ONDER-DIE-KERSBOOM.COM

More uit Melkbos

Almal het altyd ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi omdat my verjaardag, 3 Januarie, so kort op die hakke van Kersfees volg. Siestog, jy kry seker net een geskenk, was die algemene kommentaar, kloekend uitgespreek.

Soos ek dit onthou, was die enkel-geskenk-opvatting nie verkeerd nie. Bepaald was nooit in my Kerskous ‘n pakkie en dan ‘n week later, weggesteek agter ‘n potplant of die hangkas, ‘n geskenk merk 2 met my naam op nie.

Trouens, hier tik ek aan die vooraand van my 70ste Kersfees op Moederaarde my laaste storie vir my blog voor die Groot Dag. Ek onthou bloedmin spesiale Kersgeskenke (en/of verjaardaggeskenke). Klink dalk koddig, maar dis die heilige waarheid, hoor. Wel, verbeel ek my, ek het op my 21ste van my ouers ‘n spoggerige elektriese skeermes gekry. Silwer en slank en met ‘n naam van formaat… ‘n Philishave.

Die vrou (‘n mev. Horak) by wie ek doerie tyd in Welkom geloseer het – ek het in die Goudveld vakansiewerk vir Die Volksblad gedoen – het die oggend van my mondigwording vir my ‘n omelette voorgesit waarop sy, ewe kreatief, 21 met Marmite geskryf het. Memorabel! Mnr. Horak (‘n oud-landdros wat myne toe is vir meer geld) het die aand vir my ‘n dop by die mynklub gaan koop.

Ongelukkig onthou ek ook maar min ander Kers-insidente. As familie – die Visser-susters van Perdeberg en hul aanhangsels – was ons klomp se Kerdag-bestemming tradisioneel die Fonteine. Verkenners is vroeg uitgestuur om ‘n goeie boom te reserveer. Piekniek met o.m. waatlemoen, frikkadelletjies en gemmerbier was ons voorland.

Een dag wou niggie Elise Smith opsluit agterop neef Bertus du Plessis, latere APK-predikant – se motorfiets Fonteine toe ry. Dit was die dae van die klokrompe en jaartse, jaartse stywe gaatjiesmateriaal om die onderrok voldoende te laat uitpof dat dit so wieg as jy loop.

Daardie spul lap het in die agterwiel van Bertus se motorfiets verstrik geraak. Elize se Kersmondering is brutaal van haar jong lyf gepluk. Trane. Penarie.

Ek skryf eintlik oor Kersgeskenke. Dalk is my indruk verkeerd. Ek wil-wil egter vermoed Kersgeskenke het in die algemeen maar ‘n beperkte lewensduur. Selfs die duur, tegnologies gevorderde, simbole van hul tyd in die eeu van i-ditte en i-datte bly nie vir ewig diensbaar of in die mode nie.

Goeters met wiele soos fietse, driewiele, popwaentjies, trekkers, vragmotors, brandweerwaens en karre begin later roes of metaalmoeg raak, of die plastiek versplinter in die son.

‘n Sekere kategorie klein karretjies, fraai poppies en goetertjies het die nuk om met die eerste hardhandige hantering te knak. Wonder hoeveel gifte en gawes wat “Kersvaders” aangepiekel het, onder Kersbome in bont pakkies versier was, per bosbestelling uit die “Noodpool” aangekom het of wat ook al, oorleef dalk nie nie eens tot Nuwejaar nie.

Lank voordat “ongelukkiges” soos HvD as’t ware in tandem met Kersfees verjaar, is die behoefte aan ‘n nuwe, heel geskenk dalk al weer sterk.

Ek ken ‘n Oupa en Ouma, verstandige mense, wat glo die waarde van ‘n geskenk is nie opgesluit in die prysetiket nie, maar in die potensiaal om dekades lank plesier te verskaf. Vereistes is dat dit nie moet kan breek of gesteel of andersins verlore kan raak of deur nuwe tegnologie tot die ashoop gereduseer moet word soos Doris Brasch se Lappop nie … maar julle is seker te jonk om daardie liedjie te onthou?

