HANDE WAT DIT VOORBEREI HET…

More uit Sabiepark

Vir die Nuwejaars-uittog na Sabiepark het Tokkie met sorg en toewyding kosse geselekteer en voorberei.

Buiten die tjops, wors en hoender vir die rooster was daar skaapboud vir die Weber, spek en speksnippers, gaar beesstert, ‘n blok kaas, groenteskottels, allerlei nageregte en nog wat.

Ons sou nie ons huweliksherdenking Oujaarsaand of Nuwejaarsdag of my verjaardag op 3 Januarie of met die besoek van studentemaats, Cas Jacobs van Centurion en Piet Henning van Chiredzi/Louis Trichardt, en hul gades, Nella en Moraig, kort kom nie.

Toe tref ‘n paar teenspoede op ‘n ry.

Vlug SA 334 uit Kaapstad na O.R. Tambo word vertraag. Ons kom net-net betyds aan vir SA Express se woer-woer-vliegtuigie na Krugerpark/Mpumalanga.

Die meisie by die hek (E4) raadpleeg die rekenaar en lig my in al my bagasie is op die konneksievlug gelaai – groot verligting oweral! – maar toe ons by Kruger afklim, blyk dit sy en haar rekenaar was in die ongelyk.

Een van ons vier stukkie bagasie beland amper laaste op die band. Die ander drie bly weg. Dit sluit die twee koskaste in.

Kom nog ‘n vlug? Nee. Eers die volgende dag, Sondag, kom hulle van 10:00 af in. Ek boer op die telefoon. Die eerste lewer niks op nie. Die tweede … wag net ‘n bietjie … ja, hier is die vermiste stukke.

Tekens bestaan egter dat met een gelol is en dat van die kos begin ontdooi.

Gelukkig is Sabieparkvriende om die een of ander rede in Nelspruit. Hulle sal dit sommer saambring, maar rapporteer met hoorbare kommer die omvang van die skade.

Wel, uiteindelik is die kos hier, en die staat van ontdooiing nog nie juis ‘n faktor nie. Maar iemand het feesgevier – dis duidelik. Hier is sy/haar/hulle spyskaart: spinasie-en-fetatertjies, speksnippers, beesstert, skaaptjops (grotes), gerookte hoenderborsies en klappertert: ‘n dis duisend vir ‘n vertraagde Kersete, met tot voor- en nagereg ewe bedagsaam verskaf.

Die koms van ons kos (hoewel aansienlik uitgedun) laat die Van Deventers sommer strate beter voel as die vorige aan toe bek-af in die “bloedige hitte” oor die verlies gesit en treur is. Die wolke gaan terselfdertyd oop en bring verfrissende, verkoelende buie.

My vrou glimlag selfs toe sy opmerk: “Ek hoop darem hulle het gebid vir die hande wat die kos voorberei het!” (HvD)

KERSWENSE

More uit Melkbos

Die son gaan onder op die jaar 2009. Met hierdie foto van ‘n tipiese Melkbosse sonsondergang wens die Van Deventers almal wat hier inloer, net die beste toe oor die feestyd: mag die vrede van Christus u hierdie Kersfees spesiaal koester, en die nuwe jaar gesondheid, geluk en voorspoed in groot maat bring.

Ons verkas Saterdag na Sabiepark, en gesels van daar af verder.

Hennie en Tokkie van Deventer

STEM UIT DIE OU VERLEDE

More uit Melkbos

In die kerk sing ons gister van die “stemme uit die ou verlede” wat oor die “sterrevelde ruis” (Welkom, o stille nag van vrede). Kort daarna kom hier werklik ‘n stem uit die ou verlede op Melkbos aange-“ruis”.

Dat die e-pos-briefie aan “Oom Hennie en juffrou Tokkie” gerig is, verklap iets van hoe oud daardie verlede is. Die skrywer (wat nou ook al 52 jaar oud is) het in standerd drie (vandag se graad vyf) by Tokkie musiek geneem in Kmdt. Senekalstraat 33, Bloemfontein.

Dié musiekleerling was Belinda Bonthuys (nou Belinda Terblanche) en haar pa was die alombekende Bontie Bonthuys van “Bontiesigns” wie se huis ons later (in 1980) gekoop het toe ons vir ‘n tweede skof Bloemfontein toe is.

Belinda skryf Tokkie was swanger (met Marisa), en sy onthou hoe warm “Juffrou” daardie tyd voor die klavier gekry het tydens haar lesse. Sy skryf ook sy kry “nou nog die lekker ruik van jul huis as ek ingestap het!” Watse reuk dit kon wees, kan ek en Tokkie nie raai nie (dalk my Rembrandt van Rijns!).

Belinda het op ons webwerf (www.hennievandeventer.com) afgekom in ‘n soektog na Nancy Ames (ook een van ons gunstelinge ) se musiek – spesifiek die pragtige “Cu cu rru cu cu Paloma”.

