JUBELGROEN GLORIEBOS

Middag uit Melkbos

Twee keer in ons somervakansietjie van 20 dae het die hemele behoorlik gerittel en beef en het die waters neergegiet – op 15 Desember en weer op Kersdagaand. Elke keer is 50 mm gemeet. By twee ander geleenthede het sagte, deurdringende reen 10 mm of meer opgelewer.

Aan die resultaat van die gereelde verkwikking sal ‘n knap skilder beter reg laat geskied as wat hierdie blog-skrywer kan. Sabiepark is inderdaad ‘n groen paradys, ‘n jubelgroen, gloriebos. So groen het hulle daardie wereld nog nooit gesien nie, se die ringkoppe.

Die somer-oes aan dierebabas is ‘n vreugde vir die hart. ‘n Vlakvarkma en haar vier japsnoete het gereeld kom oe wys by onse boshuis, Tarlehoet. Die eerste keer in 11 jaar het ‘n bosnagaap in die pendoringboom voor die huis opgedaag met haar nuwe tweeling grootoog op die rug. In Gwarrieboslaan staan vier wildebeeskalfies op wankelende bene by die trop. Dartelende klein rooibokkies is die strate vol.

Ds. Carl Louwrens van Skukuza wat altyd met ‘n verrassing kom, het die Sondag voor Kersfees uit Safanja gepreek. ‘n Leraar-kollega was verbaas – wat het jy oor Safanja te se? Ds. Carl se antwoord was tipies van sy soort humor: Ja, dis ‘n goeie vraag, want om Safanja in die Bybel te vind is al klaar ‘n uitdaging!

Vir sy tema, Blydskap, was Safanja egter ‘n slim keuse. En soveel blydskap het die Van Deventers die vakansie ervaar dat Safanja en ds. Carl se spreek telkens in die gedagtes opgeduik het.

Vir Oupa en Ouma was die blydskap nie net natuurverwant nie – bepaald ook weens die louter plesier wat die sesjarige tweeling Jacob en Thomas opnuut aan die bos had – veral ook aan die bos-swembadjie op snikhete somerdae, en, indien moontlik, selfs nog meer aan hul nuwe digitale Canon-kameratjies.

Hulle het letterlik alles afgeneem, van leeus en wildehonde tot skilpadjies en akkedisse. Ook vir Oupa en Ouma op hope vrolike groepfoto’s – in die swembad, by die braai, in die kermisbed – met ‘n kundigheid wat Oupa, self ‘n kamera-entoesias, verras het. Oor hul jagtog met hul kameras doen ek later afsonderlik verslag. Dis ‘n blog op sy eie.

Groot skrik is veroorsaak deur die baie slange – onder meer ‘n ratse “grasgroene” by die vullisblok en ‘n “witgesiggie” in ‘n gaatjie in die baksteenmuur onder die grasdak. En vet skerpioene – die was behoorlik oral.

‘n Onplesierige ontdekking was drie kameelperde met bebloede nekke. Luiperd se werk, dag ons eers. Bosluise s’n, hoor ons egter later. Eintlik des te meer die renostervoeltjies s’n, wat in swerms op hul slagoffers toesak om die klein bloed-spikkeltjies van die bosluise tot oop wonde oop te pik. Parkhoof Stefran Broekman het gedokter vir al wat hy kan. Hoop die langnekke kom gou reg.

Die nagapies was hierdie keer skaarser – die bosnagape het hulle aand vir aand in die piesang-wedloop uitgestof. “Losers” het die tweeling hul Ouma se gunsteling-diertjies gou gedoop. Die hiena was ook ‘n ongereelde besoeker, maar het gisteroggend ewe beleefd kom groet toe ons pak om te ry.

Oupa het self (soos die jong papparazzi) ‘n paar foto’s om te wys (hulle kom later in ‘n Picasa-album) – en kon boonop op 25 Desember spog met sy goudbruin Kerskalkoen uit die Weber. Hy maak hom egter maar klaar om binnekort ook op daardie terrein uitgedaag te word. (HvD)

SEP … SEP … SEPTARIESE SEWENTIG

Goeie more uit Melkbos

Hoe draai die wiel (-e) nie …

Die sketsie hierbo word deur die verrassend baie bejaardes wat heel oulik op hul rekenaars is, onder mekaar rondgestuur om kamma ‘n glimlag uit te lok. Ons sê vir mekaar: jy moenie jou sin vir humor verloor nie.

