FEES IN DIE JAKKALSBESSIE

Vir wie dit die grootste fees was weet ek nie: vir die luiperd met sy jong vlakvark in die takke van die jakkalsbessie skaars vyf meter van die pad of vir ons groepie Sabieparkers wat in Maroelaan kom en gaan met ons verskeidenheid kameras – van selfoonbuksies tot die langste van langlens-menere.

Wat ek wel goed weet, is dat die wintervakansie van 2009 weer, soos altyd, sy hoogtepunt opgelewer het wat bo alle ander belewenisse en ervarings uittroon.

Dit gebeur nog elke jaar sedert ons in 1998 winters (en soms somertye ook!) hier aan die wal van die Sabierivier, twee kilometer van die Krugerwildtuin, kom nes skrop het. Een dag iewers vroeër of later elke vakansie gebeur iets wat jy instinktief besef: hier’s dit. Hier’s ons vakansie van vanjaar nou in ‘n enkel belewenis vasgevang en gedefiniëer. Niks gaan dit vanjaar klop nie.

Gewoonlik is dit maar een van die groot vyf wat vir die bobaas-belewenis van ‘n vakansie sorg: ‘n trop leeus, ‘n horde olifante, buffels, renosters, olifante en renosters saam soos in 2008 by die piekniekplek… en nou ‘n massiewe luiperdmannetjie met sy vlakvarkie in die boom.

Gisteroggend het ek en Tokkie die oopgespalkte vlakvarkie gewaar. ‘n Entjie verder, in die koelte, was die luiperd rustig in ‘n driffie. ‘n Hiëna het vol verwagting snuif-snuif opgedaag.

Gistermiddag sê ek vir Tokkie: wil jy nie gaan kyk wat by die luiperd aangaan nie? Binne enkele minute is sy terug. Die luiperd se feesmaal is in alle erns aan die gang.

Ons was betyds vir ‘n strategiese stilhouplekkie in die smal gruisstraatjie. Met my kamera vasgenael op die luiperd kon ek elke beweging volg, terwyl hy stuk vir stuk korte mette maak van sy prooi.

Onder het twee hiënas gewag, trippelend van lus.

In ‘n stadium het waarskynlik die mensesamdromming die luiperd begin irriteer. Hy gryp grommend wat oor is van sy vleis (albei sappige boudjies was nog ongeskonde) en is woerts uit die boom uit met die vleis in sy kake.

Heeltmal so slim was dit nie. Onder het die hiënas gewag, oorgehaal vir ‘n skermutseling. Onse luiperd het kortom geswaai en is weer die boom op waar hy sonder enige spanning of haas sy ete kon voltooi. Toe was hy uitvoerig sy mond en pote en verdwyn in die bos.

Vanoggend het Tokkie hom weer in die boom gekry. Hy was ‘n boudjie aan die geniet.

Van ‘n ander toeskouer het ons later verneem ‘n element van sorgeloosheid het ingesluip wat hom uiteindelik duur te staan gekom het. Tussen die tak en die mond val een boudjie toe op die grond, waar ‘n dankbare hiëna dit gryp en verkas vir ‘n “fees van die ongenooides” (met verskoning aan P.G. du Plessis).

Uit nuuskierigheid is ons later weer na die toneel. Alles was stil, met geen teken van die natuurdrama wat ons bevoorreg was om te beleef nie.

Uit die hope, hope foto’s sit ek ene hierby. Later, dalk eers terug in die Kaap, sal ek op Picassa ‘n albumpie sit. (HvD)

MY BEURT OM TE SING


Tokkie teister my weer met haar weergawe van my opgewekte liedjie “die lewe in die bos, dié is so wonderlik…..” In haar variasie op die tema verskil die woorde nie. Sy sing dit egter spottend; wanneer die bos – soos soms onvermydelik is – ‘n mens klippers laat kou.

Die rede vir T. se lied is die gasvrieskas. Hy’t begin roet gooi weens ‘n verstopping. En luister maar na iemand wat weet: swarter roet as ‘n gasvrieskas se roet bestaan nie. Die gemors in die kombuis is hartverskeurend.

