`N VRIEND VIR ALTYD

Hy tuur oor die hawe …

Blommetjies by sy graf.

Môre uit Melkbos

Slim honde, sjarmante honde, skattige honde … ondernemende honde, onverskrokke honde, onhebbelike honde … dan ook nog doodgewone honde wat, met permissie gesê, skoon bedinges kan raak. Dis die klas natneus-nuusmakers waaroor ek in “`n Vriend vir altyd” (Human & Rousseau, 2000) geskryf het.

Net soos by mense, moet jy nie in een hond al die beste eienskappe soek nie. Just Nuisance, die Deense hond, waarvan `n fiere, lewensgetroue bronsbeeld al hondegeslagte lank oor die hawe van Simonstad uittuur, is een “vriend vir altyd” wat op vele onderskeidende eienskappe aanspraak kan maak.

Verlede week was ek nie net by Just Nuisance se beeld nie. Ek was ook langs sy netjiese graf op die kronkelpad oor die berge Scarborough se kant toe. Iemand het proteas daar gelos. Al was die blomme al verdroog, was dit `n mooi huldeblyk. Ek was spyt ek het met leë hande gekom.

Just Nuisance het in sy kort lewe van gewone matrooshond tot internasionale hondelegende gegroei. Daardie merkwaardige lewe van hierdie unieke gelukbringer van die vloot in die Tweede Wêreldoorlog word ook in die Simonstadse museum en elders op die dorp uitgebeeld, onder meer in die sakesentrum op die karaktervolle Jubileeplein, die Deen se laaste staanplek.

Die ou grote met die slobbergesig was volwaardige lid van die vloot: ‘n bevare seeman op die betaalstaat van die H. M.S. Afrikander. Van: Nuisance. Naam: Just. Hy had, soos die ander matrose, sy eie slaapbank. Ongematigdes is gou uitgesleep!

Nuisance is dikwels saam met sy matroosmakkers van kroeg tot kroeg. Oral is ook ‘n drankie uit sy eie “kroegbakkie” geniet. Hy kon sy drank vat. Kyk ‘n makker te diep in die bottel, was dit hy wat hom veilig by sy kaserne of op die laaste trein besorg het. As `n inspekteur die hond uit die trein boender, het hy eenvoudig die volgende een gehaal. Die tydtafels was blykbaar aan hom bekend!

`n Keer is hy saam met ‘n matroos na George. Sy terugtog was te voet. Toe `n makker in ‘n Kaapse stegie met `n mes aangeval is, het hy by `n taxidrywer in Adderleystraat hulp gaan soek. Hy is saam met die gewonde in die ambulans hospitaal toe – het sy gesig bly lek en verseg om pad te gee totdat sy maat, na verskeie bloedoortappings, buite gevaar was.

Hy was `n hond vir seremonie en lief vir parades. Wannneer “God save the king” aangehef is, het hy luid saamgeblaf – na bewering in perfekte harmonie. Wederstrewiges tydens die verpligte tweeminuut-bidpouse elke dag is deur hom bestorm en tot gehoorsaamheid gedwing.

Ook maar hond, ook maar lus. Twee nakomelinge is in Benoni verwek. Hul ma was die teef Adinda. Hul aankoms in die Kaap was vir jou `n okkasie. Lede van die Griekse koningsgesin, ambassadeurs en die burgemeester was aan weerskante van die strate. Daar was vlae, rooi tapyte en golwe van applous.

Soos elke legende wat sy sout werd is, was Nuisance geen engeltjie nie. Hy kon hom bloediglik vererg. Dan AWOL hy sommer drie weke. Hy het weerstand gebied wanneer hy by klubs uitgegooi word, kleiner gelukbringers van ander skepe gebyt en sy halsband telkens verloor.

`n Foto waarby Tokkie op Simonstad lank stilgestaan het, was van Nuisance in `n hosptaalbed, omring deur verpleegsters. Die voorpoot is uitgestrek vir `n bloedoortapping of iets. Ja, die ou was ook maar net vlees en bloed.

Soos gras is ons almal se dae. Op 1 April 1944 – sy sewende verjaardag – is bevare seeman Just Nuisance in die skeepshospitaal die genadedood gegee. Hy is met volle militêre eer ter ruste gelê, gedrapeer in die vlag van die vloot. Sy graf is netjies reggemaak en word waardig onderhou.