Sy meld dat haar pa, Bontie, op 2 Desember al 11 jaar oorlede was. Hoe goed onthou ek nie die ou langeraat nie! Hy was ‘n Noordwester in murg en been, en versot op Elizabeth Vermeulen se stories oor sy streek. Boeke soos “Temmers van die Noordweste”. Daarom het hy sy huis “Tarlehoet” gedoop – die naam, van ‘n Boesman-karaktertjie in een van Vermeulen se verhale (ook sy yslike woonwa).

Ek kon Belinda meedeel ‘n hoofstukkie oor “Bontie Bonthuys – Tarlehoet se baas” verskyn in my jongste boek, “Byl in my Bos” (Griffel Media 2009). In die boek is ook ‘n foto van die Boesmantjie “Tarlehoet” soos hy by die voordeur van Van Schoorstraat se huis gebrandskilder is (foto hierby).

“Tarlehoet.” Dit was nie net die naam van daardie gewese Bontie-huis waar ons gesin twaalf jaar lank gelukkig gewoon het nie – van 1980 tot 1992. Dit was ook die naam van die beslote korporasie agter die karaktervolle geskenkwinkeltjie “Tokkie” in die Mimosa Mall, Bloemfontein, wat vir my vrou baie plesier gegee het

Vandag, met Bloemfontein se stof al amper 20 jaar van ons voete geskud, leef die vreemde naam “Tarlehoet” steeds op twee maniere in die Van Deventers se lewens voort: as private uitgewer en op die sierlike stuk swarthout by die ingang van Wildevylaan 154, Sabiepark, ons bosplek waarheen ons weg breek as ons sielerus soek, en waarvoor ons elke keer ‘n bietjie liewer word.

“Kroniek van ‘n Koerantman”, my boek oor die Afrikaanse koerant se rol in hervorming, is onder meer in 1998 deur “Tarlehoet” uitgegee.

Ek kon Belinda ten slotte meedeel ‘n stuk houtsneewerk met sebras en ‘n luiperd deur haar suster Sonja hang in daardie einste boshuis, waarheen ons juis Saterdag weer op pad is. Salige gedagte! (HvD)

Naskrif: Met “Cu cu rru cu cu Paloma” sal ek Belinda met graagte help. Die langspeelplaat waarop dit voorkom, is een van my musiek-kleinode.

WANDELENDE LYK!

More uit Melkbos

Al die water in die Atlantiese oseaan hier voor ons op Melkbos sou my nie kon skoon was nie nadat ‘n Pretoriase vrou in Maart die sluise teen my oopgetrek het oor ‘n poging tot satire in hierdie ruimte oor die vrylating van die heer Schabir Shaik op mediese parool.

“Jy maak my skaam dat ek wit en Afrikaans is, “ het ‘n verontwaardige me. Dorethea Herbst onder meer gestoom.

Ook: “Ek is bly dat ek jou nie ken nie. Watter swak smaak openbaar jy oor jouself in die openbaar! Hopelik sit jy Sondag wel in die kerk en bely dan jou sondes!” (die uitroeptekens is hare.)

My sonde was blykbaar my disrespek jeens die “terminaal sieke” mnr. Shaik.

“Die tonele op TV waar Shaik gimlaggend en skynbaar perdfris die ‘dood tegemoet stap’, herinner aan Mark Twain se beskrywing van sy premature doodsberig as ‘n ‘oordrywing,’” het ek op 3 Maart geskryf.

“Wat ons hier beleef t.o.v, mnr. Shaik se ‘terminale fase’ is op die oog af dan – a la mnr. Twain – ten minste ‘n ‘growwe oordrywing’!

“Nou kyk, dit is seker raadsaam om jou nie te veel op te werk oor die spekvet Schabir se mediese parool ‘om in waardigheid te gaan sterf nie’. Anders bereik jou eie bloeddruk dalk sulke ekstreme hiper-vlakke dat jy omkap terwyl hy nog in Morningside sit en kipper eet vir ontbyt.

“Daarby is die dood natuurlik ’n (dood-)ernstige saak. Laat ‘n mens jou van ligsinnighede weerhou. As ‘n skeppie galgehumor in orde is, sal ek egter graag meedoen. Vir my lyk dit of mnr. Shaik dalk, volgens gewone waarnemings, op pad is om ‘n ‘eerste’ te behaal wat vir hom seker ‘n plek in die Guinness Book of Records sal verdien.

“Waar ander belangrike mense tot dusver na hul dood in staatsie gelê het, sal mnr. Shaik waarskynlik in staatsie rondloop!”

Ek het meer te sê gehad. Maar genoeg. Die volgende oomblik tref me. Herbst se gifpyl-e-pos my op my skerm.

