ONTVOERING VAN FANUS

Jool 1962

More uit Melkbos

Die President van die Republiek van Flinkveria – dit sou ek vir vyf glorieryke minute wees.

Die plan is daar in 1961/62 rond in Tukkies se Kollegetehuis uitgebroei. Ons sou as reklame vir die jool Fanus Rautenbach in sy ateljee gaan kaap. Terwyl my makkers die gewilde uitsaaier uitboender, sou HvD die mikrofoon opneem en dit landwyd uitdawer: Tukkies jool ….

So ‘n ambisieuse onderneming verg omvattende logistiese beplanning. Die beste sou wees om die slagoffer se samewerking in te win.

‘n Deputasie is van Kollege af met die “Skoolbus” – die uwe se Fiat 500-stasiewaentjie – Aucklandpark toe en die plan is aan Fanus voorgelê. Tot ons opgewondenheid reageer hy entoesiasties.

‘n Komplot word gesmee.

Ek sien al voor die gees die koerantopskrifte en foto’s – HvD die nuwe uitsaaitreus, oornag gebore.

Triomf! Triomf!

Twee dae voor K-dag (kapingsdag) bel Fanus. Hy klink waarlik teleurgesteld. Dit was ‘n oulike plan en als, maar nou’s Pieter de Waal (die omroeper wat die Kopffiehuiskonserte destyds op die “map” gesit het) skielik oorlede.

‘n Somberheid heers in die SAUK se gange. Vir sulke grappies sal in sulke omstandighede nie veel waardering wees nie.

Ai, Flink uit die Vere het darem amper joolgeskiedenis gemaak … of dalk andersom. (HvD)

AI, NEEF BERTUS!

Die egpaar Van Deventer en my neef, ds. Bertus

More uit Melkbos

Die “neef wat links geneuk het”.

So sal my neef Bertus du Plessis se kinders my onthou, deel my niggie, Susanet, Bertus se suster, my mee toe ek haar verlede week bel om meegevoel oor sy dood te betuig.

Bertus het op 73, meen ek, op Potchefstroom agter die stuur van sy motor ‘n hartaanval gekry. Hy sou op Migdol begrawe word waar hy geruime tyd predikant was, eers in die NG Kerk en toe, met entoesiasme, in die APK.

In laasgenoemde skuif is ‘n lang storie opgesluit. Genoeg om te sê dat die politiek wat ek in die jare 80 as koerantredakteur verkondig het, hoegenaamd nie met Bertus se sienswyses geklop het nie. ‘n Toenemende verwydering het ontstaan.

Toe ek Susanet bel, het ek haar gevra om my meegevoel ook aan Bertus se kinders oor te dra – sy vrou, Martie, is al oorlede,

“Weet nie of die kinders sal weet wie Oom Hennie is nie,” het ek bygevoeg.

“Hulle sal goed weet,” het sy geantwoord. “Oom Hennie is die neef wat links geneuk het.” Ek kon die glimlag in haar stem hoor.

Agterna het ek gepeins oor hoe ek Bertus sal onthou. Ongetwyfeld was hy die “neef wat regs geneuk het” – en ook nie net effentjies regs nie. ‘n Primêre herinnering is egter ver van die politiek verwyder. Bertus was naamlik die predikant wat my en Tokkie op 31 Desember 1966 op Bultfontein in die eg verbind het.

‘n Ietwat onwettige handeling was daardie huweliksbevestiging, moet ek meld, want die vereiste dokumente, insluitende die gebooiebrief wat daardie dae ‘n noodsaaklike voorvereiste was, het ontbreek.

Die een of ander kwaaddoener het op die vooraand van die troue in my koffer gekrap, met watter bose motief weet ek nie, en van die dokumente is weke na die huwelik in my skoonma se buurvrou se erf gevind waar dit nat en verkreukel teen die draad vasgewaai het.

Dankie, ou Bertus, dat jou “linkse neef” se geloofwaardigheid by jou in daardie stadium nog voldoende was om met die huwelik voort te gaan.

