RIDDERS VAN DIE YSTERPERD

Middag uit Melkbos

Onder die verrassend baie Ridders van die Ysterperd wat ek ken, tel nou twee 70-plussers met kragtige Honda Gold Wings in hul motorhuise.

Nuut in die orde van motorfiets-entoesiaste is Jacko Maree van Melkbosstrand. Die oud-L.V. vir Kliprivier is nie net 70 nie, maar al verby 75. Dat hy blom oor sy indrukwekkende glimswarte, spiksplinternuwe Gold Wing is egter gewis.

Hy voeg hom by Johan van Wyk, ook stewig verby die 70, gerekende rubriek- en artikelskrywer met die glimlag in sy rekenaar. Johan ry al jare sy Gold Wing, was al op solo-reise op ver paaie, en soms met Mammie (Zandra) agterop met gedenkwaardige vakansies. Hy pak gereeld groep-uitstappies aan saam met oud-kollegas en andere wie se name omtrent almal in Tobie Wiese se “Bikeboek” opduik. Soos die internasionale naam in spanningsverhale Deon Meyer. Van hulle was verskeie ook al gaste in my huis.

Een van Johan se beroemde motorfietsuitsprake is opgeteken in “Praat-praat in Tamatiestraat”, my humorboekie (Griffel, 2010). Sy eksotiese, avontuurlike na-doodse ambisie is naamlik dat sy asse uit ‘n valhelm in die Karoo (of is dit Bainskloof?) geskud word terwyl die Harley-Davidsons, BMW’s, Hondas, Kawasaki’s en wat nog volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing: “There goes my everything”.

Op die saamgestelde foto is Jacko en sy trots in sy motorhuis in Atlantic Beach-gholflandgoed, Melkbos. Die Man en sy Motorfiets. Jammer ek het nie ook so ‘n foto van die “Oom” van Stop van Myne nie. Die gholflandgoed Greenways in die die Strand is ‘n bietjie ver vir my langlens.

Jacko meen vermelding in hierdie spasie is ietwat prematuur, want op die oomblik is hy nog hard aan die oefen om al die kontroles en dinge outomaties, uit refleks, te gebruik. Op die oomblik verg dit nog konsentrasie. Hy oefen op ‘n kleiner fiets op Atlantic Beach se strate met al die hobbels (vir gholfkarretjies) en sirkels. En sê nou hy maak dit nie?

Daardie bose gedagte verwerp hy egter self vinnig. Nee, hy wil en hy moet … al is hy uit sy rugbydae as heelagter vir Maties se eerste en tweede spanne in die 50’s al gebrandmerk as ‘n versigtige ou wat nie onnodig, soos die kommentators dit stel, sy lyf op die spel plaas nie.

Die gogga het Jacko gebyt ná die dood van sy geliefde Barbi twee maande gelede. Hy is na ‘n instrukteur en was, soos verwag kan word, die oudste in sy klas. Die vorige oudste, het die instrukteur hom meegedeel, was 72. “Op 75 is die meeste motorfietsryers se aftree-ouderdom,” het die instrukteur meewarig bygevoeg.

Saam met Jacko in die klas was ‘n bloedjong dametjie met ‘n parmantige wippie in haar stap en vol sêgoed, asook ‘n jeugdige abandonering van inhibisies. Toe hulle die eerste keer, ná ‘n paar kort instruksies, die opdrag kry “fietse toe” neem sy die gryse Jacko in haar vertroue: “Fok, Oom, nou gaan ons ons gatte sien!”

Die een en ander in Jacko se intieme familie- en vriendekring is nie so vreeslik ingenome met sy nuwe gier nie. Van hulle vrees daardie meisie se woorde kan dalk op die ou einde van die dag (ekskuus, Naas) profeties uitdraai. Tot dusver is al wat Jacko egter sien, visioene van romantiese reise en nuwe ontdekkings terwyl die wind om sy valhelm swiep. Laat waai, Meraai!
(HvD)

TRAP DER OUDERDOM

Wol Steyn, TvD en HvD in die Arend in 2007.

More uit Melkbos

More trek die Volkie-matrieks van 1957 op Potjiesdorp saam – in die personeelkamer, verneem ek by een van die geesdriftige re-uniegangers, Wol Steyn. Glo omdat gereken word van die oues van dae sal nie meer die trappe kan bestyg na die lekker onthaalkamer, Die Arend, nie.

Wol is verontwaardig. Wouter (dis sy regte naam) klouter nog elke dag op en af van die bak van ‘n 10-ton-vragmotor, snork hy.

