KUIER MET ‘N GROOT K!

Middag uit Bloem

Vrydag word ons in Bloemfontein begroet met die nuus: “Stad blink gepoets vir blitsbesoek”. Dis toe nie hierdie Verlore Seun wat nie vergeet is nie; dis Oprah wat haar “honoris causa” kom haal. Tot slaggate is vinnig opgevul om die “koningin van klets” se sagte Amerikaans sitkussings te spaar. Ohopoho!

Wat ‘n Kuier (groot K is doelbewus) was dit nie die laaste paar dae in die Vrystaatse hoofstad, waar ek en Tokkie vroeër twee sulke gelukkige skofte deurgebring het nie – 1966 tot 1974 en toe weer 1980 tot 1992. ‘n Kuier propvol groot K’s is dié naweek ingepas – met al die ophef oor die “koningin van klets” se besoek maar onderlangs op ons persoonlike lysie van groot dinge en groot oomblikke.

Die Koue het sy merk gemaak. As die Van D’s dalk al vergeet het hoe Bloem kan bibber as die kwik vriespunt toets, sal ons dit ná dese deeglik onthou. Snerp ‘n ysige windjie boonop om die hoeke, boeta, dan bars jy. Ons het! Tokkie is vinnig winkel toe vir ‘n sweetpakbroek met wol uitgevoer.

Koffie saam met ‘n veertig-stuks ou vriende Vrydagmiddag in die knusse restaurant Santa Fé (eienares: Santa Nortjé) by die Vrouemonument was ‘n fees. Toe ons gaste begin aankom, skuif die gordyn oper en oper. Twintig jaar raak skielik oor ‘n botterbroodjie en melktertjie oorbrug. Ons gesels die koue skoon uit ons lywe uit.

Kollegas het gisteraand reünie in die kleine gehou by Sarel Venter se 70-vieringe, rondom lam op die spit, pappadel (‘n papbolletjie-met- sous-variasie op die tema frikkadel), heerlike ander bykosse en, piece de resistance, ’n oorspronklike “koerantkoek” met Sarel se geboorte op die voorblad (kyk vorige blog). Oud-Volksbladders die skrywer Jaap Steyn (my voorganger as hoofsub), Piet Theron, Jan Scholtz, Sarel en die uwe kon lekker sentimenteel raak oor die goeie ou dae.

Kerk vanoggend in ons ou gemeente Berg en Dal met ds. Gert Terblanche in sy toga op die preekstoel en die sonore, tradisionele orrelklanke uit ‘n elegante stel nuwe orrelpype was ‘n tuiskom-ervaring soos min. Toe sing ons nog as slotgesang die ontroerende lied 512, Nader my God by U. Sielsverheffend!

Ontroerend, was die herbesoek ná twee dekades van die Vrouemonument en Oorlogsmuseum gewis ook. Mense, moenie by Bloemfontein verbyjaag nie. Hier in die uitsonderlike museum is hartsgoed met soveel liefde, passie, sorgsaamheid en styl aangebied dat jy van klip moet wees om nie daardeur aangegryp te word nie.

‘n Onbekende vir dié twee Melkbossers was die monumentale groot kwilt van Naomi Moolman van Vanderbylpark – ‘n hele muur vol (6,38 meter breed en 3,34 meter lank) wat in Augustus 2010 aangebring is. Die Anglo-Boere-oorlog word in 48 meter materiaal, met sewe kilometer garing, 144 afgestrykte foto’s en 163 gekwilte voorwerpe (koffieketels, vuurherde, doilies, ens) treffend uitgebeeld.

Naomi (niggie van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion) en haar span flukse helpers het in die ongelooflike kort tyd van ses maande dié reusewerk voltooi, van die ontwerp af tot die laaste garingstekie van die kwiltwerk. Altesaam 21 kleurdrukker-en 14 swart kassette is opgebruik. Die “Erfeniskwilt” heet hierdie indrukwekkende liefdesarbeid van die Vanderbylparkers, en ‘n onvervangbare erfenis is dit inderdaad.

Die bewondering, dankbaarheid en bewoënheid wat in die besoekersboek uitgestort word deur strome buitelanders en besoekers uit elke uithoek van die land, spreek boekdele. Maar eintlik weet Suid-Afrika hiervan te min. Wens ek kon die TV-regisseurs, tydskrifjoernaliste en al wat mediamens is, oortuig om te kom kyk – en die waarde van hierdie skat self te kom takseer (HvD).

SOLIED SOOS GRANIET

Sarel Venter (70) met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!

More uit ‘n bibber-Bloem

Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.

Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!

Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.

In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”

Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.

Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.

In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”

Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan. (HvD)

IN VLAMME OP

Op die N4, by Mthomjeni, naby Machadodorp in Mpumalanga, was die Star Stop Milly’s ‘n baken.

