HEILDRONK OP DAWIE

DAWIE STRYDOM BY SABIEPARK SE PIEKNIEKPLEK

DAWIE STRYDOM BY SABIEPARK SE PIEKNIEKPLEK

More uit Sabiepark

Dawie Strydom, my ou Sabieparkmaat van erf 333, Rustig, in Apiesdoringlaan het enkele jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie verdien toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red.

Die reptiel was besig om by Dawie-hulle se huis die laaste asem uit die duikertjie se gekneusde lyfie te forseer. Dawie druk toe die stok in die slang se keelgat, gryp die lammertjie en voer hom suikerwater totdat hy wankelrig orent kom.

Hy is dus ‘n man van daad, soos jy van ‘n Springbok in die hengelkuns sou verwag. Hy is egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.

Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, 12, 13 jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering van Sabiepark vertel hoe twee swart personeellede, Sipho en Elvis, hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het.

Dié diep Christen-mens was in trane lank voor die einde van sy storie.

Hy is ‘n man van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig is onder meer ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – alles sy eie prakseersels.

Hy is, by alles, ‘n man wat ‘n mondfluitjie kan laat sing.

Wanneer Dawie sy mondfluitjie uithaal en “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik opklink, kry ‘n uurtjie om ‘n vuurtjie ‘n ewigheidsdimensie.

Aanstaande Saterdag (3 Julie) hou Sabiepark sy 28ste jaarvergadering. Die vorige 27 het Dawie en sy vrou, Annatjie, op ‘n paar na almal bygewoon. In ‘n kwarteeu het Dawie die plek waaraan hy so innig verknog is, in liefde gedien. Hy was in die komitee, het waargeneem as bestuurder, het heinings gespan, bruggies gebou, planke geslaan…

Gee hom enige stuk gereedskap. Sy hande staan vir niks verkeerd nie en ‘n lui haar groei nie op die Strydom-kop nie.

Saterdag sal die Strydoms se plek leeg wees.

Daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, het hom oplaas ingehaal. Onomkeerbaar.

Iemand anders sal die goedkeuring van die notule moet voorstel.

By die tradisionele agternabraai met reusepotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) sal ons vir seker ‘n nostalgiese heildronkie op die wellewende Strydoms by hul huis op die verre Outeniekwastrand drink, en die goeie tye saam onthou.

Met Cellar Cask se wit Johannisberger Select – hul gunsteling. (HvD)

ARME APIE SE YS-LIKE VERLEENTHEID

Middag uit Sabiepark

Die eerste ses, sewe jaar van ons Sabieparklewe het nagapies alleen geheers op Tarlehoet se stoep. Saans was alle aandag op hulle; alle gekerfde piesangstukkies ‘n kado’tjie vir hulle.

Toe gewaar Brent en Marisa, ons skoonseun en dogter, enkele jare gelede die vreemde dikstert-dier met die knewel-hande in die gewone pendoringboom by die swembadjie. Hulle bel dadelik Melkbos toe vir ‘n identifikasie, maar hul beskrywing slaan my dronk.
Dalk die muskeljaatkatjie? waag ek.

Later bel hulle terug: Nee, nie ‘n muskeljaatkat nie, volgens die boek is dit ‘n bosnagaap.

Skielik het die groter en forser bosnagape met die spoggerige sterte dus ook die piesangroete na Tarlehoet ontdek. Tot vier bosnagape daag op een slag op. Laasnag was daar, te oordeel na die gille en die hoop mis vanoggend, heelwat meer as vier!

Die wedywering tussen die twee faksies is geweldig. Die “moholi’s” weet hulle moet roer. Anders is dit neusie verby. Ná die bosnagape se verskyning op die toneel is drie piesangs die aand die norm. Ons het al tot R3 ‘n piesang in Skukuza moes betaal. Dit is nogal ‘n aansienlik belegging in die kulinere behoeftes van my vrou se gunsteling-diertjies!

Hoe die kleintjies, soos wafferse akrobate, teen die growwe baksteenmuur op- en afklouter sonder om gereeld op die grond te beland? Hulle piepie eenvoudig op hul handjies. Dit is ‘n buitengewoon taai en klewerige vloeistof.

Maar ‘n seisoen van nagapie-neerstortings breek wel tog een winter aan. Elke dag moet Tokkie kleintjies red. Een krul hom op in een van my gehawende ou Green Cross-sandale, wat Jan Scholtz van Bloemfontein verbeeldingryk “Journey’s end” gedoop het. Die apie pas presies in die holte vir die toon.

Gisteraand kom een ou ‘n ysliker verleentheid oor as om net grond te proe. Hy het blykbaar sleg gekorrel, en beland kerplaks! in die swembadjie. Toe ek hom bemerk, is hy besig om met sterk hale vir sy lewe te swem.

Hy haal die kant veilig, skud die ysige, nat, lyfie woes en mik, nog kroeserig, vir die piesangtafel.

Nou weet ons: nagapies kan swem. Een ding minder waaroor Tokkie haar hoef te bekommer! (HvD)

UURTJIES BY ONS VUURTJIES

Middag uit Sabiepark

Met die rekord-kwiktuimelings van die Vrystaat se Villiers en Deneysville, en selfs met dié van kouerige plekke soos Klerksdorp en Potchefstroom, kan ons in Sabiepark nie saampraat nie. Die Lebomboberge lê nie wit nie. Ons bibber egter ook, hoor!