Dis egter nie altyd maklik om opgewek te wees en te glimlag in die aangesig van stygende jare nie. In eerlike oomblikke erken ons aan mekaar: die ouderdom is nie vir sissies nie.

Vandag gaan dit egter nie hier oor skete en kwale nie. Dit gaan oor die vraag of my aanstaande 70ste verjaardag my ‘n bejaarde maak of nie.

Natuurlik maak dit my wel ‘n 70-jarige. Die Engelse sê “septuagenarian”, wat klink of jy aan ‘n liederlike afwyking ly. Iets septaries – as so ‘n woord bestaan. (“Moet tog vir niemand sê nie, maar weet jy ou Hennie is ‘n ‘septuagenarian’”?)

Ek sweer dit sal my langer vat om daardie “septaries”-woord uit te spreek (“s…s.. s.. sep.. te …..”) as om sewentig kersies dood te blaas, maar dit maar nou daar gelaat.

Wel, maak jou 70ste verjaardag jou ‘n bejaarde? Hang seker van jou kyk op sake af.

By “Die Volksblad” was een keer amper ‘n plassie in die redakteur se kantoor toe ‘n verslaggeefstertjie rapporteer van die “bejaarde” wat in ‘n ongeluk omgekom het. Die slagoffer was 55! Haar vergryp teen die goeie orde is verby die “waaksame” subredakteurs tot op die voorblad van die koerant. Goeie hemel!

Party 70-jariges sal weer hoopvol volhou dat 75 (selfs 80) die afsnylyn is. Dis die soort wat mekaar in die ribbes pomp en knipogend opmerk: “As sneeu op die berg lê, brand ‘n vuur in die kaggel … ha-ha.”

Bogenoemde suig hierdie oubaas nie uit die duim nie.

Volgens ‘n Amerikaanse peiling oor ouer word is dit ‘n natuurlike tendensie. Hoe ouer jy word, des te sterker is die persepsie dat bejaardheid eers later vir jou voorlê. Die bevinding was nie net dat ‘n gaping bestaan tussen hoe oud jy is en hoe oud jy volgens jouself voel nie, maar dat daardie gaping algaande groter word.

Die gemiddelde respons was dat ouderdom op 68 begin. Mense tussen 30 en 64 het gemeen dit begin plus-minus op 70. Diegene van 65 en ouer het die grens tot 74 opgeskuif. Respondente onder 30 het gevoel as jy 60 is, is jy oud, finis en verby.

Van vriende kom trooswoorde soos dat die “goue jare” op 70 aanbreek. Een vriend, ook al verby 70, het die “goue-jare-aanspraak, ietwat sinies, soos volg gekwalifiseer:

“The Golden Years have come at last! I cannot see, I cannot pee, I cannot chew, I cannot screw. My memory shrinks, my hearing stinks, no sense of smell, I look like hell. My body’s drooping, got trouble pooping. So, the Golden Years have come at last ? Well, the Golden Years can kiss my ass!”

Geen kommentaar. Ek is nog amper ‘n maand van 70 af en bevind my genadiglik nog nie in daardie fase wat uitgedruk word as “sonder tande, sonder oë, sonder smaak, sonder alles” nie. Ek kan darem ook nie dink dat al daardie verliese in ‘n oogwink sal tref nie.

Tog is ek nie onbewus daarvan nie dat 70 taamlik algemeen as die een of ander fisieke en psigologiese mylpaal bejeën word. Ek gaan op 2 Januarie as ‘n 69-jarige slaap. Dan is ek onder 70. Ek gaan op 3 Januarie as ‘n 70-jarige opstaan. ‘n “Septuagenerian”. Eina.

‘n Gewone nag in my lewe gaan die nag van Sondag 2 Januarie bepaald nie wees, omdat iets mistieks gaan gebeur – iets wat, indien niks anders nie, my ten minste gaan dwing om ‘n paar sommetjies te maak.

