MET SPOT BED TOE

More uit Melkbos

Om die spot met iemand te dryf, is geregverdigde sosiale kommentaar. Dis dikwels ook deksels doeltreffend as politieke wapen.

Veral spotprentekenaars kan stekies uitdeel wat, tot groot vermaak van koerantlesers, wie of wat ookal die teiken is, dodelik tref.

Een voorbeeld is Zapiro, wie se spotprente (veral oor Jacob Zuma) deesdae só gewild is. Ek kry gedurig op my rekenaar e-posse van die kenmerkende Zapiro-humor.

Kyk, dié man is vrek goed – soos ander andere ook Fred Mouton van Die Burger ‘n uitblinker is.

Soms is die stekies van die ridders van die spotprent subtiel, soms ietwat grof. Persoonlik sou ek, as ‘n gewese redakteur, byvoorbeeld huiwerig gewees het om met my koerant se spotprente op geloofstone te trap.

In Afrikaans bestaan immers ‘n minder bekende spreekwoord wat lui: Met spot gaan jy na bed. Dit beteken eenvoudig: Dit waarmee jy spot, kan jou dalk tref.

Dit kan, met ander woorde, sleg boemerang.

Dit is daardie boemerang-risiko waarop nie alle spotdrywers, volgens hierdie ou gryse, altyd voldoende ag slaan nie.

Kom ons los maar die Zapiro-Moslem-debat, en fokus op ’n ander vorm van spot wat deesdae uiters populêr is. Ek verwys na prentjies en dinge wat e-pos-korrespondente vir mekaar heen en weer flits.

Een wat in die jongste tyd vier of vyf keer op my skerm opgeduik het, is oor Bafana-Bafana. Dis konsuis van Suid-Afrika se sokkerspan aan’t oefen op ‘n geheime oefenterrein.

In werklikheid is dit ‘n foto van ‘n trop bobbejane (rêrige, harige sekelsterte) in formasie in die veld.

Op die redes sal ek liefs nie nou ingaan nie, maar verwysings na Adoons is in sekere kulture rede tot groot aanstoot, soos ons al in die Parlement ook beleef het. Ek dink daarom dis onsensitief en uittartend om die Bafanas as bobbejane uit te beeld, en voel ongemaklik as sulke uitbeeldings op my skerm oopgaan.

Sou die verspreiders nie daaraan dink nie dat hul “grappies” onvermydelik ook ‘n wyer gehoor sal bereik – spesifiek uit daardie kultuurgroepe by wie dit as geweldig vernederend beleef kan word, of gee hulle doodeenvoudig nie om nie?

Omdat ek die mense wat vir my e-pos stuur as my vriende ag (meesal) verkies ek om te glo hulle is nie kwaadwillig nie, net onnadenkend.

Asseblief, laat ons tog maar twee keer dink hoe dit kan boemerang as ons blindelings op brose verhoudinge bly trap.

Moenie dat ons “met spot bed toe gaan nie”.

Dit geld ook nie net spot nie. In die laaste paar dae het ek ‘n e-pos gekry wat, met waardering, die positiewe uitsprake oor Botha, Hertzog en Smuts deur ‘n swart vryskutskrywer, Meshack Mabogoane, in die koerant Business Day sirkuleer.

Die opskrif is … wag daarvoor …: “ They’re not all stupid, greedy and corrupt.”

Goeie aarde, dis mos rou rassisme op die omgekeerde Malema-patroon. Op hoeveel skerms is daardie opskrif nie met diepe ontsteltenis en wrewel gelees nie? (HvD)

VAT HULLE – HULLE’S JOUNE!

More uit Melkbos

Dis nog 211 dae voor Kersfees, maar hier is my Kersgeskenk aan iemand wat lus is vir ‘n uitdaging.

Ek gee ses kaartjies weg vir die Groot Sokker, gratis en verniet.

Al vereiste: wurg my 12 kaartjies uit Fifa – ses vir jou en ses vir my.
Die kaartjie is vir die wedstryde op Nelspruit op 20/23/25 Junie. Hulle is gekoop en betaal en gereserveer op my naam.

Wel … nie heeltemal op my naam nie.

Eintlik is hulle op my seun se naam. Hy is nou op George – iets wat ons nie geweet het toe ons verlede jaar om die kaartjies aansoek gedoen het nie.

Volgens die vereistes van Fifa moet hy als op George los en Kaap toe ry om die kaartjies te kom haal. Dis buite die kwessie.

Ten tweede moet hy self die wedstryde bywoon. Hy mag dit nie eens vir my gee, uit wie se bankrekening die geld gekom het nie! Dis nog meer buite die kwessie.

Hoekom verkoop ek dan nie die kaartjies nie?
Hier is die rede:

“In accordance with the Sales Regulations and General Terms and Conditions that each ticket holder agreed to in connection with the ticket application process, ticket holders may not sell, offer for sale, resell, donate or otherwise transfer their ticket in any way, without the specific prior written approval of FIFA.”

