WWW.VOLKIES57.COM

More uit Melkbos

Die opskrif klink soos ‘n webwerf se adres.

Eintlkik gaan hierdie stukkie oor nog ‘n Volkie-matriekmaat van 1957 wat op Melkbos kom kuier het.

Nou staan in my gasteboek drie van hulle in ‘n ry – almal met ‘n W in die naam.

Carl Weeber van Klerksdorp is gevolg deur Wiekie Moolman van Krugersdorp-Noord en Wiekie deur Wol Steyn van Moreletapark, Pretoria.

Twee ander W’s van daardie klas se name staan ook vroeer in my gasteboek: Willem Hartzenberg van Pretoria en Wena de Kock (Louw) van die Strand.

Al die W’s is werklik, in die idioom van vandag se jong mense, “weird”, of is dit nie?

Op die voorlaaste twee bladsye van daardie gasteboek is nog twee name van matriekmaats (sonder W’s): Ferdie Preller en Anton Lombard, albei van Pretoria.

Vyf van die Klas van ’57 was sedert 20/3/09, in minder as ‘n jaar, in my poorte. Dis nie “weird” nie – dis wonderlik! (HvD)

Naskrif: Op die foto is die dartelende seilplanke waarna ek en Tokkie, en Wol en Marie kon sit en kyk terwyl ons, in Wol se woorde, “beelde uit die ou dae” oproep.

TOI-TOI VIR AFRIKAANS!

More uit Melkbos

Die Afrikaansdebat het opnuut opgevlam. Idees oor wat die toekoms van ons taal is, kan wees en behoort te wees, kom uit alle oorde, en is soms nogal sterk uiteenlopend. My bydrae vandag is in die vorm van enkele kantaantekeninge. Ek het dit o.m. oor hoe Afrikaanssprekendes soms self met hul taal mors.

Die joernalis Anastasia de Vries – spreker van die Kaapse variant van Afrikaans – het op n keer gevra: “Het dit nog sin om groot taalgevegte aan te pak as ‘n mens hoor wat die mense op voetsoolvlak dikwels daarvan maak?”

Dit is ‘n geldige vraag. Ons het só laks geword dat ons nie eens meer agterkom as mense met die taal mors nie. Ons aanvaar maar sy lot met gelatenheid. Daardie toleransie bereik gevaarlike vlakke as dit hom daarin manifesteer dat kerkrade nie meer hul dominees uitruk of hoofde hul onderwysers of redakteurs hul joernaliste wat Afrikaans verknoei nie. Almal wals maar saam in hierdie Hartseerwals van Afrikaans.

Koerante het in die jare 80, in my tyd, te midde van enorme politieke verskeurdheid rondom Afrikaans gekonsolideer. Ons taal kan ook nou ‘n magtige samesnoerende krag wees, glo ek. Maar dan sal ons ook by daardie mense op voetsoolvlak moet uitkom. Klaarblyklik is ‘n kopskuif is nodig wat hulle in ons ideale vir Afrikaans inbind. .

Afrikaanssprekendes oor die hele spektrum sal op ‘n manier weer trots gemaak word op Afrikaans en lus gemaak word om hom weer te troetel soos die taaltrotse Franse Frans troetel. Afrikaans moet – in die woorde van P.G. du Plessis – sy trots herwin. Sy sprekers moet, in die klinkende titel van Jaap Steyn se magnum opus, ‘n “tuiste in eie taal” vind.. Die bestaande toleransie vir mense wat die taal willens en wetens besoedel/verknoei/vermoor, moet wyk.

Waar om te begin?

Alle instansies wat Afrikaans wil bevorder, sal onderlinge aksentverskille, eie agendas en eie ego’s moet vergeet, glo ek. Hulle behoort ‘n ketting te vorm. Dan kan ons gekonsolideerd en gestruktureerd begin werk aan aksies, projekte en idees.

Een konstruktiewe aksie is die Vriende van Afrikaans se boekedag met die tema: Koop vandag ‘n Afrikaanse boek. Kan dit nie uitgebou worde tot ander terreine nie? Dr Matthews Phosa het ‘n keer laat val hy en baie van sy mede-strugglers “…sal toi-toi as Afrikaans verneder of benadeel word.” Laat ons dan toi-toi as dit moet!

