OP SARIE – HEILDRONK IN DIE MAANLIG

‘‘Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit – dit was een van die liefdesverhale in die eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, sestig jaar gelede, verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.

Die aand van 6 Julie is afgemerk op die 2009-almanak in die kombuis van ons Sabieparkse boshuis. Ek sal daardie aand by ‘n vuurtjie hier by Wildevy 154 langs die einste Sabierivier, met die rivier se geruis in my ore, ‘n glasie op Sarie se sestigste klink.

Net 24 uur later, op 7 Julie, is dit inderdaad “Maanlig op die Sabie”. Dan is dit volmaan en klink ek graag ‘n tweede glasie op daardie heuglike verjaardag-okkasie. Volmaan in die raam van die nagtelike takke-netwerk is immers een van die groot bekoorlikhede van die bos – uitgeknip om iets romanties te doen soos om op ‘n sjarmante tydskrif ‘n heildronkie te geniet.

Die geboorte van Sarie sestig jaar gelede herinner my aan my eerste besoek as agtjarige seuntjie aan die stad Bloemfontein waar ek later in my lewe as joernalis twee gelukkige skofte van 12 jaar elk sou deurbring. Pas na Sarie se buiging is ek saam met my oom Willie en tant Minnie Smith asook hul kinders, my neef Ben en niggie Elize, van Kimberley af na die Vrystaatse hoofstad vir die een of ander doktersbesoek.

Hoewel die datum dit onwaarskynlik laat lyk, herinner ek my dat ek daardie dag stokkies gedraai het en dat die vrolike tant Minnie aangeraai het ons moet vir my standerd-twee-onderwyseres, die strenge Juffrou Muller, sê dat ek die pasiënt was – en wel om my stembande te laat ondersoek.

Ek het blykbaar al in daardie tenger jare ‘n volume kon voortbring wat luidsprekers en daardie klas ding vir die volwasse Van Deventer onnodig gemaak het as hy, soos Sewende Laan se Oom Septimus, ‘n “gevleuelde woordjie” spreek.

Op aandrang van my tante het ek in Bloemfontein vir my weduweema, Baby, ‘n geskenk gekoop. Sy het sjokolade aan die hand gedoen.

By ‘n straatverkoper naby die ou Oranje-hotel in Maitandstraat het ek egter die eerste uitgawe van Sarie sien lê. Die voorblad het dadelik my aandag getrek. Daarop verskyn ‘n moderne meisie met ‘n aantreklike bloese wat ontleen is aan die drag van ‘n Voortrekkernooi, soos ‘n skim op die agtergrond (foto bo). Dit het ‘n sikspens (5c) gekos –presies die bedrag wat in die vorm van twee tiekies in my sak was.

Ek het gemeen my ma sal daarvan hou. Sy het. Ek is behoorlik gesoen en gedruk om dankie te sê.

Ma Baby het my later vertel hoe lief sy vir Sarie Marais se voorganger Die Boerevrou was wat deur Mabel Malherbe gestig is en waarvan M.E.R ‘n mede-pionier was. My tannie Hettie van Deventer van Rondspring, Babanango, het glo ook gereeld bydraes gelewer – die eerste Van Deventer met drukkersink in die are!

Ma het daardie Sarie Marais lank soos ‘n kleinood gebêre. Later is dit ook maar deur mot en roes verteer.

Enkele jare gelede het my skoondogter, Mariza, ‘n eksemplaar by ‘n tweedehandse-boekwinkel raakgeloop. In hom is ‘n brief in sy eie handskrif deur Fred le Roux, die eerste redakteur. Die datum van die brief is 1 September 1950.

Le Roux konstateer: “Hierdie nommer van Sarie Marais – 6 Julie 1949 – is die eerste van ‘n nuwe weekblad wat deur die Nasionale Pers Bpk. vir die Afrikaanse Vrou uitgegee word.”

Ek blaai graag daarin en lees die eerste verhale uit die penne van bekendes soos E. J. M. Fraser, Marie Linde, Louise Behrens, G. Sutherland en andere.

