JOE-HOE, LIEWE OU MESHACK

Meshack, Johan en Novo in Bloemfontein, circa 1990

Naand uit Melkbos

Die tagtiger-dekade was onder meer ook die dekade van Meshack, ‘n ware karakter wat in die Van Deventers se lewe nie net kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens.

Hy was – en dit is nogal nie ‘n algemene kenmerk van tuinmanne nie – geseën met ‘n vrolike humor. Ouma kruie byvoorbeeld met haar loopraam in die motorpad af. Meshack spuit met die tuinslang ‘n paar water-esse voor haar voete. “Wat maak jy nou?” “Ek bring net ‘n bietjie Ouma se spoed,” kom die antwoord blitsvinnig.

Hy was lief om mense byname te gee. Vir Ouma het hy Winnie Mandela genoem. Sy het geprotesteer vir ‘n vale. Ek was, agter my rug darem, Mike Schutte. Het natuurlik geen idée hoekom nie!

Tokkie was sommer net “ou Tokkie”. Kenmerkend van hul onderlinge kommunikasie was dat hulle mekaar geroep het met ‘n uitgerekte: “Joe-hoe.” Amper 14 jaar gelede het ons Meshack gaan soek by die Sentrale Universiteit van Tegnologie waar hy later gaan werk het. Ons is na die Loubsersaal verwys, wat dolleeg was. Toe roep Tokkie: “Joe-hoeee!” Iewers van agter die verhoog kom die antwoord: “Joe-hoeee!”

Hoekom skryf ek vanaand oor Meshack? Wel, Tokkie, laat val nou die dag dat sy dikwels wonder hoe dit met hom gaan. Asof ‘n mikrofoon in ons huis op Melkbos versteek is, kry ons enkele dae later ‘n SMS. “Jy sal nie raai nie!” roep Tokkie uit. Nee wragtig, ek sou nie raai nie.

Meshack SMS: “Gooie naand ou tokkie. meer as 13 jaar sien ek nie vir julle nie. Ek dink altyd van Johan (ons seun) die hond novo (Johan se staffie). Ek mis julle. My naam is Meshack Cadaffie (nog altyd sy ou streke!). Dankie Marisa (Mariza) Johan Hennie Ouma en ander Marisa (ons dogter) en sy tweeling kenders.” Gelukkig verskaf hy ‘n selnommer. Tokkie bel en die ou drade raak opgetel.

Sy herinner hom onder meer aan hoe sy hom Saterdagmiddae in haar geskenkwinkel toegesluit het om skoon te maak. Hy geniet die herinnering.

‘n Eie herinnering is aan ‘n Kaapse Paasnaweek-besoek in 1993 om hom die vreemde wêreld te wys. Waterfront, Tafelberg, Houtbaai – waar was hy nie oral nie? Ek wou destyds by hom weet wat die grootste indruk op hom gemaak het: Dit was die “lughawe van die bote”. Die Waterfront (en hawe) was eenvoudig vir hom ‘n verbysterende belewenis.

Hy was die Sondag saam met ons in Welgemoed se NG kerk. Dit was nogal iets daardie tyd.

Die vrolike Meshack het ook ‘n ernstige streep. Toe al het die bediening hom getrek. Hy was reeds gekwalifiseer om kinders te begrawe. Op pad Kaap toe het Tokkie met hom uit die aard van die saak deur Laingsburg gery. Die groot Paaskruis op die dorp wat tevore onder só ‘n geweldige vloed deurgeloop het, was vir Meshack treffend. Op sy inisiatief is ‘n bus gehuur en het ‘n groep van sy gemeente die volgende jaar vir Paasfees al die pad Laingsburg toe gekom.

Ek hoor hy het ver gevorder op die pastoorsleer – kan deesdae huwelike voltrek en ook volwassenes begrawe.

Goeie ou Meshack. Ek sal nie die geheim verklap van “pastoor Cadaffie” se witleuentjie om by sy ander werkgewer verlof vir die Paasnaweek te kry nie. Dié was Waldie Greyvensten, die oumotor-man.

Op pad terug huis toe, by Drie Susters, druk Meshack hom plat teen ‘n muur en sis vir Tokkie: “Loop verby, loop verby.” Later verduidelik hy sy vreemde optrede. “’Greyvensteyn is hier”. Dit blyk toe hy het nie verlof gevra nie, maar gejok dat hy pampoentjies het. “Bly weg, jy sal my kinders aansteek,” was Waldie se reaksie.

Só het Meshack darem die “lughawe van die bote” te siene gekry (HvD).

