JOLLIE DOMINEES

More uit Melkbos

Konserte en my eie helaas onmerkwaardige loopbaan op die verhoog was nog laas my onderwerp in hierdie ruimte toe ek so brutaal onderbreek is deur julle weet wat.

Eintlik is dit tekortkominge aan die korttermyn-geheuefront eerder as faktore van buite wat daardie vertellings ietwat stomp laat eindig het. Die liewe Tokkie herinner my: wat van die twee kerkkonserte?

Aarde, my vrou, skoon vergeet – en dit was sommer nou annerdag.

Op die een program was ek die dirigent Herbert von Karajan. Hoekom juis hy, weet ek nie. Ek het die stokkie geswaai vir die gemeente se drie leraars as die drie tenore Pavarotti. Domingo en Carreras.

Ons vier het ‘n entoesiastiese rendisie van Verdi se polsende La Donna E Mobile uit Rigoletto gelewer. ‘n CD met genoemde snit was natuurlik op die draaitafel. Op my kop was ‘n blonde bossiekop-pruik wat in ‘n stadium na ‘n buitengewoon swierige swaai van die bolyf grondwaarts getuimel het.

Die applous was van die allerbeste wat my in my ondermaanse bestaan van 69 jaar en 11 maande te beurt geval het.

By die ander kerkkonsert was ek ‘n predikant wat in ‘n Fair Lady-rige toneel die huweliksbevestiging moes behartig van die vrolike bruidegom wat in daardie blyspel Take Me To The Church On Time gesing het – klaarblyklik nie om dowe neute nie.

Ter wille van ‘n ekstra vrolikheidjie het ek op eie insiatief die element ingebou van ‘n halfbottel Klippies onder die kansel, waarvan ek ruim slukke geneem het, met (darem net kamma-kamma) ‘n sterk negatiewe impak op die samehangendheid van my boodskap en die ratsheid van my tong.

Na die kleedrepetisie het ek ‘n oproep ontvang van ‘n besorgde wat gewonder het of my uitbeelding nie afbreuk doen aan die waardigheid van die amp nie, en waarin ek aangeraai is om liefs my dors op die kansel met water eerder as met Klippies te les.

Later het ek gehoor daar was nog ‘n oproep. Hierdie keer na een van die leraars wat in die rol van Josef onderwerp is aan die verleidinge van Potifar se mooi vrou. Ons leraar het teen hierdie versoekinge van die vlees nie juis so walgegooi dat jy dit sou agterkom nie – meen Potifar se vrou was in lewende lywe darem sy eie aantreklike eggenote, wat enige Josef se voete onder hom kan uitslaan.

Of dit dieselfde besorgde lidmaat is wat die uwe gebel het, weet ek nie, maar ook vir ‘Josef” was daar in ‘n grafstem ‘n vermaning oor die telefoon dat hy hom tot stigting van die gemeente tog liefs maar moet beteuel as hy “Potifar se vrou” gryp.

Ek het ‘n vermoede ons sou albei groter applous gekry het as ons toegelaat sou gewees het om ons rolle volgens ons oorspronklike insigte sonder inhibisies te speel. (HvD)

HAMERKOPPE WAT SPYKER

Naand uit Melkbos

Daardie ou radio-kalant Fanus Rautenbach het ‘n wonderlike ding die wêreld ingestuur hoe mense volgens hul beroepe sterf:

Reisigers gaan heen: jagters gaan bokveld toe, kokke steek die lepel in die dak, die melkboer het die emmer geskop, ens.

Gister kyk ek op Kyknet na ‘n program van diere-videos. Een is van twee hamerkoppe wat amoreus raak. Skielik wonder ek hoe Fanus die uitoefening van die liefdeskuns volgens spesies sou beskryf.

