O SMESJ, SMS-MOLES!

More uit Sabiepark

Om ‘n verkeerde knoppie te druk, kan afgryslike gevolge oplewer.

Ek weet van ‘n bejaarde van Ficksburg in die Vrystaat wat ‘n volledige manuskrip met sy hele lewensverhaal op daardie manier uitgewis het. Hy het hom in die noodlotsfoutjie berus. Sy lewensverhaal – boeiend soos dit dalk was – het toe nooit die lig gesien nie.

‘n Ander ou wou op sy wittebroodsreis met sy nuwe vrou uit hul hotelkamer in New York gou sy kantoor in Johannesburg bel. Uit die magte van gewoonte skakel hy sy ou huisnommer. Mevrou Nommer een gee bly-verras antwoord.

Dit word mettertyd ‘n al hoe ongemakliker driegesprek met die kommentare van die twee dames wat al hoe ysiger in ons held se ore raak.

Bedink jou ook die opskudding toe die p.a. van ‘n voorste Randse prokureur ‘n regsmening oor die afdankbaarheid van ‘n senior personeellid nie aan sy hoof nie maar aan die betrokkene self faks. Die man was buite homself!

‘n Mens se hart gaan eweneens uit aan die onbekende iewers in die buiteland wat ‘n sms aan die verkeerde nommer gestuur het: “Vat van die huurgeld en koop daarmee ‘n kisruiker.”

Daardie kis (seker met die oorskot van ‘n geliefde) sou waarskynlik erbarmlik kaal moederaarde binnegaan, was dit nie dat die ontvanger, my dogter, Marisa, vir die afsender laat terugweet het van die misverstand nie.

Die kampioen van kampioene van sms’e wat verkeerd afgelewer word, het die uwe ‘n week of wat gelede te beurt geval.

Iemand wou iets onverdiend onvriendeliks kwytraak, en stuur die sms toe per abuis na hvd pleks van die kêrel by wie hy wou skinder. Die voorletters van ons twee is amper dieselfde.

Nog voordat ek sy boodskap kon lees, was die tweede sms al op my selfoon: “Ignoreer – verkeerde adres”. Ek het in my mou gelag oor die man se verleentheid. Kry nou nog van tyd tot tyd ‘n glimlag van oor.

Maar een boodskap is darem nie geheel by my verby nie: dat ek op ‘n bepaalde tydstip só droefgeestig van voorkoms was dat dit gelyk het of ek “elke oomblik in trane kan uitbars”.

Ek werk daaraan om ‘n vroliker voet voor te sit, vriend!

(hvd)

VERBETE MENSE MET FRIS LENSE

Middag uit Sabiepark

Met tamaaie lense soos fris manne se bobene het entoesiaste vanjaar die Wildtuin se voëlskuilings so kant en wal gepak dat ‘n veldmuis skaars ‘n gaatjie sou vind.

‘n Swetterjoel indrukwekkende lense – party op sulke swaai-gedoentes soos ‘n tandarts-stoel – het Lake Panic, by Skukuza, veral een Saterdag van vroegdag onder militêre beleg gehad.

‘n Mens gun daardie garde die vreugde van hul stokperdjie en duur toerusting, maar my vrou, Tokkie, merk op dat op die meeste gesigte geen vreugde te bespeur is nie – net verbetenheid om ‘n goeie kameraskoot tog tot elke prys nie te mis nie.

As ‘n voël net vlerke fladder of – halleluja! – opstyg vir ‘n demonstrasievlug, dan rat-tat-tat die sluiters soos masjiengeweervuur. Die groter prentjie van die natuur gaan vele egter verby.

Daardie dag het jy by Lake Panic vergeefs rustigheid gesoek. Selfs om ‘n sitplekkie te kry, was plus-minus onbegonne. Hoe dankbaar is hierdie ou nie vandag as hy met sy beskeie Canon Lake Panic se lang paadjie binnestap nie. Die wintervakansie van 2012 is – hoera! – iets van die verlede.

Nog rede vir stille blydskap: die drastiese afname in verkeer op die rivierpad na Onder-Sabie. Twee keer op een dag het ek by ‘n leeutjie of drie naby die pad in sulke knope vasgeval dat die wêreld se beste verkeersbeheerstelsel magteloos sou wees.

Hoe ontknoop jy die chaos as twee rye motors van een kant kom en twee rye van die ander kant? Vergeet dit – dis skaakmat.

By die hekke vloei sake heelwat vinniger. Die kansvatter-dagbesoekers met drank in hul kattebakke is genadiglik minder – veral ook diegene wat dan boos die pad versper terwyl hulle dreigend sake met die arme hekwagte probeer uitsorteer.

Twee stories wil ek graag deel:

Een is van die ou wat met sy mik-en-drukkie by Lake Panic instap net toe een van die beste sitplekke leegraak. Hy skuif dankbaar in en begin kiek. Sy gesig registreer net vreugde oor die pragtige natuurskoon.

