DIE ROOI MUURKAS

Naand uit Melkbos

Met ‘n verfkwas kan ‘n mens skoonheid skep – of skoonheid vernietig.

In die eerste kategorie plaas ek sonder huiwering my vrou, Tokkie. Met verf en vernis verrig sy wondere. Sy’s so ‘n ekspert dat sy presies die regte kleur kan uittower met ‘n enkele teelepel koffiepoeier in ‘n blik wit verf! Toe sy 60 word (ook al nie gister nie!) het Pierre van Manen vir my ‘n skets van haar gemaak met die titel “Engel met die verfkwas”. Dis omdat die kinders altyd spot: as hul ma in die hemel kom, sal sy dadelik begin rondkyk wat dalk ‘n vars lagie verf of vernis nodig het.

Pas op, Petrus!

Oor die tweede kategorie wil ek uitgebreider ‘n paar insigte kwytraak. Dit na aanleding van ‘n Huisgenoot-artikel oor die sogenaamde “Idol” Jan Hoogendyk (beter bekend as Elvis Blue) en sy mooi vrou, Chireze, wat plus baba Lila (2) in Berario, Johannesburg, nuut gaan huis opsit het.

Liewe, goeie mense, lyk dit, maar toe roep hulle ‘n binneversierder Janine Borchner in en raak skoon verf-betotteld. Die rooi voordeur in die grys muur klink nog nie te dronk nie. Maar ouma se eetkamerkas wat afgeskuur is en ook nou in rooi skitter, gee hierdie ou gryse die horries.

Voeg daarby die spektakel van die bypassende imbuia-en-geelhouttafel en –stoele wat wit geverf is, en dit begin al hoe meer na ‘n koorsdroom klink.

“Ek weet nie wat arme Ouma gaan sê as sy dit sien nie,” haal Huisgenoot Chireze aan, haar oë gemaak groot. Ouma kry ‘n oorval, meisie – dit kan jy maar weet.

“Oorval” is die woord wat my houtliefhebbende vriend, Jan Scholtz van Bloemfontein, gepynig uitroep toe ek hom die skoknuus van die meubelverminking in Berario oor die telefoon meedeel. Met watter emosie daardie uitroep ge-uiter is, sal almal goed weet wat Jan ken, en ook die pragmeubels wat hy in sy vrye tyd in sy motorhuis in Genl. De Wet in Bloemfontein met sorg en liefde geskep het: uit stinkhout, swarthout, geelhout, dolfhout, peerhout, noem maar op.

Buiten dat Jan hout ken, ken hy Langenhoven. Toe hy 70 word, het sy hele toespraak uit spreuke van Langenhoven bestaan. Langenhoven het al gesê as jy ‘n ou ding wil vernietig, verf jy dit, lig Jan my in. Blykbaar had Langenhoven se geslag skielik die inklinasie om sierlike ou bokwaens oor te “skilder” – vandaar die oubaas se ontsteltenis.

Van toe af kry ek die horribaalste nagmerries. Ek sien helder voor my oë swerms verfspanne met enorme blikke rooi, geel, blou, pers, pienk en oranje ons hele erfenis in sy maai verf – en skrik dan vervaard wawyd wakker.

Reken: van Groote Schuur af tot Groot Constantia, deur die Kaaps-Hollandse sierade van die Stellenbosse Wynroete tot doer bo in Bryntirion, Pretoria, verdwyn die gloeiende, vlammende hout van klassieke eeue-oue meubels eensklaps onder lae Dulux, Plascon en dies meer. Jy raak sommer papnat van die angssweet.

In hoofstuk twee van hierdie verf-nagmerrie loop selfs die liewe Ingeland deur. Koningin Elizabeth dag nog eendag haar troon is vir altyd omring deur duursame, kosbare, onvervangbare meubelment van fluweelgladde donker hout; die volgende dag lyk die paleis se interieur soos Namakwaland in die blomtyd.

Jan sê dis die skuld van TV-rubrieke en tydskrifte wat mense raadgee hoe om hul ou goeters byderwets te maak. Daardie “kenners” ken net een storie: verf dit.

