OOIEVAAR IN DIE LANGPAD

More uit Melkbos

Die gevleueldes is tot dusver afgeskeep in die reeksie oorm ongewone foto’s uit die natuur se dierelewe.

Die Vyf Grotes, ja, hulle figureer sterk. Die Ses Grotes (voëls) – waar’s hulle?

Maar eers: omtrent almal ken die Vyf Grotes (of Groot Vyf): leeu. olifant, renoster, buffel en luiperd.

Wie weet aan watter voëls kom die eer toe om die lys van Ses Grotes (of Groot Ses) te haal. Hiers hulle:
Witrugaaasvoël – Lappet faced Vulture
Jagarend – Martial Eagle;
Saalbekooievaar – Saddle billed Stork
Gompou – Kori Bustard
Bromvoël – Ground Hornbill.
Pel se Visuil – Pel’s Fishing Owl

Hande op almal wat al ses al gesien het. My en Tokkie se hande kan nie opgesteek word nie, want ons soek nog die visuil – ‘n skaars meneer wat veral snags aktief is, en ook in ‘n beperkte gebied van die Krugerwildtuin, hoër op in die noordeliker atreke.

Anders as die Vyf is die Ses ‘n Krugerpark-skepping.

Die Vyf spruit eintlik uit die jagwêreld – jagters se begeerlikste trofees. Daarvandaan het dit oorgespoel na die toeriste-omgewing toe, en word die Vyf ywerig deur besoekers aan wildtuine met hul kameras “gejag”.

Die Ses is ‘n ietwat willekeurige samestelling van gevleueldes wat vir groot opwinding sorg, en wat lekebesoekers aan die Kruger bittergraag wil aftik op hul boekies.

Die foto van die saalbekooievaar in die langpad is Kersfees 2008 op pad na die Kersdiens in Skukuza geneem. Twee het op die Doispanepad rustig op die teer heen-en-weer geloop. Dié foto was al in, maar ek het vermoed ek sal vergewe word as ek hom weer gebruik.

Die blertse kleur aan sy bek maak die saalbek ‘n buitengewone vreugde om te sien.

Naskrif: Die ou bromvoëls (“wilde kalkoene”) is vir die uwe ‘n verrassing op die lys. Die storie is egter dat die voëlkenner Newman een nag, toe hy buite die park geslaap het, so deur die bromvoël se roepe bekoor is, dat hy lewenslank as voëlliefhebber gewen is. Die vreugde wat sy gesaghebbende gids vir generasies van voelkykers besorg het, is dus tot die bromvoel se krediet, en verdien opsigself vir die ou lelik hoë eer. (HvD)

KIETSIE, KIETSIE, KA-A-A-ATS!

Middag uit Melkbos

Mense baklei soos katte en honde oor katte en honde.

Ek soek nie om in ‘n kattegeveg (of hondegeveg) oor die ou-ou strydpunt ingesleep te word oor watter een van die twee die beste/lojaalste/dierbaarste troeteldier is nie. Diegene wat hul katte lief het, bly gerus lief vir hulle. Diegene wat by honde sweer, sweer gerus by hulle.

Die sonde wat ek vandag het, kom egter van eersgenoemde. So ‘n donkergrys kolletjieskat versuur my lewe. Ek soek dringend raad, asseblief.

Die moeilikheid is dat hy ons erf hier op Melkbos duidelik as deel van sy domein ag. Hy kom en gaan soos hy wil – of dalk is dit ‘n sy, want dis ‘n kat met ‘n houding, hoor!

Goed en wel, bedags rig die katteverkeer oor die tuinmuurtjies en die voorstoep min skade aan. Dis snags dat dit lol.

Ons het n buite-alarm. Sulke oge wat vir mekaar loer. As die sein gebreek word, gee dit ‘n gekattemaai van die eerste water af.

Wakker is die Van Deventers . Wakker (en de ongeluk in) is die bure. Telefoon lui. Die gewapende reaksie-span wil weet of alles in orde is. Dan is dit: wagwoord asseblief. Soms is ek so deur die slaap dat ek twyfel oor die klinker – is dit ‘n “u” of ‘n “o”?

