LIEGBEK-SKALE

More uit Melkbos

Die volmaakte oplossing vir daardie alewige ellende as dit weegtyd raak op die badkamerskaal – kan nie dink hoekom ek hierdie onderstebo-tegniek hierbo nie lankal uitgevind nie!

Skale is natuurlik ernstige sake. ‘n Mens kan nie grappies maak oor sulke konstante ontnugterings in jou lewe nie.

In vanoggend se Die Burger vertel Willem Pretorius tog ‘n grappie oor ‘n skaal. In die rubriek Van Alle Kante vertel hy van die man wie se versugting was om vir sy verjaardag iets te kry wat in 2 sekondes van 0 tot 200 kan gaan. Sy vrou koop toe vir hom ‘n skaal.

Ek ken die storie andersom, met die vrou in die rol van die ontvanger. Oor die gewer se lotgevalle kan ‘n mens glo lees in die koerant se begrafniskennisgewings.

Hoe ook al, dis galgehumor. Niks om oor te lag nie.

Op die oomblik voer ek ‘n stryd teen die skaal. Dis eintlik ‘n langtermynstorie, wat al weke kom. In Sabiepark besluit ek in April eendag ‘n nuwe skaal is nodig. Ons ry Hazyview toe en koop ene.

Terug, klim ek op en slaan amper ‘n hartklep. “Die ding is niks werd nie,” deel ek Tokkie deur dun lippe mee. “Hy weeg my 5 kilo’s te swaar.”

Die volgende dag moet ons opsluit weer die 80 kilometer Hazyview toe en terug. Die foutiewe skaal moet teruggegee word. Net om seker te maak hoe ver die ding uit is, ry ek by twee apteke aan (die enigste twee op Hazyview?)

Kan nie wees nie – dis dieselle blerrie storie op hul liegbek-skale ook.

In stilte ry ek en my vrou maar terug Sabiepark toe, skaal en al. Ek is DIK vir alles en almal. Sal maar nie sê sy was DIK van die lag nie!

Dalk is die enigste raad vir sulke klein teenspoedjies ou Daan Drommel se reaksie wat ek in die versie “Badkamerskaal” in “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” opgeteken het:

“Net een skrale kilo
Op die badkamerskaal,
Dis al wat Daan Drommel
In ‘n week kon behaal;
Toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
En vat in sy kelder
Nog ‘n botteltjie wyn!

Gesondheid!
(HvD)

HELP ‘N BIETJIE DAAR!

Naand uit Melkbos

My ontslape kollega en vriend Alf Ries het graag gespog dat hy op Nuweland ‘n kniebesering opgedoen het. Hy het inderdaad. Ná die eindfluitjie van die een of ander W.P.-wedstryd is hy en Ebbe Dommisse, as ek reg onthou, sommer kortpad oor die veld op pad motor toe. Toe val Alf oor ‘n vlagpaal of ‘n ding.

Hy moes van die veld gedra word en was geruime tyd in die hospitaal. (Dit was die keer toe hy op TV in sy rooi pajamas, tot P.W. Botha se gramskap, Kabinetsveranderinge redelik korrek voorspel het. P.W. het net gesnork: “Wat moet die mense dink as ‘n man in ‘n rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed my Kabinet aankondig?”)

Dit daar gelaat. Hierdie storie haak eintlik aan by my eie seer knie, nie Alf syne nie. Myne het ongelukkig nie só ‘n romantiese oorsprong soos ‘n struikeling op een van Suid-Afrika se beroemdste rugbyvelde nie. Die pyn kom uit die heup, is gediagnoseer.

Maar die diagnose is gedoen by die Sportinstituut by Nuweland, waar ek toe ietwat vroeg opdaag, en om tyd te verwyl by die Rugbymuseum inloer – my eerste keer. Die fopfoto hierby van die uwe by John Smit en Pieter de Villiers is die bewys. Tokkie het dit met die selfoon geneem. Die uwe is die gryskop in die middel, vir diegene wat nie weet nie en dit moeilik vind om uit te werk.

In die museum is werklik baadjies, truie, foto’s, bekers, balle en wat nog wat kosbare rugbyherinneringe ontsluit.

