IDIOTE IN HUL BOTE

Middag uit Melkbos

Elke jaar as die walvisse Melkbosstrand toe kom, kom ook die idiote in hul bote.

In ‘n verskeidenheid raasbek-vaartuigies sak hulle op die arme kolosse van die diepsee toe en sirkel dreunend al hoe nader en nader.

Of hulle kom ewe windgat aangerits op hul ratse waterponies wat die branders met swierige swaaie en swenke oopkloof.

‘n Mens wens dat net een kortgebakerde walvis hom vervies en hierdie selfsugtige rusverstoorders met een magtige swaai van sy statige stert tot doer in die blou waters wil klap.

Dalk sal dit ‘n einde bring aan hierdie sinnelose “sport”.

Maar walvisse is mos vredeliewende diere. Pleks van baklei vir hul regte, gee hulle liewer stil-stil pad.

Een oomblik sien jy nog die kenmerkende sproei wat walvis-teenwoordigheid verraai of, as jy gelukkig is, die reuse-sterte ‘n klipgooi van die strand af in die water flap. Kort daarna is daar net water.

Dan is die walvisse vort en is almal se plesier bederf.

Jy wonder of die boot-entoesiaste nie besef wat die onvermydelike resultaat van hul nare onbedagsaamheid is nie. Kom hulle nie agter dat die walvisse elke seisoen skamer raak, langer wegbly en liefs so ver moontlik buite sig bly nie?

Jy wonder ook wat is dit wat sulke mense dryf. Is dit vir adrenalien? Is dit om by vriende te kan spog ?

Jammer, ek dink by daardie garde is ‘n skroef in die kop los – soos by daardie 4×4-jafels* wat in natuurreservate en wildtuine roekeloos deur die veld sal ploeg om tot teenaan ‘n leeu of ‘n luiperd te kom.

Hul IK’s kan nie buitengewoon hoog wees nie.

In my verseboekie “Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof” het ek in 2003 in ‘n versie “Walvistyd” my soos volg oor die walvis-verdrywers uitgelaat:

Idiote in hul bote
Jaag walvistyd
Die branders plat –
Met hul verstand
In laagste rat.

In 2009 verwoord daardie versie nog presies hoe ek oor hulle voel.

* Moenie skiet nie! My verwysing na 4×4-jafels is geen veralgemening nie. Ek ry immer self met ‘n 4×4 – maar ek jaag nie die veld in agter n leeu of luiperd aan nie. (HvD)

AKKEDIS-PLUS

More uit Melkbos

Nie elke dag se hierjy-akkedis hierdie nie!

Ontmoet die waterlikkewaan. Hy is by Lake Panic in die Kruger-wildtuin afgeneem. (HvD)

KUIFKOP, JOU MOOI DING!

More uit Melkbos

My vriend Kobus Bosman, oud-politikus, is ‘n kranige fotograaf met ‘n rits salonpryse en eerbewyse vir spogfoto’s wat hy geneem het.

Hy bel vroegoggend van die Krugerhek van die Wildtuin. Hy deel mee hy wil by die voelskuiling Lake Panic gaan tyd deurbring. Hy soek ‘n kuifkop-visvanger (die malekite in Engels) met ‘n seer hart.

Wel, ek het in Julie by Lake Panic ‘n kuifkoppie afgeneem wat my nogal plesier gee.

Hier’s hy ….. hoop jy kry ook so ‘n mooie, Kobus! (HvD)

GEE HULLE CASTER-OLIE!

More uit Melkbos

Twee eetlepels caster-olie vir Julius Malema, twee vir Leonard Chuene, twee vir Winnie Mandela – dat hulle op die natuurlike manier van die rassegif in hul lywe ontslae kan raak.

Hoe treurig tog dat die soeklig in die jammerlike Semenya-sage nou verskuif het van die lompe hantering deur die I.A.A.F. tot die kinderagtige reaksie van Suid-Afrikaanse atletiekbase en politici!

Op beskamende wyse is die mense hierbo, en ander kamerade, besig om hulleself in hul dwarse dwaasheid te oortref, en om vlytig die beeld te versterk van Suid-Afrika as ‘n agterlike piesangrepubliek.

Boonop – en dis dalk die ergste – is hulle so seker soos daglig die graf aan’t grawe vir Caster Semenya se internasionale atletiekloopbaan as hulle nie gou tot verstandiger insigte kom nie.

‘n Mens is innig jammer vir Semenya wat die internasionale storm nie gesoek het nie en wat werklik tot in die grond verneder is. Dié jong atleet uit die stofstrate van Limpopo se “deep platteland” wil net hardloop. Jy gun dié talentvolle Tukkie ook om net dit te doen: te hardloop, te hardloop en te hardloop; nog baie linte te breek, vele rekords te laat tuimel en ryk te word. Sonder omstredenheid.

Maar vir laasgenoemde geld ‘n voorwaarde – respek vir die een oorheersende kernelement van alle mededingende sport, van skolevlak tot in die internasionale arena.

Dit is billike mededinging deur gelykes, natuurlik.

