GLIMLAG OF GRIMLAG

More uit Melkbos

Ag nee, glimlag nou ‘n bietjie, ou grote!

Leeu poseer vir kamera – ewe grimmig as John Vorster destyds (“maar ek glimlag dan klaar!”)

Foto: Thomas Claassens (7-jarige kleinseun). Plek: Naby Skukuza. Ja, die jongehere ken van knoppies druk. (HvD)

VAN BABAS TOT JONGEHERE

More uit Melkbos

Tempus fugit, het die ou Romeine mekaar fronsend en kopskuddend toegevoeg as die seisoene skynbaar al hoe vinniger op mekaar se hakke begin volg. Kan nie verskil nie. Die tyd vlieg ja – die tyd het toe ook al gevlieg.

Tempus is fugitting like mad, het die Engelse omroeper Eric Egan in die jare 50/60 op die SABC kwytgeraak. Kan ook nie van hom verskil oor die tempo van die jaarwisselinge nie.

Ek noem “onsekure statistieke” in die voorwoord van my laaste bosboek, Duisend Dae Langs die Sabie, as die rede dat ek oor die presiese getal dae (bednagte) in Sabiepark ietwat in my geheue rondtas. Presies wanneer is die 1000ste dag bereik? Daardie aand moet bepaald tog gevier gewees het. Dalk is die spesiale bottel rooi eers op die 1005de dag oopgemaak, of op dag 1008.

Oor een (nuwer) aspek van ons Sabieparkse kuiers probeer ek die statistiek wel sekuur hou Dit is oor ons besoeke saam met die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (nou 7), wat een van ons verrykendste bostradisies geword het.

Ek en Tokkie was in Desember/Januarie op ons 36ste kuier by Tarlehoet in 13 jaar. Een besoek was net vir ‘n Paasnaweek. Ons het van die Kaap gery en gery en gery. Marisa was toe student in Bloemfontein en sy is die Donderdag na klas daar opgepik om Sabiepark aan haar te gaan bekend stel. Van die wintervakansies, veral aan die begin toe ons jonger, sterker en avontuurliker was, het tot drie maande elk geduur. Om twee maande die tentpenne van Melkbos na Sabiepark te verskuif, was niks snaaks nie.

Maar die seuns: hul alleenkuiertjies saam met Oupa en Ouma het hierdie somer tot agt geklim. Aanvanklik het ons ‘n soort kermisbed in ons slaapkamer geskep vir die okkasie. Nou is hulle al groot, onafhanklike, dapper seuns met hul eie slaapkamer. Wat eers bekend was as “Ouma se kamer” het ‘n nuwe naam: “Die tweeling se kamer”. Ouma sal, helaas, nie weer op Sabiepark se stoep sit en vir haar “beeste” (blouwildebeeste) en “varke” (vlakvarke) kyk nie. Sy word 98.

FOTO 1 – WINTER VAN 1906

Die tweeling se heel eerste besoek was saam met hul ouers. Toe was hulle eintlik nog babatjies. Net ouer as ‘n jaar en op hul veiligste in ma en pa se arms. Op foto een hierby is hulle in die winter van 1906 by Tarlehoet se naambord (goeie swarthout uit die Kaap) afgeneem – die eerste foto in ‘n reeks wat vertel hoe woes die tempus inderdaad fugit.

Die enetjie regs is Thomas en die enetjie wat verseg om vir die kamera te kyk natuurlik dan Jacob. Op latere foto’s kyk Jacob darem vir die kamera. Hy slaag nie elke keer om ‘n glimlag uit te forseer nie.

FOTO 2: WINTER van 1907

Foto twee is geneem op Jacob en Thomas se eerste besoek sonder mamma en pappa, Dit was in Julie 2007. Hulle was toe drie en nog in doeke. Die avontuur het begin toe ons in Kaapstad op Nationwide se Boeing klim. Die avontuur het voortgeduur, vyf jaar al. Vir al vier kleef kosbare herinneringe aan die vakansies in die bos, en ek rapporteer dankbaar dat hulle ware bos-seuntjies is – lief vir die diere en die plante (net nie vir die perdebye op die stoep nie!).