Veterane praat van Woensdagnag as die koudste in dertig jaar in onse park. As die temperatuur dwarsdeur die nag bo vriespunt gebly het, was dit seker ook maar net-net – met die dikte van ‘n piesangskil, in die plaaslike idioom.

Donderdag ná sononder was dit kwalik warmer.

Tamaaie vure elke aand is ons redding. HvD brand hout soos sy kinders nie sal glo nie. Al is hy lief vir ‘n vuurtjie is hy maar konserwatiewerig as dit by houtverbruik kom.

Op die foto’s soek die tweeling Jacob en Thomas hitte op die Sabiepark-manier.

Oupa kon gelukkig die weldadigheid van ‘n goeie vuur met die weldadigheid van ‘n Skotse watertjie en ‘n goeie oesjaar ondersteun. Dit help! (HvD)

LANGS DIE SABIERIVIER

More uit Sabiepark

Raak ons wild min weens onbeheersde stropery? Vind ‘n ander onheiligheid dalk in die Wildtuin plaas, soos georganiseerde jag?

Sulke kampvuurdebatte is in die Kruger-wildtuin nie nuut nie, het die laaste jare in intensiteit toegeneem, en is vanjaar besonder lewendig.

Party Wildtuinebesoekers het hierde winter al vele kilometers agter die blad sonder om iets noemenswaardigs te sien. Ook die uwe was al gefrustreerd.

Op die staatmakerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie was ons egter Maandag gelukkig. Twee luiperds vlakvoor ons, ‘n renoster wat by die rivier staan en drink, drie troppe olifante en ‘n buffel in die water het vir genoeg opwinding gesorg. Slegs koning leeu het ontbreek om die Vyf Grotes op een oggend vol te maak.

Naby Onder-Sabie het ons selfs ‘n eland onder ‘n boom sien koelte soek. Ja, ‘n eland! Wat hy daar kom soek het, weet ek nie.

Die een olifant-trop was meer as 30. Hulle het die verkeer geruime tyd belemmer.

Die eerste luiperd het ons die oggend tussen die Nkuhlu-piekniekplek en Onder-Sabie gesien. Hy het voor ons oor die pad gestap. Die tweede het ons die middag naby die Krugerhek raakgeloop.

Hy was klaarblyklik op jag. ‘n Troppie rooibokkies het trillend hul besef van die gevaarlike teenwoordigheid te kenne gegee.

Die foto hierbo is van nommer twee. Nommer een sou bepaald ‘n beter foto opgelewer het, maar om die een of ander rede het ek nie my Canon uitgehaal nie.

Spyt kom altyd te laat! (HvD)

VOEL DIT – DIS HIER OOK!

More uit Sabiepark

Verbeel ek my of skop die kameelperde vanjaar doel-gerigter? Hoe klink die geween van die hiënas dan of dit van die Mbombela-stadion (met sy indrukwekkende kameelperd-dakpilare) se kant aangesweef kom?

Natuurlik, dis Sokkerjaar 2010, en ons voel dit ook hier in die wyke van die Wildtuin. Wanneer ek wild, soek wapper ‘n vlaggie bo die Honda se dak. In die Skukuzawinkel word selfs vuvuzelas verkoop – maar gelukkig mag jy dit darem nie binne die Wildtuin blaas nie.

Die leeu se brul oorheers darem nog.

Die lowerryke bos is ‘n verrassing – die resultaat van April-reëns soos min (223 mmm teenoor 10 mm in 2009). Maar, o wee, net een ligte dwarreltjie, en die swembadjie lyk of ‘n storm dit getref het.

Ons sien heelwat wild rondom die huis en op pad piekniekplek toe. Een middag was kameelperde, sebras, rooibokkies en bobbejane aan’t saamkuier op een kol. Tuisgekom, het die sekelsterte in die agterste lapa op ons gewag. Gelukkig het ons hierdie keer skadeliker attensies vrygespring.

By die eerte teken van bobbejane laat die tweeling, Jacob en Thomas (6) die ketties sing. Jacob se ammunisie is klippies. Thomas het vir daardie doel ‘n sak vol koedoe-bolletjies opgetel.

Gewilde besoekers by die huis is ‘n vlakvark-gesin van sewe. Jacob en Thomas het hul gunsteling “Waffie” gedoop – omdat die ander “lelik is” met hom. Die hiena veroorsaak, soos altyd, opwinding. Drie nagapies het by die nok ingetrek.

By die piekniekplek was ons beste waarneming ses olifante. ‘n Visarend het vlakvoor ons kom sit. Maar jy moet stip kyk – die riete staan hoog. In die Wildtuin sien ons ook heelwat olifante, maar nog geen katte in die eerste week.

Jacob en Thomas word oral herken en met die vreugde van weersiens verwelkom – ook deur die motorwag wat nog die dag onthou toe ‘n verwese Jacob in die verkeerde voertuig geklim het.

Danksy ‘n gestoei wat rof begin raak het, het Thomas, ongeskeduleerd, ‘n vyfde tand gewissel. Vir die “tande-veldmuis” was dit ‘n groot toets. Hy is per sms teen die gevare van die hiëna, die slang, die skerpioen en die donker gewaarsku. Moderne tegnologie!

Veldmuis het die toets geslaag, Die tandjie in die skoene is met n R20-noot vervang. (HvD)