BRIEF OOR BELHAR

More uit Melkbos

Die brief hieronder is gister aan “Kerkbode” en ander kerklike forums gerig. Ek herhaal dit hier omdat dit vir my, wat die politieke broederstryd van die 80’s intens beleef het, werklik ‘n saak van erns is dat ons op kerklike terrein ‘n ewe felle broederstryd tot elke prys vermy.

Weerstand teen die Belhar-belydenis op die grondvlak van die ouer generasie in die NGK gaan nie sommer net wegraak nie. Ongelukkig word die omvang egter deur kerkleiers onderskat – derhalwe ook die potensiaal van tweedrag en vervreemding van lojale lidmate.

My kompromie is ‘n nuwe belydenis vir ‘n nuwe tyd´- een wat ook die positiewe in Belhar beliggaam maar sonder die verdelende politieke bagasie. Onder diegene wat daarmee akkoord gaan, is swaargewigte op vele terreine, ook teologiese swaargewigte. Een wat ‘n lang pad intiem met die kwessie saamkom, noem dit die “enigste werkbare alternatief”.

Verblydend is dat, ter wille van die Groter Saak en van vrede en versoening, selfs by sekeres wat die nodigheid van enige bykomende belydenis ernstig bevraagteken, ‘n gewilligheid tot kompromie bestaan.

So lui my brief:

In my kring van gewaardeerde, gerespekteerde vriende is die hele Belhar-spektrum verteenwoordig: van entoesiastiese omarming tot absolute verwerping. Wie het al die wysheid in pag om te oordeel wie die absolute waarheid beet het en wie nie?

Moet die NGK werklik hierdie sensitiewe saak op die spits dryf? Is dit in die kerk se belang om hieroor opnuut tweedrag te ontketen en lojale lidmate te vervreem? Wat is dan fout met ons mense dat ons so graag tot die bittereinde ‘n saak wil uitbaklei terwyl ‘n versoenende alternatief reddend ter hand is?

Die oplossing vir die dilemma is tog duidelik: ‘n nuwe belydenis vir die nuwe era – een wat, saam met die ou grondwaarhede, ook die opbouende in Belhar beliggaam – maar sonder die politieke bagasie waaroor die weë op die oomblik grotendeels skei.

NGK en VGK het kreatiewe teoloë wat uitmuntend toegerus is vir die verantwoordelike taak van ‘n vars formulering vir vandag wat werklik die saak van versoening dien.

Soos ons almal saam ‘n nuwe Grondwet kon uittimmer wat op ‘n breë basis van vaderskap kon reken, het ons in die kerk dieselfde uitdaging voor ons. Dit is ‘n verrykende uitdaging – ons mag gewis nie daarvoor terugdeins nie.

Waarom dan teruggryp na ‘n ‘noodkreet´ uit die verlede as die geleentheid hom voordoen om kraakvars , eietyds en vernuwend te dink? Ek begryp werklik nie.

Van ‘noodkrete” gepraat: beskou asseblief hierdie briefie ook as een. Dit is wat dit is. (HvD)

KAALMOLES: HELE STORIE

More uit Melkbos:

Kaalbas-kirpatse, badkamermoleste, natlyf-neukery – noem dit wat jy wil. My en Tokkie se nogal ongemaklike ervaring onder die ligte sonder ‘n draad klere aan ons lywe word in die rubriek “Blaaskans” in die jongste Huisgenoot vertel. Die titel: “Badkamerblaaskans. ”

Vir “Blaaskans” word ‘n mens se storie egter in vaste formate gegiet – deesdae is dit 950 woorde om plek te maak vir ‘n illustrasie (wat darem nie ekke is nie!). As iemand die onverkorte weergawe wil lees met al sy kinkels en nadraaie – hier volg hy:

Om die volle omvang van my en Tokkie se penarie te begryp, moet ek verduidelik hoe die eerste eienaars van Penguin Place 11 die sogenaamde en-suite-badkamer aan die primêre slaapnessie se uitleg geprakseer het.

Die fokuspunt is ‘n skewe hoekvenster met ‘n westelike ruit wat plus-minus parallel met die tuinmuurtjie aan die straat se kant loop. In die hoek, knus teen die venster, is ‘n ruim bad. Die krane sit half after die rug van die ingesetene wat venster toe front. Dis tradisioneel die vader des huises se plek.

Wanneer Tokkie eerste in die bad is, soos dikwels, skuif sy altyd bedagsaam eenkant toe om vir my plek te maak, met my lyf, soos hulle dit stel, “oopketel” in die rigting van die venster en die straat.

