VERRASSING OOR ADRIANUS

More uit Melkbos

Noem iemand die naam van die digter-dokter van Pretoria Theo Wassenaar dink ek aan sy bruisende See-sonnet wat hy op ‘n boot van Engeland af Kaap toe geskryf het:

“O magtige oseaan, jy wydgestrekte,
Omsirkel deur die ongemetenheid,
Diep in jou boesem rus die onontdekte:
Alleen jou swaar gehyg verneem die tyd ……”

Gaan lees daardie vers sommer nou. Hy is in omtrent elke Verseboek. Jy proe, ruik en hoor die see in elke woord.

By ‘n verjaardag op Melkbos was gisteraand ook na-familie van Wassenaar, Corinne Riphagen en haar man, Rip. Ons is vergas op mooi Oom Theo-stories, en ek en Corinne het See-sonnet sommer spontaan in ‘n tweemens-spreekkoor begin voordra. Daardie woorde is onvergeetlik.

Maar dis eintlik Rip se storie wat ek vandag wil vertel. Hy onthou dat ene Adrianus Pyper doerie tye dikwels met Oom Theo oorhoops was. Om sy irritasie uit te druk kom Wassenaar toe met die volgende ongepubliseerde juweeltjie vorendag:

“Sy naam is Pyper Adrianus,
Wat daarvan nie te verstaan is –
Die Adri kom voor die anus.”

‘n Vindingryke manier om vir Adrianus Pypers ‘n beskrywende woord toe te voeg wat nie in ordentlike geselskap sal deug nie! (HvD)

PLEIDOOI TOT JAN TAKS

More uit Melkbos

Suid-Afrikaners sal die sak meer moet skud vir o.m. water, krag en vervoerdienste, waarsku Pravin Gordhan.

Asook vir die uitstpattige lewenstyl van die swart elite, kon hy maar bygevoeg het. (Sjiesji vir daai sjoesji!)

Nietemin, dalk is dit ‘n goeie tyd om die versie “Liewe Jan Taks” uit my hekelboekie, “Polisie, polisie, my reenboog is geroof” (Tarlehoet, 2003), weer af te stof:

Liewe ontvanger, my vrou is weer swanger,
ons huisie se dak lek; ons kar is gehaai-jek;
so, liewe meneer, as dit reg is met jou,
sal ek vanjaar liewer my belasting terughou!

(HvD)

STER WAT STEEDS SKITTER

More uit Melkbos

Heelparty kindersterre verskiet – dis treurig maar waar. Ander vervul hul belofte en skyn net helderder.

In ‘n glansgedenkblad by die 30ste herdenking van Volksblad se Matriek-van-die-Jaar-wedstryd kon ek die paadjies volg van die matrieknooiens wat in my tyd as redakteur, van 1980 tot 1992, die kroon gedra het.

Een wat allesbehalwe verskiet het, is Margaret Nienaber (née Wessels) op die foto’s – bo, met die elegansie van volwassenheid, en onder, die toonbeeld van jeugdige belofte waar die uwe – die “Vader van die Matrieknooiwedstryd”, soos dit destyds bekend was – aan haar as wenner in 1991 ‘n ruiker oorhandig.

Hierdie oopkop-dogter van prof. Basie Wessels was destyds hoofmeisie van die Meisieskool Eunice in Bloemfontein. Sy het daarna die grade B. Comm en B. Comp. Honneurs aan die UV behaal. In 1997 het sy as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.

In die korttermynversekeringsbedryf het sy groot hoogtes bereik. Dit sluit o.m. in dat sy die eerste vroulike uitvoerende beampte in Santam se bestaan van 90 jaar was en in verskeie direksies gedien het. Onder haar leierskap is ‘n vennootskap in Indië in 2008 gevestig.

Sy het daarna die bankbedryf aangedurf en is vandag die uitvoerende hoof van Standard-Bank se Private Kliënte-afdeling in Suidelike Afrika – wat op die behoeftes van rykes fokus. Wil gedoen wees!

Sy en haar man, John, ‘n sakeman, woon in Morningside, Sandton, speel gholf en reis graag, lees ek in die gedenkblad. Hul gunstelingplek is New York. Ook hierdie brokkies verklap sukses.

