NIE OOP NIE

More uit Melkbos

Nee, die blog hervat nie.

Het net besef dat ek darem baie onbedagsaam is. Mense wil nie deur ‘n hele blog karring om agter te kom wat aan die gang is nie.

Daarom hang ek hierdie kennisgewinkie op.

Die blog bly gesluit tot verdere kennisgewing. Hy is toe omdat hy nie oop is nie!

(HvD)

VAT JOU GOED EN TREK!

More uit Melkbos

Mense sonder integriteit misbruik die internet om te lieg en te laster. Leuens sien ‘n mens amper elke dag op die web. Dit verbaas my dikwels dat intelligente mense hulle deur sulke onsin met slap rieme kan laat vang. Van laster was ek self al ‘n slagoffer.

Dat my eie bitter ervarings my nie dubbel versigtig gemaak het vir die valstrikke van die medium nie, strek my nie tot eer nie. ‘n Gesonde skeptisisme oor ander koerante se stories is boonop in ‘n leeftyd in die joernalistiek by my ingedril. Dit maak die pil nog bitterder dat die uwe self deur ‘n stuk koele bedrog meegesleur is.

Wel, helaas, ek is. Met die storie van “Herman Louw” se plaas by Komatipoort wat dan nog ‘n voorbeeld van “mislukte grondhervorming” sou wees, het ek hier groot skande gemaak. In mystorie@beeld.com kom die waarheid aan die lig – dit is ietwat anders as in my blog “Plase in hul peetjie” wat op 8 Oktober hier verskyn het.

Die les is opnuut pynlik tuisgebring: moenie eenvoudig aanvaar iets is die waarheid omdat dit uit tien verskillende oorde op jou reën nie. Toe die boodskap van soveel geloofwaardige vriende kom – van Mtunzini in Kwazulu-Natal tot Stilbaai in die Suid-Kaap tot Yzerfontein aan die Weskus, soos ek geskryf het – het ek aanvaar dit is die reine waarheid. Toe klouter ek self goedsmoeds op die propagandawa.

Maar ons almal was bitterlik naief en het ons laat “uitvang” deur iemand wat vir eie doeleindes die waarheid verwring het.

Die “voor- en–na-foto’ s” van die verwoeste plaasopstal is wel die ware Jakob, en dit is inderdaad deur die vorige eienaar geneem, maar hy is nie Herman Louw nie, hy is Phillipus Badenhorst, en omstandighede verskil aansienlik van die beeld wat in die e-pos (en later in my blog) geskep is. Die boerdery verloop voorspoedig.

Jammer aan al my vriende aan wie ek daardie e-pos as waar en bo verdenking versprei het – nog jammerder aan al die niksvermoedende bloglesers (moet ek liewer sê boglesers!) aan wie ek perdedrolle vir vye verkoop het, en aan die nuwe eienaars wat onverdiend bygekom is.

Hoe stel ‘n mens dit reg?

Oor skeidsregter Allain Rolland se rooikaart vir die Walliese rugbykaptein Sam Warburton was daar omstredenheid. Geen twyfel dat HvD hier ‘n rooikaart verdien nie. Van die veld af met jou ou maat!
‘n Afkoelperiode in die yskas sal egter kennelik onvoldoende straf wees. Die rooikaart word opgevolg deur ‘n persoonlike tugverhoor en ‘n vrywillige skorsing. Laat die ou sondaar hom liewer onbepaald uit die voete maak om sy ontnugtering in isolasie te gaan afskud en oor sy dwase liggelowigheid te gaan nadink.

Vat jou goed en trek Van Deventer, vat jou goed en trek! (HvD)

SEWE WONDERS VAN TAFELBERG

Waterverf van Tafelberg – Pierre van Manen

More uit Melkbos

Van oral word ons aangemoedig om vir Tafelberg te stem as een van die “Wonders van die moderne wêreld”. Ek gee Tafelberg graag my stem – het dit trouens al uitgebring toe die kampanje nog in sy babaskoene was.

Op 28 Mei 2010 het ek al lesers van hierdie blog aangemoedig: Toe, roer julle, stem vir ons berg. Stem vroeg, stem reg, stem dikwels. (Gaan na www.votefortablemountain.com om te stem.)

