VAT 5 MET HVD!

Middag uit Melkbos

Vir die Saterdagoggend-program Vat Vyf met Derrich op RSG delf die deelnemers diep in hul kissies met herinneringe. As ek lus kry om deel te neem, sal ek eers ‘n era moet afbaken. Anders gaan ek ‘n afkop-hoender se rieldans uithaal.

Miskien moet ek die horlosie terugdraai na my eerste 20 jaar op aarde – van 1941 af tot die begin van die dekade 60.

In 1941 toe ek in Sister Gilbert se Nursing Home in Dundee my eerste skree gee, was die oorheersende geluide op aarde die oorverdowende geraas van bomme wat ontplof, lugaanvalle, alarms, geweervuur sonder ophou, tenks wat voortrammel en soldate wat met swaar stewels marsjeer. Dit was die Tweede Wereldoorlog. In 1941 het Duitsland o.m. oorlog verklaar teen Sowjet- Rusland en het die Japanners Pearl Harbor in Hawaii gebombardeer.

As mense oorlog maak, sing hulle. In die Bybel al. Dink maar aan Miriam se oorwinningslied nadat die Egiptenare deur die Rooi See verswelg is. Die Tweede Wereldoorlog het natuurlik ook vir sy eie musiekskat gesorg, wat in ‘n sekere sin ‘n basiese platform vir my latere musiekliefde verskaf het.

As my eerste liedjie vir Vat Vyf sal ek ‘n oorlogslied wil kies: ‘n mars soos Colonel Bogey, uitgevoer deur die Boston Pops, of een van Vera Lynn, die “Forces’ Favourite”, se troosliedere wat gedurig oor die radio en op grammofone gehoor is, dalk – liedere soos The White Cliffs of Dover en Now Is The Hour, wat van my eerste musikale herinneringe is. Dit was in die 40’s gedurig in die Griek se kafee op die hoek naby ons huis in Kimberley op die draaitafel.

My keuse vir lied nommer een val uiteindelik op die Groot Treffer van Wereldoorlog Twee, die meeslepende Lili Marleen. Die tydlose Marlene Dietrich het Lili Marleen amper haar eie gemaak, maar Lale Andersen se opname is buitengewoon. My keuse val op laasgenoemde. ‘n Ironiese kinkel aan Lili Marleen wat dalk nie meer so bekend is nie, is die aanvanklike verbod op die radio-uitsending van die lied omdat dit, volgens die Duitse opperbevel, prostitusie sou verheerlik! Die soldaat ontmoet sy nooi onder ‘n rooi lantern in Hamburg se berugte St. Paulibuurt, onthou!

Maar ‘n dekade jaar later was dit as ordentlik genoeg geag vir ons koshuisbloedjies van Potch-Volkies vir die periodieke plate-aande Saterdae in die skoolsaal – so helder verlig dat ons nie eens kon handjies vashou terwyl die romantiese liedjies ons harte vir mekaar week maak nie!

Wat nie ordentlik genoeg geag is nie, was Elvis Presley se treffers wat hy van 1956 (my st. 9-jaar) af begin uitryg het. Iets soos 18 Groot Presley-treffers het die internasionale treffersparades amper ‘n dekade lank oorheers. Ek kies sy pragtige ballade Love Me Tender, wat Elvis in sy ware, veelsydige kleure uitstal. Love Me Tender het voorgekom in die 1956-fliek met dieselfde naam. waarin die ontluikende Elvis ‘n ondergeskikte rol speel – die eerste en laaste keer in sy rolprentlewe. Die fliek se naam sou iets soos The Reno Brothers wees, maar toe Love Me Tender vooruit die mark tref, was dit oornag op almal se lippe. ‘n Miljoen plate is voor die uitreiking van die rolprent verkoop, en die slim bemarkers het vinnig toegesien dat laasgenoemde se naam verander word!

Iets van ‘n ander aard uit dieselfde era was die wonderlike kenwysie vir Jan Schutte se SAUK-aandvervolgverhaal die Du Plooys van Soetmelksvlei, of te wel Rachmaninoff se heerlike 18de variasie op ‘n tema van Paganini. As die soet klanke van Rachmaninoff se melodie elke aand om 19:20 oor die radio opklink, het die volk nader geskuif vir Oom Bartel, Tant Hybie en die ander Du Plooys se dinge. Meer as 500 000 op ‘n aand. Oom Bartel-hulle was soos familie. Ek het selfs gehoor dat ‘n ouerige dame op ‘n biduur die Here gevra het om tog een van die hoofkarakters te help “in haar tyd van beproewing”.