Nationwide het ongelukkig intussen stert tussen die bene gesteek (wag hoeka nog op ‘n terugbetaling uit die bankrot boedel!). Dit het ons beroof van ‘n gerieflike, relatief ekonomiese manier om by Sabiepark te kom. Die laaste paar jaar het ons ge-Kulula tot in Johannesburg. Die Honda moes daarna die kilometers vreet. Nou het ek lui geword vir daardie kwaai ryery. Die Honda is terug op Nelspruit.

Die vliegtuigkaartjies Nelspruit toe is sommer heelwat duurder, maar daardie vier uur wat jy spaar, is goud werd. Al die taxi’s en swaar vragmotors verdwyn ook met ‘n vingerklap uit jou lewe.

Intussen het Jacob en Thomas se boetie Christopher (vandag presies drie jaar oud) darem ook al ‘n keer of wat kennis gemaak met die bos, asook hul nefie Migael (5) van George. Maar jammer, Migael en Christopher, jul tydsberekening tel teen julle. Dis Jacob en Thomas wat hul buiging op hierdie dal van trane en plesiere gemaak het toe Oupa en Ouma nog opgewasse was vir die eise wat peuters en kleuters op so ‘n bosvakansie stel – en dit is hulle twee wat deel van ‘n tradisie geword het, wat, helaas, in elk geval nie vir altyd sal kan aanhou nie.

FOTO 3: WINTER 2011

Op foto drie is die drie Claassens-seuns saam by die naambord in Julie 2011. Die twee ouer boeties slaag daarin om meewarig ervare te lyk.

FOTO 4: SOMER 2012

Foto vier is op 8 Januarie 2012 geneem, ‘n dag voordat ons moes omdraai Kaap toe vir die premature opening van die Kaapse skole op 11 Januarie. Was sommer baie jaloers op die binnelanders wat nog ‘n week vakansie kon hou.

Ouma en ma Marisa is verras dat Oupa die manne toegelaat het om so windmakerig op die Tarlehoetbord te sit. Sê nou die ding het gebreek, soos een keer tevore toe Oupa en oom Herman le Roux se vaardighede as skrynwerkers hulle met die opsit daarvan in die steek gelaat het. Professionele hulp moes ingeroep word.

Deesdae staan ons bord rotsvas – storms of te not. En die jongehere lyk darem vir Oupa te oulik as hulle so grootman poseer. Ongelukkig wys dit ook maar net weer hoe tempus fugit!
(HvD)

OM STIL TE SIT EN TE ERVAAR

Middag uit Melkbos

Oor “Duisend dae in die Sabie” het Vrydag ‘n “gulle”* resensie in “Die Laevelder” verskyn. Die resensent is Marius Bakkes, ‘n media-raadgewer en redakteur van reis- en toerisme-tydskrif in die Laeveld, en bestempel homself o.m,. as “bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word.”

Bakkes skryf:

“Oud-koerantman Hennie van Deventer se “Duisend dae langs die Sabie” is ‘n hedendaagse werfjoernaal wat veral tot baie in die Laeveld sal spreek. Dis die aantekeninge en kant-aantekeninge van etlike jare se gereelde verblyf by sy vakansiehuis in Sabiepark.

“Hierdie is ‘n uitsoek- private ontwikkeling op die walle van die Sabierivier digby die Krugerhek. Talle bekende Suid-Afrikaners en wildliefhebbers het oor die jare daar vakansieplekke en woonhuise gehad. Ek dink aan Mimi Coertse en die sakeman Werner Ackerman. Die bekende Afrika-wildlewe-kinematograaf David Hughes en sy fotograafvrou het op ‘n stadium permanent hier op Sabiepark gewoon. Oor hulle het ek weer ‘n SAUK-televisiedokumentêr kom maak na die bekendstelling van Hughes se suksesvolle National Geographic-produksie “The last feast of the crocodiles”. Die bekende argitek, kunstenaar en bewaringskundige, Hannes Meiring wat onlangs dood is en sy vrou, die joernalis Martie Retief het my en ‘n paar vriende een slag die eksklusiwiteit van Sabiepark laat beleef. Hannes en Martie het hulle lieflike Afrika-huis hier op die rivierwal vir ‘n naweek tot ons beskikking gestel nadat hulle weer op ‘n keer my wegbreekhuisie op Rhodes in die suidelike Drakensberge besoek het.