Nietemin, vir hul kleinste kleinkind (‘n tedere drie jaartjies oud) gee wyse Oupa en wyse Ouma vanjaar ‘n domeinregistrasie. Syne, eksklusief net syne, is die web-adres www.klasiekoekemoer.co.za voortaan. Dis vir altyd – sonder enige vervaldatum.

Dit kos hulle net R145,00 om die domein te registreer en deur die betrokke diensverskaffer op ys te laat hou. Klasie kan in jare om te kom self besluit wanneer en hoe om te aktiveer.

Dalk word www.klasiekoekemoer.co.za nog een van die beroemdste e-adresse in die land, waarop die volwasse Klasie letterkundige juweeltjies pleeg, trefferliedjies plaas voordat hulle die trefferlyste oorrompel, gewigtige kommentaar lewer oor alles en nog wat of sake doen vir ‘n vale – selfs ‘n troumaat ontmoet.

Hoop Klasie sal onthou sy versiende Oupa en Ouma is eintlik sy lewenslange “webmeesters”, nie die een of ander dotnet of iets nie. (HvD)

‘N FOOITJIE, ‘N BONUS EN ‘N BELL’S

More uit Melkbos

Vir die energieke, entoesiastiese en kundige kelner wat so mooi Afrikaans praat by die Hussar Grill in Willowbridge sal die fees-seisoen (wat ook uiteet-seisoen is) hopelik ‘n sakvol fooitjies meebring. Mense, moenie skaam wees om ‘n ruim persentasietjie by te sit vir iemand wat plesier aan sy werk het en ook vir ander plesier verskaf met die bekwame wyse waarop hy sy taak (of sy haar taak) met lekkerkry klaarkry nie.

Teenoor die knaap by Durbanville Hills se wynlandgoed voel ek minder welwillend. Dit is nogal ontnugterend as ‘n kelner nie weet watter soort vis die dag se lynvis is nie. Die basiese navraag is met so ’n botte stilte begroet, dat ons vir ‘n moedswillige oomblik wou wonder of hy hoegenaamd weet wat lynvis is. Arrie-nee. Hoe beloon jy iemand wie se bedenklike koskennis duidelik op dieselfde vlak as sy kennis van Afrikaans en sy arbeidsgenot is?

My vriend Theuns Otto van Mtunzini glo die woordjie “tip” staan vir “To Improve Performance”. Selfs ‘n sukkelaar is dus, volgens hom, sy fooitjie waardig, soos een aand by die gewilde Orca op Melkbos (wat nou, na my wete, ‘n flink span het.) Ja, jy kry vrot kelners soos elke ander beroepsvertakking sy swart skape het (jy kry selfs vrot dokters!). Theuns het hom daardie aand in ‘n buitengewoon vrotte vasgeloop.

My gewoonlik uiters mensliewende en geduldige vriend (allesbehalwe ‘n vrot dokter) het nie nagelaat om sy verklaring van die woord sonder omhaal en met beklemtonende misnoegde handgebare en al by Orca se onderpresterende kelner tuis te bring nie.

Theuns se teorie staan egter op wankelende bene. Goeie ou Google noem dat verskeie sulke akronieme (soos “To Improve Performance”) verkeerdelik met die fooitjiekultuur in verband gebring word. Ander is o.m. “To Insure Prompt Service”, “To Insure Proper Service”, “To Inspire Promptness” of “To Insure Promptness.”

Aldus die Oxford English Dictionary het “tip” as slêngwoord ontwikkel. Dit kom waarskynlik al van die 16de eeu af. Die huidige betekenis word sedert die 18de eeu daaraan geheg. Maar waarom ons oor dinge soos historiese herkoms moeg maak? Feit is: dis ‘n kultuur wat in die hede diep ingegrawe is. In sekere lande kan fooitjie-etiket nogal rigied wees. As jy kort van die norm presteer, moet jy keer vir jou “wickets”, boeta! Jy loop jy die risiko om jou skamele munstukkies met mening in jou rug teruggeslinger te kry of ‘n stywe skrobbering op die lyf te loop.