Margaret het darem nie net blomme gekry as Matrieknooi nie, maar, ook soos al die ander, ‘n stewige studiebeurs. In haar wenjaar het boonop ‘n wenmotor bygekom : n Golf, geskenk deur Phoenix Motors.

Vir Lukas Theron wat destyds baas van Phoenix was, het ek n.a.v. die gedenkblad ‘n boodskappie gestuur

From: hennievd [mailto:hvandeventer@mweb.co.za] Sent: 24 October 2010 03:49 PM
To: Lukas Theron
Subject: Golfie

Lukas

Jy kan bors uitstoot oor die eerste matrieknooi vir wie jy ‘n Golfie gegee het!

HvD

Lukas het geantwoord:

Hennie,

Ek wonder nou net of sy nog vir ons onthou, of – beter nog – die ou Golfie?

Lukas

Ek dink darem so, Lukas – die Matrieknooikroon was immers iets baie spesiaals, wat ‘n pragtige aand was die bekroningsdinee nie, en ‘n mens se eerste motor, soos jou eerste liefde, vergeet jy mos nooit!

Nietemin, ons kan almal bors uitstoot, dink ek, dat ons in 1991 sulke uitsonderlike talent raakgesien en bekroon het – die bestaansrede van die wedstryd van die begin af.

Ongelukkig het nie al die Matrieknooi-wenners sulke diep spore getrap nie. Heelparty kindersterre verskiet … (HvD).

FEES VAN MUSIEK

More uit Melkbos

Op tien CD’s , saamgestel deur ‘n vorige aanbieder, Robert Young, verskyn iets oor die 160 gunsteling-musieksnitte wat luisteraars in die 65-jarige bestaan van die immergroen versoekprogram “U Eie Keuse” op RSG aangevra het.

Sondag het ek en Tokkie die verjaardag van “U Eie Keuse” met daardie uitgebreide musiek-keur gevier. Ek het ‘n bottel rooiwyn oopgemaak en die CD’s die een na die ander opgesit: ‘n fees van opera, operette, klassieke en ligte klassieke gunstelinge, fliekmusiek, marsmusiek, tradisionele liedjies, noem maar op.

Van Aïda tot der Zarewitsch, van Brahms tot Zeller, van die Ambrosiaanse sangers tot die Zagrebse feesorkes. Ure het omgevlieg.
By nommer 160-en-iets gekom, het ek opnuut besef: musieksmaak is so wyd soos die Heer se genade.

Die volgende sou ek graag ook nog op my “U Eie Keuse”-seleksie sou sien en hoor (dalk is van hulle daar, dan vra ek ekskuus vir die “ligte mistykie”): Lazy Gondolier, Harry Lime Theme, Milord van Edith Piaf, Gaudeamus Igitur, Memory uit Cats, Verhale van die Weense Woude, Land of my Fathers, Galway Bay, Loch Lomond, Lili Marlene, Möve du fliegst in die Heimat, Angel Voices, I Believe, La Paloma, La Golondrina, True Love, 18de variasie van Paganini op n tema van Rachmaninof (Soetmelksvlei-serenade), Humoreske, Amazing Grace, O Holy Night, Stille Nag, Pie Jesu, Auld Lang Syne, Unchained Melody, Terry’s Theme uit Limelight, Brittania rules the waves, Sleep my Baby van Anna Maria Alberghetti, Golden Days van Romberg, Tsjaikofski se Eerste Klavierkonsert, … joe, n mens kan net aangaan en aangaan. Die put raak nie leeggeskep nie.

Ek maak nie rusie met Robert Young oor wat hy ingesit het en wat hy uitgelaat het nie. Dis ‘n onbegonne taak om almal tevrede te stel. Hopelik kry ek ook nie rusie nie … maar ek maak my tog klaar vir ‘n paar ligte rapsies op die kneukels (voor of ná middernag, of hoe Fonnie?) (HvD)

U EIE KEUSE – 65

More uit Melkbos

Ter ere van “U eie keuse” se 65ste verjaardag en in aansluiting by gisteraand se besonderse huldigingsprogram deur die nuwe aanbieder, Willem Pelser, sit ek vandag graag weer hierdie blog op, wat op 27 Mei 2009 hier verskyn het.

Hoop net nie te veel mense het die meesleurende eerste halfuur van Pelser se terugblik gemis weens die SAUK se onbesonne herskedulering van die verjaardag-program om ‘n hoogs vergeetbare promosie-okkasietjie in die Paarl te akkommodeer nie.