In die geval van die twee liefdevolle hamerkoppe raai ek dat Fanus sou gesê het – verskoon kon tog maar die waagmoedigheid en vrymoedigheid – hulle spyker! (HvD)

OUPA EN OUMA SE OPROEPSENTRUM

Middag uit Melkbos

Waarmee hou Oupas en Oumas hulleself besig? Onder meer om vir mekaar e-posse te stuur soos hierdie ene wat nou die vierde keer by my opgedaag het en elke keer ouliker word:

Goeiedag …. Ons is nie tuis nie, maar laat asseblief ‘n boodskap na die sein. As jy een van ons kinders is, druk die nommer kind wat jy is en druk dan een van die volgende nege opsies, sodat ons kan weet wat ons moet doen as ons terugkeer:

As die kleinkinders moet kom oppas, druk 2
As julle ons kar wil leen, druk 3
As julle wil hê ons moet julle klere was en stryk, druk 4
As julle wil hê die kleinkinders moet by ons kom slaap, druk 5
As ons die kinders by die skool moet gaan haal, druk 6
As julle wil hê dat ons ‘n ete moet voorberei of aflewer, druk 7
As julle hier wil kom eet, druk 8
As julle geld nodig het, druk 9
As julle ons vir ete gaan nooi, of ons teater toe wil vat, begin praat, ons luister.

Moenie vies raak nie, kinders, ons terg sommer! (HvD)

‘N LEEK SE TONGTIPPIETOETS

More uit Melkbos

“Liefling”-koors is los in die land. Mense ruk op flieks toe in lang toue. Die Afrikaanse media trippel opgewonde oor al die glansmense met romantiese nuwe identiteite oor wie hulle kan oe en aa. Debatte is aan die orde oor die meriete van “ons eie” musiekfliek – onder resensente (twee tot vier sterre) en onder gewone fliekkykers (bekoor en onbekoor).

Die uwe kry hier op Melkbos heelwat pos oor my afwysende kommentaar op ‘n blog wat intussen deur Litnet aan ‘n groter gehoor as my gewone bekendgestel is. Nie alles is bewonderaarspos nie. Koes, kêrel! Maar alles is, genadiglik, ook darem nie uit die verontwaardigde “Los-Liefling-uit”-kamp nie.

Een van die tienduisende wat skynbaar deur “Liefling” bekoor is, Johann, verwyt my in ‘n private e-pos dat ek met die ingesteldheid van ‘n resensent die fliek beoordeel. Dankie, Johann, vir die opmerking wat my aan die dink gesit het. Het jy dalk gelyk? Het ek inderdaad na “Liefling” gaan kyk deur ‘n ander bril as my gewone ene van hou-daarvan of hou-nie-daarvan nie?

Nee, daaroor moet ek dadelik versklil. As ‘n fliek-fynproewer bied ek my allermins aan, en oor die moets en moenies van ‘n hoogstaande fliek uit die verhewe hoek van ‘n kenner van die medium is ek doodgewoon dom. Die terminologie van resensente wat hul storie ken, klink soms vir my soos die een of ander Nguni-dialek.

Ek beoordeel ‘n fliek, soos ‘n boek of ‘n opvoering in die teater, of wat ookal, in die finale instansie net volgens een enkele maatstaf: verskaf dit my plesier of nie? As “Liefling” nie aan my verwagtinge voldoen het nie, is dit dus regtig nie omdat ek gegaan het om dit deskundig (of kwasi-deskundig) volgens ‘n vaste formule te beoordeel nie. Ek gaan na enige fliek om dit (hopelik) te geniet.

Maar hoe reageer ek terwyl ek daar sit? Sit ek stroef of met ‘n glimlag? Is ek begeesterd of teleurgesteld? Is dit ‘n goed-voel-ervaring of loer ek gereeld op die horlosie? Dit is die wesenlike vrae.

En as ek uitstap? Is dit met ‘n ligte tred? Voel ek my tyd is goed bestee? Wens ek ek het maar liewer by die huis gebly en ‘n lekker boek gelees of sommer net ongekweld vir die berg en see sit en kyk?

