HORTJIES GAAN OP

Middag uit Melkbos

Vir korter of langer – net die tyd sal leer – gaan hierdie blog (webjoernaal) in reses.

Die hortjies gaan op o.m. oor ‘n besoek aan die Suid-Kaap, ‘n heupvervanging en ander aktwiteite op die program.

Ongelukkig kan ek nie raai wanneer HvD weer op sy pos sal wees nie. (HvD)

PILLE-PENARIES

More uit Melkbos

Twee klein slaappilletjies – een blouerig en een wit – gee my nagmerries. Die uitwerking van albei was geweldig. Ek onthou hulle dag en datum. Nommer een was al dertig jaar gelede, nommer twee sommer net die naweek.

My eerste pil-penarie had te make met my terugverhuising van Johannesburg na Bloemfontein in 1980. Verhuising is selde pynloos. Hierdie een is versuur deur ‘n taamlike gesukkel om in die Vrystaat ‘n huis na behoefte teen die regte prys te kry. Dit en ‘n hand vol ander trek-bekommernisse het geruime tyd die slaap heeltemal uit my gestel gedryf.

Na een van my laaste aande in Beeld se nagredakteurstoel, op 31 Mei, drink ek met my tuiskoms in die vroeë oggendure ‘n potente slaapppil . Net diep in droomland, lui die telefoon: Sasol brand na ‘n terreur-aanval!

Ek is met my benewelde liggaaam uit die bed, via ‘n yskoue stort, tot agter die stuurwiel van my silwer Audi en die 22 kilometer terug kantoor toe om gaap-gaap ‘n spesiale uitgawe te gaan uitgee. (Sy datum is 1 Junie 1980 – indrukwekkende voorblad, dink ek.)

Die twee bekers vol supersterk koffie wat Tokkie my tuis ingejaag het, het seker ook gehelp om my op my voete te hou, maar dit was maar ‘n stryd. As my kollegas egter iets agtergekom het aan die nagredakteur se reaksies het hulle dit hoflik verswyg.

Dieselfde hoflikheid het Tokkie nie aan die dag gelê nie toe ek Saterdagaand 12 Februarie 2011 na een glasie witwyn begin skeeftrap soos ‘n kreef. “Wat’s fout met jou?” wou sy streng weet.

Na ‘n tweede wyntjie was ek behoorlik hoenderkop, met al die nare simptome van iemand wat hoog in die takke is: waggelstap, dom tong en wat nog. Die ete saam met vriende van Langebaan, Ben en Rina, is vervroeg en vinnig agter die rug gekry. Die uwe is dadelik bed toe.

In die badkamer word die rede vir die ineenstorting toe ontdek – ‘n slaappilletjie wat weens ‘n dubbele verwarring (eers met vriendin Rina se voor-ete-pilletjies en daarna met my eie) plus ‘n dosis gebrekkige konsentrasie – hoogs prematuur gedrink is terwyl die son nog hoog sit.

Die simptome was maar ‘n verleentheid, maar toe ek die Sondagoggend ontwaak, was dit perdfris en vars soos ‘n madeliefie. Moet darem sê almal was verlig nadat die diagnose vir die vreemde gedrag eers bekend geraak het – nie die minste nie die slagoffer self. (HvD)

KAAL IN DIE KERK

Middag uit Melkbos

As matriekseun moes ek drie keer buk vir my laaste, my heel laaste, en my heel-heel laaste pakke slae. Een keer was nogal oor ‘n persoonlike mode-rebellie; die ander twee kere oor uit die koshuis glip vir rugby en vir fliek, laasgenoende in die matriekeksamen,

One o’ clock, two ‘o clock, three ‘o clock, rock – Bill Haley en sy Comets. Lekker!

Die klerekonfrontasie is vir die doel van hierdie skrywe relevanter. Ek is die aand eetsaal toe met ‘n krawat. ‘n Dasvereiste het gegeld. Mnr. Jack Slabber het daardie uitdaging van die klerereëls van Volkies se Jack Pauw-koshuis op die goeie ou Potch nie met welgevalle bejeën nie.