Oor drie dinge wil ek vriendelik my stem dik maak in die hoop dat dit iewers by iemand uitkom wat iets daaraan kan doen. Ons nasionale spel verdien darem nie sulke afskeepbehandeling soos wat ek hier wil rapporteer nie.

Vir eers kort die bekers Brasso en ‘n fris arm met ‘n lappie. Die goed is regtig lelik aangeslaan. Dit wek die indruk van verwaarlosing.

Ten tweede is belangrike inligting by sekere uitstallings op stukke papier wat aan die kante opkrul en skeurtjies vertoon. Ai, laminering sal baie help.

En derde het ek die knoppie gedruk om oor die ouderwetse radio na die stukkie Gerhard Viviers-kommentaar te luister toe hy op Loftus in ‘n toets teen die All Blacks só Ge-“Syddie, Syddie, Syddie” het. Nomis het onderskep en hoekvlag toe laat vat.

Ek kry toe nie Gerhard en “Syddie” nie, maar kommentaar (kan nie onthou deur wie nie) toe Frik du Preez die dag ge-“drop”, ge-“place” en ge-“score het” – uit eie reg ‘n stukkie rugby-Africana, maar nie waarna ek op daardie oomblik wou luister nie.

Ek dag toe ek het die verkeerde knoppie gedruk en maak seker dat ek die tweede keer nie weer fout maak nie. Wraggies, toe’s dit weer die Frik-storie.

Is die “Syddie”-stukkie daar of is dit nie daar nie? Weet iemand? Hoe ook al, as dit is, is dit by die verkeerde knoppie. Is dit so moeilik om jou hand op sulke dinge te hou, selfs in die Suid-Afrika van 2011? (HvD)

‘MISTER NOBODY’

More uit Melkbos

Lindiwe Mazibuko, “madam Zillie” se “tea girl” volgens Julius Malema, laat ‘n mens nogal meewarig vir daardie warkop-heethoof glimlag as jy haar onderhoud met Hanlie Retief in vandag se Rapport lees. Malema, met sy droewige houtwerk-kwalifikasie, sou eerder die fyn swart dame se “garden boy” kon wees!

Me Mazibuko se ervaring met onse Julius wat geweier het om saam met haar in ‘n e.tv-debat te verskyn, en daardie TV-diens se gevolglike jammerlike dienstigheid aan hom en die ANC, herinner my aan iets soortgelyks in my Nieman-jaar in 1976/77 by die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts.

‘n Ongerieflike politieke ervaring, en die interessante nasleep daarvan, het te make met die besoek aan Boston (net oorkant die Charlesrivier) van ‘n jong swart aktivis, wyle Tsietsie Mashinini van Soweto-onluste-faam, en ‘n uitnodiging op die nippertjie aan die “white Afrikaner Nationalist” om saam met hom in ‘n TV-geselsprogram op te tree.

Daarvoor moes ek my reëlings vir ‘n ander lank beplande reis omverwerp. By die ateljee wag ek lank. Na twee koppies koffie kom verduidelik die verleë regisseur daar is ‘n “hiccup”; die kêrel weier om saam met ‘n Afrikaner in dieselfde program op te tree. Ek het geprotesteer, maar vergeefs. Einde ten laaste is ek maar vort, taamlik ontnugter oor die beroemde Amerikaanse regverdigheidsbeginsel waarvolgens almal die kans moet kry om gehoor te word.

Wyle Jim Thomson, ons kurator, was tot in sy siel liberaal en had vir die Suid-Afrikaanse bedeling van destyds min tyd. Toe hy egter hoor van die behandeling wat ek te beurt geval het, was hy verontwaardig. Hy bel dadelik die TV-stasie en sê reguit: So laat ek nie met ‘n Nieman mors nie! Geen Nieman sal ooit weer aan enige van die stasie se programme deelneem nie, tensy “Mister Vên Dievender” ‘n kans kry.

Die uiteinde was ruim geleentheid om in ‘n volgende program my prate te praat. ‘n Cadillac-limousien is gestuur om my by die huis te kom haal — tot verwondering van twee Suid-Afrikaanse kindertjies wat die status-simbool grootoog betrag het.

