‘OU WILDTUIN’ – ‘N DROOM VERVUL

Toonbeeld van rustigheid

Middag uit Sabiepark

KORT ná ‘n droomvakansie in die verre Suid-Afrikaanse wildernis begin ‘n Amerikaanse vrou blind word. Haar besorgde man wil haar vir oulaas iets laat beleef wat in haar geheue ingeprent sal bly nadat die Groot Donker toegesak het. Haar begeerte is om terug te keer na die Kruger-Wildtuin wat diep in haar hart gekruip het. Haar tweede wens is om op die herbesoek leeus te sien. Die koning van die diereryk het hulle die vorige keer ontwyk.

Balule-en-suite

Die Amerikaners tref ylings reëlings, vlieg na Suid-Afrika en kom laatmiddag in die Pretoriuskopkamp aan. Hul gids vertel vir die beamptes haar aangrypende verhaal. “Julle is gelukkig,” laat ‘n veldwagter hoor, “’n trop leeus lê net ‘n paar kilometer hiervandaan op die teerpad.” Haar droom was vervul.

‘n Eie Wildtuindroom is op Dinsdagaand 20 Julie 2011 vervul. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf in die klein ruskampie Balule, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n lank gekoesterde wens. Die betowering van Balule is beslis nie onbekend aan ander Wildtuin-tradisionaliste nie!

Enige datum in Julie. Dit was my versoek in April aan die besprekingsbeampte in Skukuza. Op 20 Julie is een van die ses – net ses – rondaweltjies toe gelukkig beskikbaar. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.

Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy (net Engelse) reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.

Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.

Anderkant ‘n draadheining is vyftien kampeerplekke, ewe gewild by ‘n vaste klandisie, van wie baie al saam met hul ouers in Balule kom kamp het toe enorme ou “karavane” agter kragtige Amerikaanse Fords, Chevs, Buicks, Pontiacs en Dodges nog die in-ding was. Tente was doodgewone khaki-weermag-eksemplare. Vandag is dit net duur 4 x 4’s en ontwerperstente oral.

Nêrens in Balule is elektrisiteit nie. In sy hutte sal jy lank soek as jy, soos ‘n nuwe generasie, jou mikrogolfoond, ysmasjien of groentestomer wil inprop. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.

Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die dak wat, op sy beurt, só laag is dat jy gemaklik met een hand op die deurknop en die ander op die dekgras kan staan.

Die vrieskaste en stowe in die ruim gemeenskaplike kombuis is aan gasbottels gekoppel. ‘n Reuseketel op ‘n gasplaat sorg vir genoeg kookwater vir almal.

Ek was nooit ‘n kampeermens nie, maar begrippe soos “rudimentêr”, “stoer” en “outentiek” vind by my sterk aanklank. Dit herinner aan die “ou Wildtuin” wat ek as kind leer ken en as jong volwassene leer lief kry het: ‘n aardse plek – hoe nader aan die aarde des te beter – en waarlik ‘n natuurtuin – hoe nader aan die natuur des te beter. Dit is immers tog die magnete wat ‘n mens keer op keer Wildtuin toe lok, en nie vyfster-geriewe, eksotiese geregte of oorgeorganiseerde programme nie.

Maar kyk, nou praat ons werklik van toeka, lank voor die hoogwaterbrug oor die Sabierivier veertig jaar gelede, in 1972, gebou en die bekende Paul Krugerhek op 21 Maart 1973 geopen is. (Coert Steynberg het sy granietbeeld van die bebaarde ou “vader van die Wildtuin” in 1976 by dié hek staan gemaak.)

Vir ons was die poort tot die Wildtuin toe nog die Numbihek, naby Pretoriuskop, met sy naam teen ‘n hardekoolstomp en ‘n karaktervolle grasdak-rondawel-kantoortjie, wat jou dadelik laat voel het jy is nou in die Wildtuin, anders as deesdae se lelike Chinese pagoda-goeters. Hekwagte met kortbroeke, langkouse en opslaanhoede het jou met ‘n flinke saluut verwelkom.

Op pad na Skukuza is by die “Hippopoel” in Sabierivier stilgehou vir ‘n toebroodjie en koffie uit die padkosmandjie – dalk ‘n koue frikkadel en gekookte eier. Gewapende swart wagte het die insittendes van een stowwerige motor na die ander na die rivieroewer vergesel terwyl die seekoeie snork.
Jou rondawel se deur is nooit gesluit nie. Trouens, die bestaan van sleutels was in die Wildtuin onbekend. Die beddens was staaldivans. Beddegoed is op tweewiel-trollies afgelewer, soos dié wat stasieportiere gebruik het. Dit is al lank vervang met gholfkarretjies, selfs 4 x 4’s.