Ek sal Bertus ook onthou vir allerlei ongewone en onortodokse dinge, veral vir ‘n predikant. Hy het byvoorbeeld in sy emeritusdjare ‘n Uno’tjie gery wat slegs met ‘n knipmes aangeskakel kon word.

Bertus het nie daaraan geglo om ‘n motor te was nie. Water en seep sou so ‘n skok op die Uno se gestel wees dat selfs die knipmes sy kar nie aan die gang sou kry nie, was sy oortuiging.

Op ‘n keer vat hy die Uno vir ‘n versiening. Moenie die kar was nie, waarsku hy die garagemense. Maar toe hy sy rug draai, lag hulle ha-ha vir die dominee en was sy kar. Bertus moes laat haal word om met ‘n groot gesukkel sy Uno weer aan die gang te kry.

Of dit in daardie Uno is dat Bertus sy laaste asem uitgeblaas het, weet ek nie. As dit was, wonder ek hoe die karretjie daarna aan die gang gekry is. Sou iemand die knipmes-prosedure onthou het? (HvD)

HELDER STEM VAN FM (EN AM)

Middag uit Melkbos

Die radio is in my lewe vandat ek as pikkie vroeg in die 40’s by Oom Danie en Tant Susie du Plessis by Kaallaagte, distrik Paul Roux, my aan dié wonder kon verlustig. Ek kan nie onthou dat ons enkelouer-gesinnetjie toe al ‘n “draadloos” gehad het in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, nie.

Om die regte stasie in te stel, was destyds dikwels vir lomp vingers ‘n aansienlike uitdaging. Al wat jy aanvanklik kon hoor, was ‘n geruis en ‘n gekrap. As jy uiteindelik die stasie het, trek die nuusbulletin al ‘n ent ver. Die batterye vir die radio is nog met ‘n windlaaier gelaai.

In 1948 is die flitsberigte oor die verrassende NP-sege in die algemene verkiesing opgeslurp in ons voorhuis in Kimberley, waar ek saam met ‘n opgewonde Oupa Herklaas Visser geluister het.

Van die eerste sportuitsendings wat my behoorlik beetgepak het, was stoei: Willie Liebenberg vs. die Amerikaner Sky High Lee. Ek het ook graag na boks geluister. Vic Toweel was my man.

Die Springbokke se rugbytoerdeur die Britse Eilande in 1951/52 (die Hennie Muller-era) het ek in Botanic Grove, Durban, gretig gevolg. Die dag toe die Bokke teen die Londense Graafskappe verloor, het ek in die laaste minute betraand om en om die huis gehardloop.

Krieket het later gekom – ai, die wonderlike veldwerk van daardie swiepende arend Colin Bland het die kommentators na woorde laat tas.

En musiek – eers die “Hit Parade” op LM-Radio (Lourenco Marques) – Doris Day se “Que Sera, Sera” en daardie klas ding. Later “U Eie Keuse” van Kosie Jooste se tyd af. Toe ek in 1959 Kollegetehuis op Tukkies toe is, was een van my trotse besittings ‘n radio en platespeler in ‘n yslike houtkas. In daardie tyd het ek operamusiek ontdek.

Die radio is ‘n magtige, magnetiese medium. Deur die jare kon ek na pakkende uitsendings luister: van staatsbegrafnisse, die Kennedy-moord, die koms van die Republiek in 1961…

In my jare as redakteur van Die Volksblad en hoof van Naspers se koerante was ek bevoorreg om soms my eie stem oor die radio te hoor met uitsprake oor die een en die ander. Laat my maar bely: dit het my ego nogal gestreel.

Radio Oranje het my ‘n keer kans gegee om oor die middaguur op ‘n Sondagmiddag my eie gunstelingmusiek voor te speel. Bietjie praat, bietjie musiek (“Milord” van Edith Piaf, die “Largo”-gedeelte uit die Eerste Wêreldsimfonie van Dvorak, “O Holy Night”: van George Beverly Shea en so aan voort) – ek het die program iewers op band.

