KAALBAS IN TAMATIESTRAAT

Middag uit Melkbos

O gonna, Tamatiestraat (wat uiteindelik gister verskyn het) bevind hom nou in gevaarlike geselskap, lyk dit.

Die gifpyle vlieg om die kop Van Griffel Media (uitgewer van Tamatiestraat, en ook my vorige pennevrug, Byl in my Bos). Gelukkig is dit darem, nie oor die HvD-boekies nie, maar ook Griffel se glanstydskrif Pomp 11 wat ook in hierdie dae sy buiging maak.

’n E-pos veldtog is in die omloop waarin Pomp 11 beskuldig word dat hy op sy voorblad “die vrou tot ’n verbruikersartikel verlaag.”
Kerkbode word karnuffel omdat ‘n advertensie van Griffel op Kerkbode se webblad verskyn. Op grond van onverwante webwerwe word die arme Griffel en Kerkbode sommer deur boses aan kinderpronografie gekoppel, wat darem baie vergesog is! Die uitgewer van Griffel, Hendrik Venter, noem die onsinnige bewerings tereg “onverantwoordelik, domastrant, lasterlik en ’n leuen”.

Op die omstrede omslag van Pomp 11 verskyn ‘n skildery van ‘n nooientjie wat a la die ou-ou Afrikaanse liedjie gaan water haal daar onder by die dam, maar dan, anders as in die liedjie, slegs met ‘n Voortrekkerkappie op die kop!

Venter betoog “die naaktheid van die meisie simboliseer die emansipasie van die Afrikanervrou … ’n simbool van die durf, deursettingsvermoë en sterk karakter van die Afrikanervrou.”

Ek gaan nou hier ‘n geheimpie verklap oor Tamatiestraat, en sal dit dan maar op die kinnebak vat as dit kom. In Tamatiestraat is naamlik ook ‘n mooi kaal meisie. Sy draf met net ‘n fladderende waslappie voor haar naaktheid totaal onbeskermend uit ‘n badkamer.

Of sy ook die “durf en emansipasie” van die Afrikanervrou simboliseer? Nee, dit sal ek nie beweer nie. Sy’t net vrek groot geskrik toe die aarde skielik om haar begin rammel, skud en skeur terwyl sy in ‘n vreemde huis in ‘n warm bad ontspan.

Die arme kind was nou ferplie kaalbas in Tamatiestraat!

Sensitiewe lesers hoef nie te vrees dat ‘n foto van die Tamatiemeisie in die oomblik van haar haar vrees en verleentheid in my boekie verskyn nie. Haar verskyning in gemengde geselskap was glo net momenteel. Die volgende oomblik was die ligte af in die chaos van die aardbewing wat haar paniekbevange uit die bad gedwing het. Selfs die huisbaas kon later nie mooi onthou wat hy gesien het of nie gesien het nie – of so het hy beweer.

In elk geval, lees liewer self die boek . Dalk is daar ook ‘n paar ander verrassings aan die kaalnooi-front. Maar niks stout foto’s nie, hoor! (HvD)

* Praat-praat in Tamatiestraat sal binnekort op die rakke van boekwinkels wees (ook die CNA), en natuurlik by Kalahari, On The Dot en so. Hy kos R160,00. Die boek kan ook direk bestel word by Boekblik by die volgende skakel: http://www.boekblik.co.za/pGRIFFEL43/Praat-praat-in-Tamatiestraat.aspx

My lojale vrou, Tokkie, meen dit sal ‘n oulike Kersgeskenk wees, maar natuurlik nie vir my nie, omdat ek die inhoud ken. Ek het hoeka nuwe naskeer nodig.

LOOPBAAN OP DIE VERHOOG

More uit Melkbos

‘n Kabouterkoning in 1952, ‘n energieke klavierspeler in 1956, ‘n dominee in 1957 en ‘n mislukte oudisie as ‘n donkie (een van my beste vriende, wat later ‘n bekende regter geword het, is vir die rol verkies). Dit som so plus-minus my verhoogloopbaan op skool op na my belowende debuut as danser van die Franse minuet in 1947 (vorige blog).

