KOEBAAI, WREDE WeRELD!

More uit (‘n nat) Melkbos

Saterdag 2 April wanneer die eindstryd om die krieket-wêreldbeker in Indië gespeel word, is die uwe op reis. Die Van D’s is op pad Sabiepark toe. Wil gaan kyk hoe lyk die (duur) nuwe dak.

Wanneer die eerste bal afgestuur word, sal ons op Kulula se vlug MN 112 na O.R. Tambo wees. Met die laaste bal behoort ons so plus-minus by Sabiepark se hek aan te kom (as ek die speeltye reg het).

Dis natuurlik as ons teenspoed vryspring. Veral die stuk pad tussen Hazyview en die Krugerhek is in die beste omstandighede nie ‘n plesier om te ry nie. Op ‘n Saterdag-laatmiddag sal ‘n mens op jou tande moet kners, en wawyd wakker agter die wiel wees.

Hoe ook al, toe ek ontdek watter belangrike krieketdatum 2 April is, was my geldjies vir die kaartjies klaar in Kulula se bankrekening. Vir die datum en tyd van ons vlug was prys deurslaggewend. Ek kon nietemin, soos my Tant Minnie altyd gesê het, my hare uit my kop trek dat ek jou waarlik die eindstryd kon vergeet.

Soos dinge ontwikkel het, hoef ek my nie te lank te verknies het nie. Die Proteas het weer eens soos ‘n vrot vuurhoutjie geknak. Agterna is verskonings vir die stukkende “vuurhoutjies” natuurlik volop. Een bewering is selfs dat dit ons, die Suid-Afrikaanse entoesiaste, is wat die stomme spelers onder te kwaai druk geplaas het. Grappie (LOL)!

Hoe ‘n volwasse man soos Corrie van Zyl sulke kinderagtige bog skaamteloos kan kwytraak, slaan my dronk. Wie het dan vir ons kom wysmaak die span het die ruggraat om bo uit te kom? En is die hele lot nie professionele sportmanne wat uitstekend betaal word nie?

Ek dink die koerante is die klomp (ook Andrew Hudson en sy mede- keurders) te genadig, en laat veral Graeme Smith te maklik wegkom. Sy lafhartige Londense ontvlugting vat die koek – watter prysenswaardige kapteinskap!

Kom ons vergeet tog maar die droewigheid. Die koeël is immers klaar deur die konsistorie. Al het ons teen Nieu-Seeland gewen, sou ons buitendien nie oor die volgende hekkie gekom het nie. Sri Lanka se topkolwers is nie “chokers” nie, en Malinga en Murali slaan jy nie sommer vir sesse nie.

Ekskuus as my luim nie lekker is nie. Ongelukkig is my gemoed ook deur ‘n ander ervaring versuur. Ek was Maandagnag in ‘n slaap-laboratorium om vir slaap-apnee getoets te word. Dit beteken ‘n nag in ‘n eensame hospitaalbedjie met ‘n hol matras en ‘n metaal-raamwerk wat rittel elke slag as jy beweeg; met jou lyf gekoppel aan minstens halfdosyn drade – aan jou neus, nek, bors, been en waar nie nog nie – en met die ongemaklike sogenaamde “bottel” as enigste uitweg as jy in die nag ‘n groot loop opdoen.

Ek het my slaaptoets gedop – nie verrassend nie in sulke nare omstandighede!

Ná die hartverskeurende krieket en die sielsverstorende slaap-toets sien ek reikhalsender as ooit na Sabiepark uit. Weet nog nie of ek uit die bos gaan prober blog nie, maar twyfel. Die selfoon-koppeling is in elk geval soos harmansdrup. En om drie weke lank in onversteurde sielsaligheid sommer net niks te doen, klink, soos ek nou hier sit, ‘n te genoeglike vooruitsig om enige inbreuk daarop eens te oorweeg.