`n Poot-saluut vir jou, baas se honne. (HvD)

“GATJAPONNERS”VAN DIE SEE

Môre uit Melkbos

Dis die beroemde Boulders-pikkewyne, maar, geheimpie-geheimpie, jy sien die kolonie swart-en-wit voëls die beste op die buurbaaitjie langsaan, Foxystrand, waar jy binne `n paar meter van die regop gestaltetjies met hul eienaardige wiegel-waggelstappie kom.

Ons was gelukkig om `n fris lot van die kolonie van sowat 3 000 op die strand te kry; ook heelwat aktwiteit te beleef. Voorwaarts … mars! Induik vir `n vinnge swem. Daardie klas dinge. Die liefde het by verskeie pare nogal geblom, en hulle lyk sielsalig gelukkig as hulle mekaar met hulk skerp bekkies verken. “Bliss”, noem die Engelse daardie uitdrukking op die pikkewyn-gelate.

Simonstad se nommer-een-toeristrekpleister is gewis sy pikkewyne. Op voortreflike plankiespaaie tussen Boulders en Foxy kan jy rustig drentel, op bankies gaan sit met jou koffiefles en foto’s neem na hartelus. Een verdwaalde ou het hom skielik saam met ons op die paadjie bevind. Sy onbehae met ons teenwoordigheid was uit sy haastige wegskarrel so duidelik soos daglig.

Sanparke het hier ‘n ontwikkeling tot stand gebring waarop ‘n mens trots kan wees. Ek en Tokkie, wat jare laas daar was, was verstom. Vir ‘n slag aangenaam verstom, nie teleurgesteld en ontnugter nie.

Die brosjure’tjie wat jy by die ingang kry, maak daarop aanspraak dat Boulders se pikkewynkolonie “wêreldberoemd” is. Dalk is hulle. Verdien om te wees. Die baaitjies is heerlik windbeskut. Al is aan die een kant huise en geboue beleef jy aan die kuskant die ongerepte natuur van Valsbaai.

Onthou om jou kamera met jou beste lense en jou Wildkaart te vat. Laasgenoemde verleen gratis toegang. Soos in daardie Checkersadvertensie van die meisietjie wat saam met haar ma gaan inkopies doen het, spaar jy baie!

Naskrif: Waar kom Pik Botha se naam vandaan? Een storie is dat hy Pikkewyn Botha geword het toe hy in die 50’s Tukkies se intervarsitydirigent was. ‘n Ou met ‘n “gatjapon” lyk nogal na ‘n pikkewyn …. of is dit nou andersom?
(HvD)

`N AGT AGTER DIE PALE!

Môre uit Melkbos

Jacob en Thomas Claassens, ons tweeling-kleinseuns, word Donderdag 26 April 8. Nou die dag nog was hulle babatjies in doeke.

Nou sool hulle `n rugbybal! Die tema van die partytjie Saterdag was rugby. Die manne was uitgevat in hul groen-en-goud. Die Springbokkie was oral by – tot op die koek.

Dis reg, manne, stel julle visiere hoog! (HvD)

HVD GEE `N EERSTE E-TREE

Middag uit Melkbos

Mayafudi, my bloubloed-olifant, gaan nou e-spore trap! Die storie van daardie “maaifoedie” van `n olifantbul se swerftog in die bos is afgestof, getimmer, vernuwe en herverpak. Dit gaan binnekort as e-boek by eBoeke vir Afrika verskyn.

Die kontrak is vanoggend geteken. Die ou man is dalk te opgewonde vir sy 71-jarige hart oor die eerste tree op onbekende nuwe e-weë.

Op die foto is die ou Mayafudi (2005-model). Die skilder is David Cubbin, bekende skilder van SA se wild- en voëllewe.

Toe nou al julle mense met julle Kindles, laat van julle hoor! (HvD)

MOOISTE KUS

Sipresse in Tafelbergpark

Eensame sipres by Monterey

Môre uit Melkbos

Die plek-plek krom, skewe en knoetsige stamme van die treffende bome by die Buffelsfontein-inligtingsentrum in die Nasionale Tafelbergpark (Kaappunt) het bekend gelyk. Ná heelwat rondvra kon ons eers die naam vasstel.

