WAAR’S DIE LEEU?

More uit Melkbos

‘n Skilder hou by ‘n karaktervolle kremetart in die Krugerwildtuin stil om dit vinnig te skets. Op daardie oomblik daag ‘n stowwerige motor met ‘n GP-registrasie op. Binne is pa, ma en vier kinders. Dit lyk of dit vir die verwaaide gesinnetjie ‘n lang, frustrerende dag kon gewees het.

“Wat sien julle?” vra die nuwe aankomeling hoopvol. “Ons kyk na die boom,” antwoord die skilder. “F… boom,” brom die Gautenger. Toe trek hy weg met ‘n vaart wat sy verontwaardiging verraai.

Wildtuinbesoekers kan erg uiteenlopend wees. Een sarsie soek net leeus. ‘n Ander sal amper bo-oor ‘n leeu ry om ‘n roofvoël te kiek (of ‘n boom te skets). Jy kry diegene wat net rondry van vroeg tot laat asof iets hulle jaag, en diegene wat die rustigheid van ‘n koelteboom by ‘n watergat verkies.

Jy kry mense met eerbied vir die natuur en die etiek van wildbesigtiging. Jy kry wildewragtigs wat geen snars omgee nie en reëls buig en breek soos hulle lus kry, en veral by piekniekplekke van hulleself ‘n lawaaierige oorlas maak. Die nuwe geen-alkohol-vir dagbesoekers-reël is op laasgenoemde se rekening en hul rekening alleen.

‘n Subspesie van die chroniese leeujagters is wat ek wil noem die ankermanne. Dit is die ouens wat anker uitgooi as hulle snuf in die neus kry ‘n leeu (of luiperd) is dalk in die omgewing. Dan klou hulle, in afwagting op die ontwykende dier se verskyning, verbete aan hul staanplek, soos nete – ongeag of iets gebeur en hoe die motors om hulle opdam, soos almal beur en nekke rek om “ook te sien”.

Net buite Satara se kamphek was nou die dag een van daardie leeus waarvan almal gehoor het, maar niemand presies weet waar om voor te soek nie. Toe ek die oggend daar verby is op pad na N’wanetsi vir ‘n koffietjie was ‘n ou in ‘n wit kombi op die toneel geanker. Hy het iets gehoor van ‘n “male lion stalking an impala”, maar “you can’t see it now”.

Ons is met die teerpad N’wanetsi toe en met die rivierpad (die S100) terug. Ons het baie mooi kameelperde, waterbokke (ook klein waterbokkies, of “druppeltjies”, soos Tokkie hulle noem) en sebras gesien. By die natuurskone Gudzanidam in die driehoek wat die S100 en die S41 ‘n klipgooi van die Mosambiekse grens vorm, was olifante, sebras, rooibokkies, allerlei reiers en ‘n krokodil.

Toe ons terugkom was die wit kombi nog op die toneel, plus ‘n pakkaas ander voertuie kruis en dwars geparkeer sodat niemand kon verbykom nie. ‘n Vrou met ‘n besorgde frons het beduie daar is “one male lion”, maar hy is in die skaduwee van die bos. Sy soek hom nog, het sy erken.

Ons is mik-mik deur die nouste van nou gapings om gou in Satara ‘n sakie of twee te gaan afhandel. Toe sien Tokkie die maanhaar. In die skadu maar onmiskenbaar. Sy beduie en ek sien hom ook.

Toe ons weer verbykom was die kombi nog daar. En die bekommerde vrou met die frons. Weet nie wat hulle intussen gesien het nie.

Ons het ‘n rukkie by die uitgestrekte Nsemanidam op die Orpenpad (die H7), stilgehou en is toe met die S40 na die Girivanadam ‘n paar kilometers van die grootpad af. Daar het ons voorheen al leeus gekry, en ook ‘n reuse-swerm rooibek-kweleas in ‘n boom.

Hierdie keer was daar niks. Maar die rustigheid onder ‘n koeltemoom was tasbaar. Ons toebroodjies en koffie uit die warmfles was soos koningskos.

Ek onderskat nie leeus (of luiperds) nie, en is ook opgewonde as ek hulle raakloop. Ek wonder darem: heg party mense nie te veel waarde aan ‘n vinnige glimps van een van die Groot Katte ten koste van baie ander Wildtuin-genot wat hulle kon beleef het nie? (HvD)

KRAAI OOR MY KUIKENS

Kellerprinz-braai 1981. Die Van Deventergesin by twee jong kollegas, Tom Ferreira en Deon Meyer.