Een radio-onderhoud, met wyle Chris Louw van “Monitor”, oor my omstrede voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie, het ek in my nagklere uit my slaapkamer op Melkbos gevoer. Ek was toe hoof van Naspers se koerante. Dit het so vuurwarm geword dat ek uit die bed gespring en met die telefoon in die hand op en af in die kamer gemarsjeer het.

Na aftrede het my stem vanselfsprekend mettertyd geheel van die lug verdwyn – tot verlede Woensdagaand toe Amanda Olivier in haar program “Kopskuif” op RSG met my ‘n gesprek gevoer het oor o.m. my nuwe humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat”.

Verskeie aspekte was vir hierdie gryse genotvol (laat ek dit maar pront erken). Die heel-heel lekkerste was om van ‘n string ou vriende te hoor.

Ek was in 1962 huisvoorsitter van Kollege-tehuis, Willem van Niekerk voorsitter van Sonop en Tom Gunning van Voortrekker. Van Willem het ek net na die gesprek ‘n SMS gekry en van Tom ‘n e-pos. Is dit nie merkwaardig nie, soveel solidariteit van drie huisvoorsitters van drie strydende koshuise in 1962!

Van Koos Reinecke wat saam met my in Kollege was, was daar ‘n oproep van sy plaas in die distrik Schweizer-Reneke. Hy het die middag in sy bakkie gehoor “Van Deventer praat vanaand”. By die huis sê hy toe vir “die vrou” : “Ter wille van die ou dae wil ek na die man luister “

Van my matriekmaat, Willem Hartzenberg, was daar ‘n SMS, asook van ander studentemaats, oud-kollegas, ou bure in Bloemfontein, nuwe vriende wat in die aftreejare bygekom het, vreemdes.

Nogal onverwags was die oproepe van skynbaar eensames wat net gou ‘n woordjie met die verre vreemdeling wou wissel.

Dankie, radio. Dankie, RSG. Dankie, Amanda Olivier. Op 70 beteken al hierdie dinge vir ‘n ou se selfbeeld ’n lot. (HvD)

Naskrif: As iemand wil weet, die skakel vir die podcast is, volgens ‘n mede-Litnet-blogger, www.rsg.co.za/podcast.asp?id=10.

MELK EN HEUNING

Marlene van der Westhuizen, Philip en Nance van Rensburg, Jaap Duvenage , HvD, Carl en Sarah Louwrens.

Sakkie en Helmien Bruwer, Henri en Moonyeen van Biljon

Middag uit Melkbos

Uit Melkbos was 20 lede van my geliefde Probusklub by HvD70. Sakkie Bruwer het my die eerste keer saamgevat Probus toe in 1998. Ek is Sakkie ewig dankbaar.

Probus is ‘n uiteenlopende kring – van die medisyne tot die mynwese – maar ‘n hegte kring. Hulle staan saam soos min.

Ek was bevoorreg om president van Probus te wees van 2007 tot 2009. Op die oomblik is die klub onder die presidentskap van die Namibiese regsman, perde-ghoeroe, vlieënier en wat nog, Henri van Biljon.

Ek het heerlike Probus-herinneringe soos besoeke aan Namibië en die Wildtuin, en bittersoet herinneringe soos aan Jan se Gat. Oor laasgenoemde rep ek niks. Die geproes wat die noem van die naam in Probusgeledere uitlok, is ‘n leidraad.

Al die Melbos-vriende by my verjaardagviering was nie Probus-manne nie. Ek bejeën die nie-Probusmense met ewe veel warmte.

Plus-minus dieselfde tyd dat ons Melkbossers geword het, het ek en Tokkie Sabieparkers geword. Salige Melkbos en Salige Sabiepark – albei plekke van melk en heuning.