In die eerste Sarie Marais is ‘n artikel deur Elsa Joubert oor die sogenaamde “New Look”, na ‘n besoek aan die modehuis van Christian Dior in Parys. M..E.R. gee ‘n wenkie vir blommerangskikkers. Sy vra: “Wat is die aandblom sonder maanlig of die gousblom sonder sonlig?”

Maar Tryna du Toit se storie oor “Maanlig op die Sabie” – dit roer my hartsnare meer as enigiets anders in daardie eerste Sarie. (HvD)

‘N GOUE PIESANG?

More uit Sabiepark!

As iemand gedink het ek oordryf die rol van die syfer 3 in my lewe, kan ek meedeel dat die eerste besoek van bloukuifloeries hierdie vakansie my storie verder voer. Drie van die manjifieke voëls met hul donkerblou en rooi veredosse het in die reuse-rosyntjie en die transvaalse saffraan by ons watergat rondgewip.

Ongelukkig het hiënas die derde keer ons “bobbejaanbestande” vullisdrom getakel. Een keer is die meganisme so gebuig dat dit moes werkwinkel toe. Die tweede keer is die drom deur die magtige kake van ‘n vasbeslote skuinsrug skoon uit die ysterraam geruk. Buurman se werf was met plastiek en papiere bestrooi. Die derde keer was die nagtelike besoeker minder suksesvol. Die diep spore in die sand wys hoe hy (of sy) gespook het, maar die drom is net halfpad gelig.

Die hiënas is nie net deksels lastig nie. Hulle berokken ons ook groot skade. Die eerste agt vlakvarke in jare het pas in Sabiepark aangekom toe enetjie honger hiënas ten prooi val. Nog ene is onder die grensdraad deur Lisbon toe. Hy het seker maar ‘n ander honger gestil!

Van drie’s gepraat: daardie piesang waaraan die twee bosnagape op Tarlehoet se stoep so lekker smul, is by Skukuza se toeristewinkel gekoop – teen R3 stuk. Ek kan die versekering gee dis nie ‘n goue piesang nie! (HvD)

GOED EN SLEG MAAL DRIE

Vandat ek op 3 Januarie 1941 op Babanango in Zoeloeland die eerste lewenslig aanskou en my eerste driewiel op drie gekry het, speel die syfer 3 nogal ‘n rol in my lewe. Dinge gebeur dikwels in 3’s. Die begin van vanjaar se Sabiepark-vakansie het daardie patroon voortgesit.

Op ons eerste Wildtuin-uitstappie het ons tussen Krokodilbrug en Onder-Sabie drie renosters naby die pad gekry – die eerste keer dat ons drie saam raakloop.

Die eerste aand tuis in Tarlehoet was drie bosnagape gelyktydig op die “piesang”-platform. Voorheen het hulle nog net een-een gekom.

Ons beste waarneming tot dusver was ‘n luiperd hoog en droog in ‘n boom skaars een kilometer van die Krugerhek af. Dit was ‘n waarneming in drie fases. Eers het aasvoëls ons aandag getrek. Toe val ons oë op die luiperd wydsbeen op ‘n tak. Ten derde sien ons die luiperd se prooi, ‘n rooibokkie, in ‘n ander mik raak.

Ongelukkig is dit nie net goeie dinge wat drie-drie op ons neerdaal nie. Teenspoede sluit in ‘n probleem met die gas-yskas (nommer een), een gas-warmwatertoestel (nommer twee) en die sonkragstelsel se batterynes (nommer drie). Nommer drie is sommer groot skade. Eisj.

Om sout in die wonde te vryf, ry ek gister op pad na Hazyview onskuldig 82 in ‘n 60-sone – wel, onskuldig in die sin dat dit nie aspris was nie. Ek het njannies nie die 60-bordjie opgemerk nie, as daar ene was. Die vergissinkie kos my nie R300 nie, maar R500!

Die bos lyk vreemd groen vir die middel van die winter weens die goeie somer-neerslag. Die knoppiesdorings begin blommetjies maak – twee maande te vroeg. Kenners sê mos bome is die beste barometers van die seisoene. Dit lyk dus of ‘n vroeë lente in hierdie wyke op pad is.

‘n Mens sou amper kon sê dit lyk of winter vanjaar oorgeslaan word. Maar dit sal darem nie waar wees nie. Snags sak die kwik vinnig en ver …. raai ..tot selfs so laag as 3 grade C! (HvD)

DRAAI VAN 2 000 KILOMETER!