‘n Bostonse taxibestuurder (vroulik) was nie juis geimponeer met hierdie oorblufte passasier se aangebode paar “quarter”-tjies nie. Een vuil kyk. Toe: “Well fuck you, mister!”

Kom ons eindig op ‘n positiewe, hoopvolle noot. Wanneer oor kelners gesels word, roep ek telkens die aand in herinnering toe ‘n vriend (met baie pitte in sy beursie, maar ietwat ongeraffineerd) in die VS van A met ‘n gedugte spyskaart gekonfronteer word. Hy skrutineer die uitvoerige dokument fronsend. Toe verhelder sy gesig: “Steak tartare well done, please.”

Die kelner met sy strikdas en wit servet op die arm het geen oog verroer nie. “For well done I’ll rather recommend our excellent sirloin, sir.” Die dalk net oordrewe klem op die aanspreekvorm “sir” het waarskynlik sy lag verberg.

Soveel takt, diplomasie, teenwoordigheid van gees en humorsin onderskei die vyfster-kelner van die gewone ou. “Well done, sir!” Gee daai man nie net ‘n allemintige fooitjie nie – gee hom ‘n vet bonus …. en sommer ‘n dubbel Bell’s!

(HvD)

HEILDRONK OP DIE KURKTREKKER!

More uit Melkbos

Die grootste menseverskuiwing van elke jaar is in volle gang. Dit lewe in vakansie-oorde, die branders is swart gespikkel van die mensekoppe, eetplekke sit kant en wal, vuurtjies flikker oral, romanses floreer.

Een wat baie soene kry, hierdie soen-seisoen, is die mannetjie met die kurkhoedjie. Herinner my skielik aan my Latyn 1, prof. H.L. Gonin: Da mihi mille basia (Virgilius/ Vergilius). Onvergezetsynde: Gee my ‘n duisend soene!

V. had die ware Jakob in gedagte. Ons mag die advies seker na die produk van die wingerd oorplant? Doen dit net matig en verantwoordelik en NOOIT voordat jy die pad vat nie, maar geniet dit – rooietjie, wittetjie, kouetjie, skroefprop, kurkprop, boks ….

Sien juis die lank vermaledyde boks raak al hoe tuiser in goeie geselskap. Maar dis ‘n ander onderwerp vir ‘n ander dag.

Die volgende vrolikheidjie was al hier op my blog. Dit maak ‘n relevante herverskyning in die lig van heersende omstandighede:

Here’s to the corkscrew!
The key to unlock
The storehouse of wit!
The treasury of laughter!
The front door of fellowship!
And the gate of pleasant folly!

Hier’s ook enetjie vir die wynsnob (uit die uwe se Polisie, Polisie, ons reenboog is geroof):

As die prys reg is,
Glo hy
Dat die wyn sleg is.

Gesondheid in die rondheid!!

(HvD)

HUNKERING NA ‘N HEIMAT

More uit Melkbos

Elkeen het maar ‘n hunkering na ‘n heimat. Nie almal kan dit só beeldryk verwoord nie:

Hy wat sy dors by die pomp geles het,
sal terugkom vir ‘n tweede keer:
die brak gaan in die bloed sit
en die sout dors weer en weer.
Hy wat snags sy geklop gehoor het,
sal die stilte nooit só weer hoor,
sal altyd soek of hy iets verloor het
en terugloop op sy spoor.

Die digter is M.M. Walters, die Swartland se beroemdste woordkunstenaar, na my wete.

Ek loop die vers raak in Walters se uitsonderlike reisboek Die Swartland is my Tuisland, wat in 1990 deur Perskor uitgegee is. Thys Slabber van Melkbos, boer van die Swartland en seun van die Slabber na wie Slabber se Klippe op Melkbos se strand genoem is, het dit vir my geleen. Hy ken my voorliefde vir dié lang Swartlander se werk.

Die subtitel van die boek is: ‘n Nostalgiese reis deur M.M. Walters. Die boek is, soos op die agterflap gemeld, ‘n historiese reis deur die Swartland se vroegste geskiedenis, asook ‘n geografiese reis, en, derdens, ‘n reis in die verbeelding, ‘n nostalgiese terugkeer, vol heimwee, na die Swartland van sy jeug in woord en beeld.

