MY “BEGRAFNISPAK”

Naand uit Melkbos

‘n Vriend se broer is ‘n groot man met ‘n gewig (het die woord “massa” ooit wortel geskiet?) wat woes wipplank ry. Vir die wis en onwis hou hy drie stelle klere aan – voorbereid op die twee uiterstes van swaar en lig en darem met ‘n behoorlike verskoning vir die tussenin-fase ook.

Soos die wyse maagde met hul lampies raak hy nie meer onverhoeds betrap as sy gewig na al die swoeg en sweet skielik ‘n onwelkome opswaai toon nie. Wie in ons geledere van gewigtiges ken nie daardie komplikasies met klere wat rek en krimp nie?

Op die oomblik is my broeke die leste een verklein. Die Singer het gesing soos nate “uitgesit” is. Die keuses waarmee ek elke oggend gekonfronteer word, is verbysterend. Broeke wat ek laas Nuweland toe gedra het toe ek nog ‘n losie-bevoorregte was (voor aftrede einde 1997) pas nou weer eksie-perfeksie.

Ook my donkerblou dubbelbors-“blazer” met die rye koperknope, ‘n paar ander variasies op die tema sportbaadjie en onder meerdie swart wolpak met fyn strepies waarin ek op die maat van “Oh Mein Papa” van Eddie Calvert met die bruid gewals het toe my dogter, Marisa, op 30 Desember 2000 getroud is.

Juis hierdie halleluja-ontwikkeling van klere wat skielik weer uit die kas kan kom, voer die gedagtes van hierdie steeds ietwat gesette ou gryse terug na my “begrafnispak”.

My “begrafnispak” was een wat ek in my laaste jare graag kantoor toe gedra het: ‘n geruite grys met ‘n groen skynsel (so deel Tokkie my hulpvaardig vriendelik mee, want ek is mos rooi-groen-kleurswak). By hom het ek graag een van daardie “korporatiewe dasse” aangesit, met ‘n verskuilde kommersiële boodskap in die ontwerp. Hierdie een het ek by wyle Werner Wager, wellewende Duitse fabrieksbaas, gekry. Die ontwerp is van ry op ry groot houtletters, soos daardie wat in die ou dae in koerante en tydskrifte se drukkerye gebruik is om opskrifte met die hand te set (foto).

Ewenwel, daardie geleentheidspak (en passende das) het sedert 1998 in ‘n plastiekjassie in ons kas in Sabiepark gehang – gereed vir ‘n “begrafnis” wat uit die bloute kan opduik terwyl ek daar met my hoofsaaklik kakie-bos-klerekas sit. ‘n Mens sweet nooit …

‘n Paar bruin “begrafnisskoene” het ook in ‘n hoekie in daardie kas tussen my vellies en robuuste stapskoene gereed gestaan.

Hier circa 2009 sê Tokkie honend: “Pas ‘n bietjie daardie pak aan.” Ek reageer aanvanklik kopsku. Die morele dwang is egter geweldig. Natuurlik word die die voorspelbare “ontdekking” gedoen: my mooi pak sou, helaas, nie meer deug as ek skielik “begrafnisklere” nodig sou kry nie. Die hele uitrusting kom toe terug Melkbos toe, das, skoene, die lot.

Oor eerskomende Sondag se kerk-uitrusting kry ek toe ‘n vonkel in die oog. Al word die kerkdrag deesdae gekenmerk deur algemene dasloosheid, pak die bevlieging my om ‘n slag ewe deftig in my “begrafnispak” te klim, das, skoene en al.

“Tokkie. Waar’s daai pak wat in Sabiepark was?”

“Vir Solidariteit gegee.”

“Solidariteit?” Natuurlik. Toe onthou ek. My pak se verwisseling van eienaarskap was nogal met die uwe se instemming. Nie gedink hy sou ooit weer vir HvD, toe op die toppunt van sy gewigtigheid, enige nut of waarde hê nie.