Terselfdertyd daag die rekening vir die ses nuwe batterye op. Dis nie toortsbatterye daai nie, boetie, en hulle kos ook ietwat meer. So skuins oor die R10 000 vir die ses. Ja, R10 000.

Maar gisteroggend toe ons ontwaak, drink vyf sebras uit ons watergat, kom vier kameelperde peuselend aan, voed ‘n koedoemamma haar kalfie vlakvoor ons stoep en maak ‘n fris troppie rooibokkies hul opwagting – alles in vyf tot tien heerlike minute.

Jy voel sommer dadelik beter.

Die middag is die sebras terug, en is dit ‘n sebrababa se beurt om voor ons moedersmelk in te kry. In die “goue uur” toe die sak rooi oor die westerkim sak, voeg ‘n duikertjie hom by die sebras vir ‘n uitgebreide besoek en sak ‘n regiment gebande muishondjies met ‘n missie op ons lapas toe. Na hulle kom huismoles tussen twee bosnagape en die gewone aanloop van die gewone nagapies.

Vanoggend kom ons gou agter die uil het op ons stoep oornag, daar’s blouwildebeeste op die werf en die groot ou nuweling-vlakvark staan ook weer nader vir ‘n ietsie te ete.

Die groot nuus in Sabiepark vanoggend is egter: ‘n luiperd het vroeg-vroeg in Maroelaan ‘n vlakvarkie gevang, en die prooi hang in ‘n jakkalsiebessie in die Hongonyi-driffie skuins oorkant wyle Piet Möör se plek, Net Reg.

‘n Eerste verkenningsrit van die Van D’s lewer niks op nie. Gelukkig kry ek weer rapport uit daardie geweste en ry op my spore terug. Eers sien ek die vlakvarkie hang – kleinerig en met kwalik genoeg vleis vir ‘n luiperd-aptyt. Ek neem hom af.

Die volgende oomblik trek kolle my aandag. Die luiperd lê lewensgroot in die driffie. Dit lyk of hy aan iets kou. Van tyd tot tyd tel hy sy manjifieke kop op en fokus daardie kil groen oë op die man met die kamera wat aanhoudend flits. Gelukkig sit ek in die Honda.

Ek ry huis toe so vinnig ek kan om vir Tokkie te gaan haal. Gelukkig is daar toe nog net een ander voertuig op die toneel. Ons parkeer die Honda strategies en sit lank die luiperd en dophou totdat hy eindelik grasieus opstaan, sy bene rek en stadig ‘n entjie versit dieper die bos in.

Toe hy roer, gewaar Tokkie agter hom die eerste hiëna wat belangstellend nader staan. Hy stap egter ‘n eerbiedige draai by die luiperd verby voordat hy hom in ‘n onkolletjie neervlei, naby genoeg as ‘n stukkie vlakvarkvleis dalk uit die jakkalsbessie loskom. Ek neem hom ook af.

Hierbo is een van vanoggend se luiperdfoto’s. Mooier het ek ene nog nie in Sabiepark afgeneem nie. Die blink kol is die Honda se een truspieëltjie. Ek kan my skop dat ek die steurnis nie agtergekom het nie. Maar wat dit is my beurt om te sing: die lewe in die bos, dié is so wonderlik….”

Tokkie se spot is op ‘n einde wat hierdie vakansie betref – so glo ek. Dankie, ou kollepels! (HvD)

As jy ‘n vlermuis wil vang….

More uit Sabiepark

As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy stertjie en wag ….

Oor die geldigheid van die stukkie advies in ‘n ou-ou kinderliedjie laat ek my liewer nie uit nie. My tema is in elk geval nie leeujag nie, maar vlermuisjag. Vir daardie doel word ‘n direkter metode aangeraai: ‘n skepnet van ‘n swembad.

Vir die beste resultate kan mev. Tokkie van Deventer se dienste gerus bekom word; sy swaai daardie net met ‘n behendigheid wat ‘n mens verstom. Sy verloor ook nie haar ratsheid met die jare nie ….

Haar debuut as vlermuis-afweerder was al ‘n dekade gelede.

‘n Lelike verteenwoordiger van die orde chiroptera wat helder oordag in die woonkamer begin duikbewegings oefen het, is eers sonder welslae deur die uwe met opgerolde sokkies bestook.

