ASSEBLIEF EN DANKIE

“Cote Atlantique”, “Cabane dans l’orage”, “Epis d’eau” en “Chanson du vent” sing die Franse sangeres Myra Maud deesdae in vele Afrikaanse voorhuise.

Dan swel Afrikaanse harte van trots oor hoe mooi “Blouberg se strand”, “Huisie by die see”, “Waterblommetjies” en Sonja Herholdt se immergroen “Ek verlang na jou” in Frans klink.

Mag dié trots op Afri-Frans ons aansteek om Afrikaans te troetel soos die taaltrotse Franse Frans troetel.

As ‘n klein begin: kom ons hou op om oral en altyd vir anderstaliges “please” en “thank you” te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê.

Diegene wat nie weet wat daardie woorde beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my “dankie” vir sy Zimbabwiese kollega vertaal.

Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon. (HvD)

DIE LEEU EN DIE LAM

More uit Melkbos

Toe ons die Honda Sondagoggend by Sabiepark se hek uitswaai ná sewe salige weke was op die swartbord ‘n verwelkoming en ‘n waarskuwing: Pas op hier loop op die oomblik ‘n luiperd en leeus in die park rond!

Dit is dalk ietwat anachronisties, maar nogal veelseggend van onse “private natuurreservaat” aan die Sabie, twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin.

Ja, hier in Sabiepark, waar ons – en die wilde diere – as ‘t ware onbelemmerd tussen mekaar rondloop, is dit soms werklik ‘n geval van die “leeu en die lam” lê langs mekaar!

Die “wilde” kant van die vakansie het in die laaste dae nog ‘n element bygekry. Die Sjangaan-huishulp Lucy het die onmiskenbare koppie van ‘n slangetjie by ‘n dakbalk van Tarlehoet se solderslaapkamer sien uitsteek.

‘n Slang in die gras – nogal ongemaklik om te dink waar hy oral in die dak kan rondseil.

Vroeër het Lucy Tokkie geroep om te slangetjie se “trousers” te kom inspekteer wat aan ‘n dakbalk hang. Nadere ondersoek bring aan die lig die “trousers” is sy ou vel. Oulike woord!

‘n Kleurryke element van die laaste dae was vyf bloukuifloeries saam by die watergat (die meeste nog). Die bome wat dáár soos ‘n ry soldate op aandag staan, is ‘n Laeveldse melkbessie, n Transvaalse saffraan, ‘n rooiboswilg, ‘n reuserosyntjie en ‘n gewone pendoring.

Ek glo dis die saffraan wat hulle nou lok. Sy klein ovaalvormige,
groen, vruggies wat in trossies tussen die blare hang, raak nou ryp. Hulle is ook lief vir die rosyntjies wat in die somer ryp word.

Die vakansie het ten einde geloop op ‘n gelukkige noot: “ons” nagapie was toe nie die uil se slagoffer nie. Al drie was na die uilvangs terug op huil pos.

‘n Humoristiese noot was toe hierdie ratse diertjies na 12 jaar se verwondering oor hul ongelukvrye rekord in die digte verkeer by die piesangtafel uiteindelik hul feilbaarheid demonstreer.

Twee tref mekaar trompop in die lug. Wat n “mid-air collision”. Enetjie was ‘n ruk katswink, het dit gelyk.

‘n Bosbokrammetjie het Vrydagnag op die werf geslaap.

Japie Louw van 145 het vir my ‘n bottel Baron Edmond van 2007
van Rupert & Rothschild Vignerons gebring om dankie te sê vir die foto van die luiperd op sy werf (145).

Weens slordige eie statisieke is ek nie seker nie, maar dit is moontlik dat ons in hierdie vakansie 1000 dae in Sabiepark voltooi het. Beter kon ons dit nie gevier het as met só n vakansie en só ‘n wyntjie nie! (HvD)

WILD EN WONDERLIK

Middag uit Sabiepark

Dit raak ‘n “wilde” en wonderlike rit op die laaste stukkie pad na die einde van 2010 se Sabiepark-wintervakansie toe.

Op die spore van die luiperd wat ek in Apiesdoringlaan afgeneem het, was twee leeus, glo indrukwekkende kraagmannetjies wat ‘n bosbokrammertjie op erf 282, naby die piekniekplek, platgetrek het.