Nou soek ek hom met ‘n seer hart. Tokkie is onwrikbaar: dis neusie verby. “Eens gegeven, dan genomen, is erger as ‘n dief gestolen.” Buitendien, sy gaan in geen omstandighede die verleentheid op haarself haal om eens te gaan navraag doen oor die beskikbaarheid van haar eggenoot se “te groot pak” nie. Selfs die opsie om hom “terug te probeer koop”, het, volgens haar, het geen lewensvatbaarheid nie. Sela.

My mooi pak is Solidariteit toe en finis. Dis die einde van die storie. Die das kan maar, saam met dosyne ander, in die ou sloop kom waar ek daardies bewaar wat ek nooit weer sal dra nie, maar darem nie kans sien om weg te gooi nie, omdat ek aardig sal voel as hulle om sommer enige nek hang.

Die skoene? Die’s opnuut loshande die beste in my kas, ontdek ek toe ek dit uithaal en deeglik ondersoek. Sal Sondag ten minste in daardie “begrafnisskoene” kerk toe opruk, dis nou maar wors. (HvD)

WELKOM BY “DUISEND DAE”

Altyd lekker om so ‘n kraakvars broodjie uit die oond die eerste keer op te tel.

More uit Melkbos

Terwyl die roosters geskrop, die gaskrane toegedraai en die lanterns gevul word vir die volgende Sabiepark-kuier is ‘n graad van weemoed maar altyd in die lug. Die swaar van tot siens sê, raak al hoe intenser namate die jare kom en gaan.

Terwyl ons sorgvuldig wegpak, stapel die herinneringe op van die duisend dae wat verby is. Soos ‘n see van spore by ’n watergat. Die spore lê kruis en dwars, deur- en oormekaar. Dit raak diere en voëls. Ook mense, van wie party reeds heen is.

Hieruit volg dat “Duisend dae langs die Sabie” vir eers ‘n onthouboek is. Kosbare eie bos-belewenisse kom in woord en beeld terug. Dit is ook ‘n vertelboek. Sabiepark, klein buurman van die grote Krugerwildtuin, is ‘n plek met vele onvertelde stories.

Dié reservaat is ‘n soort “laaste paradys” waar mens en dier sy aan sy kan leef. Op hierdie smal repie rou bos langs die Sabierivier vertoef eienaars op onomheinde erwe tussen die wild. Hul spore kruis met dié van baie diere, selfs roofdiere. Hiënas kom snuffel by hul vuurtjies. Van kameelperde tot bosbokkies tou by hul voordeure verby. Die natuur heers. Geen elektrisiteit in die huise of straatligte maak inbreuk nie.

My studentemaat Cas Jacobs van Centurion se netjiese beskrywing is dat Sabiepark die enigste plek is wat hy ken waar ‘n mens afgeneem kan word saam met elke dier wat jy sien. In “Duisend dae langs die Sabie” is inderdaad ook ‘n 60-stuks foto’s.

Ons was in 1998 op ons eerste bosvakansie in Tarlehoet. In die winter van 2011, 13 jaar later, het ons besoeke tot 35 geklim. Weens onsekure eie statisieke kan ek nie die presiese dag en datum bepaal nie, maar meer as net ‘n vermoede bestaan dat ons einde 2010 duisend dae in Sabiepark op die almanak kon afmerk. Die betowering van die kennismaking het ‘n langtermyn-verowering geword.

Hierdie boek van bos-herinneringe is my tweede. Dit sluit aan by “Buurman van die Wildtuin”, Tarlehoet, 2004. Dit bevat ook hoofstukke oor die sentrale Krugerwildtuin, wat ek, danksy Sabiepark, goed leer ken het en steeds al hoe liewer kry.

Hennie van Deventer
Melkbosstrand
2011

Bekende kontrei

Dis bome, dis voëls,
dis ‘n diere-gewemel;
die oom vra verbaas:
“Nig, is ek in die hemel?
Is ek in Noag se ark?”

Die engel lag lekker:
“Nee, oom dis g’n ark –
die hemel hierbo
lyk maar nes Sabiepark!”

