DIT KOM VAN VER AF

Nigeriese jollofrys

Poolse mazurek

More uit Melkbos

Toe ons instap in die eetsaal, klink ‘n geroffel op dat jy vir ‘n oomblik dink jy is iewers diep in die bos. Wat jy in Sabiepark saans op die oostewindjie van die Protea Hotel Krugerhek se kant af hoor, is maar eina teen die vier manne in hul Afrika-tunieke se energieke aanslag op die tromme.

Maar jy’s nie in die bos nie, wel in die uiters stedelike Kaapstadse Konferensiesentrum, en boonop in die Dakterras met sy panoramiese uitsig oor die stad en Tafelberg. Die okkasie is die tradisionele middagete ná Naspers se jaarvergadering, en hierdie ou maatskappy van my sit vandag sy “ander been” se voet voor in die keuse van kos, musiek en vermaak.

Dit raak ekoties, boeta, met onder meer ‘n Afrika-weergawe van die walstoneel uit Tsjaikofski se Swanemeer deur vier vlinderagtige ballerinatjies in kleurryke kostuums – die enetjie ‘n natuurlike gistswart swaantjie, ‘n ander enetjie se netjiese lyfie hier en daar met ‘n bruin lyfverfie geraps. Tweetjies trippeltrap die Afrika-stappies in ‘n spierwitte vel.

Die nuwe generasie “executives” het hul hiper-byderwetse Blackberry’s uit en vat net uit elke hoek so sit-sit korrel om uit die beste hoek foto’s van die fyn meisiekindertjies op die punt van hul toontjies te neem.

Die hoofgereg is ook ex Africa, en jy moet saamstem, as jy jou Latyn so ietwat kan “opmieks”: ex Africa semper aliquid ‘lekka’. Die Nigeriese jollofrys – ‘n geurige rysgereg – met goed gekruide hoenderboudjies en gebraaide plantain (piesang) smaak werklik vorentoe.

Nie dat daar fout met die Russiese sop was nie! Hierdie ou dag die Russe eet net koolsop (waarvan ek, nog in die onheuglike tyd van Gorbatsjof, genoeg in Moskou gekry het), maar hierdie Russiese borsjt (heilsame, warm beetsop) is van daardie koolsop (met blare en al) maar baie verlangse familie.

Die nagereg is Pools – ‘n plat koek met ‘n bolaag van marsepein, ingelegde vrugte en neute. Poolse mazurek, roep hulle dit. Nou ja, van soetgoed bly ek deesdae maar ver weg weens die impak op die skaal. Maar wie sê nou nee vir ‘n verleidelike stukkie Poolse “mazurek” (darem kleinerig), veral as jy al ‘n glasie of drie van die beste Suid-Afrikaanse sauvignon blanc agter die blad het.

Maar jy kan mos nie vir die wyn neus optrek nie – jy moet darem trots Suid-Afrikaans ook wees of hoe? (HvD)

DUISEND DAE LANGS DIE SABIE

More uit Melkbos

Duisend dae langs die Sabie is in die stiebeuels vir die laaste tog na die drukkers. Behoort vroeg in die lentemaand September op die rak te wees. Hiermee ‘n stukkie reklame (plus foto’s uit die boek) vir die wis en die onwis. Ek veroorloof my die onbeskeidenheid om dit op my blog te sit. Slaan tog maar oor as jy dit goor vind:

Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. In sy nuwe bosboek wat eersdaags verskyn, doen Hennie van Deventer, immer die joernalis, boeiend uit die Krugerwildtuin en sy hinterland verslag.

Daardie is sy hartswêreld, waar elke dag, elke ervaring, vir hom salig is. Hy vier in sy boek “duisend dae” se saligheid. “Duisend dae langs die Sabie” is geen chronologiese, dagboek-agtige terugblik nie. ‘n Volledige bos-belewenis word gebied, oorgedra met al die passie, deernis, insig en humor wat die skrywer se liefde vir die natuur deurspek.

Kuier ‘n hond uit ‘n bos met “Duisend dae”. Kry ook lughartige antwoorde op vrae soos dié:
• Hoekom kan ‘n hiëna Helena, Wena of Plassie-dou heet?
• Waarom beskuldig die skrywer seekoeie van hippo-konders?
• Waarom laat ‘n rooibokram hom nederig voel?
• Wat alles kan in die bos uit ‘n tuinslang, skoenveter of twee teelepels koffiepoeier getower word?