Hierdie Saterdagaand verloop alles volgens neergelegde prosedures en praktyke totdat ‘n soeklig deur die ruit priem – direk op my onbeskutte onderlyf, voel dit. Ook mev. Van D. versteen, want, sonder om onnodige detail te verskaf, sit sy (weens strukturele redes) in so ‘n posisie dat haar profiel ongetwyfeld deur die onwelkome lig as’t ware soos in ‘n kunsfoto geaksentueer word.

Soos meerkatte het ons gesit, het sy verskeie proesende vriendinne later ingelig. Soos springhase, was eerder die beeld van ons ongemak wat by my opgekom het. Die spesie van die betrokke fauna is egter nie ter sake nie – wel die instinktiewe verlamming wat haas of kat in sodanige scenario te beurt val.

Tokkie kry eerste haar stem terug. “Hulle lig op ons!” Die inligting is so buitengewoon dat ek verwilderd sukkel om dit te verwerk. “Hulle staan op die sypaadjie en lig op ons,” brei sy op haar eerste bondige aankondiging uit. Met my steeds sprakeloos, my hand beskermend abdominaal oopgesprei, gaan sy toe tot aksie oor. Sy vloog uit die water met ‘n blink boog.

Eers op daardie oomblik kom my stem terug: “Pas op!” Skielik lyk dit onheilspellend of my vrou haar nou ten volle in die kollig bevind, soos ene Carmelita een bewoë aand in ‘n berookte teatertjie in Hamburg op ‘n mannebesoek in roekeloser dae.

Die bleddie lig, of te wel, die skerminkel met die bleddie lig, reageer op die bewegings anderkant die ruit met ‘n vinnige herberekening van posisie, om maar ‘n uitdrukking by die GPS-meisie te leen. Die lig swiep heen-en-weer, lyk of dit nader kom en groter word, en fokus dan op die kol waar T. blitsig van die ergste nattigheid staan en ontslae raak.

“Trek aan, trek aan,” moedig ek uit my hoekie aan, want die gedagte aan die intieme waarneming wat die volslae vreemdeling waarskynlik te beurt val, bring my ingebore besitlikheid in opstand.

“Gaan kyk gou by die slaapkamer se venster,” neem ek met skielike selfvertroue bevel van die operasie oor. Waaragtig, woerts swaai die lig agterna. Momentele donkerte sak in die badkamer toe. Dadelik is ek toe ook rats op my linkerknie en met een vergeet-van-die-heup-sprong by die onheilsvertrek uit.

Waarom iemand met ‘n moerse lig op ’n Saterdagaand, met Willem Pelser se “U Eie Keuse”, wat net mooi na die advertensiebreek weer begin spoed kry op RSG, ons privaatheid (sekerlik dan ook ons grondwetlike regte en dies meer) kom skend, is ‘n tergende raaisel. Wel is ek oortuig dat sake ver van pluis kan wees en dat die motief, tot dusver verborge, bepaald nie op enige verhewenheid aanspraak sal kan maak nie.

Toe Tokkie haar vinnig in die naaste kamerjas (myne, nie hare nie) inwurm en afsit voordeur toe, besef ek egter ek moet agterna – kan haar darem nie vrou-alleen die onbekende gevaar laat trotseer nie.

My groter lyf word in haar kleiner kamerjassie toegewikkel, as toegewikkel in die konteks die beskrywendste woord sou wees. ‘n Versigtige paar tree agter my hoogs gemotiveerde vrou mik ek ook deur toe vir ‘n inspeksie ter plaatse, of wat die polisie dit ook al noem.

Die lig skuif saam, en die gedagte ontsnap my nie dat TvD met haar deurmekaar haredos in haar eggenoot se te groot kamerjas bepaald in die deurdringende lig van die vreemdeling se flits ‘n verwonderende indruk moet maak. Hoe my verskyning langs haar in haar jassie daardie indruk noodwendig negatief moes beïnvloed het, laat ek aan die verbeelding oor.

Nietemin, my vrou is nie een wat vir vreemdelinge met sterk kolligte op Saterdagaande by Van Deventer-eiendom ingaan nie. “Wat soek jy?” eis sy ‘n verduideliking vir die verwikkelinge by haar badkamervenster. In haar stem bespeur ek ‘n klank wat ek, uit ervaring van 45 gelukkige huweliksjare, as dreigend herken.