Hy het my dasloosheid as “onordentlik” bestempel, en ek het entoesiasties van hom verskil.

Uiteindelik is ek kamer toe gestuur om my “ordentlik” te gaan aantrek. Ek doen dit toe met mening, en keer terug in my blou dubbelborspak, beste Sondagdas, die lot. Die eetsaal dawer. Mnr. Slabbert – hy leef nog meen ek, maar is al diep in die 80 – word al hoe rooier in die gesig en wys my opnuut die deur.

Ek is daar uit, direk grootpad toe en ryloop toe na my ouerhuis op Klerksdorp (in 1957 was ryloop algemeen), waar ek voorspelbaar nie met ope arms ontvang word nie. Die Saterdag word ek agter in pa se Chevvie Fleetmaster geboender. Die hoof, dr. H.F.B. Muller, ‘n suur vent, wag grimmig in sy kantoor, rottang in sy hand….

Hoekom ek die hierdie storie opdiep? Wel, dis omdat ek iets oor die jeug se respek vir klerereëls op die hart het, en nie wil waag dat iemand my uitvang oor die geraamte in my eie kas in dieselfde verband nie.

Kom ons kry dit dus dadelik agter die rug: mea culpa – ek is ook skuldig. Ja, ek was maar goed moedswillig met die alewige dasdraery, en sal dus skynheilig wees as ek geen begrip vir jeugdige uitdagendheid teen gedwonge konformering openbaar nie.

Maar Hennie die haantjie moes op sy neus kyk – dit was die groot verskil met my pyn van die oomblik. Destyds kon jy ook die reëls uitdaag, maar gewoonlik teen ‘n prys. Vinnig-vinnig het die reëls gewen en jou agterwêreld gebrand.

Vandag is dit vir my of dinge half agterstevoor verloop. Die klererebelle is die oorwinnaars. Trouens, hulle word deur misleide gesagdraers subtiel en onsubtiel aangemoedig om selfs uitdagender te word en hulle al hoe minder aan reëls of standaarde te steur.

By die kerk is die kinders se kleredrag werklik vir die ou gryse ‘n bron van misnoegdheid. Seuns en meisies daag op in klere wat ek liewer nie sal waag om te probeer beskryf nie, buiten om te meld dat dit vir my, en ander ouer mense, soms maar uiters-uiters on-kerklik voorkom.

Ons verwag nie meer dubbelborspakke en dasse of sykouse en lang rompe mie. Maar onstigtelik is dit darem bepaald, soos die meisies gleufies en magies vertoon en die seuns se broeke dreig om oor die heupe grond toe te sak.

Selfs by die formeelste van formele okkasies op die kerkkalender soos Belydenisaflegging en nagmaal lyk die jongklomp meermale eerder na ‘n vrolike spannetjie pretmakers by ‘n informele tiener-uithangplek.

By ‘n onlangse nagmaal het graad 11’s en ouer kinders die brood en wyn uitgedeel. Mooi kinders, oulike idee. Maar mooi aangetrek? Moenie glo nie. Skynbaar was die strewe om so min as moontlik na pligplegers by die viering van die gewyde sakramant te lyk – eerder of hulle toevallig daar opgedaag het.

Die vrolike uitrustings van die spannetjie “informele diakens” is afgerond met ‘n bonte variasie op die tema plakkies – van daardie soort wat jy op die strand aanslof. Dat daar hoegenaamd plakkies aan hul voete was, was egter iets waaroor ons moet dankbaar wees, hoor ek. Dominee het laat glip die plan was oorspronklik om kaalvoet die kerk se gange in te vaar.

Klerekodes geld tog oral – mag jy byvoorbeeld kaalvoet gaan fliek? Of uiteet? Sekere restaurants sal jou gou die deur wys as jy die standaarde te ver probeer oorskry. Party het selfs stelle “moets en moenies” by hul deure opgeplak.