Nommer twee is van ‘n vriend, ‘n dokter, wat onwetend met 14 biere van sy seun by die hek opdaag. Eerder as om die lafenis prys te gee, ry hy ‘n entjie terug en versteek dit, bedek met grassies, onder ‘n bossie. By die hek is sy motor weldeeglik ondersoek – waar’s daardie bier dan nou? En die bier? Dié het veilig onder die grassies op hom gewag! (hvd)

VERJAARDAG IN DIE BOS

Heildronk by die piekniekplek. Die verjaardagman sit links.

Middag uit Sabiepark

Meerlust Rubicon, Uitkyk Carlonet, Beyerskloof Pinotage Reserve, Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon, The Chocolate Box van Boekenhoutskloof (almal tussen 2007 en 2009) – dis die klas rooi menere wat die laaste paar aande by Tarlehoet geniet is.

Broerskind Marcus Malan het dit saamgebring vir sy 30ste verjaardag onder die sterre in die bos. Die suksesvolle jong prokureur van Pretoria (nog ongetroud, dames!) hou van die goeie dinge van die lewe. Hy is ‘n wynfundi en ry ook ‘n afslaankap-Volvo wat uit Swede ingevoer is.

Ons vleise het ingesluit ‘n reuse-skaapboud, perfek gebraai in die Weber, twee groot filette op die oop vuur, sosaties en wat nog. Dit was ‘n kulinêre fees.

Sabiepark het saamgespeel om die okkasie gedenkwaardig te maak. By die piekniekplek het ‘n luiperdwyfie en haar twee spelerige welpies vir opwinding gesorg. Die volgende oggend bekruip die mannetjie-luiperd daar oop en bloot ‘n troppie rooibokkies.

By Tarlehoet was die bloukuifkoeries die paar dae die inwonende standvoëls as ‘t ware. Van vroeg tot laat kon jy hulle by die watergat sien rondspring.

Drie fris bosnagape het met die nagapies en die vrugtevlermuise om die stukkies piesang kom meeding. Laasgenoemde kom op die tafel afgeduik soos vegvliegtuie – ‘n hele aardigheid.



Akkedis-brekfis

As spesiale tot-siens-plesiertjie kom verorber ‘n jong swartvylslang (‘n skaars nagslangetjie met prominente persbruin tot swarterige skubbe) vanoggend langsaam ‘n brekfis-akkedissie by die Van D’s se agterdeur. Wonder of ‘n slangetjie al ooit so uit alle hoeke gekiek is terwyl sy prooi stadig-stadig in sy oop bek en trillende lyf verdwyn.

Saans het die kampvuur hoog gebrand en die fakkels om die lapa in die salige windstilte hul vlammetjies regop die lug in gestoot. Marcus se ouers, Cules (my jongste broer) en Dalene, sy broer, Pierre, en dié se vriendin, Yvette van Zyl, het ook saamgekuier.

Vir Yvette was dit ‘n kennismaking met die bos. Sy kom beslis weer, belowe sy. Soos Pierre is sy ten volle ingesluk (“immersed”) deur die boslewe wat vir kamera-entoesiate soos hulle twee eindelose kiekplesier bied. Ek sien gretig uit na die foto-oes uit hul kreatiewe lense. (hvd)

VROEGOPSTANERS

More uit Sabiepark

Rêrige wildtuinmense is vroegopstaners. Een oggend staan hulle spesiaal vroeg op: wanneer hulle in die tou inval om vir hul volgende jaar se kuiers plek te bespreek.

Op Maandag 2 Julie het die besprekings vir Junie 2013 geopen – Suid-Afrika se prima-wintervakansiemaand. Dit is die maand dat al die kampe in die wildtuin uit hul nate wil bars.

Die Junie-garde roer spesiaal vroeg as hul beurt vir besprekings aanbreek. Hulle weet maar te goed die gewildste kampe vlieg soos geurige braaiwors by ‘n kerkbasaar.

Ek en Tokkie se koppe staan in Junie 2013 weer Balule toe – daar waar ons op 30 en 31 Julie saam met vyf groepe studentemaats die hele kamp gaan beset.

Toe Krugerhek om 06:00 open is ons in, en toe ons by Skukuza stilhou, is net een ou van Nigel voor ons voor die swaar houtdeur van die kantoor.

Die deur swaai om sewe-uur oop. Toe die ontnugtering: ons is nie meer nommer twee in die tou nie. Nou is ons nommer ses. Nommers een tot vier wag klaar binne – hulle is deur die “mopvrou” by ‘n sydeur ingelaat!

Daardie vier is wildtuineveterane. Hulle loop mekaar elke jaar raak as die Junie-besprekings open. Ken ook mekaar se name en voorkeure.

Nommer een is Victor Hachiya van Alameda, Kalifornië – oorkant die baai van San Francisco. Dis al tien jaar of langer tradisie dat die Hachiya’s in Skukuza die Junie-“baan open” as’t ware. Hulle kom met koffieflesse en rekenaars gewapen … en bespreek elke jaar vir uitvoerige wildtuinvakansies.