Om ‘n kampvuur het ek die idee gehoor dat ons ophou om “please” en “thank you” te sê. Ons kap daardie Engelse woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê – diegene wat nie weet wat dit beteken nie, sal gou agterkom, en sommer ook agterkom dat Afrikaans ‘n vriendelike taal is – nie net ‘n raas-taal of baklei-taal nie.

Een-een sal geen aksie egter die brug laat bewe nie.

Ons het ‘n span nodig wat op al sy silinders vuur – ‘n span met impakspelers wat ‘n verskil kan maak. Ons het ‘n vereniging of klub nodig in elke stad en dorp in die land. Een van daardie span se eerste uitdagings sal wees om, in die idioom van die dag, die persepsie te swaai dat dit die “bad guys” is wat besorg is oor Afrikaans.

Tong in die kies: Dalk moet ons die regte “bad bad guys” aan die kaak stel soos die modekenners jaarliks die tien swaksgekledes vroue aan die kaak stel en die besgekledes ‘n pluimpie gee.

Moet iemand met aansien nie die voortou neem om die tien vrotste Afrikaanspraters in Afrikaanse geledere en die tien beste jaarliks by die naam te noem nie?

Dalk is die idee nie só tong in die kies nie (HvD)

* Geneem uit ‘n toespraak voor die Afrikanerklub in Bloemfontein in 2007.

“RUITERS VAN DIE WINDJIE”

More uit Melkbos

Die Suidooster laat hom geld en die seilplank-seisoen is in volle swang (ek weet dit moet “volle gang” wees, maar die s’e allitereer sooo lekker!)

Dit was die toneel gistermiddag om 18:00 (toe die son nog redelik hoog was) voor my woonkamervenster op Melkbosstrand. Tokkie het in ‘n stadium iets soos 90 van die “ruiters van die windjie” getel.

Vergelyk dit nou met die vorige inskrywing van die sneeu voor Gert en Caroline Pols se venster in Nederland! (HvD)

SWEET … EN SNEEU

More uit Melkbos

‘n Wandeling langs die see (deel van my “rehabilitasie” vir my rug en regterbeen se kwale) het my en Tokkie vanoggend nogal laat sweet. Die sonnetjie het vroeg-vroeg begin steek.

Tuis gekom, kry ek hierdie foto per e-pos van Caroline Pols, ons Nederlandse Sabiepark-vriendin, uit Heerhugowaarden.

Dit was op daardie oomblik die sprokiesmooi uitsig uit hul woonkamer.

Nou-ja, die helder blou lug is darem ook mooi. (HvD)

WIKS DAAI MOOI BOUDJIES!

More uit Melkbos

As daar nou een paar mooi sepieboudjie is wat verdien om behoorlik gewiks te word, is dit dié van San-Mari van Sewende Laan. Om uit haat, nyd en jaloesie Paula se spogrok vir haar groot aand te saboteer, is darem lelik verby.

Om die arme Clara vir dié onwaardige doel op “mamproe” dronk te maak en die boetiek se sleutels uit haar handsak te steel, maak dit nog leliker. Trouens, ‘n mens kan aan ‘n paar sterker woorde as lelik dink om die sexy San-Mari se optrede te veroordeel: laag, gemeen, onderduims, agterbaks, gewetenloos …

Die slim Engelse sê: “All’s fair in love and war.” Dié wraak oor Paula Altus sogenaamd van haar afgevry het, was egter werklik werklik buitensporig. In elk geval, hoe vry ‘n meisie ‘n man af as hy nie die inklinasie het om afgevry te word nie? Die nimlike Engelse sê ook: “It takes two to tango.”

Maar wag, eintlik is San-Mari, soos die ander karakters, tog maar net ‘n marionet. Dit is die draaiboekskrywers wat die toutjies trek. As hul verbeelding op hol raak, laat hulle mense, ter wille van sogenaamde “storielyne”, soms allerlei ongehoorde dinge aanvang.

