KIERIEKOMMANDO

Middag uit Melkbos

My eerste kierie is een wat my seun Johan vir my laat maak het uit die geldjies wat hy as koerantseuntjie in Bloemfontein verdien het: ‘n swarthout-kêrel wat nou so dertig jaar oud is en heelwat littekens op sy kersftok het. Johan het hom spesiaal by ‘n meubelmaker laat draai. Hy lê nog na aan my hart.

Trouens, op Melkbos is hy my nommer een-kierie, hoewel ek wandelinge op die strand deesdae liewer aandurf met ‘n moderne, verstelbare wandelstok uit aluminium – ‘n sogenaamde Scout First Ascent. ‘n Rooie nogal. Sy slim ontwerp met ‘n ronde skermpie onder naby die punt sorg dat hy nie in sagte sand wegsak en sy afhanklike op daardie manier tot fisieke struikeling bring nie.

Dis die regte “kierie” – net wat die dokter ge-order het as ‘t ware – vir ‘n ou wat van ‘n vroeë lid van die kieriekommando intusen tot ‘n hinkepinker agteruitgegaan het: heupe verslyt maar oweral rondom my ook bra vinnig.

Op Sabiepark is my gunsteling-kierie ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat met ‘n spoggerige blink vlakvarktand as handvatsel. Die dag toe my kollega Jan Scholtz met sy onblusbare liefde vir hout en sy uitsonderlike skrynwerkers-vakmanskap die erfstuk te voorskyn bring, kon ek net oorstelp dankie prewel en Tokkie roep om die kamera te bring.

Die oorhandigingsfoto is hierbo. Die plegtigheid is daardie aand afgerond met die tradisionele vuurtjie, tjoppies en wors en ruim aanwending van Kaapse kultuur in blanc de blanc-vorm. Jan is ‘n groot Namakwaman; ek hou van my Perdeberg, Boland of Bonnies (KWV se Bonne Esperance wat jy waaragtig ook deesdae in ‘n netjiese drieliter-boks kan koop). Saam kan ons ‘n bottel of twee seermaak.

Daardie kierie word agter slot en grendel bewaar as ek en Tokkie nie in residensie is nie. Een keer het ek dit so goed weggesteek dat ek ses maande later dag die vlakvarktand het dalk ook moeti-moontlikhede soos renosterhoring en is om daardie rede uit Wildevy 154 verduister.

Ek het al hier vertel hoe enorm my dankbaarheid was toe ek hom in die klerekas se donker hoekie agter baadjies en goeters versteek kry. Tokkie wou toe by my weet: “Sal jy ook so bly wees as ek sou wegraak en jy my weer vind?” Het haar ‘n antwoord skuldig gebly!

Ek het in Sabiepark ‘n hele verskeidenheid kieries, onder meer ook ene wat my studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai by die kraampies op pad na die Krugerhek van die Wildtuin vir my gekoop het – ‘n ruwer knaap, maar met ‘n Bosveldkarakter soos min.

Party ouens met kierieversamelings wat die Guiness Book of Records kan haal, sal nou nie juis oor die omvang van die HvD-kierieversameling kortasem raak nie, maar nietemin. Ek wou maar net die punt maak dat ek al van my jare mid-veertig ‘n kierieliefde in my binneste vertroetel, en dat ek in enige geselskap – selfs die geselskap van trippelende jong meisiekinders – onbeskaamd en onverleë met ‘n kierie sal “aanstap Rooies”.

In daardie opsig verskil mense ook maar geweldig, soos in ander opsigte. Ek het ‘n neef – ‘n goeie vier jaar ouer as ek en by wie hartversaking lastige afmetings begin aanneem – wat botweg weier om met ‘n kierie te loop. Sukkel eenvoudig hyg-hyg en staan-staan voort, maar hy is “nog nie so oud nie”.

My aarde, Ben. As jy maar kon weet hoe gerieflik ‘n kierie is. Ek meen jy met jou lang lenige lyf en wit hare kan nogal elegant lyk met ‘n kierie soos Oupa Visser s’n!

(hvd)

UMSHINI BOGGOM!

More uit Melkbos

Die keuse van musiek by ‘n geleentheid kan nogal insiggewend wees van die geaardheid, voorkeure en gesindhede van mense.

By ‘n bruilof kan die dansbaan geopen word met ‘n Strauss-wals of “A Little Bit of Monica”. By ‘n begrafnis kan Frank Sinatra se “My Way” opklink of die somber gemeente prewelend sing: “O Heer, my God, as ek in eerbied wonder …”

By die bobbejaanmoles op die foto hierbo het die slagoffer sy kitaar uitgepluk en losgetrek met “Bobbejaan maak amok …” So lees ek in “Radio Tygerberg” se oulike tydskrif “Indruk”.