Mag ek regtig nie eienaarskap van my eie kaartjies by hom oorneem nie? Lees self:

“No, Ticket Applicants are not permitted to transfer the Ticket allocated to the Ticket Applicant himself. If the Ticket Applicant is unable to attend the match for which he has purchased Tickets, then he may submit all of his Tickets for possible resale under the Ticket Resale programme.”

Hoekom probeer ek nie van die kaartjies ontslae raak deur die sogenaamde Ticket Resale Programm nie? Hier’s die rede:

“Any Tickets that are offered for resale will be entered back into the General Public Ticket allocation and will be sold on a first-come-first-served basis. There is no guarantee that demand for Tickets will result in the Tickets being resold. ”

Wie’s lus om die magtige Fifia aan te vat? Niemand nie? Dan sê ek maar koebaai en “so long” vir my kaartjies en my geld.

Liewe Fifa, dan het julle die bewerasie oor die moontlikheid van leë paviljoene! (HvD)

VREES VIR DIE VAAD’RE

More uit Melkbos

Ex Africa semper aliquid novi … Inderdaad nuut en onheilspellend kreatief is om vrees vir die voorvadergeeste deel te maak van die partypolitiek in ‘n moderne “demokratiese” bestel.

Geluk, Jacob Zuma, met jou oorspronklikheid en vernuftige intimidasie. Derduisende Suid-Afrikaners klappertand seker van vrees oor die nare siektes wat hulle kan oorval as hulle sou durf om dislojaal aan die ANC te raak.

En dis geen grap nie. Vir baie Suid-Afrikaners is respek vir voorvadergeeste immers ’n belangrike faset van geloofslewe. Om die voorvadergeeste kwaad te maak is eenvoudig ondenkbaar.

Waarskynlik ook vreemd vir mense wat nie so goed weet hoe die vurk in die hef steek in ons liewe vaderlandjie nie, is die deurmekaarklitsery van sulke vreesaanjaery met die voorvaders en Christelike gebed.

Een dag gaan jy op jou knieë en smeek die Here se seën op die Wêreldbekertoernooi af. Die volgende dag uiters jy sulke duistere dreigemente. Hoe dan?

Maar in Afrika leef die goed mos maar hand aan hand. Tokkie het gaan grawe en vir my ‘n wonderlike, insiggewende vers van Henk Malan van Potchefstroom uitgehaal. Die naam is Drie Gode, dit is na aanleiding van Lukas 17:6 (oor geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie) en word opgedra aan Henk se huishulp:

Met skelrooi bloes en kraakwit kraag
Doen sy Sondae haar kruistoggang
– Waar Jesus aan die kruishout hang –
Om hom te loof met kreungesang.

Vanaand sal sy voor haar ysterbed
– Drie-baksteen bo die beesmisvloer –
Prewelend, beangs iemand vra
Dat die Tokkelos haar nie moet pla.

More sal sy met gesuiwerde siel
Op die kombuisvloer seer-knie kniel
Om so ‘n ander god te dien,
Wat haar maand’liks van haar loon voorsien.

Godvresend sal sy deur die lewe gaan –
Al het sy die “drie-enig” God nie mooi verstaan.

(HvD)

FLITSBERIG: DIEWE BUITE WeRELDBEKER!

More uit Melkbos

Flitsberig: Die Wêreldbeker is gesteel! Stel jou voor die histerie, die chaos, die angs, die woede, die verwarring, die verwyte, die verslaenheid, die frustrasie …

Bedink die groot swart letters op die koerantvoorblaaie, die uitasem-nuusbulletins op TV en radio, die in-diepte-indelwery deur Carte Blanche, Freek Robinson, Fokus, Loslip…

Verbeel jou die die onderhoude met Zuma, Cele, Blatter. Falcke, Helen Zille, Danny Jordaan … Julius Malema, wat almal die bose daad ten seerste betreur en die diewe verdoem.

Is so iets te verregaande om eens aan te dink?

Wel in 1966 het dit werklik gebeur – en dit in die beskaafde Londen, nie in GP (“Gangster’s paradise”) nie!

Die diefstal is op Sondag 26 Maart ontdek in die goed bewaakte saal waar die Goue Trofee van 30 000 pond sterling (destyds) saam met waardevolle versamelings seëls uitgestal is, aan die vooraand van 1966 se Wêreldbekertoernooi in die Britse hoofstad.

Die deur na die vertrek was afgebreek. Die swaar slot aan die uitstalkabinet oopgedwing.

Elke bobbie en die ganske mag polisiehonde het onmiddellik Londen begin fynkam vir die kosbare trofee van soliede goud.

Dae lank kon geen spoor gevind word nie. Toe daag die eis om ‘n losprys op: betaal dadelik 15 pond of julle sien daardie beker nooit weer nie – ons smelt hom op.

In ‘n stadium dag Scotland Yard: “Ons het ons man”. Toe’s dit net ‘n kansvatter.