Ek hou nie van stilhou langs die pad nie, en doen dit nie onnodig nie, maar brandstof- en ander behoeftes verplig jou soms. Op die N4 op pad Sabiepark toe was dit dan uithou en aanhou totdat die imposante wit grasdak-geboue van Milly’s langs die skilderagtige foreldam op die plaas De Kroon links van die grootpad opdoem.

By daardie afdraai het ek minder teësinnig as elders my flikkerlig ge-aktiveer. Die plek was inherent aantreklik, mooi geleë, netjies, skoon en doeltreffend. “Star stop” – hy het die naam verdien.

Hoeveel liters Caltex het ek al daar eers in my rooi Mercedes, daarna in die blou Kombi (die “Bosbus”), en later in die ou Honda CR-V laat ingooi? Hoeveel keer is my voertuig se voorrruit hier gewas? Hoeveel hamburgers, geroosterde broodjies en koffies is in BJ’s geniet?

‘n Keer het ons spesiaal gestop omdat my neef Ben Smith van Randburg ons meegedeel het jy kan in die geriefswinkel sulke oulike armbandjies koop om die muskiete van jou lyf te hou. Jy spuit hulle met sitronella-olie.

Een keer het ons Johan en Mariza, ons Georgekinders, met die “Bosbus” op O.R. Tambo gaan haal (toe dalk nog Johannesburg Internasionaal?). Ná die pitstop by Milly’s vra Johan my: “Pa, waar is die noodwiel?” Die Kombi se noodwiel is ondanks voorsorg – ‘n stewige slot – in die blessitse Johannesburg gesteel. Eina pyn!

Partymaal was dit nie nodig om by Milly’s te stop nie. As ons by Milly’s verbyry, kry ek egter weer moed vir die res van die reis Sabiepark toe: Nelspruit is nie meer só vreeslik ver nie!

Nou moet ek oor Milly’s in die verlede tyd skryf. ‘n Verwoestende brand waarskynlik weens kooltjies wat op die grasdak beland het. Niks is oor nie – buiten die vulstasie. Dié is gered deur water uit die dam wat deur ‘n helikopter in groot emmers op die smeulende buurgeboue bly uitgiet is.

Mense stop seker nog om petrol aan te skaf. Ek sal nie graag nie. Die swart gebrande murasies sal my laat siek voel oor só ‘n eersteklas-plek wat in vlamme op is.

Wat my verwonder, is dat ek wat nogal my vinger op die nuuspols probeer hou, die twee-dae-oue nuus oor Milly’s vandag uit Nederland op Facebook raakloop – ‘n adres waar ek bittermin kom. Was dit nie oor die radio nie? Het ek net die betrokke bulletins gemis? In Die Burger was dit bepaald nie – maar dis nie snaaks nie. Machadodorp is “ver, ver, anderkant die verste ster” (ekskuus, Uys Krige) – amper 2 000 km van Kaapstad.

In Die Burger se nagkantoor werk mense wat nie eens weet waar Machadodorp is nie, raai ek. En ek probeer nie snaaks wees nie. Baie Kapenaars is mos maar berug onkundig (en onbelangstellend) oor die lewe anderkant die Hexrivierberge, of hoe?

Naskrif: Dinsdag is ons op pad (of, eerder, in die lug – as die aswolk opgeklaar is!) (HvD)

NOMMER EEN IN WILDTUIN?

‘n Luiperd stap uit die oewerbos – maar hierdie keer op die S3.

More uit Melkbos

Vra iemand my oor my nommer-een-pad in die Wildtuin, antwoord ek vinnig: die S100. Op daardie gruispad naby die Satara-ruskamp, al langs die N’wanetsirivier af tot by N’wanetsi-piekniekplek met sy skouspelagtige uitkykpunt aan die einde van die H6, is elke rit ‘n teugie Wildtuinvreugde – al is dit ook net weens die reuse-trosvrye wat langs die rivier ingeryg staan, en die verwagting dat elke oomblik ‘n luiperd uit die ruigte kan stap.

Daardie spontane reaksie laat my egter al hoe skuldiger voel teenoor die S3, “ons eie” boomryke rivierpad, wat oorkant Sabiepark al langs die Sabierivier suidwaarts kronkel, en waar altyd ‘n kans is om een van die Vyf Grotes teë te kom. Is ek nie dislojaal teenoor die S3 as ek die S100 só opvysel nie?

Die S3 is darem “ons eie” – as ‘t ware Sabieparkers se “tuisveld”, omdat jy van die piekniekplek duskant die motors op hom kan sien ry. Sabieparkers kan binne minute op die toneel wees as motors opdam. Van die S3 af sien jy weer die groen oase van die piekniekplek en verskeie van Sabiepark se mooiste huise. Die pad bied ook die ervaring van diep-diep in die bos wees, al is jy ‘n hanetree van die Krugerhek

Die S3 is die Wildtuinpad wat ons gesin die meeste ry – soms op my vaste roete na die Phabenihek vir inkopies op Hazyview, soms as ‘n ompad na Skukuza vir kerk of “werk” (inkopies of die internetkafee), soms op pad na Pretoriuskop met sy karaktervolle kamprestaurant, soms net op ‘n vinnige oggenddraaitjie of laatmiddag-uitstappie vir die laaste uur of wat voor die Wildtuin se hekke sluit.