Hul daaglikse roete vat hulle nie ver van Tarlehoet af verby nie. Sou dit die rede wees waarom ‘n brandwag-bobbejaan hoog in ‘n knoppiesdoring langs die huis gister só lank en luidkeels tekere gegaan het?

Op 282 skuil hulle diep in die bos, maar die gekraak van bene was in ‘n stadium duidelik hoorbaar. Sabiepark se uniformdraers het hulle vlugtig mooi gesien.

My vriend Piet Henning van Louis Trichardt beskou leeus as “ingebore moorddadig en astrant, met al die toebehore van nagvisie, tande, naels, lis en nuuskierigheid.“ Stefran Broekman, nuwe parkhoof, stem klaarblyklik met hierdie evaluering saam.

Geen verrassing nie dat die piekniekplek dadelik afgesper is en bewoonde huise haastig besoek is om inwoners te vermaan: Hier’s leeus – moenie dit met dapper en stapper in die strate waag nie.
Einde van ons stappery hierdie vakansie!

Manie Steyn van Krugersdorp, studentemaat van 50 jaar was tot Dinsdag op besoek. Vanselfsprekend was die tjops en wors vir Maandagaand se afskeidsbraai op die soliede ystermeneer wat tien jaar gelede sy geskenk aan Tarlehoet was nadat hy en wyle Sannie uit Davidstraat, Constantiakloof, verhuis het.

Buitengewone hiënabelangstelling is deur die seremoniële okkasie uitgelok. Twee kere het een op die voorstoep op en af geparadeer en by die venster ingeloer om vas te stel waaraan die mense aan die tafel só weglê. Toe Tokkie hom ‘n slag wil gaan verwilder, kry sy hom met sy snoet plat op die stoeptafel, my kamera aan’t besnuife. Amper groot skade!

Dinsdagaand, sesuur se stryk, kom lê ene met oë bot toe, kop op sy voorbene soos ‘n hond, by die voëlbadjie. Tokkie vermoed die besoek is om sy/haar laaste asem hier by Tarlehoet uit te blaas. Oud-redakteur Piet Cillié se woorde kom dadelik by ons op: ‘n Dooie muishond stink twee keer. Wat van ‘n dooie hiëna?

Later flikker die oë oop. Die “sterwende” hiëna staan op en stap weg.

In die nag skrik ons wakker van iets wat kletterend val. Die bord met dierespore op wat teen die stoepmuur hang, lê op die grond. Tokkie onthou sy het die uil vroeër oor die stoep sien vlieg. Dit verg nie veel verbeelding om die twee insidente met mekaar te verbind nie.

Vanoggend dui bloedspatsels en dinge op die stoep inderdaad op ‘n uilvangs. Wonder of dit een van die drie resident-nagapies was? Sal dit eers teen skemer weet.

Aan die wildtuinfront was ‘n gawe ontdekking saam met Manie die S21 wat anderkant die piekniekplek Nkuhlu op die Onder-Sabie-teerpad suidwaarts uitswenk. By drie bedrywige drinkgate sien ons olifante, koedoes, blouwildebeeste, rooibokkies en vlakvarke drink. ‘n Eensame ou “dagha boy”-buffel staan en grassies peusel. Voëls is volop.

In die Julie-uitgawe van die tydskrif Weg kies ene Ronél Jacobs die 27 kilometer-lange S21 (ook bekend as die N’watimhiripad) as een van haar vyf gunsteling-grondpaaie in die Wildtuin. Ons het wel nie swart- of witrenosters daar gesien nie, net tekens van hul teenwoordigheid, maar ek moet van harte met Ronél saamstem: dis ‘n lekker, aantreklike en vrugbare pad.

Pak ‘n mandjie en gaan soek ‘n skadukol by die Drinkgat Zonder Naam aan die linkerkant vier kilometer van die afdraai op die H4-1. Dinge roer daar rond. (HvD)

MY MOOISTE LUIPERD

Middag uit Sabiepark

‘n Mooier foto van ‘n sierliker luiperd het ek nog nie geneem nie. Dankbaar kan ek rapporteer dit was in my geliefde Sabiepark. Skuins voor 12:00 op Maandag 12 Julie 2010 het my Canon in Apiesdoringlaan gekliek.