Dat die uwe jou wrintie geweet het die kenwysie se naam is nie, soos in die volksmond, die Soetmelksvleilied of die Soetmelksvleiserenade of iets nie, maar wel die 18de Variasie, ens. was vir my neef Ben Smith van Pretoria ‘n bron van verwondering. Elk moes dit telkens herhaal. Dit dra ‘n element by tot my sentimentaliteit.

Vir my lied nommer vier spring ek na my Tukkiejare en die tradisionele studentelied Gaudeamus Igitur, wereldwyd ‘n kampusgunsteling vir van seremonies soos gradeplegtighede tot intervarsity’s (dink ook aan Student Prince met die tenoor Mario Lanza in die titelrol!) Ek onthou ‘n paar guitige verwerkings.

As ek dink aan hoe sorgvry ons daardie ” nos habebit humus” -gedeelte van hierdie loflied aan die jeug aangehef het, kry ek nogal ‘n rillinkie. Op 71 is die humus-vooruitsig ietwat meer aktueel as doerie tyd!

As vakansiewerker by Die Volksblad in Bloemfontein van 1958 tot 1961 het ek meermale ‘n buitekamertjie gehuur in Sewende Laan, uit Aliwalstraat. naby die Klipkerk. Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was ook ‘n ingesetene. Hy had wonderlike langspeelplate. Een snit wat nog na al die jare steeds vir my aangrypend is – ek wil graag dat onse predikantsvrou Riana Hanekom dit by my tot-siens-diens op die orrel sal uitvoer – is die Largo-gedeelte uit Dvorak se Nuwe Wereldsimfonie.

Destyds was Dvorak se bobaas-komposisie vir my treffend ook vanwee die simboliese aard daarvan. My kennismaking met die koerant het inderdaad ‘n “nuwe wereld” vir my geopen – ‘n wereld waaroor ek nooit spyt was dat dit part en deel van my lewe was vir die daaropvolgende drie dekades van my lewe nie. (HvD)

EK IS NIE HY NIE!

More uit Melkbos

Op die foto is Jacob, een van die Claassens-tweeling, medalje om die nek ná ‘n verrassende sege in sy ouderdomsgroep in die vryslag op die Laerskool Welgemoed se swemgala – waarskynlik omdat hy in ‘n aggressiewe luim gebring is deur wat hy beleef het as ‘n premature verwydering van sy bril waaraan hy baie verknog is. Toe skop hy dat dit bars … en kom voor die geslypte swemmers van ouderdomsgroep by die wenpaal aan.

Natuurlik is Oupa trots en so aan, maar dis nie waaroor hierdie storie handel nie. Ek wil vertel wat gebeur het toe Jacob podium toe geroep word om sy medalje te kom haal.

Wel … niks het gebeur nie, om die waarheid te sê.

“Jammer, Jacob is klaarblyklik nie hier nie, want hy moet die wennersmedalje kom haal,” kondig die uitsaaier aan net op die oomblik toe sy ma, Marisa, deur die kinders gebeur kom om haar seun tot aksie aan te spoor.

“Jacob, jy word geroep!”

“Ek is Jacob (Jy-cob) Claassens nie Ja-kob Claassens nie,” kom dit kordaat.

Dis korrek. Hy is Jacob, Jacob Henry, terwyl hierdie oupa doodgewoon Jakob Hendrik is. Dis nie van opstêrsgeid nie. Jacob se pa, Brent, kom uit ‘n Engelse huis.

Ouma Tokkie sê Jacob se weiering om op die “verkeerde naam” te reageer, is nog ‘n bewys dat hy sy Oupa Hennie se nukke ge-erf het.

Ek sê: “Aikona, dis g’n nuk nie. ‘n Mens se naam is heilig.” Dis soos ek ek by die koerant ingedril is en by my redaksie ingedril het. ‘n Vriendin, Rina Koen, onthou selfs dat sy doerie tyd by ‘n Anna wou weet: Anna met twee enne of een en.