Met die ratser, meer gemotiveerde Tokkie kon hy egter nie so maklik kat en muis speel nie. Sy tref hom met die skepnet en hy syg bedwelmd op die vloer neer. Verligting alleweë. Beelde het begin opdoem van die nare karakter wat nes maak in ons hare of snags oor ons slapende gesigte swiep.

‘n Verbete vrugtevlermuis-aanslag op die nagapies se piesang ‘n stuk of vyf jaar later wek my teensinnige bewondering vir die swiepende figure se vermoë om in die pikdonkerte doodsekuur op hul teikens af te pyl. Die armswaaiende van Deventers word telkens net-net gemis.

Toe neem Tokkie weer die skepnet op. Elke keer as die swaaiding om hulle swiesj-swiesj, ontduik hulle dit met spoed en grasie. Maar Tokkie het nie haar slag verloor nie. Ten einde laaste pen sy een tussen die apies se piesang op die piesangtafel vas. My vriend Manie Steyn van Krugersdorp is dadelik by met ‘n kierie. Een vrugtevlermuis minder.

“Die opfoetering van die fledermaus” het wyle Sannie Steyn die operasie later genoem. Die oorlede vlermuis se makkers het daar en dan besluit: liewer Bang Jan as dooie Jan. Met ‘n laaste uitdagende verbyvlug is hulle die donkerte in.

Vanjaar is die vrugtevlermuis weer op hul stukke. Elke aand sak hulle op die stukkies piesang toe met ‘n gesinchroniseerde lugaanval.

Vir die tweeling, Jacob en Thomas Claassens uit die verre Kaap, het dit nogal opwinding bygedra – veral om te hoor van ouma se reputasie met die skepnet om haar geliefde apies teen die onplesierige diere se attensies te beskerm.

Met die een en die ander het sy nooit tot ‘n demonstrasie oorgegaan nie.

Maar die kinders was net terug by Kommandeurstraat 3, Welgemoed, toe ‘n dringende roep my stoep toe laat storm. ‘n Yslike vrugtevlermuis lê die skepnet kant en wal vol. Wriemelende en sissend. My taak was om vir die kinders met die selfoon ‘n foto te neem – wat ongelukkig nie skitterend was nie.

‘n Ruk later hoor ek dieselfde dringende roep. Nommer twee lê vasgepen in Tokkie se net. Die geluide wat hy voortbring, sou ons ook graag t.w.v. die kinders op die selfoon verewig. Ek is terug in die huis, maar hoe dit gekom het, weet ek nie: die vrugtevlermuis is heen sonder dat HvD sy toets as klankingenieur geslaag het. (HvD)

Luiperd-Koors

More uit Sabiepark

Ek berig uit ‘n Sabiepark wat in die greep van ongekende luiperd-koors verkeer. Verlede Vrydag voor die jaarvergadering het ‘n luiperd ‘n bosbokram in ons straat, Wildevylaan, platgetrek, naby die piekniekplek.

Daarmee het die geheimsinnige sluiper hom nou aan meer Sabieparkers as ooit tevore openbaar. Hope Sabieparkers het die luiperd daar rond gesien, voor en na die vangs. Kameras het glo aanhoudend geflits. Vir ons minder gelukkiges was daar darem ‘n bloedkol en ‘n bok-kloutjie as bewysstukke.

Gistermiddag sit ons op die Van D-stoep en gesels toe die vrou des huises, Tokkie, skielik uitroep: “Wat hardloop daar?” Sy rapporteer “ ‘n valerige ding met kolle”. Almal spring op. Twee gaste sien die luiperd helder en duidelik voordat hy weer in die bosse verdwyn.

Die rooibokkies en sebras in die omgewing reageer senuweeagtig. So ver ek weet, was daar nie weer ‘n vangs nie. ‘n Stewige bosbokram het baie vleis.

Ons mis ons kleinkinders, Jacob, Thomas en Christopher, wat gister huis toe is, geweldig. Aan die ander kant is ek ietwat verlig. Dat hulle so heen-en-weer by die luiperd se houplek moes verbystap piekniekplek toe het my keel laat toetrek.