Laasnag was dit weer sulke tyd. Toe ek die gordyne ooppluk, sien ek hom (haar?) momenteel (en triomfantlik, lyk dit) op die muur poseer, stert pronkerig doer in die lug.

G’n twyfel meer dat ons probleem ‘n katprobleem is nie, al sê die alarm-mense wat. Dis immers nie ‘n kat op die grond wat die sein breek nie, maar een wat met diaboliese doelgerigtheid van die muur af direk voor die oog ‘n sierlike sprong kom uitvoer.

Taks om taks.

Vanoggend sê ek vir Tokkie: “Nee magtig, nou moet ons plan maak.”

Sy (altyd prakties): “Wat?”

Ek verlang skielik na Daniël, tuinman uit ons Bloemfontein-era, nou ook al saliger. Toe die bure se kat – Snuffels, meen ek – Tokkie se witduiwe beloer, toe slaan Daniel hom met ‘n graaf uit die boom.

Snuffels is in die agterplaas begrawe. Daniël kon trots rapporteer: “Hy sal nie weer vir ……… (politiek inkorrekte alternatief vir mevrou) se duiwe loer nie.”

Een of ander kattevanger?” waag ek hoopvol.

“Bestaan nie,” verpletter T. my hoop.

“Met die kat se baas gaan praat?”

“Wie’s die baas? Tien teen een is dit sommer ‘n rondloperkat.”

Só troef sy my.

Liewe blogvriende, wie het tog raad?

(Naskrif: Ja, ek is die skrywer van “’n Vriend vir altyd” (omslag hierbo) – kan dit nie ontken nie. My simpatie is dus by honde, wat by al hul ander deugde ook die voordeel het dat hulle nie snags op mure loop en alarms aktiveer nie. HvD)

LEEUS OP DIE ROTSE

More uit Melkbos

Leeutyd op HvD se blog vanoggend.

Hoogtyd ook dat die groot katte aan die beurt kom in my reeksie oor ongewone dierefoto’s, meen ek.

Vir party mense is leeus mos alles – en is ‘n Wildtuinbesoek wat nie leeus oplewer nie, soos sop sonder sout.

Ek is nie een van daardie leeubeheptes nie, maar om op mooi leeus af te kom, is darem nie te versmaai nie.

Veral nie as hulle so netjies poseer asof ‘n choreograaf hulle vir die kamera reg laat le het nie.

Ook nie as hul “vertoning” ‘n verjaardaggeskenk vir jou vrou was nie. Ons het hulle 10 jaar gelede, op 15 Maart 1999, op die Nhlangulenipad (S36) raakgeloop.

Ek dink ek het nog ‘n mooier foto van die leeus op die rotse, maar kry dit nie nou raakgevat nie. Sal dit laai sodra ek my hand daarop kan sit. (HvD)

WP SE HUURSOLDATE

Middag uit Melbos

In vanoggend se Burger vat my oud-kollega Tom Ferreira WP-ondersteuners liggies aan oor wat hy noem hul “voortydige, hovaardige en neerbuigende opmerkings” oor rugby-aangeleenthede in die lig daarvan die die WP “nie juis die wêreld aan die brand gespeel het” die laaste paar jare nie.

Tom, jy’s nou Saterdag ‘n Cheetah; ek is in die eerste instansie ‘n Blou Bul, met die Cheetahs as my nommer-twee-span. Maar ek is dit met jou roerend eens dat dit darem “’n bietjie dik vir n daalder” is hoe wysneusig party van ons Kaapse vriende van die kantlyn af oor aanstaande Saterdag se groot rugby saampraat.

Ek het dit onder meer oor die uitbeelding in allerlei nare e-posse van alle Blou Bulle as boerse, ongekultiveerde agtertangers. Miskien is ons in die algemeen nie sulke fyn here soos sommige Bolanders nie – maar ek is liewer ‘n agterganger wat wen as ‘n fynbeskaafde verloorder.

