GEARENDHEID VAN ‘N OORPISTER

More uit Melkbos

‘n Knaap wat geen uitblinker in die katkisasieklas was nie, kry een les die taak om ‘n stukke voor te lees waarin die woord ”sinagoge” voorkom. Die lesery verloop maar sukkelend. Toe hy by die vangwoord kom, steek die leser soos ‘n steeks perd vas.

“Siene-siene-siene…” waag hy gemarteld. Maar sy selfvertroue bou stadigaan op. “Siena-gogge,” spoeg hy oplaas die vreemde woord uit.

Dominee was ‘n platjie. “Nou watse gogga is ‘n siene-gogga, Kareltjie?”

Kareltjie skroef sy voorkop in ‘n diepdink-frons.

Toe, half-vraend: “Seker iets in die gearendheid van ‘n oogpister, dominee?”

Enkele ure nadat ek hierdie storie uit die mond van my vriend Cas Jacobs, boorling van Carnarvon, vir ‘n groep Melkbossers om ‘n vleisbraaivuur by Rondeberg, Clanwilliam, oorvertel het, vlieg ‘n besie (soos hierbo) by my oor in. Pylreguit of hy deur radar gelei was.

Nou kyk, ‘n besie in ‘n man se oor is geen beuselagtigheid nie. Dit klink of die ding vlerke het soos ‘n vrugtevlermuis en hy wikkel hulle dat dit dreun soos ‘n helikopter wat in ‘n spelonk staan en opwarm.

Ek klap, uiter ‘n noodkreet en swaai my kop wild om van die bose indringer ontslae te raak.

“Seker iets in die gearendheid van ‘n oorpister,” lewer een ou onsimpatiek kommentaar.

“n Oorpister op soek na ‘n toilet,”grap ‘n ander.

Intussen hardloop die vrou van die huis vir een van daardie soort knypinstrumentjies waarmee vroue ongewenste hare aandurf. Sy knyp-knyp in die donker tonnel van my oor, maar die ou “zirrr… “ net meer verbete,

My vrou, Tokkie, het intussen omgevloog na ons huisie toe en kom aangedraf met ‘n bottel kookolie en ‘n lepel. Die kookolie laat ten minste die gefladder van die vlerke bedaar, het sy iewers gehoor.

Daardie raad is genadiglik in die kol.

“Zirr, zirr, zirr,” raas die besie al hoe sagter. Toe raak dit stil.

Die volgende oomblik staan sy met die sondaar in die hand. In ‘n poging om verdrinking in ‘n lepel kookolie te voorkom, het hy ligwaarts gebeur om asem te kry. Toe kry sy hom beet. Verby met Doris Day.

Ek kon my vrou soen toe sy die donker klein lyfie triomfantlik vir die belangstellendes wys.

Die beleg van my oor was oor … maar oor een ding kom ek nie: my verrassing oor die afwesigheid van twee reusevlerke. Ek sweer: terwyl die besie binne was, was sy vlerke monsteragtig! (HvD)

PYN OOR ‘N TREIN

More uit Melkbos

Wie onthou die lugdiens Nationwide? Ek onthou hom met ‘n seer hart, want ek het kaartjies vir my en Tokkie en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens, vir ‘n vlug van Kaapstad na Mpumalanga Internasionaal in my besit gehad toe Nationwide op 29 April 2008 gevou het.

‘n Spul vorms is dadelik ingevol om my R5 392 terug te eis. Die likwidasieproses sloer nou egter langer as twee jaar. Ons hoor niks. Vir daardie R5 392 het ek lankal koebaai gewuif.

Nou huil ek oor die Shosholoza Meyl.

Shosholoza, Shosoloza het ons in 1995 op Ellispark gedreunsing toe ons (danksy Joel Stransky se skepskop) die All Blacks om die Wêreldbeker klop. Shosholoza, Shoshola sing ek vandag. Maar ek sing dit “dêm sad”, soos die ouens Suikerbossie op die begrafnis gesing het weens die gebrek aan ‘n liedjie wat meer by die somber aard van die geleentheid pas.

Ek, liewe vriende, sit met R3 000 se kaartjies op die Premier Classe van Kaapstad na George en terug vir my en Tokkie – vir “a journey that will live in your memory long after the trip has ended”, aldus die (peperduur) glansbrosjure.