Ag, dié ou simpel oom weet sepies is sommer lawwe storietjies, wat hy nie ernstig moet opneem nie. Tog pla dit as draaiboekskrywers sulke absurde spronge maak, soos om ‘n oulike meisietjie skielik in ‘n draak te verander. Dat ander “Laners” daaroor giggel of dit ‘n groot grap was, maak die krieweling net groter.

Verder: Moet sepie-intriges altyd só voorspelbaar ontwikkel? Elke keer stap iemand eenvoudig in op ‘n gesprek wat nie vir sy/haar ore bedoel was nie. Dan dans die poppe. Die werklike lewe is mos nie só nie.

Maar in die werklike lewe sou iemand wat nie ‘n opgeleide kleremaker is nie, onmoontlik ‘n ontwerpersrok se nate só kundig en presies kon verstel dat die rok net op die kritieke oomblik ontnugterend oopbars. Waar het sy in elk geval ‘n naaimasjien gekry?

Miskien die heel ergste van die hele Sewende Laan op die oomblik is die lawwe uitbeelding van die koerantjie die Hillside Times. Die stomme redakteur. Neville Meintjies, is ‘n papperd van die eerste water, en die bestuurder, Tim Jordaan, slaan absoluut die kitaar. Iemand wat sulke situasies uit die duim suig, ken nie die koerantwese soos ek hom 35 jaar lank geken het nie – of het dinge in 12 jaar só verander?

Om alles te kroon, is Mandla steeds die enigste joernalis, met Aggie in ‘n ondersteunende rol wat so ver van geloofwaardig is soos die Noordpool van die Suidpool.

Van my ou werkgewer, Naspers, kom van tyd tot tyd nuus van redaksionele personeelverminderings en wat nog. Wat waar is en wat nie, kan moeilik deur iemand beoordeel word wat só ver van die vuur af sit soos die uwe.

Tong in die kies, kan n mens egter wel wonder of die Hillside Times dalk ‘n rolmodel is. ‘n Koerant sonder ‘n redaksie – wonderlik vir die “bottom line”! (HvD)

BROEKVERLOOR SE VLAKTE

MIddag uit Melkbos

Kom ons speel ‘n identiteitspeletjie.

Die man aan wie ek dink, was ‘n skrumskakel. Hy het vir die Blou Bulle gespeel. ‘n Naakfoto bestaan van hom.

As ek verklap dat hy op Woensdag 27 Januarie 70 oud word, sal u besef hoe ver verkeerd u geraai het.

Nee, die ou in my speletjie is Proppie Goosen van Glentana, voorheen George, voorheen Kirkwoord. Hy was ‘n Tukkiemaat in Kollegetehuis van 1959 af.

Rondom my woed ‘n pandemie van 70 jaar oud word van matriek- en studentemaats. Daar was in die laaste paar maande Vos Grey op Ermelo, Johan Bekker op Jacobsdal, Manie Steyn op Krugersdorp, Willem Hartzenberg van Pretoria (op Hermanus), Giel de Swardt op Jeffreysbaai, Proppie… Dis verreweg nie almal nie. Vriendinne se name word om ridderlike redes verswyg.

Om die draai wag Piet Henning op Soutpansberg en Wiekie Moolman op Krugersdorp. Die uwe, altyd die baba in die klas, kom op 3 Januarie 2011 aan die beurt.

Vir Proppie het ek ‘n 70-kaartjie gemaak met die foto hierby op die agterblad. Geen seksuele konnotasie moet/kan daaraan geheg word nie.
Die oorsprong was ‘n sogenaamde “broekraid” in 1959. Die manne van Voortrekker het ons Kollegemanne een nag kom uitdaag. Kollege was toe nog op die kampus en die kragmeting was voor die Ou Letteregebou.

Wat vir n ding ‘n broekraid is, het ek in my boek In Kamera (Protea 2003 só verduidelik:

“Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. “

“Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.”

Dit was só deel van die studentelewe van Tukkiemans soos modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie vir eerstejaars, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

Terloops, Proppie was ‘n kranige skrumskakel. Hy het vir Noord-Transvaal, Natal, OP en SWD gespeel. Sy skakelmaat in n stadum was Nic Bojé, ook ‘n Kollegeman.

Waar is die dae …..? (HvD)