Tot wederom. (HvD)

BOEK HET SY LIED VERLOOR

More uit Melkbos

Nou die aand wanneer sing Gé Korsten op “U Eie Keuse” Psalm 23 – ‘n aangrypende opname. Die wysie is bekend, maar ietwat ongewoon vir “Die Here is my herder”, soos ons oues die geliefde Psalm nog leer ken het. (Deesdae is dit mos “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie….”, ‘n omdigting deur T.T. Cloete.)

Oor die identiteit van die wysie in die Gé-opname ontstaan in die Van Deventer-bed, waarheen ons vroeg-vroeg verkas het, ‘n debat.

“Die Heer droog al my trane af …” is die naaste wat ek later neurie-neurie aan die oorsprong kom.

Toe gryp Tokkie die “Liedboek van die Kerk”, ‘n publikasie waarin sy graag rondblaai om die ontroerende digkuns van geïnspireerde einddigters soos die einste Cloete, Izak de Villiers, Antjie Krog, Lina Spies, Cas Vos en andere te geniet.

Die antwoord kom gou ter hand. Die wysie is dié van “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” (lied 602, teks Izak de Villiers), wat by soveel begrafnisse troos en hoop help bring.

Pragtig. Maar wat het van die “Liedboek” in onse kerk geword?

In sy voorwoord skryf prof. A.C. Barnard, voorsitter van die Psalmkommissie, “die kommissie nooi die Afrikaanse kerke om deur hierdie nuwe psalmbundel opnuut en met entoesiasme in te gaan en hulle regmatige geloofserfenis in besit te neem.”

Sê weer, professor! In my gemeente en ander waarvan ek weet, is die entoesiasme vir hierdie kosbare boekie, die produk van soveel inspanning en toewyding van soveel talentvolle mense, klaarblyklik maar bra eina.

Ons sing van die skerm af, ook maar uit ‘n uiters beperkte repertoire, en dikwels, sonder skroom, in Engels ….. ” ‘Glory, glory, Hallelujah’ and so on forth.”

Die “Liedboek” is ‘n lig wat onder ‘n maatemmer versteek word – ‘n offer aan die vertering van mot en roes, helaas.

Hoe hartverskeurend. Kan iemand hierdie onverklaarbaarheid verklaar?

Naskrif: Lank het ek gewonder hoekom ons in Lied 178 sing van “paatsjêm, paatsjêm” terwyl die Latynse uitspraak vir die word “vrede” tog “pacem” is (die “c” soos ‘n “k” uitgespreek). Toe Tokkie my aansteek en ek in die “Liedboek” begin rondlees, ontdek ek hierdie insiggewende mededeling: “Liturgiese Latyn volg ander uitspraakreëls as akademiese Latyn”.

Nooit geweet nie. Nou is hierdie Latyn 1-er (Tukkies 1959) ook op datum!
(HvD)

DIE SIEL VAN DIE IER


More uit Melkbos

Vir iemand wat nog nooit in Ierland was nie, het ek nogal heelparty Ierse liefdes, herinneringe … en selfs soeweniers.

Ierse musiek, Ierse whiskey (Jamesons), Ierse koffie (natuurlik opgedis slegs met Ierse watertjies onder die room, tog nie Skotse watertjies nie) – dis hoog op my lys van Ierse vreugdes.

Hierdie Ierse draai is n.a.v. mededelinge deur my vriend Sarel Venter van Bloemfontein, wat op sy beurt regaeer het op my onlangse blog-verwysing na St. Patrick-dag in Suid-Boston op 17 Maart 1977.

Hy’t laat weet:

“Jou verwysing na jul “Ierse” herinneringe het my laat dink aan ons reis van sowat 12 dae en 3000 km deur Ierland in 2004. Die landjie het my van kindsbeen af gelok – dalk omdat my ma ook Ierse skrywers se boeke gelees het en lief was om Ierse liedjies te sing. Soos When Irish eyes are smiling en Galway Bay. Veral as ons op die lang pad reis. Kosbare herinneringe.

“Ek het twee CD’s met ‘n keur van Ierse liedjies in Ierland gekoop en dit op Irish Car Rentals se Vauxhall Astra se CD-speler gesit.