Maar die wiele het tot stilstand geknars. Die Shosholoza Meyl kos te veel om op die spoor te hou, seg die trein-owerhede.

Ai, ai, ai – koebaai vir nog R3 000. Ek sien dit kom. Hierdie keer gaan ek nie eens my siel versondig deur ‘n pak vorms in te vul wat tog maar net tydmors is nie.

Ek gaan maar vir my ‘n dop Jack Daniels skink, vir Melkbos se wonderskone sonsondergang sit en kyk, in broeiende stilte wonder oor waarom ek altyd op ‘n verloorperd wed en saggies huil oor die Meyl.

Oos, wes, Jan Tuisbly se karretjie is bes! (HvD)

ZOLA-SCOOP!

More uit Melkbos

My boekie “Byl in my bos”, oor die uitdunning van my generasie deur die dood, is net ‘n jaar oud. Nou kap die Byl éérs! Die splinters spat en die vars hopies kom in ‘n ontstellende tempo by.

Gelukkig is ‘n boek nie soos ‘n koerant nie. Wat jy geskryf het, het jy geskryf. Kant en klaar. As dit wel soos ‘n koerant was, sou ek al hoeveel “ads” moes bysit – en vandag weer.

‘n “Ad” is in koerant-vaktaal nuwe inligting wat agteraan of iewers in die lyf van ‘n berig gelas word. Vandag se “ad” sou wees om die naam van oud-kollega Naas du Preez by te voeg.

Naas was politieke beriggewer en nuusredakteur van Die Volksblad, maar het later na die advertensiekant omgeswaai as eerste bestuurder van ‘n nasionale advertensiekantoor vir die koerante in Johannesburg. Hy het sy loopbaan voltooi as hoofbestuurder van Volksblad en die koerante en die sentrale streek.

Vir hom koppel ek veral aan ‘n storie uit sy nuusredakteursdae – die storie van die “scoop” wat uiteindelik nie ‘n “scoop” was nie.

Die storie het sy oorsprong by daardie skraal, kaalvoet-Vrystatertjie Zola Budd. Sy het op ‘n kol eksklusief, en in haar eie handskrif, Die Volksblad (toe nog met die “Die”) meegedeel dat sy in Suid-Afrika gaan bly.

Ek (redakteur) en Naas (nuusredakteur) is heel ingenome by die rolpers afgeneem met ons “eksklusiewe” Zolakoerant (foto bo).

Nie lank daarna nie, was Zola weer as aangenome Brit in Brittanje op die baan.

Wat maak dit tog saak, Die Volksblad is die dag ná haar oorhaastige aankondiging in The Citizen se hoofberig iets soos tien keer genoem — ‘n joernalistieke rariteit.

Sou graag nog vir oulaas met Naas n grappie oor ons twee se Zola-“scoop” wou deel. (HvD)

TIKMASJIEN-TIERE

Middag uit Melkbos

Met sy kenmerkende deeglikheid het Herman le Roux, oud-kollega (op die foto saam met my en sy vrou, Rina, in Sabiepark se swembad), ‘n lys saamgestel van die ryke oes skrywers wat ons ou koerant, Die Volksblad, deur die jare opgelewer het.

Terwyl ek in Sabiepark was, het Volksblad (soos hy nou heet) die lys gepubliseer, wat Herman – joernalistieke bloedhond wat hy is – tot in die fynste besonderhede nagespeur het.

Amper sestig Voksbladmense het saam byna 600 boeke geskryf, het Herman bevind, en ‘n mens moet met hom saamstem: Die sestig het dalk, as ’n stokperdjie of later as beroep, meer boeke geskryf as redaksielede van elke ander koerant in Suid-Afrika – of selfs in die wêreld!

Van hierdie skrywers is met die hoogste pryse bekroon, soos C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Deon Meyer, Pieter W. Grobbelaar en Chris Karsten.

Die versoeking is om verder met Herman se kalwers te ploeg, want hy kom vorendag met rosyntjies soos dat Wille Martin 220 boeke geskryf het en dat Deon Meyer se boeke al in 20 tale vertaal is. Maar gaan lees maar self by Volksblad.com.

