SPOOR IN DIE AS

More uit Sabiepark

Tokkie is ‘n meisie vir spore en mis.

Van haar bosplesiere hier in Sabiepark is ontdekkingstogte saam met die kleinkinders. Te voet vat hulle elke dan en wan die spoor in Wildevy af piekniekplek se kant toe.

Spore word met skerp takkies omkring, bespreek en ontleed. Van die verskeidenheid kittels word monsters versamel. Dit word in deursigtige kokertjies na Oupa aangedra vir sy goedkeurende kommentaar.

In my oë (dalk bevooroordeeld) is my vrou ‘n kenner. Sy mis niks. Sedert daardie bewoë oggend van 24 Julie 1998 toe ons deur leeuspore op die hoek van Wildevy en Worsboom verras is, het sy haar in die onderwerp verdiep.

Sy is nie sommer een wat ‘n leeu-alarm sal maak op grond van ‘n bobbejaanmannetjie se spoor nie – soos een van die Sabieparkveterane ‘n keer tot sy diepe verleentheid.

Een spoor – eintlik twee – ontspoor haar egter gereeld. Wanneer is dit hiëna en wanneer luiperd?

Op die Total-plakkaat op die stoep en in Clive Walker se uiters nuttige boekie ‘Signs of the Wild’ in ons boekrak is die verskille onmiskenbaar. Die luiperd se kussing is kleiner as dié van ‘n leeu en ronder as dié van ‘n hiëna. Die hiëna se spoor is breër en sy tone is langer en maerder. Sy skerp kloue verraai hom dadelik.

Goed, dis op prentjies. In sagte sand is identifisering soms uitdagender.

By ons braaiplek bespeur Tokkie toe ‘n raaiselagtige spoor. Hiëna, dag sy eers. Dié dierasies loop elke aand die wêreld vol op soek na iets te ase. Maar as ‘n hiëna daar in die as getrap het, hoe het hy daar gekom? Die enigste roete is verby die ketting, oor die stoep en dan by die trappe af. Bowendien, waar’s die kloutjies?

By die hek is in swierige sierskrif – die letterkuns van die nuwe hekwag, Calvin – ‘n kennisgewing: “Leopard activity in Sabiepark.” Skielik begin sy wonder. Clive Walker word geraadpleeg. Die Totalplakkaat word fyn bestudeer.

Ongetwyfeld luiperd, is haar bevinding. Dié gevaarlike katte word deesdae onheilspellend dikwels hier tussen ons boshuise waargeneem. Hierdie een is sweerlik oor die lapa se heining vir ‘n ondersoek ter plaatse by ons braaiplek. Hoop dié ou rondloper het sy tone verbrand!
(hvd)

RADIO ZEESEN UIT DIE BOS

Goeie more uit Sabiepark

Eintlik moet ek hierdie eerste aanmelding uit die bos hierdie wintervakansie afskop met: “Radio Zeesen hier …..”

Die kernmerkende gekras, gekrap en gefluit van die bekende Duitse kortgolfsender van die Tweede Wereldoorlog word gedupliseer deur die nare geluide uit die Van Deventer-bors.

‘n Hardnekkige verkoue het die uwe beet, ewe hardnekkig as die konstante koue wat, totaal ontipies, elke aand truie en baadjies uit die kas laat kom.

Met HvD ietwat aan die herstel, is dit mev. VanD se beurt by die medisynekas. Sy hoes, proes, fluit, hyg vir die eerste span. Dit is nie bevordelik vir ‘n berug ontvlambare humeur teenoor haar lewensgesel van 46 jaar nie.

Die goeie nuus uit hierdie “Zeesen in die bos” is ‘n buitengewoon digte verkeer by die piekniekplek. Solly se inskrywings elkde dag lees soos ‘n storieboek. Dis luiperds, olifante, troppe buffels … selfs al ‘n dag of wat gelede ‘n luiperd se rooibokvangs vlakvoor die gelukkige toeskouers op die dek.

Ons was tuis, toegewikkel in serpe en wagtend op die volgende dosering gorrelmedisyne toe die luiperd toeslaan.

Johan, Mariza en Migael uit George het op hul eerste Sabieparkkuier in drie jaar ook daardie ene misgeloop, maar hulle tel opgewonde al die luiperd-waarnemings – iets ongehoord in hul wildtuin-belewenis. Hulle noem hierdie hul “luiperd-vakansie”.

By hul laaste middagbraai was ‘n treffende olifantparade: drie Groot Menere het uit die bos geskommel-draf en in die water op ‘n ry op aandag gaan staan.

By die huis is veral sebras baie bedrywig. ‘n Stuk of agt slaap gereeld voor die kombuisvenster. Die stryd om die piesang-aanbod tussen die bosnagape en hul kleiner nagapie-familie duur net hoe intensiteit voort.