My blog van 27/5/2009:

Ligte klassieke musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies. Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.

Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.

In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!

(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young. Deesdae is dit natuurlik Wouter de Wet, wat ook tenniskommentator is. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis).

In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.

Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.

Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.

Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.

Ewenwel, op ‘n dag het ek en Tokkie gaan sit en “ons eie keuse” saamgestel. Hier volg ons lysie “hartsmusiek”, nie in gewildheidsvolgorde nie:

Nonnekoor & Laura se aria uit Casanova (J. Strauss II)–dir. sir Neville Marinner

Mozart se klavierkonsert Nr. 21 in C Majeur (‘Elvira Madigan’) K. 467 Adante

Amazing Grace—Diana Ross

Gebed van ‘n jong meisie—Joseph Cooper

Fa La Nana Bambin—Anna Maria Alberghetti

8de Variasie op ‘n rapsodie van Paganini op ‘n tema van Rachmaninoff

Largo uit Nuwe Wêreldsimfonie (Dvorak)—Stuart Burrows

Bella Figlia dell’amore-kwartet uit Rigoletto (Verdi)

Tsjaikofski se Klavierkonsert Nr. 1 in B Mol Mineur

Non, Je Ne Regrette Rien—Edith Piaf

O Holy Night—George Beverly Shea

Hoe Groot Is U (S.K. Hine) —Rudi Neitz

Marieke—Jacques Brel

Seënbede—Anneli van Rooyen

Barcarolle uit Verhale van Hoffman (Offenbach)—op harp

Jantjie—Tygerberg-kinderkoor

Neuriekoor uit Madama Butterfly (Puccini)

Wals op. 39 nr. 15 van Brahms—Wessel van Wyk

Va pensiero (Slawekoor) uit Nabucco (Verdi)

Stille Nacht—Bielefelder Kinderchor

Die omvang van die lys sal Wouter de Wet seker sy hande in die lug laat gooi. Dis stof vir twee programme. Toemaar, Wouter, dis in elk geval nie vir die radio bedoel nie – sommer net vir ons eie plesier.

Van die historiese, sentimentele en ander redes waarom bepaalde snitte op ons lysie pryk, vertel ek graag in ‘n volgende aflewering (HvD)

SLEGTE DAG OP KANTOOR

Middag uit Melkbos

Snelbouler I. Nicholson van Zimbabwe het Vrydag teen die Proteas in Benoni 74 lopies in sewe boulbeurte afgestaan, minstens twee lelike veldwerkblapse begaan en toe, op die koop toe, sy paaltjie vir ‘n eendjie verloor.

In die idioom van sportkommentators had die stomme man waarlik
“ ‘n slegte dag op die kantoor”.

Sy l-a-a-ang agtermiddag het my herinner aan my eie “slegte dag op kantoor” op die krieketveld vyf dekades en ‘n ietsie gelede.

Ek was in matriek op Volkies, Potchefstroom, ‘n brose 16 jaar oud en is skielik ontdek as ‘n skraal outjie (ja, glo dit!) wat ‘n krieketbal nogal kon slinger. Ek was pas bevorder tot die nommer-twee-snelbouler vir die eerste span (Antonie Richards, toe in standerd nege, was ons vinnigste man), en was danig in my skik met die nuwe status.

Op ‘n middag speel ons teen Potchefstroom-Dorp. Een van die aanvangskolwers was wyle Harry Newton Walker, Springbok-voorryman met arms soos voorhamers.

Ek kom op my langerige aanloop, trap vas en bestook hom met my eerste blitsbal. Hy slaan die bal minagtend oor my kop vir ‘n ses. Die volgende dryf hy vir ‘n vier. Toe kom nog twee reuse-sesse voordat hy die res van die beurt, genadiglik, verdedigend uitspeel.

Dat my nooientjie Marie langs die veld was om die uwe se vernedering te beleef, het sake nie makliker of lekkerder gemaak nie.

Soos ek “Byl in my bos” oor die ervaring skryf, het dit die jongeling ten minste nederigheid geleer. Miskien moet I. Nicholson uit daardie woorde moed put. Hy sal werklik nie in die toekoms ‘n tekort aan nederigheid kan hê nie! (HvD)