‘n Bewys van hoe ‘n onvoorpelbare land Amerika is, het ‘n paar dae later met die pos gekom: ‘n koevert uit Manchester, New Hampshire. Binne was ‘n brief van William Loeb, uitgewer van die Manchester Union Leader, en een van Amerika se bekendste konserwatiewe denkers van daardie tyd. “Mooi so,” het hy laat weet. En gee toe sommer ook raad hoe om my saak in die vervolg nog oortuigender te stel.

* Mashinini is in die somer van 1999 jonk-jonk as a “Mister Nobody”, soos die Engelse sê, iewers in Afrika oorlede. Sal dit nie ironies wees as me. Lindiwe Mazibuko bo uitkom en die jonge heer wat haar so geminag het, ‘n “Mister Nobody” word nie! (HvD)

HIER’S DIE SKOOLBUS!

More uit Melkbos

Niemand wat HvD in sy jonger jare geken het, en seker ook ‘n goeie klompie wat hom korter ken of glad nie ken nie, sien waarskynlik kans vir nog ‘n dosis stories oor die “Skoolbus” of “Grassnyer” nie.

Nee, ek gaan julle nie weer verveel met anekdotes soos die een oor hoe die Kollegemanne my vlootblou 1961-model Fiat 500- stasiewa die trappe opgedra het en in Kollege se kuierkamer staangemaak het die dag toe ek die pragtige joolmeisies na middagete moes huis toe vat nie.

Aanbevole leesstof: “In Kamera” (Protea, 2003), en voorheen op hierdie einste blog, meen ek.

Maar ek gaan hom darem regtig vir julle wys: my tweede vuurwa (vuurwa?) in al sy glorie (glorie?), soos ek hom in die blaaie van ‘n dikke knewel van ‘n boek met meer as 500 bladsye oor die Fiat-storie teenkom.

In die boek, “Tutte le Fiat” (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” (‘n Pierre le Roux-skepping) ‘n sekere geldigheid verleen.

Ek het my Fiat in 1962 gekry en in 1965 in Kaapstad verkoop ná ‘n uitmergelende rit deur die Karoo vir my vuurdooopjaar in die persgalery van die Volksraad. Hy is toe vir die terugrit met ‘n gebruikte ligblou Cortina vervang – in elk geval ook ‘n geriefliker vrymotor (vra Tokkie).

Die stasiewaentjie het in 1961 op die toneel verskyn, lees ek in “Le Tutte Fiat”. Die beroemde klein 500 Topolino (soortgelyk aan die een waarmee my kollega en woonstelmaat in ‘n stadium in Bloemfontein, Willie Kühn, gery het) dateer egter al uit 1936.

Op my werf, www.hennievandeventer.com, is ‘n blad met al my motors deur die dekades. Die 500-stasiewa Gardiniera ontbreek, omdat ek geen foto kon opspoor nie. Daardie leemte sal terstond reggestel word. (HvD)

ROEPMAN GE-‘COPY’ EN -‘PASTE’

Middag uit Melkbos

Om “Roepman” van Jan van Tonder te lees, is iets waarby ek met sy verskyning om die een of ander rede nooit uitgekom het nie. Die ophef oor die rolprent het die lus aangewakker. Die naweek op Kleinmond haal my vriend Chris van Rensburg, wat self uit ‘n spoorweg-agtergrond kom, “Roepman” uit sy boekrak. Ek lees en lees, elke los minuutjie, en net voor ons ry, is ek deur die boek.

Dinsdag is ek en Tokkie toe fliek toe – ‘n dagreis te perd, want “Roepman” wys mos nie oral nie. Ster-Kinekor skeep Afrikaans maar sleg af, tensy dit Leon Schuster is wie se aardse humor teaters vol pak.

Nietemin, nou het ek “Roepman” die boek en “Roepman” die fliek albei agter die belt. Baie mense raak opgewonde oor die fliek, selfs Leon van Nierop wie se oordeel ek respekteer. Ek verkies verreweg die boek.