More uit Melkbos

Deon Meyer is gewis Suid-Afrika se mees gerekende skrywer van spanningsverhale op die internasionale toneel. As groen redaksielid, vroeg in die jare 80 by Die Volksblad in Bloemfontein, was hy ‘n vuur-en-vlam-verslaggewer. Hope entoesiasme was in sy skraal lyf te bespeur.

Ek het al voorheen gespog met die beroemde gees wat Die Volksblad in my redakteurstyd opgelewer het (asof ek iets met sy latere roem te make het!). Ek voeg graag onbeskeie by dat ook Chris Karsten, die kroonprins van Afrikaanse spanningsliteratuur, een va my kuikens was (asof sy latere sukses deur my toedoen is!), maar dit daar gelaat.

Nou dat Deon se begindae in die joernalistiek in die jongste Sarie te berde gekom het, kan ek seker maar weer die spogvoet voorsit. Sarie haal die uwe kortliks aan oor Meyer as jong joernalis. Ek gee hom die lof wat ek hierbo uitspreek, maar het in my kommentaar in alle eerlikheid bygevoeg dat ‘n element van verstrooidheid, helaas, ook teenwoordig was.

Nog kort by Die Volksblad, het hy ewe onverskillig mnr. Kosie Pansegrouw – groot gees van Rouxville – tot Piet Pantsegrouw (!) herdoop. Vonke het om die redakteur se kop gespat. Dié het dit met rente afgewentel.

Vir die energieke jong man met die deurmekaar kuif, groot brilglase en sonskyn-glimlag kon jy nie lank kwaad bly nie. Hy was ‘n joviale kollega, en het gou uit die redaksie ‘n kampioen-braaispan georganiseer.

‘n Ouer spanlid onthou hoe hulle gedryf is. Meyer wou wen! Hy het ook – Die Volksblad het die Kellerprinz-kroon losgebraai. ‘n Lekkerlees-poprubriek, Popskop, was sy volgende monumentjie. Tot Advokaat Lang David de Villiers in die Kaap het Deon Meyer se Popskop glo verslind.

Meyer het geglo sy stories móét op die voorblad wees, en het elke berig – hoe gering ook al – gepak asof dit die hoofstorie was. Sy kollegas het hom eers oor dié gedrewenheid gespot. Hul spot het vinnig plek gemaak vir bewondering. Hulle het besef “verloor” was nie in hierdie man se woordeskat nie.

Miskien sy onvergeetlikste Volksblad-storie was ‘n onderhoud met die kanonvoet-losskakel De Wet Ras nadat dié ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het, terwyl hulle gesels, telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig.

Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe. Dit was darem nie, en die jong Deon het hom met sy voorbladstorie onderskei as die begaafde joernalis wat hy inderdaad was.

Deon, ek salueer jou. Ryg nog vele treffers uit. (HvD)

Naskrif: Goeie of slegte nuus, maak jou keuse – ek is egter nog nie klaar geskryf oor die Van Deventers se bosvakansie nie. Staal jou vir ‘n volgende aflewering na hierdie vinnige onderbreking!

RIVIER VAN SOET WATERS

Middag uit Melkbos

Ek en olifante is dit eens: die Olifantsrivier se water is soet. Ons keer weer en weer terug – ek na die kamp doer bo op ‘n steil heuwel om sielsaligheid te vind, en die Grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.

Die arendsnes-uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?” Daardie aanspraak is egter nie honderd persent juis nie.

Die rivier, hoe meesleurend ook al, is in my boekie net een van die magnete wat Olifants-verslaafdes telkens teruglok. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra by tot Olifants se karakter.

Een keer was die Van Deventers in ‘n hut langs ‘n Van Wykshout. Die moeder van die huis is ‘n Van Wyk. Dit was ‘n ontdekking hoe mooi haar boomgenant blom!

Ander, ewe kragtige, trekpleisters is moeiliker om in woorde uit te druk of met ‘n swaai van die arm aan ‘n eerste besoeker te wys. Dit is iets mistieks – iets opkikkerends in die lug, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuis kom wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante die kamp binnery.

Jy hoef nie bo op die rotsrif te staan en op die rivier af te kyk om te ervaar dat Olifants Wildtuin is met ‘n hoofletter W nie. Jy voel dit al in jou gebeentes terwyl jy nog nader kom, soos die H1-4 stadigaan voor jou korter word, die blou Lebomboberge nader in die visier kom en die mopanies digter en meer raak.