Ons het ‘n wenk gekry oor ‘n luiperd daar rond, en was net betyds toe die bondel spiere – ‘n yslike mannetjie – veerkragtig oor die motorpad van Japie en Martie Louw van erf 145 stap. Die son was net reg om die glansende kollevel, soepelheid en krag van die manjifieke roofdier te aksentueer.

Dit is ‘n foto wat bepaald in ‘n raam aan die muur van Tarlehoet gaan eindig, en ook aan die muur van die opgewonde Louws, wat nie hul geluk kon glo dat ek op die regte moment op die regte plek was, met die Canon oorgehaal en gereed nie.

Begin Junie het ek geskryf die luiperdvangs in Maroelalaan op 29 Julie verlede jaar het die kroon op 2009 se wintervakansie geplaas. Min het ek geweet minder as ‘n jaar later sou Sabiepark weer ‘n luiperd-insident oplewer om oor te jubel. Wel, hier was dit!

Die dag en datum word vermeld om my rekord volledig te hou. In my eie geval was tot dusver vyf ontmoetings in ons 12 jaar in Sabiepark. Op Tokkie se kerfstok is sewe. Sy was twee kere alleen tuis toe ‘n luiperd by ons boshuis, Tarlehoet, opdaag.

Reeds toe ons nog aan’t intrek was, op 16 Maart 1998, het ons ons eerste kuiergas van die kolle-garde gehad. Ek was besig om ‘n spyker in die muur van die boonste slaapkamer te kap, toe ek opkyk – vas in die glimmende oë van die onverwagte gas aan die ander kant van die ruit.

Asvaal geskrik, het ek dadelik hek toe afgesit om die “krisis” te rapporteer, en toe kom wag dat ‘n span opdaag om hom te vang, desnoods met nette. Maar g’n span het gekom nie. Eers later het ek gehoor hoe bevooreg ons was. Party Sabieparkveterane het nog nooit ‘n luiperd hier gesien nie.

Op 29 September 1999 was Tokkie alleen tuis toe nog ‘n luiperd op ons werf kom son soek. Sy het haar pro-vita met kaas gegooi dat hy doer trek, maar was te laat vir ‘n foto.

Op 16 Julie 2000 het ‘n luiperd ‘n rooibokkie sommer naby die huis in die stof laat byt. Die hele aand kon ons die feesmaal krakend en grommend hoor vorder, en die volgende oggend was ‘n patetiese bondeltjie binnegoed en klossies vel al wat oor was.

Die toneel van aksie was egter 30 meter ver, verskuil agter takke en lang gras. Ek het foto’s, maar nie om oor huis toe te skryf nie.

Op 19 Julie 2000 – Julie is duidelik ‘n goeie luiperd-maand hier rond! – het die Honda se ligte skemeraand op pad terug van die piekniekplek af in ons straat, Wildevylaan, skielik op ‘n luiperdwyfie geval.

Die wyfie was aan die duskant van ‘n begroeide driffie, net drie huise van ons s’n af. Die kamera het geflits – sommer deur die voorruit. Gelukkig was sy nie haastig nie.

In Maart 2008 – nog ‘n goeie maand! – het ‘n luiperd oral in Sabiepark opgeduik. Foto’s is geneem van die forse dier onder meer op die stoep van wyle Fickie Visagie in Maroelalaan. Op 13 Maart het meneer doodluiters by ons aangestap gekom en stadig om die lapa beweeg, met die klaarblyklike intensies om vir hom ‘n sappige sebra plat te trek. Die troppie het gillend laat vat.

Tokkie was weer die allenige “gasvrou” – en onbewus daarvan dat in die klein kamera’tjie aan ‘n haak teen die muur wel
‘n film was.

Op 29 Julie 2009 – verlede jaar se Groot Oomblik – is ‘n vlakvarkie deur in Maroelaan platgetrek en in ‘n jakkalsbessieboom opgehys. Onder het die hiënas gretig gewag terwyl die jagter sy prooi verslind. Watter pragfoto’s het dit nie opgelewer nie!

By Tarlehoet kom klaarblyklik gereelderig luiperds. ‘n Bouspan van John Izaakse, ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, en ‘n huishulp Griet Williams is ook al hier deur luiperds verras – selfs op die voorstoep!