“Van Deventer was onder meer redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Hy het as uitvoerende hoof van koerante by Naspers afgetree. Sy vol lewe as persbaas het hom egter nie verhoed om talle publikasies, meestal herinneringskrifte en vertellings die lig te laat sien nie. Duisend dae langs die Sabie is die jongste en handel oor die ervarings wat van Deventer en sy mense oor die jare hier beleef het. Die van Deventers wissel woonplekke met ‘n aftree-strandhuis by Melkbosstrand af.

“Hier op Sabiepark is hy en sy vrou Tokkie fyn waarnemers. Synde oorkant die rivier van die Krugerwildtuin bly Sabiepark met sy woonhuise verskuil van mekaar tussen die bosse die ideale plek op die wildbedrywighede te bestudeer en van naby te beskou. Dikwels is dit sommer van die stoep af, en dis dit wat van Deventer hier raakvat.

“Sy poging is ‘n goeie voorbeeld vir enigeen van ons wat graag veldnotas maak. Hy dra sy belewenis gul oor en maak mens lus om net weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar.

“Vir my as bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word, is dit ook ‘n belangrike publikasie. Dit is nog ‘n ervaring aangeteken en ‘n tydgees vasgevang. Dikwels is dit daardie enkele eenvoudige herinneringskrif bedoel net vir familie wat die geheim van mens en plek soos dit eens op ‘n tyd was die beste ontsluit. Hier is dit ‘n deurwinterde Afrikaanse joernalis aan die woord.

“ ‘Duisend dae langs die Sabie’ is te kry by die Park Shop-winkels in die wildtuin. Dis ook beskikbaar by Protea Boekehuis in die Tarentaalsentrum in Nelspruit. “
*Ek leen die woordjie “gul” by die resensent, wat bevind dat die skrywer sy belewenis “gul” oordra en ‘n mens “lus maak om weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar”. Die opskrif is: “’n Unieke werfjoernaal”. (HvD)

PANIEK OOR LAKE PANIC

Middag uit Melkibos

Oor my “Meer van Vreugdes” raak ek maklik liries. In “Duisend Dae Langs Die Sabie” besing ek opnuut die lof van Lake Panic, skilderagtige lafenis vir die siel digby Skukuza, net 15 kilometers van Sabiepark se hek af.

Lake Panic se voëlskuiling is op die S42 tussen die Krugerhek en die kamp. Dit is net ‘n klipgooi van Skukuza se gholfbaan en die skaduryke inheemse kwekery af. Watervoëls – van die yslike reusereiers tot die fyntjiese kleinkoningriethane – is gek na die plek. Ek ook. Om op die gholfbaan se stoep ontbyt te eet, is eweneens ‘n gunsteling-bosaktiwiteit.

In die duisend dae van die Van Deventers se bosbelewenis tot dusver was die nimlike Sabierivier soms rustig, soms onstuimig. Een keer, in Februarie 2000, het hy hand-uit geruk. Hierdie week, in Januarie 2012, sommer aan die begin van ons tweede duisend dae, was daar amper ‘n herhaling van daardie onheilsdag.

Namate die nuus oor die siedende rivier se stygende hoogte en berigte oor die skades begin inkom het, asook die asembenemende fotomateriaal uit alle oorde, is asem opgehou. Het wat voorheen met vaste vertroue ‘n “honderdjaarvloed” genoem is, dalk nou sy siklus tot slegs 12 jaar verkort?

Toe die skoknuus kom dat Lake Panic se wal gebreek het, het die vae onrus skielik die hart van skrik laat steier. Gaan Lake Panic sy naam gestand doen, was die vraag op almal se lippe. Vrese dat die dam se muur water die personeeldorp Skukuza kon platloop, het opgewel.

Die “panic” in Lake Panic se naam beteken immers werklik “paniek” oor daardie wal – die paniek van sy bouers dat dit kon breek. Terwyl die dam in 1977 in aanbou was, het die vrees ontstaan dat die nuwe wal, nog broos en ongevestig, voor die watergeweld sou meegee.

Jeanette Coetzee van Tennessee, voorheen van Skukuza, vertel: “‘n Vreeslike donderstorm het een middag losgebars – ‘n ware wolkbreuk. Sou daardie massa vloedwater oor die grondwal stort, sou dit verby wees met die nuwe dam. Dit het ons dadelik besef. Al wat leef en beef kom toe met hul grawe en pikke. Die manne werp alles in die stryd om die dam te red. Hulle het paniekerig net bly grawe om die uitloop dieper en groter te maak. Só red hulle toe die dam – ‘n heldedaad met pik en graaf.”