Nog goeie nuus is oor die veldlikkewaan wat laas konsternasie in die dak kom veroorsaak het. Sedert ons aankoms is geen geritsel of geroer uit daardie oord waargeneem nie. Die moontlike in- en uitgang is weer vir dwalende likkewane ontoeganklik gemaak. Geen geluid of agterdogwekkende grassprietjie wek die vrees dat ’n permanente loseeerder daar bo ingehok is nie.

Tot wederom.
HvD

HARTSGROND

Môre uit Melkbos

Die uitgestrekte groen oase wat Sabiepark se piekniekplek is, hou nooit op om my te bekoor nie. Die toneel op die foto sien ek Sondag weer – nie heeltemal so in sy somerglorie nie, maar altyd `n stukkie goue aarde. Hartsgrond.

Ons vlieg al teen agtuur O.R. Tambo toe. Maar dan kry ons eers om 15:00 `n bussie Nelspruit toe waar Johan, ons seun, ons kom haal met die Honda. Die hele toets se duur seil ons deur Mpumalanga. Sal eers teen 21:00 by Wildevy 154 stilhou – te laat vir `n draai by die piekniekplek.

Sondag vroeg sal ek oorstap en vir Solly, opsigter van die piekniekplek, gaan groet, of vir Elvis as dit Solly se afnaweek is. Hoop ten minste `n paar seekoeie sal my in die Sabie inwag … dalk `n olifant wat vroeg rondloop of ‘n eensame ou buffelbul besmeer met modder, `n sogenaamde “dagga boy”.

In “Duisend dae langs die Sabie: het ek oor Solly se werkplek so geskryf: Dink net, jou “kantoor” is aan die Sabierivier met `n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op die rivier en die Krugerwildtuin aan die oorkant. Die blare van die Bosveldbome vorm bedags `n dak oor jou kop; die helder sterrehemel snags. Roetine is aan jou onbekend. Van stadsgewoel en verkeerslawaai weet jy niks.

`n Verrassing op jou dagprogram – as jy ekstra gelukkig is – is dalk `n leeuvangs vlakvoor jou. Soms kom soek `n luiperd sonnetjie, maak wildehonde `n vinnige draai of slenter `n jagluiperd nonchalant oor die klippe in die rivier. ‘n Trop olifante wat met `n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete swart spikkel, is nie ongewoon nie. Ensovoorts.

Die kinders wat, na lang afwesigheid, weer sedert Maandag daar is, Johan, Mariza en Migael (5), het die week al heelwat olifante by die piekniekplek raakgeloop, onder meer die ou grote vlakby die uitkykdek (hierbo). Mariza laat weet dat sy nie weet wie het die grootste vir mekaar geskrik nie: Migael of die olifant. Die olifant is ná ‘n luide trompetter egter vinnig die bosse in.

Hul groot skrik was egter nie die olifant nie – wel `n slang wat hom om die braairooster se handvatsel gekrul het terwyl die tjoppies gaar word. Volgens Johan is dit een of ander onskadelike soort – rooierig met wit kolle. Nietemin, ek skrik my mos “bevange vir al daai slange van Mpumalange”. Hoop maar die wêreld by die braaiplek het vir daardie onwelkome kuiergas `n bietjie te warm geword.

Uit Sabiepark blog ek weens logistiese redes minder gereeld. Aansienlik minder. Dus daal `n Groot Stilte nou op hierdie ruimte neer. Groetnis. Tot 11 Augustus hiberneer die Van Deventers – en dis ook geen oomblik te laat nie. Mintag, die Kaap is, soos lanklaas, grys, nat en koud.

Naskrif: Die mooi foto van Sabiepark se piekniekplek kom van die Sabieparkblad op Facebook. Besoek dit gerus. Gaan na Facebook en tik in die soekvenster Sabiepark. Dis die eerste wat opduik. Gaan “like” hom. (hvd)

BOUDJIES OP DIE BUS!

Middag uit Melkbos

Fanus Rautenbach, President van Flinkveria, was ‘n huishoudelike naam by baie van ons in die goeie ou tyd (die goeie oue tyd, my vriend, die goeie oue tyd …). Vandag het die top-uitsaaier by ons gemeente se Silwerkragbyeenkoms (nie vir jongmense nie!) herleef – Penniefluitjie-kwêla en al.

Danie Botha, skrywer van o.a. Tien uit tien, stories en sêgoeters””, ‘n keur uit Fanus (vir Danie was hy Fanie) se humor. As dit waar is dat lag vir die siel is wat seep vir die lyf is (soos die Jode glo glo) is ons oues almal met skitterskoon siele huis toe (of kieriekasteel toe – Fanus/Fanie se naam vir ‘n ouetehuis).