Ek is nie verras nie. Die slagoffer was Sedrick Taljaard, ‘n oud-Persman wat hom nou by “Radio Tygerberg” bevind, en wat aan my bekend is as ‘n gemoedelike, joviale, lewensblye mens. Hy hou van sy kitaar en sing graag. By ‘n kerkkonsert het hy ‘n keer ‘n gesimuleerde rendisie gelewer van Nicolis Louw se “Ek soek my baby vanaand” (as ek die titel reg onthou). Die konsertgangers het vreugdevolle applous uitgebars.

Ten tweede lyk daardie kombuis op Bettiesbaai bra chaoties, maar sien ek geen strukturele skade nie. So liggies kom Sabiepark-eienaars nie sommer af nie. “Ons” bobbejane is ‘n nare lot. Hulle breek gewelddadig by huise in en plunder op n groot skaal. Met my vorige vakansie (in Julie/Augustus) is minstens drie huise so verwoes dat bouers, skrynwerkers en verwers ingeroep moes word vir die herstelwerk.

Skuifdeure is uit hul spore geruk en kaste uit die mure. Mure is besmeer met onwelriekende “visitekaartjies” waarteen gewone seep en water nie opgewasse is nie. Boonop is breekgoed versplinter en meubels met hul lelike geel slagtande geskeur en andersins beskadig.

In “Die Burger” lees ek agt kese is in die laaste drie maande ingevolge twee “protokolle” van die gras af gemaak: een vir bobbejane wat “gewoond geraak het aan mense en herhaaldelik huise stroop”. Ons soek daai “protokol” in Sabiepark met ‘n seer hart!.

Intussen sing ons Sabieparkers nie “Bobbejaan maak amok” nie. Ons sing saam met Jacob Zuma “Umshini wam” (bring my masjiengeweer)! Wam, wam – klaar met kees!
(hvd)

LIGTE MISTYKIES

More uit Melkbos

Ons almal struikel dikwels, sê die Groot Boek. “As iemand nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man.” Nie almal erken egter ewe maklik as hulle gestruikel het nie – of, nog erger, deur hul struikeling ook ander tot struikeling gebring het nie.

Supermarkte stel nogal hul foute reg. Gee die duiwel wat hom toekom. Party gee vir jou ‘n produk absoluut verniet as dit verkeerd gemerk op die rak staan. Ook die vermaledyde koerante is nie onwillig om foute te erken nie, amper op ‘n daaglikse grondslag. Oor simpele foutjies soos ‘n van wat met ‘n “d” gespel is eerder as met ‘n “t, word soms korreksies geëis, en gegee (soms seker ietwat tandeknersend, maar darem).

‘n Mens sou die lysie van boetvaardiges sekerlik kon rek as jy wou. Aan die ander kant is die onboetvaardiges: diegene wat allerlei jakkalsdraaie sal gooi om ten enemale nie op ‘n fout vasgepen te word nie. Hoe ander se intelligensie in die proses gruwelik onderskat word, is soms om die hande van saam te slaan.

Ek weet van ‘n mediese fonds waarvan die lede op die oomblik tussen twee opsies moet stem. Op een plek in die amptelike dokumentasie oor die referendum staan uitdruklik: “Indien u nie stem nie, sal aanvaar word dat u in die huidige mediese skema wil bly.” Op ‘n ander plek word ‘n stemprosedure verduidelik wat ‘n wegblystem tot van nul en gener waarde reduseer.

Sekere mense met sterk gevoelens oor die saak het daardie onderstreepte sinnetjie gelees en nie verder gebodder nie. Hulle was doodgelukkig dat hulle hul doel met ‘n wegblystem kon bereik.

Daardie “ligte mistykie” en die verwarringspotensiaal daarvan is dadelik onder die aandag van die betrokke magte en owerhede gebring. ‘n Lys van misleides is op skrif verskaf. So ‘n slordigheid t.o.v. ‘n sleutelkwessie kan natuurlik die geldigheid van enige stemproses ernstig in die gedrang bring, is aan hulle uitgewys. ‘n Mens sou ‘n onmiddellike regstelling en verskoning verwag.

Maar nee, eers ‘n week later word kennis gegee dat die sperdatum van die referendum met twee weke uitgestel word om lede meer kans te gee om te besin. In die verbygaan word na “skynbare verwarring” verwys. Die aankondiging bevat geen verklaring vir die onaanvaarbare teenstrydigheid in die oorspronklike dokumentasie nie.

