KONINGIN VAN DIE LAG

MADELEINE VAN BILJON

More uit Melkbos

Jy kan jou ‘n papie lag of selfs ‘n boggel; jy kan stik soos jy lag, jou slap lag of jou selfs siek lag. Jy kan ook lag of jy betaal word.

Hoe jy ook al lag, is lekker lag hoogs aan te beveel. Lag is die beste medisyne, lui een spreekwoord. Lag is ‘n kitsvakansie, het die komediant Milton Berle verklaar. Wat seep vir die lyf is, is lag vir die siel, sê die Jode.

Ek wil vandag hulde bring aan die Koningin van die Lag, Madeleine van Biljon, wat op 81 oorlede is. Ongetwyfeld die gulste lag wat ooit oor die Suid-Afrikaanse eter gehoor is, het daarmee stil geword.

Madeleine was een van die staatmakers in vervloeë Suid-Afrikaanse radio- en TV-programme soos ‘Dis my geheim’ en ‘Skote Petoors!’ wat deur wyle Cobus Robinson, radioman met die glimlag in sy stem, aangebied is.

Madeleine het daardeur beroemdheid verwerf as die eksponent van die dawerende lag. Of berugtheid …

In my nuwe boek ‘Byl in my bos’ vertel Cobus vrolik watter verdeeldheid haar onmiskenbare lag onder luisteraars en kykers veroorsaak het. Omtrent 50% van briefskrywers het gepleit: ”Kan sy nie in elke program só lag nie?” Die ander 50% het gegriefd gereageer met: “As daardie vrou nog een keer lag, word ek gek!”

Vreemd genoeg dat juis ‘n vrou by uitstek vir hard en uitbundig lag, onthou moet word. Gewoonlik is dit mos mans wat kan lag dat die dak wil lig. Só glo ons. Of strokieskarakters … soos Woody Woodpecker uit die tekenverhaal-voorprente van my jeug.

Maar kom ons blaai in die Bybel na Genesis 18:10 e.v. Wie lag daar só lekker? Natuurlik is dit Sara, Abraham se vrou.

In hierdie Skrifgedeelte is dalk die heel eerste “stout grappie” opgeteken: die verhaal van Abraham se drie besoekers wat die ongelooflike nuus bring dat Sara, ‘n “senior burger”, ‘n seun gaan hê. Toe dink Sara by haarself: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?” En sy lag te lekker!

(Volgens ‘Die Boodskap’, die Bybel in hedendaagse Afrikaans, het sy gelag toe sy vir haarself sê: “ My lyf is al veels te oud en te verrimpeld vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.”)

Sê wie! – soos Niekie van den Bergh sou sê voordat hy politikus geword het.

Kom ons los dit egter maar daar – om ‘n baba op só ‘n gevorderde ouderdom te kry, sal dalk nie vir alle vroue (of hul gryse mans) iets wees om oor te lag nie.

Wat wel soos ‘n paal bo water staan, is die sêding waarvoor Aldan Anla bekend is: “Wanneer mense lag, maak hulle gewoonliik nie mekaar dood nie.”

Daarom dat ‘n mens só dubbel dankbaar is vir diegene soos Madeleine van Biljon wat ook maar ‘n groot seer gedra het nadat haar seun, wyle Pierre-Jacques, die pad gevat het. Desondanks het sy nooit opgehou lag nie.

Selfs as daar niks is om oor te lag nie, lag op krediet, is die waardevolle les wat dié formidabele vrou ons geleer het. (HvD)

MARTIE SE BLIK OP MY ‘BYL

Martie Retief Meiring

Middag uit Melkbos

Hiermee Martie Meiring se resensie van “Byl in my bos”, wat vanoggend op Die Burger se Boekeblad verskyn het:

Teen die sakkende son sien ¬Hennie van Deventer daar is deeglik in sy bos gekap. Op pad na sy 70ste verjaardag en as voorlopige verjaardagpresent aan homself klee hy elke oopte in die bos in met ’n grafskrif. Dit word ’n omvattende in memoriam van mense wat eens tuiniers was tot mense wat presidente was.