Dadelik is jy in prima-olifantkontrei wanneer jy net binne die Krugerhek op die S3 regs draai. Aan talle bome is die bas in repe afgeruk. Dikwels kry jy op die pad gestroopte takke of vars mis. Tussen die bome sien jy dalk ‘n glimpsie van ‘n slurp se puntjie wat heen en weer girts – of meer. Soms wemel die wêreld van olifante. Teeltroppe versper moedswillig die pad of seil gly-gly teen die wal af rivier toe om in die water te plas.

In ‘n groepie olifante wat die pad haastig oorsteek rivier toe is ‘n keer ‘n bitter klein kêreltjie. Hy lyk of hy net enkele dae oud kan wees, indien wel. Tokkie wil hom net optel. Ek moet haar herinner dat ‘n pasgebore kalf tot 120 kg kan weeg – selfs (ietwat) meer as haar man se massa op die uiterste van sy “gewigtigheid” (wat hopelik verlede tyd is)!

Die S3 bied verskeie roete-moontlikhede. Jy kan jou voor by die Doispanepad aansluit as jy só om Skukuza toe wil ry. Dis ‘n draai, maar jou kanse op spesiale waarnemings – selfs skaars wildehonde – is goed. As ek tyd het, ry ek dikwels ‘n verdere draai. Uit die Doispanepad swaai ek regs in die S65, verby die N’waswitshaka-watergat. Dan benader jy Skukuza uit heeltemal ‘n ander hoek, met die H1 verby die Granokop en die De La Portedrinkgat, waar renosters kom drink.

Op die S65 het ons al oomblikke ná ‘n luiperdvangs op die toneel aangekom (die rooibokram was nog nie dood nie). Een middag kon ek en Tokkie lank by 12 leeus sit. Hulle het, wrintiewaar, die hele dag op dieselfde plek deurgebring. Lyk of hulle ewe gedienstig op ons vertraagde aankoms gewag het! Ons het naamlik die oggend al nuus oor hul teenwoordigheid gekry, maar was toe op Hazyview.

Op die einste S65 het ons ook al ‘n maanhaar gekry by sy laat impala-ontbyt wat hy by ‘n agtelosige luiperd gegaps het. Die vies luiperd het in ‘n boom sowat vyftig meter ver sy wonde gaan lek.

‘n Voordeel van die rivierpad is dat dit ontoeganklik is vir woonwaens en heelwat minder verkeer dra as die geteerde Doispanepad (die S1). Net jammer dis nie ook ontoeganklik vir al daardie groen Land Rover Defenders of Nissan Hardbody’s met die rye bankies vir toeriste wat toenemend “ons pad” kom snuif trap.

Naskrif: Hierdie is dalk my laaste blog voor ons Dinsdag ry. Hoop die S3 bring vir iemand geluk hierdie vakansie! Moenie die pad tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug vergeet nie. Petrus Pap verwys daarna in kommentaar op my vorige Wildtuinblog op Litnet. Onthou, ry met die S28 Krokodilbrug toe en met die H4-2 terug na Onder-Sabie. Ek gaan dit doen.

SOMMER DRIE VERSIES

Middag uit Melkbos

As ek na die weer kyk, moet vandag, Jeugdag, ‘n pannekoekdag wees. Kom ons maak egter vandag versiedag.

Hierdie drie onverwante versies word om die volgende redes op my blog gesit:

1. Genade, mej. Benade!

Hierdie bydrae kom van die Linetblogger Lora n.a.v. die uwe se blog ‘n ruk gelede oor Van Tonder die donder die hel:

Daar was ‘n jong meisie, Benade,
Sy dag baba’s was blote Genade.
Maar van komm-u-nie-keer
Moes die juffrou toe leer,
Kom baba’s en skande en skade.

2. Hasie Vaaljan, vers twee

Pierre le Roux van Mosselbaai het laat weet Hasie, Hasie Vaaljan wat ook ‘n ruk gelede op hierdie blog was, het ‘n tweede versie:

Hasie, Hasie Vaaljan,
Die walvis het gelam.
Snoekie was die nursie
En sardiens was die baba …. baba … baba.

3. The obits

Ton Vosloo het meer as ‘n dekade gelede by die verjaardag of iets van Eric Wiese ‘n Engelse versie aangehaal met ‘n slotstrofe wat nogal vir my pikant was. Ek het dit op die internet gaan soek en opgespoor:

I get up each morning and dust off my wits
Open the paper and read the obits
If I’m not there I know I’m not dead
So I eat a good breakfast and go back to bed.
(HvD)