Natuurlik moes ek dit doodeenvoudig veronagsaam het. Maar toe antwoord ek ewe ordentlik: “ Dit spyt my dat n stuk politieke satire by u soveel wrewel ontlok het … my stuk dryf spot met die skromelike misbruik van mediese parool om ‘n politieke doel te bereik … ek voel gemaklik dat die grense van satire hoegenaamd nie oorskry is nie,” en so aan en so aan.

Me. Herbst was adamant: ek moenie haar “tyd mors” nie.

Vanoggend toe hierdie ou sondaar voor kerk (let wel, me. Herbst) vinnig deur Rapport blaai, kon hy nie help om te wonder of me. Herbst se gewete haar nie effens opkeil nie.

Moet sy nie liewer skaam kry oor die Regering se siniese misbruik van mediese parool en oor Shaik se vieselike taal nie? (HvD)

MOOI ROOI UIT DIE POT

More uit Melkbos

Na al die debat en indaba oor kreef op die kole of kreef uit die pot, het ons toe Donderdagaand 17 Desember hier op Melkbos saam met Chris en Annette van Rensburgs (op die foto) aangesit – met die kreef, mooi rooi van aanskyn, uit Tokkie se pot.

Die konsensus was dat die kreefete ‘n ongekwalifiseerde sukses was. Dat HvD sy kole-ambisie nie ten uitvoer gebring het nie, was – volgens die kollektiewe mening – “ook maar goed so”.

‘n Interessante wete was dat ons Sabieparkvriende Gert en Caroline Pols in Hugoheerwaarden, Nederland, dieselfde aand ook ‘n kreefdis geniet het.

Caroline laat weet hul kreef was “perfek”. Hulle het aangesit terwyl die sneeuvlokke val. Die wêreld is toe onder ‘n dik wit kombers en nagemperature sak tot -15 grade. Die voorspelling is dat ‘n wit Kersfees op pad is. Sprokiesagtig! (HvD)

MAAN-JIFIEK!

‘‘Teen die oosterkim is ‘n volmaan aan’t deurkruip tussen die eerste takke wat reeds hul blare begin afskud het vir die winter. Mayafudi neem hom voor om langer wakker te bly. Die bos in helder maanlig gebaai, is ‘n verruklike gesig. Hy wil dit eers ten volle indrink. Volmaan was nog altyd vir hom ‘n tyd van dankbare betowering – hoewel die teenoorgestelde ook weer sy eie bekoring het: ‘n pikdonker bos met die see van helder sterre so naby dat ‘n olifant kan voel hy sal een vir een met sy slurp uit die lug kan pluk.”

Oor die betowering van volmaan in die bos is ek en die verbeelde olifant van my bosboekie “Mayafudi” (Tarlehoet, 2005) dit van harte eens.

Winter of somer, kombineer die gedugte Bosveldbome en die helder maan om
skilderagtige patrone in die lug of op die grond te trek.

Die hart bons dat op ons aanstaande besoek, van 26 Desember tot 10 Januarie, opnuut ‘n volmaan in die bos beleef gaan word.

‘n Baie spesiale volmaan is dit, want vir eers is dit op 31 Desember, Oujaarsaand. Ten tweede is dit ‘n sogenaamde “bloumaan”, die tweede volmaan in een kalendermaand. So iets gebeur net elke twee tot drie jaar.

Om alles te kroon, is Oujaarsdag ook my en Tokkie se troudag. Ons sal daardie dag 43 lank in die eg verbind wees.

As iets baie seldsaam gebeur, het die Engelse ‘n uitdrukking: “Once in a blue moon”. Dis einste hierdie “bloumaan”-verskynsel wat die oorsprong van daardie gesegde is.

Dit gebeur net een keer elke twee tot drie jaar, het ek reeds gemeld. Of dan ongeveer 41 keer per eeu. Watter voorreg is dit dus nie vir my en Tokkie nie dat hierdie ons derde in Sabiepark gaan wees, as my sommetjies reg is.

Van die eerste keer, 31 Julie 2004, het ons nie eens geweet nie – eers agterna gehoor. Op 30 Junie 2007 het ons egter vir n vale foto’s geneem. Ons het foto’s van my en Tokkie op ons motorpad met die (bra kleinerige!) maan doer ver bo; ook van ons kinders Brent en Marisa Claassens met hul tweeling, Jacob en Thomas, en die maan in die agtergrond, en van ons met die tweeling (foto hierby).

Die volgende “bloumaan” is in Augustus 2012. Hoop die ou lyf hou nog dat ek dit dan my vierde in Sabiepark kan maak.

Intussen neem die opgewondenheid toe oor die magiese viering van die oujaar met ‘n vuurtjie en ‘n flessie goeie rooi in die helder maanlig. Hoop Sabiepark se diere voer vir ons ‘n spesiale verrassing vir dié aand in die skild.

Dalk stem hulle saam met HvD en Mayafudi, of Mahatma Gandhi wat die volgende mooi woorde op skrif gestel het: “When I admire the wonder of a sunset or the beauty of the moon, my soul expands in worship of the Creator.”
(HvD)