(Hierdie is die voorwoord tot “Duisend Dae langs die Sabie” wat pas sy buiging gemaak het. Om verder te lees, kan die boek by my private uitgewerytjie, Tarlehoet, bestel word. Die prys is R120 plus R25 vir posgeld en koevert. Dis doodeenvoudig. Blits net ‘n e-pos aan duisenddae@mweb.co.za vir bankbesonderhede. Wil graag hier vir Hildegard Martin, ontwerper en redigeerder, en Shumani Print World, die drukker, salueer. Hulle het eer aan hul arbeid! Oordeel gerus self.)

SCOOPS OP TOEPS

More uit Melkbos

“Bliksem!” Die spontane uitroep van Freek Robsinson (meen ek) op ‘n radio-inbelprogram geruime tyd gelede staan my nog helder voor die gees. Die omroeper se onverwagte reaksie was uit pure bewondering.

Die gesprek was oor die digitale era en hoe mense toenemend die nuwe tegnologie in hul daaglikse lewe inspan. ‘n Sewentig-plusser het ingebel – iewers uit Natal – en entoesiasties uitgewei oor alles wat hy met sy “laptoppie” uitrig terwyl hy in sy motor sit en wag vir sy gade op die een of ander inkopietog.

Moet erken: my mond het ook oopgehang oor sy vernuf, al is ek self nie heeltemal ‘n “ongeletterde” nie. (Niks laat jou bors meer uitdein nie as om uit ‘n mooi jong dingetjie se mond te hoor: “Jinne, oom is darem oulik!” Maar ek ken my beperkinge, hoor, en kan soms met frustrerend “maklike” toepassinkies vasval.)

Nietemin, toe ek Sondag in Sake-Rapport die onderhoud met Liza Albrecht lees oor waarheen Media24 op digitale gebied op pad is, dink aan daardie Natalse senior en wonder ek of hy meer van al hierdie dinge sal verstaan as ek, voormalige joernalis en koerantehoof. Ek vermoed wel so, want dat heelwat van haar uitsprake vir hierdie “oom” Grieks is, moet ek maar bely.

‘n “Toep” met “ekstra funksionaliteit” en “interaktiewe funksies” klink vir my of dit in die teater van ‘n Mediclinic tuishoort, nie in ‘n koerante-omgewing nie. Ek wonder: Sou “toep” (toepassing) dalk inspeel op “YouTube”?

Wat my wenkbroue laat wip het, is die erkenning dat “die beste model vir koerante op die internet nog nie gevind is nie”. Ook ander Albrecht-uitsprake soos: “Die realiteit is dat ons nog nooit geld gemaak het op die internet nie.”

Goeie aarde, het ek nie so lank terug as 1997 (14 jaar gelede) al die rekenaar-fundi’s van die Pers uitermate irriteer met my “vervelige” aandrang om te wil weet of ‘n model aanbeveel kan word wat die moontlikheid van geld maak inhou nie?

Dis juis oor my domheid op hierdie terrein (en my bedenkinge of ek ‘n jota of tittel sou kon bydra in ‘n nuwe era van “ekstra funksionaliteite” en “inter-aktiwiteite”), wel, onder meer, dat ek op ‘n relatief jeugdige 57 die Pers koebaai toegeroep en op Melkbos vir die goddelike sonsondergange kom sit en kyk het, glasie wyn in die hand.

Nou praat die nuwe generasie wel in nuwe tale, maar sit hulle maar steeds, by wyse van spreke, in hul wegspringblokke, lyk dit vir my. Dat net 2 000 mense die spesiale (gratis) rugby-“toep” op IPad afgelaai het en ewe min op IPhone klink vir hierdie waarnemer bra ontmoedigend.

Sterkte, liewe Liza en jou “toep”-span, met jul “verkenningswerk” en “aanvoorprojekte”. Hoop werklik jul “Touchlabs” en dinge gaan jul drome verwesenlik.

As hierdie onwrikbare verslaafde aan die gedrukte media vir julle raad het, is dat julle tog maar nie te veel vertroue in die tegnologie self stel nie, maar eerder in die joernaliste wat dit sal moet inspan om die nuus met slimfone op tablette (en ander maniere) by die massas te kry.

