VAT VYF, FANTASTIESE 50’S

Onvergeetlike sangers – onvergeetlike musiek

More uit Melkbos

“I was born in the 90’s but, holy gosh, I was supposed to be born in the 50’s for sure… Oh how I wish I could live in the 50’s. :(“ So skryf ‘n liewe meisiekind op die internet in een van daardie immergroen debatte oor watter era die beste musiek opgelewer het.

Op Facebook het ‘n klompie “vriende” pas weer notas oor die omstrede onderwerp vergelyk nadat Ben Engelbrecht sy geldjies op die 60’s gesit het. Die 70’s kry toe ook ‘n paar stemme. En een deelnemer merk op van die 60’s tot die 80’s was ‘n goeie 20-jaar-periode.

Miskien kom die een of twee wat beweer het dat iemand se gunstelinge bloot sy ouderdom verklap, die naaste aan die waarheid. Die musiek wat jy as kind leer ken het, is nie eendagblommetjies nie!

My kandidaat is die 50’s. Oor “my era” wil ek graag ‘n paar dinge van die hart kry om steun te werf. Wat die treffersparade betref, was dit byvoorbeeld onteenseglik die dekade van Elvis Presley met te veel treffers om naastenby almal te onthou. Elvis was ‘n grote in enige generasie se taal. Wie stry?

Mag ek nog ‘n paar noem? Boeta, kyk hierdie name: Nat King Cole, Perry Como, Bing Crosby, Mario Lanza, The Platters, Pat Boone, Harry Belafonte, Frankie Laine, Ella Fitzgerald, Shirley Bassey, Eddie Calvert, Dean Martin, Johnny Ray … My lysie is vol gebreke.

Die countrytoneel is oorheers deur Groot Stemme soos Burl Ives en George Beverly Shea (niemand maar niemand sing Oh holy night soos George Beverly Shea nie!) Op Europese verhoë was mense soos Jacques Brel, Edith Piaf en Anna-Maria Alberghetti tops. Aan die einde van die dekade het Nana Mouskouri met ‘n crescendo die Griekse musiektoneel getref.

Uit my prille jeug in die laat 40’s (Kimberley se dae) onthou ek veral Slim Whitman (Indian Love Call), die sangpaar Nelson Eddy en Jeanette McDonald (Rosemary), Vera Lynn se verlang-liedjies uit die Tweede Wêreldoorlog (Now is the hour, Auf wedersehn) en Lili Marleen (Marlene Dietrich/Lale Anderson). In ons huis is dit oor en oor op ‘n swart opwen-grammofoon gespeel. Wat sou van hom geword het?

In die Diamantstad se mooi ou stadsaal was klein Hennie by sy eerste musiekkonsert: Hendrik Susan se orkes. Jurie Ferreira het gesing: Tahiti, verre land …

Toe trou my ma, ‘n weduwee, in 1950 met Pa Malan, ‘n Nataller. Ons trek Durban toe. Pa Malan bring in die huis in (buiten Nat King Cole se Mona Lisa) ook ‘n pak Patti Page-plate met o.m. Tennessee Waltz, wat glo nou nog een van daardie staat se “nasionale liedere”, is en Mockingbird Hill (Tralala, twiddlydeedee….)

Toe ek in 1954 koshuis toe is, Jack Pauw, Potch-Volkies, maak ek kennis met plate-aande waarvan die groter kinders min gehou het omdat die ligte heelaand bly brand het. Geen handjies-vashouery nie! Fliek-aande was verreweg gewilder en die mededinging om die sitplekke in die heel agterste ry was geweldig.

Möwe du fliegst in die heimat van Magda Hain was meesleurend. When you come to the end of a perfect day van Nelson Eddy en Jeanette McDonald het die verbeelding gegryp. Ook Mario Lanza-treffers soos Beloved en die operette-musiek van Richard Tauber, Joseph Schmidt en Julius Patzak.

Glen Miller se se In the mood het gedurig in die koshuisgange opgeklink.

Van mnr. Lanza gepraat. Sy naam op my lysie kan sekere fynproewers seker laat neus optrek. Maar sy Student Prince het ek steeds in verskeie formate, ook op CD. En sy Caruso-treffers in die rolprent The Great Caruso het die chroniese ou luisteraar na LM-Radio se Hit Parades Sondagaande (Que-Sera, sera van Doris Day en so aan) vir tenoor-arias gewen.