Twee okkasies was die 70-jarige verjaardagfees van my studentemaat Vos Grey by Ermelo en ‘n uitslaap-nag by ‘n nuwe tentkamp naby Pretoriuskop.

By eersgenoemde het ek beleef hoe doen die ou Oos-Transvaal se boere ‘n ding. Die fees het om 11:00 begin met koffie, tee en soetgoed. Dis teen 16:00 verdaag met ditto. Tussen is behoorlik weggelê aan koningskos.

Nog ‘n studentemaat, Johan Bekker, en sy vrou, Antoinette, van Jacobsdal het na die fees saam Sabiepark toe gekom. Op hul eerste dag in hul lewens in die Wildtuin sien hulle toe meer as die Van D’s tot dusver in ons hele vakansie. Lyk of my roetes vir ander mense beter uitwerk as vir ons!

Die tentkamp se naam (ek noem dit liewer nie) verwys na ‘n rivierstroom wat stadig vloei. Ironies genoeg, was die stroompie droog toe ons daar opdaag; Geen water weens ‘n olifant se aanslag op die waterpype.

Nou-ja, olifante maak wat hulle wil. Dat die water ure lank af was, kon die arme bestuur seker nie verhelp nie. Maar ook in ander opsigte was ons verwagtinge te hoog. Die glansfoto’s op die webwerf is bepaald ietwat misleidend en die volume van busvragte buitelandse toeriste wek die indruk van ‘n worsmasjien.

Die tente is in rye ingepak met zero privaatheid. Jou motor moet jy aan die bokant parkeer en dan stap, maklik 100 meter ver. Die oggend toe ons moet ry, reën dit. Tesame met die ou man se pyne lyk die afstand motor toe onbegonne. Die taskarweier met sy vierwiel-veldfiets en oop Venterwaentjie word opgekommandeer, maar weier eers ‘n passasier. Sy “manager” sal die stuipe kry.

Eindelik kry hy die ou man onder die wit badhanddoek jammer. “Klim, Oupa, “gebied hy. Toe laat waai ons – met “oupa” wat met die een hand klou vir ‘n vale. In die ander is sy kamera en verkyker.

Ek verneem na die Samaritaan se naam. Dit is Moses. En daar lei Moses my toe sowaar na die beloofde land!

Om te dink dat ek ‘n aand op Sabiepark se stoep vir daardie kamp verruil het, laat my diep dislojaal voel teenoor my eie plek. Dan het ek nog betaal ook vir ‘n boservaring wat ver afsteek by die Ware Jakob. Dan praat mense van die wysheid van die grysheid! (HvD)

‘N VARK VAN ‘N FIASKO

More uit Sabiepark

VARK VAN ‘N FIASKO

Drie vlakvarkies stap doodluiters gister, eergister, wanneer by die deur van Sabiepark se piekniekplek in en kry in gelid koers rivier toe op ‘n dolle vlug na daardie soort vryheid wat die groter ruimtes van die Kruger-wildtuin vir vryheidsliewende vlakvarkies bied.

‘n Kommosie het losgebars soos laas met die besoek van Langtand die olifant. Vir ‘n oomblik het SOS Vlakvark alles oorheers – ook die tjopppies op die vure en die koue witwyn in die glasies. Geen siel was onaangeroer nie.

Die dinamiek van hierdie storie sal, glo ek, die beste verstaan word binne die konteks van Sabiepark se Wildsensus wat juis Saterdag weer by die jaarvergadering in ‘n groen markeetent langs die kabbelende rivier onder die loep kom.

Die getalle vir spesie tot spesie van 1996 af word in kolomme aangedui. Wat vlakvarke betref, is dit maar ‘n droewige prentjie: 7,8,13,7,3 7,6,2,1,2,7,1,0. Die ongeluk is dat vlakvarkvleis klaarblyklik ‘n besonderse delikatesse is vir luiperds, hiënas en ‘n sekere garde ongesofistikeerde stropers wat maar altyd op soek is na ietsie vir die pot.

Daarby word die statistieke nadelig beïnvloed deur waaghalsige ontsnappingstoertjies soos hierbo, wat gewoonlik net sake vir honger luiperds, hiënas en stropers vergemaklik. Enkeles het al roekelose motorryers ten prooi geval, wat natuurlik die vraag laat ontstaan wie die ware varke is – die padvarke of die vlakvarke?