Maak kennis met boskarakters soos lekkerbek-Witnek, Langtand, Wille Truitjie die wille bruidjie, Koedoelief die pitjiedief, ‘n Kersvader met kolle, ‘n oorgewig lid van die Bos-joi-ballet en ‘n slakformaat-Goliat. Lag saam, pink saam ‘n traan weg.

U sal (hopelik!) saamstem: “Duisend dae” is ‘n natuurboek duisend. (HvD)

NAG IN DIE HOSPITAAL

Slaapkliniek – nag twee

Slaapkliniek – nag een

More uit Melkbos

Een van die byvoordele van ‘n slaapmasker (“snorkel”) wat ek nou gaan verbeur, is die potensiële afskrikwaarde vir nagtelike besoekers met onheilige motiewe. Oningewydes kan hulle bepaald boeglam skrik as hulle skielik in die nagdonkerte deur die gedrogtelike voorkoms van ‘n slaper met dié blasende toestel op sy gesig gekonfronteer word.

Nie dat ek oor dié verlies lang trane huil nie. Maar beter om deur paniekknoppies, alarms, trellidors en ander konvensionele simbole van sekuriteit gefortifiseer te wees as om die res van jou lewe snags, by wyse van spreke, in jou “ruimtepakkie” te klim.

Toe die beslissing op mediese gronde val dat die uwe regtig nie daardie hulpmiddel nodig het om sy (heel beskaafde) snorkery te beheer en sy (nogal hortende) asemhaling egaliger te maak nie, was hy, trouens, buitengewoon verlig.

Ná twee nagte in die slaapkliniek by die Milnerton Medi-Clinic – die eerste die ene draadwerk en die tweede met my “snorkel” stewig op my neus – verkies ek verreweg die status quo. Selfs my huidige ontwrigtende slaappatroon van o.m. 03:00 wawyd wakker skrik, lyk skielik heel aanvaarbaar.

Met die masjien sou ek seker mettertyd beter regkom, en doller as kop-af dit kan tog nie. Maar van daardie twee nagte het ek nie juis dié klas herinneringe wat ‘n mens dromerig of sentimenteel stem nie. Allerlei eksterne faktore het ‘n bydrae gelewer.

Oor die klokkies het ek in die vorige blog geskryf. Die aanhoudende gelui het my half filosofies gestem.(Lees ook: Klokkies in die nag.) Op twee ander het ek allesbehalwe filosofies gereageer.

Van die eerste nag onthou ek by die ongemak van die dradenetwerk van my kop en lyf af rekenaar toe veral ook die ongemak van die sogenaamde “bottel” vir bepaalde aktiwiteite wat neig om met die ouderdom saam toe te neem. Om die “bottel” in posisie te hou sonder om die draadwerk te ontwrig, verg allerlei kontorsies.

Maar dis die neersit van die bottel op die grond wat nie in elke man se broek sit nie. Myne het ek omgedop, tuit na benede. Die volgende oggend was die mat die ene piepiekristalletjies. Die verpleegster, bedagsame meisie, het gemaak of sy dit nie raaksien nie.

Van die tweede nag onthou ek met buitengewone helderheid die onhebbelike snorkvolume van ‘n broeder in verdrukking in ‘n slaap-hokkie langs myne. Hy het die nag deur om die beurt geroggel, geknor en gesaag soos ek laas onthou van wyle Roef Jacobs van die SAUK – “Otterjasie” van die kinderprogramme – op ‘n weermagtoertjie grens toe in ‘n tent langs die Zambezi tydens die Bosoorlog. Ons ander het op ‘n streep uit die tent getou, kussing onder die arm om elders sielerus te probeer vind.

Ek glo daardie Roelf Jacobs-kloon is ‘n uitgeknipte masjien-kandidaat. Hoop dit help, maat!

‘n Stukkie advies wat ek graag met aspirant-hospitaalpasiënte deel, is om tog maar dop te hou as brekfis bedien word. Die graankossies se bord is om die een of ander rede met ‘n deursigtige stuk sellofaan bedek. As jy argeloos jou melk skink, is die hele wêreld om jou papnat.

Wie weet hoeveel inspanning dit vat om jou liggaaam onder daardie skuiftafel-affêrinkie oor die bed uit te wurm om in die badkamer toiletpapier te gaan soek vir die Groot Skoonmaak? ‘n Mens se knieë foeter al om die hele brekfissie op die bed om te keer – of minstens die melk, soos ek tot my stygende ergernis en verleentheid reggekry het om te doen. Ai tog, toe het twee keer soveel papier nodig. (HvD)

KLOKKIES IN DIE NAG

Middag uit Melkbos

Klokkies lui aaneen in onder andere André Rieu-hulle se orkes-weergawe van daardie aangrypende Russiese volksliedjie “Odnozvuchno gremit kolokolchik” (“Eentonig lui die klokkie”).

