“GAT-VOL” VIR HOENDER!

More uit Melkbos

‘n Buitengewone hoender-ervaring by ‘n straatmark in Taipei word opgeroep deur ‘n berig in verlede Sondag se Rapport oor Madge Bester (46) van Bloemfontein, op 63 cm eens bekend as die kortste mens op die aarde.

Madge is in haar eie woorde net “‘n poep en ‘n baksteen” hoog. In 1986 is sy in die Guinness Book of Records as “kortste mens” vermeld. Hierdie status het gesorg vir KORT-stondige roem, wat ‘n besoek aan die Republiek van China (Taiwan) ingesluit het. Busvragte Chinese het na die kort mensie kom kyk.

Vir Chinese kos het sy egter nooit ‘n smaak ontwikkel nie. Na ‘n jaar was sy dik vir die alewige hoender. Sy was “gatvol”, het sy Rapport meegedeel.

Moet erken, Chinese cusine het my op ‘n besoek in die jare 80 aan Chiang Kai-Shek se wegbreek-staatjie ook nooit juis geval nie. Dikwels was hoender my redding as die ander kosse darem te “eksoties” lyk en ruik.

Iemand het mos een keer opgemerk die Chinese eet enigiets wat bek of pote het – net nie die tafel en stoele nie! As dit ‘n oordrywing is, is dit nie ‘n vreeslike ene nie.

Een aand gaan eet ek en my gidsie by een van daardie florerende straatmarkte wat na donker soos plakkerskampe in Taipei se strate opskiet. Dis ‘n geroesemoes van klanke, kleure, reuke en smake – en al wat ek sien wat darem met ‘n Vrystaatse spysverteringstelsel behoort te akkordeer, is iets wat lyk soos ‘n hoendersosatie.

Die gidsie reageer afkeurend.

“No,” kondig hy aan, “you won’t like.”

“Hoekom nie? Niks fout met hoender nie.”

“No.” Hy skud steeds heftig sy kop – “not light for you.”

Ek herhaal my siening van die saak.

Toe blaker hy die rede vir sy weerstand uit: “It’s the chicken’s behinds.”

Bid jou dit aan – hoender-anussies op ‘n stokkie, en die vleiskossies mooitjies ingeryg deur gaatjies wat deur die natuur self voorsien is!

Genoeg om ‘n mens, letterlik en figuurlik, GAT-vol vir hoender te maak! (HvD)

HOOR DAAI KAMEELPERD!

More uit Melkbos

‘n Lawaaimaker is die aristokratiese kameelperd allermins – selfs hul gevegte verloop in spookagtige stilte. Al wat jy hoor, is die nekke wat klap soos jong boompies wat voor ‘n olifant swig.

Op twee staptogte net twee weke uitmekaar het ons in Sabiepark kameelperbulle gekry wat mekaar met hul nekke staan en peper. In stadige aksie.

Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie.

Al word die konflik in doodse stilte besleg, is kameelperde nie regtig stom nie, soos baie mense dink nie en die rubriekskrywer Blou Willem vandeesweek in Beeld en Die Burger skryf.

Al uiter die langnekke nie ‘n geluid terwyl hulle veg, of sommer net langs die pad rondstaan nie, kan hulle hard alarm maak as leeugevaar dreig.

Die kameelperd se modus operandi in só ‘n krisis is nogal uitdagend. Hy staan direk vir die leeu en kyk — as ‘t ware onder vier oë. Met ‘n regop nek word lug dan vinnig ingeneem. Dit bring ‘n soort blaasgeluid voort.

Verskeie blêrgeluide kan ook oor sy lippe kom. Blou Willem kan maar die ore spits.

Oor die wesens van die veld bestaan egter allerlei mites. Carike Keuzenkamp sing selfs op n kinder-CD dat kraanvoëls nie kan vlieg nie! (HvD)

PLUS 50, WAAR’S JY?

Middag uit Melkbos

Tien dae lank soek ek die Kaap plat na die tydskrif vir seniors, Plus 50, wat blykbaar opgeraap word (is daar regtig soveel “ou” mense?) of onvoldoende op die rakke kom (opskud, bemarkers!)