Hoekom is reëls hier aanvaarbaar, maar by die kerk taboe? Dáár “dryf dit jongmense weg,” soos ‘n besorgde leraarsvrou eendag iewers opgemerk het.

Wat die uwe ook nie begryp nie, is waarom kinders hulle vir okkasies soos matriekafskeide en sekere uitspattige partytjies so duur en deftig wil uitvat, maar vir die kerk wil hulle so “kasueel” as moontlik kom – in stranddrag as ‘t ware.

Ag, ek weet ek soek om gebrandmerk te word ….. ‘n regte Koos uit die oude doos, en dies meer. Maar ek wou dit van die hart kry en nou het ek … en voel ek ook sommer minder beswaard.

Meen, waarheen is ons op pad as ouer mense te bang is om vir voortvarende kinders sekere strepe te trek? (HvD)

LEER LAG-LAG UIT DIE WOORD

More uit Melkbos

Nie vir suurknolle nie – so sou ‘n mens ook ons Woensdagaand-Bybelstudie kon tipeer, wat in die kerk se Nuusbrief as “‘n gesellige, informele, sielsversterkende uurtjie om die Woord” aangedui word.

Vir ‘n lojale groepie seniors, wat die leraar (dr. Francois Hanekom) se aanbieding, atmosfeer en mekaar se geselskap klaarblyklik geniet, is Woensdagaande in hul dagboeke groot gemerk. Hulle bly nie sommer weg nie – al huil die Suidooster hier op Melkbos, of die dryf die Noordwester gietende reën oor die loodgrys see aan.

Frons iemand? Nee, ontspan maar, die uwe is self ‘n tradisionalis wat t.o.v. die erediens aan orde en gewydheid waarde heg. ‘n Mens gaan nie kerk toe om “lekker te lag” nie, soos ek al gehoor het. Humor by Bybelstudie sien ek egter in ‘n ander lig.

As ‘n mens kan lag om die Woord – en alte seker kan jy – is die Bybelstudie seker een van die aangewese plekke. Saam met die vrolikheid word kosbare Skrifwaarhede tuisgebring.

Ons is met Spreuke besig en ontleed o.m. die verskynsel van groepsdruk, wat veral jong mense, maar ook oueres, soms tot allerlei onheilighede meesleur. ‘n Swartlandse boer kom met ‘n buitengewone voorbeeld van sulke druk.

Toe hy op ‘n buurdorp diaken word, was hy bra lugtig vir in die openbaar bid, deel hy mee. Twee keer het hy sy ongereedheid te kenne gegee. Toe word hy voor ‘n keuse gestel: of jy bid of jy gee die hoofdiaken ‘n bottel KWV Laasgenoemde kon hy nie bekostig nie. Toe bid hy.

“Dis nie groepsdruk nie, dis afpersing,” laat hoor iemand.

O, onthou iemand anders, maar dit is mos die gemeente wat by geleentheid tweede in die Ring was met drankverbruik. Toe paai ‘n ouderling die nuwe leraar: “Dominee, moenie bekommerd wees nie. Hier hou ons nie van verloor nie. Volgende jaar sal ons bo wees.”

Steeds by Spreuke, word lekker gesels oor mense wat net boekekennis het, teenoor diegene wat self deur die meule gegaan het. Manlike ginekoloë kom ter sprake. Een van die groep onthou toe die storie van ‘n studentemaat wat, as deel van sy praktiese opleiding, sy eerste bevalling saam met ‘n klasmaat sou bywoon.

Dinge begin gebeur en die klasmaat word gestuur om die ginekoloog te gaan roep. Tussen begin die maat effe duiselig raak van die nuwe ervaring. Hy word aangesê om op ‘n stoel te gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Die klasmaat kom terug met die ginekoloog, sien die ou so sit en gaan val langs hom in in dieselfde posisie. Na ‘n ruk skud hy aan hom: “Dink jy ons kan nou maar begin kyk?”