Van Deventer, ’n gesoute koerantman en oudredakteur met 34 jaar se ondervinding, weet hoe om vernuftig die galery van mense wat deur sy leeftyd invloed op hom gehad het, staanplek in sy eie herinneringe te gee.

Nog voor die leser kan stuit teen herinneringe wat net ’n fraksie te yl of ander wat doodgewoon te oninteressant is, verweer die skrywer homself in sy inleiding dat die boek anekdoties is en ¬nêrens na ewewigtigheid en volledigheid gestreef word nie. ’n Jammerte.

Die leser mis die volledigheid plek-plek, want Van Deventer het in sy loopbaan in ’n geskiedkundige tyd wel met vele persoonlik¬hede in aan¬raking gekom om tog meer volledig en insigryk oor hulle te kon skryf. Hy is immers ’n bedrewe, gepubliseerde skrywer en het meestal sy eie sieninge en herinneringe al geboekstaaf. Die nuwe leser van sy werk sal wel geprikkel word deur byvoorbeeld sy mening dat hy De Villiers Graaff, destyds ’n anti-regeringsman, eerder as president sou wou sien as die tóé aangestelde Marais Viljoen. Met ’n onbedwonge eerlikheid beskryf hy karakters en insidente wat hy self in sy lewe as ’n gedugte apartheidsondersteuner ontmoet het. Hy verwys ook na sy ontnugtering en (wat in vorige skrywes meer uitdruklik meegedeel is) met apartheid en sy beweeg na meer liberale standpunte wat hom as redakteur van Die Volksblad ook heelwat kritiek ontlok het deur baie van sy lesers.

Die leser sal verstom wees, eerder as krities, oor Van Deventer se grafskrif vir Helen Suzman. Met watter eienaardige eerlikheid kon hy, só ’n bedrewe en stellig gesofistikeerde joernalis, skryf dat Suzman “die eerste vrou was wat ek teengekom het by wie geen onderdanigheid teenoor mans bestaan het (of geveins is) nie”.

Die indruk dat ’n mens met ’n heel verouderde manlike chauvinisme te doen het, word enigsins teengespreek met sy finale woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies ook my eie vlag halfstok laat hang het.” Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasionaliste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.

Sy plesier aan humoristiese insidente helder die bundel geweldig op. Herinneringe aan Verwoerd, John Vorster en PW Botha lewer nie nuwe insigte nie. Wel die joernalis se oog vir die ironie wat soms in die geskiedenis opduik.

Sy braaivuurvriende, sy koerant¬kollegas, politici en mense wat hy as rykes, slimmes, skones en doodgewones tipeer, kry plek-plek, wel deur anekdotes, ’n innemende lewendigheid. Dit is veral onder sy kollegas dat hy die eksentrisiteite, onnutsigheid en selfs vindingrykheid onthou.

Hieronder tel die al dikwels oorvertelde, weergalose opskrif wat Ronnie King, uitmuntende taaladviseur van onder meer Die Burger in die uiters korrekte taaljare van die sestigs die wêreld ingestuur het: “Ouderling in gat beseer deur latrine”. (Die feite van die storie was korrek: Die ouderling het in die gat geval waarin ’n buitelatrine gebou sou word.) Die bundel is goed versorg. Die foto’s is soos kiekies geplaas. Of dit ’n belangrike bydrae is tot die herinnering aan soms baie bekende mense? Moontlik nie, maar oorwegend is dit leesbaar en gesellig.

 GRIFFEL MEDIA EN TARLEHOET, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 213 BLADSYE, ISBN 978-0-620-43653-3.)

 MARTIE RETIEF MEIRING IS ’N RUBRIEKSKRYWER EN JOERNALIS.

(HvD)

RESENSIE VAN ‘BYL’

Middag uit Melkbos

Op Die Burger se Boekeblad verskyn vanoggend ‘n resensie oor “Byl in my bos” uit die pen van Martie Meiring. Wel … Martie is Martie, en sy eet nie sommer als vir soetkoek op nie. Ter wille van ewewigtigheid wil ek graag haar resensie hier plaas. Ek sukkel nog net om ‘n digitale weergawe in die hande te kry. (HvD)

LOTTO-BOKKEROP

More uit Melkbos

In die sogenaamde lotto-debakel rondom die stomme Philanders van Kaapstad staan twee feite uit:

(i) Die Philanders het ‘n lang kans gewaag, wat nie afgekom het nie;
(ii) Die media was slonsig en aan die slaap.