Van die Swartland wis ek so plus-minus niks totdat ons in 1997 hier op Melkbos kom nesskrop het. Toe word Malmesbury, minder as 40 kilometer ver, skielik vir ons ‘n soort “hoofdorp” waar veral amptelike besigheid – ID-boeke, paspoorte, rybewyse en dies meer – flink afgehandel kan word. Vele Melkbossers ry met CK-registrasienommers.

Skielik ontdek ons toe, op ons voorstoep as’ t ware, die skoonheid van golwende groen koringlande, glimmend in die son; van heuwels oortrek met wingerd, ruie bossieveld, troppe beeste en vetstertskape, ‘n taal van sy eie – niemand “bgei” mos soos ‘n Swartlander nie – en die hemelse seereuk wat sommer diep in die binneland inreik as die winde reg waai en die getye saamspeel.*

Die Swartland se koring noem Walters die streek se “goue kroon” – en gespikkel met lappe ganola-geel maak daardie kroon ‘n uitstappie deur die Swartland se agterpaaie hier kort duskant oestyd in die vroegsomer inderdaad koninklik. Ná dorstyd, as die koringlande gestroop lê van hul winterglorie, breek die wingerd se malse groen deur. Waarlik ‘n plek vir elke seisoen!

Die Swartland is my Hartland, sou my persoonlike keuse vir die titel gewees het (ek hou van rym), maar dit is seker te voorspelbaar. Buitendien: Tuisland en Thys se land (Walters se voorname is Matthys Michielse) speel mooi op mekaar in.

Lees egter weer die vers hierbo. Die emosie is mos nie geografies ingeperk nie. Nee, dit gaan oor grense heen om elke tuisland (of hartland) in herinnering te roep: daardie spesiale hartsplek wat elkeen “altyd bly soek of hy iets verloor het” en waarheen hy altyd “terugloop op sy spoor” – of die water nou brak of soet is.

My geboortekontrei, Babanango in noordelike Kwazulu-Natal, is vir my so ‘n plek. Pretoria waar ek vyf goue jare lank op Tukkies was, is ook een. Bloemfontein is, ná twee gelukkige skofte van 12 jaar elk in die Rosestad, ‘n derde een. Hul waters roep my.

Maar Melkbos en die Swartland op sy drumpel – dié het in die afgelope 13 jaar ook vir my goed laat verstaan waarom M.M. Walters sy hart oor dié streek en die bekoring van koring só digterlik kan uitstort.

* Oor die kenmerkende verfrissende Melkbos-seereuk, hoor ek by ons een dominee, Francois Hanekom, ‘n wonderlike teorie. ‘n Oseanograaf het aan hom verduidelik die koue see ruik hier só sterk omdat dit soveel suurstof genereer. Melkbossers is só gesond omdat hulle só gesond asemhaal!

Kom nou, bemarkers, hier is jul kans om ons sjarmante Weskusdorpie (Koeberg en al) opnuut op die kaart te sit! (HvD)

WILDSTE WILDTUIN-GEHEIM

More uit Melkbos

Wat die Engelse ‘n “sneak preview” noem, is volgens Pharos se Groot Woordeboek ‘n geheime voorvertoning. Geheim? Wel, hierna geen geheim meer nie oor wat ek op ons aanstaande Wildtuinbesoek (van 26 Desember tot 10 Januarie) die heel graagste wil sien.

Die foto hierbo lig die sluier oor my “wildste wildtuin-geheim”. Ja, die grootste begeerte in hierdie ou se hart is cheetahs (of jagluiperds) wat draal sodat ‘n mens hulle uit elke hoek en kant kan afneem.

Hierdie treffende foto is een van ‘n reeks wat Vic D’Oliveira net twee kilometer van Krokodilbrug af op die vrugbare Onder-Sabiepad geneem het. Dit verskyn in die jongste uitgawe van die Wildkaart-tydskrif, Wild.

Toe Vic stilhou om roetes te oorweeg, stap die drie doodluiters uit die bos en begin poseer. Twee is naderhand bo-op die padpredikant. Hul strek hul lenige lywe sodat ‘n mens hul liggaaamsbou fyn kan bestudeer.