Van tenoor-arias het my musieksmaak gegroei tot grootse Verdi-koorwerke soos Va Pensiero en die Groot mars uit Aïda, toe ander. Op Tukkies in die laat 50’s het ek ‘n ou radio van my ouers in ‘n enorme houtkas in my kamer in Kollegetehuis gehad. Een program wat ek vir geen geld sou mis nie (nie eens vir ‘n bier saam met my vriende nie) was een met as ek reg onthou, die titel World famous tenors. Beniamino Gigli se stem was vir my enorm.

Ek het vlugtig na flieks verwys. Watter ander dekade het fliekliedjies soos die 50’s opgelewer? Temamusiek doos die Harry Lime-tema, Unchained Melody, Terry se tema (uit Charlie Chaplin se Limelight), April Love, Friendly Persuasion, True Love (die grote van neuriekoning Bing Crosby en die skone Grace Kelly), Love is a many splendored thing en die mars uit The Bridge on the river Kwai was onvergeetlik, en die leste ene steeds hoogs luisterbaar.

Dan vergeet ek skoon van High Noon (Tex Ritter) – Do not forsake me oh my darling – en die oulike Tammy, wat my hart gesteel het. Jare lank het ek my droom-Tammy gesoek, maar daar was net een Debbie Reynolds.

In my huis is ‘n stewige rak vol 50’s-musiek, alle 50’s-musiek. As jy nou regtig nostalgies wil raak, kom kuier, ou maat!

(HvD)

SONDER ‘N DRAAD!



Nadine Gordimer in 1990

More uit Melkbos

‘n Hupse ouma kap dit uit in ‘n energieke salsa met na bewering haar kleinseun in een van daardie internet-goeters wat van tyd tot tyd die ronde doen. Na bewering is dit die nimlike Ginger Rogers wat in die ou dae saam met Fred Astaire die wêreld aan die brand gedans het. Die danseres is 92, word die kykers meegedeel.

Iemand ontdek egter die ware Ginger Fladdervoetjies is al in ’95 of daar rond oorlede. Dis wel ‘n gryse ouma in die polsende dansroetine, maar dis ‘n Britse model wat nou in Brasilië woon – of so iets. En sy is “net” 72.

As iemand van ‘n gejokte “92” nog die salsa kan dans, kan iemand van ‘n ware 88 seker nog in Playboy verskyn! So dag ek by myselwers toe ek Saterdag in By Karina Zczurek (mev. André P. Brink) se storie oor Suid-Afrika se “onbekende” Nobel-pryswenner Nadine Gordimer lees.

Nou nie Nadine in lewende lywe nie, maar wel een van haar stories, “A Journey”, is in die plaaslike Oktober-uitgawe van Playboy herdruk, lees ons – iets waarmee die gedugte me. Gordimer “geen probleem” het nie, want Playboy is gelukkig nie “rassisties” nie.

Dit is natuurlik nie die eerste kortverhaal uit haar bekroonde pen wat nog in Playboy opgeduik het nie. Me. Zczurek sal dit nou nie weet nie, want in die jare ’90 was sy dalk nog net ‘n glinster in pappa Zczurek se oog, maar dieselfde eer het me. Gordimer ook al in daardie vergange dekade te beurt geval.

‘n Kortverhaal van haar was in die eerste uiitgawe van die destydse (abortiewe) SA Playboy, en iemand het daaroor ‘n brief in die Weekly Mail en Gaurdian geskryf. Kort daarna kry die WM ‘n gedenkwaardige brief van M. Mokoena van Jeppe – so gedenkwaardig dat ek dit in my boekie oor onnutsighede uit die joernalistiek, Flaters en Kraters, opgeneem het.

“Please forward me a copy of the Playboy magazine as mentioned in last week’s letter page – the one in which Nadine Gordimer, who is my favourite author, is appearing naked with Wally Serote and others. I am a struggling writer and have been to many meetings like those run by the Congress of SA Writers in which she has given help; I would very much like to have these pictures of her as an inspiration of my work.”

Onthou, me. Gordimer, wat klaarblyklik nou nog ‘n aansienlike vrou is, was toe 20 jaar jonger!

Ook in Flaters en Kraters is ‘n storie oor Hustler, “die arm man se Playboy”, opgeteken wat dalk nou nog ‘n glimlaggie kan uitlok.

Dit het uitgelek dat ‘n aantal vroulike TV-nuuslesers van die SABC Hustler wou hof toe sleep omdat hulle in hul eer aangetas gevoel het. Hustler het ‘n taamlike prys aangebied as hulle voor sy kameras hul kleertjies sou afstroop.

Een vroulike nuusleser wou om ‘n ander rede eis – sy het nie ‘n aanbod van Hustler ontvang nie!