Eintlik is dit ‘n lied vir ‘n mannekoor – die Russiese weermagkoor lewer daarmee ‘n kragvertoning – maar Ivan Rebroff gee ‘n mens self ook hoendervel as hy “Klokkie” (terloops, vir Afrikaans gegaps onder die titel Liefste Madelein) met sy diep stem aanhef.

Oor “Eentonig lui die klokkie” sou iemand ‘n blog uit eie reg kon skryf – dis ongetwyfeld die mooiste Russiese volksliedjie (vir my), en daar is baie mense wat glo dis die mooiste melodie van enige volkslied in enige taal. Die lirieke handel oor die wiele van ‘n perdekoets wat oor die eindelose Siberiese steppe voortrol; die koetsier het eers ‘n liedjie gesing, maar het stil geword en nou is dit net die klokkie wat lui, lui, lui.

“Oh, how lonely the coach bell is ringing
As it swings in the night to and fro.
And my coachman has now fallen silent,
And I still have a long way to go …”

My tema is egter nie die liedjie, dis ‘n nag in die hospitaal, gekoppel aan ‘n slaapapnee-masjien, wat in ‘n stadium na my voorland gelyk het. Dis maar ‘n vreemde manier van slaap vir ‘n oningewyde, só met ‘n “snorkel” op jou neus. Ek was heelwat wakker. In my wakker tye het ek die klokkies hoor lui, lui, lui.

Soos ‘n perdekoets s’n op die uitgestrekte Russiese grasvlaktes.

Die titel van “Eentonig lui die klokkie” (“Monotonously rings the little bell “ op Engels) het by my opgekom terwyl ek Woensdagnag lê en wonder watter individuele nood agter elke lui skuil – dalk erge pyn, eensaamheid, verveeldheid? ‘n Mens kan jou verbeelding vrye teuels gee.

Soos op ‘n voortrollende perdekoets in die nagstilte.

Ek het aan ‘n ander hospitaalnag lê en dink: langs my pa (Tony Malan) se sterfbed in die kankersaal van die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria. Waar ek by hom waak, het ek sy hortende asemhaling gehoor. Ook die asemhaling van die ander pasiënte, almal doodsiek.

Vroeër het ek ook “U Eie Keuse” gehoor oor die radio langs die bed van die man in die verste hoek van Pa Malan af. Die aanbieder was toe nog Robert Young. Die musiek was gekies asof die aanbieder geweet het van die eensame stryd van ‘n 12-tal kankerlyers in die geslotenheid van ‘n hospitaalsaal op die hoeveelste verdieping van ‘n onpersoonlike hospitaal. Dit was een hemelse lied op die ander.

Later het Robert Young (die koetsier?) se stem stil geword. Die radio is met ‘n klik afgeskakel. Buiten die onrustige asemhaling was die enigste geluide dié van die verpleegsters se voetstappe en natuurlik die klokkies wat lui, lui, lui.

Pa se klokkie het nooit gelui nie. Hy was nie meer in staat om die knoppie te druk nie. Of hy graag sou wou, weet ek nie. Of hy die ander klokkies, enige geluide, nog dofweg kon hoor, weet ek ook nie. Maar hier in die Milnerton Medi-Clinic onthou ek elke klokkie se dringende lui van daardie nag skielik weer met ‘n koue rilling langs my ruggraat af. Die klokkie … dan voetstappe … dan ‘n fluistergesprekkie by ‘n bed.

Het daardie gesprekkies troos gebring? Het dit hoop gebring? Het Woensdagnag s’n troos of hoop gebring in al die kamers rondom my waar ek in bed nommer een lê en wens ek het die wekker met sy verligte wysers saamgebring om te kan sien hoe eindeloos ver die nag nog strek?

‘n Mens sal nie regtig weet voordat die vinger wat daardie klokkie se knoppie druk jou eie is nie né! Maar wag nou, wag nou. Voordat ek oor oor sulke somber dinge begin tob, luister ek liewer weer na “Odnozvuchno gremit kolokolchik”. Sy “eentonige klokkies” voer jou ten minste mee, wek nie kwelvrae nie.

