VAT SO, OU MAYAFUDI!

HvD en Mayafudi – diep spore in die bos

Middag uit Melkbos

Vat so, Mayafudi, ou maat! Vir die storie van jou swerftog kry ons uit die verre Taiwan vier sterre en allerlei tarentaalvere in die hoed.

Had ek maar ‘n slurp, het ek dit vir jou vandag hoog gelig oor die diep spore wat jou grootvoete getrap het.

Geniet daar in die Wildtuin gerus ‘n ekstra sluk salige Sabiewater en ‘n lang stofbad om Anton J. Jansen se gulle resensie van ons twee se “Spore in die bos” te vier. Op Melkbos is die vonkelwyn op die ys. Al is dit winter daarbuite, is ‘n yskoue Nuy-tjie beslis geregverdig.

In die gemoed is die sonskyn immers helder en koesterend.

Ek kom soek jou in die digte oewerbos as ek weer Sabiepark se kant toe kom – hopelik teen Kersfees. Dan deel ons ‘n knipoog om vir mekaar te se: ons twee is ‘n span! Eintlik ons drie, want e-boeke vir Afrika kom by.

Die resensie op Amazon:

4.0 out of 5 stars

Fabelagtige ervaring August 30, 2012

By Anton J Jansen

Wanneer dit kom by stories oor diere, is ek maar – lig gestel – ‘n fabelagtige snob, en min skrywers kan my vasvang met hulle verhale soos de la Fontaine en sy Franse fabels waarvan ek elke liewe een gelees en bestudeer het. Die gevolg is dat ek mettertyd begin glo het niemand kan naby hom kom nie; en daar kry ek toe ‘n heerlike verrassing met hierdie storie.

Wat my eerstens gevang het van hierdie boekie is die vroeë belofte (aangesien ek dit op Kindle gelees het kan ek ongelukkig nie pagineer nie), “Hy besef egter met ‘n pyn soos ‘n dolksteek dat hy verkeerd gedoen het. ‘n Eerbare olifant kan hom beteuel…Die veldwagters sal weldra begin soek, swaar gewapen…met die opdrag om die gevaarlike bul van kant te maak.” En, hiervandaan bou die storie in algehele glorie van vrees by die leser oor wanneer daardie dag gaan kom…

Mayafudi is nie net ‘n olifant nie; vir my is hy ‘n LEWENDE karakter met insig, geskiedenis en ‘n gewete, en natuurlik leer die leser ‘n hele paar lesse (23 om presies te wees) oor respek vir die diereryk – waarvan die belangrikste les die feit is dat diere ook maar net gevoelens het soos mense.

Die storie is geskryf met duidelike insig vanaf die skrywer, en die vloei van die verhaal het my tot so ‘n mate geboei dat dit werklik moeilik was om neer te sit. Ek het byvoorbeeld in my volwasse klasse spesiale “lees sessies” aan my studente opgedra, net sodat ek onversteurd self verder kon lees – hulle met vervelig-verpligte artikels, en ek kuier ongesteurd saam met Mayafudi. Was die boek beskikbaar in Engels, het ek dit vir hulle verpligte leesstof gemaak.

Gevolglik kon ek egter die verhaal slegs oorvertel, en hulle het aan my lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het ek nuut gelees omtrent Mayafudi. My studente is Taiwanees, en gevolglik ken hulle nie (behalwe vir troeteldiere) die diereryk soos ons Suid-Afrikaners nie. En, dis waar die lekkerste van lekker ingekom het: om die verhaal met my studente te kon deel.

Die een ding wat bo alles uitstyg in die verhaal, is “‘n Trop olifante bestaan nie net uit ‘n klomp vreemdelinge wat toevallig saambondel nie. Die lede vorm ‘n sosiale groep wat vriendelik is met mekaar en mekaar se laste dra.” Hoe wens ek dat dit weer die geval kan word onder die mensdom. Daar is uiteraard BAIE wat ons by olifante kan leer.
Wat die boek verder aanbevelenswaardig maak, is die feit dat daar, soos vroeër gesê, soveel lesse is om te leer, en nie een van hierdie lessies is iets wat in jou gesig gegooi word nie, en dis nie prekerig nie. Jy besef eenvoudig dat jy nog iets geleer het.

Die boek is beslis ‘n moet lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifant kan leer; en met oorvertelling, kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net ‘n lekkerlees verhaal nie, maar dis uiters opvoedkundig.

‘n Laaste woord van my kant af: wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.