En dis ‘n ding wat ‘n lang pad kom, hoor. Op Melkbos het ons ‘n vriendin, Maria-Anne (Ma-raaia Ann) van der Merwe (gebore Louw). Ou dr. D.F. Malan se vrou, Maria (Marie-a), ook Maria-Anne gedoop, was haar tante.

Maria-Anne verkneuter haar aan die storie dat op die dag van haar tante se doop op Calvinia die dominee plegtig aangekondig het dis nou Maria (Marie-a)- Anne (An-ne) Sophia (Soo-fiea) hier by die doopvont.

Toe vloog die latere premiersvrou se ouma en Maria-Anne van Melkbos se oumagrootjie in haar bank orent: “Excuse me, reverend, you’re getting the pronunciation all wrong. The correct pronunciation is Maria-Anne Sophia” (op zijn Ingels). Die leraar moes mooitjies sy fout herstel.

Maria-Anne het ‘n kleindogter wat ook Maria-Anne is. Ander ouma had hieroor bedenkinge. Toe sy die historiese agtergrond meegedeel word, het sy dadelik omgeswaai.

Punt is: ‘n mens laat nie met jou naam mors nie. Nooit nie. Tensy jy ‘n papperd is. Skote Petoors, Jacob!

Naskrif: Jacob se boetie, Thomas, het Oupa ook in die laaste dae plesier gegee. Hy (wat aanvanklik reserwe was) het hom ontpop as amptelike “Bouler van die Wedstryd” in sy krieketspannetjie se sege teen ‘n buurskool. Daarna moes jy darem hoor hoe Oupa op sy dag die bal kon slinger. Die uwe was mos die skraal swartkop-snelbouler van Potch-Volkies se eerste krieketspan in 1956 en 1957, al sou min dit deesdae kon raai. (hvd)

MEEU OP SY TROON

More uit Melkbos

Amper soos die immergroen Koningin Elizabeth op haar troon sit, sit ‘n meeu onverstoorbaar op sy troon – ‘n spits rots wat bo al die ander uittroon voor “ons” Buffelsbaaise huise, Kammarus en Kop-bo-water, waar ons al oor vier dekades vakansie hou.

Die “ons” word aangehaal, want dis nie regtig ons huise nie. Ons huur maar net, eers by prof. Bethel Muller van die Kweekskool, Stellenbosch, daarna by prof. Vaatjie du Toit, dekaan van die mediese fakulteit, en na sy afsterwe by die McSeveneys van die Rand.

Nietemin, van die eerste dag dat ons by Kop-bo-water stilgehou het, sit ‘n meeu op daardie rots. Soms twee. Soms drie. As die rots soms onbemeeu is, kan jy maar weet: dis nie vir lank nie. En as vreemdes kom lol, gee dit huismoles af.

Selfs vir iemand wat van die lewensiklus van meeue so min weet soos ‘n katlagter van saffraan, lyk dit onwaarskynlik dat dit, soos die gryse vorstin van Engeland, vandag nog dieselfde vlees en bloed is as wat ons rondom die 70’s daar aangetref het. Meeue se lewens is maar soos seegras, glo ek. Vandag in sy fleur in die water. More verdor uitgespoel op ‘n barre strand.

Oor die ‘troonopvolging” sit ek en wonder terwyl ek die huidige bekleder van die pos van Kammarus se ruim dek af sit en dophou – yskoue witwyntjie in die hand natuurlik, maar darem ‘n “extra light”-enetjie om die inname van kilojoules in toom te probeer hou.

Sou dit soos by die koninklikes ‘n kwessie wees van voorgeskrewe opvolg-prosedures: die oudste nassaat van die oudste nasaat van die oudste nasaat …? Sou die knusse plekkie op die rots ‘n vaste bate wees wat staakgewys vererf soos by ‘n intestate boedel (ja, ek onthou iets van my erfreg!)? Sou dit ‘n geval wees van “first come, first served” soos die Ingelse uitdrukking lui? Sou bloedige stryde om heerskappy gevoer word?

Terwyl ek my meeue-mymeringe mymer, merk skoondogter Mariza op: “Sou hy nie gatvol raak om dag in en dag uit so daar te sit nie?”

“Nooit,” reageer ek met oortuiging. “Dit is mos ‘n voorreg – sy (haar?) eksklusiewe kolletjie paradys in die grote heelal.”