Tokkie voor die Beverly Hills – 42 jaar  later

Tokkie voor die Beverly Hills – 42 jaar later

More uit Sabiepark!

Klink dit bra onwaarskynlik dat iemand aspris ‘n draai van 2 000 kilometer sal ry? Wel, ek en Tokkie het dit pas gedoen. Ons is van Nelspruit se lughawe Krugerwildtuin toe via Durban. Ons is na agt dae by die Wildtuin se Krokodilbrug in en by Krugerhek uit op pad Sabiepark toe.
Ons roete het ons twee keer deur Swaziland geneem. In daardie koninkrykie van koning Sobhuza noem hulle die beeste op en langs die pad Swazi-verkeersligte. Weet nie wat noem hulle die dwalende boerbokke nie! Een ding het ek geleer: Mbabane is nie meer sommerso ‘n dorpie nie. Dis ‘n Afrikstad. Teen 17:00 in pikdonkerte en in sagte reën moet jy jou storie ken om in die verkeerschaos ‘n botsing teen ‘n taxi of ‘n bus te vermy.
Die lekkerste omelet in ons lewens het die Van D’s egter in Swaziland se Ezulwini-vallei (Sogenaamde “Vallei van die Hemel”) op ons brekfisborde gekry. Mik maar gerus Mantenga Lodge toe – daardie omeletmaker bewys aan ‘n hoendereier ‘n eer.
Ons wou Durban gaan opsoek waar ek graag wou gaan kyk waar ek in die eerste jare van die 50’s gewoon het, op skool was en kerk toe gegaan het. Durban is ook die stad waar ek en Tokkie in 1966 op ons wittebrood was, en ons het gewonder of die Hotel Lonsdale nog bestaan.
Om by laasgenoemde te begin: ja, die Lonsdale bestaan nog, maar hy lyk maar oes. Dit lyk of ‘n “informele nedersetting” daar ontstaan het. Waar ons huis was, Botanic Grove 9, is nou ‘n kaal erf. By my eertydse skool, Port Natal, lyk alles piekfyn en netjies. Die pad na ons kerk, die NG gemeente Berea waar ou dominee Adler die leraar was, het my ongelukkig ontwyk. Ek weet ek was naby, want ons is by die Botaniese Tuine en die Greyville-renbaan verby.
Durban se strate is ‘n Afrika-ontdekkingsreis in die kleine. Sowat van naamsveranderinge slaan die arme besoeker met ‘n volslae lamheid. Gelukkig is die ou name behou (met rooi strepe deur), anders het ek sweerlik nou nog soos ‘n geblinddoekte daar koersloos rondgesteier.
Die laaste nag van ons wittebrood het ons destyds in Januarie 1967 in Sol se eerste hotel, die Beverley Hills op Umhlanga, deurgebring. Dit bly ‘n spogplek. Die Springbokke se bus was voor die deur, en die jong mammas wat Afrikaans praat in die foyer, het min twyfel gelaat wie daar tuis was. Maar die wyn! Peperduur is skaars die woord.
Op pad Durban toe en terug het die Van D’s ook ‘n paar ander ontdekkings gedoen (buiten nou die lekker omelet in Swaziland en die duur wyn in Umhlanga). Mtunzini is ongetwyfeld die mooiste klein dorp in die land, met sy herehuise, welige tropiese plantegroei en verskuilde piekniekplekkies langs ‘n skilderagtige strandmeer. Hluhluwe se Hilltop-kamp is ook prentjiemooi. St. Lucia, die hengelmekka, is ‘n lekker oornagplek.
Van Ballito het ons al baie gehoor. Ons eerste besoek is egter deur twee verdwaalslae ondermyn. Dis ‘n veel groter plek as wat ek verwag het, en dit kan nogal verwarrend raak as jy na spesifieke eetplekkies en dinge begin soek. Ons houthuisie op Dolphin-strand was nietemin eersteklas. Die naasliggende Waterberry-koffiehuis is van die allermooiste. Gaan eet gerus daar ‘n stukkie kaaskoek!
Sekerlik die onaansienlikste oornagplek was die dorp Mtubatuba – al was ons kamer in die gastehuis Ukuthula self die ene Persiese matte en antieke meubels en die tuin iets besonders. Die keuse van daardie dorp was egter weens logistieke redes, en ook weens ‘n herinnering van meer as 40 jaar gelede toe die eerste Holiday Inn in Suid-Afrika daar geopen is. Persmense is van oral ingevlieg Johannesburg toe en daar op ‘n gedaan ou Constellation gelaai vir ‘n bokspring-vlug na Mtubatuba.
Die openingsparty was ‘n sogenaamde Romeinse “bacchinaal”. Ons was almal in lakens geklee, met plastiekkranse op die kop. Ons het op kussings op die vloer rondgelê en op “bacchinale” skaal wyn uit goud geverfde wynglase verorber. Ek onthou Tokkie was vir my besonder aanloklik, so in haar laken gedrapeer, maar ek het gesukkel om my Van Rijn 30’s uit my onderbroek op te diep as ek lus kry vir ‘n teugie – wat daardie tyd nogal dikwels was! (HvD)