Ek was by Pick n Pays, Spar-re, Seven Elevens en Shoprites van Darling tot Blouberg, Welgemoed tot Oude Wetshof – vergeefs. Vanoggend kry Tokkie einde ten laaste ene by die CNA in die Tygervalleisentrum. Ek kon haar soen toe sy met die CNA-sakkie by die motor aankom.

Hoekom dié soektog? Noem dit ydelheid, nuuskierigheid, verveeldheid of wat, maar in my grysheid het n vreemde “gier” my beetgepak. As ek deesdae hoor dat iemand iewers iets oor my en myne kwytgeraak het, wil ek dadelik weet wat. Ek vat die spoor terstond en los dit nie sommer nie.

Wat my op Plus 50 se spoor gesit het, was ‘n wenk van my vriend Herman le Roux van Randburg: in die nuwe Plus 50 is ‘n resensie oor “Byl in my bos”. Meer wou hy nie verklap nie as dat die resensent prof. Jan Bekker is (ken hom nie) en dat hy (Herman) dink ek sal nogal daarvan hou.

Nou-ja, Herman was nie verkeerd nie. Ek is prof. Bekker dank verskuldig vir sy vriendelike stukkie.

Nadat ek enkele weke gelede Martie Retief Meiring se resensie in Die Burger hier herhaal het, sal ek hopelik nie verkwalik word nie as ek dieselfde met prof. Jan Bekker s’n doen.

Byl in my bos deur Hennie van Deventer
Resensie: prof. Jan Bekker

Die skrywer het n lang loopbaan as joernalis, en later as redakteur van Die Volksblad en koerantehoof van Naspers gehad. Hierdie boek van hom bestaan uit anekdotes oor ‘n wye verskeidenheid mense wat sy pad gekruis het. Met die titel Byl in My Bos sê hy dit gaan oor mense wat uit die bos van sy lewe gekap is. Hulle is politici, vooraanstaande mense, maar ook familielede, bloot vriende en kennisse wat hom vooruitgegaan het. Dit is nogal aandoenlik dat hy elke skets afsluit met die presiese datum waarop elkeen heengegaan het – baie van hulle is sommer onlangs oorlede.

Sommiges oor wie hy skryf, was so prominent in die openbare lewe dat hulle volksbesit was. Die joernaliste en redakteurs het destyds bekendes geword, hulle was nie gesigloos nie. Hulle het met ons gepraat. In n lekker verteltrant deel die skrywer met ons interessanthede wat hy van dié mense weet of te hore gekom het. Dit, tesame met die groot aantal foto’s, laat hulle weer in die leser se herinnering leef.

Met hierdie boek plaas die skrywer sy eie lewe in perspektief: dis die mense met wie hy gelewe, saamgewerk en geworstel het. Hulle het sy lewe help maak. Nou is hulle nie meer daar nie, en dit laat ‘n onbeskryflike leemte. Die skrywer se goedhartigheid is ook merkwaardig. Daar is geen snydende kommentaar – geen veroordeling nie. Soms met humor, soms net met goeie stories, roep hy insidente op wat die mense aan ons voorstel.

Lees gerus die boek. Griffel Media, 2009. R160

(HvD)

OP SNEEUSPORE

(Askies vir die agterstevoor – was ‘n skyfie)

Middag uit Melkbos

Vervelig, het die resensent Cecile Cilliers die hoofstuk “Padlangs” in my 2003-boek “In Kamera” brutaal genoem. Daardie hoofstuk handel oor die motors in my lewe, en motors is klaarblyklik ‘n onderwerp waaraan die uitgesproke me. Cilliers nie juis erg het nie.

Wel, as my motorstories vervelig is, het die vorige blog oor my wenkarre sekere bloglesers waarskynlik dodelik verveel. Die verveeldes moet hierdie blog dan ook maar oorslaan, want dis weer oor ‘n kar.

Die herinneringe aan die maroen Dodge en die Valiant Charger het die herinneringe aan my getroue Totyota Corona Merk II-stasiewa weer laat opvlam.