Hoeveel soorte seemeeue ons kuste patrolleer, op krappe en ander dooie seediertjies aas en hul kenmerkende “kow-kow” of “ki-ok-ki-ok” roep – die roepe wat die kus help karakter gee – kom ek eers agter toe ek Ian Sinclair se Veldgids raadpleeg. Mense, jy kry arktiese roofmeeue, knopstertroofmeeue, langstertroofmeeue, bruinroofmeeue, suidpoolroofmeeue, haringmeeue, kleinswartrugmeeue, swartrugmeeue (algemeen hier in die Kaap), swartkopmeeue, gryskopmeeue en wat nog.

Die kennis gee my nog iets om oor te wonder. Van watter soort meeu sing Anneli van Rooyen in “Seemeeu” en Rina Hugo in “Soos ‘n Seemeeu”? Watter een figureer in daardie voortrfelike Duitse lied uit die jare 40 “Mowe, du fliegst in die Heimat” wat Magda Hain altyd so aangrypend gesing het op plate-aande by Volkies in die jare 50?

Daardie lied vol verlange handel oor ‘n Duitse soldaat in die Tweede Wereldoorlog wat ‘n seemeeu sien terugvlieg in die rigting van sy verre vaderland, het ek by daardie groot musiekkenner my wyle kollega Fred Schnetler gehoor.

Skrynend en hartroerend en diep sprekend tot die siel. Seker nie vreemd nie dat die gekrys van ‘n seemeeu my nou nog na my “Buffelsbaaise” heimat laat verlang – en na daardie ou wat, sonskyn of nat en koud, vorstelik die rots voor Kop-bo-Water en Kammarus bewaak. (hvd)

WAARDE VIR GELD

Middag uit Melkbos

Absolute waarde vir geld!

Op George (in George?) was ek en Tokkie nou tuis in ‘n netjiese, gerieflike, moderne, kraakskoon eenslaapkamerwoonstelletjie met allerlei verrassings in die yskas teen R200 per nag. Nee, dis geen tikfout nie.

Spesiale pluspunte: goeie adres, rustige omgewing, hanetree van die hospitaal, minute van die hart van die dorp (stad?).

Vir navrae: Kitty Kruger, 072 2345 355.

Terloops, as dit Donderdag is en jy’s ‘n lid van die kieriekommando, laat vat Mosselbaai toe. Die Kingfisher (op die see) bied op Donderdae ‘n middagete vir pensioentrekkers aan (vis, skyfies en ‘n glasie wyn) teen R29,50. Geen wonder nie daar’s vier sessies al van 11:00 in die oggend af. Almal tjok en blok.

Eet vroeg, eet reg, eet dikwels!

Die beste van als: hierdie wenkies kom met komplimente van HvD. Gratis en verniet! (HvD)

GAAN KYK, GAAN KYK!

Gee die man ‘n Oscar!

Middag uit Melkbos

Die Leon van Nierops, Barry Ronges en Paul Boekkoois sal weet of ek mistas of nie, maar so in my lekehoekie wonder ek of al ooit twee beter rolprente saam op die kringloop was as Martin Scorsese se magiese Hugo en The Descendants met ‘n manjifieke George Clooney in die hoofrol.

Mense soos ek en Tokkie wat selde in ‘n fliek kom, het gewis nog nooit twee groter meesterstukke binne 48 uur op die groot skerm gesien as hierdie twee nie. Nou wag Iron Lady en We Need To Talk About Kevin nog op ons, pink T. ‘n traantjie weg omdat sy The Girl With The Dragon Tattoo misgeloop het, en word We Bought A Zoo deur vriende met betroubare oordeel sterk by ons aanbeveel.

Waar moet ‘n mens die tyd vir al die gefliekery kry as Hollywood sulke voortreflike produkte uittower?

Sien intussen die Afrikaanse Semi-soet vaar ook heel skaflik met die stertoekennings van die resensente – beter as Liefling, in elk geval. Maar laasgenoemde het hierdie ou ‘n groot skrik gegee. By Semi-soet hou hy dus liewer verby.

Hugo het die Van D’s Donderdagmiddag 17:15 in Bayside, Table View, gesien. Ons was die enigste twee mense in die teater. Kan dus aanspraak maak op die eksklusiwiteit van ‘n private vertoning. Werklik.