Aan die een kant wonder ek of ek die fliek sou verstaan het as ek nie die boek gelees het nie. Aan die ander kant het die fliek in meer as een opsig nie aan my verwagtinge voldoen nie.

Versigtig nou, Van Deventer. Nadat ek laas my onbehae oor “Liefling” uitgespreek het, moes ek kwaai koes. Ek is verwyt dat ek niks goeds in ‘n Afrikaanse produk wil sien nie. Nou’s ek alweer disrespekvol. Maar dis regtig nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse fliek is nie; dis omdat “Roepman” nie konsekwent ‘n uitstekende rolprent is, soos sommige aansprake lui nie.

Die verwikkelde dinamiek van kruisverhoudinge in daardie kleurryke gemeenskappie in die spoorwegbuurt van Durban se Bluff val in die boek boeiend oop. Op die skerm gaan veel daarvan verlore. Ek kry die indruk van iemand wat met die boek gaan sit en insidente met ‘n viltpen gemerk het. Toe word die los fragmentjies gelas – ‘n tipiese “copy and paste”-oefening van die rekenaar-era.

Maar o wee, uiteindelik bly toe te veel insidente oor vir een fliek. Die skêr kom uit. Wat snippermandjie toe gaan, is plek-plek uiters wesenlike hegtingselemente, en die gevolg is ‘n sware verlies aan strukturele eenheid … en geloofwaardigheid. Sekere oorgange raak eenvoudig net te kunsmatig en stokkerig. Meermale kry jy die indruk: nou word ek net te erg met die lepel gevoer.

Toneeltjies wat vir effek ingevoeg word – byvoorbeeld Ouma agter op die motorfiets op pad kerk toe – is pure plastiek. Trouens, die hele Ouma-karakter word ‘n karikatuur, wat groot ongemak vir die kyker veroorsaak. Timus se pa, Abraham, word daarteenoor in al sy rigiditeit as mens van vlees en bloed uitgebeeld. Ook die karakter Joon, die “Roepman”, word beter raakgevat. Punte vir die draaiboekskrywers!

Met oordrewe melodramaties musiek en te veel, te veel “mooi” stemmingstonele trap die vervaardigers en regisseur in ‘n ou-ou slaggat – Emil Nofal gereïnkarneer! Die uitbundige danstoneel in die die water van die gebarste pyp onder die teerstraat is in die boek geloofwaardig, in die rolprent ‘n ongelukkige stuk choreografie wat aan die absurde grens.

Genoeg. Liewe mense, ek wil beklemtoon dis nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse prent is dat die uwe krities is nie. Dis omdat die weergawe op die groot skerm nie reg laat geskied aan die boek nie. In elke taal is so iets ‘n teleurstelling. Al is “Roepman” stukke beter as “Liefling”, is die aanspraak op internasionale standaard ietwat ooroptmisties, vrees ek.

Naskrif: Dis seker maar ‘n kleinigheid, maar synde uit die koerantwêreld kan die uwe nie van sy irritasie ontkom as met koerante allerhande vermybare foute insluip nie. Dr. H.F. Verwoerd is op Dinsdag 6 September 1966 in die Volksraad vermoor. “Roepman” gebruik die Sondagkoerant Dagbreek om die moord in sy hoofberig aan te kondig. Ai tog, teen Sondag was die moord self ou nuus. Weet die vervaardigers nie dat nuus ‘n bederfbaarder produk as ‘n ryp piesang is nie? Ek weet in Durban was geen eie Afrikaanse dagblad nie, maar hulle kon maar liewer die Verwoerdmoord op die voorblad geplaas het van ‘n fiktiewe dagblad soos “Die Basuin” of so iets. (HvD)

VALLEI VAN VERLEIDING

More uit Melkbos

Kyk, hierdie ou is lief vir sy wyntjie. As ware wynliefhebbers begin gesels, is dit egter dikwels bo my vuurmaakplek. Die geure van vrugte en neute wat hulle so behaaglik raakruik en –proe, ontwyk my gewoonlik. Wyn is vir my lekker (meesal) of nie lekker nie (by uitsondering).