Die eerste klokhelder note klink op, en ek maak my klaar om my met vreugdevolle oorgawe aan dié verruklike musiek uit die verre Rusland te verlustig. Tot wederom. (HvD)

TOT SIENS, HARTGOED

More uit Melkbos

‘n Vriend begin moeisaam oppak om sy huis vir ‘n woonstel te verruil. Hy loop die paadjie wat vele ander voor hom moes stap en vele ná hom nog sal moet stap. Dis ‘n eensame, harde paadjie wat veral op die terrein van emosies pynlike eise stel.

Hy beleef dit ekstra swaar, want in sy huis is ‘n duisternis versamelaarstukke, skilderye, foto’s, sertifikate, boeke, tydskrifte en wat nog van enorme sentimentele en historiese waarde wat hy en sy vrou van langer as ‘n halfeeu byeengebring het. Die huis is ‘n “museum van hul lewe” wat hy nou tot niet moet maak.

Ook die materiële waarde van baie hartsgoed waarvan hy moet afskeid neem, is nie te versmaai nie. In hierdie stadium van sy lewe waar hy alleen hierdie steil bult moet klim – sy vrou is vroeër vanjaar skielik oorlede – is materiële waarde egter sekondêr.

Wat wel dreig om hom onder te kry, is sy opgeskeeptheid met soveel wat deur sy lewe aan dié gelukkige egpaar hul identiteit gegee het.

Die ergste is dat hy werklik nie herwaarts of derwaarts weet met daardie “erfgoedere” wat normaalweg via die takke van die familieboom na volgende generasies versprei word nie. In Suid-Afrika is geen kinders of kleinkinders meer nie. Om oor die water te begin uitdeel, is nie ‘n haalbare opsie nie.

“Ai,” sê hy hulpeloos en kopskuddend, “hier hang Oupa en my oupa se oupa. Wat tog moet van my goed word?’ Hy lag maar dis nie ‘n opgeruimde lag nie. Hy vra daardie vraag nie soos iemand wat ‘n antwoord verwag nie. Hy weet jy weet nog minder. Hy weet jy sien in hom en sy penarie ‘n prototipe van jouself. “There for the grace of God goes I.”

Ek kyk ongemaklik om my rond in my eie huis, en ek begin ook ys oor die swaar dae wat sal aanbreek as ‘n laaste aardse verhuising onvermydelik sou word, hetsy saam of alleen (tog net nie dit nie!). In my geval is daar kinders wat hulle ten minste dan vir tydelike troos kan ontferm oor dinge wat die gryse ou vader en moeder na aan die hart lê. Maar wat sal werklik iets vir hulle beteken en wat nie?

Op die foto hierbo is ‘n lokomotief-fluit gemonteer op ‘n swaar stuk spoorstut, ‘n “sleeper” van duursame hout uit die ou Rhodesië. Dis ‘n geskenk van die joviale Johan Uys wat twee dekades gelede Spoorwegbaas in Bloemfontein was. Ek heg daaraan groot waarde. Dit word uitgestal op ‘n stewige hout-muurrak (vervaardig deur die knap Dick Turpin van Melkbos) onder meer saam met ‘n replika van die Hennie van Deventer-trofee uit stinkhout waarom knap jong redaksielede by my ou koerant, DieVolksblad (nou net Volksblad), meeding. Dié beeldjie deur Laura Rautenbach is in die vorm van ‘n opgerolde koerant.

Tokkie besef die Johan Uys-geskenk is deel van my “hartsgoed”. Sy sien toe dat die koper mooi blink en dat die skurwe hout nie ‘n versamelplek van stof en ander onsuiwerhede in die lug word nie.

Vir my is die lokomotief-fluit ‘n soewenier van ‘n gawe vriendskap in ‘n goue era in Bloemfontein. Dit is ook ‘n simbool van vergange tye. Ek dink almal behoort die waarde te besef en dit te begeer. Maar dit is eintlik die ontnugterende: mense het geen benul wat dit is nie. ‘n Jong moeder is dronkgeslaan. ‘n Malawiese jong man, algemene nuts- en tuinman in ons buurt, lag net oor die snaakse ding. ‘n Tydgenoot kom die naaste: “Iets met ‘n trein te doen raai ek.”
Baie goed wat vir mense waardevol was, beland op die ashoop. Gaan my fluit op ‘n ashoop beland, ongereken en deur almal misken, soos Doris Brasch se lappop? Gaan iemand, soos ’n Tokkie, die koper laat poets ?