Ander eienaars het ook wonderlike dinge beleef. Op 22 Desember 2008 het ‘n luiperd byvoorbeeld ‘n ongewone “Kersgeskenk” op Etienne Liversage se voorstoep in Apiesdoringlaan kom los – ‘n vars rooibokram. By wyle Sarel van Vuuren, net af van Apiesdoring, het ‘n luiperd weer ‘n bosbokram vlakvoor sy huis in ‘n driffie platgetrek.

Johan en André Potgieter het by hul huis, Leeuplesier in Apiesdoringlaan, groot luiperd-plesier beleef. Hulle het op een dag vier waargeneem.

Blykbaar is op die oomblik ook vier in die park. Die luiperd hierbo – die nuwe treffer op HvD se treffersparade – geniet, volgens die betroubare Solly by die piekniekplek, die geselskap van ‘n wyfie en twee welpies in daardie omgewing.

Soveel luiperdmae wat gevoed moet word, is maar slegte nuus vir Sabiepark se diere. Wanneer en waar gaan die eerste vangs plaasvind?

Die bespiegelings hieroor gaan natuurlik met groot opwinding gepaard, want om spore van luiperds – van die gevaarlikste diere op aarde – sommer so kruis en dwars tussen ons spore hier in Sabiepark te sien, laat, soos verwag kan word, die bloed bruis.

Miskien is dit ‘n teken van ouderdom, maar saam met die opgewondenheid ervaar hierdie gryse toenemend ook ‘n ongemaklikheid oor die bedreiging wat luiperd-teenwoordigheid nie net vir die diere van Sabiepark nie, maar ook vir die mense van Sabiepark, inhou, veral as iets hom sou mishaag.

Of is ek nou sommer ‘n nat vadoek? (HvD)

HARTKLOPPENS OOR WILDEHONDE

Middag uit Sabiepark

Sewe wildehonde het my angstig my horlosie laat dophou terwyl die Honda Saterdagmiddag op die Doispanepad in die Kruger-wildtuin minstens ‘n kwartier lank agter hulle aankruie.

Die Wildtuin se hekke sluit om 17:30, en dis ernstige sake as jy laat opdaag. Maar hierdie ouens was duidelik op jag – iets wat die besoeker nie elke dag te beurt val nie.

Die Van Deventers, plus Philip en Nance van Rensburg, het ná die slae teen die All Blacks in Auckland ietsie gaan braai in Pretoriuskop. Die braai het langer geduur as wat dit moet moes. Die terugrit was dus onvermydelik effens haastig.

Uit ‘n diere-oogpunt was dit stillerig. Toe skielik die laatmiddag-opgewondenheid!

Die wildehonde het doelgerig by die uitdraai na die N’waswitshaka -watergat (die S65) in die pad gedraf, baie naby aan die vrugbare rivierbedding met die mooi leeus enkele dae tevore.

In die ondergaande son het die bont lywe al kopswaaiend in formasie in die rigting van die Skukuzapad bly draf, kilometers ver. Die benoude spronge van die rooibokkies in die omgewing het verklap dat hulle beslis nie onbewus van die gevaar was nie.

Ons was die ne hartkloppens en ons kameras het aanhoudend geflits.

Van tyd tot tyd is een, twee of meer van die jagters hoopvol die veld in, maar ‘n prooi het hulle telkens ontwyk.

Dalk het hulle later reggekom – ek dink hulle was honger en sou nie sommer tou opgooi nie. Maar die horlosie se wysers het onheilspellend bly aanstap 17:30 toe.

Ons moes maar traag die span honde verbysteek en hek toe mik – ook net betyds.

Dieselfe wildehonde (vermoedelik) het ons en die tweeling Jacob en Thomas aan die begin van hul vakansie vroeg in Junie op plus-minus dieselfde plek raakgeloop. Toe het hulle soos beelde langs die pad gelê.

Dieselfde wildehonde of nie, twee waarnemings van hierdie skaars diere in een vakansie is nogal iets om oor huis toe te skryf.

En om die wildehond-prentjie vir die wintervakansie van 2010 te voltooi, hang in ons woonkamer ook nou ‘n afdruk van ‘n besonderse wildehond-skildery deur die begaafde Maré Bruwer van Melkbosstrand, wat altyd ons kerk so mooi skilder vir die kerkalmanak.