Jy, Johann, het van “Liefling” gehou; ek, Hennie. het nie. Dit beteken nie dat die een “reg” is en die ander “verkeerd” nie. Dit beteken ook nie dat die een met hierdie ingesteldheid gaan kyk het en die ander met daardie ingesteldheid nie. Al wat dit, na my insigte, beteken, is dat mense nie bloudrukke is nie. Hulle is unieke individue.

Persoonlikhede, smake, ja, ook subjektiwiteite en vooroordele, kan nogal grondig verskil. Oor gewigtige sake. Ook oor ligtere kwessietjies soos of ‘n fliek oulik is of nie. Dit word opnuut deur ons uiteenlopende opinies gedemonstreer.

Een slot-opmerking tot my slotbydrae tot die “debat van die doodgewones”: “Liefling” is verreweg nie net sleg nie. Die resultaat haper egter omdat die resep eenvoudig nie werk nie.

In die media het ons in my tyd gepraat van die “mieks” van ‘n koerant of tydskrif. Net die allerbeste joernaliste kon daardie ongedefiniëerde en ondefiniëerbare “mieks” gereeld regkry. Die “Liefling”-span het in my leke-oë ongelukkig NIE daardie “mieks” reggekry nie. Van sekere bestanddele is te veel ingeroer; van ander te min. Daarom slaag dit nie die tongtippie-toets nie en is my reaksie een van onbehaaglikheid.

Ek bevestig hiermee my toekenning van twee sterre … plus ‘n halwe vir die entoesiasme.

Naskrif: Ek wonder in die stilligheid hoe sou ‘n gesofistikeerde nie-Afrikaanse gehoor in sê maar Europa of Amerika “Liefling” ontvang het. (HvD)

WAT DE V..V..V..V…VLEISPASTEI!

More uit Melkbos

Dit is mos maar hoe dit gaan: jy knoop ‘n pakkie lekkergoed vir ‘n kind toe, en net daarna, te laat, te laat, ontdek die ogies allerlei begeerlikhede wat hy/sy darem bitter graag ook daarin sou wou gehad het.

Met stories is dit nie anders gesteld nie. ‘n Boekie met stories soos “Tamatiestraat” kom van die pers – onmiddellik kom ‘n hele spul ander stories oor jou pad wat jy wens hulle was in.

Danie Krÿnauw van Melkbosstrand kry in die voorwoord van “Tamatiestraat” ‘n pluimpie dat hy ‘n “storiemasjien soos min” is. Om gewig aan daardie woorde te heg, trek hy los soos ‘n mini-orkaan. Dis net stories, stories, stories ….

Een van dié waarmee hy gister opdaag, is ‘n mooie oor ‘n begrafnis – ene wat nog moet plaasvind. Hy jok natuurlik dat hy “self die oom gesien het”, want dit is nie ‘n splinternuwe storie nie. So ‘n verpersoonliking is egter part en deel van Danie se arsenaal. Dis waarmee hy baie mense uitvang.

Ewenwel, hier’s Danie se storie dan – hy noem dit “Die Vleispastei”:

“Ek het self die oom gesien wat op sterwe gelê het. Sy dogter het by hom gewaak.

“In ‘n stadium het die oom n paar snuiwe gegee en sy dogter het gevra: ‘Pa, wat makeer?’

“‘Is dit nie jou ma se pasteie wat pa ruik nie?’

“‘Ja, pa, ma is besig om pasteie in die kombuis te maak.’

“‘My kind , gaan haal tog vir my een, asseblief.

“Die dogter is kombuis toe en toe sy teruggekom het , het sy gesê: ‘Sorry pa, maar ma sê pa kan nie een kry nie, want dis bedoel vir die begrafnis…’”

“Wat de v…v…v…v….. vleispastei!” wil ‘n mens amper uitroep. (HvD)

LAWWE LIEFLING

Middag uit Melkbos

Kyk, ek is nou nie Leon van Nierop nie, en is waarskynlik vrotterig toegerus om oor flieks se meriete of gebrek aan meriete te oordeel. Maar ek het tog kans gesien om mense hier sterk aan te raai: Gaan kyk na “Unstoppable”.