Verf dit .. en vernietig dit, soos Langenhoven al gesê het. (HvD)

RAAISEL OM LIZA ALBRECHT

More uit Melkbos

Skrywende as een van die familie-in-die-tronk-garde wat die huidige generasie joernaliste betref (hulle weet van ons oues, maar erken nie graag die band nie!) moet ek waak om nie, as die kans hom voordoen, my te skerp oor vreemde hedendaagse praktyke uit te laat nie. Ek vermy graag die indruk dat ek byltjies slyp. Daarom probeer ek my betoog besadig stel.

Iemand moet egter die fluitjie blaas oor die onbehoorlike muur van stilswye ná die skielike terminering in raaiselagtige omstandighede van me. Liza Albrecht se dienste by Media24. Dié swye het ernstige moreel-etiese implikasies vir veral Afrikaanse koerante – die dagblaaie én Rapport.

Me. Albrecht is immers ‘n groot vis in die bedryf wat in November 2008 met fanfare op 34-jarige leeftyd bevorder is tot eerste vroulike redakteur van Rapport. Onthou, selfs die gedugte Rykie van Reenen was net redakteur in waarnemende hoedanigheid. Skaars drie jaar later is me. Albrecht onseremoniëel uit die redakteurstoel geskuif en het sy hoof van die Afrikaanse koerante se digitale platform geword. Die koerante se internet-aanbod sou voortaan haar nuwe verantwoordelikheid wees.

Oornag is dié hoëprofiel-dame egter nou ook uit haar nuwe pos, en sak en pak weg by Media24. Fluisteringe raak redelik algemeen oor die een of ander “insident” met ‘n ongemagtigde persmotor. Maar Media24 se koerante rep geen woord. Die verduideliking is dat ‘n “ooreenkoms” met me. Albrecht hul arms afkap.

Oppervlakkig gesien, hou só ‘n komplot van geslotenheid wedersydse voordele in, omdat me. Albrecht se val vir haar én Media24 ‘n diepe verleentheid moet wees. Vir die direksie beteken dit dat die onwysheid van ‘n avontuurlike eksperiment op topvlak finaal aan die kaak gestel is.

Ongelukkig word ‘n vername beginsel egter aangetas as ‘n mediamaatskappy sy eie en senior personeel se verleentheid per ooreenkoms kan verdoesel. Vir nuus geld immers net een maatstaf: nuuswaarde – nooit wie die potensiële slagoffers van slegte publisiteit ken of watter “kontakte” hulle het nie. By vorige geslagte is ingedril dat sulke dubbele maatstawwe ten enemale ongerymd is.

Geneva Overholster, redakteur van die Amerikaanse Des Moines Register, se indiskresies met haar adjudant en die gevolglike dubbele egskeiding is bv. in die 80’s teen haar wens deur haar eie koerant onthul (sien my boekie Flaters en Kraters). Dit is ‘n moeilike maar die enigste eerbare weg.

Kortom: skram koerante weg van interne nuus wat te “sensitief” is, gee hulle hul morele reg prys om oor andere se skandes en skades te berig, soos Rapport, ook in me. Albrecht se skof, nog nooit geskroom het om te doen nie. Jammer om dit so brutaal te stel. Dit is soos dit is.

Handhaaf jy ‘n ander standaard, diskrimineer jy blatant. Gapende afgronde van potensiële misbruik gaan oop. Nou kan ‘n redakteur of een van die gesin bv. van winkeldiefstal aangekla word. Dit kan maar snippermandjie toe, want ‘n presedent van bevoordeling bestaan.

‘n Tweede beginsel is op die spel. Dit is dat geen bestuurder, hoe oppermagtig ookal, ooreenkomste durf aangaan wat die reg van die maatskappy se koerante op publikasie van wettige nuus wegteken nie. Die redakteur moet die enigste finale arbiter wees oor wat hy (of sy) publiseer of nie, anders kapituleer hy (of sy) vir altyd sy (of haar) gesag en geloofwaardigheid.

