Voortrekkers gedurende die 1800’s.”

Mieliestronk.com wat in derduisende huise vir kinders ‘n soort kennis-bybel is met die oog op skooltake en dies meer, laat Racheltjie aan die ander kant geloofwaardig klink. ‘n Jong heldjie soos Dirkie Uys. (Die illustrasie hierbo is by mieliestronk geleen.)

En uit Harrismith kom ‘n e-boek deur Biebie de Vos en Tienie van Rooyen wat Racheltjie in die konteks van ‘n gesin plaas. Daar is datums, name, plekke.

Wat sou die waarheid wees? Vir hierdie ou gryse sal dit maar swaar wees om te sluk Racheltjie is ‘n verdigsel in die liga van Krismisvader en die tandemuis! (hvd)