Sabiepark is die plek waar ons groot ure by groot vure deurbring. Een Bosveldvuur staan in die Van Deventer-annale uit. Dit was op 11 Augustus 2001. ’n Groep van Probusvriende het die aand van Melkbos “oorgekom vir ’n braai”. In ’n konvooi het hulle opgeruk, die hele 2 000 kilometer. Die volgende oggend is hulle Wildtuin toe.

Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.

“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra.

Carl Louwrens, leraar van Skukuza, is my pastor in Sabiepark. Hoe wonderlik was dit nie om Carl en Sarah by my verjaardag te kon hê. Ek, Tokkie, Carl en Sarah het al wonderlike tye in die bos saam beleef. Drie weke gelede het ons teenaan ‘n nuuskierige renoster ‘n Wildtuin-piekniek gehou.

Die Louwrense was verreweg nie al gaste wat Sabiepark ken nie. My seun. Johan, het gevra dat almal wat al op Sabiepark was, hand opsteek. ‘n See van hande is lugwaarts gehys.

Van die gaste het spesiale konneksies met Sabiepark.

Danie en Kathleen Krynauw het jare by die deftige Kruger Park Lodge, buite Hazyview, ‘n pragplek besit. Dit is Danie en Kathleen wat die Van Deventers se lus vir ‘n swaeltjiebestaan geprikkel het.

Philip en Nancé van Rensburg het, soos gemeld, op my aanbeveling ‘n huis in Sabiepark gekoop sonder om dit ooit met hul eie oë te sien.

Van die vriende kom weer en weer na Tarlehoet, soos Herman en Rina le Roux van Randburg wat in Maart 2008 spesiaal gekom om tien goue jare te gedenk – hul tiende besoek en boonop Tokkie se verjaardag. Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met dieselfde blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies net soos dit ‘n dekade gelede was – buiten, natuurlik, vir die toename in grys hare en ander tekens van die tye aan die onderskeie lywe.

Naas die Melkbos-era en die Sabiepark-era is in die laaste jare nog een nuwe era by die Van Deventer-reis van Babanago tot Melkbosstrand gevoeg. Dit is die kuber-era. Die verteenwoordiger van hierdie era by my verjaardag was my mede-blogger dr. Kobus Victor, oud-predikant, wat ek op Litnet leer ken het.

Blogvriende het werklike vriende in lewende lywe geword. Dankie, Kobus en Cecile, vir julle teenwoordigheid. (HvD)

AGTERGEBLEWENE

Sannie Wiese, vrou van Eric, Andrew Marais, Salie de Swardt. Agter steek Mariel le Roux uit.

Naand uit Melkbos

In 1992 het ek op Ton Vosloo se uitnodiging as nuwe Koerantehoof uit Bloemfontein Kaap toe gekom – die redakteur wat nie ‘n balansstaat kon lees nie (ek kan nou nog nie), en kom versondig ek in die Nasperssentrum aan die Heerengracht toe die siele van ‘n bekwame bestuurskorps wat teen wil en dank met die rekenkundige “agtergeblewene” moes saamwerk.

In die gedugte syferspan van daardie era was manne van die kaliber van Hennie Conradie, Eric Wiese, Jas du Preez, Jan Malherbe en Jean le Roux (deesdae glo bekend as “daardie ou aan Mariel le Roux – die bekroonde skryfster van Hermanus – se sy”). Dit was seer aangenaam om Cronk (Hennie Conradie) en sy manne by my 70ste verjaardag te verwelkom.

Eric was die slagoffer op wie ek meesal toegesak het om syfergeheimenisse vir my op te klaar. Jean en Jan (wat my met my aftrede einde 1997 opgevolg het) was as hoofbestuurders van Beeld en Die Burger, die Aäron en Hur, wat die koerantehoof se arms omhoog moes hou.

Dankie, kêrels, vir al julle geduld met hierdie outjie se chroniese onkunde.