“Toe ons Galway Bay nader het ons na die bekende Galway Bay geluister. ‘n Gunsteling van my ma. En Rose of Tralee is gespeel by die dorp met hierdie naam. Dan was daar ook onder meer The Wild Rover (‘n heerlike liedjie), Danny Boy en Molly Malone, wie se standbeeld in Dublin staan.

“Die aand in Galway Bay het ons in ‘n Irish pub heerlik gekuier en geëet. En swart bier gedrink.”

Ek e-pos daarop vir Sarel die omslag van my CD Irish Tenors (hierbo), die geskenk van ‘n Iers-Afrikaanse vrou, as daar so iets kan wees. Haar naam was Sybil Hellyer (néé Van der Merwe), wat getroud was met Glen Hellyer van Richwood, Kaapstad. Vyf Ierse tenore, onder wie John
McCormack, Josef Locke en Michael O’Duffy, sing daarop die treffers wat Sarel noem, en ander.

Van die einste liedjies het die aand in 1994 opgeklink toe ek in die prentjiemooi stadjie San Antonio in Texas aangekom het (die tuiste van die bekende Alamo-fort waar die kritieke slag om Texas se onafhanklikheid plaasgevind het). Ek was in die Hotel Palaccio del Rio, ‘n manjifieke plek op die oewer van die San Antoniorivier wat deur die stad kronkel (foto) .

Uit die hotel se karaktervolle Irish pub het die een Ierse liedjie na die ander aangesweef gekom terwyl derduisende liggies in die bome flonker en die water om roeibootjies in die water klots. Romanties verby.

Onder my Ierse soeweniers is, buiten die CD en ‘n bottle Jamesons in my drankkabinet, ook die DVD van André Rieu se konsert in Dublin, die geskenk vir my 70ste van ‘n mede-bewonderaar van die “Walsende Hollander”. Die gaskunstenaar is die wonderlike, bebaarde Ierse violis John Sheahan, wat sy baie mooi Marino Waltz uitvoer. John and André sorg vir groot plesier met The Irish Washerwoman.

Sarel stel voor dat ek Pete McCarthy se McCarthy’s Bar / A journey of discovery in Ireland lees. Dis baie snaaks, bevind hy. Ek wil dit doen. (Oral deur Ierland kry jy pubs van die McCarthy-franchise).

Hy stel ook voor dat hy en Liesbeth en ek en Tokkie, as almal fiks en gesond is, as ‘n soort “laast fling” in Ierland van pub tot pub gaan kuier. Hoekom nie? Dit sal net lekker wees om die siel van die Ier op daardie manier beter te leer ken! (HvD)

OM TE LOL OF NIE

More uit Melkbos

In my woordeboek het lol ‘n ander betekenis as in die die nuwe Oxford English Dictionary. Die OED verklaar dit beteken “laughing out loud”. Ek het egter by my taalmentors geleer:

Kinders lol as hulle neul, bv. vir geld, om te gaan fliek, of vir skoene/klere met die regte etiket.

Jy lol met iemand as jy moeilikheid soek, soos die twee Kiwi-krieketspelers Vrydag met die arme Faf du Plessis (hoekom die slagoffer van hul treitering ook beboet is, weet ek nie).

Grootmense wat met kindertjies lol, is pervers verby. Dit is nie iets om oor te LOL nie.

LOL (hoofletters) dateer glo terug tot 1960, aldus die OED Toe het dit ‘n gans ander betekenis gehad: as om hardop te lag, te wete “little old lady”. Elektroniese kommunikasie, soos op die op sosiale netwerke Facebook, Twitter en MXit het daaraan die nuwe betekenis gegee.

Toe ek lol (liewer LOL) die eerste keer in sy nuwe betekenis sien (in reaksie op ‘n blog jare gelede) was ek stomgeslaan. Ek het beskroomd by die gebruiker navraag gedoen. Sy het seker hardop gelag vir die onnosele ou oom se onkunde (LOL)!