Want ”scoops” op jul “toeps” – dis wat julle broodnodig gaan hê as julle hoop om geld te maak op die internet. Nuus, nuus, nuus – dis wat mense wil hê en al waarvoor hulle (moontlik) bereid sal wees om te betaal op die internet. Hoop nie dis nuus vir julle digitale stratege nie. Ander kan baie frustrasies voorlê en dit nog jare vat voordat julle iewers kom, is ek bevrees. (HvD)

ZIMBABWE-MODEL

Piet en Moraig Henning by Tokkie in sorgvrye tye in Sabiepark

Middag uit Melkbos

‘n Studentemaat van my, Piet Henning, op die oomblik op Louis Trichardt, was ‘n groot boer in die distrik Chiredzi, Zimbabwe, met uitgebreide suikerriet-, sitrus-, wild- en ander belange wat dekades lank hope bestendige werkgeleenthede geskep het. Soos die arme Piet en sy gesin al jare geteister word, is egter hartverskeurend.

Piet en sy vrou, Moraig, se boedery is vir alle praktiese doeleindes vernietig. Hulle voel geruime tyd nie meer veilig om hulle “bestrede” plaaswoning pal te bewoon nie. Hulle is dus dikwels land-uit. Hul seun, Greig, het al dikwels klippe gekou onder die brutaalste intimidasie. Al wanneer Piet in Chiredzi kom, is vir ‘n slepende geding in ‘n smerige hof oor sy “onwettige besetting van staatsgrond”.

‘n Nuwe doring in sy vlees is dat oproerige jeugdiges in die naam van Zanu-PF ‘n nywerheidsgebou wat aan hom behoort, in Chiredzi beset het. Die besetting van geboue in stedelike gebiede om blankes sogenaamd “in eie munt terug te betaal”, is skynbaar nou aan die orde oral in ons geteisterde buurland.

Die Zimbabwiese weermag kom vat eenvoudig die Hennings se duur trekkers en ander landbou-toerusting

Algemene amokmakery kom voor. Taxidrywers, en die polisie wat hulle teen aanrandings probeer beskerm, word deur jong boewe onder die klippe gesteek. ‘n Algemene magteloosheid het die polisie beetgepak omdat die wanorde klaarblyklik van heel bo (lees Mugabe) oogluikend toegelaat word. ‘n Opdrag is glo uitgereik dat die geweldenaars nie in hegtenis geneem mag word nie.

Die uitroeiery van wild – nie net olifante en renosters nie – neem terselfdertyd hand oor hand toe. Die wreedste verminkings kom voor. Foto’s doen op die web die ronde wat ‘n mens laat sidder. Waterkuile word vergiftig om stropery te vergemaklik.

Die afkap van tienduisende veldbome in die Zimbabwiese laeveld bereik ramp-afmetings. Die ekologiese skade is, volgens Piet, ‘n natuurliefhebber, onberekenbaar, en strek oor ‘n nasionale park en minstens twee bewaringsgebiede (conservancies). Hy beskou dit as nog ‘n onheilspellende ontwikkeling in die kaap van grond in Zimbabwe dat beskermde en staatsgrond nou geteiken word.

Die spulletjie lyk vir my uiters kommerwekkend. Ek sien al in my verbeelding hoe Julius Malema en sy kamerade op die Zimbabwiese model hier begin toeslaan op wit eiendom. Myne, fabrieke, wildtuine (selfs die Krugerpark), plantasies, ens. lyk skielik uiters kwesbaar. Net die moontlikheid van so iets, maak, na my oordeel, die Zimbabwiese gebeure vir Suid-Afrikaners geweldig relevant.

Piet stem saam. Hy glo die militante jeug in Suid-Afrika hou ‘n baie fyn oog op Zimbabwe. Kennis van die wandade in Zimbabwe word “gebank” vir moontlike verfyning met die oog op toekomstige gebruik. Die Zimbabwe-situasie kan dus as’t ware gesien word as ‘n “eksperiment-sonder-skade”, ‘n maatstaf van hoe ver/vinnig gegaan kan word indien “nodig”.

Piet meen selfs die “resepteboek” vir huidige verwikkelinge in Zimbabwe word, soos hy dit stel, “geskryf” met hier en daar insette van eie SA oproermakers, en dat van die “resepte” reeds op klein skaal in Suid-Afrika toegepas word. Malema en Kasukwere (Minister van Jeug in Zimbabwe) is glo hand om die lyf.