As jy hierdie foto goed bekyk het, sal jy darem seker nie weer luiperds en jagluiperds met mekaar verwar soos soveel besoekers aan die Wildtuin nie. Dis omtrent soos wit- en swartrenosters. Vir vele mense is ‘n renoster ‘n renoster, kant en klaar. So is ‘n luiperd vir baie eenvoudig ‘n luiperd.

Nog iets wat natuurlik dadelik verklap die “luiperd” op jou foto is eintlik ‘n jagluiperd is die swart “traankol” op die wang. Help glo om die son weg te skaats as hierdie jagters per excellence oor die aarde heen skeer teen ‘n verstommende snelheid.

Luiperds is bonkiger diere, nader aan die aarde weens korter bene, en daardie swartkol is totentaal afwesig. Geen rede om te twyfel oor identiteit nie.

Luiperds het ons op ons tientalle Wildtuinbesoeke oor die jare nogal redelik dikwels oral in die Wildtuin gesien – ook luiperds met hul prooi in die tak van ‘n boom, ‘n bek-af luiperd nadat ‘n leeu sy rooibokkie voor hom weggegaps het, ‘n luiperd oomblikke na sy slagtande in die rooibokkie se nek ingeslaan het, ens. Baie van die waarnemings was ‘n klipgooi van die Krugerhek langs die Sabierivier. Ook in Sabiepark self – lees Duisend Dae Langs Die Sabie deur ene Hennie van Deventer.

Van ons jagluiperd-besigtigings het ek en Tokkie vanoggend in die bed ‘n vinnige rekensommetjie gemaak. (Die Burger was teen 07:00 nog nie hier nie – swak Piketberg!) Ons tel ‘n stuk of ses gelukkies.

Die meeste op ‘n slag was vier onder ‘n koelteboom op die Phabenipad. Hulle was deksels ver die veld in en op my langlens-foto is skaars meer as vae gedaantes herkenbaar. Daardie selfde vakansie het die gesin Parsons van die Suidkus, ook Sabieparkers, ses of sewe in die Phabenipad (Doispanepad) sien speel. Gelukkige bokkers!

Een keer het ‘n cheetah regoor die hek van Satara uit die bos gehardloop, in ‘n omgevalle boom gespring en ‘n oomblik vir die kamera gegrynslag. Dankie, ou grote, jy’t gesorg vir my beste jagluiperdfoto.

‘n Keer het ons kinders Brent en Marisa Claassens in Sabiepark kom kuier. Ons het hulle op die lughawe gaan haal, en by die Malelanehek ingegaan. Toe kry ons ‘n jagluiperd met sy prooi langs die pad onder ‘n boom. Og, die motoropeenhoping!

In elk geval, só manjifiek, soos Vic D’Oliveira, het ek nog nie die voorreg of gelukkie gehad om jagluiperds te sien nie.

Hulle is, wat my betref, bitter skaars. Amper só skaars soos ratels, wat ek in al die jare nog net twee keer gesien het. (My vriend wyle Louis Botha het ‘n keer urelank ‘n geveg tussen ‘n ratel en ‘n luislang naby Satara sit en dophou. Hy was meegevoer deur die ratel se knaendheid. Taai soos ‘n ratel, né!)

Leeus? Ja, die “koning van die oerwoud” is altyd ‘n yslike trofee vir ‘n kamerajagter. Maar leeus is eintlik relatief volop, na my ervaring. As ek die vakansie nie leeus gesien het nie, voel ek daar’s fout aan my kant.

Wildehonde? Ek weet hulle word as ‘n buitengewoon skaars spesie geag. Almal raak opgewonde om van die bont-dierasies op ‘n snuffeldraffie te sien (ek ook).

Maar as ek moet kies, gee my ‘n cheetah, elke dag. Vic, ek ry hierdie vakansietjie spesiaal Krokodilbrug toe. Dalk stap daardie symste drie weer op die symste plek uit die symste bos en klouter op die symste padpredikant. Dalk sommer al drie saam.

Sal vir jou ‘n HvDfoto stuur!

(HvD)