‘n Lang storie ontvou, en verbeel ek my of hoor ek ‘n kwalik onderdrukte lag in die streng stem? Ons motorhuis se deur is wawyd oop, blyk dit. Dit, maan die stem, is ‘n resep vir moeilikheid en ‘n uitnodiging vir nare elemente. Natuurlik.

Gelukkig bestaan die buurtwag. Gelukkig was ons daardie Saterdagaand op sy roete. Maar ongelukkig het sy herhaalde lui van die klokkie op dowe ore geval. Die slaapkamer is in die verste hoek, die binnedeur was al agter slot en grendel en Willem Pelser se musiek was harder as gewoonlik om dit met die geplas van twee lywe te laat meeding.

Daarop haal die engel in buurtwag-gewaad toe sy lig uit – en, skelms, neem gerus maar kennis, dis ‘n meneer! Ons ridder bly ingeplant by die hekkie met sy toorts totdat “die oom die motorhuisdeur gaan sluit het”.

Hoe diep die stomme “oom” daarna in die warm water was – en nou nie in die dubbelbad in sy eie badkamer nie! – is ‘n ander storie. Want hierdie keer was (oeps!) nie sy eerste misstap t.o.v. die vername sekuriteitstakie nie. Voel soos gister toe ‘n netjiese jong boerseun (klaarblyklik) ons ‘n vorige keer om 01:00 wakker gelui het met die nuus: “Jul waenhuis (sic) se deur staan oop!”

Ek is geleer om altyd die positiewe uit enige ervaring te haal. Hier is sommer twee positiewes uit die insident met die lig op ‘n Saterdagaand by ons huis op Melkbos. Een is dat ek, sonder seep of water, so hardhandig die kop gewas is dat ek nie sommer weer die “waenhuisdeur” oop sal vergeet nie. Die tweede is dat ek nou proefondervindelik weet ons kan maar bad sonder om die hortjies te laat sak. Nogal gerusstellend.

Met my polisieflits in die hand geklem, is ek net die volgende aand na buite om die badkamervenster uit elke hoek te bespied. Ek kon dankbaar rapporteer dat die geriffelde glas in alle omstandighede doeltreffende privaatheid verseker.
(hvd)

SKAT TUSSEN BERG EN SEE

More uit Melkbos

Uit ‘n fonteintjie waar jy telkens verbyry, drink jy eendag dalke soete water. So ‘n vermaledyde “fonteintjie” wat later ‘n aangename verrassing besorg het, is die nasionale botaniese tuin Harold Porter op die R44 by Bettysbaai.

Woud, fynbos, bergvistas, ‘n rivier, watervalletjies en strepies see in die verte span saam vir ‘n genotvolle natuurbelewenis.

Die berg is natuurlik die Kogelberg, anker van die biosferiese reservaat met dieselfde naam wat op sy sowat 70 000 hektaar – een van die rykste biodiversiteite op aarde met 1 300 verskillende plantspesies per 10 000 vk. km. Die Harold Portertuin, genestel tussen berg en see, is sowat 200 hekaar groot, en bied op kleiner skaal ‘n skatkis van plantspesies.

Iewers raakgelees dat 77 spesies in die reservaat net hier by Bettysbaai voorkom – nêrens elders op die planeet nie. Dis inderdaad ‘n tuin met iets vir almal – kenners èn gewone natuurliefhebbers.

‘n Betreklike maklike stappie op netjiese geplaveide paadjies neem jou verby ‘n verskeidenheid ekosisteme – fynbos, vleiland, duine – en tuine – proteas (ook die manjifieke koningsprotea), allerlei erikas, aalwyne – na die Disakloof. Disas is op die oomblik in blom, hoog teen die hange van die Kogelberg by die Disakloofwaterval in die Dawidskraalrivier aan die voet van Voorberg.

Lekkerste van daardie stap was vir my die digte woudlandskap met sy Kaapse boekenhoute, assegaaiboom, rooiels, without en geelhout wat weerskante van die slingerpaadjie hul groot skadu’s gooi. Dis skaars ‘n kilometer van die hek tot by Disakloof.

Vir die meer avontuurlike bestaan natuurlik ander uitdagender staproetes. Op die Luiperdskloofpad moet jy glo lere kan klim – wees dus voorbereid met die regte stapskoene, ens.

Die fynbos spog met prikkelende name soos vrouebossie, rotstert, lapmuis, krimpvarkie, Boesmankers, vleiboegoe, katstert en dies meer. Die vrouebossie doen glo sy naam gestand. Word vir vroue aanbeveel vir allerlei toestande waarvan manlike leke (genadiglik) min weet.