‘n Klassieke geval in die Suid-Afrikaanse joernalistiek was kort ná die ontstaan van Rapport meer as 40 jaar gelede. Willem Wepener, ‘n redakteur met staal in sy murgpype, moes, met die koerant reeds op die rolpers, sy voet teen Marius Jooste, Perskor se grootbaas, dwars sit. Jooste wou die redakteur verbied om ‘n berig oor Perskor te publiseer, en het geweier dat die rolpers begin draai. Wepener het onwankelbaar soos ‘n rots bly staan. Jooste was die een wat moes kopgee.

Tobie Boshoff, senior redaksielid, se woorde was betekenisvol: ”Vanaand is Rapport gered. As Willem Wepener geswig het, het ek hierdie koerant net ses maande gegee.” Gielie de Kock het verklaar: “Vanaand het ons gesien wie is die baas van hierdie koerant en dit is nie Marius Jooste nie. Vanaand is Rapport gemaak.”

Ek wil nie moedswillig wees nie. Maar ek is bevrees joernaliste wat hulle deur hul besture laat muilband oor kwessies wat diepgewortelde joernalistieke beginsels aansny, bring daarmee hul verbondenheid tot persvryheid in die gedrang. Hoe kan jy duisende woorde skryf, plakkate swaai, dreunsing en toi-toi teen die Regering se “muilbandwet” maar jou eie bestuur se willekeurige inbreuk op die vrye vloei van inligting stoïsyns duld?

WONDERSOETE DING

Middag uit Melkbos

Die ontsluiering van seniors se slaapkamersake in “Wetenskap vandag” in “Die Burger” van Saterdag is deur hierdie senior met verskuldigde aandag noukeurig gelees.

Relevante bydrae: as ‘t ware ook ‘n lewensgetroue weergawe – dog genadiglik sonder die fyner detail – van die Van D’s se nagtelike bedpatrone.

Soos Elsabé Brits se ouers, oor wie sy haar lesers inlig, is ons kamerlig meermale om 09:00 gedoof – nie vanuit die drang om Eskom ter wille te wees met sy krampagtige pogings om krag te bespaar nie. Dis slapenstyd.

Mev. Brits senior laat die balke bewe minute nadat haar kop die kussings geraak het, deel haar dogter mee. Sonder om geheime te verklap: Tokkie sak ook nogal vinnig in die arms van Morpheus weg.

“Sag op haar bloue(!) oë daal die vaak, soos maneskyn diep waterkuile raak …” Inderdaad, oubaas D.F. (Malhertbe), wat is die slaap tog nie ‘n wondersoete ding nie!

Enige tyd tussen 03:30 en 05:00 geskied die ontwaking: die een eglied kort op die haklke van die ander. Wawyd wakker. Klaar uitgerus. Gereed vir koffie, “Die Burger” of wat ook al.

Soms, maar darem nie altyd nie, word die kombuis, soos in die geval van die Britse, ‘n vroeë toneel van aksie. Soms wel – in nog ‘n merkwaardige ooreenkoms – is dit beesstert wat op daardie uur aan die orde kom.

Groot verskil: in Penguin Place 11 (of Sabiepark, wat die geval mag wees) is dit altyd maar altyd TvD wat agter die kospotte inskuif, nie HvD nie. Beesstert is haar afdeling. Trouens, die totale kombuis is haar domein.

Die uwe maak op 71 selfs nog maar bra onhandig tee, en geniet daarom in die oggendure, met die donker berg doer in die verte, ‘n laaste paar behaaglike strekke bo ‘n onnodige verspilling van energie voor die stoof. (HvD)

‘N BOEKIE VIR BARBI

Barbi Maree in vrolike luim by ‘n Probuskuier op 20 September 2011

More uit Melkbos

Nou kap hulle in ons bos, sê ons 70-plussers gereeld vir mekaar. Nou kap hulle in ons ry, hoor ek deesdae meermale by porture.

Oor dié kappery het ek in 2009 ‘n boek geskryf, “Byl in my bos”. ‘n Mens ontdek skielik amper met ‘n skok hoe oop dit om jou raak, skryf ek daarin.

Die gevoel van verlies wat jou beetpak, word in my boek genoem; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is, gesprekke wat in die lug bly hang het. “Verwyte knaag oor versuim, onnadenkendheid, ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het.”

Tot so ver “Byl in my bos”.