In 1976 is die gesin Van Deventer na Amerika vir die Nieman-jaar. Ons wou soveel as moontlik teen die laagste moontlike koste van die land sien. ’n Stasiewa het na ’n goeie keuse gelyk; veral ’n viersilinder. Ons koop toe die 1972-Merk II teen $1 500, wat daardie tyd ’n bietjie minder as R1 500 was. Inderdaad goeie ou dae! En ons begin die kilometers opsit. Noordwaarts was ons met dié staatmaker tot diep in Kanada, waar ons deur uitgestrekte sneeuvelde moes ploeg. Suidwaarts was ons tot in Key West, die suidelikste punt van die land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana af. En die Corona het die straf gevat! Toe ek aan die einde van daardie jaar in Boston se koerante adverteer, was die kopers volop. Ná ’n jaar se harde werk en sowat 24 000 kilometer op die meter is hy vir $1 000 verkoop. Ek meen ek sou $1 200 kon kry as ek nie so haastig was nie.

Vir die Amerikaners was dit altyd ’n snaaksigheid as ons met ons stasiewa ’n woonwakamp binnery en tussen hul massiewe huise op wiele kom parkeer. “Where d’ya sleep? D’ya have a tent?” Dat ’n mens – of liewer: vier mense! – agterin so ’n kompakte stasiewa kon slaap, was vir hulle ongelooflik. Maar dikwels was ons soort slapery juis die aanknopingspunt vir lekker geselse.

Dosyne kere het ek, Tokkie en Johan (5) en Marisa (3) die agterste sitplek platgevou, ’n matras oopgerol en die slaap van die regverdiges geslaap. ’n Blik sardientjies soos min! Net een nag was daar ’n ligte krisis.

Terwyl die sneeu by die ski-oord Waterville Valley in New Hampshire se White Mountains buite neersif, kry Marisa ’n ongelukkie. Onvermydelik kring die glipsie gou uit tot nat kolle wat die ander slapers ru uit hul drome wek. Die skok gee ’n kettingreaksie af waarin die vader des huises eers sy kop ongenadiglik teen die dak stamp en daarna die moeder met sy elmboog skuins langs die neus tref. Dit sit haar aan die praat, nie juis in sitkamertaal nie.

Die res van die nag verloop bra gespanne met huilende kinders, omgekrapte grootmense, nat komberse en ’n nat winterkoue wat eensklaps deur elke stukkie ondigtheid in die stasiewa se bakwerk begin sypel. Toe die son daardie oggend oor die sneeubedekte kruin van ons naweekberg loer – eintlik ’n asemrowende gesig – strompel ons moeg, vies, vaak en koud na buite, gaan leen kookwatertjies by ’n barmhartige buurman en drink ons ons Amerikaanse boeretroos asof dit die wonderlikste ding op die aardbol is.

’n Keer het ons selfs ’n oornaggas gehad: skrywer Hans du Plessis. Hy het hom vir die nag agter die stuurwiel ingewikkel. Die volgende oggend was sy litte egter maar stram. Toe gaan soek hy ’n hotel. Só ontwikkel ’n voordelige sisteem.

Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.

Die berugte winter van 1976–77 met sy sneeustorm op sneeustorm – die “Big Freeze” het koerante dit genoem – het vir ’n oningewyde soms verskriklike probleme opgelewer. In Kanada moes ek ’n keer seker 50 tot 60 kilometer deur ’n sneeuveld kruip teen ’n slakkegang van kwalik meer as 40 kilometer per uur ’n Sterk wind het die sneeu in vlae oor die pad gedryf. Dit is deur elke moontlike skrefie na binne gepers. So ver ’n mens kon sien, was dit wit. Langs die pad was talle motors wat in sneeubanke vasgery of sommer net steeks geraak het. Met die Merk II het ons deurgedruk en by ons bestemming aangekom; sopnat van die sweet maar ongeskonde.

Wat my elke keer verwonder het, is dat die enjin so maklik kon vat, selfs nadat ’n nagtelike storm ’n vrag sneeu op die kar gegiet het. Dikwels moes ek ons ryding letterlik met ’n graaf losgrawe. As jy die sleutel egter ’n keer of drie gedraai het, begin die enjin rukkerig luier – vir hierdie Suid-Afrikaner nou nog ’n werktuigkundige wonderwerk.