Grasperke was asof gemanikuur, en is dwarsdeur die dag met dik strale rivierwater besproei. Welige tuine was ‘n lushof, en in elegante, koloniale restaurants het kelners met wit baadjies en wit kepse tradisionele viergang-maaltye bedien.

Van 04:00 soggens kon jy lê en luister hoe die personeel die koolstowe begin stook vir warm water vir die toeriste se eerste koppie boeretroos sodra hulle ontwaak. Die reuk van houtvure en antrasiet het in die lug gehang. Dit was voor die tyd van kombuisies in elke rondawel. Gespikkel in die kamp was enkele gemeenskaplike kombuise, soos die ene in Balule. Saans het die kampvuurtjies by haas elke rondawel in ‘n gesellige kring geflikker. Nou word oop vure al hoe minder.

By piekniekplekke soos Tshokwane het hardekoolstompe heeldag gegloei. As jy kole nodig het, kon jy na hartelus met langsteelgrawe kom skep. Roomys op Onder-Sabie se stoep (voordat die dek gebou is) was ‘n heerlikheid waarna uitgesien is van die oomblik dat die vakansie aangebreek het.

Vir almal wat smag na die herbelewing van sulke toeka se dinge, kan ek Balule – die oorspronklike Olifantskamp – van harte aanbeveel. Mense wat verlang om gepamperlang te word, bly egter weg!

As jy Balule toe wil mik, en gelukkig genoeg is om plek te kry, moet jy jou in Satara of Olifants gaan aanmeld. Dáár ontvang jy jou beddegoed-papiertjie (ja, werklik, nes in die ou dae!). Met daardie klein dokumentjie in die hand, begin jou avontuur: ‘n sentimentele geestesreis die verlede in. Só kan ook jou Wildtuin-droom bewaarheid word. (HvD)

HAAI, WAT VAN ONS?

Middag uit Sabiepark

“Haai, moenie van ons vergeet nie!” Amper as ‘n soort verwytende naskrif by die vorige blog oor die sebras en koedoes as stemmingskeppers by Sabieparkse aandetes, is die “lugverkeer” by Tarlehoet skielik weer op sy lewendigste.

Die bosnagape, wat sommer drie in ’n bondel, op die piesangtafel toesak, en die nagapies wat uit alle oorde stroom, dreun mekaar elke skemer behoorlik op. Tokkie moes gisteraand ingryp. Sy het die kerfies piesang met die oggend se “Star” bedek om ‘n oorhaastige ou grote uit te oorlê. Vir die kleintjies – steeds haar gunstelinge – is daarna wegsteek-stukkies op die etenstafel voorgesit.

Eersgenoemde was eers uit die veld geslaan. Maar hy het die gou die lekkernye onder die papier uitgesnuffel. Laasgenoemde het ewe vinnig agter die kap van die byl gekom, en met verstommende waagmoed van die skoorsteen op ‘n stoepstoel se leuning en van die leuning tussen ons op die tafel gespring om sy piesang op te eis.

‘n Dertigstuks of meer gebande muishondjies het skemer Sondag opgewonde om die huis gewoerts, en die voëlbad as ‘n bron van skoon drinkwater ontdek.

Sebras wat kom water soek, en gulsige vlakvarke boer hier. Jacob en Thomas sal nie glo hoe groot die vier kleintjies geword het nie. “Hul” klein kameelperdjie – die een op Brent se foto’s van die bevalling – is ongelukkig lankal skoonveld, waarskynlik bene en al deur hiënas verslind.

Toe ek enetjie tussen die bome gewaar, wou ek eers bly word, maar dis ‘n kleiner meneertjie wat eers die begin van Julie aangekom het.

Luiperds duik hier, daar en oral in Sabiepark op, veral by Gwarrieboslaan rond. Hierdie keer slaan hulle my en Tokkie egter oor. Selfs op ons vrugbare Balule-uitstappie was dié katte die ontbrekende faktor. Ons het wel leeus en jagluiperds raakgeloop – die eerste keer in die Wildtuin ook leeus wat water drink. Drie leeus het ‘n keer of wat by die piekniekplek lê en bak. Ons kon twee gesigte tussen die gras uitmaak.