Hierdie week is hier op Melkbos inderdaad in ons ry gekap. ‘n Dierbare vriendin, Barbi Maree, eggenote van Jacko, bekende oud-LV, is binne ‘n maand van ‘n aktiewe, lewenslustige vrou tot ‘n sterwende gereduseer. Haar longe was onstuitbaar aangetas.

Ook in die geval van die liewe Barbi bestaan die addisionele hartseer van ‘n onafgehandelde taak.

‘n “Boekie vir Barbi” is die laaste dae in liefde saamgestel met goeie wense uit die hart van vriende in Probusverband op Melkbos. Probus is ‘n klub vir afgetredenes. Ons, die lede, vorm ‘n hegte vriendekring.

Tokkie was aan die spits van die operasie met die boekie. Elke Probusgesin het entoesiasties meegewerk. In boodskappies op vrolike, veelkleurige papier is getuig van haar vriende se diepe waardering en liefde, hul bewondering vir haar dapperheid en hul diepe hartsbegeerte vir nog goeie tye saam.

Jy kan lees van Barbi, die wonderlike gasvrou, haar sprankeling en sonnige glimlag, haar bekoorlike Duitse aksent, haar welsprekendheid en wat nog. Daar sou ook getuig kon word oor haar belesenheid, intense belangstelling en sterk insigte oor sake van die dag, warm hart vir mense wat swaarkry, ens.

Nietemin, Tokkie wat die boodskappies versamel en in ‘n vertoonlêer laat bind het, bel gisteroggend vir Jacko om te reël vir die oorhandiging. Sy bel omstreeks 10:15. Jacko tel op en deel die sombere nuus mee: Barbi is om 10:00 oorlede.

Die liefdesblyk van Barbi se vriende was, helaas, te laat. Die boekie gaan nou maar na Jacko: hopelik sal dit in sy sware verlies ook vir hom iets beteken.

Selfverwyt oor die tydsberekening kan nie juis bestaan nie. Met die uitvoering is nie gesloer nadat die idée Tokkie te binne geskiet het nie. Almal het onmiddellik gereageer. Feit is net: almal het geweet Barbi is uiters siek, maar niemand het naastenby verwag die dood is só voor die deur dat dit selfs dié projekkie gaan voorspring nie. Soos só dikwels gebeur.

Die dood kom soos ‘n dief in die nag, lees ons in die Bybel.

Natuurlik sien ek vir myself ‘n les in hierdie stukkie geskiedenis van Barbi se boekie opgesluit. Ek meen daar is vir almal lesse. Dis seker maar vir elkeen om te bepeins wat presies daardie les in sy of haar eie omstandighede is. (HvD)

FYN OOG EN FERM HAND

More uit Melkbos

Nee, ek is nie ‘n agent vir die wildfotografie van Jacob en Thomas Claassens nie, en ek kry geen kommissie of ander kommersiële waarde uit die plasing van hul foto’s op my blog nie.

Ek wil nietemin vandag nog twee van die knap sewejariges se produkte van die afgelope somervakansie wys. Noem die beweegrede maar grootvaderlike trots.

Wonder in die stilligheid hoeveel manne van hul portuur kan met so ‘n verskeidenheid fuana op hul skywe spog: die Vyf Grotes*, wildehonde, cheetahs, hiënas, amper als onder die son wat jy in die Wildtuin en Sabiepark aantref (buiten darem ratels en wildekatte en een of twee ander skaars spesies).

Bo is Thomas se vies olifant langs die Sabierivier. Hy was nie ingenome dat sy pad water toe deur motors versper word nie. Onder is Jacob se jong kameelperdjie wat in bloedige hitte ‘n rustige blaaskansie vat in Wildevylaan, Sabiepark.

Albei foto’s, glo ek, demonstreer ‘n fyn oog, ferm hand en ‘n aanvoeling vir die kritieke moment.

Sabiepark se rakke kreun al onder Oupa se albums. As Oupa sy projeksies reg maak, gaan die getal albums vorentoe nog groei vir ‘n vale.

* Soos van Kersaand pleks van Oukersaand, sal ek van die Vyf Grotes bly praat eerder as die Groot Vyf tot in lengte van dae. Hoekom? Omdat ek glo dit is mooi en korrek. (HvD)