Deurgaans was ek van ‘n uitbundige voëlgekwetter bewus, maar die outjies het goed weggekruip (soos die meeste diertjies). Ons had nie verkykers by ons nie en het ook nie tyd gehad om soek-soek te vertoef nie. Brosjures deel mee in die tuin is plus-minus 100 spesies: onder meer Kaapse suikervoels, oranjeborssuikerbekkie en witvlerkkanarie.

Bobbejane (seker burgers van Bobbejaanskop) het ons naby die hek verras met ‘n gulsige strooptog op ‘n paar speldekussings in blom. Daardie soet (?) blomme is met arms wat soos suiers werk, in die mond geprop. Ons had ongelukkig ook nie kameras by ons nie.

My vriend Chris van Rensburg (Bloemfontein/Kleinmond) merk in ‘n stadium op: “Iemand wat fynbos skade aandoen, pleeg ‘n misdaad”.

Herinner my aan ‘n aand by die Kaapse presidentswoning van die 80’s Westbrooke waar ‘n paar gaste onwyslik en tot die gramskap van die gasheer, P.W. Botha, gewaag het bedenkinge te lug oor die verwoesting van Fynbos by De Hoop om ‘n missiel-toetsterrein in te ruim.

Een van die geesdriftigste fynbos-pleitbesorgers was ‘n Kaapse LUK, Pietie Loubser. Hy is deur P.W. goed die kop gewas. Toe Loubser loop, skryf hy net voor my in die gasteboek: “P.W. bly my man fynbos of te not!” Moes glimlag – ‘n politieke loopbaan het sy gevaarsones.

Maar die Harold Portertuin – moenie, soos ek, aljaar net verby ry nie. Dis tot jou eie skade. (HvD)

Naskrif: Gegroet vir eers – gaan ‘n week Suid-Kaap toe.

DANS, SUSTER, DANS!

Middag uit Melkbos

Met Leserskring, RSG en By se soektog na die gewildste gedigte in Afrikaans het ek uit die staanspoor moeilikheid. Wat is gewilde gedigte en wat is mooi gedigte? Is die gewildste gedigte die mooiste gedigte en omgekeerd?

Om ‘n lysie van ‘n mens se eie vyf gunstelinggedigte op te stel, is die volgende groot vashaakplek. Kan ek verse wat deur die jare in verskillende omstandighede my hart geraak het, koeltjies lys en nommer? Jammer, bo my vuurmaakplek.

Vanoggend na twee groot geeste, Joan Hambidge en Kerneels Breytenbach, se keuse op Margot Luyt se program op RSG geluister (Margot, ook van Bultfontein, soos my liewe gade, het, terloops op ons troue op 31 Desember 1966 in Bultfonteinse NG kerk vir ons psalm 121 voorgedra: “Ek slaan my oë op die die berge …” Verheffend!

Hoop Joan en Kerneels vergewe my as ek uit my lekehoek die opinie waag dat hulle ook maar met die seleksie gesukkel het. Hulle wou dalk eerder verteenwoordigend wees – tydvakke, grootste digters, manlike en vroulike verteenwoordiging, daardie klas ding.

Nietemin, hulle had darem Winternag van Eugene N. Maraius op hul lys. Winternag is ook op myne – dalk een van die grootste (en mooiste en gewildste) gedigte in Afrikaans.

In my boekie word Winternag egter deur ‘n ander Eugene Marais-gedig uit die eerste plek gehou. Ek verwys na die weergalose Dans van die Reën (Lied van die vioolspeler Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn).

Dans vir ons , liewe suster, kom dans in daardie prag-Afrikaans:

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
En haar oge is skaam;
En sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
Haar armbande blink en haar krale skitter;
Saggies roep sy. Sy vertel die winde van die dans.
En sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte, hulle dam op die bulttop, wyk rek hulle die neusgate
En hulle sluk die wind;
En hulle buk om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
En hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
En haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier:
Sy trap af van die hoogte;
Sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
Die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

O die dans van ons suster: meesterlik, meesterlik, meesterlik. Die heerlike reuk van reën op dorre aarde stuif weldadig op in my neusgate, en ek verwonder my opnuut oor die spierkrag van my taal, Afrikaans! Dankie, Eugene Marais! (hvd)

STINKRYK … LEKKER RUIK!

Middag uit Melkbos

‘n Prys-naïewe mens soos ek – noem dit dalk eerder prys-onnosel – is in vir ‘n paar skokke op elke uitete, inkopietog, vakansie of wat ook al; jy betaal deur jou nek, pappa – dikwels vir iets wat nie naastenby soveel vir jou werd is as jy maar sou dink voor jy doen nie.