Daarom gaan ek ook ‘n uitspraak hier waag oor die Afrikaanse musiekprent “Liefling” (die “eerste in 30 jaar”) Mense gaan van my verskil en kan maar met my raas oor my opinie. Ongelukkig moet dit van die hart: “Liefling” is vir my, ná al die verwagtinge wat geskep is (van Kwêla tot Pasêlla is uitasem saam op die reklamewa), so vervlietend soos spookasem.

Die tema is papierdun, die karakters sonder diepte, die storie te soetsappig en die verloop werklik te voorspelbaar – “boy meets girls, boy nearly loses girl, boy gets girl”. En goeie aarde, is ons nog nie verby kussinggevegte met vere wat in alle rigtings trek en roomterte in die gesig nie?

Laat my darem ook ‘n woord van lof spreek. Vat dit van ‘n ou oom met ‘n kennersoog oor die skoner geslag: daardie Lika Berning (die dogter van Jana Cilliers) is ‘n wenner in die titelrol – pragtig, ongekunsteld, sprankelend, eg. Bobby van Jaarsveld is plek-plek ‘n heel innemende Jan. Die rolverdeling spog ook met ander mooi mense (o.a. Sonja Herholdt, Anna Davel en, uit ‘n fotogeniese hoek, ook Marlee van der Merwe, al is haar karakter, die bose Melanie, so kunsmatig soos ‘n plastiekblom).

Die sterre doen dapper en entoesiasties hul ding teen mooi agtergronde wat mooi gefotografeer is langs die Hartebeespoortdam en in Switserland. Maar, jammer, saamgeflanste mooi toneeltjies is onvoldoende vir die suggestie dat “Liefling” op die spoor kan loop van “Hoor my Lied”.

Moet dit liewer ook nie in dieselfde asem probeer noem as “Mamma mia” nie.

Verskeie tonele is duidelik aangelas om geen ander rede nie as om bepaalde liedjies en bepaalde kunstenaars te akkommodeer. Carike Keuzenkamp se “Hoeka, Toeka” met haar in die uniform van ‘n verkeersinpekteur of iets, en later agter die wiel van ‘n ou tjor – wat soek sy daar? – is ‘n verleentheid.

Al het jy verwag (of geweet) Kurt Darren se “Kaptein Span die Seile” moet die een of ander tyd kom, word dit so aan die hare ingesleep dat jy moet grynslag. “Katryn, Katryn” met drie jong mans al dansende om die permanent benewelde Katryn (Sylvaine Strike) op die dek van ‘n plesierboot was pure “candid camera”.

Sekere tonele hou aan en aan. Jan se uitgerekte selfondersoek voor die spieël het hierdie kyker laat vrees die projektor het dalk vasgehaak. En dan daardie slot, met die twee verliefdes wat op die brug bly rondomtalie soos twee opgewende tolle. Het die arme kinders nie dronk in die kop geword nie?

Oor die radio het die fliekmaker vertel die 24 liedjies waarop die storie “gebou” is, is ná ‘n seleksieproses as die publiek se gunstelinge geïdentifiseer. Nou-ja, goue oues duik op wat ongetwyfeld die hartsnare sal roer. Maar totaal onbekendes maak ook hul buiging met yl woorde en yler deuntjies. Die ene oor die “feksmasjien” (om vir ‘n nooi liefdesversies te “feks”) is ‘n sprekende voorbeeld. Van waar, Gehasi, en wie se gunsteling nogal?

Laetitia Pople het in ‘n resensie in “Die Burger” vir “Liefling” ‘n beskeie twee sterre gegee. Ek het eers gedink sy is dalk te “opstêrs”. Nadat ek “Liefling” gesien het, is Laetitia se goeie oordeel by my bo verdenking.

Ekskuus, maar eerlikheid is tog verkieslik bo die heuningkwas, of nie? (HvD)