Dankie, Maré vir die groot geskenk – dit lyk spiekeries teen Tarlehoet se muur. (HvD)

DIE WATERKOEI MOET BLOEI

More uit Sabiepark

Toe die onaardse lawaai nou die aand losbars, vloog die SMS’e deur Sabiepark: “Hoor die leeus”. Die “ou hande” het besef dit is nie leeus nie – wel seekoeie wat veg.

Seekoeie is vernietigende vegters onder mekaar. Word die dominante bul in ’n trop uitgedaag, veg hy vir sy status – en die erotiese byvoordele wat dit behels! – soos ’n besetene. Só ’n skermutseling word ’n worstelstryd wat met ’n bloedstollende lawaai gepaard gaan.

Seekoeie se geluide herinner my aan trombone wat voor die begin van ‘n simfoniekonsert ingestel word. Die klank van daardie “trombone” trek in ’n gevegsituasie so ver dat dit klink of reuseklankversterkers
dit uitdra.

Van die hewigste gevegte vind op die grond plaas. Soms gryp die vegtendes mekaar egter in die water, net onder die oppervlak. In water is ’n seekoei in elk geval so tuis soos die spreekwoordelike vis. Swem is vir hom tweede natuur.

Boonop kan hy op die rivierbedding vinnig oor die weg kom. Hy hardloop onder water so vinnig soos ’n mens kan loop. En hy’t ’n lang asem. ’n Seekoei kan tot ses minute onder die water bly.

Hou maar dop vir daardie allemintige “gape” waarin die bekke tot 120 sentimeter gerek kan word. Dikwels toon dit aggressie. Die vegtendes wys vir mekaar hul massiewe tande as ’n vorm van intimidasie. En hul byt is erger as hul gaap. As die tande toeklap, stroom die bloed.

Met die lawaai wat tydens gevegte opklink – veldkenners glo dit is
die ergste denkbare lawaai in die bos – kan ’n mens jou maklik misgis. Een skemeraand enkele jare geelede het ek en Tokkie ook die wêreld vol SMS’e gestuur oor die verskriklike leeugebrul” aan ons poorte.

Ek dag die “leeus” hou ’n vleisfees op Tarlehoet se stoep. Die volgende oggend hoor ons by wyle Sipho, destydse opsigter by die piekniekplek,
dit was glad nie leeus nie. ’n Seekoeigeveg het vlakvoor hom op ’n sandbank losgebars. Na ’n gewelddadige onderonsie het die verloorder weggehardloop.

Later die dag gewaar ek en Tokkie ’n donker lyf oorkant die rivier van die
uitkykplatform af. Tokkie reken eers dis ’n renoster. Toe sien ons dis ’n eensame seekoei. Hy stap moeisaam ’n ver ent met die S3 ooswaarts en swenk toe in rivier se kant toe waar hy agter bosse wegraak. Deur die verkyker sien ons die rou wonde aan die kop en skof. Min twyfel dat hy in die vorige aand se geveg die verloorder was.

Gelukkig darem vir ’n seekoei met ’n eina: daardie spesiale sonroom van hom is terselfdertyd ’n wondersalf. Selfs in die vuilste water word
selde smetterige wonde ontwikkel.

Daardie nag is die kabaal eens so erg en langdurig. Die bos word oorverdowend op horings geneem. Dit hou eenvoudig nie op nie. Lank voor sonop is ek en Tokkie in ons kombi, die “Bosbus” wat nou lank ‘n ander eienaar het, in Wildevylaan op en af op soek na die oorsprong van
die verskriklike gegrom en gesnork.

Al het ons 24 uur gelede met die rumoerige klanke van ’n seekoeigeveg kennis gemaak, was ons tog onseker. Was dit nie hierdie keer dalk tog leeus nie? Maar leeus was dit nie; wel weer seekoeie.

So het ons dit op Sipho se gesag. Die onttroonde leier het vermoedelik geweier om te aanvaar dat hy deur ’n jonger uitdager oorwin, verneder en uitgeskop is. Net ’n dag lank het hy sy wonde gelek. Toe dwing sy trots hom terug om die stryd om sy eer en belange te hervat. Tokkie vermoed die tweede was ’n geveg tot die dood. Van die geluide was vir haar “soos die doodskrete van ’n dier wat pynlik sy laaste asem uitblaas”.

Die verslane alleenloper het ons daarna nie weer gesien nie. (HvD)