Laat my net my drie redes noem waarom ek vandag by Herman se lysie uitkom:

1. Hy behoort iewers in die openbaar op die skouer geklop te word vir sy ywerige navorsing;

2. In die jongste Huisgenoot is ‘n artikel oor Chris Karsten. Dit prikkel my toe opnuut dat Deon Meyer, koning van die spanningsverhaalskrywers, en Chris Karsten, wat as ‘n kroonprins genoem word, albei joernaliste by Die Volksblad was, en albei in my tyd as redakteur.

3. Nie al die beste skrywers van Die Volksblad het boeke geskryf nie. ‘n Tikmasjien-tier soos Johan van Wyk se naam ontbreek bv. op daardie lys. Gaan lees maar in die jongste Weg Johan (van Stop van Myne-faam) se meesterlike vertelling oor Gert en die International – dan sal julle weet wat ek bedoel.

Herman se lys is indrukwekkend – maar dit behoort langer te gewees het!
(HvD)

LEEULOOP MET ‘N VERSKIL

Middag uit Melkbos

Mense gaan Skukuza toe om na die diere te kyk. Net een keer per jaar word die rolle omgekeer. Dan verwonder die leeus, luiperds, olifante en wat nog hulle seker aan die toneel van 2 000 pompende mensebene – van baie bleek tot pikswart – as 1 000 hygende atlete verby draf.

Die groot okkasie van elke eerste Saterdag van Augustus is Skukuza se halfmarathon. So tussen al die gevaarlike diere deur. Dis nogal ‘n aardigheid om die gewapende “beamptes” met hul R1’s en 458’s by elke kilometermerk aan te tref.

Maar ook geen wonder nie: voor die wegspring (met ‘n geblikte leeubrul) moes die helikopter en ‘n span veldwagters al ‘n trop buffels, ‘n renoster, leeus en ‘n luiperd van die roete afkeer!

Een jaar was daar geen wenner nie: die voorloper het hom trompop in ‘n trop leeus langs die roete vasgehardloop. Toe spring by eenvoudig op die bakkie wat die hardlopers vergesel. Ditto nommer twee, ditto nommer drie ….

Dit was nou vir jou ‘n leeuloop van ‘n anderster liga.

My en Tokkie se eerste Skukuza-halfmarathon amper tien jaar gelede (darem net as toeskouers!) het sonder só ‘n komplikasie verloop. ‘n Trop bobbejane het hulle egter boeglam geskrik vir die vreemde gesig. ‘n Hiëna het uit die bosse gekom, die spulletjie een verwarde kyk gegee en verkas. ‘n Vlakvark – “een geestige bees”, volgens n Hollander – het langs ‘n swetende drawwer ingeval. Toe moes jy hom sien versnel!

Die sowat duisend atlete word afgesit met die geblikte brul van ‘n leeu. Die atlete spring weg op die krieketveld in die personeeldorp. Hulle hardloop verby Lake Panic, wat deel van die gholfbaan vorm, dan al met die teerpad langs (rigting Skukuza) en uiteindelik ‘n draai deur die personeeldorp. Die hele Skukuza is in rep en roer.

Daardie oggend moet jy vroeg roer as jy by die hekke wil inkom. Atlete, jonk en koud, kapabel en nie meer so kapabel nie, sak van oral op die Kruger-wildtuin toe vir hierdie aardigheid.

Een van die flinke deelnemers in ‘n stadium was ons Skukuza-gemeentetjie se dominee, ds. Carl Louwrens. Deesdae help hy ewe flink met die kerrie-en-rys. Sy gemeente, soos die skool, kleuterskool en andere het kraampies wat goed ondersteun word.

Die halfmarathon verdien almal se ondersteuning. Ook die Van Deventers s’ n. Só het ons daar en dan besluit. Dis ‘n lekker okkasie met ‘n kermis-atmosfeer. Ons woon dit nie net by nie. Tokkie help op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaarmaak .

Vanjaar het dinge so uitgewerk dat ons die eerste naweek van Augustus al terug is op Melkbos. In die gees sal ons egter Saterdagoggend op Skukuza wees as die geblikte leeu brul ….. (HvD)