BORDJIE BITTERBALLE

More uit Melkbos

Bols en bitterballe het ‘n ruk gelede in hierdie blog ter sprake gekom, en terstond heelwat hoofsaaklik private kommentaar uitgelok, meesal in die kategorie kwinkslae en nie altyd noord van die gordel nie.

Geldige vrae is ook gestel. Hoekom word ‘n bitterbal ‘n bitterbal genoem? Het dit ‘n bitter smaak? Só wou sekere belangstellendes weet.

Laat my eers net weer sê: dat ek uit die Nederlandse stadjie Deventer aan die Ijssel kom, kwalifiseer my nie as kenner van Nederlandse geregte nie. Ek gee my nie as een uit nie. Ik ben een domkop! Maar ek het al die goeters by Nederlandse vriende geproe, hou van die smaak en het, soos alle joernaliste, “gewoonlik betroubare bronne” om my na te wend.

Uit daardie bronne verneem ek die bitter van daardie versnaperinkie het niks met die produk self te make nie, maar met die produkte wat graag saam geniet word.

Waar Nederlanders saamkom vir ‘n skemer-glasie is ‘n “bittertje” buitengewoon gewild. Dié verwys na Hollandse “jenever”, wat – aldus my bronne – nie met die Suid-Afrikaanse jenewer (of “gin”) verwar moet word nie. Die smaak verskil en dit het meer skop.

Saam met jou “bittertje” is ‘n bitterbal – ‘n gebraaide, gekruide vleisballetjie in ‘n bruin korsie, wat jy in ‘n geurige mosterdsousie doop – die aangewese peuselkossie. Ook by jou biertjie is dit allesbehalwe te versmaai.

Die bitterbal kom glo uit die dae van die Bataafse republiek, waarvan my generasie in die vak Geskiedenis geleer het. Die vroue van jagters het die oorskietvleisies saam met brood en water in balletjies geknie, en siedaar: die voorloper van die bitterbal, wat later deur die Spanjaarde verfyn is met die byvoeging van eier en die krummels van roosterbrood om dit ‘n krapperige buitekant te gee.

Vertel ‘n rasegte Nederlander vandag van daardie Spaanse invloed, en hy sal net snork. Wat hom betref, is hierdie “snack der snacks” (die oorspronklike word was glo “schnek”) só “origineel” as kan kom.

In elk geval, in Madrid of Barcelona sal ‘n kroegman seker skeef opkyk as jy bitterballe soek. Maar in Amsterdam of Den Haag (gewis ook in Deventer!) is ‘n bordjie bitterballe die inste van in-dinge saam met jou dop.

Ik heb gezegd. As ek verkeerd “gezegd” het, moet die Hollandse familie tog maar vergewe. Ek had nie ‘n verskuilde agenda nie. My Overijsselse wortels is ná meer as drie eeue nog sterk – en dis nou nie Bols nie! (HvD)

UIT MY BADKAMER

Middag uit Melkbos

Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.

Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.

Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.

Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.

Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.

Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.

In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:

Badkamerskaal

Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn

‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.

Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.

Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)

TOT SIENS, OU GROTES

More uit Melkbos

Olifante in die water; buffels langs die rivier – die twee ou grotes van die Groot Vyf sorg altyd só saam-saam vir ‘n mooi toneel.

Die laaste dag van ons wintervakansie in Sabiepark is ons vir oulaas piekniekplek toe. Almal by hul vuurtjies het hul braaitange neergesit, en kyk, verkyker voor die oë, na die donker lywe langs die Sabie.

Weliswaar was ons ietwat laat vir die groot verbytog van die buffels, maar ons was tog betyds om die kamera uit te pluk.

Die gewese veldwagter Lynn van Rooyen vertel in sy boekie met ‘n olifantnaam wat my nou ontgaan, van sy laaste dag in die Wildtuin. Die bedrywigheid van Olifante langs die Sabierivier het ‘n kollega laat opmerk: “Lynn, hulle kom groet jou.”

Só romantiseer ons mos maar almal die natuur. Wat aan die einde van die vakansie – en veral op die laaste dag – gebeur sien ons graag, in menslike terme, as ‘n persoonlike afskeid.

Ek onthou ‘n keer toe ek en Tokkie net wou ry lughawe toe. Op daardie oomblik gewaar ons “ons” duikertjie Witnek, ook al saliger, by die watergat. Ons het skuldig gevoel om hom alleen aan sy lot oor te laat. “Gee vir hom maar een van my eiertoebroodjies,” het ek Tokkie gebied.

Iemand wat my voorliefde vir eierbroodjies ken, sal weet hoe groot ‘n opoffering dit was!