Nee, ekskuus, HvD – ek was in ‘n stadium as voordragkunstenaar nogal gereken en my weergawe van “Wie het ‘n lot wat soos my lot so swaar is?” kon trane in die oë van tydgenote van die vroulike geslag bring.

Dan was daar my rol as Hennerik in ‘n Volkie-weergawe van die bekende radioprogram van doerie tyd Die Mielieblaarklub. Die klub het gereeld by debatsaande in ons matriekjaar aangeleenthede van diepe impak op die skoollewe filosofies ontleed. Hennerik was nie die ster nie, maar tog ….

Die kabouterkoning se rol was nie veeleisend nie. Ek moes bak-arm op die verhoog rondloop en geluide maak soos ‘n verergde bobbejaan s’n. Die rol het my gekwalifiseer vir ‘n satynkostuum wat tog daaraan ‘n sekere gesogtheid verleen het.

‘n Vernamer rol was dié van die prins, met ‘n kleurryker kostuum en heelwat woorde om welluidend te spreek. ‘n Mooier seun het die rol voor my neus weggeraap, al was ek, volgens eie oordeel, ‘n beter proposisie.

Die dag toe ons ons kostuums kry, kom die prins en die kabouterkoning in Nieuwestraat, Potchefstroom, op ons fietse van die skool af gery, elk met sy kostuum in die een hand. Een kyk na die mooi seuntjie agter die kleurryke satyn-kledingstuk van die prins het Ma verbaas teenoor Pa laat opmerk: “Hier kom Hennie met ‘n meisie”. Die “meisie” is vandag ‘n plastiese chirurg, wat steeds na voorkoms die destydse kabouterkoning na die kroon steek. Weet nie of hy onder sy “eie medisyne” deurgelooop het nie.

Die energieke klavierspeler “John (Lover Boy) Massey” was ek in ‘n nagklub-orkes in ‘n mimiekspel in standerd nege. Ons had in ons mimiekgroepie ook ‘n ou met ‘n Hawaiese kitaar wat ek goed onthou, en ek meen ook o.m. ‘n tromspeler. Ek wou altyd graag klavier gespeel het en kon my inleef in die geluidlose spel op die glimmende wit en swart note terwyl die dansplaat op die draaitafel dreun.

My domineerol het ek met onderskeiding gevul, meen ek, buiten op die eerste aand toe ek weens ‘n aanval van verhoog-angs of iets my preek wat oor twee bladsye gestrek het, op bladsy twee begin voordra. Dit het fyn voetwerk gekos om daardie draai gemaak te kry om die begin en die einde om te ruil. Wonder nou nog of iemand in die gehoor dit agtergekom het. Die onderwyseres wat ons afgerig het, het wel. Sy was nie geamuseer nie.

Die rol van die donkie was in ‘n musiekblyspel in matriek oor Ali Baba en die Veertig Diewe. Die rol het my ontwyk omdat ek nie eens noot kon hou as ek soos n donkie probeer balk nie! (HvD)

MINUET TOT MACARENA

More uit Melkbos

Van Brahms tot Los del Rio en van die minuet tot die macarena. Dit is die ver pad wat skoolkonserte in my ondermaanse bestaan van 69 jaar en amper 11 maande gestap het.

In ‘n bloedig warm skoolsaal by Welgemoed Primêr in Bellville het Oupa dit gaan uitsweet by die 6-jarige tweeling se verhoogdebuut. Hul graad R-klassie het ‘n Flintstone-storie opgevoer met dinosourusse en dinge. Oulik.

‘n Ander klassie het laat waai op die maat van lewendige diskomusiek, met allerlei wikkelboud-danse soos die Spaanse macarena wat die musiekwêreld in die midel 90’s soos ‘n storm getref het.

‘n Derde se bydrae was ‘n onderwater-uitbeelding met haaie, seesterre, jellievisse en wat nog. Ook meerminne – pragtige klein meisiekindertjies wat op die maat van Roy Orbison se 1964-treffer Pretty Woman hul lyfies koketterig rondgeswaai het terwyl die diskoligte swiep.

Hierdie gryse se gedagtes is ver-ver teruggevoer – sy eerste skoolkonsert, Laerskool Diamantveld in Kimberley in 1947. Die uwe was in sub A. Ons klassie het ook danspassies moes leer vir die groot aand, maar – hoe het die wêreld nie verander nie! – dit was die grasieuse, romantiese minuet wat ons elke pouse vir weke der weke moes inoefen.