Al die verwarring by mense wat nie kan verstaan wat gebeur het nie, vrese oor bedrog, aandrang op onafhanklike ondersoeke en suggesties dat die ware wenners die prysgeld met die Philanders deel, is dus loutere onsin, omdat dit alles op wanpersepsies berus.

Ag, hierdie ou man wat 12 jaar gelede al sy kantoordeur by Naspers agter hom toegetrek het, het tog nie die strewe om ‘n tweede-linie-ombudsman te wees wat mediakwessies probeer uitpluis nie. Oor hierdie geval word egter só bontgepraat dat dit eenvoudig onmoontlik is om te bly swyg.

In die stukkie hierbo wat as illustrasie dien, kom ene Brigitte Ottermann die media sterk by oor vrot joernalistiek. Volgens haar “the media messed up big time”. Daaroor stem ek met haar van harte saam.

Kernfeite is nie voor publikasie gekontroleer nie – amper ‘n klassieke surreksie van die skertsende opmerking by koerante in my tyd: “Don’t let the facts interfere with a good story!”

Die enigste scenario is immers dat die Philanders se “wenkaartjie” gekoop is NADAT die uitslag van die betrokke trekking aangekondig is. Geen ander verklaring bestaan nie. Hoe maklik is dit dan nie om die (reeds aangekondigde) wennommers in te vul nie!

Daarna laat die poniekoerant “Son” toe dat hy met slap pap in ‘n
wip gevang word. Waarskynlik om die boereverneukery met die agterna-gekoopte kaartjie geloofwaardigheid te probeer gee, kry hy ‘n wenk dat die Philanders die R91 miljoen gewen het.

Sy verslaggewer en fotograaf val só oor hul voete om die “groot storie” in die koerant te kry dat hulle die mees basiese joernalistieke eis veronagsaam: om van hul feite seker te maak. Een kyk na die datum op die kaartjie sou die Philanders immers as kansvatters ontmasker het.

Maar nee, “Son” publiseer. Niemand op kantoor langs die linie af vra die klaarblyklike vrae nie.

Toe volg ander koerante en media holderstebolder. “Son” se storie word uitasem opgevolg. Maar steeds bly die kernvraag oor die geldigheid van die kaartjie onbeantwoord.

Watter onsin om dan daarna, welwetende wat die feite is, in die opskrif van ‘n hoofberig, nogal, vroom te verklaar: “n Droom lê aan skerwe”! Dis mos die opperste leser-misleiding. Al droom wat aan skerwe was, was klaarblyklik die Philanders se droom om R91 miljoen met ‘n slenter in te palm.

Ook me. Ottermann tas in hierdie opsig mis en kom ná al haar (ander) korrekte ontledings by die verstommende slotsom uit dat die Philanders onskuldige slagoffers van die bokkerop was, wat almal se simpatie verdien.

Sy wil selfs sien dat die ware wenners hul prysgeld met die Philanders deel. Goeie aarde, hoe maklik sal dit nie vir ander opportuniste wees om vorentoe dieselfde slenter uit te haal en dan te kom bakhand staan oor “n droom aan skerwe” nie?

Die Philanders se haglike omstandighede en klaarblyklike naïwiteit noop ‘n mens om instinktief met ‘n “ag siestog” te reageer. Maar die harde waarheid is: hulle het geweet wat hulle doen. Toe verbrand hulle hul vingers.