Ek wil nie nou al lysies begin maak wat waarheen moet/sal/kan gaan nie , en waarmee ek nie raad weet nie. Dit sou prematuur wees.

Of sou dit? (HvD)

HOF MET MELKTANDJIES

Naand uit Melkbos

‘n Hof met melktandjies. Ja, ongelukkig het die Hof vir Kleineise nie staaltande nie. Ek het pas ‘n ontnugterende ervaring met dié regsprekende liggaam van die gewone man agter die rug. Sal regtig nie weer die moeite doen nie.

Vir eers het die hof (op George) toegelaat dat die ander party as ‘t ware, soos die Engelse dit mooi stel, met moord wegkom. Ten tweede was sy kommunikasie met die klaers bra lamlendig.

Die eis gaan oor verbloemde gebreke aan ‘n eiendom. Ná besitname blyk dit ‘n stuk dak het ‘n chroniese lek. Die water skop die woonvertrek se muuproppe uit. Ten tweede is die elektriese veiligheidshek weens lang onbruik – terwyl die plek leeg gestaan het – reddeloos buite aksie. (‘n Sogenaamde elektrisiteits-sertifikaat is uitgereik maar was ‘n ronde nul werd.)

‘n Paar duisend rand moes opgedok word om die “foutjies” te herstel. Die verkoper trek haar skouers op en maak lang stories al is sy skuldig soos more heeldag.

Ons besluit om ons skade by die Hof vir Kleineise te probeer verhaal. Prosedure verg dat ons vir haar ‘n aanmaning stuur. Dit doen ons per geregistreerde pos. Die koevert kom ongeopen terug: “Refused”. Sy’t seker snuf in die neus gekry.

‘n Lang geredekawel ontstaan nou met die hof oor hoe om haar gedagvaar te kry. Jammer, ons moet daarvoor van Melkbos George toe ry, word ons meegedeel. Uiteindelik sink die boodskap in dat dit bra onrealisties is. ‘n Dagvaarding word toe uitgereik op grond van dokumente wat heen-en-weer gekoerier word. Dank jou die duiwel.

‘n Hofdatum word bepaal – sewe weke vooruit. Twee dae voordat ons sou George toe ry vir die geding, doen ons darem net by die hof navraag of die wiele nog rol. Nee, verneem ons, die verweerder sit in Kanada. Sy het uitstel gevra tot Desember.

In daardie stadium was huisvesting al in George bespreek, ons wintervakansie verkort en ‘n operasiedatum só bepaal dat dit, en die lang “rehabilitasiefase” vir die betrokke chirurgie, die hofverrigtinge kan akkommodeer. Maar ons word niks laat weet nie van die verweerder se jakkalsdraaie nie. Dis ons indaba.

Ons maak kapsie dat ons boonop verniet George toe sou gery het as ons nie die insiatief sou geneem het om navraag te doen nie. Wat van die reis- en verblyfkoste? Die skouerophalende antwoord is: “Dit is irrelevant.”

Intussen verskyn in ‘n koerant ‘n artikel met allerlei onthutsende inligting. Jy moet “deskundige” getuies in persoon saambring hof toe – beëdigde verklarings is onvoldoende, word gewaarsku. Ten tweede: in die geval van ‘n onwillige verweerder moet jy maar self sien en kom klaar om die geld uit hom/haar te wurg. As ‘n hofbevel uitgereik is, was die hof sy hande.

Ek vra met trane in my ysblou oge: “Hoe kry jy ‘n ‘deskundige getuie’ by die hof as hy/sy nie gedagvaar word nie? Ek vra ook: het die hof ‘n benul hoe vinnig regskoste kan opstapel as jy uit jou sak moet begin regstappe doen ten einde ‘n hofbevel af te dwing?

Terwyl die uwe wag dat die wondersoete slaap (D.F. Malherbe) saggies neerdaal, besef ek skielik in die nagtelike ure: ek ry hier ‘n dooie perd. Dit gaan my geld kos – dalk baie geld – sonder dat ek uiteindelik iets vir my moeite sal kan wys. Boonop gaan ek bars van frustrasie, terwyl die steeks verweerder in Kanada (of waar ook al) al die pad bank toe lag.

Net een rasionele ding bly oor: vee die hele besigheid onder die mat. Vat jou skade soos ‘n man. Trek jou eis formeel terug. Aanvaar dit as ‘n lewensles. Dit is presies wat ek toe doen.

Het die Hof vir Kleineise regtig bestaansreg as hy so funksioneer (of eerder: nie funksioneer nie?) (HvD)