Nietemin, die krimpende getalle van hul “tannemanne” is vir Sabieparkers ‘n teer saak. Ondanks ‘n minder vleiende vertoning met hul robuuste voorkoms – lang snoete, knopvratte, tranerige ogies, grys bakkebaarde en plat bekke – wen hul gesindheid van beleefde dankbaarheid vir ‘n stukkie kos en welmenende belangstelling in die doen en late van die spesie homo sapiens vir hulle vele harte.

As so ‘n “geestige bees” (soos ‘n besoekende Hollander ‘n vlakvark getipeer het) vroetel-vroetel by jou huis opdaag, is dit rede tot opgeruimdheid en as hulle lank wegbly, skep dit ‘n gemis.

Goeie nuus dus toe Sabpark ‘n nuwe besending van agt by Sanparke bekom, en die bekende regop stertjies soos antennas skielik weer deur die park beweeg. Binne 24 uur was twee weg: een deur die skokdraad na ‘n gewisse dood om menslike honger te stil, een opgevreet deur ‘n luiperd of hiëna. In ons huisgesin heers oor daardie feit nie eenstemmigheid nie. Een moes twee keer met ‘n net in die teerpad gaan vang word.
Verstaan dus ‘n sekere lugtigheid by Sabieparkers oor al die gevare wat hul klein vlakvarkbevolking moet trotseer voordat hulle hopelik kan begin konsentreet op die taak om ‘n nageslag te verwek.

Dit is teen daardie agtergrond dat eers ene (‘n verkenner?) om die deur van die piekniekplek loer , nog twee kort daarna volg, die drie ore plat trek rivier se kant toe en Solly Sibuye, die hoeder van die piekniekplek, hulle met krete van swaaiende arms agternasit.

Om nog drie nuwe vlakvarke te verloor, sou ‘n geval wees van ‘n verlies “too ghastly to contemplate’, soos Oom John Vorster dit treffrend sou gestel het.

Solly se verskyning in die vlieënde gedaante van ‘n vlakvark-redder laat die omvang die dreigende vark-fiasko dadelik by almal insink. Voordat jy kon sê “tanneman” is alma orent, opvoustoele in die hand soos handwapens om ‘n gevaarlike vyand af te weer. Hulle storm op die voortvlugtende vlakrvarke af wat so ‘n oormag klaarblyklik nie te wagte was nie.

Met ‘n swierige swenk is hulle terug hek toe – na hul nuwe tuiste Sabiepark. Braai-aktiwiteite kon met groot verligting voortgesit word.

Vanoggend se opwinding by die piekniekplek was die vlugtige verskyning van ‘n luiperd. HvD se verkyker was absent en met die blote oog was ek onseker of dit ‘n luiperd se kop of ‘n klip was waarna ek tuur. Op die skerm van iemand wat minute vroeër op die toneel was, is egter onmiskenbaar ‘n fiere luiperkop tussen die bene van ‘n weiende olifant deur.

Volmaan (7 Julie) was so aangrypend soos altyd en ja, ek het ‘n heildronk op die tydskrif Sarie se 60ste gedrink. Trouens, meer as een. (HvD)

‘N GEBRUL IN DIE TV-KAMER

My swaer Fanie van Wyk het ‘n keer na ‘n onvrugbare Wildtuinreis opgemerk al leeu wat hy gesien het, was ‘n uitgesuipte ene langs die pad – bedoelende ‘n Lion Lager-blikkie (ja, daar was in ‘n stadium so ‘n bier).

Ons eerste drie weke in Sabiepark is wel nie deur uitgesuipte leeus nie, maar ook deur ‘n ander soort oorheers as die spesie panthero leo wat die motors so chaoties laat opdam as hulle langs een van die Wildtuin se gewilde toeristeweë ietsie vir die tafel plattrek.

Ek verwys na die Britse Leeus die drie Springbokke van Peter de Villiers (die vent met die swart snor, noem my vriend Piet Henning hom) Saterdag in die laaste van drie toetse bra ordinêr laat lyk het. Wel, wen of verloor, het die Leeus die skares na Sabiepark se TV-kamer getrek op ‘n skaal wat die rugbybase hul lippe sou laat aflek.