‘n Keer skud ons vriend Manie Steyn blad om te ry. ‘n Visarend swiep oor Tarlehoet en roep sy klokhelder roep. Ek kon sweer ek hoor “Tot siens, tot siens …”

Toe Eric en Sannie Wiese van die Kaap by die voordeur uitstap, staan ‘n paar sebras rustig by die watergat hul dors en les. “Wat ‘n afskeid,” sê Sannie.

Natuurlik sou die olifante en buffels dieselfde gewaarwording skep. Dis ‘n afskeid. Spesiaal vir die bevoorregte Van Deventers.

“Gegroet is julle ook, julle ou grotes. Tot siens maar nie vaarwel”.

Naskrif: As ek terugdink aan die wintervakansie is die vreemde dalinge van die kwik in die termometer op die stoep nogal ‘n prominente herinnering. Was dit die koudste winter nog in die Laeveld? Ek dink so. Maar eintlik staan die luiperdvangs langs Maroelaan uit (blog, Bloed op die stoeptrappies, 1 Augustus). ‘n Dag voor ons vertrek het ek ook in Jakkalsbessie vlugtig ‘n luiperd gesien. Twee luiperds in Sabiepark in een vakansie? Dit was ‘n eerste. (HvD)

KOMPLIMENTE, KOLLEGAS!

More uit Melkbos

As ek die horlosie 20 jaar kon terugdraai, sou uit die redakteurspen van Die Volksblad drie buigings na kollegas verskyn het op die kennisgewingbord, wat spesiaal deur die uwe in die lewe geroep is om pluimpies uit te deel en doringdraad deur sekere agterente te trek.

Ek sou vir Chris Karsten, kreatiewe hoof van tuiskoerante (destyds), ‘n pronkveer wou gee vir sy benoemings vir twee ATKV-Woordveertjies: die prys vir ¬spanningslektuur én die grote, die ATKV-prosaprys.

Toe ek lees “’n reeksmoordenaar met ’n ding vir sagte, maagdelike, vroulike vel het vir Chris Karsten die Woordveertjiebenoemings in die sak gebring”, het ek dadelik gedink: “Ja-nee, dis onse Chris”. Tipies ‘n tema waarmee die amper inkennige seun van Morgenzon sou kon woeker!

Stille waters, diepe grond …

Chris is die enigste skrywer wat in twee kategorieë benoem is. Die benoemings is vir Abel se ontwaking, die eerste aflewering in sy trilogie oor die reeksmoordenaar Abel Lotz. Abel se lot het onlangs by Human & Rousseau verskyn.

‘n Pronkveer sou ook gaan aan die jong verslaggewer Deon Meyer, ’n naam wat daardie tyd op Die Volksblad se voorblad geboer het soos vandag in die wêreld se boekwinkels, danksy sy slag om ‘n ding raak te sê en ‘n storie te vertel.

Deon Meyer, in wie se toonkaste, al hoeveel internasionale pryse pryk, het hierdie soveelste benoeming te danke aan sy nuwe boek Spoor (ook Human & Roussseau).

Ek sal op 9 September wanneer die wenners op Nooitgedacht buite Stellenbosch aangekondig word, hier op Melkbos duim vashou vir daardie twee top-oud-kollegas en my ook so ‘n stukkie trots laat welgeval oor die klein bydraetjie wat HvD se kommentare van destyds – nie altyd net lof nie! – dalk bygedra het om hul talente te laat blom.

‘n Derde pronkveer sou ek wou uitdeel aan die uitblinker-verslaggeefster Henriette Anderson (nou Henriette Loubser), wat in die joernalistiek soos ‘n sweefstokarties van hoë baken tot hoë baken sweef. Nadat sy as groentjie by Die Volksblad gou haar merk gemaak het, was sy onder meer nuusredakteur van Huisgenoot en senior-assistentredakteur van Sarie. Nou word sy adjunk-redakteur van Die Burger, vlagskip-dagblad van Media24.

Dis ‘n groot uitdaging wat sy aandurf, maar ek ken Henriëtte se staal – en sy kom darem ook ‘n uit ‘n “fabriek” wat vir die Pers groot kanonne opgelewer het. Geluk, Henriëtte, en voorspoed – ek gaan jou stempel soek as ek soggens my Burger by die voorhekkie optel (of, liewer, as Tokkie dit vir my bed toe bring!)

Onthou net die ou man se leuse: nuus, nuus, nuus – dis die hartklop van ‘n koerant!