PAD IS VOL DUWWELTJIES


Die foto van die kroeg wat nie oop is nie omdat hy toe is, is ongelukkig nie sonder relevansie – ten minste op die kort termyn – vir hierdie geselsie uit Melkbos (of Sabiepark) nie.

Twee verwikkelinge moet meegedeel word:

Die eerste is dat ons jaarlikse hibernasie in die bos more aanbreek. Dit word voorafgegaan deur ‘n vlugtige Natalse draai via Swaziland. Moenie ‘n vars blog verwag voor na 20 Junie nie.

Die tweede verwikkeling is, wat my betref, sorgwekkender. My huidige blogtuiste, Yahoo 360*, word naamlik gesluit, en ‘n ingewikkelde verplasing wag wat waarskynlik nie sonder adres-implikasies gaan wees nie.

Presies wanneer die groot trek gaan gebeur, weet ek nie, maar dit kan wees dat hierdie inskrywing die laaste in huidige formaat by www.hennievandeventer,com/blog.html sal wees. Die volgende kan dalk iets wees soos: www.hennievandeventer.com/my blog of selfs myblog@hennievandeventer.com en heelwat anders lyk.

Jammer, vir die ongerief. Dit kan vir niemand meer pyn verskaf as vir hierdie gefrustreerde blogskrywer nie.

Sodra duidelikheid bestaan, sal die blog-skakel op die tuisblad van my webwerf, www.hennievandeventer.com, die verandering weerspieel. Hou dus maar daar dop, asseblief.

As by Yahoo ‘n totale deurmekaarspul ontstaan, kan HvD se stukkies nog by Litnet gelees word. Google asseblief Litnet, skakel op Blogs en soek na my blog. Sy naam is Uit Melkbos.(sonder aanhalingstekens).

Dit spyt my waternat! Dankie vir geduld!.

HvD

MAFIA VAN DIE DIERERYK

‘n Geween en gekners van tande is opnuut in sekere geledere aan die orde nadat Fluffy, leier van Fernkloofreservaat op Hermanus se hoof-bobbejaantrop, op die tweede verdieping van ‘n spoghuis in die woonbuurt met dieselfde naam doodgeskiet is.

Op die foto word die ou grote, wat sy naam gekry het weens sy lang maanhare, onwaardig van die toneel van sy afsterwe gedra-sleep – nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe jammer dit ook al is dat so ‘n lot diere tref, bestaan egter ‘n ander kant van die saak wat die pro-bobbejaan-faksie nie altyd kan of wil verstaan nie.

As iemand wat self al heelwat onder bobbejane gely het, vra ek diegene wat so begaan is met trane in my “navy-blou oë: wat op aarde moet die arme slagoffers doen? Verwag julle hulle moet net eenvoudig aanvaar bobbejane swaai die septer en hul eie lewenskwaliteit is sekondêr?

Bobbejane word ‘n nasionale plaag, sê my vrou, Tokkie, en sy het dit nie mis nie te oordeel na die stroom berigte van bobbejane wat mense alle hel op aarde gee. By Kaappunt, Bettiesbaai, Hermanus – waar nie al nie – moet geviktimiseerde huisbewoners hul eiendomme barrikeer om stropende bobbbejane uit te hou. Kwaaddoeners breek in en saai verwoesting. Deure en vensters word slinks verwyder; ys- en koskaste oopgeruk en geplunder.