Monterey-sipresse – natuurlik! Ons het die ware jakob 35 jare gelede in die Monterey-skiereiland langs die Kaliforniese kus gesien. Een, die sogenaamde, Lone Cypress, klou windverweerd vas aan `n ruwe rotswand aan die skilderagtige Carmelkus. Daardie boom is `n bekende baken en `n trekpleister vir fotograwe en kunstenaars. In die Del Montewoud, digby die beroemde Pebble Beach-gholfbaan, staan `n magdom – “ghosts fleeing before the wind”, het Robert Louis Stevenson hulle genoem. Een is inderdaad bekend as Ghost Tree – sy stam is gebeeldhou en bleekwit gekleur deur wind en seesproei.

Ons was 7 Augustus 1977 op die onvergeetlike sogenaamde “17-Mile Drive” by Monterey. Ek weet dag en datum want die vorige dag het ons by Craig Lauterbach se houtgalery “The inquisitive Eye” in die beroemde “Cannery Row”, Carmel, `n muurhorlosie uit `n manjifieke stuk sequia (Amerikaanse “red wood”) gekoop. Ons het $132 dollar daarvoor betaal en dit sorgsaam vertroetel op elke vlug tot terug in Johannesburg. Op die laaste been, van Rio de Janeiro, af kraak ons horlosie toe middeldeur. Ai tog! Nietemin, die stuk rooihout hang steeds in `n woonhoekie. Dit hou nog vir ons tyd. Die oorspronklike belegging van $132 dollar het seker heelwat toegeneem!

Die Amerikaners noem daardie 17 myl (dit begin by Clint Eastwood se fraai dorpie Carmel) die “Circle of Enchantment”. Die hele kuspad van San Francisco af Los Angeles toe is eintlik die ene “enchantment”. Dis `n wonderskone, betowerende kus. Toe Tim du Plessis in 1992 as Nieman Fellow Harvard toe is, het hy my gevra wat hy in Amerika kan doen wat buite die gewone is. “Gaan ry daardie kuspad” was my advies. Sy dankbaarheid is later mildelik betuig.

Die beskutte baaitjies, blou-blou berge, vlammende veldblomme en verskeidenheid wildsoorte maak van ons Tafelbergpark en omgewing bepaald ook `n plek van “enchantment”. Dis betowerend, nie net om met die funicilare of dapper en stapper Kaappunt te bestyg nie, maar veral om elke afdraaipad te vat. Dit het ons nou die eerste keer gedoen: Kaap die Goeie Hoop, Buffelsbaai (lyk baie nes die Tuinroete se Buffels), Bordjiesrif, Rooikrans, Black Rock, Booi se skerm, Neptune’s Dairy, Olifantsbos, die sirkelroete …. Elke pad bring betowering. Die uitsigte weerskante op albei oseane is ongelooflik. Die veldblomweelde wil-wil vir die etiket van “weergaloos” kwalifiseer.

Toeriste beroof hulleself deur vinnig in te zits, die berg te bestyg tot by die ou vuurtoring, `n klompie vinnige foto’s te neem en dis dit. Vat julle tyd mense, bring `n piekniekmandjie en `n vleisie saam. As jy `n stapper is, gaan verken elke roete met jou rugsak en `n lied op jou lippe. Bring `n dag of twee in die park deur. Daar is slaapplek. Anders: slaap op Simonstad, Kommetjie of Scarborough. By Slanghok, Kommetjie, is `n tentekamp van Sanparke. Lekker aards.

En ook buite die park self is asemrowende vistas: Smitswinkelbaai daar van bo af, Kommetjie aan jou voete as jy van Scarborough se kant kom. En ry beslis (en stadig) die “nuwe” Chapmanspiekpas. Dit bly een van die heel mooiste kuspaaie ter wêreld en die opgradering was voortreflik. Dis die tolgeld van R32 deur en deur werd. Moenie die plankiespad by die reuse-pikkewynkolonie by Bouldersstrand, Simonstad, afskeep nie. Elke minuut daar is kosbaar.

Wonder hoe die Amerikaners met hul bemarkings-bekwaamheid hierdie ongelooflike hoekie van Afrika sou bemark. Sir Francis Drake se “fairest cape” sou maar net die begin wees van die jubelkore wat sou opklink. Twee en `n halwe dag daar was soos ‘n eksotiese oorsese reis vir my en mev. Van Deventer. (HvD)

Uitnodiging: Besoek gerus by my Picasa-albums die album “Tafelbergpark” by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer

`N LAASTE BRIEFIE

Môre uit Melkbos

Van my pa, Seun, wat in `n koue wintersnag in Kimberley op 21 Junie 1946 op 35-jarige leeftyd oorlede is, het sy seun, wat presies op `n dag na dertig jaar jonger is, vae herinneringe.