Hardebaarde van 20/21 kan nie op skolevlak toegelaat word om melkbaarde van 17/18 se moed en ledemate te breek nie. In rugby, atletiek, swem, fietsry en ‘n rits ander sportsoorte moet op elke vlak daarteen gewaak word dat kansvatters hul kragte met allerlei doepas oppomp. In vrouesport bestaan die geslagselement wat billike mededinging bedreig.

Hoeveel oortreders is nie al deur opkikkertoetse uitgevang nie? Hoeveel is nie al soos ons eie draaibalbouler Johan Botha deur skeidsregters met valkoë aangekla dat hulle die reëls (en hul arms!) buig nie? Hoeveel is nie al aan geslagstoetse onderwerp as twyfel ontstaan of opgewerp word nie?

Die ongelukkige waarheid oor Semenya is: sulke twyfel bestaan inderdaad. Dit gaan nie .. poef .. in die blou hemel verdwyn voor aktiviste se “hou-jul-pote-tuis”-retoriek nie. Al raad is dat met bekwame spoed opgetree word om vrae en vrese met geloofwaardige en onomstootlike bewyse te besweer.

Die wetenskaplikes met hul proefbuise en dinge moet dadelik ingeroep word. Natuurlik hoop ‘n mens dat Suid-Afrika dan op grond van die resultate daarna van pure lekkerkry vir die wêreld sal kan tong uitsteek.

Vermy kan niemand sulke toetse egter vermy nie. Die wêreld wil weet. Die wêreld moet weet. Anders gaan die wêreld Semenya verwerp.

Daarom moet die Malemas, Chuenes en Mandelas gerus maar ophou om die I.A.A.F en gesiglose Suid-Afrikaanse “rassiste” te verwyt en moet hulle, ook ter wille van Semenya en ‘n potensiëel goue loopbaan, maar filosofies aanvaar en daarin berus dat internasionale reëls van billike deelname ook vir Suid-Afrika en sy “kinders” geld.

Kan hulle regtig so blindelings domastrant wees dat hulle dié kernwaarheid nie kan of wil raaksien nie? (HvD)

“POING-POING, POING-POING”

More uit Melkbos

In die vorige blog is die horlosie teruggedraai tot die lekkersing-skoolliedjie van die 50’s en 60’s oor die Jood se “neus” op die maat van Valencia.

n Tydgenoot, Johan van Wyk, herinner aan die liedjie “Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink” op die maat van Pale Toe. Hy het ook ‘n vae herinnering aan ene waarvan hy die naam en wysie nie kan onthou nie: “Die maan skyn so helder op my p…..” en so aan voort! Ons seuns het dit ook graag op busse (of op lorries) gesing as ons van Potchefstroom af die ou Wes-Transvaal deurkruis om op die sportveld te gaan kragte meet.

Op ‘n meer geraffineerde trant onthou my vriend na 50 jaar steeds elke woord van die koortjie van ‘n rugbyliedjie uit sy skooldae op Boys High in die Paarl:

“Walking down the dear old town, doors and windows open wide, for we can sing and we can dance and we can do some footballing, for we are the Boys high boys. And the forwards make scrum and the halfback puts it in, the halfback to the center, the center to the wing, and the wing scores a try and the girls began to cry, for we are the Boys high boys!”

Om die dood kan hy egter nie onthou op watter wysie dit gesing is nie. Dit was dalk sommer opgemaak.

Het die Engelse kinders slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder liedjies as hul Boere-eweknieë gesing? Lyk amper so. Hierdie ene het Piet Henning van St. Johns in Johannesburg saamgebring Tukkies toe van hul buurskool, die meisiekool Rodean, af¨

“We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.”

Piet van Makhado/Louis Trichardt het ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugby songs van St. John’s College in Johannesburg saamgebring na Kollege-tehuis waar ons in 1958 saam eerstejaars was.

Van Piet se liedjies weerklink soms nog as ‘n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ‘n minder harmonieuse neuriekoor.

Die woorde van een Piet-lied, The Ball at Kerriemuir, onthou ek soos gister: “Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less… “

My ervaring is egter dat ons ou 70-ietsers in die algemeen die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied uitstekend onthou: “Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantle piece and bouncing off her t**s”.

Ons sing ook graag nog “Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole.” Die tweede strofe is iets in die volgende trant: “Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.”

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: “My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird…” Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê. Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”

‘n Afrikaanse liedjie uit my Tukkiedae is “Hasie, Hasie Vaaljan” wat Peet Langley altyd op sy kitaar uitgetokkel het. Pierre le Roux van Mosselbaai het die woorde uit sy geheue opgediep en sing dit deesdae graag vir sy kleinkinders. Dit laat hulle kraai van plesier. Die eerste versie lui:

“Hasie, hasie Vaaljan
Olifant speel kitaar
Slakkie blaas die saksofoon
En skilpad sê net poing-pong, poing-pong…”

Pierre sing tot by die skilpad wat sê. Die kleinkinders dra ‘n entoesiastiese “poing-poing, poing-poing” by.

Oupa Hennie sal sy stembande moet oefen! (HvD)