Is dus nie sinies nie. Wonder darem: kan ‘n mens aan die een kant jou berg opvysel as “moderne wonder”, en aan die ander kant strate daarheen sluit ter wille van persoonlike veiligheid?

As ‘n mens wou sinies wees, kon jy sê dis “wonder” nommer een vir aspirant-besoekers.

Nommer twee sou wees: Hoe veilig of onveilig is dit werklik om die “wonder” te besoek?

Nommer drie: Is dit onverantwoordelik om vrouens saam te neem op ‘n berg-uitstappie?

Nommer vier: Moet ek waardevolle goed soos ringe en horlosies liewer by die huis los?

Nommer vyf: Is sekere roetes veiliger en ander onveiliger?

Nommer ses: Presies wie is presies waar verantwoordelik vir veiligheid?

Nommer sewe: Moet ek nie maar liewer met die sweefspoor ry nie?

Siedaar, “sewe wonders van Tafelberg” in ‘n neutedop!

(HvD)

ET TU, PUKKE?

More uit Melkbos

Tukkies was die regte plek vir my ingevolge my destydse waardebepaling van universiteite, wat in my Volkiedae op Potch gevestig is deur maats met ouer broers wat trotse draers was van die rooi, blou en goud en by intervarsties, ingehaak by mooi meisies, wiegend heen-en-weer gesing het:” Laat elke ou Tukkie sy glasie volmaak …”

Van Kollegetehuis en sy “berugte” tradisies het ek genoeg gehoor om ‘n brandende ambisie te ontwikkel om een van Sarge Bourke (ons gelukbringter) se kudde te word, en niks anders nie.

Die verre Maties, waarheen my vriend Willem Hartzenberg, op die nippertjie sy skrede gewend het op aandrang van ons Geskiedenisonderwyser, Chris van der Walt, was ook aantreklik (veral Wilgehof!) , maar buite bereik van ‘n arm outjie. Puk, in die bodorp van van Potch was nooit ‘n opsie nie.

Kan nie eens sê “I’ve considered and I’ve reconsidered” soos George Bernbard Shaw (meen ek) van die huwelik nie. Die gedagte om Puk te word, het nie by my opgekom nie. Van die Kovsies was ek, vergewe my Vrystaatse vriende, in daardie stadium salig onbewus.

Nou-ja, nooit was ek spyt ek vyf jaar lank ‘n Tukkie en ‘n Kollegeman was nie. Tot vandag toe is ek in murg en been ‘n Tukkie. A-ra-ra-ratio! Goue jare gewees.

By ASB-kongresse was die dra van ‘n Tukkiebaadjie altyd vir my iets soos ‘n onderskeidingsteken. By die Puk-afvaardiging by ‘n kongres op Stellenbosch was ‘n bordjie met die amptelike universiteitsnaam P.U. vir C.H.O. Ons Tukkies het by ons eie U.P. gevoeg “vir K.W.V.”, en gedink ons is darem veel wêreldwyser.

Vir die Puk het mettertyd ‘n solieder respek begin groei as wat ek in my melkbaarddae gehad het. Goeie produkte het uit die CHO-omgewing gekom – leiers op elke terrein. Soos universiteite toenemend “getransformeer is”, het die Puk onder die verbeeldingryke leierskap van Theuns Eloff op my respektelys bly klim. Tukkievriende het hul kinders selfs van Pretoria af daarheen begin stuur.

Ons het vir mekaar begin sê: “Die Puk is nou wat Tukkies was toe ons universiteit toe is.” Dis die plek waar ‘n mens nog tuis kan wees in jou eie taal en tradisies.

Pas gister, eergister hoor ek van ‘n Tukkietydgenoot wie se kleindogter in matriek ook Mooirivier se kant toe mik. Sy was enkele dae gelede soontoe vir ‘n onderhoud.

Maar nou sit ek met ‘n persepsieprobleem. Die “goeie ou Puk” is op ‘n wyse aan daardie oulike meisiekind openbaar wat my laat wonder of ou waardes aan’t verander is.

Sy het in trane uit die onderhoud gekom en gerapporteer dat sy veral oor twee goed gedril is: die standaard-Afrikaans wat sy praat en haar besadigde kleredrag. Sy moes verduidelik hoekom praat sy so konserwatief-ortodoks en hoekom trek sy so behoudend aan.

Vir haar reaksie gee ek haar 10 uit 10. Sy kom uit ‘n huis wat Afrikaans so praat en wat so aantrek, was haar pronte antwoord.