Ek sou graag die boek ‘n vyfster-gradering wou gee, maar ons het as lesers verskillende verwagtinge, en ek sou nie graag iemand wou teleurstel in hulle persoonlike verwagtinge nie. Lees dit gerus en besluit self of jy die ekstra sterretjie sou gee. Van my kant af, dus ‘n fabelagtige verhaal wat deur-en-deur die moeite (baie min daarvan, aangesien dit baie vinnig lees) werd is.

(HvD)

BIER EN KULTUUR



Kollege se “Booze”-klub van 1959

More uit Melkbos

‘n Gaping in die geskiedenis van die Aula, my alma mater Tukkies se hart van die uitvoerende kunste, verdien om met sy heropening gisteraand opgediep en aangeteken te word. Hierdie joernaalskrywer is bereid om die takie te onderneem.

Net ses Tukkies van die era rondom die eerste opening, op 6 September 1958 met ‘n konsert deur ons eerste eie prima donna, Mimi Coertse, ken daardie stukkie geskiedenis van binne. Ons was almal lede van Kollege-tehuis (toe nog op die kampus) se berugte “Boozeklub” van daardie dae. “(In ordentlike geselskap is na die “Boozeklub” eufemisties as die “Bierklub” verwys.)

Oorspronklik was ons agt. Twee is egter oorlede. Vrydagaande het ons gewoonlik Tant Bella (die Hotel Belvedere in Kerkstraat) besoek. Ons kaptein het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê “rum” is dit “rum”, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap!

Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate pilare van hul gemeenskappe geword. Maar dit net terloops.

Wat hier relevant is, is dat die eerste verjaardag van die Aula, wat ‘n deftige okkasie was, in 1959 saamgeval het met ‘n besonderse byeenkoms van die “Boozeklub” op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) – minder deftig as die Aulastorie maar ewe gedenkwaardig en kwalik onoortrefbaar in vrolikheid.

Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister is. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.

Ons het die brassery almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.

Ek bemerk die drag vir vanjaar se heropening was dagpakke en tradisionele drag. Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aanpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra.

In elk gevalk met pouse beweeg van die statige gaste toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en die Aula se stoep op te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.

‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede”skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.

Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Het ook vir Mimi daar hoor sing: opera-arias maar o.m. ook die aangrypende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi” (Schatsli/Skatjie) as toegif.

Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike asters na die een of ander Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang. Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie. (HvD)

MY BLOGBOEK

More uit Melkbos

Party mense doem lewensgroot of groter voor jou op as jy terugdink. Sulke mense maak hul buiging in my nuwe boek “Lewensgroot en Groter” wat by die drukkers is. “Lewensgroot” is ‘n blogboek en menseboek. Dit bevat ‘n keur uit my blogs oor mense wat die afgelope vyf jaar by hennievandeventer.com en litnetblogs verskyn het.

In die 80 blogs in die boek skryf ek veral oor “eie mense” wat groot voor my geestesoog opdoem; naastes oor wie ek die pen in deernis doop. Oor sommige mense skryf ek afsydiger. Of dalk nie altyd so afsydig nie … Buiten naaste familie, vriende, kollegas, studente- en skoolmaats figureer bekendes soos Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Ton Vosloo (selfs André Rieu, André P Brink, Chris Louw en Max du Preez).

Die boek bestaan uit 224 bladsye, is professioneel versorg en is op die beste papier gedruk (dieselfde papier as “Duisend Dae Langs Die Sabie”).

Hierdie blogboek is vir my ‘n hartsding. Ek laat ‘n beperkte oplaag druk en dink hoegenaamd nie kommersieel oor hom nie. Vir medebloggers doen ek dus graag ‘n spesiale aanbod: koop ‘n eksemplaar (of twee of meer eksemplare!) absoluut teen produksie- plus versendingskoste. Die boek by my op Melkbos afgehaal kos R75,00. Versending per pos of aflewering is R25 vir elke twee eksemplare.

Om te bestel, betaal die regte bedrag in die volgende bankrekening: J.H. van Deventer, Absa Table View, 550-145-715. Vir internetbetalings is die kode 632-005 en vir toonbankinbetalings 334-409. Die verwysing is jou voorletters en van plus die woord boek.

Stuur dan jou posadres per e-pos, sms of faks na lewensgroot@mweb.co.za / 083 252 8165 / 021-553-1761. Ons kan hopelik binne 10 dae begin bestellings uitvoer.

EINA MAAR TOEMAAR!

Patson, staatmaker-arbeider in Sabiepark, by die nuwe swembadseil.

More uit Melkbos

Nee, ek gaan liewer nie die grappie waag dat hierdie die loodsing is van ‘n Van Deventer-hulpfonds of iets van daardie aard nie.