Op die pragtige Brahms-wals opus 39 nommer 15 (het julle al Wessel van Wyk dit hoor speel?) het ons ge-een-twee-buig, -een-twee-buig op 3/4 maat. Statig. Stadig. Stylvol. Ons kostuums was swierig en deftig soos in ‘n Franse balsaal van die 17de eeu.

Daar is dalk al ‘n saadjie geplant wat later uitgeblom het tot ‘n smaak en liefde vir klassieke komponiste soos die beroemde drie B’s (Beethoven, Bach en Brahms) en ander swaargewigte.

Maar vandag se kleingoed word gevoer op ‘n musiekdieet van Latyns-Amerikaanse ritmes. Ai, ai, ai. (HvD)

EK ONTHOU, EK ONTHOU …

Middag uit Melkbos

Gepraat van ou meisies: in my versieboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof (Tarlehoet, 2003) het ek vantevore ook die onderwerp aangeroer, met ‘n goeie skoot vrugbare verbeelding daarby.

Verbeelding of nie verbeelding nie, die slotsom is dieselfde as in die blog hieronder. Daardie buiging na my vrou (wat van Bultfontein kom) in die laaste vers het dus in minstens die laaste sewe jaar konstant dieselfde gebly.

Hier’s die bewys:

Herinneringe

O, ek onthou die rats gimnassie,
pronknooi van die dorp Makwassie
wat ‘n aand van louter passie
daar op die klapperhaar-matrassie!

Toe kom ‘n nooi van Cullinan,
‘n skitter-diamant soos min,
en ook ‘n stukkie Welkom-goud –
‘n regte skat en heerlik stout!

Die orrelis van Berg-en-Dal
soos sy kon terg, sy maak jou mal;
uit Hertzogville, bedees en stil,
kom een met hartstog – en ‘n wil!

Die strenge een van Botrivier,
party dag sy’s bra bot en suur,
maar, boeta, dit was puur plesier
soos sy kon toor op haar klavier!

‘n Bondel energie uit Vryheid
had altyd vir ‘n vrytjie ty-heid;
vergeet ook nie daai turbo-outjie –
Bikininooi van Amanzimtoti!

Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
dié dat ek nou die Heer kan dank
vir lewenslank se samesyn!
(HvD)

O MEISIES, MY MEISIES

Naand uit Melkbos

Aan die vooraand van my 70ste (op 3 Januarie 2011) wonder ek in sentimentele oomblikke oor wat van enkele ou meisies geword het. Minstens een lig in my jong lewe, weet ek, is in haar fleur langboompies toe ná ‘n motorongeluk.

Ek wonder voorts aan wie almal ek my onthou-liedjie sou opgedra het as ek ‘n minnaar in die liga van Julio Iglesias was:

“To all the girls I’ve loved before
Who travelled in and out my door
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before …”

Probleem een is dat ek nie Julio Iglesias se strelende fluweelstem het nie. Die HvD-stem is rasperig en die nootvasheid twyfelagtig. By die matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potch was ek een van die matrieks wat versoek is om liewer nie die harmonie van stemme in die klaskoor met my bydrae te versteur nie.

Probleem twee is dat nie danig baie name in my opdraglysie sal voorkom nie. Ek was nooit juis ‘n wafferse vryer nie.

Maar soentjies en drukkies het darem nie op Volkies en Tukkies ontbreek nie, en dis nogal pret om van die opwinding daarvan in herinnering te roep. Synde ‘n verbete versamelaar van ou foto’s is in my albums hier en daar enetjie (‘n foto’tjie bedoel ek) wat gawe oomblikke in my gedagtes laat herleef.

Waarskynlik die opsienbarendste meisie-foto in my skool-album is een volkspele-aand gedurende pouse voor mnr. Frans de Klerk se biologie-laboratorium geneem: ek en ‘n nooi wat liewer anoniem sal bly, in ‘n innige omhelsing.