Ek was, trouens, gister op soek na die Konkordansie, omdat ek daardie Bybelse woord wou naslaan oor die mens se jare wat 70 is, en as jy baie sterk is, 80.
Tokkie snork net. “Toe die Bybel geskryf is, was daar nog nie bloeddrukpille nie,” lewer sy ongevraagd kommentaar.

Naskrif: Die laaste paar weke van my 69ste jaar gaan ek in Sabiepark deurbring. Wees gegroet! (HvD)

EK WENS, EK WENS …

Middag uit Melkbos

Aan die vooraand van 70 wens ek ek het tot nou toe minder met mense baklei, sagter en rustiger gepraat as ek my saak stel, meer geluister en minder verbete aan my eie standpunte en oordele vasgeklou.

Ek wens ek het makliker vrede gemaak met omstandighede wat ek tog nie kan verander nie, en in noutes meer op die Here vertrou.

Ek wens ek het my dankbaarheid teenoor die Goeie Gewer, my naastes en almal wat vir my goed was, beter betoon.

Ek wens ek het beter na my lyf gekyk – die skaal het tog oor ‘n lang tyd begin noodseine uitstuur – en groter dissipline gehad as dit kom by lekker kos en wyn.

Elke baken-verjaardag is ‘n tyd vir besinning en bestekopname. Sewentig is des te meer so, waarskynlik omdat die grafiek van lewenswysheid op daardie ouderdom piek, of behoort te piek. Jy kan met groter afstand terugkyk – en met groter realisme vorentoe.

Terugkyk bring verleentheid oor foute, beswaardheid oor kanse wat laat glip is en frustrasie oor koppigheid. As jy dink aan verspeelde geleenthede om vir ander iets te beteken, het jy waarlik rede om die onbehae in jou te voel opstoot.

Maar watter ellendige mens sal jy nie in jou eie oë wees nie as jy nie ook eerlik met jouself is oor die goeie wat jy in swakheid vermag het nie.

As jy ‘n harde, eerlike, lojale werker was, troos jouself gerus daaraan, voel ek. Gee jouself ‘n kloppie op die skouer as jy voel dat jou betroubaarheid dit regverdig. As jy meesal doelbewus draaie om die kwade gestap het, wel, dan het jy ook in daardie opsig iets positiefs bereik.

Moet dus nie onnodig in sak en as gaan sit nie oor die jare wat verby is nie. Bowenal: wees dankbaar dat jy nie meer bagasie versamel het om jou oor te verknies nie.

Wees dankbaar – dit is dalk die beste advies wat jy jouself kan gee. Dit is immers nie nodig om na die statistieke te gaan kyk nie om te besef dat die meeste mense op die aarde veel groter rede tot swaarmoedigheid het as jyself. Jy sien dit elke dag op die televisieskerm, in koerante, rondom jou.

Dit gaan nie net oor aardse besittings en lewensomstandighede nie, ook oor vermoëns waarmee ‘n mens geseën is om iets te kon bereik, die goeie gesondheid wat jou daartoe in staat gestel het, en die standhoudende verhoudings wat jou deurgaans tot jou beste prestasie aangemoedig en gestimuleer het.

Wees dankbaar dat mense soms jou goeie motiewe herken het, al het jy moeite gedoen om dit amper onherkenbaar te kamoefleer.

‘n Tienstuks oud-kollegas van ‘n generasie jonger as die uwe het ‘n paar aande gelede hier n biertjie kom knak en ‘n vleisie op die kole kom gooi. Die nostalgie het hoog geloop, die anekdotes het gevloei en heerlike humor was aan die orde.

Toe dit na middernag stil raak, was dit tyd vir ‘n laaste glasie rooiwyn … en meditasie. Dankbare meditasie. Want hier kom sê mense wat jy soms te na gekom het, almal vir jou dieselfde ding: Jy was ‘n bliksem, HvD, maar ons is nie vir jou kwaad nie. Ons weet wat jou aangevuur het – nooit kwaadwilligheid nie, altyd net passie vir kwaliteit.

Daardie herkenning (erkenning?) maak my amper bewoë dankbaar. Dit bring my ook terug by die begin – by die ek-wens-speletjie. Natuurlik sou ek graag minder met mense baklei het, besadiger my saak gestel het, fyner geluister en minder aggressief my eie standpunte en oordele verkondig het.