Wol, als goed en wel en ek’s bly om te hoor van jou volgehoue ratsheid, maar ek het darem al die vorige keer, in 2007 (50 jaar na matriek), gesien hoe party van ons ou tydgenote bra mankerig swoeg en beur om die Arend te bereik.

Tokkie het toe al opgemerk die volgende re-unie is “take-aways” ons voorland!

Nie meer die Trap der Jeugd vir ons klomp nie – nou die Trap der Ouderdom.

Die harde waarheid is: party van onse kalwers kan nog net die trappe van vergelyking bestyg: sukkelend, sukkelender, sukkelendste! (HvD)

ONTHOU-BLARE

More uit Melkbos

Die Amerikaanse herfs van 1976.

Hierdie blare kom van Lake Winnipesauke in New Hampshire, waar ons een naweek die skouspelagtige New Englandse “Fall” gaan indrink het.

Lake Winnipesaukee is New Hampshire se grootste meer en een van die grootste natuurlike mere in die VSA wat geheelenal binne die grense van een staat val.

Ons praat van ‘n kuslyn van 183 myl (nie kilometer nie) en ‘n oppervlak van 72 vk. myl, mense. Dis baie water – omsoom met bome wat goudgeel, bruin, rooi en oranje verkleur. Nogal ‘n gesig.

Ons het die nag in die Hack-Ma-Taxk-kampterrein oornag. Dit is op U.S. Route 3 by Weir’s Beach. Die staanplek vir ons Corona Merk II-stasiewa (ons het agterin geslaap, opgekrul soos sardientjies) het ons $4,50 gekos.

Die blare is deur ons kinders, Johan (5) en Marisa (3), in ‘n stewige kiesa-tjie onder die digte boomweelde langs U.S. Route 3 opgetel. Ek bewaar dit sedertdien in ‘n album met hope ander foto’s van die “Fall”.

Dink net, hierdie blare is al 36 jaar oud en nog so mooi behoue agter die sellofaan.

Jammer dat ek julle met Amerika beteister, maar die vorige blog oor herfs en so het die ou man skoon nostalgies gemaak.

SKITTER-SEISOENE

Karnallie tussen die kornoelies. Lente in Shenandoah.

Herfs in New England

More uit Melkbos

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan….
‘n Skilderagtige jaargety is herfs inderdaad, en skilderagtiger kan niemand die natuur hierdie tyd van die jaar in woorde omsit nie as N.P. van Wyk Louw.

Ekself kan maar net die meester se wonderlike waarnemings woordeloos beaam: die goue akkerblare, die wingerd wat verbruin, die witter lug, die klare son, kaal bleek takke van die lang populiere – ons sien die eerste tekens om ons heen. Herfs is op ons.

In Amerika raak dit natuurlik nie nou herfs nie. Oral in die noordelike halfrond bars die lente vrolik uit. In Amerika blom die legendariese dogwood (regtig kornoelie, soos die woordeboek beduie?) van Florida af in die suide tot diep in New England.

Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die manjifieke dogwood was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park. Die sogenaamde Skyline Drive deur die park Washington toe was ‘n prentjie.

Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in die lente ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.

Eintlik is ek tog met hierdie skrywe op pad na die Amerikaanse herfs, wat in September kleurryk aanbreek. Veral in New England – waar die bome vroeg September in Maine en Vermont begin verkleur, dan in New Hampshire en Massachusetts en uiteindelik ook op die suidpunt van die komplilasie van state, in Rhode Island en Connecticut aan die einde van Oktober.

Wie nog nie die Amerikaanse “Fall” beleef het nie, mis iets skoupelagtig. Die gewone skakerings van groen, so volop in die oostelike state, raak ‘n dieprooi, helder geel, bruin en oranje. Van sekere punte is die hele landskap, so ver die oog kan sien, soos ‘n palet waarop die kleure deur ‘n reusehand deurmekaar geskommel is. Aangrypend mooi.

In ons Amerikaanse jaar, 1976/77, het ons die herfs ingedrink in naweek-uitstappie op naweek-uitstappie met my Toyota Corona-stasiewa, met sy matrassies agterin waarop die Van Deventers hulle in ‘n verskeidenheid “trailer camps” kon uitstrek. In albums van daardie tyd is verdroogde blare, blare, blare en hope foto’s van die kinders, Johan (toe 5) en Marisa (3), wat onder reusebome in ‘n uitgestrekte, ritselende bont mat sit en blare opskep.