Ook skoolinspoekteurs kom ter sprake. Dit ontlok die storie van die inspekteur wat by ‘n klas wou weet wie het die mure van Jericho afgebreek. Almal ontken skuld. Later kla die inspekteur by die hoof oor die klas se onkunde. “Haai, meneer, ek weet ook nie,” bely die hoof, “maar kan ons nie maar net ‘n kwotasie kry en dit laat regmaak nie?”

Miskien moet ek ‘n “Tamatiestraat Merk 2” aandurf. By die Bybelstudie sal ek bepaald ‘n klompie stof daarvoor kry! (HvD)

BLIK-KAPPIE VIR WILDEVY 154

Middag uit Melkbos

‘n Grasdak in die Bosveld klink nommerpas. Koel en karaktervol, lyk dit mos.

Probleem 1: Bobbejane kom rits op die dak en pluk die gras in hul uitbundigheid in dik gerwe uit. Gedurige herstelwerk is dus aan die orde.

Probleem 2: Probeer jy bobbejaan se kind stuit deur ogiesdraad oor jou dak te span, pak die blare in die draad. Dit verrot en die verrotting sprei na die gras. Gedurige herstelwerk is dus aan die orde.

Kap die blare gereeld uit met ‘n lang stok – dis rugbreekwerk en glad nie so maklik soos dit klink nie. Buitendien stuif die stof in elke hoekie van die huis neer sodra jy die gras versteur. Van boeke tot beddegoed loop deur.

‘n Keer het die herhalende blare-probleem die destydse parkhoof genoop om my swak advies te gee. “Gooi die draad af,” was sy raad. “Blare is gevaarliker as bobbejane.”

Die volgende rapport uit Sabiepark was nie bemoedigend nie. Die bobbejane was byna dwarsdeur my draadlose dak bokant die gastekamer. Hulle het bly uithol en uithol totdat net ‘n dun lagie dekgras oor was.

Ek sidder as ek dink aan die ellende wat kon ontstaan het. As die sekelsterte eers dwarsdeur getonnel het, was die huis aan dié skorriemorries se genade oorgelaat. En bobbejane is nie net buitengewoon vernielsugtig nie – hulle is ook toegerus mer spysverteringkanale wat aan die onderpunt ‘n allerverskriklike gemors kan veroorsaak.

Die draad moes terug, en vinnig ook.

Toe raak dit herfs. Die gedugte maroelas en die knoppiesdorings om die huis begin weer blare gooi. Die herfsblare koek weer in die draad. Ek swets en wens die draad was nog af.

Die laaste jaar al besef ek die grasdak se dae is op’t einde. Die valleie begin liederlik lyk en as dit hard reën, soos in die Laeveld nie seldsaam is in Januarie/Februarie nie, moet jy roer met die kastrolle en emmers onder die lekplekke.

Nou’t jy twee opsies as jy dak wil vervang, eintlik drie.

Opsie 1: Jy smyt die ou dak af en sit ‘n nuwe grasdak op. Vir die eerste jaar of twee lyk dit stylvol en bring dit ‘n lawende koeligheid as die sonnetjie dooierus vat. Dan is dit blare en bobbejane en bobbejane en blare van voor af.

Opsie 2: Jy sit ‘n blikdak op – ‘n sogenaamd Harvey Thatch. Wat as jy ‘n sterk verbeelding het, op ‘n afstand nogal op ‘n grasdak trek.

Opsie 2 verdeel in opsie 2a en opsie 2b. In 2a gooi jy die ou dak af, dek ‘n nuwe lagie dekriet en sit dan die teëls bo-oor. In 2b kom die teëls sommer bo–oor die bestaande dak. Jy sit as ‘t ware vir hom ‘n blik-kappie op.

Die groot voordeel is dat jy nie hoef meubels uit te dra en foto’s van die mure af te haal nie (van laasgenoemde het ek honderde). Nog ‘n voordeel is glo die akoestiek. Klank trek nie so onbelemmerd van kamer tot kamer nie. Jy hoor nie elke steun as jou buurman moeisaam in die katel omdraai nie.

