LIGGEWIG-MUNTE

More uit Melkbos

Oor die baie kraanvoëls in die Overberg raak ek nie uitgepraat nie. Hier is nog twee foto’s wat verlede Woensdag tussen Bredasdorp en Malgas geneem is – hierdie keer van kleiner groepies as die swerms van twintig, dertig wat algemeen was in die omgewing van die De Hoop-natuurreservaat, maar nader aan die pad en aan die kamera.

Van kraanvoëls gepraat: ek wonder hoekom die SA Munt hulle so stief behandel. Buiten dat dit ‘n sierlike, elegante voël is, is dit darem ook ons nasionale voël. Op watter munt pryk dit egter? Die beskeie 5c-stuk. Selfs die volop varkoor/varklelie vaar beter met sy verskyning op die 10c-stuk. Hoekom ontbreek die erkenning vir dié status van die kraanvoël?

In die algemeen word die waarde van ons nasionale simbole deur die muntmakers, helaas, nie juis hoog aangeslaan nie. Die protea haal net die ook maar liggewig-20c-stuk. Die springbokkie vaar die beste met die R1-stuk. Dis ook maar niks om oor huis toe te skryf nie.

Ek is nou nie ‘n ou wat glo aan petisies en daardie klas ding nie (wat het n petisie iemand al in die sak gebring?) maar miskien moet iemand met gesag tog iewers stem dik maak dat ‘n herwaardering kan kom oor die plek van ons nasionale simbole op ons geld.

Dink hoe mooi sal n R200-noot lyk met ‘n pronkende springbok, die R100 met die fiere kraanvoël en die R50 met ‘n koninklike protea – of wat praat ek alles? (HvD)

OVERDAAD IN OVERBERG

Middag uit Melkbos

Soveel kraanvoels, soveel walvisse, soveel elande, soveel bontebokke … in my dag des lewens het ek nie in 24 uur so ‘n ryke en ongewone verskeidenheid in die natuur gesien nie.

Ja-nee, ‘n kort kuiertjie by die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg verlede week, met basis die karaktervolle Boegoe-boskamp een kilometer van De Hoop se hek, was vir die Van Deventers ‘n splinternuwe ondervinding, waarlik genotvol en deur en deur die moeite werd.

Honderde kraanvoëls in swerms van twintig en meer in die veld tussen Bredasdorp en Malgas het my kamera oortyd laat werk. In die loom waters van die Indiese Oseaan by Koppie Alleen het die skuimstrepe ‘n honderd-plus (ja honderd-plus) walvisse verraai. In De Hoop was elande en bontebokke om elke hoek en draai.

Maar die “overdaad in die Overberg” het nie by kraanvoëls, walvisse, elande en bontebokke opgehou nie.

Oor die snaaksigheid van bobbejane langs die water by die Mond in De Hoop het ek in ‘n vorige blog verslag gedoen. Naby Malgas het ek en Tokkie die Honda vinnig tot stilstand gebring en gefassineerd van die pad dopgehou hoe twee ratse skaaphonde ‘n paar honderd skaap vir die vanger op ‘n bondel jaag.

Ons het die geel muishond die eerste keer hier gesien (binne en buite die reservaat), en baie volstruise, pelikane, flaminke en ander watervoëls.

Vir ons, wat nie stappers is nie, was dit ‘n belewenis om by Koppie Alleen te sit en walvisse kyk toe ‘n vyfdaagse staptog op die Walvisroete van Potberg af daar eindig. Die vroue was in ekstase oor hul ervaring – hoop my en Tokkie se ritse spanfoto’s op allerlei kameras sal altyd vir daardie stappers van die Boesmanland en elders ‘n heuglike herinnering aan hul staptog wees.

Die wuiwende groen koringlande, gespikkel met kolle goudgeel canola, so ver soos die oog kan sien, omskep, om alles te kroon, hierdie mooi deel van ons land hierdie tyd van die jaar in ‘n lushof, wat (soos die veldblomme elders) toeriste in busvragte behoort te lok.