Die kode-mode is nie nuut nie. LOL kom in die voetspore van ander uitdrukkings soos die 19de eeuse term OK, wat almal ken, maar waarvan niemand werklik die oorsprong kan verklaar nie. Soveel mense, soveel teorieë.

Buiten dat ons as kinders links en regs ge-OK het, het ons ook (lank voor die dae van Mxit) grootgeword met die word FL (“French letter”). Die word “kondoom” (soos die produk self) het ek eers baie later in my lewe teengekom.

In die bosoorlog was HKGK (“hier kom groot dinges”) aan die orde. My kollega Johan van Wyk het dit nogal in sy rubriek Stop van Myne in Die Volksblad meermale gebruik. Maar dit het klaarblyklik nooit inslag gevind nie.

Die vraag wat my kwel, is: is LOL in die spreektaal maar OK? As uitgesproke vyand van Mxit moet ek ruiterlik verklaar ek dink nie dit is nie.

Maar dis oukeier, sou ek reken, as OMG (“oh my God”), wat seker die woorde is wat die heel meeste in Amerikaanse flieks en TV-sepies voorkom., naas “fuck. Die OED verontskuldig hom dat die term OMG die eerste keer in 1917 in ’n persoonlike brief gebruik is. Sowieso. Om die Allerhoogste se naam so ydellik aan te roep, behoort alle regdenkende mense teen die bors te stuit.

‘n Amerikaanse koerantredekateur, wat deur twee lollerige tantetjies mal gemaak is omdat sy koerant nie die uitslae van hondeskoue wou publiseer nie, het in frustrasie langs die koerant se mashoof nie OMG aangebring nie, maar THWTB. Lesers het bespiegel dat dit beteken: “The hard way is the best”. Voor sy dood het hy erken dit staan vir: “To hell with the bastards”.

THWTB – dis seker maar wat vandag se jong geslag dalk nog op ‘n kru-er manier ook sê oor ons oues wat oor hul manier van praat ons monde vol het! (HvD)

SY EDELE MNR. DIE JOERNALIS

More uit Melkbos

“I am satisfied that all politicians were meant to be journalists and all journalists meant to be politicians.” Hierdie uitspraak word aan ene Owen Arthur toegedig – vermoedelik ‘n vorige premier van Barbados, tensy ek sleg ge-Google het.

Sy stelling klink ietwat rof. Ek kan aan verskeie joernaliste dink wat nie as politici sou deug nie, en sommer baie meer politici wat nie as joernaliste sou regkom nie. Oor die redes wei ek liewer nie uit nie. Hoekom sal ek nou daaroor rusies uitlok?

Oor iemand wat in albei kampe was, het ek enkele dae gelede geblog. Hy was pres. C.R. Swart, wat van die laat 20’s tot in die 30’s ‘n ridder van die tikmasjien was – in ‘n stadium twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.

Rêrige Afrikaanse redakteurs wat tot die kabinetsbanke gevorder het, was die eerste ministers D.F. Malan en H.F. Verwoerd, asook dr. A.J.R. (Albertus) van Rijn en dr. Andries Treurnicht, wat leier van die Konserwatiewe Party geword het. Malan was Die Burger se redakteur, Verwoerd Die Transvaler s’n, Van Rijn Die Volksblad s’n en Treurnicht Hoofstad s’n. (Die Burger se A.L.. Geyer het ambassadeur in Londen geword.)

Verwoerd het die ongelukkige “roem” as redakteur verwerf dat hy sy koerant die koningsbesoek in 1947 laat ignoreer het. Slegs die strate wat gesluit sou word vir die koninklike optog deur Johannesburg is vermeld. Goeie aarde, doktor!

Van Rijn se lessenaar het later ook my lessenaar geword. Ek het sy begrafnis in Bloemfontrein bygewoon. Die arme dominee het daardie middag kleigetrap. Hy het aanhoudend na die oorledene verwys as Gerhard van Rijn, die naam van sy oudste seun. Gerhard van Rijn, wat regter-president van Noord-Kaapland was, het in die familiebanke al hoe rooier in die gesig geword.