Dalk was dit die antwoorde wat die Pukmense inderdaad wou gehad het, want sy is gekeur vir die kursus. Wat my hinder: sê nou net sy is gekeur nie as gevolg van nie, maar ondanks haar antwoord.

Gaan ons binnekort ook van die Puk moet sing (soos van die Maties, die Tukklies en in ‘n sekere sin ook die Kovsies (Jonathan Jansen ten spyt): “The old grey mare, she ain’t what she used to be?”
(HvD)

NIE LUI BY DIE LIEFDE

More uit Melkbos

Die kleurryke senator Paul van Zyl cvan Ceres is teen sy sin saamgesleep na ‘n sogenaamde “live show” in Soho, Amsterdam, Hamburg of een van daai plekke. Ná die tyd wil sy vriende weet: “En toe, Oom Paul?” Hy oorweeg sy antwoord lank. Toe kom dit: “Daardie maer kêreltjie is nie juis aansienlik nie, maar hy’s ‘n toegewyde werker, hoor!”

Die storie kom by my op toe ek Eric van der Walt van Sabiepark se heerlike weergawe lees van die luiperdplesier wat hulle op ‘n langse besoek by hul huis, erf 231, Wildevy, beleef het.

Van die luiperd-minnaar in daardie “live show” kon jy darem nie sê hy’s onaansienlik nie. Hy’s ‘n fris, atletiese meneer met ‘n glansende kollepels en ‘n dik nek soos ‘n rugbystut. Ek vermoed dis die ou op die foto bo, wat ek ‘n vorige keer in dieselfde lopie afgeneem het. En dis ‘n indrukwekkende eksemplaar van die spesie Panthero pardus.

Uit Eric se vertelling, wat ek hier met sy toestemming, woordeliks aanhaal, staan dit soos ‘n paal bo water (as dit in omstandighede ‘n gelukkige idioom is!): ‘n Luiperd is geen lui perd as dit by die liefde kom nie! Toewyding – en entoesiasme – ontbreek allesbehalwe.

Eric laat weet uit Bethal:

“Ek en my vennoot Gerrie Cronje en ons twee se vrouens was die naweek van 7 tot 9 Oktober 2011 in Sabiepark en het ‘n wonderlike ervaring gehad.

“Ek en Gerrie was Vrydagaand so net voor 6 besig om vuur te maak by 231 by die lapa aan die voorkant van die huis toe die twee vrouens, wat in die huis doenig was, ons dringend kom roep.

“Ons is die huis in tot by die gaasstoep aan die agterkant van die huis wat uitkyk op die lopie wat agter langs die huis verby loop. Hulle wys ons toe ‘n groot luiperd wat in die lopie (sandsloot), lê en
wegkyk van die huis af, seker so 50 meter van die huis af.

“Die vrouens het vinnig ons verkykers gaan haal. Omdat dit toe al skemer begin raak het en ‘n mens nie mooi deur die gaas kan sien nie, het ons saggies uitbeweeg en voor die stoep gaan staan.

“Toe ons mooi deur die verkykers kyk (die lopie is ook dig begroei en maak dit nog donkerder) sien ons hierdie groot luiperdmannetjie (die een met die dik nek soos ‘n stut, soos jy (dis nou eke – HvD) vroeër gesê het) en by hom lê ‘n jong luiperdwyfie heelwat kleiner, skraal en lig van kleur.

“Hulle begin toe speel en begin toe paar met ‘n helse gegrom en gebrul van die mannetjie. So het ons staan en kyk totdat dit so donker was dat ons nie meer kon sien nie.

“Naby die twee luiperds was daar ‘n groot hiëna wat kort-kort mik om nader aan die luiperds te kom. Dit het ons laat vermoed dat daar kos by die luiperds was, hoewel ons niks kon sien nie. Elke keer as die hiëna te na aan die luiperds kom, dan draai die luiperdmannetjie om en kyk vir die hiena. Dan gee die hiëna pad.

“Toe dit donker word, het ons ons hout en kole in ‘n Weber gepak, die fakkels gedoof en reg in die voordeur gebraai sodat ons net by die huis kon inspring as die luiperds dalk kom kyk wat aan die voorkant
van die huis aangaan.