Na 35 jaar gebeur die ondenkbare toe wel – die damwal breek. Maar genade van bo: die dam se water stroom wel deur die dorp; egter nie bo-oor die dorp, soos gevrees nie. Om die huise lyk dit soos mere. Maar die huise bly staan. Slegs tuine, stukke paaie en ‘n hap van die kwekery word weggevoer. Die goeie mense van Skukuza en hul vriende oral kan ‘n sug van verligting slaak.

Die paniek van 1977 was dalk geregverdig; die paniek van 2012 was gelukkig van korte duur.

Oor waarom die ergste vrese nie bewaarheid is nie, kan ek nie uit Melkbos probeer bespiegel nie. Skukuza van 1977 en Skukuza van 2012 is egter in vele opsigte verskillende plekke. Die kwesbaarheid is waarskynlik deur omvangryke ontwikkeling verminder.

Soos ek hier tik, is ek diep dankbaar dat soveel van die mooi behoue gebly het. Kom die Van Deventers in die winter weer in die bos, soos nog altyd sedert 1997, sal ons bepaald binne die eerste paar dae gaan ontbyt eet op die gholfklub se stoep. Miskien wag dan nog ‘n uitgestrekte modderbad waar voorheen ‘n plaat blink water met hope seekoeie en ‘n ryke voëllewe was. Dalk hoor ek g’n seekoei proes nie. Dalk sit die gapende gat steeds in Lake Panic se wal, soos op die foto hierbo wat op die webwerf van die gemeente Krugerwildtuin (tik Krugerwildtuin Gemeente in Facebook se soekhokkie) verskyn het. Een wete sal egter oorheers: dit kon egter soveel erger gewees het.

Trouens, die hele vloed se impak kon soveel groter gewees het. Skade aan brûe – laagwater- en hoogwaterbrûe – het nie uitgebly nie, maar happe is darem nie uit brûe geruk soos op die foto hierby van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek nie – een van die onvergeetlike herinneringe van die vloed van 2000.

Mense soos ds. Carl Louwrens van Skukuza meen dat ons juis 2000 se vloed daarvoor moet bedank. Dié het die rivier skoon gespoel. Destyds is bome meegsleur. Die stamme het teen brûe opgestapel. Hemelhoë damwalle is gevorm. Die muur van water kon nie vorentoe nie en reusegolwe het o.m. oewerhuise ingesluk.

Vanjaar was die rivier oop, die water kon vloei – see toe.

Op die houtblad van Lake Panic se skuiling het iemand lank gelede uitgekrap: “What I saw here you could not even imagine.” Mense wat die vloed van 2012 en die wonder van die relatief beperkte skade beleef het, sou ongetwyfeld met diepe dankbaarheid dieselde kon rapporteer. Dit is inderdaad bo menslike verbeelding.

GENERAAL WAT LAAT NAEL

More uit Melkbos

Italianers is bekender vir hul roomys as hul mannemoed. Dit dit verg nie juis ‘n buitengewoon siniese mens nie om raak te sien dat die glipsie van die ongelukkige Italiaanse skeepskaptein – wat taamlik voor in die tou toevallig in ‘n reddingsbootjie in-“gestruikel” het – nie juis uit karakter was nie.

Dié vermaaklike insident gee aansienlike relevansie en geloofwaardigheid aan ‘n Winston Churchill-storie wat op die oomblik die ronde op die internet doen. Ek herhaal dit in zijn oorspronklike Engels, want die gedugte Churchill was, na my wete, nooit só gedug dat hy die taal van die Boere-vyand kon bemeester nie. So lui die storie:

After his retirement, Churchill was cruising the Mediterranean on an Italian cruise liner. Some Italian journalists asked why an ex-British Prime Minister should chose an Italian ship.

“There are three things I like about being on an Italian cruise ship,” said Churchill.

“First their cuisine is unsurpassed.”

“Second their service is superb.”

“And then, in time of emergency, there is none of this nonsense about women and children first.”

Relevansie het die storie bepaald. Geloofwaardigheid? Dié is twyfelagtig. Dit sê ek nie op grond van eie insigte nie, maar op werklik waterdigte Churchill-gesag: die boek “Churchill’s Wit” deur Richard M. Langworth. Dit was een van my gewaardeerde geskenke vir my 70ste ‘n jaar gelede.