Weet wel dat hy `n boer by Babanango was wat t.w.v. sy eerste kind se swak borsie sy grondjie moes verkoop en uitwyk stad toe – Kimberley was die keuse om verskeie redes. Hy het by De Beers as sekuriteitsbeampte gaan werk.

Pa sou op 21 Junie nagdiens doen, maar het skielik begin sleg voel en huis toe gekom, sy fiets op sy plek neergesit, sy klere netjies opgevou, in die bed geklim … en gesterf. Vinnige hartaanval. Ek was in die kamer, `n onbegrypende toeskouer. Vaagweg onthou ek `n ongewone geskarrel om my pa se sterfbed. Ouma Elsie het soort van bevel oorgeneem en alles in die stryd gewerp om hom weer te laat asemhaal. Niks kon gedoen word nie.

Herinneringe aan Pa Seun se dood, die begrafnis en Ma Baby se alleenheid daarna – ek onthou haar eensame figuur op haar fiets as sy in haar rouklere werk toe ry by die telefoonsentrale in Kimberley – is nuut oopgeboor toe ek by die Speelgoedmuseum op Simonstad (vorige twee blogs) onder meer ook Dinky-modelle van die oorlogstydse Hillman Minx gesien het.

Pa is dood met `n gebruikte Minx nuut in ons motorhuis – `n bloue met swart modderskerms. Dit het die groot Plymouth vervang. Ek staan my iets voor van `n eerste kennismaking met die plaasvervanger as Van D-gesinsvoertuig op blokke iewers in ‘n agterplaas, terwyl sy eerste eienaar iewers as soldaat in die “noorde” geveg het (of dalk gesneuwel het?).

Wonder hoeveel myle (natuurlik nog nie daardie tyd goeters soos kilometers en liters geken nie) met die Minx gery is voordat hy, kort ná Pa se dood, `n derde eienaar sou vind. Ma het die gedagte dat sy leer bestuur, beslis verwerp. Het nooit in haar lewe aan ‘n stuurwiel geraak nie.

Maar ek wil eintlik by die briefie hierbo uitkom. Aldus `n inskrywing in `n ou album van Ma is dit op 15 Junie geskryf, ses dae voor sy dood. Dit was die laaste keer dat hy pen op papier gesit het – om vir sy “liefste Baby” te vra om vir die motortjie drie pinte olie te kry, en `n olieblik by my oom Willie Smith (hy was diamantspeurder in Kimberley).

Van Pa onthou ek nie sy hande nie – was dit grof soos die hande van `n boer? – of sy stem nie – het ek sy stem geërf? Ek weet darem dat hy ‘n sterk handskrif gehad (met minder irriterende krulletjies en draaitjies as my eie, seg Tokkie). En dat hy Ma as “liefste Baby” aangespreek het selfs in `n haastige briefie oor drie pinte olie!

In dieselfde album is `n koevertjie wat hy die dag voor sy dood as loon ontvang het. Dit was met sy dood nog onoopgemaak. In die koevertjie was 11 pond, 19 sjielings en 11 pennies. Sou dit `n week se verdienste gewees het?

`n Mens wonder oor baie dinge as jy aan die rofies van die verlede begin krap. Hoe sou my lewe anders geloop het as Pa nie jonk dood is nie? Dit is `n vraag om oor te tob. Een ding is redelik seker: ek sou by Diamantveld in Kimberley matriek geskryf het, nie by Volkies op Potch nie. Ek sou seker nog altyd joernalis geword het, Volksblad toe gegaan, Tokkie ontmoet en getrou het en daardie klas ding? Maar `n Pa Malan sou daar dan natuurlik nie gewees het nie.

Een ding staan egter vas: g`n mens kan jou lewe terugwaarts anders projekteer as wat dit was nie – net fiksieskrywers. Daardie kuns kon ek nooit bemeester nie. Die naaste daaraan het ek gekom met my olifantstorie Mayafudi (2005) waarin feite en verbeeldingsvlugte onherkenbaar vermeng is.

Skielik kry ek lus om Mayafudi weer af te stof; hierdie keer dalk met minder feite en meer verbeelding. Of is 71 ietwat oud vir so `n klemverskuiwing? (HvD)