Ek en Tokkie was die vakansie weer in Olifants – die soveelste keer. Ons het sommer beskeie in die doodgewone rondawel 59 geslaap, waar ons die rivier net kon hoor. Ons genot was egter nie minder as diegene s’n wat tot donker op hul stoepies met verkykers die rivier en sy hinterland kon bespied nie.

Vir verskeie vriende het ons van ons stoepie af boodskappies gestuur: “Ons vuurtjie brand vanaand in Olifants. Dit voer ons gedagtes ver-ver terug.” Ver-ver, inderdaad. Saam met studentevriende, bure en ander goeie maats is goue tye hier deurgebring. Ou albums vertel hoe die tyd aangestap het. Die kinders op die foto’s raak groter, die grootmense gryser.

Pa en Ma Malan het ons aan Olifants bekend gestel. Ek onthou die eerste indruk: ‘n menigte roofvoëls wat in die lugstrominge bo die ravyn sweef. “Sweef soos ‘n arend …”

Daardie aand het ons in die restaurant gaan eet: outydse kos – sop, vis, twee vleisgeregte, groente, gebakte poeding, afgespoel met ‘n bottel Grünberger Stein en koffie. “Nes die Impala se kos”, het Ma opgemerk. Sy en Pa het daardie tyd die Impala-Residensie in Visagiestraat, Pretoria, bedryf.

Ma het ‘n keer haar goue horlosie (met enorme sentimentele waarde) in Olifants vergeet. ‘n Enkele oproep was nodig. Dit is by hul huis in Gezina afgelewer. Goeie ou dae.

Ek onthou onder meer hoe ons uiteindelik, na hoeveel nekrek-episodes, die seldsame witkopkiewiet op die sandbanke by die brug oor die Olifantsrivier op die H1-4 in Tokkie se Newmans kon afmerk; die enorme trop rooibokkies neffens die uitkykpunt net voor die afdraai na die kamp, en ‘n klaarblyklike seekoei-konferensie – net swart lywe en snoete waar jy kyk – naby die laagwaterbrug by die intieme, klein kampie Balule, waar ek in Julie ‘n nag gaan deurbring – die vervulling van ‘n ou droom.

Van Olifants onthou ek, helaas, ook enkele teenspoedjies. Een is my skrik toe ‘n bobbejaanmannetjie by die uitkykpunt by my in die kombi spring en my broodjie uit my hand pluk. ‘n Ander is hoe dieper die draadstoele se pote in die nat grond wegsak terwyl ek en studentemaat Manie Steyn al hoe dieper in die wynbotteltjie loer, en ook al hoe dieper by ons vroue in onguns beland.

Annette van Rensburg van Bloemfontein was nie min verontwaardig nie toe ‘n geveerde van onbekende herkoms op haar kroontjie tjorts. En uiters ontstellend was die gloede van brande, brande, brande ver op die horison in 2001 toe dit wou lyk of vlamme die park wou verswelg.

Gelukkig is die natuur se salf altyd ‘n wondergom wat die kwaaiste littekens verberg.

Deesdae gaan my kierie van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvark-tand al saam Wildtuin toe, nie uit vertoon nie maar uit noodsaak. Tokkie dra ewe sorgsaam die swaarste bagasie om die ou man se kranklike heup te beskerm. Gelukkig is ons darem nog nie te oud vir Olifants nie! (HvD)

UIL OP ‘N KLUIT

Middag uit Melkbos

Die uil – ‘n reuse-ooruil – lyk maar taamlik verlee: ‘n regte uil op ‘n kluit.

Tussen Olifants en Satara in die Krugerwildtuin het ek en Tokkie ‘n hele ruk vasgenael gesit terwyl ‘n kordate kroonkiewiet die ou uit alle rigtings bombardeer.

Soos ‘n wafferse “Spitfire” het die kiewiet al vuur spoegende en al kwetterende die een aanval op die ander op die verwarde uil geloods.

Die ou grote moes net koes. Hy het seker te naby aan die verbete aanvaller se nes gekom.

Ek voel self ook maar uil-op-‘n-kluit-erig. Telkens het ek die Canon se sluiter net te laat gedruk. Die kiewiet het klaar verby geswoesj as ek die toneeltjie verewig.