Mediamense in Suid-Afrika word gereeld oor die verwikkelinge in Zimbabwe ingelig. Die moeilikheid is egter dat Zimbabwe vir ons media nie meer nuus nie – dit is maar ‘n geval van “meer van dieselfde” met ‘n persepsie dat geen oplossing bestaan nie. Die wereld het gewoond geraak aan wat in Zimbabwe gebeur en aangeskuif.

As ek sulke dinge hoor, raak ek net al hoe benouder. Nie nuus nie? Maar Stevie en Janine se goedkoop romansetjie is op die voorblaaie. Ek hoort duidelik op ‘n ander planeet. (HvD)

TROEBADOERE

Hennie Swanepoel toe hy nog ‘n kuifie gehad het

Middag uit Melkbos

Gee die man ‘n Emmy!

So het ek vir een van ons Melkbosse leraars, Hennie Swanepoel, laat weet na sy optrede Sondagaand op Kyknet. Die geleentheid was ‘n bekendstelling van sy nuwe gospel-CD, “Na die Land”. (Hy was ‘n ATKV-wenner en het, in die dae toe hy nog ‘n jong man met ‘n kuif was, ‘n eerste CD “Anderkant” gemaak. Daarna het hy lank in sy dop gekruip.)

Die terug-op-die-toneel-troebadoer het Sondagaand só tuis gelyk voor die kameras asof hy op ‘n Sondagoggend op die kansel staan – met of sonder sy kitaar. Ek het gedink sy vertoning verdien eintlik ‘n Bell’s, maar ‘n man kan mos darem nie vir ‘n dominee ‘n stywe dop whiskey aanbied nie!

Dr. Hennie se “Na die land” kry soveel publisiteit dat ‘n hupstoot op hierdie blog nie boonop nodig is nie. Dit is in elk geval nie die doel van my skrywe nie. Eintlik wil ek spog met ons gemeente en sy TWEE troebadore. Die ander singende dominee (van die drie) is dr. Marius Falck.

Marius Falck – ses CD’s

Marius het ses CD’s op sy kerfstok, maar nie almal is meer beskikbaar nie: “Kersfees vir altyd” (nie meer beskikbaar), “Ek sing van die Lig”, “Die seewind” (nie meer beskikbaar), “Ek glo”, “ Leef in Sy droom” (beskikbaar as DVD) en “Alles is nuut”.

Waar Hennie ‘n “crooner” is, strelend soos Bing Crosby/Perry Como/Dean Martin, sing Marius weer met ‘n forse stem soos Mario Lanza. Sy “Onse Vader” laat my armhare orent staan. En sy “Battle Hymn of the Republic” – dit sleur jou mee.

Marius is landwyd gewild vir “Woord-en-lied”-optredes waar hy met kenmerkende entoesiasme sy Woordverkondiging met sy sang ondersteun. Met hierdie ander soort “noot vir noot” help hy gemeentes hul koffers vul.

Die Falcks is ‘n musiekgesin soos min. Wilna tokkel die klawers dat dit ‘n eer vir die klavier is. Hul dogters, Terina en Madeleen, sing soos engele. As die Falck-susters kragte saamgooi vir “Skipskop”, sal David Kramer nie anders kan nie as om breed te glimlag.

Melkbos se leraars is ‘n driemanskap van gevleueldes: Falck, Swanepoel en … Hanekom. Die Hanekom, dr. Francois, is nie juis ‘n musiek-ou nie, hoewel sy mooi vrou, Riana, die orrel kan laat dreun. Op my gedenkdiens moet sy asseblief “Going Home” uit die Nuwe Wêreldsimfonie uitvoer. Akkoord, Riana?

Francois en Riana Hanekom

Francois laat my dink aan my matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potchefstroom. Ek is vriendelik gevra om liewer nie saam met die ander matrieks ‘n afskeidslied te sing nie, omdat ek die harmonie sou versteur! Francois versteur darem nie die harmonie van die gemeentesang van die kansel af nie, maar ek twyfel of sy kollegas hom sal nooi om ‘n trio te voltooi.