Gister koop my vrou vir my ‘n nuwe botteltjie naskeer terwyl ek in die motor sit en wag. Die selfoon piep-piep met die nuus van die aanslag op die kredietkaart en ek val amper van die sitplek af. Ek het eerlik nie besef wat die goed kos nie. Nie naastenby nie. Sou verwag het om nie ‘n kwart van die prys te betaal nie.

Tokkie paai: dit is nie buitengewoon duur nie en die produk ook niks vreeslik buitengewoon of eksklusief nie. Maar ek bly diep ongelukkig. Sy is vanoggend terug winkel toe om die pakkie te gaan teruggee. Voortaan gebruik ek net die goedkoopste op die mark. Laat mense gerus maar neus optrek vir my “banale, voorstedelike” aroma. Solank ek skoon is en my vel nie brand of jeuk nie, is ek tevrede.

Daardie onweerstaanbaarheid vir smeulende meisies wat veral die “sexy” TV-advertensies belowe, is immers nie meer vir die uwe ‘n lewensvatbare opsie nie!

Het iemand al die moeite gedoen om die prys van naskeer per liter te bereken? Om lekker te ruik, moet jy skynbaar stinkryk wees! Die arme vroue se parfuum is natuurlik nog duurder. En hul lipstiffies. En hul maskara. Eintlik alle kosmetiek. Dikwels word ‘n stokou produk net anders verpak en onder ‘n nuwe naam bemark dat dit bars. Mense – vroue (én mans) – betaal gewilliglik ook ‘n nuwe prys.

Wat sou dit so duur maak? Die mens se ydelheid? Sy sug na status? Sy dwaasheid? Slim advertensies? Seker tog nie die tegniek of inhoud nie – dit kan tog nie só ingewikkeld of onbekombaar wees nie. Daar is mos nie engeltjiepiepie in die bottel ne.

Sogenaamde “ripoffs” is volop op elke lewensterrein – dink maar aan die prys wat jy dikwels vir ‘n doodgewone bottel wyn in ‘n restaurant moet opdok of vir ‘n piepklein pakkie grondboontjies uit die sogenaamde “mini-bar” in die hotel. Om ‘n SMS af te lewer, kos die diensverskaffer glo ‘n fraksie van wat jy betaal. Vergelyk die prys van kiepiemielies by die fliek met dié van filet (per kilo, natuurlik) in die supermark en hartkloppens is gewaarborg.

Dikwels is dit die attraksie van ‘n handelsnaam wat deurslaggewend is vir die mal prys wat die vervaardiger mag vra. Dit geld nie net vir sportskoene nie (Nikes, o Nikes!), maar selfs vir pynstillers. Moenie van die houertjie ink vir jou tuisdrukker vergeet nie!

Die kultuur van gebottelde water is aan my relatief onbekend. As ek hoor wat prysgewys op daardie terrein aan die gebeur is, bly ek liefs ver weg. Ja-nee, HvD is ‘n kraanman en hy is nie skaam om dit te erken nie.

Die verskil tussen ‘n “ripoff” en ‘n “scam” word op internet so verduidelik: by laasgenoemde word jy verneuk, by eersgenoemde laat jy toe dat jy soos ‘n lam ter slagting uitgebuit word omdat die vervaardigers, bemarkers, ens. die regte snaar by jou tokkel.

Dit maak die arme verdrukte koperskorps teen eersgenoemde só magteloos – dis hul eie brose ego’s wat hulle dwing om te bars en betaal (die wet van Transvaal) net om nie agterlik, eenvoudig of uit te voel nie.

My voorneme is om op 71 te begin om ‘n studie van pryse te maak – en voortaan geen sent meer te betaal as waarvoor ek ná sorgvuldige oorweging van die waarde van en my behoefte aan die betrokke produk nie. As ek sonder iets duurs kan klaarkom, dan kom ek daarsonder klaar … kant en klaar.

Waarsonder ‘n mens natuurlik nie kan klaarkom nie, is kos. Maar hierdie oom het ook t.o.v. die daaglikse spyskaart goeie advies. Eet groente en nogmaals groente, vriende. Wat jy nie als in ‘n R100-kombo vars van die plaas kry nie, is iets om oor huis toe te skryf. Met groente is die arme boer die slagoffer van ‘n “ripoff” voel ek – terwyl die middelman en die verbruiker die hele pad bank toe lag! (HvD)