Een “stedelike legende” oor Rautenbach is hoe hy hom meermale teen die sedebewakers boedneus sou geloop het en “van die lug afgehaal is”. Nie so nie, vertel Danie Botha. Hy haal Fanus self aan dat dit dikwels so gegons het gewoon as hy met verlof gegaan het. Slegs een keer is hy tot orde geroep. Dit was die keer toe hy vertel het van die Hatfieldbus.

Hy was verbaas op die Hatfieldbus dat nie een vrou ‘n hoed op het nie. Net more, net more, wil hy gaan ry op die Brooklynbus!

Daai ene van die gawe buurman wat sy broek vir jou sal uittrek, en die buurvrou wat ewe gaaf is, is dalk ‘n lekker storie. Maar dat Fanus se draadjie daaroor geknip is, is nie waar nie, hoor. Jammer om ‘n pretbedewer te wees!

Van “kieriekastele” gepraat: hier’s ‘n Fanusversie oor die inwoners:

Sê die omie van die tannie
(Hul gaan medisyne koop):
Ëk’s so lief vir haar –
Ek wil weerskante van haar loop!”

Mooi loop, maar darem net aan die een kant!
(hvd)

SKURKE VAN DIE OORLOG

Môre uit Melkbos

‘n Vername element in die “ontmaskering van die legende van Breaker Morant” (vanoggend se boekeblaaie in Afrikaanse koerante) het ietwat verlore geraak. Dit is die bydrae van my vriend Piet Henning, voorheen self van die historiese plaas Sweetwaters, Louis Trichardt, waar sy broer, Poog, nou boer.

Piet het vir my die boek present en geduldig al my vrae beantwoord. Ek ploeg plek-plek lekker met Piet se kallers. Amper 50 jaar gelede het Piet vir my op Tukkies Aynn Rand se klassieke “The Fountainhead” present gegee. Hy kies sy boekgeskenke fyn uit! Dankie, Piet.

In die finale vorm van die resensie is enkele feite bygewerk. Hier is die oorspronklike:

‘n Onverkwiklike stuk geskiedenis het in my persoonlike, taamlik ingewikkelde, legkaart van die uitgerekte, uitmergelende en plek-plek onbegryplike Anglo-Boereoorlog tot dusver nie tot sy reg gekom nie.

In die laaste fase van die oorlog van twee jaar en agt maande, van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 het, verskuil agter geografiese, historiese en dalk ook emosionele ontoeganklikheid, een van die pynlikste hoofstukke van die oorlogsdrama hom in die Soutpansberge afgespeel.

In ‘n bloedige skrikbewind deur die sogenaamde Bushveldt Carbineers van “Breaker” Morant in die Louis Trichardt-kontrei van Mei 1901 tot April 1902 is oorlog gereduseer tot die wrede vesel van ‘n bittere stryd tot die einde: vat geen prisoniers nie, skiet om dood te skiet.

Ongewapende, siek Boere, bibberend weens koors, is, selfs onder die wit vlag, gewetenloos, tot agt op ‘n slag, neergevel; op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; ‘n onskuldige sendeling met al sy “papiere” is koelbloedig vermoor; swartes is voor die voet afgemaai.

Op 5 September 1901 is, in ‘n buitengewoon, nare gruweldaad in die Mooketsivallei op Boerewaens begin vuur terwyl vroue en kinders se opgeruimd gesels opklink. Twee Grobler-boeties (14 en 6) is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul sussie (9) is ernstig in die nek gewond.

In sy boek “The legend of Breaker Morant is DEAD and BURIED” gee Charles Leach, ‘n amateur-historikus van Louis Trichardt, ná sewe jaar se navorsing, ‘n broodnodige Suid-Afrikaanse perspektief op die wandade wat tot Morant en sy regterhand, Peter Handcock (korrek), se uiteindelike skuldigbevindinge deur ‘n krygshof en teregstelling deur ‘n vuurpeleton gelei het.

Ene Manie Eloff noem Leach iewers “‘n blerrie rooinek-toergids” wat vir hom nuwe insigte oor sy eie plaaslike geskiedenis gebring het. Omvattender hulde is aan hierdie “blerrie rooinek-toergids” vir sy blootleggings verskuldig, meen ek. Sy boek vertel ‘n storie helder en op die man af. Dit is uiters professioneel deur homself uitgegee en gedruk, en verdien die wydste, waarderendste leserskring.

Morant geniet in sekere geledere in Australië amper heldeverering. Terwyl hy in allerlei vergoelikende boeke en rolprente as net ‘n sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld word, en aktiviste Doer Onder selfs nou nog vir hom en Handkock ‘n Britse pardon nastreef, brandmerk Leach hulle finaal en oortuigend as gewetenlose moordenaars en skurke, wie se dade selfs erger was as wat in die krygshof uitgekom het – waarskynlik klassieke, strafwaardige “oorlogsmisdade.”

Vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was ‘n krygsgevangene op Ceylon) was hierdie dinge agter die “Soutpansberggordyn” net vaag bekend – so vaag dat ek onder die indruk was die naam Morant word Meurant gespel en dat die naam van sy regterhand, Peter Handcock (korrek) geen klok sou lui nie. Om van die res van die ongure offisierekorps van die Carbineers (die Wittons, Lenehans, Taylors, Hannams, en andere, amper almal landgenote van Morant en Handkock) nie eens te praat nie.

Ná die lees van die boek – wat nie net ou littekens meedoënloos en sielsnydend oopkrap nie, maar nuwe wonde byvoeg – sal ek weet met hoeveel minagting ek voortaan op die hoor van daardie name sal reageer.

Insidente soos die reeds gemeldes, en o.m. ook die bloedbad van Ballymore waar agt Boere doodgeskiet is, die moord op Roelf van Staden en sy twee seuns op die plaas Sweetwaters, en die teregstelling van die jong Floris Visser ná ‘n vlugtige verhoor deur ‘n boendoehof het nuwe plek en betekenis in my kortbegrip van die Anglo-Boereoorlog verwerf.

Hoekom daardie geskiedenis so verborge en half-vergete geraak het en so onverstaanbaar gelokaliseerd in die oorlog-oorleweringe figureer, bly ‘n vraag om oor te bespiegel. Sou dit wees omdat daar geen “helde-veldslag” was nie en dat die Soutpansberg gevolglik minder aandag getrek het as die oorlog elders? Is dit omdat die krygshofrekord in 1920 vernietig is, sekerlik ‘n verligting vir die Engelse wat die Carbineers se eerlose doen en late verstaanbaar so dig moontlik probeer hou het?

‘n Ander rede, geopper deur Piet Henning, is dat in die “Verre-Noorde” minder Boere in verhouding aan die ABO deelgeneem het as elders. Etlikes het geskuil in die Laeveld, ander weer in Suid-Rhodesië. Die meeste was eenvoudige, nederige mense, soms ongeletterd.

Die skrywer Leach het teenoor Piet Henning gegis dat die trauma so groot was dat die oorlewendes die herinneringe liefs uit hul lewens sou wou wegruk. Toe ‘n Australiese geselskap drie jaar gelede daar was om die Morantstorie opnuut na te vors en een van Leach se “Zoutpansberg Skirmishes”-toere (reeds 4 000 besoekers) meegemaak het, was van die derde geslag van slagoffers wat hulle besoek het, nog erg emosioneel oor die gebeure van byna 110 jaar vantevore.

Kan daardie diep verskuilde bitterheid en emosie die diep-diep wortels wees van die politieke weerbarstigheid wat tradisioneel met die Waterberg (dan ook Soutpansberg) verbind word? Die bastion van aarts-konserwatisme is dalk nie sommerso so nie! (hvd)

HIPPO-KONNERS EN AL DAAI DONNERS

Lekker Wildtuinskets deur T.O. Honiball

Naand uit Melkbos

Net ses slapies – dan Kulula ons. Saterdagoggend vroeg vat ons die pad.

Sabiepark, hier kom die Van Deventers vir hul tweede “duisend” dae. Dit sal so plus-minus ons 40ste vakansie daar in die Laeveldse bos wees sedert ons in 1998 ons boshuis in Sabiepark bekom het.

Watter vreugde!

Aan die vooraand van die besoek het die “bos-lus” my so gepak dat ek al my ou bosversies op allerlei plekkie gaan uitgrawe het. Die resultaat is ‘n bundeltjie vir elke kleinkind, een vir Sabiepark se boekrak en een vir Melkbos.

Die meeste is so ietwat afgestof en geskaaf. As ‘n voorsmakie hier’s drie van die versies (met al die nodige ekskuse aan mense wat dit ken):

Hippo-konners!

Een oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê ure
aan’t skommel en slaap;
waaraan ly daai luie donners?
Wrintiewaar .. dis hippo-konners!

Bang vir ‘n slang

Groot krokodil maak hierdie ou ril,
spinnekop trek sy maag op ‘n krul,
maar, mens, skrik ek my nie bevange
vir al daai slange van Mpumalange!

Snuf in die neus

“Wena hiëna” is ekstra snoep,
jy hoor al van doer af
haar huilstem wat roep:
“Nnnu .. Nnnnu… Nnnnnu!
Gooi vir my bene
of ek pie op jou stoep!”

Saterdagaand hoor ek haar as die vuurtjie se eerste vlammetjies begin lek in die heerlike Bosveldse winterweer. Wie wil wed?

(hvd)