Daardie boekie is die enigste – nota bene – versameling Churchill-spitsvondighede wat in samewerking met die Churchill-familie nagevors is. Elke aanhaling kan dag en datum nagespeur word.

In die inleiding lees ek vir verskeie beweerde Churchill-gesegdes wat bv. op die internet aan die merkwaardige oubaas toegedig word, bestaan geen vaste grond nie. Dis ‘n verdigsel, romantisering of verknoeiing. Die outeur noem sulke “aanhalings” “red herrings” – sommer net hase wat opgejaag word.

Getoets aan die vereiste van ‘n soliede verwysing, sneuwel o.m. die lekker Churchill-storie oor ‘n gesprek met Nany Astor:

Nancy Astor: I I’d were married to you, I’d put poison in your coffee.

WSC: Nancy, if I were married to you, I’d drink it.

‘n Hele “appendix” met sulke onsuiwerhede word in die Langworth-bundel ingesluit.

Die storie oor die bootvaart op die Italiaanse skop is NIE in die boek nie. Trouens, dit is so ‘n “red herring” of “haas wat opgejaag word” dat dit nie eens die “appendix” haal nie!

Verder verstaan ek uit die boek dat WSC, al het hy klaarblyklik die sentiment in die storie jeens Italianers gedeel, eenvoudig te slim, galant en flink in sy denke was om hom te laat vang met ‘n aanhaling wat hom sleg kan laat lyk het met ‘n aweregse siening oor vroue en kinders wat in nood voorkeur behoort te kry.

Een skerpsinnige aanhaling met ‘n Italiaanse angel wat wel in die boek opgeneem is, is die volgende:

I have never known a case of a great athlete being a great general – no prize-fighter has ever been a good general. The only ecxeption might be in the Italian Army, where a general might find it useful to be a good runner. Eina! (HvD)

SEEKOEIE KEER OOK TERUG ….

Stoelkussing in ‘n boom – simbool van Groot Water

More uit Melkbos

Vrae maal vanoggend in die kop oor gister se ontsettende vloede wat die Wildtuin van die buitewêreld afgesny het. Het Lake Panic se damwal gebreek, soos ons “betroubaar” gehoor het? Is Skukuza ‘n rampgebied? Is van ons vriende dakloos? En ons eie Sabiepark: hoe groot is die skade? Word oewerhuise weer oorstroom soos in die Groot Vloed van 2000? Hoe flenters is ons skilderagtige piekniekplek?

Toe die eerste foto’s van ‘n siedende Sabie begin inkom – hoe vinnig kom hoeveel mense nie vinnig by krisispunte nie met hul kameras en selfone nie? – het my hart dadelik ‘n paar rukkie gegee. Want ek het Maandag 7 Februarie 2000 onthou; die onheilsdag.

Om ‘n samehangende prentjie van die omvang van ‘n vloed te kry, is nie maklik nie. Dit weet ek as joernalis maar te goed. Enorme skade lê soms lank onder slik en modder begrawe. Maar sulke magtige waters kan nie oor ‘n gebied spoel sonder om diep spore te laat nie. Dit weet ek ook. Dit maak my amper bang vir wat vandag gaan oplewer, more, oormore …..

‘n Honderdjaarvloed. So het ons gepraat van 2000 se Groot Waters, wat oral in die Wildtuin-kontrei nuwe vloedlyne, dramaties hoër as die voriges, gedefinieer het. Altesaam 1 280 mm het daardie somer uitgesak, ‘n rekord der rekords. Dis 225% bo die jaarlikse gemiddelde.

Honderd jaar? Dit was dalk te optimisties. Maar ek wil ook nie alarmisties wees nie. Laat ons hoop dit is hierdie keer minder erg. Vandag kan die prentjie al duideliker begin word…..

In elk geval, al wat ek met sekerheid weet waar ek vanoggend hierdie blog tik, is dat die Sabierivier op Maandag 7 Februarie 2 000 rasend geraak het. Sabiepark is in ‘n ommesientjie van die buitewêreld afgesny. Vyftien huise is deur die vloedwater ingesluk. Die piekniekplek is verwoes. Die wandelpad is van die aarde gevee. Die waterwerke, keerwal en wildheining het stuk vir stuk stroomaf verdwyn.