Ek was die naweek by ‘n kelder wat die klem nie net op die neus, die smaak en die gewone sintuiglike gewaarwordinge van wyn laat val nie. Hy bemark sy wyne met ‘n ietsie ekstra; noem dit maar ‘n speelse sensualiteit.

Die name van sy produkte is al klaar prikkelend: Temptation, The Original Sin, Nymphomane …. Die simbole op sy etikette en brosjures voer die suggestie verder: ‘n naakte eva en die slang, slanke vrouefigure minus hul kleertjies in ‘n ring-a-rosy-kringetjie (kyk die Satyrica-etiket), ‘n dame met bloedrooi lippies by ‘n volmaak-ronde bloedrooi appel – ewe begeerlik.

Die kelder se naam is La Vierge (betekenisvol, die “maagd” in Afrikaans). Hy is in die prentjiemooi Hemel-en-Aarde-vallei, naby Hermanus, gebalanseer teen ‘n hang, omring van wingerd wat in diep herfskleure begin ryp raak. Draai regs, as jy van Hermanus se kant kom, by die Wine Village op die R43 na Kleinmond. Net 6,6 verder km op die R320 “sweef” die wit verdieping-gebou met sy uitnemende uitsig oor die skilderagtige vallei.

La Vierge (spreek uit La Vie-ersj) begroet jou met ‘n ondeunde lewensgroot beeld van ‘n meisie met ‘n rokkie wat doer wip by die trappies van die parkeerplek af. Die wip van die rokkie verklap die geheim van onderkleertjies wat uitdagend ontbreek.

Dit tref jou dadelik: die liefde vir die vrou en die liefde vir die wyn (die wyntjie en Tryntjie van die spreekwoord) loop hier hand aan hand, waarskynlik oor die bekoorlikheid en verleidelikheid wat aan hulle gemeenkaplik is.

Ou vriende, Chris en Annette van Rensburg wat wydsbeen in Bloemfontein en Kleinmond woon, het my en Tokkie aan La Vierge gaan bekend stel nadat ons die vorige middag al ‘n heildronkie met sy sprankelende, droë Cap Classique op die weersiens gedrink het. Die impak was onmiddellik.

La Vierge haal graag vir Oscar Wilde aan, bv. dat “the only way to get rid of temptation is to yield to it.” Hy nooi besoekers met die belofte dat “paradise awaits”.

Gaan oordeel maar self oor die “paradys”-storie. Die prentjie van La Vierge tussen die wingerde is egter diep ingegrawe in my gemoed. Ek kan dink dat as jy jonk is, ‘n wittetjie of rooietjie op die “champagne veranda” wat as’ t ware oor die wingerd sweef, die verbeelding kan laat huppel van die sensasie van nektar op die tong, tot die gevoel van sagte fluweel onder die vingerpunte, tot algemene ekstase.

‘n “Nymphomane-tjie” of twee kan by wyse van spreke tot ‘n “Affaire” lei – nog een van La Vierge se wynname. Maar wag, ek is 70 jaar oud.

‘n Mens besing verskillende kelders om verskillende redes. Vir La Vierge hef ek ‘n loflied aan oor sy ligging in daardie skilderagtige vallei; ook die smaakvolle bewondering vir die fynheid van die vrou en van goeie wyn wat hy so gloeiend uitstraal. Ten derde oor argitektoniese attribute soos strategies geplaasde toilette wat, sittend, die asemrowendste panorama bied.

Chris en Annette verseker dat die kos ewe verloklik en strelend vir die sinne is. Hulle kan oor kos oordeel, want Annette is self ‘n towenaar agter die kospotte.

Maar moenie dink om te swig vir La Vierge se versoekings kom goedkoop nie. Soos elke temptasie het dit ‘n prys – die Cap Classique kos iets soos R130 ‘n bottel. Vir liefhebbers met dik beursies is dit seker nie buitensporig nie, ek weet. Maar ek kan die wete nie uit my kop verdryf nie dat ek Nuy se voortreflike vonkeltjie (‘n vrugtige Sauvignon Blanc) teen R30 ‘n bottel kan opraap as ek tussen Worcester en Robertson reis. (HvD).