“Terwyl ons die vuur in die Weber laai, kon ons duidelik hoor hoe die luiperd aan die anderkant van die huis brul en tekere gaan.

“Ons het toe maar op die voorste gaasstoep geëet (die gaasstoep teen die pad waar jy (weer eke – HvD) altyd verbystap). Die twee luiperds se manewales het aangehou tot hier by 10 uur die aand. Toe het ons gaan slaap.

“Elke 20 minute tot ‘n halfuur dan begin die luiperdmannetjie so laag grom en dan werk hy op tot hy eindig by ‘n harde gebrul.

“Vir ons was dit ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd- ervaring om hier teen ons huis
deur die twee luiperds getrakteer te word vir so ‘n lang tyd. “Die volgende oggend was die luiperds weg maar die hiëna was nog daar in die sandsloot. Ons het die wêreld daar deeglik bespied met ons
verkykers, kon geen teken kry van die luiperds of enige vangs nie. Ons vermoed die hiëna het alles geëet wat die luiperds daar gelos
het.

“Ons kon ongelukkig nie enige foto’s neem nie omdat dit al skemer was die Vrydagaand toe ons die luiperds vir die eerste keer gesien het.

“Ek moet jou sê ‘n man kan baie leer by ‘n luiperdmannetjie. Hy gaan deur as ‘n stil en skugter roofdier maar as dit by die liefde kom, is hy verwoed en sit hy ‘n groot “performance” op – dis soos die Hollanders sê: “Dan gaat je brein na je bal”. (HvD)

KEREWeN-KRONIEKE

Die epiese Gypsey-vakansie deur die bril van Fred Mouton in Weg.

More uit Melkbos

Aan die “kerewên”-kultuur het ek ondanks my voorliefde vir ver paaie en die ooptes nooit vat gekry nie. Moet nou nie vir my kwaad word nie, liewe vriende van die Woonwagilde, maar dit klink al te veel soos harde werk en is in belangrike opsigte vakansie-onvriendelik, o.m. weens die legio slaggate – letterlik en figuurlik – wat ‘n mens sonde kan besorg.

Nadat ek in die jongste Weg my karnallie-kollega met die goue pen, Johan van Wyk, se kroniek gelees het van Koos Kerewên van Knelpoort se krisisse op sy epiese reis met ‘n lendelam ou Gypsey agter ‘n kragtige Ford F100-bakkie aan deur die Suid-Vrystaat Gonubie toe is ek taamlik oortuig dat my instinktiewe weerstand nie misplaas was nie.

Wil niemand die plesier ontneem om Johan se storie eerstehands te lees nie. Sal verklap dat die Gypsey, namate die reis vorder, ook in flentergat-geid toegeneem het. Bloudraad en ‘n tang moes oortyd werk. Maar stukke wat in die ry verlore raak, kan jy darem nog op ‘n manier vaswoel. As rook eers by die wiele begin uittborrel, breek die nag aan, boeta. Nag met ‘n hoofletter-N.

Al rede hoekom die Gypsey nie ‘n hoenderhok geword het nie, was, soos ek dit verstaan, dat ‘n pophuis vir die meisiekind daardie tyd ‘n groter prioriteit op Knelpoort was.

Laat my dink aan ‘n ander Volksblad-kollega, Philip van Rensburg, se beproewende kennismaking met ‘n Gypsey, Sprite of iets dergeliks, jare gelede toe die ekonomiese aspekte van gesinsuitstappies noodwendig swaar geweeg het, en hotel-akkommodasie eenvoudig vir ‘n jong joernalis onbereikbaar duur was. Gastehuise was nog nie deur slim entrepreneurs uitgedink nie.

Eerste komplikasie was dat Philip nie geweet hoe om die geleende (of gehuurde) affêre weer agteruit in die straat te stoot as dit eers op die werf sou wees nie. Hy parkeer hom dus nonchalant in die straat voor die huis. Die hele buurt was omtrent toeskouer toe die gesin die voorraad vir ‘n “rustige” naweek by Bethlehem se Loch Athlone by hul Bloemfonteinse huis begin uitdra.