Wonder of N.P. van Wyk Louw ooit gesien hoe die jaar in daardie geografiese regterskouer van daardie groot land “ryp word”. Slegs ‘n woordkunstenaar soos hy sou die woorde kon vind om dit te beskryf soos ek dit graag aan lesers van hierdie blog sou wou skets. Die foto hierby is mooi. Die werklikheid is mooier.
(HvD)

EINDE VAN GROOT ONSKULD

Middag uit Melkbos

Ons matrieks van 1957 – wel, diegene wat oor is en diegene wat kan – trek Saterdag op Potchefstroom saam vir ons goue jubileum plus vyf. Dis nou 55 jaar sedert ons, soos Volkies se skoollied lui, “die wêreld in” ge-”swerf” het.

Ek is ‘n getroue reünieganger. Tokkie beweer ek sal die reünie van my voorskoolse speelgroepie nie mis nie. Hierdie keer is ek egter afwesig. Melkbos is eenvoudig te ver van Potchefstroom. Reiskoste is te duur. Ander redes bestaan ook, maar hulle was seker makliker oorbrugbaar.

Hoeveel van die 57-klas gaan opdaag, is ‘n ope vraag. Die wiel bly draai. Die Byl bly kap in ons bos. Minstens twee van die stralende gesigte op die omslag van ons jubileumblad in 2007 is nie meer daar nie – albei in die laaste vyf jaar in motorongelukke heen, eienaardig genoeg. Ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al langboompies toe.

Van ons maats sukkel met hul gesondheid. Party verwerk slegte nuus wat onlangs oor hul pad gekom het.

Nie amal het ewe veel materiële voorspoed beleef nie.

Nietemin, in die gees sal ek wel Saterdag met die res saamlag, saamgesels en saam sentimentele herinneringe opdiep. Ek gaan die ginnegapery van die 70-plussers mis: “Onthou jy nog dit? Onthou jy nog dat?” Natuurlik gaan ek my stilletjies verknies terwyl ek, wyntjie in die hand, ver daarvandaan oor die Atlantiese Oseaan staar.

Ná 55 jaar bestaan, wat Volkies betref, immers steeds een groot waarheid in my lewe, soos die skoollied ook verkondig: “‘n Brokkie van my hart bly hier.” ‘n Brokkie van my hart is in die 50’s tussen die rotskoppies van die Hoëveld verloor. Vir so lank ek leef sal dit daar vasgemessel wees. Tussen die rooibakstene van die waardige ou hoofgebou. Dit is goed so.

Deesdae neig ek om na die Volkie-era nie net as ‘n snoer van los gebeure en en allerlei staaltjies te dink nie. My benadering het vanself meer filosofies geraak. Ek wil aan die vyftigs ‘n oorkoepelende tema probeer haak. Dalk was dit die laaste jare van die Groot Onskuld? As jy lees en hoor van moderne kinders se flirtasies met seks, dwelms en drank skud jy jou kop.

Ons was regte ouderwetse bloedjies – bra oppervlakkige vryers wat handjies gehou, briefies uitgeruil en periodiek ‘n soentjie gegaps het (of verraai ek met die belydenis net my eie naïwiteit?) Eers in die volgende vyfjaarsiklus het skoolmeisies, na my ervaring, “in die moeilikheid” begin raak. En het ek toe ook eers begin agterkom dat nie alle seksuele oriëntasies so eenvoudig soos my eie is nie.

Ons matrieks het heerlik vir “stout” kwinkslae gegiggel soos dat die meisies nie harder kan sing nie “omdat hul borsies te klein is” (nie heeltemal waar nie te oordeel aan bepaalde lywe in die klas!) of dat een van die seuns “’n opgestopte voël” het (hy had wel die een of ander ornitologiese eksemplaar in sy kamer). In vrymoediger taal sou ons egter nie waag om met die ander geslag te kommunikeer nie.

Klink dit vervelig? Mense, ons het tog wel ook ‘n Tyd van Ontdekking beleef. Ons het die ekstase van eerste liefdes leer ken. Die “Young love” waarvan Tab Hunter so mooi gesing het: “Young love, first love, it’s filled with true emotion….” Daardie liedjie was, interessant genoeg, ook, soos ons, ‘n 1957-model.