Iewers in hierdie stories skuil moontlik ‘n goue draad – as draad ‘n goeie word is oor tydskrifte waarin poppies sonder ‘n draad hul dinge doen! – maar ek is nie seker wat dit is nie; dus besmoontlik is my storie ook maar sonder ‘n draad! Jammer! (HvD)

O, GATTAPATATTA!

More uit Melkbos

Jy’s in ‘n gat as jy terneergedruk voel en met ‘n gat as jy te diep in die bottel geloer het.

As iemand opmerk jy het ‘n groot gat verwys dit na jou struktuur. As hy beweer jy is ‘n groot gat verwys dit na jou persoonlikheid.

Jy kan natuurlik ook ‘n groot gat van jouself maak. Kimberley het boonop sy eie (mensgemaakte) Groot Gat, waarheen toeriste stroom.

Jy kan ‘n bekertjie gat geniet (koffie) of dit haat om in so ‘n gat van ‘n plek te woon (waar jou gat uit die witgatboom se wortel kom en nie uit Pick n Pay – of, as jy ‘n ryk gat is, uit ‘n eksklusiewe koffiehuis nie).

Jy kan met jou gat in die botter val (‘n gelukkie oorkom) of ‘n gat in jou beursie hê (slegte nuus vir jou bankbestuurder).

Jy kan ‘n gat deur ‘n emmer praat (soos die spraaksame buurvrou!) of ‘n gat uit ‘n bed slaap (as jy nie aan insomnia ly nie).

Jy kan jou gat sonder’n spieël sien of dalk as jy gat oor kop slaan (bollemakiesie).

Nadat ons nou die dag oor die heerlik, hoogs bruikbare en betekenisryke woordjie gat gesels het, het ek die boek Wat praat jy! by my Melkbosse vriend, Thys Slabber, ‘n vrolike Swartlandse boer, raakgeloop (die Slabberts met ‘n “t” is Sappe, seg hy!)

In die boek (wat ek dadelik by Kalahari bestel het) skryf Johanna de Wet, Hoopstadse ouma wat op die buurdorp Bultfontein (Tokkie se heimat) gebore is, meesleurend genotvol oor Afrikaanse idiome, gesegdes en uitdrukkings (sal nie waag om te beweer Bultfontein/Hoopstad is aan die gatkant van die aarde nie!).

Ter wille van haar kleinkinders het sy sommer begin neerskryf wat die herkoms van bepaalde gesegdes is. Toe word dit, in haar eie woorde, “soos ‘n swaar voertuig sonder remme teen ‘n steil afdraand”.

Die resultaat is ‘n Protea Boekhuis-bundel van 496 bladsye. Pas op vir Johanna se lorrie!

Gat, lyk dit my, is een van die woorde met die meeste verbuigings en idiomatiese gebruike. Die boonste klompie is maar ‘n handjie vol.

In Johanna se boek (noem haar sommer op die ou Boeremanier Johanna want ek het darem op Hoopstad ‘n Geloftefees toegespreek op my dae!) leer ek ook van gatetsie voel (baie moeg), gatkraak (bitter moeilik) en gatstompie (‘n zol wat met beesmis gedraai is).

Gattapatatta – wat ‘n funksionele woord is gat tog nie!

Laat my sommer dink aan ‘n ete een aand in Waverley, Bloemfontein. ‘n Vername regter se vrou vervies haar vir haar geleerde eggenoot: “Jou gat man.” Sonder om ‘n oog te knip kom sy antwoord: “Darem ‘n uiters funksionele ding, my dier!”

Dit daar gelaat. Intussen hoor ek ook van ‘n opvoering Annale van ‘n Windgat van Barry van Rensburg waarin die gat-woord, volgens hom, in idiomatiese sin gebruik word en wat mense in die noorde op die oomblik gate uit geniet.

Op my dag was ek ‘n aspirant-intervarsitydirigent – vrotterig maar toemaar. Een van my kwinkslae was: “Geniet julle julle gate uit?“ Bulderende “ja”. “Maar dan’s julle mos ‘n klomp siwwe!” Het nie juis dawerende lagbuie uitgelok nie.

Ook dit daar gelaat. In Desember kom Windgat (geen verwysing na die outeur nie, hoor) Suid-Kaap toe. Van Knysna tot Stilbaai gaan dit op die planke kom (dalk planke met gate in?). Januarie (wanneer die Suidoos hier rond werklik gat skoonmaak) kom die Kaap aan die beurt. Op die oomblik is Barry in Noord-Natal, meen ek. Toe mense, roer julle gatte. Gaan soek nuus daaroor op Facebook.

Ek het vir Barry laat weet hy kan gerus aan ‘n opvolg begin dink. Die titel kan wees: Gattapatatta. Hy reageer nie afwysend nie. (HvD)

SPRING VOOR 07:18!