Natuurlik sou ek dit ook wil doen in die skof wat nog voorlê – een wat langer of korter kan wees, hoe sal ek weet?

Maar ek sou darem ook nie met minder passie wou geleef het nie. Hoe reddeloos saai en vervelig kan so n lewe nie wees nie! Ewe min sou ek vorentoe ontdaan van alle passie wou leef.

Vir die resep van die lewe na 70 stel hierdie amperse teenstrydigheid nogal uitdagings – om die groter besadigheid, rustigheid en bereidheid om te luister ywerig na te streef, om hard te probeer om rusie en tweedrag te vermy, maar om tog sterk te bly voel oor die dinge waaroor jy sterk voel, en dit by geleentheid te laat “deurskemer”. Jy is immers steeds jy, soos Bart Nel. (HvD)

BLINK HARE, SOET WYN EN IETSIE-BIKINI’s

More uit Melkbos

Julie Andrews sing van haar “Favourite Things”, onder meer: “Raindrops on roses and whiskers on kittens; Bright copper kettles and warm woolen mittens; Brown paper packages tied up with strings; Cream-colored ponies and crisp apple strudels; Doorbells and sleigh bells and schnitzel with noodles; Wild geese that fly with the moon on their wings; Girls in white dresses with blue satin sashes; Snowflakes that stay on my nose and eyelashes; Silver-white winters that melt into spring …” alles baie pragtig.

Ek wil nie me. Andrews probeer ewenaar met ‘n persoonlike lysie van gunstelinge nie. Uit my amper 70 jaar in die lewe is sekere oudag-herinneringe aan allerlei goeters van weleer egter diep ingegrif. Hier is enkele beelde wat lukraak by my opdoem (hoegenaamd nie chronologies of in enige spesifieke volgorde nie):

Rygoed: My oom Danie se treppie met die span kopspelende perde waarmee hy my en Ma op Arlington se stasie kom haal het (1946), my (diamantspeurder-) oom Willie se “mouterbaaik” met syspaan (1947); die Studebaker-steenkool-lorries waarmee ek elke dag geleenthede skool toe gekry het van Boshoek af tot by Enyati (1950), die maroen Dodge SE wat ek met ‘n limerick gewen het (1972).

Orkes: Hendrik Susan se orkes op die verhoog van Kimberley se stadsaal, met sanger Jurie Ferreira (“Tahiti, verre land…”) en Ernst van Rooyen met die bas (“Ernst se bas…., Ernst se bas….., Ernst se basviool”) (1948).

Fliek: Cowboy-flieks met Roy Rogers, Gene Autrey en Hopalong Cassidy, Afrikaanse flieks met Al Debbo en Frederick Burgers (40’s/50’s). Later: Gone with the Wind.

Klere: My lang hemelsblou sokkies (1956), my eerste langbroekpak (1955), “spiffies” (50’s) , my Tukkiebaadjie (einde 1958), my eerste poeierblou Tuxedobaadjie (1959), safaripakke (60’s).

Stoei: Willie Liebenberg vs. Sky-Hi Lee Saterdagaande op die radio; kommentator: Awie Labuschagne (50’s).

Liedjies: Treffersparade op LM Radio (laat 50’s), Patti Page se Tennessee Waltz (1950) en Mockin’ Bird Hill (1951), The Weavers se Goodnight Irene (“I’ll jump in the river and drown”) – amper 24 uur per dag gespeel deur die eienaars van ‘n private hotel in Durban waar ons ‘n ruk in die begin van die 50’s tuisgegaan het).

Boeke, ens: Casper H, Marais se Rooi Jan Roux, Topsy Smith se Trompie, “comics” ruil Saterdagoggende by die fliek (50’s), The Snow Goose (matriek, 1957) en Fountainhead (‘n geskenk van my studentemaat Piet Henning in 1961).