Daardie nuuskierigheid was klaar nie bevorderlik vir ‘n ontspanne vakansiestemming nie. Toe kom die Rit. Ek skryf dit ook met ‘n hoofletter R, soos die Nag hierbo se N. Dit was ‘n Sukkelrit (met ‘n hoofletter S), soos Philip kleurryk kan vertel. Stadig, bitter stadig, het hulle aangekruie Oos-Vrystaat toe terwyl hul motor se enjintjie proes en protesteer. Die petrolnaald val soos ‘n klip. Sowat van petrol suip, het Philip nog nie voorheen gesien nie.

Nance en die twee dogters was nie geïmponeer nie. Vraende kyke, verwyte en vrese dat hulle nooit Bethlehem gaan haal nie, het die arme Philip se lewe heelpad versuur. Net toe hy begin voel hy bereik nou die limiet van sy stamina, hoor die Van Rensburgs meteens ‘n aaklige skeur- en klapgeluid. Toe’s dit al goed donker en in die dowwe maanlig is dit nie dadelik vir hulle duidelik watter lot hulle getref het nie.

Die karretjie bokspring terselfdertyd vorentoe en die enjintoere sak dadelik tot ‘n gemakliker vlak. Die motortjie begin oustryk aanstoot asof ‘n yslike gewig van sy skouers is. “Die blerrie woonwa is weg!” Dit is al gedagte wat deur die stomme man se gedagtes flits. Sy vrou en dogters dag insgelyks en weens die algemene paniek ontstaan ‘n hele relletjie in die motor oor wie se skuld is wat.

Maar nee, nadere ondersoek bring aan die lig die woonwa het nie, soos vermoed, losgebreek en veld-in koers gekry nie. Die koppeling is steeds stewig. Nou wat de ongeluk? Die rede vir die groter beweeglikheid word eers later ontdek. Uit onkunde het my jong kollega die hele pad nog met die woonwa se handrem aan gery! Nou-ja, metaal kan ook net soveel vat. Uiteindelik breek die geteisterde rem los met ‘n knal.

Die rit het daarna darem vinniger verloop, en die petrolverbruik was sonder handrem nie meer so buitensporig hoog nie. ‘n Seën dus dat die spulletjie tog maar liewer die gees gegee het.

Presies wat alles by Loch Athlone skeefgeloop het, onthou ek nie meer mooi nie. Ek weet egter dat Philip verbaas was om in die lig van hul laat aankoms, wat hom betref, ‘n aantreklike staanplek naby die ablusieblok te kry. Hoekom alles dan daardie nag so windskeef was, het hulle die volgende oggend ligdag eers ontdek. Een wiel het gevaarlik in die lug gehang oor ‘n fris rots op daardie kol, wat Philip in die nagdonkerte nie gewaar het nie. Op die een of ander manier het hy die rots, woonwa en al, bestyg.

Toe skeur die hemele oop en dit reën en reën emmersvol dwarsdeur die nag. Nie ideale weer vir onervare woonwamense nie. Soos ek dit egter het, was die ongelyke parkeerplek darem toe op langelaas ‘n beduidende voordeel. Hoeveel ander staanplekke was kniediep onder die water. Die skuins Van Rensburg-waentjie het egter droogvoets daar in die lug gehang. Maar dis ‘n ander storie…

My punt wat ek wou maak, is dat Philip op een reis genees is van enige kerewên-ambisies wat hy gehad het.

Soos my vriend Piet Parlement van wie ek in Praat-praat in Tamatiestraat vertel. Hy’t mos so lank gedroom oor sy eie “karavaan”, en droomvakansies by eksotiese bestemmings. Met ‘n onverwagte erflating van ‘n verlangse niggie kon hy sy droom bewaarheid.

Die eerste aand verloop als volgens verwagting. Die welbehae in die lewe wel dermate in Piet se binneste op dat hy romantiese inklinasies ontwikkel. Gelukkig is die kleinkinders, wat saamgebring is, moeg gebaljaar en gou in droomland. Maar net toe dinge op dreef kom op die klein dubbelkateltjie agter in die verruklike Jurgens-model, skrik enetjie wakker. Toe nommer twee.

“Is dit ‘n aardbewing?” wil hulle bevrees weet. “Oupa, ouma hoekom skud dit so? ”

Dit was ‘n kritieke oomblik in Piet se lewe. Net daar het hy sy smaak vir sy nuwe speelding verloor. Hy’t die Maandag die koerant se advertensie-afdeling gebel en gevra om na die meisie by Woonwaens Te Koop deurgeskakel te word. (HvD)