Vir daardié foto (hierbo) moes ek iets soos ‘n halfkroon (twee sjielings en ‘n sikspens of 25 sent in vandag se geld) uithaal vir my matriekmaats Wol Steyn en Blommetjie Viljoen wat, op bestelling, soos wafferse papparazzi die flitse laat blits het.

‘n Langdurige liefde was dit egter allermins. Maar, meisie, jy is darem nie vergete nie, hoor. Ja-nee, ek sluit jou in as ek saam met Julio Iglesias die volgende glasie op die goeie ou dae klink:

“To all the girls who shared my life
Who now are someone else’s wives
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before.”

Klaar sentimenteel geraak oor die “loved befores” wat my hartsnare voorheen geroer het (verlede tyd), wil ek ook sentimenteel raak oor die “love still” wat my hartsnare steeds ná baie jare roer (teenwoordige tyd) .

Vir daardie doel beweeg ek van Julio Iglesias na Noel Coward.

Daardie ou jakkals het hom in 1956 (my standerd nege-jaar) oor die huwelik sinies soos volg uitgelaat: “I’ve sometimes thought of marrying, and then I’ve thought again.”

Noel, ou paardner, as jy maar kon geweet het watter loutere onsin jy daar kwytgeraak het.

Jy het nie my vrou vir 44 jaar geken nie.

Ou Tokkie is tops! (HvD)

WIE’S DOOD?

More uit Melkbos

Die hatch-, match- en dispatch-kolom of die cradle-, altar- en tomb– kolom – so is dit by Engelse koerante bekend: die kennisgewings van geboortes, huwelike en sterfgevalle.

Lesers blaai graag daarheen, om verskeie redes. Die lotgevalle van medemense is boeiende leesstof. Trouens, tydskrifte oor mense is voor in die sikulasiekoor, en ‘n tydskrif soos “People” glo daardie drie onderwerpe bied die beste temas vir omslae wat die lesers lok.

Vir “People” beteken dit watter glanspaartjies verlief is, watter bekendes se babas op pad of pas gebore is en wie in die openbare oog langboompies toe is (verkieslik op ‘n buitengewone wyse – hoe buitengewoner des te beter).

Ouer mense soos die uwe (moet ek weer herinner dat ek op 3 Januarie 70 word?) lees veral die “dispatch”-gedeelte. In Afrikaans sou ‘n mens dit ook vir ons generasie kon noem die “byl-in-my-bos”-kolom, a la die titel van my vorige boek.

Dit is opvallend dat ouens wat in daardie kolom opduik, dikwels jou model is – soms selfs later modelle. Dit boei jou op ‘n morbiede manier om die geboortedatums deeglik deur te kyk.

‘n Ander rede waarom gryses kennisgewings van sterfgevalle graag lees, is aan die hand gedoen deur die anonieme digter van die volgende vers, wat met ek met die verskuldigde apologie aanhaal:

There is nothing the matter with me.
I’m as healthy as I can be.
I have arthritis in both my knees
And when I talk, I talk with a wheeze.

My pulse is weak and my blood is thin.
But I’m awfully well for the shape I’m in.
Arch supports I have for my feet.
Or I wouldn’t be able to walk in the street.

Sleep is denied me night after night
But every morning I find I’m alright
My memory’s fading, my head is in a spin
But I’m awfully well for the shape I’m in.

The moral of this, as the tale I unfold
That for me and you, who are growing old,
It’s better to say I’m fine with a grin
Than to let folks know the shape you’re in.

How do I know that my youth is all spent?
Well, my get up and go has got up and went.
But I really don’t mind when I think with a grin
Of all the nice places my get up has been.

Old age is golden, I’ve heard said,
But sometimes I wonder as I get into bed.
With my ears in a drawer, my teeth in a cup,
My hair on the table until I get up.

Ere sleep comes over me I say to myself
Is there anything else I could put on the shelf?
When I was young my slippers were red.
I could kick my heels over my head.

When I grew older my slippers were blue,
But still I could dance the whole night through.
Now when I‘m old my slippers are black,
I walk to the store and puff my way back

I get up each morning and dust off my wits,
Pick up the paper and read the Obits,
But if my name is missing, I know I’m not dead,
So I eat a good breakfast and go back to bed.

Ja, natuurlik, die lees is ‘n soort ontdekkingsreis as ‘ t ware! (HvD)