Het op Tukkies met ‘n ligsinnige opomerking in daardie trant my voet in ‘n ding gesit. Dit was na ‘n ongeluk met my eerste vuurwa, ‘n onversekerde Peugeot 203 van 1953. Op ‘n dag vra ek vir Naas du Toit: “Het jy al bygedra tot die Van Deventer-hulpfonds?” Hy begin stamelend verduidelik van sakgeld wat nog moet kom.

Later oorhandig my koshuismaats – ai, wonderlike ou Kollege – aan my ‘n koevert vol note. Glo nie jy sou Naas ooit kon oortuig dat ek salig onbewus was van so ‘n insameling nie!

Ewenwel, die teenspoede van die wintervakansie het bly opstapel tot die formidabele lysie wat ek met die samewerking van ons huis se klerk van werke, vroulief Tokkie, vir algemene insae hier publiseer.

Die lys begin met ons Melkbosse posbus wat vasgeroes het. Terwyl ons in Sabiepark op pos wag, spook allerlei mense toe hier om die deur oop te ruk en pluk. Ten einde laaste vervang moes die slot vervang word. Dit kos R91,00 wat, vreemd genoeg as jy eienaarskap in aanmerking neem, deur ons, die huurders, opgedok moes word. Daarna volg dinge plus-minus chronologies.

Sabiepark:

Herstel en diens van die Junkers-gaswarmwatertoestelle
Twee nuwe voorbande vir die bos-Honda
Raps die modderskerm van mnr. Mathebula se Mazda 323 by parkeerplek op Hazyview;
Herstel van rokende gas-vrieskas en daarna ook die gas-yskas;
Nuwe ruitveërrubbers vir die Honda;
Nuwe wieletjies vir die skuifdeur;
Vervang stukkende stoorkamerdeur;
Herstel stukkende toilet;
Buitelig se skakelaar raak onklaar;
Vervang swembadseil en stuur die nuwe binne drie terug Nelspruit toe omdat water deursyfer by die lasplek;
Twee nuwe beddens vir gastekamer;
Vier eetkamerstoele se bamboes skeur onherstelbaar;
Houtstoepstoel gee die gees;
Brandblussers moet versien word;
Ander eiendom oorstroom toe pyp in kombuis bars;
Drarekenaar deur virus besmet;
Kombuislig moet vervang word.

Terug op Melkbosstrand:

Motor erg deur nat teer besmeer toe vriend gaan ry om battery te laai;
Rekenaar verloor sein;
Voordeurklokkie deur miere ingeneem;
Mikrogolfoond daarmee heen;
DSTV-sein onopspoorbaar op TV;
Musieksentrum in woonkamer bring net krapgeluide voort;
Musieksentrum in slaapkamer maak g’n geluid nie;
Ses gloeilampe moet vervang word;
Faksmasjien se ink raak op;
Bure se prominente nuwe wasgoeddraad voor ons woonkamer – hoër heining dringend nodig; Voorportaal oorstroom (amper ‘n GROOT ramp as ons nie terug was nie).

Ten slotte, hoop ek, breek ‘n sleutel toe boonop in ‘n buitedeur se slot af.

Wat dit als gekos het? Weet nie presies nie. Toe ons by R10 000 kom, het ons opgehou tel.

Maar Melkbos en Sabiepark – hulle bly maar melk en heuning. En die Van Deventers? Klippertjies in die skoen of te nie, hulle mag nie kla nie. Hulle bly onverdiend geseënd.

Eina maar toemaar. (HvD)

EK EN MY VUURTJIE ….

Middag uit Melkbos

Here, as ek regtig
vir enigiets, maar
enigiets, mag bid –
Here, kan ek maar
vir ewig by my
kampvuurtjie
bly sit?

Op die foto’s is ‘n paar Sabieparkvuurtjies tydens die kuier van ons kinders van George, Johan, Mariza en Migael van Deventer. (HvD)

GASVROU EN GAS-VROU

Middag uit Melkbos

Toe ons in 1992 in Bloemfontein weg is, het Johan van Wyk, karnallieskrywer van die rubriek Stop van Myne, hom oor Tokkie as gasvrou soos volg uitgelaat: “Ek ween by voorbaat oor Tokkie se lekker kos. Net ‘n Van Wyk (sy was Tokkie van Wyk) kan só kos maak vir ‘n Van Wyk.”

Hy en ander redaksielede van Die Volksblad (nou net Volksblad sonder die Die) sou onthou hoe sy lag-lag die hele redaksie plus gades uit haar kombuis in Genl. Van Schoorstraat 1 kos gegee het, terwyl die uwe draf met die drankies. ‘n Honderd gaste het nie vir haar (plus die getroue, skraal Bulfonteinertjie Miriam) laat skrik nie.