Toilette: Sinkplaat-kleinhuisie met emmer onder die peperboom in Diagonalstraat, Kimberley (40’s), die “long drop” met sy onaangename reuk, langbeen-spinnekoppe en harde koerantpapier op Oom Martiens en Tannie Dinah se plaas by Vryheid (40’s), nagwa met emmer-gekletter in Kimberley se strate (40’s), die Russiese lugdiens Aeroflot se “stinkers” op ‘n vlug van Londen na Moskou (80’s).

Haarolie: Brylcreem, Brylcreem, Brylcreem vir die blinkste, beheerbaarste boskasie!

Kerk: Dominee in swart toga met arms uitgestrek (soos Batman) om die seën te vra. (50’s/60’s)

Terlefoon: “Tiekiebokse”, handsentrales (“nommer, asseblief”) en, natuurlik, die student se vriend in die kommkunikasiewese, die “langtiekie”.

Meisies en hul modes: Die mini (60’s) (sjoe), die bikini (1946) (sjoe-sjoe), Brigitte Bardot se borsie in “And God Created Woman” (1958).

Wyn: Grünberger Stein (studentedae), Tassheimer Goldtröpfchen (eerste jare by Volksblad), Montpellier se huiswyn (ons eerste huispartytjie in Johannesburg, 1975), Bellingham Crand Cru (Beeld), Tassies (50’s en 60’s).

Restaurante: Bloukamer op Johannesburg se stasie (intervarsitydinees), Franco’s in Bloemfontein (my en Tokkie se verlowing op 15 Maart 1965. (Ons had nie ‘n keuse – dit was Bloemfontein se enigste). (HvD)

DIE DOLOSSE-KLUB

Middag uit Melkbos

Ons moet ‘n dolos-klub stig – al ons ou gryses wat nog met dolosse gespeel het. Heerlik was dit om kleintyd in die verbeelding die sweep te laat klap terwyl die denkbeeldige sterke derduiwels in die juk vorentoe beur met ‘n ruwe draad-waentjie agterna.

Aan die vooraand van my 70ste bekyk ek verward en verwonderd die moderne speelgoedwinkels se rakke vol blink elektroniese begeerlikhede. Dan pak die nostalgie my na die brose kinderdae toe ons maar moes sien en kom klaar met wat op die plaaswerf beskikbaar was.

Die dolosse is gebêre in ‘n “speelgoedkis” waarin ware vir die spens op Middelin uit Silutshana se negosiewinkel naby Babanango gekom het. In dieselfde kis was ook murgbene met hul bruikbare ronde holtes, wensbeentjies, ‘n verskeidenheid draadjies en toutjies, velletjies en vetertjies en nog wat.

Die geheue raak al dof oor die detail – ongelukkig. Daardie beskeie middele kon vrugbare kinderverbeeldings egter in allerlei grootmens-dinge omtower wat ure afleiding kon verskaf. Dit onthou ek goed.

Die foto hierbo van die uwe met sy verslete binneband dateer uit die middel-veertigs. Die sinkheining wat die agtergrond vorm, herinner daaraan dat dit in Kimberley se agterplaas was. Ek kon daardie band ure in die klein agterplasie om en om rol. Brrmm-brrmm.

In dieselfde agterplaas was ook ‘n kleinhuise met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die een hoek. In die ander hoek was ‘n duiwehok en ‘n motorhuis met ‘n plat dak, waarvan ek afgevoeter het toe ek in standerd een was. My linkerpols was gebreek.

Juffrou Muller, ‘n oujongnooi, het die wees-seuntjie (my pa is dood toe ek vyf was) met die gips in die klas op haar skoot laat sit, en, volgens my ma, was ek daarna ‘n bedorwe brok.

Vlieërs – “swallows” en “diamonds” was daardie dae gewild. Dit is deur maats se pa’s gemaak van riet en dun papier met “tails” van stukkies veelkleurige lap. Ons het ons vlieërs van Kimberley se grys mynhope gelanseer. Soms was die lugverkeer nogal aansienlik.

Van my eerste gekoopte speelgoed was Dinkey Toys; miniatuur-speelgoedmotortjies wat op ‘n haar soos die ware jakob lyk. Ek het nooit baie gehad nie, maar onthou veral een roomkleurige Vanguard met sy ronde agterstewe.