Dus “Droom aan skerwe” se voet. Die munt het egter ook ‘n keersy. Dit is dat die media ‘n dure plig teenoor hul lesers/kykers het om openhartig te wees oor hoe hulle kontroles op ‘n kritieke punt só klaaglik gefaal het. Ek het nog nêrens werklike boetedoening hieroor gesien nie – ook nie in vanoggend se Ombudsmanrubriek in “Die Burger” nie. (HvD)

LIGLOOP IN DIE BOS

Middag uit Melkbos

In Kerkbode van 19 Februarie het ‘n gewaardeerde resensie van my jongste boek “”Byl in my bos” uit die pen van Frits Gaum verskyn onder die opskrif: “Ligloop in Van Deventer se bos”. Ek deel dit graag met nie-lesers van Kerkbode:

LIGLOOP IN VAN DEVENTER SE BOS

BYL IN MY BOS DEUR HENNIE VAN DEVENTER
UITGEWER: GRIFFEL MEDIA
BLADSYE: 213
PRYS: R165
RESENSENT: FRITS GAUM

Hennie van Deventer is ‘n deurwinterde koerantman wat diep spore in die Vrystaatse en Suid-Afrikaanse koerantwêreld getrap het, en op die hoogtepunt van sy loopbaan as uitvoerende hoof van Naspers se koerante (te vroeg?) afgetree het.In 14 boeiende boeke skryf hy dikwels oor persone en persoonlikhede wat sy koerantpad gekruis het.

In hierdie boek vertel hy met ‘n vonkel in die oog oor bekendes, minder bekendes en onbekendes met wie hy te doen gekry het en vir wie die Boskapper se byl reeds almal bygekom het. Soms is dit net ‘n klein kamee, ander kere ‘n langer en vollediger vertelling oor ‘n persoon vir wie Van Deventer goed geken het.Soms is dit met groot bewondering (Wynand Mouton), soms minder so (Andries Treurnicht). Soms is dit dalk ‘n bietjie skerp (Marieke de Klerk), soms met egte waadering (Tini Vorster). Soms is dit met naby-kennis (Tienie Zeeman), soms ‘n bietjie meer op ‘n afstand (Johan Heyns).

Van Deventer het op 39 redakteur van Die Volksblad geword in ‘n tyd toe Naspers goed gedink het voordat hy sy redakteurskappe aan jong Turke gegee het. Hy was voorheen 11 jaar lank lid van dié koerant se redaksie, en op die ou end12 jaar lank redakteur. Hy het in daardie tyd deel geword van die Vrystaatse kultuur en het die Vrystaters van binne-uit leer ken.En dit in die moeilike jare toe Afrikaners meestal nie langs dieselfde vuur gesit het nie. Baie van die vertellings gaan oor die woelinge van daardie dae – van vriendskappe (met byvoorbeeld PW Botha, oorspronklik ‘n Vrystater) en jagtogte (met byvoorbeeld PW Botha) en botsings (met byvoorbeeld PW Botha). Van Deventer was ‘n “verligte” redakteur toe verligtheid partykeer in die Vrystaat skeef aangekyk is, maar hy en sy koerant was tog wyd gewaardeer. En hy was as die redakteur van ‘n belangrike meningvormende koerant welkom in geselskappe wat nie vir almal beskore is nie.

Dit is goed om hier ook te boekstaaf dat Hennie van Deventer, kerkman wat hy is, later as Naspers se uitvoerende hoof van koerante ‘n belangrike rol gespeel het dat Algemene Kerkbode ‘n paar jaar lank gereeld as bylae in al die Afrikaanse dagblaaie ingevoeg is.

Van Deventer raak ‘n bietjie melankolies as hy besef dat die byl al hier en daar naby aan hom geflits het: “‘n Gevoel van verlies pak jou beet; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is … Verwyte knaag oor ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het. Intussen bly die Byl onstuitbaar kap … en kap … en kap.” Maar humor ontbreek ook nie: “Te veel droefgeestigheid sou so ‘n wandeling op ou bospaadjies darem dodelik vervelig gemaak het, nie waar nie?”

Dis ‘n mooi boek, soms ‘n roerende boek, wat groot en klein mense weer ‘n oomblik lank lewensgroot voor jou laat staan voordat hulle die vergetelheid instap.

(HvD)

‘MOSES SE HOND’

More uit Melkbos

Gisteraand, eergisteraand, ná twee glasies wyn, raak ek aangedaan oor my ontslape studentevriend Jaap de V. Neethling, wat in 1958 saam met my eerstejaar (ienk) in Kollegtehuis was.

Hy het as Japie op Tukkies aangekom. Gou het ons hom Jaap genoem, of partymaal Jaap de Vee. Later het hy “Moses se hond” geword weens ‘n beweerde ooreenkoms in gelaastrekke met die troeteldier van Moses, Griekse eienaar van ‘n kafee op die hoek naby die koshuis.