Selfs motors op ”veilige” parkeerplekke is nie bobbejaanbestand nie. Die kese krap die rubber uit, verwyder die ruite en hou dan jollifikasie met wat ook al binne te ase is. Lugdrade word geknak.

Kos word uit verskrikte kinders se hande gegryp. ‘n Mens ys oor die gevaar dat iemand – veral ‘n kind – wat doodonskuldig by ‘n piekniekplek n toebroodjie sit en eet, so toegetakel moet word. Om ‘n wang met daardie skerp kloue oopgevlek te kry, is bepaald nie ‘n aangename vooruitsig nie. Plastiese chirurgie en selfs permanente skending kan jou voorland wees.

In die bos noem ons bobbejane die “mafia van die diereryk”. Dit is geen lieftallige troetelnaampie nie. In Sabiepark is mense se huise al binne deur ‘n trop bobbejane histeriese bobbejame dermate verwoes dat geen enkele stukkie breekgoed of ander glasware heel gebly het nie. Seffs die mure is so betjorts dat dit oorgeverf moet word. Rooi wyn is op wit sitkamermeubels uitgegiet.

Die skade is enorm en die oorweldigende stank bly lank hang as herinnering van die diepe ellende wat jou getref het. Jy huil nie net ‘n dag of twee nie!

Ook ons eie huis het verskeie kere deurgeloop. ‘n Yslike gat is amper dwarsdeur die grasdak gegrawe. Die gaas voor die vensters is aan flarde geruk. ‘n Kleintjie was een keer ure lank binne toegesluit. Veldwagters moes kom om hom te ontset – bolle oweral. Ek en ‘n mannetjie het mekaar in die kombuis trompop ontmoet.

Op die stoep lê die tafel en stoele gereeld pote in die lug. Op ‘n warm dag is die swembadjie ‘n gewilde trekpleister. Die water is pikswart en onwelriekend na so ‘n swempetalje. Sit ons vir die voëltjies kos uit word die houer taks om taks uit die boom geruk en teen die grond geslinger.

Een moedswillige ou het twee dosyn eiers van ons kombuisblad geroof en binne sigafstand die een na die ander welbehaaglik uit die dop gesuig.

Op die warmste dag moet die huis – elke liewe venster – deeglik gegrendel word as ons gaan stap. Elke gas word gewaarsku: pas op vir die bobbejane!

Volgens Leon Steyn, ’n omgewingspesialis van die Overstrand-munisipaliteit, kan die dood van Fernkloof se leier tot ’n bevolkingsontploffing of dissiplineprobleme in die trop lei. “Ander mannetjies in die trop sal waarskynlik nou begin baklei om ’n nuwe leier te bepaal. Gewoonlik is dit ook net die leier wat met die wyfies mag paar. Nou kan enigiets gebeur.”

Hierdie stories hoor ‘n mens telkens. Jy hoor ook: probleembobbejane is die gevolg van mense se onverantwoordelikheid. Jy hoor, ten slotte – en dit maak my ferplie die duiwel in – dat sekere plekke eintlik aan hulle behoort; “hulle was voor ons hier”.

As die plek aan hulle behoort, moet hulle dan gerus maar die heffing betaal en vir die instandhouding opdok, is my wederwoord.

Presies wat die antwoord is, weet ek nie. Maar leeus en luiperds kan tog nie meer in stede se strate ronddwaal nie – nie in Kaapstad nie, nie in Johannesburg nie, selfs nie in Nelspruit nie, al was hulle “voor ons hier”. Ook bobbejane sal moet terug na die onbewoonde klowe, berge en boswêreld waar hul soewereiniteit nie deur mense begrens word nie.

Slim mense SAL ‘n plan moet bedink.om die bobbejaangevaar hok te slaan en as daardie plan dan sou wees om die wapen teen die boggom-kommando op te neem, dan is dit hartseer en alles, maar dan moet ‘n mens doen wat ‘n mens moet doen. . (HvD)