Oor die Balule-belewenis skryf ek later. Om weer groot troppe sebras en wildebeeste te sien, soos in die “ou dae”, asook renosters, hope buffels, olifante en kameelperde, was aangenaam. By die Engelhard-dam by Letaba het ons ‘n visarend ‘n vis uit die water sien pluk. Soveel aasvoëls soos langs die Letabarivier het ons nog nie op ‘n bondel gesien nie. Op ons lys voëls is ook gompoue, berghane, boskorhane en sekretarisvoëls.

In Sabiepark skyn die son vandag heerlik. Ek sit kortmou op die stoep. Tot dusver was dit egter hierdie winter ook maar ver van warm in hierdie geweste. As ons ‘n vleisie braai, sit ons styf teen die vuur! (HvD)

HARTSPLESIER BY DIE VUUR

“Swart das in Sabiepark”

Middag uit Sabiepark

Net toe die die hardekool-kampvuur sy eerste vonkies skiet en die gaste skemeraand opdaag vir ‘n volmaan-kuier slenter sesstuks sebras geluidloos uit die bosse, buig hul rûe en begin rustig water uit ons watergatjie opslurp. Die volgende oomblik verskyn die voorhoede van ‘n regiment nagapies en verrys die ronde volmaan tussen die donker skaduwees van die bosveldbome in die ooste.

As hierdie beskrywing oordrewe woordryk klink, is ek jammer, maar soos ‘n goeie joernalis rapporteer ek net die die reine waarheid. Presies net só het ons ete hier Vrydagaand by Tarlehoet saam met Philip en Nancé van Rensburg van Kaapstad en Jaap en Marlene Duvenage van Pretoria begin. ‘n Choreograaf, hoe verbeeldingryk ook al, sou moeilik op die stemmingsvolle toneel kon verbeter.

Volmaan kom wel net een keer elke maand, maar met sulke spesiale bos-effekte gaan feitlik elke aandkuier in Sabiepark gepaard. Die natuur bring gereeld sy kant. Net 24 uur later het koedoes hulle byvoorbeeld ook vir ‘n werfkabaret by Tarlehoet aangemeld. Toe was ek en Tokkie ongelukkig die enigste toeskouers.

By Gustav en Frances Hoexter van Bloemfontein was koedoes twee aande tevore eweneens die eerste nommer op die program van ‘n genotvolle “nunc-pro-tunc”-ete, soos dit deur Gustav gedoop is (ek verduidelik later). Boonop is die “nunc pro tunc” se verrigtinge afgesluit met ‘n besoek aan die voortreflike gashere se slaapkamer om o.m. “Toon se beddens” te bewonder. Daardie katels is van duursame donker hout met sierlike inlegsels. (Daar is ook ‘n “Toon-laaikas” en ‘n “Toon-drankkabinet”.) Moeilik om so ‘n toegif te ewenaar of oortref, selfs in Sabiepark.

Maar eers die “nunc pro tunc”. Mense wat iets weet van Latyn, sal die betekenis dadelik snap. Die uwe het op 3 Januarie in die verre Kaap sy 70-ste gevier (“tunc”). Dié viering by die Hoexter-boswoning tot sy eer was die aand van 12 Julie (“nunc”). En die “Toon-beddens”? Dit het werklik in Windhoek aan oud-regter (en ook oud-joernalis) Toon van den Heever behoort. Toe Gustav se pa regter Toon in die destydse Suidwes opvolg, het daardie meubels in familiebesit gekom.

Waarmee dié fyn onthalers die verjaardagkêrel daardie heuglike aand nie alles bederf het nie! Ontwerperskampvuur, roosters vol sissende braaivleis (sterk aanbeveel: Bloemfonteinse Van Vuuren-wors met ‘n tikkie ekstra spek!), Duitse aartappelgereg, ere-posisie aan die keurige tafel, reuse-kandelare met wit kerse, Normandiese witblitsie vir die palet … behoorlik vyfster.

Oor humor in die hof spreek ek altyd ‘n woord in groot beskeidenheid, en met bewondering. Slim regslui se memoires het mos ‘n spesiale kinkel. Gustav Hoexter is in die opsig ‘n meester. Uit sy vrugbare 87-geheue (Al Debbo was ‘n klasmaat) rakel hy meesleurende anekdotes. Hy kwoteer groot geeste soos Shakespeare, Dickens met relevansie en styl. Sy kwinkslae is onuitputlik. Met só ‘n onderhoudende tafelheer met sy vlymskerpe regsbrein vlieg die uurtjies om, en lag jy baie.

Iemand moet sy stories opteken, word vir woord, want slegs presiese weergawes laat reg daaraan geskied. Volgende keer kom ek met papier en ‘n potlood kuier!