Daarvan gepraat: Die Burger rapporteer dat De Hoop in Junie, gedurende die Groot Sokker, 433 of 112% meer besoekers gelok het. Net 433 en dit is 112%! ‘n Eenvoudige sommetjie vertel die storie van ‘n plek wat baie bied maar klaarblyklik te min besoekers lok. Veral Suid-Afrikaners is blykbaar lui om daardie 40km hoofsaaklik grondpad van Bredasdorp af (50 km van Swellendam) af aan te pak.

Mense, daar is wonderlike anderster soort blyplek vir elke sak, gawe kampplek en genoeg om te sien en te doen, sodat jy De Hoop (die liedjie Skipskop se wêreld) as top-reservaat kan uitsonder. Julle moet kom, kom, kom dat hierdie juweeltjie tog nie, soos andersins onvermydelik sal wees, deur kruipende agteruitgang getref word nie. (HvD)

TREIN: HOOP VERDWYN

More uit Melkbos

“Geen trein op 3 September van Kaapstad na George nie. Busvervoer sal verskaf word, of gaan eis jou geld terug by ‘n stasie.”

Met hierdie nuus het ‘n hoflike, apologetiese heer by 0860008888 gister my pynlike vermoed (blog van 13/8) bevestig.

Die Shosholoza Meyl (Premier Classe)loop dalk al elders weer – op hierdie roete is sy stoom egter steeds op.

Help nie om te kla dat jy reeds op 26 Maart – vyf maande gelede – bespreek het nie.

Help ook nie om te kla dat jy ‘n Avis-motortjie bespreek het, wat jou amper 50% van die huurkoste as “kansellasiefooi” uit die sak gaan jaag nie.

Help nie om te kla oor besprekings by Sanparke se Wildernis-park , of oor enige ander ontwrigting/teleurstelling nie.

Dis maar hoe dinge nou in SA werk, finish en klaar. (HvD)

HOERA VIR STRAND-BOBBEJAAN

Middag uit Melkbos

Die bobbejaan is ‘n burger van die berge. Elke bobbejaan het immers sy krans, soos die spreekwoord lui. Ons sing ook “bobbejaan klim die berg …”

In die bekende Afrikaanse liedjie klim ou sekelstert mos ewe jollie die berg om die boere te vererg – “hoera vir die jollie bobbejaan!”

Hoe jy daardie kloutjie by die oor kry, weet ek nie so mooi nie. Maar nietemin en desnieteenstaande, ek wil eintlik vertel van die natuurreservaat De Hoop se jollie bobbejane.

Hierdie foto het ek gister by die uitkykpunt by Die Mond in De Hoop geneem. Die bobbejane kuier hier alte lekker tussen die pelikane, flaminke en dies meer op die wit sand by De Hoop se vlei.

Moenie in De Hoop die bobbejaan agter die bult gaan haal nie – gaan soek hom liewer op die strand. Of wat praat ek alles?

Bobbejane wat n sonbad neem, was nie die enigste verrassing van ‘n vinnige kuiertjie aan die Overbergse kus nie. Van die ander doen ek later verslag. (HvD)

GOGGA MAAK VIR PAPPAS LAM

Middag uit Melkbos

Vergewe my, maar ek voel nogal ietwat “tjaf”, soos my kinders op skool gepraat het, ná my besie-in-die-oor-avontuurtjie.

Uit die vertelling van Sarel Venter van Bloemfontein oor sy pa se ervaring en Henry se kommentaar op Linet wil ek graag aflei dat ek heldhaftig die beproewing deurstaan het.

Tokkie verdien ook punte vir haar vinnige, doelgerigte en doeltreffende ingryping, reken ek.

Laat ek Sarel aan die woord stel:

“Jou vertelling oor die inkruiperige besie in jou oor het my laat terugdink aan donkiejare gelede toe so iets my oorle pa oorgekom het.
Die besie het die gaping of oorgat gesien en daar ingevlieg. Dit was erg soos my pa tekere gegaan en my ma die besie probeer uithaal het. Niks wou help nie.

“Volgens my pa het die besie al hoe dieper ingekruip soos wat my ma sy agterent (die besie s’n) met wat ook al probeer haak of trek het.
My ouma, by ons aan huis, het opgemerk: ‘Lig met ‘n flits by die ander oor; dalk kruip die ding dwarsdeur en dan is hy uit.’