Sou nie as sportfotograaf my brood kon verdien het nie. (HvD)

* Lees die blog “Die uil en die kiewiet” hieronder.

BIELIES VAN DIE BOS

More uit Melkbos (koud maar met stralende sonskyn)

Twee bielies van die bos wat in April in Sabiepark raakgeloop is, is die kampioen-sampioen hierbo en die witmot met die yslike angel hieronder.

Tokkie se twee hande slaag nie naastenby om die blink. brons knewel van ‘n paddastoel te omvou nie.

Die witmot was al oorle witmot toe Tokkie hom iewers naby die huis optel. Sy “tradsisionele wapen” was egter nog ver van verskrompel.

Een kyk is voldoende om te weet waartom die sop so gespat het toe die meneer my vrou se toon op ‘n vorige vakansie in Sabiepark in haar slaap aangeval het.

Ons soek en soek, maar sukkel om die spesies op die foto’s te identifiseer – bedoelende die paddastoel en die mot, nie Tokkie nie! Laat hoor tog as jy dalk kan lig werp. (HvD)

UIL EN DIE KIEWIET

More uit Sabiepark

‘n Konfrontasie tusen ‘n kroonkiewiet en ‘n reuse-ooruil in ‘n boom langs die H1-4 op pad terug van Olifants na Satara is dié een enkele toneeltjie van hierdie Aprilvakansie wat my sal bybly. Die verwarde uil moes net koes vir ‘n vale terwyl die kiewiet kwetterend een lugoffensief op die ander om sy kop loods. Hy was seker te naby aan haar nes.

Die Vyf Grotes kon op daardie uitstappie afgetik word. Mooi troppe buffels het na Tshokwane voorgekom. By die skilderagtige Gudzanidam aan die einde van my geliefkoosde S100 na N’wanetsi was ‘n trop olifante in die water. Die leeus was vier welpies. Die skattige gevreetjies was in die lang gras langs die pad naby Olifants – op dieselfde stuk as ons luiperd en renoster.

In Sabiepark was ons nommer een-ervaring sommer op die eerste aand. ‘n Yslike luislang, ons eerste tot dusver – seker maklik vier meter van kop tot stert. Gelukkig het hy later moeg geword vir die laatwag-speletjie. Ons was haastig om by die huis te kom.

‘n Verdere vermeldenswaardigheid is die agt spesies wat ons Maandagaand 16 April binne twee uur besoek het, ‘n rekord. Hier was koedoes, sebras, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke, bosnagape, nagapies en ‘n gewoonlik uiters skugtere bosbokram, wat seker ‘n uur lank rustig om die huis gewei het – asof hy die koekieblik ontdek het, sê Tokkie. Die volgende met eerste lig was hier kameelperde en vlakvarke.

Carl en Sarah was Maandagaand hier vir ‘n skaapboud uit die Weber. Hulle het die volop wild ook geniet. Ongelukkig was die voolmaan agter die wolke.

Die bosnagape het die kleintjies nou uitgeboer. Eersgenoemde kom te laat. Die ou grotes laat nie op hulle wag nie. Hulle sit in die maroelaboom of stap ongeduldig op die dak rond. As die piesang op die tafel kom, is dit verby met Doris Day.

Ons is vies vir die bosknape wat alles vir hulleself inpalm. Een het ‘n hele gesinnetjie egter in die boom sit en wag – die toonbeeld van huislikheid. Ma en kind lek mekaar oor en weer. Toe die ete op die tafel kom, bars huismoles egter los. ‘n Ander aand het een seker ‘n uur lank in die knoppiesdoring voor die huis sit en skree, tot sy stem deurslaan. Wat hom ontstel of opgewonde gemaak het, kan ons maar net raai.

Ons het uiteindelik ‘n witmot kon afneem met die geweldige angel ontbloot. Jy kan sien hoekom is daardie gogga se byt nie speletjies nie.

‘n Ander vreemde verskynsel was ‘n reuse-sampioen – brons, blink en breed. Tokkie se twee hande kan dit nie toevou nie.

Iets nuut van ‘n ander aard om aan gewoond te raak, is die geen-alkohol-reël vir dagbesoekers aan die Wildtuin. ‘n Wyntjie by Lake Panic is deesdae uit. Ek moet ook gewoond raak aan die ys (sulke klonte) in my wyn langs die vuurtjie. Maar ek MOET gewig verloor!

Die dak voldoen aan ons verwagtinge. John Izaaks het netjies gewerk. (HvD)