Na baie wik en weeg seëvier opsie 2b. Wildevy 154 se blik-kappie is besig om op te gaan. Ek steek al tong uit vir die bobbejane. Kom, blare, kom. Kyk die foto. (HvD)

SERVETTE MET ‘N STORIE

BO Alida en Tokkie
ONDER: Servette met ‘n glimlag

More uit Melkbos

Papierservette gee party mense die ritteltits. Dit weet ek, omdat my gunsteling-seekosrestaurant op Melkbos sulke dun wit papierservetjies dek – tot die klaarblyklike ongemak van sommige gaste wat “beter” verwag.

Dat ek na ons vriendin Alida Fourie se 70ste gaan en agterna oor die papierservette rapporteer, is derhalwe buitengewoon. Alida is ‘n buitengewoon eksie-perfeksiemens.

Haar praghuis in Durbanville, haar tuin, haar meubels, haar skilderye, haar kos, haar keramiekwerk, haar naaldwerk – alles, en nog meer, is buitengewoon, soos Tokkie, my vrou Sondag in haar gelukwensing opgemerk het.

Ook die 70-ete was buitengewoon – keurig aangebied in Pieter en Alida se eetkamer-cum-woonkamer, met ‘n verskeidenheid fynproewerskos (en –wyn), so salig op die verhemelte dat die gedugste skanse van die mees verbete verslanker in ‘n japtrap soos mis voor die son sou verdwyn.

Die tafels was vrolik (maar nie oordadig) gedek met mooigoed, onder meer wit en rooi lapservette met ‘n bedagsame knoopsgat aan die punt om die bultende hemde van die gesetter gaste te beskerm.

Dan ook die papierservette – kaarblyklik om ‘n buitengewone rede, omdat dit nie werklik nodig was nie. Daardie rede was gou duidelik: die tikkie humor wat dit tot die feestelikheid bygedra het.

Op die een kant was die prentjie wat hierbo afgedruk is met die rein gedagte: “Lets not age … let’s just marinate!” Agterop was vyf sogenaamde “Truths” en vyf sogenaamde “Dares”.

“Truths” het ingesluit die vraag: “What was your strangest date ever?” en “Dares” die taamlik avontuurlike uitdaging aan die adres van die gaste: “Swap bras with the person to your left.”

My skoonseun, Brent, was agterna verstom. “Doen julle nog sulke dinge op jul ouderdom, wou hy betreffende die gesuggereerde omruilery van bra’s in ongeloof weet! Maar ontspan, Brent – dis maar net oumense se manier om die ys te breek en die geselskap dadelik te laat vlot.

Met die vraag oor “strangest date” was die uwe gewapen met ‘n wenstorie wat hy in ‘n rondstuur-e-pos teengekom het: Die storie van die meisie wat (op ‘n eerste afspraak, nogal) in digte sneeu die kêreltjie moes vra om sy motor van die pad te trek dat sy kan gaan neus poeier.

Sy doen toe haar ding half gebukkend teen die agter-modderskerm. Maar toe sy klaar is, kan sy nie roer nie. Haar kaal boud het teen die metaal vasgevries. Die galante ridder agter die stuurwiel het na haar buitengewone lang afwesigheid besluit om te gaan ondersoek instel. Hy kry haar toe so, magteloos deel van sy motor se bakwerk met haar G-string om haar enkels.

Wat nou? Na kajuitraad is besluit al raad is om haar los te kry met die ruimskootse aanwending van die een of ander warm vloeistof – waarvan ‘n verskeidenheid in die gegewe omstandighede nie beskikbaar was nie. Sy rits moes af en met ‘n herhaling van die aktiwiteit wat haar so duur te staan gekom het, is sy stromend en stomend vinnig losgewikkel. Die twee is later getroud – wat die storie darem ‘n ordentlike einde gee.

Maar Alida se gaste het vrolik daarop gereageer, soos sy ongetwyfeld op gereken het. Alles aan haar is immers buitengewoon, soos Tokkie opgemerk het. Ook haar flinke humorsin. (HvD)