Die verskil is natuurlik: hier betaal jy nie R1 400 vir ‘n sitplek nie. Maar jy moet vroeg roer, boeta, as jy plek wil kry, want die 15:00-afskoppe val bedagsaam net so mooi tussen die twee braaitye van die dag. Die Sabieparkers ruk op met hul biltong en koelbokse vol lafenis vir die keel, en pak die plek absoluut kant en wal. Laat kommers sit sommer plat op hul blakers, as ‘n gaatjie nog iewers oop is.

Joan du Toit wat van Ficksburg het by haar vriendin André Visagie kom kuier en het nog nie voorheen in Sabiepark se TV-kamer rugby gekyk nie. Vir haar was dit ‘n belewenis. Sy vertel sy het amper meer na die meelewende toeskouers gekyk as na die skerm.

Dit juig, boe, spring orent, swaai die arms asof of hulle langs die toetsveld op die kantlyn sit. Party staan self op vir ‘n sekere gedeelte van die volkslied. Sal liewer verswyg watter deel – wil nie graag verkla word by een van daardie talryke organisasies wat waak oor doodsondes soos ongelykheid, diskriminasie en dies meer nie.

En dis nie net die manne in hul kakie met die bierblikke in die hand wat so opgewonde raak nie. My vrou, Tokkie, se maermerrie vertoon ‘n blou kol van ‘n skeefgemikte skop van ‘n Vrystaatse dame in die stoel langs hare wat haar so in die spel inleef dat sy elke keer saam aanlê pale toe!

En panthero leo dan? Tot dusver hierdie vakansie het die Van D’s nog net een op hul kerfstok – doer in die grassies. Panthera pardus (luiperd) is volopper. Buiten die een in die boom by die Krugerhek (voorheen gerapporteer) loop ‘n meneer in Sabiepark rond. Op sy tweede aand hier SMS Philip van Rensburg: Luiperd nou net 5 meter hier van die huis verby! Ander Sabieparkers ry helderoordag in Jakkalsbessielaan toe hul paaie kruis. Ons loop maar koes-koes!

By Tarlehoet (die Van D’s se bosplek) neem die stryd om die aand se aangebode piesang in felheid toe. Die nagapies vir wie dit eintlik bedoel is, moet hul stertjies roer, want die bosnagape is erg opportunisties. Nou is swiepende vrugtevlermuise ook nog deel van die aand se aktiwiteite by die kostafel.

‘n Komplikasie is dat ‘n uil weer op die voorstoep ingetrek het. Sy dreigende teenwoordigheid sal ongetwyfeld ‘n uitwerking hê – ten minste op die nagapies wat vir ‘n uil so bang is soos die duiwel vir ‘n slypsteen.

Goeie nuus is dat ‘n plaasvervangende duikertjie vir Witnek saliger al hoe meer sy opwagting maak. Mag die plek hom so geval dat hy permanente asiel hier soek.

Die bobbejane is nie te erg lastig nie. ‘n Uitgerekte waterdrinkery by die watergat wou amper hierdie ou man se hart vermurwe, want die sekelsterte lyk nogal weerloos as hulle so langs die water kniel. Tokkie en skoonseun Brent het my egter mooi laat verstaan: hulle soek nie nou enige tekens van sagtheid aan my kant nie. Nee a. Tarlehoet se integriteit moet steeds met mag en mening verdedeig en bewaar word!

Die tweeling, Jacob en Thomas, met hul ketties is ook net agter die bobbejane se bloed aan.

Met die Claassense se koms (van Welgemoed) af het Tarlehoet nou sy jongste besoeker, Chistopher (5 maande). Die verskil tussn hom en die oudste in die familie, die uwe, is amper op die kop 68 jaar.

Marisa was gister 35 – lekker vonkelontbyt gëeet by Skukuza se gholfklub, al was die weer nie watwonders nie.

Trouens die weer is geruime tyd al nie watwonders nie. Dis koel, hoor, en dit reën selfs in Julie in die Bosveld – 7mm sedert Saterdag. (HvD)