’n Roes op Amerikaanse motors is die sout wat op die paaie gestrooi word om die sneeu te laat smelt. Dit laat gate in die bakwerk val, veral op die modderskerms. Ook die Merk II het deurgeloop, maar die koper was nie juis daaroor besorg nie. Vir hom was dit ’n “nice car, hey?” en klaar (HvD) .

LEKKER VAN KARRE WEN

Middag uit Melkbos

Survivor-programme op TV trek my nie, en ek kan my dus nie uitlaat oor die wenners en verloorders nie. Het hierdie een of daardie een vuil gespeel of nie? Op sijn goeie Latyns: non flocci facio – ek gee nie ‘n duit om nie.

Is dit eties dat deelnemer Okkert Brits se vrou ‘n motor in ‘n kykerskompetisie gewen het? Sal nie kan sê nie, want ek weet nie hoe steek die vurk in die hef nie.

Die klein opskuddinkie herinner die uwe egter aan hoe lekker dit is om karre te wen, en ook oor hoe amper hy – oor iemand anders se misplaaste sensitiwiteite – ‘n motor kwyt was wat hy fêrplie gewen het.

Alles het begin met ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar. ’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Ek skryf toe in op Tokkie se naam.

Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui:
Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party
wat gereeld die Opposisie
met mening kasty –
Nasionaal is sy naam,
hy kan baie hard slaan
taradam, taradam, taradam.

My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Dit wen vir haar die Dodge.

Eers later het ek gehoor van die intrige toe die uitslag by Piet Aucamp, hoofsekretaris van die N.P., uitlek. Hy het gemeen dat die nuusredakteur van Die Volksblad se vrou die wenner is, sou dit laat lyk na ’n gekookte besigheid. Hy wou opsluit ’n ander wenner hê. Gelukkig het prof. Carel van Heerden en sy span beoordelaars vasgeskop.

Hulle het volgehou die wenpoging het die beste verband getoon met belangrike elemente soos opposisie, kastyding en hard slaan, wat ’n deurlopende draad vorm. Ook uit ’n verstegniese oogpunt had dit meriete. Alles was dus bo verdenking. Gelukkige einde.

Ai, dit was ’n kar duisend wat oral aandag getrek het en meer as een keer as bruidskar moes dien. Maar kon hy petrol sluk! Teen vandag se petrolprys sou dit ’n fortuin gekos het om die Dodge op die pad te hou.

Die storie het eintlik nog ‘n gelukkiger einde.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, is ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek toe Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen.

Een aand het ek en kollega Chris Moolman van die Londense kantoor ’n afspraak. Chris kom by die Charing Cross-hotel aan met die vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.

Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto’s lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord:
Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees,
Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so min skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!” (HvD)

EISJ – DIS DAN PIETER-DIRK UYS!

Middag uit Melkbos

Nee, Tokkie was nie op Die Burger se voorblad nie, al was haar sesjarige kleinkind kinderlik opgewonde en onwankelbaar in sy oortuiginging.

“Ouma is op die koerant,” het hy sy ma meegedeel.

Nadere ondersoek bring aan die lig dit is nie ouma nie, wel Pieter-Dirk Uys in sy Evita Bezuidenhout-gedaante.

Ouma is nie rêrig geamuseer nie. Sy glimlag bra strammerig. As sy met iemand verwar moet word, sal sy bepaald nie Evita Bezuidenhout vir dié doel kies nie.

Op ‘n foto wat die aand van ons verlowing geneem is – op 15 Maart 1966 – lyk sy, volgens sommige, soos ‘n jong Jackie Kennedy. Heelwat verkiesliker, sou ek self ook reken.

Eisj – maar dié misverstandjie gee oupa kans om sy Pieter-Dirk Uys-versie oor ‘n ander stukkie identiteitsverwarring af te stof.

Dit het in my 2003-hekelbundeltjie, “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” verskyn. Die titel is “Ontnugtering”:

Met ‘n pistool teen’ie kop
Van Pieter-Dirk Uys,
Sis ‘n boosaardige rower:
“Haal uit en wys!”
Met bewende vingers
Word die rok oopgeknoop;
“Haai antie!” gil hy,
En lê daaikant toe oop!

(HVD)