“My pa het nie gedink dit is snaaks nie.

“Olyfolie of so iets het ook nie gehelp nie. Die besoeker het vasgeskop.
Enigste raad was: ry na noodgevalle in ons naaste hospitaal, die Glynwood in Benoni, 14 km ver.
“Ek was nog te jonk om te bestuur, maar ek en my pa is daar weg. Hy aan die stuur en ek op morele bystand.

“Ek was maar benoud, want elke keer as die besie daar diep in my pa se oor krap en skop met sy skerp pootjies het ek gedink my pa gooi die kar om. Vir rooi ligte het my pa (die wetsgehoorsame polisiebevelvoerder op Petit in die buitewyke van Benoni) daar die aand ook nie veel respek betoon nie.

“Noodgevalle se personeel het die indringer gou verwyder en in ‘n nierbakkie gegooi. Toe al morsdood versmoor van die olie.

“Ons terugtog huis toe was veel rustiger.”

Henry merk kort en kragtig op:

“Dis niks lekker as daar iets in jou oor invlieg nie – het eenkeer met my gebeur, en ek het omgemoer en ‘n rib op ‘n klip gebreek.”

Ik heb gezegd. (HvD)

GEARENDHEID VAN ‘N OORPISTER

More uit Melkbos

‘n Knaap wat geen uitblinker in die katkisasieklas was nie, kry een les die taak om ‘n stukke voor te lees waarin die woord ”sinagoge” voorkom. Die lesery verloop maar sukkelend. Toe hy by die vangwoord kom, steek die leser soos ‘n steeks perd vas.

“Siene-siene-siene…” waag hy gemarteld. Maar sy selfvertroue bou stadigaan op. “Siena-gogge,” spoeg hy oplaas die vreemde woord uit.

Dominee was ‘n platjie. “Nou watse gogga is ‘n siene-gogga, Kareltjie?”

Kareltjie skroef sy voorkop in ‘n diepdink-frons.

Toe, half-vraend: “Seker iets in die gearendheid van ‘n oogpister, dominee?”

Enkele ure nadat ek hierdie storie uit die mond van my vriend Cas Jacobs, boorling van Carnarvon, vir ‘n groep Melkbossers om ‘n vleisbraaivuur by Rondeberg, Clanwilliam, oorvertel het, vlieg ‘n besie (soos hierbo) by my oor in. Pylreguit of hy deur radar gelei was.

Nou kyk, ‘n besie in ‘n man se oor is geen beuselagtigheid nie. Dit klink of die ding vlerke het soos ‘n vrugtevlermuis en hy wikkel hulle dat dit dreun soos ‘n helikopter wat in ‘n spelonk staan en opwarm.

Ek klap, uiter ‘n noodkreet en swaai my kop wild om van die bose indringer ontslae te raak.

“Seker iets in die gearendheid van ‘n oorpister,” lewer een ou onsimpatiek kommentaar.

“n Oorpister op soek na ‘n toilet,”grap ‘n ander.

Intussen hardloop die vrou van die huis vir een van daardie soort knypinstrumentjies waarmee vroue ongewenste hare aandurf. Sy knyp-knyp in die donker tonnel van my oor, maar die ou “zirrr… “ net meer verbete,

My vrou, Tokkie, het intussen omgevloog na ons huisie toe en kom aangedraf met ‘n bottel kookolie en ‘n lepel. Die kookolie laat ten minste die gefladder van die vlerke bedaar, het sy iewers gehoor.

Daardie raad is genadiglik in die kol.

“Zirr, zirr, zirr,” raas die besie al hoe sagter. Toe raak dit stil.

Die volgende oomblik staan sy met die sondaar in die hand. In ‘n poging om verdrinking in ‘n lepel kookolie te voorkom, het hy ligwaarts gebeur om asem te kry. Toe kry sy hom beet. Verby met Doris Day.

Ek kon my vrou soen toe sy die donker klein lyfie triomfantlik vir die belangstellendes wys.

Die beleg van my oor was oor … maar oor een ding kom ek nie: my verrassing oor die afwesigheid van twee reusevlerke. Ek sweer: terwyl die besie binne was, was sy vlerke monsteragtig! (HvD)