Die innemende Jaap had ‘n fyn humorsin wat hom geliefd gemaak het. Die naam “Moses se hond” het hy hom met ‘n vrolike laggie laat welgeval.

Japie (Jaap, Jaap de Vee, Moses se hond) was ‘n slim Vrystaatse seun (uit Boshof, meen ek) met ‘n paar matriekonderskeidings agter sy naam. Hy was ‘n meelewende koshuismaat wat, ook as ienk, gretig aan alles wou meedoen. Ongelukkig kon hy nie. Hy was gestremd, met ‘n boggel wat sy skraal lyf se balans erg versteur het. Loop was vir hom ‘n inspanning.

Dié las het Jaap blymoedig gedra. Na my wete het hy nooit gesug of gekla nie. Wel het dinge een laataand in sy eerste jaar (of dalk sy tweede) blykbaar vir hom baie swaar geword. Hy is alleen in die toring van die Ou Letteregebou op met bedoelinge waaroor ek my nie kan uitlaat nie, omdat die insident tussen ons nooit ter sprake was nie.

Fanie van Huysteen, Kollege se huisvoorsitter in 1959, het hom daar gekry en, vermoed ek, op sy rustige manier met Jaap gepraat. Die uiteinde was dat Jaap saam met hom af ondertoe is.

In die studentelewe het Jaap aktief aan nie-fisieke aktiwiteite soos fotografie en skaak deelgeneem. Hy was voorsitter of ondervoorsitter van die fotografie – en die skaakvereniging. Van sy treffende fotostudies het in die Tukkie-jaarblad, Trek, verskyn.

In 1960 is Kollege na die proefplaas verplant, met ‘n swetterjoel eerstejaars en die brandende ambisie by die HK om sommer met die intrap diep spore op die kampus te trap. Die eerste geleentheid was die ienksport. Dit was nie ‘n sommerso-geleentheid nie. Die atlete is intensief afgerig.

Gelukkig onthou ek toe dat Jaap op skool bestuurder van die atletiekspan was. Ons vra hom of hy die ienskport op sy skouers sou neem en hy willig dadelik in.

Sy entoesiasme was aansteeklik. Elke middag is hy skeef-skeef op sy fiets die iets oor die twee kilometer van die proefplaas kampus toe met sy atlete, stophorlosie, maatband en wat nog.

Hoe nader ienksport gekom het, hoe harder het Jaap gewerk, en des te sterker kon jy sy vasberadenheid en selfvertroue dag vir dag sien groei. Toe die Saterdag aanbreek, was Jaap se span gereed. Dit was ‘n triomf soos die atlete met ‘n K (vir Kollege) op die bors die wennerspodium in ‘n stroom bestyg. Kollege het loshande gewen.

Vir die eerste keer word ‘n HK-aflos toe by die program ingesluit. Ek moes die laaste been hardloop, ‘n 220. Só asof my lewe daarvan afhang het ek nog nooit ‘n 220 gehardloop nie. Toe my bors die lint tref, was ek net dankbaar dat ek Jaap en Kollege nie in die steek gelaat het nie.

Ek het Jaap die laaste keer gesien by die een of ander koshuis-reünie in die jare 80. Hy het ‘n lojale Kollegeman gebly, en het gereeld reünies bygewoon – in my boekie ‘n belangrike maatstaf van die stoffasie waarvan iemand gemaak is. Presies wanneer hy oorlede is, weet ek nie. Die afgetakelde lyf het eenvoudig mettertyd al hoe meer ingegee.

By nadenke, ná al die jare, twyfel ek of Jaap ooit naastenby die eer gekry het wat hom toegekom het vir die “nuwe” Kollege se eerste groot voetspoor as koshuis, en die tradisie van presteer op elke terrein wat dit ingelui het.

Wat ek nie kan glo nie nie, is hoe op deeske aarde ek daarin kon slaag om ‘n boek soos “Byl in my bos” te skryf sonder om só ‘n groot gees soos Jaap de Vee in te sluit. Ekskuus, ou maat, vir ‘n yslike blaps! (HvD)