P.W. Botha wat premier en staatspresident geword het, het ‘n kort loopbaan by Die Volksblad gehad. Ook in pres. Marais Viljoen se are het joernalistieke bloed gevloei. Hy was onder Verwoerd by Die Transvaler.

Ander ministers wat via koerante in die politiek gekom het, sluit in Blaar Coetzee, Hennie Smit en Marais Steyn, wat sir Div se regterhand in die Verenigde Party was voordat hy oorgestap het.

A.M. van Schoor van Die Vaderland (vertaler van o.m. Tarzanboeke) het senator geword (as ek reg onthou). Gert Terblanche van Die Volksblad was senator, LV en ambassadeur. Abraham Jonker, pa van Ingrid, en Frik van Deventer was LV’s.

Meer resent, was Piet Coetzer (pêl van wyle Fanus Rautenbach en politieke beriggewer van Die Transvaler, LV. Dene Smuts, LV, was redaktrise by Fair Lady (‘n publikasie van Naspers).

My lysie is net van Afrikaanstaliges. Ek aanvaar dit is onvolledig. Aan ‘n poging om die politici te lys wat uit die Engelse pers kom, waag ek my liewer nie. Ek sal ongetwyfeld misvat. Drie name duik egter dadelik op.

Die bekendste van die dag is natuurlik Helen Zille, kranige DA-leier wat so mooi Afrikaans praat (Rand Daily Mail). René de Villiers, redakteur van The Star, was ook in die parlement. Tertius Myburgh van die Sunday Times – ‘n portuur vir wie ek baie tyd gehad het – is uit die bloute as ambassadeur in Washington aangestel. Hy is aan kanker oorlede voordat hy sy edele kon word.

Die loopbaan van P.W. by Die Volksblad beskryf hyself as as “baie kort en baie opwindend”.

Opwindend? Wel, in die politieke hoogsomer van 1935/36 toe die stryd tussen Malaniete en Smelters oral laat oorgekook het, het hy verslag gedoen oor ‘n onstuimige tussenverkiesing in Frankfort en onder meer op 17 Februarie 1936 vir ‘n hoofberig gesorg met die volgende stapel opskrifte: Vroue moet met stoelpote orde herstel op Villiers/Smelters se aanslag op verhoog dadelik gestuit/Skokkende wanordelikhede/Oorweldigende Nasionale gevoel, moedige vroue-optrede ontketen.

Baie kort? ‘n Persoonlike grappie tussen hom en wyle Oom Skakel Kriek, wat in daardie tyd nuusredakteur by Die Volksblad was (later o.m. redakteur van Landbouweekblad) was dat laasgenoemde die latere premier en president gou-gou sou aangeraai het om liewer ‘n ander loopbaan te volg.

In my boekie Flaters en Kraters het ek die grappie genoem, met die doel dat dit as humoristies opgeneem moet word. Botha het dit as “vernederend” ervaar en my kop in ‘n telefoonoproep uit George behoorlik gewas.

Later het hyself tog in ‘n koerantonderhoud gespot hy was nie juis ‘n joernalistieke ster nie – “toe word ek maar ‘n politikussie”. Van Deventer is egter nooit vergewe nie. Ces’t la vie! (HvD)

BEL OF BELLE?

Naand uit Melkbos

Iets wat by die koerant van die eerste dag af by my ingedril is, is om respek te hê vir mense se name. Jy maak dubbel seker. ‘n Fout is onvergeeflik.

‘n Vriendin wat ook joernalis was, Rina Koen van Durbanville, onthou as iemand sê haar naam is Anna, het sy altyd gevra: “Anna met twee n’s of een n?”

Teen daardie agtergrond gaan skryf ek in my blog oor 7de Laan ewe onverskillig van San-Marie pleks van San-Mari, Bonnita pleks van Bonita en Isabel pleks van Isabelle.

Jammer, Laners! (HvD)