More uit Melkbos

Eerste happie van vanoggend se gedeeltelike sonsverduistering langs Melkbos se Otto du Plessis-rylaan sit en dophou – deur Tokkie se mammogram. Dit is al 3D-erige iets wat ons vinnig kon raakgryp.

Die ongeluk: toe kyk ek meer na die voorwerpe op die mammogram as die donker happie wat stadig groter word. Oulik, man oulik.

Kapenaars wat vinnig spring, kan nog tot 07:18 die son dophou. Van hier af sal die sonsverduistering sowat 80 minute duur. Teen 07:18 sal omtrent 10% van die son geblok wees. By die suidpool sal die maan naastenby 80% van die son verberg.

Slegs mense in Kaapstad, die Australiese eiland Tasmanië en die suidelike eiland van Nieu-Seeland kan die verduistering sien. Sowat 90% van die son sal in dele van Antarktika nie gesien kan word nie en die middelpunt van die skaduwee sal 330 km van die suidpool af verby beweeg.

Spesiale filters moet gebruik word om na die verduistering te kyk. Direkte sonlig kan die oog erg beskadig.

Nee, ek gaan nie “ons filter” hier opsit nie – niemand anders se besigheid nie! (HvD)

KREATIEWE PROTES

Middag uit Melkbos

Moet joernaliste T-hempies met slagspreuke aantrek, plakkate swaai en selfs ‘n paar toi-toi-trippelpassies uitvoer om te protesteer teen iets wat hulle buitengewoon dwars in die krop steek?

Op Facebook is die antwoord in die inskrywings wat ek onder oë kry, bepaald ‘n dawerende ja!

Ek probeer ‘n ander standpunt stel. Ek glo outyds joernaliste protesteer in hoofartikels, kommentaar-rubrieke en dies meer – in elk geval ALTYD ALTYD op eie werf.

Die “pen” is hul magtigste wapen. Hulle betoog nie op straat nie, al is die saak hoe verdienstelik, soos die inkrimping van media-vryheid inderdaad is.

Of moet ons die spreekwoord nou verander: Toi-toi en T-hemde is magtiger as die swaard?

Die meeste Facebookers ignoreer die ou suurknol-oom. Diegene wat my standpunt respekteer, wys beleefd daarop dat die wereld daarbuite verander het. Ook kulture van protes. Ook dit wat maghebbers “laat regop sit”.

Maar laat betogings werklik nog iemand regop sit? Is dit nie voorspelbaar, vervelig en uiters onkreatief nie?

Kreatiewe mense protesteer soos Zapiro en Nando’s hierbo, glo ek. Kan enige betoging die boodskap met soveel impak tuisbring? (HvD)

* IN DIE BLOG HIERONDER: Wat is die gemene deler tussen tannie Danielle Mitterand se dood en “Swart Dinsdag”? Lees hier van die geheimsinnige “Martie van Rooy”!

SKIELIK ONTHOU EK MARTIE VAN ROOY

Indaba in Parys. Ek en wyle Steve Tswethe in ‘n ornate balsaal.

More uit Melkbos

In die wonderskone Parys aan die Seine lui ‘n kerkklok iewers aanhoudend in ‘n laaste vaarwel aan Danielle Mitterand (87), gewese presidentsvrou. In Suid-Afrika is Afrikaans-aktiviste Breyten Breytenbach en André P. Brink se gesigte op die voorblaaie weens vuurspuwende uitsprake op “Swart Dinsdag” teen die vryheid-skendende ANC-“regime”.

Eienaardig hoe die twee onafhanklike nuusgebeure saamvloei om die uwe se gedagtes 22 jaar tot einde November 1989 terug te lanseer – na ‘n indaba in die Paryse voorstad Marly-le-Roi, aangebied deur madame Mitterand onder die sambreel van haar Frances Liberté-beweging.

Thabo Mbeki en Trevor Manuel was twee van die sowat 25 van die latere ANC-leierskader wat teenwoordig was (‘n hele paar is al oorlede is, o.a. die wellewende Steve Tswethe van wie ek nogal gehou het.)

Die uwe het, ná ‘n nagvlug uit Johannesburg, vreemd en meer as net effens lugtig by die konferensiesaal opgedaag en is ietwat koelerig deur Breyten verwelkom. Ek onthou hy het daardie oggend swart gedra. Dit was egter geen “Swart Dinsdag” nie. Die man was in sy element. Sy swart rolnektrui was eenvoudig net modieus en klaarblyklik eksieperfeksie vir die Franser-as-‘n-Fransman-heer met sy Franse maniertjies en foutlose uitspraak, wat gedurig, soos ‘n skim, aan die gedugte madame Mitterand se sy was.