Naskrif: Nog ‘n Volksbladder, Jaco Jacobs, word deur die ATKV vir jeuglektuur bekroon. Ek sal darem nie só voorbarig wees om vir my eer op te eis nie. Jaco het ná my tyd daar aangekom. Nietemin ….. (HvD)

FEESGROET VIR ‘N FEESVROU


Wyle Ema Strydom by my 70ste. Die mense by haar is oud-Bloemfonteiners Johan en Zandra van Wyk en Herman le Roux.

More uit Melkbos

Begrafnisse kom onvermydelik meer in jou lewe voor namate jy ouer word. Van die gaste by my 70ste wat op 8 Januarie gevier is, is twee nou al te ruste gelê: Esbé Krynauw van Melkbos en Ema Strydom van Welgemoed, wat op Vrouedag skielik dood is.

Die gedenkdiens vir Ema Donderdag in die NG kerk Welgemoed, en alles daaromheen, bevestig die indruk wat ek toenemend kry: dat ‘n byderwetse element die moderne begrafnis, om die modewoord te gebruik, nogal sterk getransformeer het.

Humor kry al hoe groter plek in die verrigtinge. Jy hoor beslis meer proeslaggies as gedempte snikke, soos die viering van die lewe van die oorledene toenemend sterker beklemtoning kry. Hartseer wyk nie, maar dis ‘n getemperde hartseer. Somberheid en rou is meer op die agtergrond.

Ema is, in die woorde van ds. Heerden van Niekerk, gedenk as fees-mens. Een wat vrolikheid en feestelikheid in ander se lewens gebring het. Ook een wat die feestelikheid van die Here se ryke voorsiening in haar eie lewe ervaar het. Sy teksvers was uit Psalm 23: “U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teenstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid” (vers 5).

Uitstekende keuse! En het die welsprekende dominee nie reg aan sy onderwerp laat geskied nie!

Toe volg ‘n huldeblyk deur die dogter, Uvain, wat agterna deur ds. Heerden as “besonders” getipeer is. Ek dink sy woordkeuse was in hierdie opsig konserwatief. Eintlik was dit ‘n kragtoer waarin sy, ook met ‘n goeie skeut humor, haar ma se lewe en eienskappe aan die hand van ‘n indrukwekkende reeks tekste uit ‘n tiental Bybelboeke uitgelig het.

Ek het vir albei loop sê: Die diens was ook ‘n fees van welsprekendheid.

Ná die diens het ons verdaag na die huis van dogter Corli,en haar man, Leon, waar Ema ook gelukkig gewoon het: eers, ná hul skuif uit Bloemfontein, saam met haar man, Steve, Vrystaat se Mnr. Rugby vir baie jare, en ná sy dood alleen. Ons was terug op die toneel van vele feestelike byeenkomste. Een daarvan, Ema en Corli se gesamentlike Kersfees-fees, was beroemd weens sy kreunende tafels met elke denkbare lekkerny en genoeg van alles om die vriendinne (dié okkasie was streng net vir vroue, hoor!) lank en vrolik te laat kuier.

Die feestelikheid van Ema se gedenkdiens het nou nuwe hoogtes bereik – ver, ver verwyder van die tradisonele tee en toebroodjies deur die susters voorgesit. Die gasheer, Leon en Joubert, seun van Ema, het die beste wyne geskink. Die vonkelwyn se proppe het geskiet. Skottels keurige kos het hul verskyning gemaak.

Oor die omvang van geregte sal ‘n kulinêre ongeletterde soos die uwe liefs swyg. Ek weet egter daar was salm en garnale, ook gekerfde biltong, bobotie toegevou in deeg, skaapboud, gebakte vark en … wag daarvoor … skaapstertjies, wat, soos verwag kon word, gevlieg het.

In die braaiplek het ‘n vuurtjie gesellig geknetter. Ema sou tevrede geglimlag het as sy kon sien en hoor HOE die Kapenaars van haar afskeid neem. More is dit die Vrystaters se beurt by Grey in Bloemfontein, waar Steve se as ook in die muur van herhinnering geplaas is.

Om ‘n kragwoord te gebruik rakende ‘n gedenkdiens is seker onvanpas. Oor die Ema-fees by Kommissaristraat 154, Welgemoed, Donderdag sou dit nie onvanpas wees nie om entoesiasties uit te roep: “Bliksem!”

Herman le Roux, jarelange vriend, wat van Randburg Bloemfontein toe gaan ry, is nogal lief vir die woord. Ek is seker die word “bliksem!” gaan stilletjies oor sy lippe rol. Baie ander sal die sentiment beaam, moontlik darem met ‘n stemmiger woord. (HvD)