Ek is die aand huis toe met ‘n bottel Bell’s (gee daai man ‘n Bell’s!) met ‘n stukkie Duitse waarheid op die draksak: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!”

In my sak was ook die woorde van ‘n raak heildronk op die kuktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The frontdoor of fellowship! And the gate of pleasant folly!”

By die Hoexters het ek ‘n foto van ‘n luiperd gelaat wat ek verlede jaar in Sabiepark geneem het en waarvan hy baie hou. Daarby was die rympie: “Om ‘nunc pro tunc’ te vier/‘n klein soewenier/van Sabieparkse diere-swier/Só is jul vriendskap /‘n hartsplesier!” (HvD)

‘N BOER WAT BLY ROER

Middag uit Sabiepark

Vos Grey was onoortuig dat ‘n “vinnige” breek padkafee toe vir ‘n middernaghappie dringend is. Hy moet die volgende oggend ‘n belangrike eksamen skryf. Ons minder akademie-geörienteerdes het aan hom bly torring. Nou-ja …. Ons is vort op voorwaarde van ons sterte roer. Toe gaan staan die Santa Maria, my blou Peugeot 203, sonder brandstof. Dit was 1961, die jaar dat hy die DSc (Agric)-graad verwerf het. Later het die M- en die D-graad bygekom.

Vos se akademiese loopbaan wys dat kommer eintlik nie nodig was daardie paar uur sonder petrol nie, terwyl ons lughartig in die Santa wag dat ”hulp opdaag”, op advies van Pierre le Roux. Vos het sy werk geken. Maar die ou vriend was een van daardie ernstige studente, die toonbeeld van ysere dissipline.

Vos het polio as kind gehad en met ‘n oog-gebrek gesukkel. Dit is daardie staal wat hom desondanks só laat uitstyg het. Hy was drie keer huisvoorsitter van ons koshuis, Kollege, op die Tukkie-proefplaas, was ons koshuis se rugbykaptein, was studenteraadslid, en wat nog.

Nou is dit 50 jaar later. Maar dis presies dieselfde Vos Grey wat vyfuur die middag op die JanVos-landgoed in die distrik Ermelo op sy horlosie kyk en pligsgetrou vir sy gaste uit Melkbos sê: “Verskoon my, ek moet gaan toesluit.” Of sewe-uur soggens: “Verskoon my, ek moet gaan oopsluit.” Dié voorslag-boer bestuur met ‘n vaste hand, volkome in beheer van homself en van sy verantwoordelikhede.

Natuurlik bly die resultate – en die akkolades – ná 30 jaar se sweet nie uit nie. Vos en sy knap seun, Jan, se Holsteins, vleismerino’s, uitvoer-appels, mielies, sojas en wat nog is van die allerbeste. Elk keer as jy op die Grey-grond kom, het nog ‘n nuwe struktuur verrys, lyk dit. Die opstal is soos ‘n jong dorpie. In Vos se studeerkamer met die mooi dolfshoutkaste is altyd nuwe sertifikate en bekers: Boer van die Jaar in Transvaal, meester-suiwelboer (noordelike streek), teler van die kampioen-wolooi (Suid-Afrikaanse vleismerino’s). Jan – die finansiële bestuurder – staan nie agter nie: hy was self al Jongboer van die Jaar van die Noordelike streek.

Vos, die immer nederige, dring daarop aan dat Jan se groot bydrae raakgesien word – en dié van Vos se vrou, Magdaleen, wat na personeelsake omsien. Die Greys trek as span. Deesdae woon Vos se dogter, Carin, ‘n onderwyseres, en haar gesin ook op die plaas. Die kleinkinders is die appels van Vos se oog – meer nog as die sappige Pink Lady’s wat in Londen se voorste koswinkels op die rak is.

Vos ploeg sy kundigheid en bekwaamheid ook elders as net sy eie uitgebreide boerderybelange in: as voorsitter van Clover (my skoonseun, Brent, van Parmalat sal sê ek heul met die vyand!), lid van die Melkraad, visevoorsitter van die Suiwelraad, lid van die algemene raad van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, ens. Maar, vernaam of nie, hy bly die lekker (ondeunde) studentemaat. Agter die stoetramme se stal steek hy ‘n skelm sigaretjie aan … Hoop maar Magdaleen gaan nie in vir blogs lees nie!