Kom ons los dit maar daar. Sommer as ‘n vinnige vingeroefening het ek die volgende WP-span saamgestel, met een gemeenskaplikheid tussen al die spelers, van heelagter tot agtsteman. Dit is dat almal van buite die WP kom – huursoldate dus.

Ek wil nou nie lelik wees nie, maar dit is nogal insiggewend as ‘n mens die aanspraak onthou dat Matieland en die WP die “wieg van Suid-Afrikaanse rugby” sou wees!

Huursoldate XV

Heealagter: Joe Pietersen – (van Grey-skoolbanke af gekoop)

Vleuels: Twee uit: Sereli Naqelevuki – Fidji; Wylie Human – Cheetahs/Blou Bulle; Tonderai Chavanga – Cheetahs; Bryan Habana – Leeus/Blou Bulle

Senters: Twee uit: Jacques Fourie – Leeus; Frikkie Welsh – Blou Bulle; Gcobani Bobo – Leeus/KZN

Losskakel: Een uit: Willem de Waal – Cheetahs; Matt Toomua -Australië

Voorrry: Tiaan Liebenberg – Griekwas; Schalk Brits – Leeus; Brian Mujati – Leeus

Slotte: Adriaan Fondse – Blou Bulle; Chris Jack – Nieu-Seeland

Flanke: Duane Vermeulen – Cheetahs; Hilton Lobberts – Blou Bulle

Agtsteman en kaptein: Luke Watson– Olifante/KZN

(HvD)

SLURPGESELSIE (?)

More uit Melkbos

Die Krugerwildtuin se S3-rivierpad al langs die Sabie af, van die Krugerhek tot by Pretoriuskop, is olifantwêreld. Veral die eerste paar kilometers van die pad moet ‘n mens maar dophou vir ‘n glimpsie van ‘n slurp – of meer! – in die digte oewerbos.

Oor die olifant-ervarings op daardie pad kan ek heelwat vertel, want Sabiepark lê net aan die oorkant van die rivier – jy sien die groen oase van sy piekniekplek en verskeie Sabieparkhuise trouens van die S3 af – en dit is een van die paaie in die Wildtuin waarop ek ongetwyfeld die meeste ry.

Om 30, 40 minute of langer in ‘n stoet agter ‘n befoeterde olifantbul aan te tou, kan vir sommige frustrerend wees. Dit was egter een van my S3-ervarings.

Verskeie ouens het moed opgegee en met moeite op die smal paadjie omgedraai. Ons was egter op pad huis toe en moes maar geduldig wag vir ‘n kans om verby die humeurige ou grote te glip.

Toe was dit net “taaiers en gruis” (my vriend Jan Scholtz van Bloemfontein se uitdrukking) soos die “Bosbus” (my destydse kombi) grommend uit sy blokke vlieg. Al ander opsie was om die kombi in die bos te abandoneer en tussen die krokodille en seekoeie deur oor die Sabie te swem!

Een Sondag ná kerk was ons en Dawie en Annatjie Strydom van Outeniekwastrand met die Honda CR-V, wat die “Bosbus” intussen vervang het, op pad huis toe. Op die nimlike S3, net binne die Wildtuin, draf twee olifante vinnig voor ons verby.

‘n Ou met buitengewoon fris tande het ons ná verskeie besoeke aan Sabiepark “Langtand” gedoop. Sy handelsmerk het dadelik sy identiteit verraai. Omdat dit ‘n stillerige rit was, het ek stilgehou. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters.

By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie is. Huismoles dalk? Ander teorieë is ook geopper.: “Dis sommer net ‘n slurp-geselsie”; “hulle speel net”; “is romanse nie dalk in die lug nie?” Wie sal ooit weet?

Met dié foto van die “slurpgeselsie” (?) tussen “Langtand” en sy maat sit ek vandag my stuk-stuk-reeksie van ongewone dierefoto’s voort. (HvD)