“Vet diere”, soos ons dit genoem het, het toe ook in die winkels gekom. Met die beeste, perde, skape en wat nog kon ‘n mens ‘n hele boedery opbou. My plaas was langs die huis, aan die kant waar die oopte was. Die ander kant was geheg aan die buurhuis. Dit was ‘n “semi-detach”, soos ons dit in daardie dae genoem het.

Om in ‘n “semi-detach” te woon, was ‘n duidelike teken dat julle nie ryk is nie. Vandag is duur meenthuise so ge-“semi-detach”, veral in voorstedelike oumens-kolonies.

My eerste fiets het ek gekry in standerd vyf in Durban, waarheen ons getrek het toe ma weer getroud is. Dit was nie om dowe neute nie. Daardie baie ordinêre fietsie het nie staan en stof vergaar vir naweek-gebruik nie, maar is dag vir dag van Botanic Grove, ‘n perdehoef-singel uit Botanic Gardens Road, via Nicholson Road na die Port Natalskool getrap – ‘n fris ent.

Een middag van skool af het ek vlakvoor Durban Girl’s High (dink ek) geval dat my boeke trek en die bloed van my stukkende knie drup toe ek voor die meisies die een of ander toertjie probeer uithaal het om hulle te imponeer. Dis egter ‘n ander storie.

In daardie stadium kon ek ook, as geskenk van Pa Malan, ‘n krieketkkolf vir my gaan uitsoek, want by Port Natal het ek ontluik as bruikbare kolwertjie. My keuse het geval op ‘n Roy McLean-kolf. Roy kon die balle klits amper soos ‘n Lance Klusener van later jare en het op nommer vier manjifieke honderde geslaan, ook vir die Springbokke. Hy was, helaas, ook bra dikwels uit vir ‘n eendjie.

Dit het my netso hartseer gemaak soos daardie pynlike middag toe Basil Kenyon se Springbokrugbyspan van 1951-52 teen die London Counties 11-9 verloor het. Ek het om en om ons huis in Botanic Grove gehardloop terwyl die trane oor my wange rol en ek skietgebedjies opstuur dat die blitsige vleuel met die lang broek, Chum Osche, tog maar in die laaste doodsnikke die wendrie kon gaan druk. Ai, die eindfluitjie het te gou geblaas. (HvD)

MAAGDE, WYSE MANNE EN PIEPIEBREEK

More uit Melkbos

Net maagde sal weet hoe waar dit is.

Ek het nogal geglimlag toe ek ‘n keer in ‘n gemeentekoerantjie lees van die klein meisietjie, moeg gerepeteer aan ‘n Kersspel. Sy kla toe by haar ma: “Mamma, dis harde werk om ‘n maagd te wees.”

Ons leef in die seisoen van Kersspelle – ook die ou heel kleintjies neem ywerig deel.

Uit George rapporteer ons skoondogter, Mariza, van die meisietjie wat in een so ‘n spel die rol van herbergier vertolk het.

In n stadium verloor sy volledig belangstelling in die doen en late op die verhoog, storm eenkant toe, sprei haar hande wanhopig omhoog en roep pleitend: “Mamma, ek wil piepie.”

Die juffrou probeer paai, maar die kind bly haar behoefte uitkreet.

Mamma het amper agter in die saaltjie gesit. Sy storm vorentoe, gryp die knypende “herbergier” en verdwyn met haar in die arms by ‘n sydeur uit.

Na n paar minute keer hulle terug, glimlag van verligting op die “herbergier” se gesiggie.

Die Kersspel het intussen tot stilstand gekom vir die piepie-breek. Sy val egter dadelik weer in, en alles gaan voort asof daar geen onderbreking was nie.

Maar as n mens wil piepie wil jy piepie – herbergier of wie ookal!

Naskrif: Vaagweg onthou ek iets van ‘n ander Kersspelstorie waarin die geografiese verskil tussen die Bybelse Betlehem en die Vrystaatse Bethlehem (met ‘n h) ter sprake gekom het. Kom ons maak dit ‘n sproetgesig-seuntjie hierdie keer, wat toe vol selfvertroue verklaar: die ware Kersgebeurde het hulle in die ander Betlehem afgespeel omdat hulle in die Vrystatse Bethlehem nie drie wyse manne kon kry nie! (HvD)