Kyk, ek weet van boerdery niks. As leek tref vier dinge my egter besonderlik van daardie indrukwekkende JanVos-boerdery: die wetenskaplikheid, die netheid, die georganiseerdheid en die liefde vir die diere. Die melkstal is ‘n ingenieurs-prestasie. Vos se KI-praatjies laat geen twyfel nie dat hy ‘n voorste kenner op die gebied is. Van elke ding wat gebeur of nie gebeur nie, weet hy. En sy diere laat sy oë vonkel.
Hy sorg dat hy elke dag tussen sy Holsteins of sy merino’s kwaliteitstyd deurbring.

Tokkie se oë vonkel insgelyks as sy saam met Vos van hierdie stal tot daardie kraal tot daardie kamp wip. Haar hart gaan veral uit na die bulletjies wat in die JanVos-opset nie hoog aangeslaan word nie. As ek sien hoe in haar element sy is, wonder ek: twyfel sy soms of sy vir al die Bultfonteinse boertjies wat kom vlerksleep het, die deur moet gewys het ter wille van ‘n joernalissie. (HvD)

‘N SAMARITAAN EN SO

More uit Sabiepark

Onder die enjinkap (en ander plekke) van my Honda-in-die bos het die stof, blare en sulke dinge van ver paaie vergaar, en nou laas in Bloemfontein, twee weke gelede, laat ek die spulletjie toe skoonspuit. Die resultaat was blinkskoon binnegoed, maar ‘n kar wat op drie silinders loop.

Piet Theron, oud-kollega, het my op ‘n Sondagmiddag na ‘n medelidmaat, Willem Booysen, gebring. Vir ‘n donasie vir die gemeente het hy ‘n nat vonkprop vervang en die Honda slaggereed gekry vir die lang pad verder. (Op die foto is die uwe links en Piet regs. Hy lyk net jonger. In werklikheid is hy die oudste van ons twee.)

Piet en Willem is albei samaritane. Ek ken Piet só. Hy is ‘n staatmaker. Samaritaan …. staatmaker. Opvallend is dat albei die beskrywings met esse begin. Dit tref skielik dat verskeie ander s-woorde ook op Piet van toepassing is. Ek begin toe ‘n s-lysie maak rakende my oud-kollega, woonstelmaat in ons jong dae en vriend van Tukkiedae af. Dit word ‘n lang lys.

Op Tukkies was hy bekend as Piet Sportie – nie net self ‘n knap senter/losskakel nie, maar ‘n toegewyde sekretaris van Kollege se rugbyklub. Hy was ook Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Bae ouens wat later bekend geword het op vele terreine het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

In sy loopbaan was Piet o.a. Piet Sub en Piet Sportskrywer. Laasgenoemde het later Piet Sportredakteur geword. Hy was ook hoofsub, nuuredakteur en assistent-redakteur.

Piet is ‘n veel-Sydige mens. Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. As baasbraaier troon hy uit.

Toe sy jonste seun, Pieta, reeds oorlede, ná ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, nie met sy werk kon voortgaan nie, het Piet Piet Sweiser geword. Hy het vreesloos hoë lere bestyg om raamwerke vir allerlei kontsruksies te sweis – en ‘n paar keer geval dat hy hik. Hy het ook Piet Smous geword (in ‘n mooi sin) wat namens Pieta in swart gebiede met meel handel gedryf het. In daardie hoedanigheid is hy op ‘n keer sleg aangerand, maar dis ‘n ander storie.

In uitdagende en beproewende omstandighede het hy ook vir die moeder van Pieta se kinders ‘n wonderlike Piet Skoonpa geword. Ek glo sy sl saamstem.

Piet is nou Piet Samelewing, wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy is o.a. redakteur van ‘n lewendige kerkblad en ‘n voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra nie.

Piet is ook Piet Skrywer. As iets hom pla, skryf hy aan die koerant. Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer. Hy skryf op die oomblik aan twee boeke; een is plus-minus in finale manuskripvorm. Albei lyk vir my die moeite werd.

Op een s-beskrywing sal Piet bepaald nie kan aanspraak nie. Hy is geen Piet Swyger nie. Soms spreek hy dalk wanneer dit beter sou gewees het om te sjuut. Maar dis Piet Theron. Hy steek nie sy sentiente of sienswyses onder die sand weg nie.

Naskrif: Die luiperd loop vanoggend breed in Gwarrieboslaan rond. ‘n Jong pa en sy kinders was oopmond. Ek het ‘n paar manne met kortbroeke gesien. Skielik tuimel die kwik egter. Lyk of reën in die lug is …. en nog een van die koue fronte wat deesdae op mekaar se hakke volg (HvD).