Uiteindelik gebeur ‘n ding waarvan ek in my hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd (Human en Rousseau, 2000), in die hoofstuk Skote, Ou Pote! vertel.

‘n Jong basterhondjie Pickles (1) steek al die uniformdraers die loef af. Sy snuffel die beker in ‘n heining in n woonbuurt in die suide van Londen uit, sommer vinnig en bra slordig in koerantpapier toegedraai.

Verligting oweral. Pickles word oornag ‘n held. Later speel sy saam met June Whitfield in die rolprent, The spy with a cold nose.

Engeland wen daardie jaar die beker wat so amper voete gekry het, maar in 1970 word dit permanent aan Brasilië gegee nadat daardie land die toernooi die derde keer gewen het. (HvD)

MOOISTE FLIEK-MUSIEK

More uit Melkbos

Que Sera Sera en Tammy is nie die enigste onthou-liedjies uit flieks van my jong dae nie (vorige blogs).

Hope rolprent-temas van toeka het treffers geword het. Hier’s 15-stuks wat die uwe in sy kop gestoor het, en wat hom telkens laat tintel as hy een oor die radio of waar ook al hoor opklink:

1956: True Love uit High Society
1957: April Love uit April Love
1957: River Kwai-mars uit The bridge on the river Kwai
1958: Around the world uit Around the world in eighty days
1960: Theme from a summer place uit A summer place
1960: Never on a Sunday uit Never on a Sunday
1960: The green leaves of summer uit The Alamo
1961: Moon river uit Breakfast at Tiffany’s
1966: Strangers in the night uit A man could get killed
1963: More uit Monda Cane
1965: Zorba’s dance uit Zorba the Greek
1970: Raindrop keep fallin’ on my head uit Butch Cassidy and the Sundance Kid
1970: Theme from Love Story uit Love Story
1973: The way we were uit The way we were
1974: The Entertainer uit The sting

Ek pen hulle maar chronologies neer – te skrikkerig om my geheue te vertrou met ‘n voorkeurlysie van een tot vyftien.

Opvallend, né, dat in drie titels die woord “love” voorkom.

Vir Love Story met Alli MacGraw en Ryan O’Neal het ek ‘n ereplekkie in my hart. Die rolprent speel hom af op die pragtige kampus van die Harvard-universiteit in Cambridge. Massachusetts, waar ek bevoorreg was om in 1976/77 as Nieman Fellow rond te loop.

Hoop iemand is lus om saam te gesels oor my keuses. (HvD)

RILLERKONING

More uit Melkbos

En oubaas Alfred Hitchcock, die sogenaamde “Master of Suspense”, self? Wat het van hom geword? Hy is al op 29 April 1980 (ouderdom 80) in Kalifornië oorlede.

Onder sy 50-stuks vollengte prente is, naas Psycho (hierbo genoem) verskeie meesterstukke wat my vasgenael gehou het, soos Dial M for murder, Rear window, Vertigo, Noth by Northwest en The Birds.

Die beeldskone Grace Kelly was in minstens drie (o.m. in Rear window saam met James Stewart) die heldin – toe gaan staan sy en trou met prins Rainier van Monaco. Wat ‘n onherstelbare verlies vir die silwerdoek!

Hitchcock het gehou van mooi mense in sy rolprente. My generasie se meisiekinders was gek na die aantreklike Cary Grant. Grace was ook nie die enigste mooi vrou in ‘n Hitchcock-fliek nie. In Vertigo was daar Kim Novak wat die mans se harte warm laat klop het.

In The man who knew too much (nog ‘n Hitchcock-treffer) sing die oulike rabbedoe Doris Day die temaliedjie, Que Sera Sera, wat ‘n groot treffer geword het:

Que sera, sera
Whatever will be will be
The future is not our’s to see,
que sera, sera ….

Die liedjie het in 1956 (‘n uitstekende oesjaar vir die rolprentbedryf) die Oscar gewen vir rolprentmusiek.

Wat baie mense nie weet nie, is dat oubaas Hitchcock in Londen gebore is en sy loopbaan as rolprentmaker in Brittanje begin het. Trouens, hy het eers in 1956 (die jaar van Rear window en vier jaar voor Psycho) ook ‘n Amerikaanse burger geword.

Hitchcock word algemeen beskou as die grootste Britse rolprentmaker, en is heelbo aan die lys geplaas in ‘n peiling van rolprentkritici deur die Londense koerant Daily Telegraph in 2007.

Volgens die Telegraph is hy “unquestionably the greatest filmmaker to emerge from these islands, Hitchcock did more than any director to shape modern cinema, which would be utterly different without him. His flair was for narrative, cruelly withholding crucial information (from his characters and from us) and engaging the emotions of the audience like no one else.”

Die tydskrif MovieMaker het hom genoem: The most influential filmmaker of all time.”

Sy vaardighede as riller-koning, sy skoktegnieke en skitterende kameratruuks, demonstreer hoekom ek so ‘n sagte plekkie vir Britse rolprentmakers het. (HvD)