My twee kollegas van Tydskrifte (Danie Krynauw en sy opvolger, Salie de Swardt, was ook teenwoordig. Danie het my geleer as ‘n direkteur jou vasvra oor syfers, moet jy hom net in die oë kyk en oortuigend ‘n raaiskoot waag. Ek het een keer, maar was klaarblyklik so ver van die kol dat die direkteur stom verbaas was.

Andrew Marais, ons reklamehoof en gedugte kuns- en wynkenner, het uit George na die geleentheid gekom. Hy het in die jare 90 self baie geduld aan die dag moes lê om hierdie ruwerige diamant in te wy in die fyner kunsies van die Kaapse kultuur.

Uiters belangrike syfermense vir oumense is die ouens wat moet keer dat die pensioentjies opraak. My fiskus is Jaap Duvenage van Citadel, wat uit Pretorias saam kom partytjie hou het. “Meneer Jaap Lekkerlag,” het ons huishulp Griet Nuwegeld hom genoem.

“Van lekker lag kom lekker huil, ” het my ouma altyd gesê. Gelukkig, Jaap, het selfs die slimste Oumas dit soms mis!

Volgende: Melkbos en Sabiepark

GOUE JARE

Chris en Annette van Rensburg

More uit Melkbos

My eerste skof by Die Volksblad was 12 jaar lank. In 1980 is ek terug vir ‘n tweede skof van 12 jaar, nou as redakteur van kollegas wat terselfdertyd vriende is. My eerste skuif was om Herman le Roux, sportredakteur, dadelik tot assistent-redakteur te bevorder.

Piet Theron en Sarel Venter, wat ook by die verjaardag was, is lede van die hoofredaksie gemaak. Pierre van Manen is Windhoek toe as Suidwes-verteenwoordiger. Hy het later redakteur van Oosterlig geword.

Dit was goue jare, al het die politieke broederstryd van die jare 80 hoë eise gestel.

Ek en ‘n amperse buurman, Piérre Theron, mede-UR-lid van die AB waarvan hy later voorsitter geword het, het, lank voordat sulke dinge mode begin word het, Thabo Mbeki genooi om ‘n uitgesoekte groepie Bloemfonteiners vertroulik te kom toespreek. Toe marsjeer die AWB in. Deesdae word ek en Piérre deur dese en gene verwyt dat ons verkramptes was!

Noem my maar onbeskeie. Maar ek wil iets sê oor daardie era en ek gaan dit sê in die lig van periodieke ergernis oor miskenning van ons koerante se rol deur dese en gene. Dit is die volgende: dat ek vas glo Die Volksblad het hom in daardie krisistyd, ook op die nasionale verhoog, laat geld soos nooit tevore en, veral, ook nooit weer daarna nie.

Ek maak graag ‘n buiging na elke kollega, ook die jongeres wat bygekom het, soos Philip van Rensburg, ‘n entoesiastiese nuusredakteur.

Philip en Nancé van Rensburg het jare later, op my aanbeveling, selfs ‘n huis in Sabiepark gekoop sonder om dit ooit met hul eie oë te sien. Dit beskou ek nogal as die een of ander kompliment. Ons is vriende., ondanks die generasiegaping.

‘n Vriend uit daardie era is die rolprent-baas Boet Troskie wat nou kanselier van die Sentrale Tegnologiese Universiteit is. Wie sal sy Gods Must Be Crazy ooit vergeet? Sy bankbestuurder sal nie! Uit Boet se gewillige tjekboek het ek vele Volksblad-promosies gefinansier. Dankie, Boet.

Chris van Rensburg wat afgetree as waarnemende rektor van daardie universiteit, en Annette was jare ons bure oorkant die straat; ons was saam in die Wildtuin, in Namibië en waar ook al. Ons kuier nou nog ‘n hond uit die bos uit. Ons het berge vleis saam gebraai (ook kreef een gedenkwaardige aand in die stort in Luderitz). Chris is ‘n behendiger braaier as ek. Een aand het sy “ho’durfie” van frikkadelletjies egter op die grond beland.

What a f…f…f…frikkadel! (HvD)

Volgende: die Kaap