Sy waardevolste bydraes in die gemeente lê duidelik op ander terreine as die sang, soos my eie talente (?) hopelik ook op ander terreine as sang en musiek lê.

Een van die Hanekom-talente is ‘n gulle, eiesoortige humor, wat gereeld van die kansel na vore kom, onder meer in ‘n goedige (soms avontuurlike) gehekel met sy geliefde “Pop” as sy die dag die orrel beman. Die lewenslustige “Pop” is nie een wat haar onbetuig laat nie! Praat lustig terug!

Oor sy sanger-kollegas se musiektalente is Francois positief en ondersteunend. Maar – het hy sy gemeente een aand by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”.

Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..” ‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. (HvD)

TREK OP JOU SOKKIE(S)!

More uit Melkbos

Kragwoorde rol oor Pedro Kruger se lippe in die openingstoneel van die opvoering “Lyf” (as ek die naam reg onthou) terwyl hy spook om met die een of ander langsteel-klou sy sokkie aan sy voet te kry.

Dit is ‘n toneeltjie by die KKNK wat my al jare bybly – ook omdat my neef van die Rand, nie ongewoon aan sterk taal nie, uitermate geskok was oor sulke vloekery op die verhoog.

Eers toe ek hier skuins voor 70 nie meer sonder hulp my regtersokkie kon aankry nie, het ek besef watter frustrasie só ‘n belemmering vir ‘n mens kan wees.

Kruger het in daardie opvoering die rol gespeel van ‘n man wat in ‘n gestremde lyf vasgekeer is, en brand om uit te breek. In my eie geval het my arms bloot “te kort” geraak. Heupverwering en vrot gewigsbeheer het saamgespan om my vir daardie simpel takie van my vrou afhanklik te raak.

Dis maar ‘n komplikasie as huweliksharmonie by geleentheid ietwat versteur is, maar die sokkie moet aan. Dan steek jy jou trots vinnig in jou sak, boeta, en jy roep dringend uit die slaapkamer om hulp.

Op ‘n dag enkele weke gelede kom dit so dat ek vir middagete iewers moet heen terwyl Tokkie afwesig is. In daardie stadium het ek darem al ‘n paar kilo’s afgegooi gehad op my pad na ‘n skraler HvD, en ek neem toe maar vasbeslote stelling in op die bank in die slaapkamer om my eie potjie te probeer krap as’ t ware. Wat anders?

Dit knor maar ek byt vas. Ná ‘n minuut of wat se gespook is die sokkie aan, bra skewerig maar darem. En onthou nou, ek het nie só ‘n knyper-affêring tot my beskikking soos die een waarmee die Pedro-karakter sy ding op die verhoog gedoen het nie.

Tokkie vra nie uit nie en ek rapporteer niks, maar ek wag opgewonde op die eerste beste geleentheid om my onafhanklikheid weer aan ‘n toets te onderwerp. Dit breek die volgende oggend aan. Terwyl my vrou in die kombuis ons “tierpap” (Jungle-hawermout) saamslaan, takel ek die sokkie. Ruk ‘n bietjie, pluk ‘n bietjie, buig die rug, knak die knie – en … woeps … my voet is bedek. (Baie soos die kontorsies van ‘n kameelperd wat sak om water te drink, dag ek stilletjies by myself.)

Tokkie kom loer in vir haar roetine-joppie, en toe sy my só klaar ge-sokkie aantref, is sy die ene lof oor dié prestasie. Heuglike oomblik!

Sedertdien gaan dit al hoe makliker. Ek het amper al vergeet van die sukkelfase, en hoe lank dit geduur het. Maar ek staal my om ‘n terugstorting te vermy. Want om jou eie sokkie te kan aantrek, is ‘n stukkie lewensvreugde waarvan jy nie die waarde kan snap voordat jy dit verloor het nie.

In bepaalde gevalle is herstel ongelukkig nie haalbaar nie – al eet (en drink) jy hoe gedissplineerd. Dit spreek vanself. Maar as herwinning van die vermoë enigsins haalbaar is, gaan voluit daarvoor, is my aanbeveling van harte. Trek jou sokkies op, mater, dis die moeite werd! (HvD)