Dis egter nie oor TvD die gasvrou dat ek vandag skryf nie, dis oor TvD die gas-vrou.

Daardie koppelteken maak ‘n wêreld se verskil. By laasgenoemde gaan dit nie om potte op die stoof en goeters in die oond vir honger gaste nie; dit gaan om gas as kragbron. Sissende gas in swaar silinders. In Sabiepark het ons drie yslike menere – 48 kilogram elk. Hulle is gekoppel aan ‘n vrieskas, ‘n yskas, ‘n tweeplaat-stofie en twee warmwatertoestelle (outydse “Junkers”).

Nou-ja, die vakansie moes die gas-vrou eers bontstaan met die vrieskas wat skielik alleraakligs aan die rook gaan. Hy gooi sulke swart roet bolle die vloer vol. Tokkie skrop en borsel, maar uiteindelik moet hulp wel uit Hazyview ontbied word. Net daarna kom die yskas aan die beurt. Hy blaas sulke digte rookwolke en stink ons uit die huis uit.

Om elke keer ‘n tegnikus 40 km ver te laat kom, kos ‘n klein fortuin. Ek gryp die handboek (Ïf you are in doubt consult the manual!) Sy is plat op die naat van haar rug en begin volgens die boek se voorskrifte plate afskroef, konneksies wegbuig en eindelik die hele skoorsteen ontkoppel.

Dis ‘n vreemde en gevaarlike ontdekkingsreis. “Bring die brandblussers,” gebied sy, en ek hôl gehoorsaam om die opdrag uit te voer. Gelukkig raak die brandblussers nie nodig nie. Tokkie werk die dik aangepakte roet se gal vir ‘n vale, en die yskas reageer bedagsaam. Toe my vrou die vuurhoutjie trek terwyl die uwe tandeknersend die regte knoppie met sy toon wegtrap, vat die yskas met ‘n siddering. Hy glip gemaklik in die koudmaak-funksie terug. Rook, roet en reuk bly weg. Bevryding!

‘n Derde gas-toets lê voor. Om redes wat nie hier relevant nie, moet ons ‘n leë silinder op eie stoom by die kiosk besorg vir vervanging met ‘n volle. Ek is oortuig die Honda se kattebak het oorgenoeg spasie vir die takie. Dit blyk egter die silinder is te vet om onder die dwarsbalk vir die bagasiebak se beskermende seilskerm in te pas.

Nou kan die luikdeur nie toe nie. Ook nie die boonste agterruit wat los van die deurgedeelte funksioneer nie (slegs Honda-eienaars sal begryp). Al genade is dat ons met ‘n oop ruit en oop deur moet ry. Twee komplikasies: die ruit kan maklik breek as ons so op die onegalige Sabieparkpaaie op en af kiosk toe wip-wip, en die silinder kan hard met die grond kennis maak.

Dis waar TvD werklik haar staal as gas-vrou toon. Sy aanvaar die uitdaging, klim rats bo-oor die silinder en gaan sit op hom soos iemand wat ‘n perd bloots ry. Met die een hand gryp sy die ruit en met die ander die deur. Daar trek ons al stampende oor die hobbels. Die derde keer toe haar kop in die beperkte ruimte onsag ‘n balk of ‘n ding tref en sy die derde kragwoord deur dun lippe pers, trap ek rem.

“Wat maak jy nou?”

“Gaan jou afneem.”

Die resultaat is die foto hierbo. Toe ek dit vir my vriend Kapous Mouton wys, betig hy my dadelik: “Moet dit nie weer aan Tokkie doen nie. My bakkie is altyd beskikbaar.”

Dankie, Kapous, maar eintlik is dit ook maar ‘n ridderlikheid wat agter die deur verskuil is hierdie. Kapous skroom nie om Leonora ‘n VOL silinder te laat help dra nie. Hy koop graag sy gas teen die laagste moontlike prys en vermy afleweringskoste as dit hoegenaamd kan.

Die twee is ervare en bekwame gas-draers. Een keer loop iets egter verkeerd. Kapous se ent glip uit sy hande. Met die val ruk die ander ent Leonora se skouer uit potjie en wat nog. Die resultaat is ‘n stuk ortopediese chirurgie, ten duurste natuurlik soos ortopediese chirurgie neig om te wees. En herstel kom nie oornag nie.

“Maar nou-ja,”sê ek vir Tokkie, “nou het die Moutons se mediese fonds ten minste Kapous se gas gesubsidieer!” (HvD)