Sabieparkers, onder wie die bekende wildfotograaf wyle David Hughes en sy destyds nog dowe vrou, Carol, moes van hul huis se dak gered word.

“Auk, die water hy kom, hy kom. Hy loop, hy lóóp.” Die kostelike beskrywing van die waterwoede deur ‘n afgetrede veldwagter, ou Willie, het mense later laat glimlag. Maar, let wel, dit was agterna. Midde-in die vloed was nie vir glimlag tyd nie. Toe was dit doodsake.

Sabiepark self is dae lank volledig afgesny — geen toegang per pad nie, geen telefoon of selfoonsein nie, geen elektriese krag in die kantore nie. Eers ‘n week na V-dag, op Maandag 14 Februarie 2000, is Sabiepark se fakslyn herstel. Drie dae later bereik ‘n faksboodskap van Zeller eienaars. Die opskrif: Vloedramp — Februarie 2000: Sabiepark was “te midde (van) die rampspoedige wattermassa” en “geweldige skade” is aan die rivieroewer aangerig.

Ek en Tokkie draai op Maandag 13 Maart met angstige harte by Sabiepark se hek in om self te gaan kyk. Die ramp kry toe eers werklik ‘n skokeffek. Die piekniekplek is platgevee. Van ons skilderagtige wandelpad het niks oorgebly nie. Om by die oorstroomde oewerhuise van vriende te kom, moet jy voetjie-vir voetjie deur die donker modder ‘n weg baan. Dis soos makabere oorlogtonele wat hulle voor jou ontvou. Vuil gordyne wapper deur die stukkende ruite. Patetiese hopies meubels, beddegoed en kombuisware staan rond. Stoelkussings hang in bome. Hoog teen die smerige mure streep die vloedmerk.

In die Skukuza-personeeldorp – dalk nou weer die episentrum – is enorme verwoesting aangerig. Altesaam 61 huise het deurgeloop. Die skooltjie (waar al by geleentheid leeus op die stoep ‘n slapie kom vang het) het sy rekenaars, boeke en ander toerusting verloor. Sowat 150 mense — almal lidmate van die gemeente — was dakloos. Die kerk moes die eerste paar dae etes aan die vloedgeteisterdes verskaf.

“Ons het ‘n krisis,” het ons ds. Carl Louwrens oor die radio hoor se. Toe het ons die goeie mense van Skukuza nog nie so goed soos nou geken nie, maar ons harte het na hulle uitgegaan in hul nood. .

Die volgende vakansie was ons terug. By Skukuza se kerk kry ons die laaste Sondag ‘n Kerkbode met ‘n pragtige stuk deur die boekeman Charles Fryer. Fryer se gevolgtrekking: “Die goue gloed van hoop glim tog deur die donker op donker van koerantnuus.” Hy haal ook die bejaarde skilder Robert Hodgins aan: “Dit is wonderlik om te lewe. Die bome gaan bot, al is ons omring deur rampe.”

Die bome gaan weer bot, al is ons omring deur rampe. Ja, selfs die seekoeie keer ook terug, soos ons self gesien het. Watter heerlike sekerheid om in jou hart te hê terwyl jy angstig sit en wonder … en vrees … en naels kou. (HvD)

Naskrif:

09:15 – Uit Skukuza pas goeie nuus gekry. Lake Panic se boonste wal – die een by die gholfklub – het wel gebreek en die massa water is deur die dorp. Geen huis is egter in die ware sin van die woord oorstroom nie. Die genade is dat die rivier onbelemmerd vloei – geen bome is meegsleur om kritieke versperrings te vorm soos in 2000 nie.

In Skukuzadorp is enkele huise langs die spruit uit voorsorg ontruim. Paaie in die omgewing is meesal steeds onbegaanbaar. Die hoogwaterbrug op die teerpad van die Krugerhek af is deels daarmee heen – ook verkeie laagwaterbrue. Skukuzadorp en Skukuza is steeds deur die waters van mekaar afgeskei.

In Sabiepark is paaie natuurlik ‘n modderbad en die piekniekplek aan die voorkant onder water. Net twee huise het egter vloedwater gevat, kom dit voor.

Lyk of ons ‘n sug van verlgting kan begin slaak. Nie nodig om te “panic” nie.