Besorgde lede het vergeefs na aanvaarding van aanspreeklikheid of boetedoening vir die misleiding met twee lynreg-teenstrydige mededelings gesoek. Aikona.

So ‘n ontwyking van verantwoordelikheid vind hierdie skepsel hoogs betreurenswaardig. Party mense is “skynbaar” eenvoudig nie in staat om hul onvolmaaktheid in hierdie opsig (volgens die Bybelse woord) ruiterlik te erken nie. Raar maar waar.
(hvd)

SLANG VIR BREKFIS

More uit Melkbos

‘n Luiperd wat ‘n luislang vang? Een van Sanparke se top-wetenskaplikes vertel vanoggend in Die Burger (seker ook in Beeld en Volksblad) dat hy nou die eerste keer in die wildtuin daarvan gehoor het. Twee gelukkige Somerset-Wessers het wonderlike foto’s van juis so ‘n insident naby Skukuza geneem.

Wel, as die wetenspalike gelyk het, was ons kinders Johan en Mariza van Deventer (nou van George) jare gelede in Sabiepark getuies (of amper-getuies) van selfs ‘n sonderlinger insident as wat hulle (of ek) tot op datum besef het.

Een oggend het hulle op ons motorpad uit Wildevylaan ‘n lang sleepspoor gesien. Hulle het bespiegel dat dit ‘n luislang kan wees. Hulle was nie verkeerd nie.

Die storie het later ontvou: daardie slang was besig om ‘n pasgebore duikertjie in te sluk. Die luiperd was seker baie honger. Toe val hy uit die bloute die luislang met sy brekfis in sy bek aan.

Al wat die slang kon doen, was om sy prooi op te bring ten einde te ontsnap of terug te veg. Johan en Mariza het die sleepspoor en die kadawertjie afgeneem.

Die luislang was te laat. In ‘n japtrap was hy die luiperd se brekfis.

Maar honger luiperds doen vreemde dinge. Ons het op ‘n keer op die Doispanepad tussen Skukuza en die Phabenihek gesien hoe ‘n luiperd ‘n leeumannetjie se rooibok by hom gryp en woerts daarmee in ‘n maroelaboom verdwyn. Die dikbek leeu was duidelik nie geamuseerd nie.
(hvd)

SPIOENE EN ANDER GEHEIME

More uit Melkbos

In Januarie 1983 verskyn die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep een oggend geheimsinnig op Uilenskraalmond se strand by Franskraal. Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad.

Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil. ‘n Ander gedaante kom meteens met water wat uit sy hare drup uit die branders te voorskyn. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …

Het ek gepraat van ‘n “onbekende”? Wel, dis nie heeltemal waar nie. Onbekend was Niel Barnard, Suid-Afrika se jong spioenbaas allesbehalwe. Al was die skemerwêreld van die Groter Politiek sy werkterrein, is sy aanstelling wyd uitgebasuin – hoogleraar in staatsleer (meen ek) wat deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei – iets wat hy lank en met onderskeiding gedoen het.

Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Niel nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!

Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vleisbraaivuur by Wiets en Alf se vakansiehuis (waar ons sommer die naweek na die Parlementsopening kom lekker kuier het) daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.

Die ontmoeting met Niel was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het in daardie stadium ‘n vakansiehuis naby Gansbaai gehad – het dit dalk nog. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.

Geen geheim aan daardie ontmoeting nie, ongelukkig.vir diegene wat my kom vra het n.a.v my Ton-en-FW-blog: “Vertel ons nog ‘n paar geheimpies toe!”

“Geheime” ontmoetings met Niel Barnard was daar later tog wel. Ek onthou ene by Ton se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill”. Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Niel het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela, en nog die vrees uitgespreek dat die man se enkels so dik gewel is; hy vrees hy kan in die tronk iets oorkom! Dit was 20 jaar gelede.

Dalk tog wel ook ‘n “geheimpie” wat ek kan uitlap, is die doen en late een aand in die eerste “Beeld”-jare in Johannesburg waar Ton toe redakteur en ek nuusredakteur was. Ons het daardie tyd soms gevoel of ons dag en nag werk – maar het darem nie elke dag en nag net gewerk nie. Ons kon ook partytjie hou vir die eerste span.

Die moeder van alle partytjies van “Beeld” se eerste jare het in die raadsaal begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton sy sekretaresse, Gerda Pienaar, aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie — Ton, ek, Salie de Swardt en Twakkies Laubscher — asook senior redaksielede soos David Moolman en Piet Gouws, ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was na ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank voortgewoed..

Ai, goeie ou dae! Moet Ton tog aan sulke insidente herinner as ek hom Saterdag bel om vir hom op sy 75ste geluk te wens. (hvd)