By The Descendants was ons vanoggend (Saterdag) om 11.45 in die Tygervalleisentrum. Dalk was ons 20 mense in die teater. Ek twyfel.

As twee films met ‘n wavrag Oscar-benoemings tussen hulle twee so min mense lok, sien ek swarigheid vir die silwerdoek-bedryf. Of gaan fliek die jonger garde op ander tye as ons?

By The Descendants was minstens twee van die Gideonsbendetjie chroniese giggelaars. Toegegee, tussen al die patos is genoeg heerlike humor. ‘n Aangrypende fliekervaring, met ‘n roerende storie wat ontvou teen die agtergrond van die skilderagtige Hawaii, is deur daardie irritasie egter nadelig getref.

Hoekom party mense so onbedaarlik giggel wanneer hulle genoop voel om te giggel, slaan hierdie gryse al van toeka af dronk, tensy hul metgeselle hulle dalk sit en kielie. Lyk egter of hierdie hinderlike skeet van ‘n sekere seksie van die ou mensdom aan die toeneem is.

Maar laat ek nie ‘n knorpot wees nie. Dankie, nogmaals dankie, aan diegene wat ons aangeraai het om te gaan kyk. Hugo en The Descendants was albei deur en deur die moeite werd. Hoop die Oscars rol vir hulle in. (HvD)

BRIEF OOR BELHAR

More uit Melkbos

Die brief hieronder is gister aan “Kerkbode” en ander kerklike forums gerig. Ek herhaal dit hier omdat dit vir my, wat die politieke broederstryd van die 80’s intens beleef het, werklik ‘n saak van erns is dat ons op kerklike terrein ‘n ewe felle broederstryd tot elke prys vermy.

Weerstand teen die Belhar-belydenis op die grondvlak van die ouer generasie in die NGK gaan nie sommer net wegraak nie. Ongelukkig word die omvang egter deur kerkleiers onderskat – derhalwe ook die potensiaal van tweedrag en vervreemding van lojale lidmate.

My kompromie is ‘n nuwe belydenis vir ‘n nuwe tyd´- een wat ook die positiewe in Belhar beliggaam maar sonder die verdelende politieke bagasie. Onder diegene wat daarmee akkoord gaan, is swaargewigte op vele terreine, ook teologiese swaargewigte. Een wat ‘n lang pad intiem met die kwessie saamkom, noem dit die “enigste werkbare alternatief”.

Verblydend is dat, ter wille van die Groter Saak en van vrede en versoening, selfs by sekeres wat die nodigheid van enige bykomende belydenis ernstig bevraagteken, ‘n gewilligheid tot kompromie bestaan.

So lui my brief:

In my kring van gewaardeerde, gerespekteerde vriende is die hele Belhar-spektrum verteenwoordig: van entoesiastiese omarming tot absolute verwerping. Wie het al die wysheid in pag om te oordeel wie die absolute waarheid beet het en wie nie?

Moet die NGK werklik hierdie sensitiewe saak op die spits dryf? Is dit in die kerk se belang om hieroor opnuut tweedrag te ontketen en lojale lidmate te vervreem? Wat is dan fout met ons mense dat ons so graag tot die bittereinde ‘n saak wil uitbaklei terwyl ‘n versoenende alternatief reddend ter hand is?

Die oplossing vir die dilemma is tog duidelik: ‘n nuwe belydenis vir die nuwe era – een wat, saam met die ou grondwaarhede, ook die opbouende in Belhar beliggaam – maar sonder die politieke bagasie waaroor die weë op die oomblik grotendeels skei.

NGK en VGK het kreatiewe teoloë wat uitmuntend toegerus is vir die verantwoordelike taak van ‘n vars formulering vir vandag wat werklik die saak van versoening dien.

Soos ons almal saam ‘n nuwe Grondwet kon uittimmer wat op ‘n breë basis van vaderskap kon reken, het ons in die kerk dieselfde uitdaging voor ons. Dit is ‘n verrykende uitdaging – ons mag gewis nie daarvoor terugdeins nie.

Waarom dan teruggryp na ‘n ‘noodkreet´ uit die verlede as die geleentheid hom voordoen om kraakvars , eietyds en vernuwend te dink? Ek begryp werklik nie.

Van ‘noodkrete” gepraat: beskou asseblief hierdie briefie ook as een. Dit is wat dit is. (HvD)