Hulle kry wat hulle soek. Sommer nommer drie en nommer vier loop hulle egter vas. Onthou oral in die land is daar van 07:30 ‘n gewoel op Sanparke se rekenaars. Een ou wou eintlik in Satara of Onder-Sabie plek bespreek, maar hy was te laat. Hy vat Skukuza met ‘n glimlag. “As ek nie in Junie in die Wildtuin is nie, raak ek siek!”

‘n Ander kla dat groepe klaarblyklik ‘n binnebaan kry. Hoe dan dat hy jaar na jaar met sy tweede keuse tevrede moet wees?

Ek en T was die ene senuwees toe ons beurt aanbreek. Ons kry toe wel plek in Balule vir 22 en 23 Junie (volmaan!). Ons kry egter net twee rondawels, nie al ses, soos ons graag weer sou wou nie. Ons is nogtans in die wolke. (hvd)

OU KOERANT SE NUUS

More uit Sabiepark

‘n Glasie rooiwyn kantel om. Vinnig word getas na ‘n ou koerant in die hopie onder die kombuisblad om onder die nat tafeldoek in te skuif.

Die volgende oggend val my oog op ‘n opskrif op die gevlekte papier van die ou koerant, nou op pad drom toe. Toe op ‘n tweede opskrif en ‘n derde … Die ou nuus van maande gelede kry weer lewe.

Nuus is ‘n bederfbaarder produk as ‘n piesang, word altyd gesê. Maar soms word nuus darem te vinnig deur die media eenkant toe gegooi. Lank voordat ‘n konklusie bereik is, raak belangrike nuus eenvoudig vergete.

Die Steenkamp-moorde by Griekwastad: wat het van daardie ondersoek geword wat in ‘n stadium volgens die polisie só klinkklaar was?

Piet Byleveld se nuwe spoorvattery agter Inge Lotz se moordenaar aan: gebeur iets aan daardie front?

Julius Malema se wit protégé, Jonathan Ovadia: is hy só vinnig van die toneel soos hy skielik uit die bloute sy opwagting gemaak het?

Die onbeantwoorde vrae kan ingeryg word. Dalk die belangrikste vraag van almal: het nuusredakteurs nog sulke dik dagboeke waarin alles wat voorkom aangeteken word?

Hoe ‘n koerant sonder ‘n goeie dagboek sy ding kan doen, sal ek nooit begryp nie. Soms lyk dit egter, helaas, of die goeie tradisie van die dagboek soos vele ander goeie tradisies uit die mode geraak het. Of het dit nie?

(hvd)

HULLE PIK-PIK NIE

Middag uir Sabiepark

Soos ‘n hemelse koor was dit toe die sowat 75 sterk, jong stemme van die Puk-universiteitskoor geliefde psalms, ander gewyde liedere – selfs ook Sarie Marais en My hartjie, my liefie – vanoggend (Sondag) in die karaktervolle boskerk in Skukuza laat opklink.

Natuurlik was die Magaliesburgse Aandlied op die program – dit is omtrent dié koor se handelsmerk. Ook een van Hans du Plessis se Griekwapsalms: Psalm 100. Psalm 42, Soos ‘n hert in dorre streke, het vir ‘n mooi natuurlewe-element gesorg.

Aan die einde het die koor intiem langs die kerkbanke kom stelling inneem en gevoelvol vir die versamelde Wildtuin-gemeentetjie gesing: God sy met u tot ons weer ontmoet en Laat Heer U seën op hul daal, laasgenoemde plek-plek met hande-oplegging.

Toe die 90 minute verby was, was daar staande applous, en nat oë, onder andere van mev. Tokkie van Deventer. Sy bely wel dat sy selfs ‘n traan wegpink as ‘n nuwe Pick’nPay geopen word, maar hierdie uitvoering was besonders aandoenlik.

Toe ons uitstap, het ek gevoel dis ‘n geleentheid om jou Potchefstroomse
getuigskrifte uit te haal. Vir wie ook al wou luister, het ek vertel ek het op Potch-Volkies matriek geskryf. Gimmies was die bo-dorpse skool, maar ons het hulle omtrent in alles uitgestof, veral rugby en krieket.

Hans du Plessis, die man agter die Griekwapsalms, is boonop ‘n maat. Ons het mekaar in 1976 in Cambridge, Massuchsetts, op die lowerryke kampus van die Harvard-universiteit ontmoet. Daarna is ons dikwels naweke saam op verkenningstogte New England binne. Hans was ook ‘n betroubare babawagter – in ruil vir Tokkie se lekker boerekos.

‘n Derde Puk-konneksie was ‘n meisie wie se naam ek nie sal noem nie. Miskien is sy met ‘n jaloerse man getroud. Of sy kon mooi sing, weet ek nie, maar as sy soen, het sy nie gepik-pik nie. Soos haar alma mater se koor 50 jaar later – hulle pip-pik nie as hulle die volume ooptrek nie.
(hvd)