Ons het die opwinding van mededinging op die sportveld ervaar; die bruising van adrenalien in ons are, die soet smaak van wen en presteer, die stimulering van selfgelding (al was dit soms in plein dwarsheid) …

Ons het ook die waarde van vriendskap en hegte verhoudings leer ken – soos in die offerdaad van ‘n betraande ou wat ‘n meisie plegtig vir sy kamermaat teruggee omdat “sy vir jou liewer is”.

Lewenswaardes is by ons vasgemessel wat nou nog bakens is. Skitterende onderwysers, stabiele ouerhuise, ‘n lewende naelstring met die Kerk, ingedrilde dissipline, selfs die lat op sy tyd, het ons help vorm.

Hoe bevoorreg was ons nie! Tussen al die lag, die kwinkslae, die uitruil van staaltjies, die verlange na afwesige maats, behoort dalk by so ‘n reünie ook ‘n sessie ingeruim te word om net in stilte opreg dankbaar te wees – of is die ou gryse nou sommer verspot?

LIGTE MISTYKIES

More uit Melkbos

Nie sonder bymotief nie, glo ek, word in Die Burger meermale in die daaglikse terugblik op dag en datum 50 jaar gelede ‘n brokkie uit die sogenaamde “Persoonlik”-kolom uitgelig.

Dit word ongetwyfeld met ‘n meewarige glimlag gedoen. Dit lyk inderdaad ietwat verspot om in hierdie “global village” waarin ons in die moderne tyd woon, te moet lees van dese en gene wat met vakansie is of sakebesoek iewers aflê of dalk onwel is.

Om met die Oranjesnel in die Kaap aan te kom, was vir verskeie pilare van die gemeenskap al klaar ‘n vrypas tot ‘n stukkie in “Persoonlik”. Die Bloutrein het die deure wyd oopgegooi: sommer iedereen wat op daardie deftige manier gereis het, het vir gepaardgaande publisiteit gekwalifiseer.

Gister in die terugblik op Die Burger van 23 Maart 1962 is die “Persoonlik” aangehaal van “mnr. En mev. Dawie van Wyk van Goodwood en hul dogter Elsabe en hul kleinseun Kobus wat met die Windsor Castle na Durban” is. Nou toe nou!

Die rapport oor die gesinnetjie se ekspedisie herinner my dat ons in ons eie tyd darem ook by geleentheid vir ‘n “Persoonlik” (verleë?) geglimlag het. Nie omdat ons sulke indringende verslaggewing op voetsoolvlak geminag het nie, maar oor die “ligte mistykies” wat maklik kon insluip.

Ek het die storie al vertel, maar vandag weer ter sake is die korrespondent van Die Volksblad wat ná ‘n vermaning om duur telekskoste te bespaar, besluit het om, uit ekonomiese oorwegings, twee brokkies saam te voeg.

Hy berig toe: Mnr. Kosie Venter van die plaas Braklaagte en mev. Annatjie Louw van die plaas Mooifontein is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wens nie.”

‘n Korrespondent berig oor bekendes in die distrik wat in die huwelik bevestig is, en van die bruidjie wat van tabberd verwissel het vir die wittebroodsreis. “Albei is in die omgewing goed bekend.”

Nog ‘n huweliksaankondiging: “ Jannie Koekemoer en Sannie Poggenpoel is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”

Die Burger het in ‘n “Persoonlik” berig oor die eggenote van ‘wyle’ mnr. Marais Viljoen, oud-president, se ongesteldheid. Hy bel toe en kla: “Lyk my julle wil my dood hê.”

Die Burger maak sy fout reg, plus ‘n verskoning: “Mnr. Viljoen is nie dood nie. Ons is jammer.”

“Persoonlik” kon wel nuus oplewer – sommer groot nuus. In die dae toe die legendariese Skakel Kriek vir “Persoonlik” in Die Burger, Ronnie King, bontstaan, met die oproep van ‘n beswaarde omdat die koerant dan, strydig met sy onderneming, die naam van ‘n skenker in ‘n hartoorplanting gepubliseer het.

King het ten enemale ontken dat sy koerant woord gebreek het.

“Man, moenie vir my bog vertel nie. Hier staan dit op bladsy 21.” Ronnie blaai na pagina 21. Op daardie blad pryk Oom Skakel se “Persoonlik”. Derde van bo: Mnr. So-en-so het in die Groot Schuur-hospitaal ‘n nuwe hart gekry. Die skenker was mej. ……..” en hy noem die meisiekind se naam wat die familie graag geheim wou hou.

Verduidelik so ‘n ingewikkelde saak nou aan iemand wat nie ‘n koerant se binnewerkinge ken nie!