Konferensiegangers het oudergewoonte woes teen die “apartheidsregime” getier, ook mede-Afrikaanspratendes soos die intense André P. Brink, Max du Preez, Antjie Krog en wyle Chris (“Boetman) Louw, wat in minstens een gerugmakende Monitoronderhoud op die SABC geen geheim gemaak het van sy aversie in my “naiewe” politiek nie!

Vanoggend, 22 jaar later, word Brink oor die ANC se nuwe Inligtingswet soos volg aangehaal: “Bring die piesangs dat die bobbejane kan peusel.” Breytenbach verhef sy stem ewe skerp. Gisteraand betoog Du Preez op TV onder ‘n yslike swart hoed soos ‘n seilskip en verklaar stroef dit gaan nou erger as in die “apartheidstyd”. Hoe meer dinge verander, des te meer bly hulle dieselfde!

Maar terug na 1989. Later kon ek die konferensiegangers se aanvalle nie meer verduur nie. Ek het my hand opgesteek, en myself voorgestel as ‘n Afrikaner-Nasionalis wat De Klerk admireer. “Nee, aarde,” het ek gesê “julle is darem net te negatief.” Ek lig die verbaasde (en skeptiese!) groep toe in dat F.W. de Klerk se hervorminge na my oordeel “geen siniese oefening is om die een of ander strategiese voordeel te behaal nie. Dit het ‘n diep morele oorsprong en spruit uit ‘n toenemende Afrikaner-sensitiwiteit oor basiese regverdigheid. Die hervorminge laat De Klerk en die Afrikaner in die algemeen in hul eie gewetes gemakliker, omdat dit as strewe het om reg en geregtigheid aan een en almal in die land te laat geskied.”

Albie Sachs het later aan ‘n Volksbladman vertel sy redakteur het daardie oggend “man-alleen” gestaan. Dit is presies hoe ek op daardie oomblik gevoel het: man-alleen teen ‘n oormag. Maar Sachs het darem ook my optrede as “moedig” en “klaarblyklik goed ingelig” bestempel. Dankie, regter Sachs!

Die sosiale omgang het gou gemaklik geraak. Selfs vir die “vreemdeling in Jerusalem” uit die Vrystaat (en geswore Nasionalis). Daarvan getuig allerlei foto’s in my album: ek en Thabo in diepe gesprek; ek en wyle Steve omring deur die weelde van ‘n Franse balsaal; ek en Cheryl Carolus saam aan tafel by ‘n middagete; ek en o.a. Pallo Jordan (wat “Jan Pierewiet” so lekker kan sing!) en regter Albie die ene glimlagge op ‘n groepfoto, ek en Frederick Fourie op ‘n aandjie uit in Montmartre.

Buite die konferensiesaal, is hewig gekuier. Mbeki was een oggend te pê om ‘n afspraak in die Franse parlementsgebou na te kom. Die vurige Jay Naidoo moes instaan. Sjoe! Twee Suid-Afrikaners (laat hulle maar naamloos bly) het een laataand die bus terug na Marly-le-Roi verpas. Hulle kom in die vroeë ggendure per taxi aan. “Ry, ou grote, ry direk na Martie van Rooy,” het hulle die Galliese taximan gepor. Hy is direk na die regte bestemming!

‘n Ongemaklikheid was toe ons klomp ná ‘n dag se “beraadslaginge” vir ‘n deftige onthaal by die Franse premierswoning opdaag. ‘n Verpotte mannetjie wag ons by die deur in. Een van die Suid-Afrikaners eien hom as ‘n deurwag en prop sy baadjie in sy hande. Dit was nie die deurwag nie, wel die Franse premier, ontdek ons toe later oor die kaviaar en Dom Perignon!

By een van die vele vyfster-onthale van allerlei Franse kokkedore het ek en Mbeki soos ou vriende gekorswel. Sy chroniese kuggie was opvallend. Ek het my besorgdheid uitgespreek, en hy het gereageer deur terstond sy groen sigaretaansteker met die logo van Umkhonto we Sizwe vir my present te gee. Ek het dit nou nog, en steek my braaivleisvuurtjie daarmee aan die brand.

Max du Preez het gesien hoe die aansteker van eienaar verwissel. Hy het nader gestaan en geskerts hy gaan my by doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!

Tog snaaks né hoe ‘n relatief onbekende se dood as koppeling kan dien en ‘n mens se herinneringe op ver paaie kan aktiveer. Ai, Martie van Rooy ….
(HvD)